Vreemde familie? ʼn Onverwagse oes!

 

Ons dink vandag in ons erediens aan saai en aan oes en die arbeid wat dit moontlik maak. Maar ons dink nie net aan die landbou nie, dog daaraan ook. Ons dink ook vandag aan seën wat op elke terrein van ons lewe ontvang is, nie net as ʼn resultaat van ons insette en arbeid nie, maar ook onverdiende genade ver bo wat ons ooit self kon bewerk. En ons word herinner om op die uitkyk te wees vir oeste waar ons nie gedink het eers gesaai is nie, en ons beslis geen oes verwag het nie.  Ons oes mense.

Genesis 48

 

14 Mei 2017, NHKA Kampersrus

Biddag vir Gesaaides / Dankdag vir die Oes

TOETREDE

Predikant

Vooraf

Skyfie: Vreemdes word familie; ʼn onverwagse oes.

Ons dink vandag in ons erediens aan saai en aan oes en die arbeid wat dit moontlik maak.

Maar ons dink nie net aan die landbou nie, dog daaraan ook.  Daar is baie dinge wat ons boere laat wakkerlê.   Hulle het ons voorbidding nodig.  En ons sal hulle nie in die steek laat nie.

Ons dink ook vandag aan seën wat op elke terrein van ons lewe ontvang is, nie net as ʼn resultaat van ons insette en arbeid nie, maar ook onverdiende genade ver bo wat ons ooit self kon bewerk.

En ons word herinner om op die uitkyk te wees vir oeste waar ons nie gedink het eers gesaai is nie, en ons beslis geen oes verwag het nie.  Ons oes mense.  God verras ons nou nog met mense.  God vang ons altyd onkant, met oeste waar net Hy geweet het om te plant.

Skyfie: Moedersdag Olifante.

En dis vandag moedersdag.  Moedersdag het hoegenaamd geen godsdienstige betekenis nie. In die Roomse en Anglikaanse Kerke is daar ʼn ander dag genaamd “Mothering Sunday” wat 9 maande voor Kersfees gevier word en verband hou met die vermeende datum waarop die Heilige Gees Maria sou bevrug het.  Maar dis al verby.  Kom ons vier vandag ons ma’s en ons vroue.  Maar kom ons hou ook in ons viering in gedagte dat hierdie vir kinderlose vroue ʼn pynlike dag kan wees.  Sorg vandag ook vir hulle wat tog geboorte gee aan meer as net kinders.

Skyfie: Vreemdes word familie; ʼn onverwagse oes.

Baie van ons het vandag van die opbrengs van ons oeste kerk toe gebring.  Dis nie as offers bedoel nie, maar as voorbeelde van waarmee God ons geseën het.  As ʼn gemeenskap in die geloof, sê ons saam met jou dankie vir jou eie oes, en ons dra jou gebede aan die Here op.

Kom ons nader die Here staande hier in die erediens met ons

Skyfie: Toetredelied (Staan) Psalm 111 strofes 1, 2, 3, 4

Toetredelied (Staan)

Psalm 111 strofes 1, 2, 3, 4

Skyfie: Votum (Staan) Ons sien en ondervind dit: die Here is goed!

Votum en Seën (Staan)

9        

Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil.

10      

Julle wat aan die Here behoort, dien Hom! Wie Hom dien, het geen gebrek nie.

11      

Selfs leeus ly gebrek en kry honger, maar wie die Here se hulp vra, kom niks kort van al die goeie dinge nie.

Psalm 34

Aanbidding en lof

Ouderling

Lof

Skyfie: Loflied (Staan) Psalm 112 strofes 1, 2 en 3.

God wat oorvloed het, voorsien in alles wat ons nodig het.  Ons wat die Here dien, is ryk in alle opsigte. Dis die woorde van ons lofsang

Sang (Staan)

Psalm 112 strofes: 1, 2, 3.

Skyfie: Die wil van God (Sit). Julle moet in My bly.  Julle moet in my liefde bly.  

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

God vra dat die geloof wat Hy in ons ingeplant het, moet groei en vrugte dra. Luister na die Here se wil soos Jesus dit in Johannes 15 vertel:

1        

“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer.

2        

Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.

3        

Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.

4        

Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

5        

“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.

6        

As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

7        

As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.

8        

My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

9        

“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly.

10      

As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.

11      

“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.

