Satan eet uit.

Die Satan nooi homself toe mos vir ete.

Hy eet graag, die Satan.  Of liewer, hy hou daarvan om ons te sien eet. Dalk is dit die gesellige samesyn om die etery wat hom trek.  Want hy kuier graag en die spyskaart pla hom nie:  appels, skaapboud, brood en wyn; van alles maak hy gif.

Vier ʼn fees en hy’s daar. Al nooi jy hom nie, hy kom.

So kom Satan toe mos saam nagmaal toe.

Lukas 22 verse 3 tot 24

14 April 2017, NHKA Kampersrus

Goeie Vrydag, Nagmaal

OUDERLING

Toetrede

Dis die begin van die belangrikste naweek in die kerklike jaar.

Ons herdenk hoe God ons almal se lewe vir altyd ingrypend verander het.

Kom ons nader met diep ootmoed die Here ons God.

Ons sing

Sang (Staan)

Gesang 396 strofes 1,2,3 en 4

PREDIKANT

Votum en Seën (Staan)

Jesus sê vir sy dissipels:

27      

Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien.

En:

28      

“Julle is die mense wat in my beproewings altyddeur by My gebly het.

29      

Net soos my Vader ‘n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek ‘n koninkryk aan julle,

30      

sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink en op trone kan sit om oor die twaalf stamme van Israel te regeer.”

Lukas 22.

OUDERLING

As Jesus aan die kruis sterf, vra ons waar God se almag dan heen is.  Maar ons sing: “Brand my hart teenoor Hom so groot, so goed!”

Lofsang (Staan)

Gesang 395 strofes 1,2 en 3

Die Wil van God, ons Skuldbelydenis en God se Genade (Sit)

Hoor die wil van God soos Jesaja 53 dit vertel, en bely eerlik en openlik skuld aan God.

1        

Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?

2        

Die dienaar was soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit, soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.

3        

Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.

4        

Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word.

5        

Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

6        

Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.

7        

Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie.

8        

Terwyl hy gely het en gestraf is, is hy weggeneem, en wie van sy mense het dit ter harte geneem dat hy afgesny is uit die land van die lewendes? Hy is gestraf oor die sonde van my volk.

9        

Hy het ‘n graf gekry by goddeloses, hy was by sondaars in sy dood al het hy geen misdaad gepleeg nie en al was hy nooit vals nie.

10      

Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.

11      

Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra.

12      

Daarom gee Ek hom ‘n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het.

Sing saam die skuldbelydenis uit

Sang (Staan)

Gesang 389 strofe 1 en 2

Geloofsbelydenis (Staan)

Kom ons bely ons geloof soos volg:

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Kom ons sing wat ons glo vir ons verlossing nodig was.

Sang (Staan)

Gesang 387 strofe 1 en 3

PREDIKANT

Skriflesing

Lukas 22

 

3        

Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die twaalf was, ingevaar.

 

4        

Hy het toe met die priesterhoofde en die offisiere van die tempelwag gaan praat oor hoe hy Jesus in hulle hande kan laat kom.

 

5        

Hulle was bly en het ooreengekom om hom daarvoor te betaal.

 

6        

Hy het ingestem en na ‘n geskikte geleentheid gesoek om Jesus te verraai waar die volk nie by is nie.

 

7        

Die dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek.

 

14      

Toe dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom.

 

15      

Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly.

 

16      

Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.”

 

17      

Daarna neem Hy ‘n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan.

 

18      

Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.”

 

19      

Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

 

20      

Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.

 

21      

“Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel.

 

22      

Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!”

 

23      

Toe begin hulle mekaar uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen.

 

24      

Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word.

In Jesaja 53 staan daar

1        

Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?

En in Esegiël 3:

1        

“Mens, eet wat voor jou is, eet hierdie boekrol en gaan praat met die mense van Israel.”

 

2        

Ek het my mond oopgemaak, en die Here het my die boekrol laat eet.

 

3        

Hy het vir my gesê: “Mens, eet die boekrol wat Ek jou gee, eet jou vol.” Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond.

