My hart is bly en my tong jubel!

God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies.  Ons leer ons is getuies.  Getuies getuig.  Ons móét.  Ons moet praat en ons moet sing en ons moet leef soos niemand anders kan leef nie.  Op sosiale media is die grootste pleidooi na gister se gebede in Bloemfontein dit:  kom huis toe en leef so. Ons moet mense liefhê,  en ons moet die wêreld dien, en ophou om met die wêreld oorlog te maak.

Handelinge 2 vers 14, 22 tot 32

23 April 2017, NHKA Kampersrus

Kerklike jaar: Opstanding

Bevestiging van kerkraadslede

Heidelbergse Kategismus

SONDAG 17

Vraag 45: Watter nut het die “opstanding” van Christus vir ons?

Antwoord: Eerstens het Hy deur sy opstanding die dood oorwin, sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). Tweedens word ons nou ook deur sy krag tot ‘n nuwe lewe opgewek (b). Derdens is die opstanding van Christus vir ons ‘n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).

SONDAG 22

Vraag 57: Watter troos gee die “opstanding van die vlees” aan jou?

Antwoord: Dat nie alleen my siel hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).

(a) Luk 16:22; 23:43; Fil 1:21, 23. (b) Job 19:25, 26; 1 Joh 3:2; Fil 3:21.

Vraag 58: Watter troos skep jy uit die artikel van die “ewige lewe”?

Antwoord: Dat, aangesien ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar (a), ek nie hierdie lewe volkome saligheid sal besit – ‘n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie – om God daarin ewig te prys (b).

(a) 2 Kor 5:2, 3. (b) 1 Kor 2:9.

 

 

Liedere in hierdie erediens

 

Vooraf Sang (Sit): Gesang 410 strofes 1 en 2

Toetrede Sang (Staan): Gesang 411 strofe 1

Sang (Staan): Psalm 45 strofes 1,2,3,4 en 5.

Sang (Staan op): Gesang 220 strofes 1 en 2

Sang (Sit): Gesang 556 strofe 1.

Sang (Sit): Gesang 414 strofes 1 en 2

Sang (Staan): Gesang 266

Slotsang (Staan): Gesang 219 strofe 1

Respons (Staan): Gesang 219 strofe 2

 

 

 

 

Predikant

Toetrede

My hart is bly en my tong jubel! God het Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies.

Vandag vier ons weer ʼn keer dat Jesus leef en ons saam met Hom.

Ons leer wat die werk en wese van die kerk is.

Ons leer ons het ʼn eie roeping en verantwoordelikheid, opdragte wat die Here gee aan die kerk se lede en ampsdraers.

Ons leer ons is getuies.  Getuies getuig.  Ons móét.  Ons moet praat en ons moet sing en ons moet leef soos niemand anders kan leef nie.  Op sosiale media is die grootste pleidooi na gister se gebede in Bloemfontein dit:  kom huis toe en leef so. Ons moet mense liefhê,  en ons moet die wêreld dien, en ophou om met die wêreld oorlog te maak.

Ek ken Gesang 410 glad nie.  Dis ʼn loflied oor die opstanding.  Maar dit sê aan die einde van die lied ʼn baie belangrike ding: Jesus se werk was nie klaar nie, nie voordat Hy opgestaan het nie.  En “tóé volg die vrug in oorvloed:  Ons lewe, ons lewe want Jesus bring lewe, oorvloed.”

Sang (Sit)

Gesang 410 strofes 1 en 2

Ouderling

Toetrede

Ons lied het gesê dat geen hoogte, diepte, dood of gevaar, en ook niks anders wat ons hier mag ly, ons ooit weer van God kan skei nie.  Ons erediens bewys dit.  Ons ontmoet God hier.  Ons is welkom hier by Hom. Kom, almal, laat jul stem verrys, laat julle harte bly wees en julle tonge jubel. Sing saam uit

Sang (Staan)

Gesang 411 strofe 1

Predikant

Votum en Seëngroet (Staan)

25      

. . . “Ek het die Here altyd voor oë. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie.

26      

Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe,

27      

want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.

28      

U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.