12      

Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

Skyfie: Skuldbelydenis (Sit). Psalm 38 strofes 1 en 7 (tweede melodie)

Skuldbelydenis (Sit)

Ons bely ons skuld aan God.  Ons sing staande saam uit

Sang (Sit)

Psalm 38 strofes 1 en 7 (tweede melodie)

Skyfie: Genade (Sit). Al die nasies luister na die loflied tot sy eer

Genadeverkondiging (Sit)

Luister na die blye boodskap van genade in Jesaja 61:

10

Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek. Ek is soos ‘n bruidegom met ‘n priesterkroon op, soos ‘n bruid met haar juwele aan.     

11

Soos die grond plante laat uitspruit, soos die plante in ‘n tuin vrugte gee, so gee die Here my God die oorwinning en laat Hy al die nasies luister na die loflied tot sy eer.

Jesaja 61

Skyfie: Ons glo! (Sit). Gesang 459 strofes 1, 2, 3 en 4.

Geloofsbelydenis (Sit)

Ons sing vandag ons geloofsbelydenis.  Ons dank die Vader vir goedheid.  Of die lewe nou soet of pynlik is, ons dank die Here.

Sang (Sit)

Gesang 459 strofes 1, 2, 3 en 4.

Predikant

Skyfie: Ons bid.

Gebed (Mans staan)

 

Skyfie: Gesang 466 verse 1, 2, 3 en 4.  

Sang (Sit)

Gesang 466 verse 1, 2, 3 en 4.  

Predikant

Verkondiging

Skyfies: Skriflesing (Sit) Genesis 48.  Bladsy 56 Ou Testament, 1983 AV  

Skriflesing (Sit)

Genesis 48

(Bladsy 56 van die Ou Testament, die 1983 Afrikaanse Vertaling.)

1        

‘n Rukkie hierna is vir Josef gesê sy pa is siek. Toe vat Josef sy twee seuns Manasse en Efraim saam.

 

2        

Daar is aan Jakob gesê: “U seun Josef het na u toe gekom.” Toe het Israel sy kragte ingespan en regop gaan sit op die bed.

 

3        

Hy het vir Josef gesê: “God die Almagtige het in Lus in Kanaän aan my verskyn. Hy het my geseën

 

4        

en vir my gesê: ‘Ek sal jou vrugbaar maak en aan jou baie kinders gee. Ek sal jou nageslag baie volke laat word. Ek sal hierdie land aan jou nageslag gee om vir altyd te besit.’

 

5        

Jou twee seuns wat hier in Egipte vir jou gebore is voordat ek hier na jou toe gekom het, Efraim en Manasse, is vir my soos my eie, soos Ruben en Simeon is hulle vir my.

 

6        

As jy hierna nog kinders het, sal hulle eendag in die naam van hulle broers eiendom verkry.

 

7        

Ek neem die twee seuns as my eie aan, want toe ek uit Paddan-Aram gekom het, is Ragel dood in Kanaän op pad na Efrata toe, dit is Betlehem, en ek het haar daar langs die pad begrawe.”

 

8        

Toe Jakob die twee seuns van Josef sien, vra hy: “En wie is hulle?”

 

9        

Josef het sy pa geantwoord: “Dit is my seuns. God het hulle vir my in hierdie land gegee.” Jakob sê toe: “Bring hulle hier na my toe. Ek wil hulle seën.”

 

10      

In sy hoë ouderdom was Israel se oë al sleg en hy kon nie goed sien nie. Josef het sy seuns tot teen Israel gebring, en hy het hulle gesoen en teen hom vasgedruk.

 

11      

Toe sê Israel vir Josef: “Ek het nooit daaraan gedink dat ek jou weer sal sien nie, en hier laat God my nou ook nog jou kinders sien.”

 

12      

Josef het sy seuns van sy pa se skoot af getel en voor hom gebuig.

 

13      

Toe vat Josef die twee aan die hand: Efraim met sy regterhand, links van Israel, en Manasse met sy linkerhand, regs van Israel. Maar toe Josef hulle naby hom bring,

 

14      

het Israel sy arms gekruis en sy regterhand op Efraim se kop gesit al was hy die jongste, en sy linkerhand op Manasse s’n al was hy die oudste.

 

15      

Hy het vir Josef geseën en gesê: “Mag die God naby wie my voorvaders Abraham en Isak geleef het, die God wat vir my van my geboorte af tot nou toe gesorg het,

 

16      

die Engel wat my uit elke moontlike gevaar gered het, mag Hy die seuns seën. Dan sal my naam voortleef in hulle, en ook dié van my voorvaders Abraham en Isak. Mag die seuns vermeerder en baie word in daardie land.”

