Verlief

Hoekom nie maar net opgee nie?  Vandag voel ek so.  Vandag voel ek dis tevergeefs.  Ons gaan Afrikaans nie red nie.

Ek gee toe taal is kommunikasiemiddel en begrip kom eerste.

Ek verstáán dat taal verander, groei, kreatief moet klank en sin gee aan ons wordende wêreld.

Ek besef ook dat taal identiteit stig.  En ek weet die verengelsing het te make met hierdie vernuwing.  Ek het vréde daarmee dat tale oor en weer leen namate ons kontekste verstrengel raak.

Ek gee toe ek sukkel dalk met die onthulling van wie ons word, al was ek nooit ʼn puris nie. Vandag gaan dit oor meer: Miskien nie soseer oor wat ons word nie, maar dat dit vir my voel ons heeltemal aan’t verdwyn is.

Ek verbeel my dalk, maar ek voel my nie ʼn taalimperialis nie.

Ek dring nie aan op Afrikaanse televisieadvertensies op KykNet nie.  Ek vervies my nie oor Engelse slagspreuke in produkbemarking nie.  Afrikaans was nog nooit die marktaal nie.  Die nuwe ekonomie het Engels effens van sy troontjie gestoot, maar nie ten gunste van Afrikaans nie.  Dit skeel my nie.  Ek geniet dit dat besigheid al meer Afrika-eie lyk.  (As dit ook maar net effens voorspoediger wou gaan!)  Ek wip my nie as ek op Engels bedien word nie.

Ek is vlot op Engels, en ek is regtig lief ook vir die Engelse taal.  Ek onthou ʼn Engelse gespreksgroep waarvan ek eenmaal deel was.  Ons moes diep goed uitpluis.  Ons moes taal vind vir die duistere en onnoembare nukke van die gees.  Ek onthou dit net oor een van ons my met sy Engelse woordeskat laat swymel het.  Ek wil ook so praat!

Ek raak rustiger oor die status van Afrikaans by akademiese instellings.  In 1978 al, was die meeste van my leeswerk op UP Engels of Duits.  Lesings was Afrikaans, maar ek sou my met Engels ook kon behelp.

Ek voel sterk oor moedertaalonderrig in die primêre- en sekondêre fases. Ek sien kinders daarsonder sukkel.

Afrikaanse musiek is soms soos kougom, -boeke soos taai vleis. Ek hou my nie doof vir ʼn geraas in Afrikaans nie.  Ek is ook nie blind vir Afrikaans se kleivoete nie.

Maar ek moet ook oppas vir neusoptrek oor Afrikaans wat ek dink kwansuis nie die paal haal nie.  Ek gee toe my Afrikaans lyk nie, en hoef ook nie te lyk, soos joune nie.  En jy mag ook maar Afrikaans hê en Afrikaans wees, na hartelus!  Ek gun jou dit, geniet dit, ek beny jou dit!

Maar Afrikaans klink nie meer Afrikaans nie.  As ek nie Engels kon verstaan nie, sou ek vanaand geen snars kon snap van wat jy sê nie.  En jy dink regtig jy praat nog my taal. . .

Ek is ʼn vurige kampvegter vir tweetaligheid, drie-, vier- of meer-, as dit kan.  Europeërs praat soms sewe.  Met groot spyt het ek my kindertyd-Zoeloe verloor, al vermoed ek dit was ʼn aanstootlike Fanagalô.

Ek bewonder taalvaardigheid.   Ek het ontsag vir taal se kulturele gevoeligheid.  Ek verwonder my aan wat taal kan doen: net ʼn groet op Frans kry jou geholpe, maar om in Parys te wil Engels afskop, is ʼn fout.  Jy bou en jy breek met taal.

Dis daarom dat ek ook verstaan taal is politiek, ʼn magsvergryp.  En ek erken dis Afrikaans se albatros.  Ek duld geen hovaardigheid of snobisme nie.

Ek glo nie ʼn taalgemeenskap is ʼn geslote ekosisteem nie.

Ek glo taal kan liefhê en vra na liefgehê te word.

Ek is verlief.

Ek mis regte Afrikaans.  Ek glo Afrikaans kan die waarheid formuleer, kan aan die werklikheid gestalte gee, kan versamel en versoen sowel as vervreem.

Ek is lief vir hoe taal streel en roer.  En oproer, onthuts en aanhits.  Ek hou van hoe taal veg en vrede maak, my verstand aan die kant kan maak en weer deurmekaar kan krap. Ek verras my aan hoe my aha-momente Afrikaans praat.

Ek mis die fyn netwerk van die woord, die fyn kuns van sin te maak.  Sin is juis onthullend, en tog nie ten koste van begrip nie?  Goeie taalgebruik beduiwel tog nie betekenis nie?  Ek verkneukel my juis aan hoe woordeskat sekuur onderskei.  Kry n taalskommel betekenis beter gesê?  Ek dink van nee.

Daarom bekommer ek my oor Afrikaanses se ongeërgdheid jeens die taal, en ontstel my die aggressiewe oprukkerigheid teen enige poging tot skaflike of beter (indien dan nie “goeie” nie) taal.  (Ag, spaar my die beskuldiging: Dis nie vir ʼn wederopstanding van “algemeen beskaafde Afrikaans” dat ek hier pleit nie.)  Ek neem liggies aanstoot.

Tale ontstaan en tale sterf.  Ek weet dit.

Die skrif is aan die muur, dit glo ek ook: Afrikaans taan.

Moet ek verlief neem?

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s