Gesang 388 sê dat hierdie woorde van God, onbegryplik soos wat hulle mag klink,  deur die eeue heen al getuig van Jesus se geboorte en sy vernedering.

Sang (Sit)

Gesang 388 strofes 1,3

Gebed (Mans staan)

Onthou:

  • Die afgelope week se opstande / optogte
  • Die dood van 44 Koptiese Christene in Egipte en toenemende vervolging van gelowiges deur Islam fundamentaliste onder die vaandel van ISIS.
  • Dankie vir reën.

Kom ons sit ons gebed voort met Gesang 390.  Ons kniel aan God se voete neer. . .

Sang (Sit)

Gesang 390 strofes 1,2,3 en 4

Prediking (Sit)

Die Satan nooi homself toe mos vir ete.

Hy eet graag, die Satan.  Of liewer, hy hou daarvan om ons te sien eet. Dalk is dit die gesellige samesyn om die etery wat hom trek.  Want hy kuier graag en die spyskaart pla hom nie:  appels, skaapboud, brood en wyn; van alles maak hy gif.

Vier ʼn fees en hy’s daar. Al nooi jy hom nie, hy kom.

So kom Satan toe mos saam nagmaal toe.  Hy kom saam as ons by God kom eet.  Hy kom vier glo die pasga.  Maar hy is nie só daar sodat jy hom met die blote oog kan agterkom nie.  Hy vaar in ʼn man in, hy trek vir hom ʼn lyf aan.  Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die twaalf was, ingevaar.  Hy kruip weg.  Wolf in skaapsklere.  Terroris in ʼn toga.

Maar hy flous vir Jesus nie.

Satan het Jesus al tevore versoek.  Hy het vir Jesus ʼn paar vrae gevra wat eintlik maar net daarop neergekom het dat Jesus moet besef hoe belangrik Hy, Hy wat Jesus is, hier onder ons is.  Daar is nie fout mee nie.  Die duiwels besef dit, en hulle sidder.  Maar Jesus leef of Hy dit nie weet nie.  Besef jy jou waarde, gaan jy tog die wêreld om jou so reël dat dit jou belange pas.  Jy gaan sorg dat jy nie skade kry nie.  En as daar al ooit iemand was wat die vermoë gehad het om dinge in sy belang te laat verloop, is dit Jesus.

Dit het tóé ook gegaan oor kos.  Oor brood, want Jesus was honger na 40 dae se gevas.  Maak brood, man!, por Satan toe vir Jesus aan.    Daar is niemand in die wêreld belangriker as jy nie, Jesus, en word jy honger kan jy tog alte seker vir jouself sorg, of hoe?  Nee, sê Jesus toe, God is belangriker as kos.  En God is belangriker as Ek.

Dis seker eerbaar van jou, Jesus, om te jy sê ʼn mens lewe nie net van brood nie, maar van God se woorde, dat God jou kos is, en dat God belangriker is as jy.   Maar wat van my?  Ag jy my belangrik?  En die wêreld, waar staan die wêreld op jou prioriteitslys?  Die hele Woord van God wat jy so vir soetkoek eet, draai mos daarrondom dat jy ander moet liefhê nes jouself, dat jy ander belangriker moet ag as jouself, hulle belange bo joune moet stel en hulle moet dien.  En dis algemene kennis dat God die wêreld vreeslik liefhet.  Wel, hoe hoog ag jy ons?  Wys bietjie hoe belangrik is die wêreld en almal daarin regtig vir jou, toe!  Want ek kan vir jou mag gee oor alles en almal hier. Die hele wêreld val in jou skoot. Dink net: Jy kan in ʼn oogwink God se wil orals en aan almal laat geskied!  Gee my net ʼn bietjie erkenning, Jesus. Mense het ook reg, en regte.

Maar hier in die wêreld – nes in die hemel – moet jy net vir God aanbid.  Hy bly die belangrikste, mos, was Jesus se reaksie.

Ag, kom nou, Jesus, jy onderskat wat jy vir God werd is.  God sal jou besluit eer. Hy sal sy engele stuur om te keer dat jy net jou voet stamp!  Jy kan hier van die tempeldak afspring en jy sal niks oorkom nie.

