Ruite

Dit gebeur gewoonlik rondom Kersfees: selfdood.

Daar is glo verskeie redes voor.  Die baie vakansiedae dwing gesinne saam.  Die bestaande krakies in verhoudings word barste, skeure, dongas en later onoorbrugbare klowe. Eensaamheid voel erger wanneer almal anders mekaar vir feeshou opsoek. Die besef dat die feesdae vir jou betekenis verloor het, en  geloof jou gefaal het, raak ondraaglik. Die midsomerhitte. . .

Nou gebeur dit ook al in April. 

Te veel vakansiedae, te veel tyd saam, te min mense by jou, Christenfeeste wat waardeloos geword het?  Om alles te kroon is die somer  om en die lug byt: daar lê ʼn lang, droë swartgebrande seisoen voor.

Twee, hierdie laaste naweek: een genadiglik gefnuik, die ander een het doodseker gemaak.

Die kothuisie in die bos kreun onder die kruise.  Teen die buitemuur is daar sewe, een met die Gekruisigde nog daaraan vas.  Nog vyf, dalk ses, in die tuin: aan bome, in beddings.  Grotes, versierdes, metaal en mosaïek.

Daar’s orals ook harte, en spreuke oor liefde, oor hoe heerlik die lewe is, en hoe kosbaar vriendskap.  “Saai dit oral, en jou tuin is ʼn lushof,” of so iets, staan kunstig op n sinkplaat geskryf.

Hier leef iemand wat glo!  Een wat liefhet!  Iemand wat die wildernis waardeer. Een vir wie die lewe wonderlik is, so staan dit ook op die voordeur: Wonderlik! die “o” is n hartjie.

Die karretjie staan in die tuin tussen die kruise, verskuil agter ʼn skerm en ruie Laeveldbos.

Die agterruit is stukkend. Maar dié reddingspoging was te laat.

ʼn Lang brief, dog een wat niemand wat daarin gepaai word, gaan troos nie, lê op die bed.  Tasse staan gepak asof hulle saamgaan.

Daar was ʼn tyd toe ek baie in psigiatriese inrigtings gekom het; om vele redes ontstellend. Een daarvan was dat daar gans te veel gelowige mense daar lê.   Praat met hulle oor sonde en vryspraak, en hulle verstáán maar al te goed.  Waar is hulle hoop dan heen?

Is daar regtig meer van ons wat met geestesiektes worstel?  Is geloof die sondebok, of aanleidende oorsaak? Ek het geen benul nie. Ek dink nie ek wil weet nie. Ek sê net wat ek sien.

As ek dit wel reghet, hoekom dan maak geloof die katastrofiese verskil? Wat aan geloof gee mens chemiese wanbalanse?

Waar, dan, faal die kerk in haar verkondiging?

Wel, ons hét opgehou om selfdood te stigmatiseer:  jy gaan nie (meer) reguit hel toe nie. Dis nou ʼn dodelike siekte wat jy kan dokter.  Want, ja, jy kan: Pille kan duiwels uitdryf. Maar behoede ons daarvan dat ons dit goedpraat! Of so gelade praat oor skuld dat uitkoms nie meer moontlik lyk nie. Dat genade nie meer genoeg is nie, of vryspraak vergesog klink.

Of is selfdood wit?

ʼn Konstabel kom sit sugtend langs my op die tuinmuur, want ons wag ure vir die misdaadfotograaf, die forensiese span en die bystandspataloog wat glo nêrens opgespoor kan word nie; dis immers ʼn vakansiedag, en hulle moet van ʼn naburige dorp af bos toe kom.  Sy haak af: “Wat is dit met julle witmense?  Net julle maak so.”

Ek het nie ʼn antwoord reg nie.

“Hoe hanteer julle so iets?” vra ek haar.

“So iemand kom nie weer die huis in nie.  Mense wat natuurlik sterf, kom Vrydagaand huis toe, gaan lê vir oulaas die nag in hulle eie bed, en wag vir môre se teraardebestelling.  Maar slagoffers van geweld, nooit nie.  Oor ons dooie liggaam nooit nie. Want hulle bring die dood na die huis toe aan.”

Sy praat oor voorvadergeeste.  “Ons vat sulke mense, soos dié wat in ongelukke omgekom het, terug na die toneel toe.  Ons praat daar met die voorvaders.  Maar nee, net nie huis toe nie; nooit as te nimmer nie.” Of dit nou hulle skuld was of nie, lei ek af.

Normaliseer ons selfdood? Gee ons, sonder dat ons wou, toestemming? Maak ons die aandag en die genade net te aantreklik?  Of is ons witmense net oorweldig?

Dit ís aansteeklik.  Dit lyk al hoe makliker, moontliker, of ten minste dan aanvaarbaarder, as mense om jou die uitweg kies:  eers haar ma, skaars drie maande gelede, toe n kollega, nou sy.

Vroeër die naweek het die gebreekte ruit van ʼn sitkamer toegang verleen en redding kon bring.  Ek het die held gevind waar hy buite voor die stukkende ruit sit en ruk.  Dit is koud, vir hier, maar ek vermoed dis nie oor die geniepsige wind nie.

Iets in ons, die omstanders, die heldhaftige ingrypers, dreig ook om dood te gaan. Daar’s n ruit tussen ons en die sinvolle wêreld: jy neem nie meer deel nie.

Ruite is vreesanjaend.  Jy sien in en jy sien uit, sonder ooglopende hindernis.  Maar jy kan nie sommer, sonder skade, die lewe bykom nie.  Jy het die illusie van nabýheid, maar ruite sluit uit, en in.

Ons het salf gesmeer en verbande gedraai om die stukkende hande wat deur die ruite gebreek het.

Ons kon die verwildering na ons sien terugkyk, maar glas is taaier as wat deursigtigheid voorgee.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s