Handelinge 2

Ouderling

Aanbidding en lof

My hart is bly en my tong jubel.  Kom ons sing dit, uit

Sang (Staan)

Psalm 45 strofes 1,2,3,4.

Die wil van God (Sit)

Luister na hoe die Here wil hê ons onsself moet sien, uit Romeine 3.

20      

. . . Geen mens [sal] op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is.

21      

Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie,

22      

maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.

23      

Almal het gesondig, en [niemand] het [vanself] deel aan die heerlikheid van God nie,

24      

maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.

25-26

Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.

27      

Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof.

28      

Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.

Geloofsbelydenis (Sit)

Kom ons bely dat ons dit van ganser harte glo.  Ons gebruik as belydenis van ons geloof die Apostolicum.  Saam met en soos die kerk, bely ons:

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

 

AMEN

 

Kom ons laat ons harte weer ʼn keer juig en ons monde aan die lewende Here hulde bring. Kom ons staan en sing

Sang (Staan op)

Gesang 220 strofes 1 en 2

Predikant

Gebed

Sit gister se Bloemfonteingebede voort.

Bid vir die owerheid.

  • Vir bekering.
  • Vir vrede en veiligheid.
  • Vir geregtigheid aan alle onderdane van die staat.
  • Vir eerlike staatsbestuur.
  • Vir vryheid om te glo.
  • Vir die kerk, vir volgehoue gebed en voorbeeldige lewe.
  • Vir verlossing uit geweld.

Na die Gebed

Dis van dankbaarheid dat ʼn gelowige hart jubel.    My hart juig ʼn danklied uit vir hierdie nuwe hede.  My eerste lied is dankbaarheid.  U lof, my eerste bede.  Sing

Sang (Sit)

Gesang 556 strofe 1.

Predikant

Verkondiging

Skriflesing (Sit)

Handelinge 2 vers 14, en dan van vers 22 af tot by 32.  Dit staan in die 1983 Afrikaanse vertaling op bladsy 162 van die Nuwe Testament.

 

14      

Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê. . .

 

22      

“Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self.

 

23      

God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.

 

24      

Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou.

 

25      

Van Hom sê Dawid: “Ek het die Here altyd voor oë. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie.

 

26      

Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe,

 

27      

want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.

 

28      

U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.

 

2:28: Vgl. Ps. 16:8-11.

29      

“Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons.

 

30      

Maar hy was ‘n profeet en hy het geweet dat God met ‘n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit.

 

31      

Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê: “Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie.

 

2:31: Vgl. Ps. 16:10.

32      

“God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies.”

 

37      

By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?”

 

38      

Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.

 

Hier eindig ons Skriflesing.

In Handelinge 4 staan hierdie woorde van Petrus en Johannes aan die Joodse Raad, na hulle gedreig is om nie weer van Jesus te praat nie.

19

“Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God.

20      

Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

Met die aanhoor van die nuus dat Jesus lewe kan ons nie anders as om te juig en te sing nie.  Kom ons doen dit uit

Sang (Sit)

Gesang 414 strofes 1 en 2

Bevestiging van ampsdraers

Formulier bevestiging van Ouderlinge

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

U weet dat ons by verskillende geleenthede die name afgekondig het van die broers wat as ouderlinge van die gemeente verkies is, om te hoor of iemand ‘n beswaar het teen hulle bevestiging in die amp. Aangesien niemand iets teen hulle ingebring het nie, gaan ons nou in die Naam van die Here tot hulle bevestiging oor.

Vir hierdie doel moet u, broers wat bevestig gaan word, en ook almal wat hier teenwoordig is, eers uit die Woord van God ‘n kort uiteensetting aanhoor van die instelling van die amp van ouderling en van wat hierdie ampswerk behels.

Kom ons hoor eers hoe die amp ingestel is.

Die woord ouderling is aan die Ou Verbond ontleen en dui ‘n persoon aan wat ‘n belangrike plek  het in die regering van die kerk. Die ouderlingsamp val in twee uiteen.