Dit kon Jesus destyds nie oortuig nie.  Maar nou is dit nie meer waar nie, nè?  Satan hoef niks te sê nie, net sy teenwoordigheid is al genoeg. Jesus sien vir die laaste keer die son sak.  Daar wag vir Hom meer as net ʼn voet se stamp.  Waar is daai engele nou?  Waar is God?

Jesus wou in die woestyn vir God nie kwaad word oor God Hom so verwaarloos nie.

En nou?

Satan kry vir Judas kwaad.  Juis oor die ding dat Jesus nie die wêreld wil, of dalk nie kan, aanvat nie.  Die koninkrykspraatjies was politieke dagdromery, belaglike idealisme, ʼn groot bohaai oor net mooi niks, spin, fopnuus oor ʼn Rubicon wat nooit kom nie. So ʼn los en vas geskarrel wat op niks uitloop nie, is ʼn ergernis, sê ek jou; gaan vra maar vir Dominee Desmond, oom Angus, Julius en Mmusi, en Pravin en die tannie van Black Sash, en vir Save South Africa, en almal wat vergeefs van Oom Paul in Kerkplein af gewals het terwyl oom Jakob van verveling gaap en grynslag.

So besluit Judas en Satan saam iemand moet iets doen, want so kan dit nie aangaan nie.  Judas is kerk toe om te gaan konkel oor hoe hulle Jesus kan kortvat.  Dis ʼn skreiende gelieg en ʼn hele bedrogspul, maar die korrupte komplot het ʼn goeie doel:  dit hou die status quo in stand.  Die doel heilig die middel.  Die sinagoge en die Joodse establishment, wat gans te veel geld uit die Romeine maak om te versmaai, bly veilig in plek.

Judas het na ‘n geskikte geleentheid gesoek om Jesus te verraai waar die volk nie by is nie.

Sy kans kom op die dag dat die Pasga gevier word, op die dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word.  Jesus en sy dissipels was alleen. Satan was ook by, maar die volk nie.

Jesus het by die tafel aangesit. Sy apostels ook. Judas Iskariot was ook daar.

Judas sit nie met skuldgevoelens aan die nagmaaltafel nie.  Judas is daar met die vaste oortuiging dat hy dit reghet.  Hy sluk swaar aan die brood en die wyn, want dis Jesus wat vals is, nie hy nie.  Hy sit aan by ʼn verongelukte “koninkryk van God”, “vier” twee/drie verspeelde jare van sy lewe gewy aan doodgebore verwagting.  Judas is ontnugter.  Judas is bitter:  Ek en my agenda, my verydelde ideaal van ʼn vry en soewereine Israel, my droom van ʼn wêreld waar God groot is en die deurslag gee, is tog belangrik genoeg dat ek my mag vererg as iemand daarmee mors?  Jesus het ons te lank om die bos gelei. Jesus, die mislukte messias, die voorgeeverlosser, die drogbeeld van God wat my vir so lank geflous het, kry net wat Hy verdien.  My verraad is geregverdigde wraak; die geld ʼn bonus wat my toekom.

Judas is op die oorlogspad, n selfmoordbomdraer.  Judas voel ʼn veer vir hierdie fantasie van ʼn “nuwe werklikheid” en ʼn “koninkryk van God”.  Wat jy waar kry?

Op sy beurt, het Jesus na hierdie ete uitgesien.  Op die oog af ʼn paasfees saam met sy geliefdes.  In werklikheid ʼn giftige brousel saam met Satan en sy trawante, andersins bekend as Jesus se dissipels, of eerste gelowiges, kerkplanters.  Jesus se vriende, sy binnekring.

God sien daarna uit om saam met ons uit te eet.  Dis vir Hom lekker by ons, ons  wat hier sit en beplan hoe ons uit Hom gaan geld maak, hoe goed Hy gaan wees vir ons posisie en ons status, hoe voordelig Hy gaan wees vir ons belange.  Ons wat Hom vinnig sal vergeet en sal ontken dat ons enigiets met Hom te doen gehad het of te make wil hê nes iemand ons in ʼn hoek dryf of die klimaat verander.  En dan kla ons oor ons president se kabinet en sy aanhangers?