 

17      

Toe Josef sien sy pa sit sy regterhand op Efraim se kop, het Josef gedink dis nie reg nie en toe tel hy Jakob se hand van Efraim se kop af op om die hand op Manasse se kop te sit.

 

18      

Josef het vir sy pa gesê: “Dit hoort nie so nie, Pa! Manasse is die oudste, sit Pa se regterhand op sy kop.”

 

19      

Maar sy pa het geweier en gesê: “Ek weet dit, my seun. Ook hý sal ‘n volk word, ook hý sal baie word, maar sy jonger broer sal sterker word as hy, en die jonger broer se nageslag sal ‘n magtige nasie word.”

 

20      

Daardie dag het Jakob die twee seuns geseën: “Die Israeliete sal mekaar seën met die woorde: Mag God jou maak soos Efraim en Manasse.” So het Jakob vir Efraim bo Manasse gestel.

 

21      

Toe sê Israel vir Josef: “Ek gaan binnekort sterf, maar God sal by julle wees. Hy sal julle terugbring in die land van julle voorvaders.

 

22      

Aan jou gee ek iets meer as aan jou broers: Sigem, wat ek van die Amoriete afgeneem het met my swaard en met my pyl en boog.”

 

Skyfie: Spreuke 2. Span jou in om te verstaan.  

 

Hier eindig die Skriflesing.  Daar staan in Spreuke 2: 1-5:

 

My seun, neem aan wat ek jou sê, maak wat ek jou voorskryf jou eie,

hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan. Roep insig by, vra na gesonde begrip. Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ‘n verborge skat. Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken.

 

Nie een van ons kan bykom by wat die Here alles weet nie. Ons weet nie wat God dink nie. Maar ons het die Woord wat God vir ons gegee het. Daaruit leer ons dat dit God is wat ons lot bepaal.

Skyfie: Sang (Sit) Gesang 469 strofes 1, 2.  

Sang (Sit)

Gesang 469 strofes 1 en 2

Skyfie: Vreemdes word familie; ʼn onverwagse oes.

Preek (Sit)

Somergewasse word geoes. Wintergewasse is in die grond.

Dis veelseggend dat die twee goed, ʼn biddag vir gesaaides en ʼn dankdag vir oes, saamval.

Skyfie: Saai en bid. Of ons sal oes, weet ons nog nie.

Saai en gebed, is sprekend van ons onsekerheid, want ons weet by voorbaat dat wat geplant is, nog geen waarborg van ʼn opbrengs is nie.  En niemand weet beter as boere nie, dat hoe die oes gaan lyk, afhang van so baie wat mens nie met voorsorg en hardearbeid kan regkry of keer nie.  (Christine is ʼn dokter.  Sy het eenmaal gesê dat as mens weet wat alles met ʼn mens kan verkeerdgaan is dit ʼn wonder dat ons leef!  Met wat in en op jou grond is, gaan dit ook so.)

Skyfie: Oes en dank. Ons het ondervinding: die laaste oes was goed.

Op dieselfde dag kom vier ons die laaste seisoen se oes.  ʼn Goeie oes – en laaste seisoen s’n was geil – laat kom by ons dankbaarheid op.  Oes en dank loop saam; ons vier voltooiing en afhandeling van ʼn taak, en bring dank oor God se hand daarin was.

Skyfie: Dank en vier, bid met hoop. Reken op God.

Die een,  ʼn gebid vir gesaaides, teer op die ander:  Die oes voer ons verwagting.  As jy kan dank en vier, kan jy ook hoopvol bid en verwag.  Dan is hoop oor die gesaaides nie ʼn sprong in die donker nie, dis gebore uit ondervinding. Die oes is getuienis daarvan dat God dit laat geluk.

Dit geld vir meer as net landbou. Ons lewe werk so.  Die seisoene van ons lewe is net nie so maklik af te baken en vas te pen aan tye van die jaar nie.  Ons oes elke dag.  Ons saai elke dag. Ons swaai daagliks van onsekere verwagting tot heerlike vervulling.  Sommige goed dra vandag vrug.  Ander goed moet vandag aan die gang kom of afgeskop word.

Skyfie: Beur terugskouend vorentoe.