Die Skrif sê: Die ouderlinge wat goeie leiding gee, behoort dubbele erkenning te kry, veral dié wat hard werk deur te preek en onderrig te gee. Sommige ouderlinge het dus gepreek en onderrig gegee.   Maar daar was ook ander ouderlinge. Eersgenoemdes was die dienaars van die Woord.  Hulle het die evangelie verkondig en die sakramente bedien. Die ander ouderlinge, wat gewoonlik nie gepreek het nie, het oor die gemeente opsig gehou en het saam met die dienaars van die Woord geregeer.

In Romeine 12 praat Paulus oor die leeramp, en dan oor die amp van uitdeling of diakenskap, en daarna praat hy ook oor hierdie tweede ouderlingsamp afsonderlik wanneer hy sê: As ons leiding gee, dan met toewyding. Ook op ‘n ander plek noem hy die regeeramp onder die gawes en ampte wat God in die gemeente daargestel het. Hierdie ampsdraers is dus vir die wat die evangelie verkondig, tot hulp en bystand.

Die twee ouderlingampte is altyd van mekaar onderskei.

Die regeerouderlinge en die ouderlinge wat die Woord verkondig en die sakramente bedien, is saam mederegeerders oor die gemeente.  Dit keer alleenheerskappy en magsmisbruik,  iets wat maklik kan intree wanneer die regeertaak slegs aan een persoon of aan ‘n paar toevertrou is. Die dienaars van die Woord en die ouderlinge vorm so saam ‘n liggaam of vergadering wat as die kerkraad dien en die hele gemeente verteenwoordig.

Die ampswerk van die ouderlinge behels die volgende:

Ten eerste moet hulle saam met die dienaars van die Woord opsig hou oor die gemeente wat aan hulle toevertrou is. Dit moet hulle doen deur noulettend toe te sien dat elkeen hom en haar in belydenis en lewe betaamlik gedra.  Hulle moet die onordelikes vermaan en sover moontlik verhoed dat die sakramente ontheilig word. Hulle moet volgens die bepalings van die kerklike tug optree teen dié wat nie berou toon nie, en dié wat berou toon, weer in die gemeenskap van die kerk opneem.

Ten tweede beveel die Skrif dat alles onder die gelowiges ordelik en gepas moet geskied, en dat niemand in die kerk van Christus mag dien wat nie wettig daartoe geroep is, volgens die kerklike reëling wat daaromtrent bestaan nie. Dit is daarom die ouderlinge se taak om hulle vir die orde in die kerk te beywer en die dienaars van die Woord met goeie raad by te staan in alle sake wat die welstand van en die goeie orde in die kerk raak. Hulle moet trouens ook alle gelowiges met raad en bemoediging bystaan.

Ten derde is dit in die besonder hulle taak om opsig te hou oor die leer en lewe van die dienaars van die Woord, sodat alles tot opbou van die kerk mag geskied en dat geen vreemde leer in die kerk ingedra word nie. So lees ons in Handelinge 20 dat die Skrif waarsku dat noulettend wag gehou moet word teen die wolwe wat onder die kudde van Christus mag indring.

Om dit alles te kan doen, moet die ouderlinge die Woord van God ywerig bestudeer en die dinge wat die hoofsaak van die geloof uitmaak, voortdurend oordink.

Die voornemende kerkraadslede word nou opgeroep om op die volgende vrae te antwoord:

Sodat elkeen kan hoor dat u bereid is om hierdie dienste te aanvaar, moet u op die volgende vrae antwoord:

Ten eerste: Is u daarvan oortuig dat u wettig deur die gemeente van God en daarom deur God self geroep is tot hierdie diens wat Hy ingestel het?

Ten tweede: Glo u dat die Ou en Nuwe Testament die enigste Woord van God en die volkome leer van die redding is, en verwerp u alle leringe wat daarmee in stryd is?

Ten derde: Beloof u om u amp, soos dit aan u voorgehou is, getrou in ooreenstemming met hierdie leer te vervul — u, ouderlinge, in die kerkregering saam met die dienaars van die Woord? Beloof u ook gesamentlik om in toewyding aan God te lewe en u aan die kerklike tug te onderwerp as u miskien in leer of lewe afwyk?

Hierop vra die dienaar van die Woord:

  • Bertus Myburgh
  • Theo Rosslee

. . . Wat is hierop u antwoord?