Ek sal nie weer die paasmaaltyd eet nie.  Ook nie wyn drink nie.  Nie voor die koninkryk waarin Judas nou alle geloof verloor het, sy volle betekenis gekry het nie.  As ons dit weer saam met Hom eet, sal dit wel wees: God regeer.  Vandag nog vier ons pasga.  Maar die volgende keer as ons fees vier, is dit oor die koninkryk van God dat ons sal fees hou.  Dit kom, Judas, al sien jy dit nie.  Dit sal kom.  Al twyfel jy dat dit kan gebeur.  Die koninkryk kom.

Dis toe dat Jesus ‘n beker vol wyn vat, ʼn dankgebed bid en sê: “Neem dit, drink daarvan, en gee dit vir mekaar aan.”

In Lukas stuur Jesus die beker twee maal om.  Hierdie eerste keer noem Hy dit nie sy bloed nie.  Hy hoef nie.  Dis wyn.  Gewone wyn.  Alkohol.  Feestelike drinkgoed.  Kom ons vier fees.  Vat dit, drink dit, gee dit vir mekaar aan. Die klem is op: kom ons doen dit almal saam. Sondaars, skelms, satans. Kom ons wees saam bly. Kom ons vier verlossing.  Dis die paasmaaltyd hierdie: die jaarlikse skaapboudete waarmee ons onthou wat God in Egipte gedoen het, toe Hy ons uit slawerny bevry het.  Die nag toe al die Egiptenaars se oudste kinders onverklaarbaar dood is, en Israel se families, hulle met die lamsbloed aan die deurkosyne, ongedeerd gebly het.  Die volgende dag sou hulle trek.

Toe neem Jesus brood, spreek die dankgebed uit, breek dit. . .

Dis die normale manier waarop die Pasgamaaltyd geëet word:  die belangrike is dat dit een brood is wat gedeel en aan almal uitgedeel word.  Sondaars, skelms en satans. . .

Jesus gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

*a

Die taal van die nagmaal is die taal van Israel se offerkultus.  Hier word ʼn offer gebring, ʼn liggaam gebreek, bloed vergiet, ʼn lewe geneem.  Dis soos mens in die Ou Testament ook met ʼn offer sou maak.  Die ou godsdiens wat die verband tussen God en Israel reël, werk met sulke offers.

Maar een ding is nou heeltemal anders.  Nog nooit en nêrens anders in die geskiedenis van Israel en God, eis God ooit ʼn menseoffer nie.  Net hierdie een enkele keer is die offer van ʼn mens ter sprake. En dan offer God Homself. Jesus offer Homself.

Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word. . .”

*b

Hier kom “die nuwe verbond”.

Die offer bring ʼn nuwe verbond tot stand.  ʼn Nuwe verbintenis tussen julle en God. Die terme van die nuwe verbintenis is anders as die oue.  Maar dit handel oor en hanteer dieselfde saak: dit wat, alles wat, mense en God uitmekaarhou.  Hiermee verval die oue nou.  Want dit het nie geslaag nie. Die Satan was te invloedryk.  Ons sonde was ons heilige koeie.  Nou nie meer nie.  Hierdie verbond skakel Satan en ons sonde uit.

En dis asof Jesus dadelik wil demonstreer wat Hy bedoel, dat dit nie gewerk het nie en ook nooit sou kon werk nie.  Want julle mense is met die Satan kop in een mus.

“Kyk,” sê Hy, so asof hulle die Satan kan sien, en Judas se hand wat Satan soos ʼn handskoen dra, kan herken, Judas se hand wat met brood die sous uit die vleispot opvee en eet, “Kyk! Die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel.”  Hy is een van ons.  Hy is ons.