Die landbou, en ʼn biddag vir gesaaides en dankdag vir die oes, is ʼn metafoor.  Ons vergelyk en verduidelik vandag daarmee wat ons elke dag ervaar op elke terrein van ons lewens: hoe ons werk, en hoe God ons werk seën; wat ons doen, en wat God saam met ons doen.

Hier is sprake van vorentoe kyk, en agtertoe kyk. Ons beur terugskouend vorentoe. Ons neem bestek op én kom uit die blokke uit.

Skyfie: Selfs misoeste is goed. . .

Sê ʼn mens dankie net vir die goeie goed?  Is net die goeie oeste dank werd?  Nee.  Uit juis die misoeste het ons God leer ken as Iemand wat omgee wat van ons word.  Uit die teëspoed leer ons dat as dit weer gebeur, ons nie aan ons lot oorgelaat is nie. God sorg.

Skyfie: En dan is daar die onverwagse oes. . .

 

En dan is daar die onverwagse oeste, wat opkom uit saad wat ons met trane saai.  En oeste waar geen oes gesoek en niks goeds van verwag is nie. Die oes onder mense.  Die beste oeste bring liefde, gee lewe en dek toekomste saam oop.  Misoeste loop dood, maak dood en stook haat.  Die dorre aarde gil vir God, skreeu oor die bloed van baie broers wat vergiet word, wat sy, vrugteloos in haar stof moet opsuig.

Kom ons praat oor hierdie onverwagse oeste, die mense in ons lewe.

Skyfie: Jakob is sy grond kwyt; hy het die Beloofde Land verloor.

Jakob kom in Egipte aan.  Die stomme man kla dit het met hom baie sleg gegaan.  Hy is nog veel jonger as sy voorsate, maar gedaan, sê hy vir die farao.

Dis seker te verstane dat hy so voel.  Dat hy hier in Egipte is, is aan droogte en misoeste te wyt. Mens en dier het vergaan in die land van melk en heuning.

Abraham het die grond gehad, maar nie die kinders nie.  Jakob het die seuns, maar hy is nou weer sy grond kwyt.

Dis al asof God nie beide die beloftes van ʼn volk en ʼn land tegelyk nakom nie.

Hier staan Jakob nou, ʼn immigrant in ʼn vreemdeling se land.

Jakob se reaksie grens aan godslastering.  Dis ʼn bitter Jakob wat homself aan die farao, sy nuwe owerheid en landheer, kom voorstel.  Al kry Israel die beste deel van die land om in te woon, en werk as bestuurders van die farao se kleinveeboerdery, Jakob is nou ʼn bywoner – hy leef van ʼn vreemde se goedgesindheid, op genade, hy is ʼn vreemdeling in ʼn ander man se land.

Hy het geen beheer daaroor nie.  By implikasie dalk: God het!

Skyfie: Maar darem is sy maag vol. . .

Die laaste ding wat Jakob hier in die vreemde verwag, is ʼn oes wat van God af kom.

Maar darem is sy maag is vol.  Daar is kos op sy familie se tafels, voer in die kleinvee se krip.  Sonder grond, maar hulle leef van ʼn oes uit iemand anders se lande waarvoor hulle nie gewerk het nie.  En ʼn oes wat sy seun Josef in vet jare hier in die vreemde opgegaar het.

God het ʼn oes beskik.  Droogtes gebeur, maar God maak vir mense voorsiening.

Skyfie: Die familie is maar vreemd. Is dít regtig God se jong volk?  

Nie dat Josef toe hy daar onder in die put sit, jou sou geglo het nie.  Wat hy hoor, is hoe sy broers daar bo redeneer oor of hulle hom moet vermoor of nie.

Jakob kom gebroke by die farao aan, ook danksy pynlik mislukte menseverhoudings.

Familie is nie net ʼn seën nie.  Familie is nie altyd ʼn veilige hawe nie.

Jakob s’n het nie met mekaar klaargekom nie.  Dis wreedaardige haat wat sy broers vir Josef as ʼn slaaf laat verkoop en voorgee hy is dood. Josef was die pierewaaier kleinboet, die laventelhaan wintie wat my ook teen die mure sou uitgedryf het met sy gedurige praatjies van bevoordeling, van beterwees, sy skaamtelose gespog met witbroodjiewees.

Vir Jakob was Josef die seun wat die oudste moes gewees het.  Josef is die oudste seun van Ragel, die liefde van Jakob se lewe, maar hy moes met Lea trou. Toe is Ragel nog jonk dood ook.