Ja.

Mag die almagtige God en Vader u sy genade gee dat u in hierdie diens getrou en vrugbaar werksaam mag wees.

Amen

U, ouderlinge, wees ywerig in die regering van die kerk wat aan u saam met die dienaars van die Woord toevertrou is. Hou wag oor die huis en die stad van God deur elkeen getrou te vermaan en hom en haar te waarsku teen ‘n lewe wat na die dood lei. Sorg daarom dat die suiwerheid van leer en die vroomheid van lewe in die gemeente van die Here gehandhaaf word.

Wees almal saam in u diens getrou, staan met u hele wese in vir die geloof wat ons bely en wees ‘n navolgenswaardige voorbeeld vir die hele gemeente. So sal u vir uself ‘n eervolle plek in die gemeente verwerf. U sal ook groot sekerheid verkry in u geloof in Christus Jesus, en na hierdie lewe in die vreugde van u Here deel.

En u, geliefde gemeente, ontvang hierdie broers as dienaars van God. Gee dubbele erkenning aan die ouderlinge wat goed regeer en onderwerp u gewillig aan hulle opsig en regering.

Maar omdat ons nie uit onsself hiertoe in staat is nie, laat ons nou die almagtige God aanroep met

Sang

Gesang 266

Preek

Dis seker nie vreemd nie, dat na Petrus se eerste preek, die mense stomgeslaan daar staan en vra:  “Wat moet ons doen, broers?” Ons vra dit ook.  Wat nou?  Wat maak ons nou met hierdie nuwe inligting, en hierdie hele nuwe werklikheid wat uit die bloute by ons opgedaag het? Dit kos ons ʼn hele nuwe manier soek om die werklikheid te probeer verstaan.  En so iets kweek mens, dit gebeur nie gewoonlik sommerso oornag nie.

 

Die apostels praat.  Dat hulle so tekeregaan is ʼn wonderwerk, want nou die dag nog kruip hulle weg en sluip hulle hier rond sodat hulle tog net nie gesien en herken word nie.  Maar hulle is skielik lekker wintie:  Hulle kekkel so dat al wat leef dink hulle is nege-uur in die more al stormdronk.  Op die sabbat staan hulle in die Jodetempel in Jerusalem en preek luidkeels, dat almal kan sien en hoor.  Hulle praat kaalvuis die waarheid.  Hulle skinder nie daaroor nie. Hulle skuil nie meer agter toe deure nie.  Hulle basuin dit van die dakke af.  Die kerk is geen ondergrondse beweging nie.

 

Daar is geen sweempie vrees meer dat hulle dieselfde sal oorkom as wat met Jesus gedoen is nie.  Hulle is uitdagend.  Die boodskap wat hulle verkondig is ook nie juis vredig en troostend of paaiend en versoenend nie.  Hulle soek skoor.

 

Die boodskap oor Jesus is nie versuiker nie.  Hy kom nie in soet sjokolade paaseiers wat ʼn skattige paashaas iewers in die tuin weggesteek het nie.  Die sonde het die metaalsmaak van bloed op jou tong.

 

Julle Jode en Israeliete,  kom hoor bietjie mooi net hoe diep julle in die moeilikheid is.  Jesus van Nasaret, julle onthou Hom seker?, Hy het van God af gekom.  Julle weet dit.  Julle het dit geweet toe Hy hier by julle geleef het al.  Daai kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het, is bewys genoeg.  Julle weet dit, moenie nou maak of botter nie in julle monde smelt nie!  Julle weet dit maar alte goed, veral julle wat julle so daarop roem dat julle die Wet en die Profete en die Geskrifte ken – die Bybel van die Ou Verbond.  Want dit staan daarin geskryf:  Dawid, die voorloper en die oeroupa van die Jode se messias, het dit al gesê.  Vir niemand het julle hoër agting as vir Dawid nie, maar julle ignoreer geriefshalwe dat Dawid gesê het:

 

25

“Ek het die Here altyd voor oë. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie.

 

26      

Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe,

 

27      

want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.

 

28      

U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.

 

Daar staan dit swart op wit in Psalm 16 verse 8 tot 11 al.  Moenie nou kom staan en voorgee julle het dit nie besef nie.