Toe begin hulle mekaar uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen.  Maar die bespiegeling hou nie lank nie.  Die duiwel vryf aan die ander dissipels ook af.  My gevoelens oor hoe belangrik ek is, is altyd die teken dat ek suksesvol die Satan in sonde kan omsit.   Daar aan die laaste nagmaal, met Jesus se laaste bord kos, want teen sonop gaan Hy met ʼn kruis op sy rug Golgota toe op pad wees, daar om sy laaste maaltyd redeneer hulle onder mekaar oor watter kabinetsposte hulle gaan beklee.  Daar is selfs onenigheid onder hulle oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word.

Dit word ʼn lang, lang nag en ʼn kort vroegdonker Vrydag.  Jesus hou ʼn klomp mense uit die slaap uit.  ʼn Dringende vergadering van die tempelleiers, die plaaslike etniese owerheid, die Romeinse oppergesag in die provinsie, die goewerneur Pilatus en sy stomme vrou wat slaap maar by wie nagmerries spook, die skreeuende skare in die straat, Barabas wat vrykom, Judas se selfmoord.  Die dissipels is al wat slaap.  Tot Petrus teen hoenderkraai wakker skrik. . .  Judas sou nie weer waker word nie.

Die Romeine het goeie tydsberekening:  hulle gebruik die Pasgavieringe, met Jerusalem tot oorlopens toe vol pelgrims, vir hulle kruisiging.  So eindig die lewe van ʼn protesteerder, ʼn opstandeling, ʼn aanhitser en opruier wat dink Hy kan die Romeinse Ryk aanvat asof die wêreld aan Hom behoort.  Sogenaamde “Koning van die Jode.”

God sit die middag vroeg die daglig af.

Die wêreld soos Jode soos Judas hom geken het, kom tot ʼn einde.

Satan gaan versadig inkruip, die wêreld aan sy voete.

Die Son gaan eers weer Sondag opkom.

Jeremia 31

31      

Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit.

32      

Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here.

33      

Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.

34      

‘n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

35      

So sê die Here, Hy wat die son bedags laat skyn, die maan en sterre beveel om snags te skitter, Hy wat die see onstuimig laat word, wat sy golwe laat druis, wie se Naam Here die Almagtige is:

36      

Eers as hierdie dinge uit my teenwoordigheid verdwyn, sê die Here, sal die nageslag van Israel ophou om vir altyd in my teenwoordigheid ‘n nasie te wees.

Amen.

Ons sing saam.

Sang (Staan)

Gesang 377 strofe 1

Formulier vir die Nagmaal (Sit)

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Paulus skryf in sy eerste Brief aan die Korintiërs wat hy gehoor het daai aand met die ete gebeur het.

‘Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

Pasop dat julle die tekens van die brood en die wyn reg gebruik.  So nie, sal julle sonde doen teen die liggaam en die bloed van die Here. Ons moet onsself ondersoek voor ons van die brood eet en uit die beker drink, want as ons nie besef dat wat ons eet en drink die liggaam van die Here is nie, bring ons ‘n oordeel oor onsself.’

Ons glo en bely dat ons Verlosser, Jesus Christus, die sakrament van die heilige nagmaal ingestel het om dié mense wat Hy opnuut gebore laat word het en toe in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het,  te voed en te onderhou.

Mense wat opnuut gebore is, besit naas hulle liggaamlike en tydelike lewe ook ‘n geestelike en hemelse lewe. Die liggaamlike lewe het ons almal van geboorte af al. Die geestelike lewe is aan mense gegee deur die nuwe geboorte.  Die nuwe geboorte gebeur deur die Woord van die evangelie, in die gemeenskap van die liggaam van Christus. Nie alle mense het hierdie lewe nie, net die uitverkorenes van God.

Vir die liggaamlike en aardse lewensonderhoud voorsien God aan alle mense  gewone aardse brood.

Maar om die geestelike en hemelse lewe wat net die gelowiges het,  te onderhou, het Hy vir hulle die lewende brood uit die hemel gestuur, naamlik Jesus Christus. Jesus Christus voed en onderhou die geestelike lewe van die gelowiges as Hy geëet word, dit wil sê deur die geloof in ons inkom.

Om hierdie geestelike en hemelse brood vir ons uit te beeld, het Christus bepaal dat aardse en sigbare brood die heilige teken, of sakrament, van sy liggaam en wyn die sakrament van sy bloed sal wees.