Dis my ondervinding dat jou wêreld maar uitmekaar kan val, en jy kan dit vat, solank dit met jou kinders goed gaan.  Die kleurvolle, net nog rooier as ooit, jas van sy gunsteling seun, getuig Josef is dood.   En dis maar nog net die begin.  Jakob se huis kreun van verdriet.  Ergste van al’s, sy eie kinders veroorsaak sy smart.

Ruben, die oudste, die een wat weens geboortereg ʼn dubbele erfporsie en meer eer as al die ander verdien, die een wat moet voorloop, word by sy pa se houvrou betrap. Simeon, tweede oudste,  sou by Ruben die ereplek kon oorneem, en na hom, Levi.  Maar beide van hulle het weer bloed aan hulle hande: Hulle het volksmoord gepleeg.  Hulle het al die mans onder die Sigemiete uitgemoor.

Aldrie die seuns verbeur hulle rol as stamvaders en alle aanspraak op grond in Kanaän.  (Dis nou te sê as die familie ooit in Kanaän gaan aankom.) Ruben en Simeon word van hulle ereplek gestroop en Levi se familie sou priesters en tempelpersoneel word, vir altyd grondloos en afhanklik van die volk se barmhartigheid en offergawes.

Maar het die familie na al die morsigheid nog hoegenaamd enige aanspraak op wat God belowe het?

Uit hongersnood uit die beloofde land uit verdryf en Egipte toe gedwing,  vermoed Jakob met goeie rede dat die verbond met God kon misluk het, of aan so ʼn dun draadjie hang dat daar nie juis hoop is op herstel nie.  Sy kinders het hom in die steek gelaat.  Egipte is die laaste plek waar Jakob verwag enige van sy toekomsverwagtinge sal waar word.

Jakob het opgegee.  Hy antwoord op die farao se vraag hoe oud hy is:

Skyfie: Ek is nou al 130 jaar ʼn vreemdeling hier op aarde.

9        

“Ek is nou al honderd en dertig jaar ‘n vreemdeling hier op aarde. In vergelyking met dié van my voorvaders is dit maar min, en my lewensjare was vol swaarkry.”

Jakob voel hom ʼn vreemdeling op aarde, nie net in Egipte nie.  Hy het nêrens ʼn plek wat hy sy eie kan noem nie.  Hier uit Egipte koester Jakob geen hoop op ʼn eie toekoms meer nie.

*

En dan, in Egipte, tref Jakob ʼn onverwagse gelukkie, ʼn oes wat hy nie gesien kom het nie.

Skyfie: Die oes wat jy nie gesien kom het nie.

11      

“Ek het nooit daaraan gedink dat ek jou weer sal sien nie, en hier laat God my nou ook nog jou kinders sien.”

 

Josef leef.  En Josef het twee seuns, half-Egiptiese seuns.  Basters, maar kleinseuns.  Julle weet hoe ná staan kleinkinders aan jou hart.  Om alles te kroon, Jakob en Ragel se kleinkinders. Jakob neem die twee basterkinders van Josef as sy eie aan.  Hy sê dis die kinders wat Ragel sou gehad het, het sy langer geleef.

Skyfie: Ons is weer twaalf! Nou weet ons die grond wag dat ons teruggaan. 

Manasse en Efraim word stamvaders van Israel wat vir Ruben en Simeon vervang.  Van nou af, in al die lyste van Israel se stamme, sal jy van Efraim en Manasse hoor.

Beter nog: van daai oomblik af glo Jakob weer die beloftes van God is nie vergete nie.  Die familie is weer op vol sterkte.   Daar is weer hoop op terugkeer na die grond wat God belowe het.

God het ons nie vergeet nie.

21      

Toe sê Israel vir Josef: “Ek gaan binnekort sterf, maar God sal by julle wees. Hy sal julle terugbring in die land van julle voorvaders.

Wat hier aan die einde van Jakob se lewe gebeur tussen hom, Josef en die twee seuns wat nou al so bykans twintig jaar oud sou wees, klink na ʼn rite vir die aanneming van kinders.

Skyfie: Vreemdes word familie. En die jongste van hulle loop voor.

Jakob vra hulle name.

Josef identifiseer hulle.

Jakob druk hulle teen hom vas. Hy seën hulle.  Hy tel hulle op sy skoot, moontlik as teken dat hy hulle nou beskou as vrug uit sy eie lyf.