 

Julle het Hom doodgemaak.  Dat julle geweet het wat julle doen, weeg verswarend.  Julle het dit met voorbedagte rade gedoen.

 

Maar dis God wat besluit om Hom aan julle uit te lewer.  En julle het almal saam besluit om Hom deur heidene aan die kruis te laat spyker.  Julle het Hom doodgemaak.  Dis so goed as julle het self daai spykers ingeslaan.

 

Petrus laat geen skuiwergate oop nie.  Niemand wat Hom hoor praat kan onskuld of onkunde pleit nie.  Hulle het vir Jesus doodgemaak, so goed as met hulle eie hande.

 

Raai wat?  Hier’s julle ergste nagmerrie nou:  God het Hom uit die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan.  Jesus lewe.

 

Twee implikasies is ewe verskriklik:

  • Die moord waarmee jy gedink het jy sou wegkom, kom by jou spook. Die ou wat jy vermoor het, of laat doodmaak het, kom klop aan jou deur.
  • Die ou wat jy doodgemaak het was toe al die tyd God s’n. Jy’t nie net jou slagoffer teen jou nie, maar vir God.

 

Hierdie is nie goeie nuus nie. Jy is uitgevang. Jy kyk jou slagoffer in die oë.  Wat doen ons nou?  Wat sou jy doen?

 

Ons het die week in ons huis ʼn gejokkery moes hanteer; wit leuens ter selfverdediging gebruik.   Die verwagting was dat as jy sou erken jy is skuldig, gaan daar dalk erge gevolge wees.  Ek het opnuut geleer ons mense is van kleins af al lugtig daarvoor om uitgevang te word.  Ons het ʼn natuurlike weerstand.  Jy weet van vroeg af al dis in jou belang om te lieg.  Ek het my van voor af vergaap aan hoe goed ons kinders dit besef, en hoe bedrewe hulle daarmee is.

 

Van die begin van die skepping af al werk dit so. Adam en Eva het darem besef dit help nie om te ontken dit was hulle wat die sonde gedoen het nie – daar is nie juis iemand anders hier rond wat dit kon gedoen het nie, nè? Hulle het uitweg was om mekaar te blameer.  God sien daardeur en Hy straf sommer die hele lot van hulle.  Wel, aldrie van hulle.

 

Wat om te doen, vra die skare?  Wel, wees ten minste darem eerlik oor jou sonde.

 

Selfs Dawid, vir wie julle soveel respek het dat julle hom byna verafgod, is dood.  Sy graf is hier vir ons almal om te sien.   Hy het dus nie homself in gedagte gehad toe hy gesê het

 

27      

U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.

 

Want Hy het.  God het Dawid laat doodgaan. Sy graf getuig daarvan.

 

30      

Maar [Dawid]  was ‘n profeet en hy het geweet dat God met ‘n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit.

 

31      

Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê: “Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie.

 

Julle glo dit mos?  Ons is almal Jode hier: Dis wat Jode glo.  Ons glo dit almal vas.  As julle dit ook glo, nes ons, sal julle ook verwag dat die Christus waarvan Dawid praat uit die graf sal opstaan.

 

32      

“God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies.”

As die gehoor, diep getref, dalk erg ontsteld, vir die eerste keer hierdie boodskap hoor en die waarheid daarin herken, is hulle benoude vraag:

 

37      

“Wat moet ons doen, broers?”

 

Wat julle gedoen het, het julle gedoen.  Julle kan dit nie ongedaan maak nie.  Wat julle gedoen het, is sonde, ʼn erge vergryp aan die Persoon van God.  Julle sonde is van almal die ergste: julle het die Christus van God koelbloedig en met voorbedagte rade van kant gemaak. Daar is niks wat julle kan doen nie.  Niks gaan help nie. Net hierdie een ding bly oor: julle sal moet reken op God.  Julle sal moet staatmaak op hierdie Jesus vir wie julle met minagting verwerp het.  Julle sal moet glo Hy is genadig.  Draai na Hom toe.  Verander julle houding jeens Hom.  Buig voor Hom.  Erken Hy is die Christus van God, die Messias van die Jode.