Hiermee laat Hy ons weet: So seker as wat ons die sakrament ontvang en in ons hande hou, en dit met ons mond eet en drink, net so seker kan ons wees dat ons Jesus ontvang.  En nes hierdie brood en wyn ons aardse lewe onderhou, net so seker ontvang ons deur die geloof kos vir ons geestelike lewe, die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Verlosser.

Moenie twyfel nie.  Dit staan vas dat Jesus Christus nie tevergeefs hierdie sakramente ingestel het nie. Hy doen in ons alles wat Hy vir ons met hierdie heilige tekens uitbeeld. Hoe dit gebeur, gaan ons verstand te bowe, omdat die werking van die Heilige Gees verborge en onbegryplik is.

As ons derhalwe sê dat wat ons eet en drink, die eie en natuurlike liggaam en die eie bloed van Christus is, is ons nie verkeerd nie. Maar Jesus word nie met elke nagmaal weer mens en word oor en oor weer gekruisig nie.  Hy is beslis hier teenwoordig.  Die manier waarop ons Hom eet en drink, is nie met die mond nie, maar met die gees deur die geloof.

Al bly Christus dus altyd sit aan die regterhand van sy Vader in die hemel, laat Hy ons deur die geloof aan Hom deelkry.

Die nagmaal is ‘n geestelike maaltyd waarin Christus Homself en al sy gawes aan ons gee, en ons laat deel kry aan Homself en alles wat Hy deur sy lyding en sterwe tot stand gebring het.

Hy voed en versterk ons geestelike lewe en vertroos ons in ons troosteloosheid as ons sy liggaam eet.

Net so verkwik en verfris Hy ons geestelike lewe as ons sy bloed drink.

Hierdie sakramente en wat hulle uitbeeld, skep ‘n nuwe eenheid onder mense.  Nie alle mense wat die sakramente gebruik, ontvang wat daardeur uitgebeeld word nie. ‘n Goddelose en ongelowige mens ontvang wel die tekens, maar nie wat daardeur uitgebeeld word nie, en so bring hy of sy ‘n oordeel oor hom- of haarself. Judas is ʼn voorbeeld daarvan.  Christus word alleen aan dié gegee wat glo.

Ten slotte: Ons ontvang hierdie heilige sakrament in nederigheid en met eerbied. So gedenk ons met diepe dankbaarheid die dood van Jesus Christus, ons Verlosser, en bely ons ons Christelike geloof.

Die vraag wat jy jou in jou selfondersoek moet afvra voor jy aan die tafel kom sit, is: glo jy dit?  Is jou antwoord “ja!” sal jy jou eet en drink van hierdie brood en wyn nie teen jou tel nie.

Kortom, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons aangevuur tot ‘n vurige liefde vir God en ons naaste.

Ons Hervormdes verwerp alles wat met die sakrament vermeng word, en menslike uitvindings wat daarby gevoeg word, want dit ontheilig die sakrament.

Ons is tevrede om die nagmaal te vier soos Christus en sy apostels ons geleer het. Wat ons daarvan sê, is wat hulle daarvan gesê het.

Amen

Laat ons ons nou voor God verootmoedig en met ware geloof bid dat Hy ons in sy genade aan dit alles deel sal laat kry.

Ons sing terwyl die nagmaaltafel gereedgemaak word, en ons net so bly sit

Sang (Bly sit)

Gesang 399 strofe 1

Formulier vir die Nagmaal (Vervolg) (Sit)

Uitnodiging na die nagmaal voor die eerste tafel:

Broers en susters in die Here, u word hartlik uitgenooi om te kom aansit aan die nagmaal van die Here! Namens die kerkraad van die gemeente word belydende lidmate van ander gemeentes van ons kerk en belydende lidmate van kerke met dieselfde belydenis as ons kerk, van harte uitgenooi om saam met ons nagmaal te gebruik; mits u nie onder kerklike tug staan nie en die vrymoedigheid het om in u eie gemeente aan die tafel van die Here aan te sit.