Dan buig Josef voor Jakob.  Josef vat sy twee seuns aan die hand.  Hy maak seker dat Manasse links van hom en dus regs van Jakob staan, want Manasse is die oudste.  Maar Jakob kruis sy arms en seën vir Efraim asof hy die oudste is.  Josef wou nog keer, maar tevergeefs.  As God seën, is daar geen goeie redes voor nie.

Skyfie: Wees geseënd! Nes hierdie vreemdes, Efraim en Manasse.

En Jakob stel hom gerus:  Israeliete sal mekaar nog vorentoe seën met die woorde:  Laat dit met julle gaan soos met Efraim en Manasse.

Daar is nie logika, reëlmaat of wet, tradisie of gebruik aan wie God kies om voor te loop nie.  God is nie gehoorsaam nie.  Hy is soewerein. Efraim lei voortaan vir Israel.

Genade is onverklaarbaar, sonder oorsaak of goeie rede. Genade is God s’n om te gee aan wie Hy wil. Met genade maak God inbreuk op die normale gang van menslike bestaan.  Jy oes waar jy nie gesaai het nie.

Daar is nie twyfel aan dat God die kragte van die natuur beheer nie.  God kan dit laat reën en Hy kan ook die reën terughou.  Maar dit voel vir my al hoe meer asof dit nie die terrein is waarop God primêr ingryp of werksaam wil wees nie.  Dit voel vir my God sit nie in aardbewings en tsunami’s en vallende sterre, of in droogtes en vloede sy werk hier voort nie.  As God nou betrokke raak by sy skepping, is dit om aan mense te raak.  Dis in die menslike geskiedenis dat jy die hand van die Here die beste sien.

Skyfie: Is jy daar waar God oes?

Wat sien jy, terugskouend?

Wat hoop jy vir vorentoe?  Waarvoor bid jy?

Vir oeste? Of mense?

Vir sukses? Of vir liefde?

Vir besit? Of geborgenheid?

Vir goeters of vir God?

Nie dat goeters sleg is nie.  Nie dat daar skort met goeie oeste en die welvaart wat dit aanbring nie. Ook nie dat dit verkeerd is om grond te besit wat jy kan bewerk nie.  Israel smag ook na grond. Maar daai land is op sy beste ʼn leefruimte vir ʼn familie, ʼn familie en ʼn volk.

Skyfie: Dan sal jy onder vreemdelinge nuwe familielede oes.

Dink vandag aan wat jy al onder mense geoes het.  Dink aan hoe jy onder mense saai.  Geen oes is groter as hierdie nie:  dat jy God gedien het deur mense te laat groei en blom.

Vier die vreemdelinge en die inkommers soos Efraim en Manasse sodat hulle lot sinoniem kan wees met seën.  Want jy is self ʼn vreemdeling op aarde.

As jy ʼn Jood was, sou jy gril oor die Arabiersbloed in Efraim, jou leierstam.  Maar God is buigsamer.  Jakob kry vrede. Soos met die vreemdelinge, soos met  Efraim en Manasse, so geseënd sal julle ook wees.

Ek het die vermoede dis die toekoms wat ons ook oes: ʼn toekoms met mense, een waarin God besluit wie Hy seën, en sy seën is iets om te vier. ʼn Toekoms vol familie en ʼn volk.

Oeste is seisoenaal.  Mense hou langer.  Kinders is kosbaarder. Oes mekaar.  Oes liefde. God is goed.

Amen.

Skyfie: Sang (Sit) Psalm 128 strofes 1 en 2.

 

Sang (Sit)

Psalm 128 strofes 1 en 2

Skyfie: Gebed.

Dankgebed, Voorbedes (Staan)

Wegsending:

Skyfie: Slotsang (Staan) Gesang 188 strofes 1, 2 en 3.

Slotsang (Staan)

Gesang 188 strofes 1, 2, 3

Skyfie: Seëngroet (Staan) Laat ons die goedheid van die Here belewe.

Seën (Staan)

Ontvang die Here se seën uit Psalm 90:

 

16      

Laat u werk vir ons duidelik word en u grootheid vir ons kinders.

 

17      

Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe: hou die werk van ons hande in stand, ja, die werk van ons hande, hou dit in stand.

 

Amen.

 

Skyfie: Respons (Staan) Halleluja!

Respons (Staan)

Gesang 189 twee keer

Skyfie: Vreemdes word familie; ʼn onverwagse oes.

 

Afkondigings

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s