 

38      

“Bekeer julle!

 

Besef dat julle nou afhanklik geword het van iets wat Hy, Jesus, vir julle sal moet doen.  Hy gaan julle moet aanneem. Dit hang van Hom af of Hy en God julle gaan aanvaar.   Bely dat julle lot van Jesus Christus afhang.  Wat Hy oor jou besluit, gaan die deurslag gee oor die betekenis en die uiteinde van jou lewe.   Want God ignoreer nie die sonde nie.  Hy maak dit nie sommerso af nie.

 

Ons kan julle vertel wat Hy klaar oor julle besluit het:  Hy wil julle aan Hom vasmaak.  Hy wil julle brandmerk.  Hy wil sy kleim afsteek en jou sy eiendom maak.

 

38

Laat julle doop in die Naam van Jesus Christus.

 

Ek weet dit maak geen sin nie.  Hoekom sou Jesus Christus en die God wat Hom hierheen gestuur het, nog hoegenaamd met ons bodder?

 

Wel, juis dit is die evangelie van God.  Hier is die goeie nuus:  God gaan jou sonde nie teen jou hou nie. God vat juis jou sondes weg.  God laat jou sondes nie meer teen jou tel nie. God meet jou nie meer aan jou sonde nie.

 

38

God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.

 

Die antwoord op die vraag “Wat moet ons doen?” is: daar is niks wat jy kan doen nie.

 

Moet ons dan handjies gevou gaan sit en wag dat die koninkryk eendag kom?  Bewaar ons van sulke laksheid!

 

Die koninkryk van God is God s’n.  Dis sy eie nuwe skepping.  Maar die koninkryk van God gebeur met mense.  God verander nie die planeet nie. God verander mense.  En so verander God ons wêreld.

 

Die wêreld is waar mense leef.  Die wêreld is nie ʼn plek nie.  Die wêreld is ons weergawe van die werklikheid.  Ons het hierdie werklikheid gemaak.  Hier binne-in God se skepping het ons hierdie wêreld van hier en nou aanmekaargesit.

 

Die koninkryk van God is ʼn nuwe wêreld.  Ons leef nog hier, op presies dieselfde plek.  Maar met Christus is die lewe hier nou anders.  Oorgemaak.  Weer gebore, met nuwe mense. Hierdie is ʼn opgeruimde wêreld.

 

Die sonde is opgeruim.  Die wêreld is skoongemaak.  Die nuwe werklikheid is een waarin sonde nie meer baasspeel nie.  Vergifnis skep ʼn nuwe ruimte.  ʼn Nuwe lewe is skielik vir mense moontlik.  Want God die Heilige Gees help ons op die stof en as van die ou wêreld ʼn nuwe een bou.

 

Die koninkryk van God is opgeruim, maar ook opgeruimd.

 

26      

My hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe,

 

27      

want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.

 

28      

U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.

 

Vra jy ook:

 

37      

“Wat moet ons doen, broers?”

 

Doen dit:  kry  jou houding oor Jesus reg.  Wees eerlik oor jou sonde.  Kry vergifnis. Vat die Gees wat jou gegee is, en begin vandag oor.  Laat jou hart ʼn slag bly word.  Praat, sing, laat jou tong jubel.  Oor God. Laat die wêreld weet van Christus.  Laat die wêreld hoor van jou hoop oor die dood.  Seën ons met jou vreugde oor die teenwoordigheid van God.  Vat ons met jou saam na God toe, die nuwe wêreld in.

Gaan nou.  Die mense wag dat julle dit vir hulle vertel.

Amen.

Dankgebed

Wegsending:

 

Kom, laat ons sing van ons Verlosser.

Slotsang (Staan)

Gesang 219 strofe 1

Seën (Staan)

In 1 Johannes 5 skryf die skrywer

13      

Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

Dis ons taak ook: om die wêreld te laat weet van God die Seun.  Vir julle en vir die wêreld sê 1 Johannes 5:

10      

Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie.

11      

En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun.

12      

Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.

Amen.

Respons (Staan)

Gesang 219 strofe 2

 

Advertisements

2 thoughts on “My hart is bly en my tong jubel!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s