Tafelformule

Om dan nou met die ware hemelse brood, Christus, gevoed te word, moet ons niks van die brood en wyn self verwag nie.  Ons rig ons in die geloof op Christus Jesus wat in die hemel is.  Hy is ons Voorspraak aan die regterhand van sy hemelse Vader.  Wees verseker dat Christus, deur die Heilige Gees, ons lewe vandag net so werklik met sy eie liggaam voed en verkwik as wat die brood en die wyn wat ons by hierdie gedenkmaaltyd eet en drink, ons liggame voed en verkwik.

Uitnodiging na die nagmaal met daaropvolgende tafels

Gemeente, alles is gereed; kom na die tafel van die Here. Kom, en word versterk in die geloof (Matt 22:4).

Gemeente, kom; die maaltyd staan klaar (Luk 14:17).

Kom, gemeente, ons is almal van die Here afhanklik. Hy voed ons op sy tyd (Psalm 104:27)!

Gemeente, kom dan; want die Here maak sy hand oop en ons kry meer as genoeg (Psalm 104:28)!

Kom, gemeente, laat ons ons oë op die Here rig; want Hy voed ons op ons tyd (Psalm 145:15)!

Kom, gemeente, eet! Anders sal die pad vir u te lank word (1 Kon 19:7).

Brood

Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van Christus (1 Kor 10:16).

Beker

Die beker van danksegging waarvoor ons God dank, is die gemeenskap met die bloed van Christus.

Sang na tafel 1 (Bly sit)

Ons sing by elke nagmaaltafel net een vers, terwyl almal bly sit, van

Gesang 399 vers 2

Sang na tafel 2 (Bly sit)

Gesang 399 vers 3

Sang na tafel 3 (Bly sit)

Gesang 399 vers 4

Sang na tafel 4 (Bly sit)

Gesang 399 vers 5

Na die laaste tafel

Geliefdes in die Here, aangesien die Here ons nou aan sy tafel gevoed en verryk het, laat ons almal saam in dankbaarheid sy Naam prys deur almal saam te sing

Sang (Staan)

Gesang 385 strofes 1 en 2

Seën (Bly staan)

39      

Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”

40      

Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man!

41      

In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”

42      

Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

Dan spreek Jesus hierdie seën uit oor hierdie man en oor almal van ons wat maar alte goed weet dat ons aan die kruis hoort.  Lukas skryf:

43      

Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Amen.

Sang as respons (Bly staan)

Gesang 238 strofe 4 en 5

Afkondigings

DIAKENS

Dankoffers

*a

Daar is vyf goed aan die brood, goed wat Jesus sê, en daarmee doen. 

  1. Dis Jesus wat dit uitdeel. Hy is die gasheer. Hy reël ook die ete.
  2. Hy vat gewone brood; “Dit is my liggaam”, sê Hy.  As God iets sê, is dit so.  As dit nog nie so is nie, word dit so, gebeur dit.  God skep.  God skep met net ʼn woord.  Jesus is die Woord.  Hierdie brood is Jesus se liggaam want God sê so. 
  3. Jesus breek die brood tussen sy vingers. Hy breek self sy liggaam stukkend.  Al gaan mense Hom vermoor, is dit Hy wat besluit wat van Hom word.  Hy bly in beheer.  Sy moordenaars vang Hom nie onkant nie.  Hy gaan dood, meer as wat ons Hom doodmaak. Die Judasse aan sy tafel moet dit weet.  Die Petrusse ook.  Al sy dissipels moet dit besef.  Gelowiges moet dit leer.   Jesus is van sy lewe en sy liggaam in beheer. 
  4. Jesus gee vir ons sy liggaam aan. Hy bepaal wat van sy liggaam word, wie sy liggaam kry.  Dis vir ons.
  5. Jesus beveel wat ons met Hom moet maak. Ons moet Hom onthou. Want van hierdie onthou, gaan ʼn krag uit wat ons gaan raak.  Maar eers by die wyn verduidelik Hy hoe dit ons gaan raak, wat dit aan ons gaan doen.  

*b

Dieselfde vyf goed wat Jesus met die brood doen, doen Hy met die wyn ook.  Dit beteken een en dieselfde.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s