Het julle hier iets om te eet?

Daar is geen ander dag in die kerklike jaar belangriker as hierdie een nie.  Dis die dag toe ons die eerste keer besef het die lewe eindig nie in die dood nie.  Dis die dag toe ons geleer het niks is ooit onmoontlik of tevergeefs nie.  Dis die dag toe God vir ons ʼn toekoms oopgebreek het wat ons in ons wildste drome ons nie sou kon voorstel nie.

Ons vier vandag Jesus se opstanding uit die dood.

Kom ons nader die Here ons God met jubeling.

Lukas 24 verse 36 tot 53

16 April 2017, NHKA Kampersrus

Opstandingsondag, Paasfees

OUDERLING

Toetrede

Daar is geen ander dag in die kerklike jaar belangriker as hierdie een nie.  Dis die dag toe ons die eerste keer besef het die lewe eindig nie in die dood nie.  Dis die dag toe ons geleer het niks is ooit onmoontlik of tevergeefs nie.  Dis die dag toe God vir ons ʼn toekoms oopgebreek het wat ons in ons wildste drome ons nie sou kon voorstel nie.

Ons vier vandag Jesus se opstanding uit die dood.

Kom ons nader die Here ons God met jubeling.

Ons sing

Sang (Staan)

Gesang 402 strofes 1,2,3 en 4

PREDIKANT

Votum en Seën (Staan)

36      

Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!”

37      

Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ‘n gees.

38      

Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte?

39      

Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ‘n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.”

40      

Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.

Lukas 24.

OUDERLING

Kom ons juig weer oor ʼn leë graf!  Dis Paasfees.  Die Heer het opgestaan!

Lofsang (Staan)

Loflied: Gesang 404 strofes 1 en 2

Die Wil van God, Genade op Genade (Sit)

Hoor die wil van God soos dit in Jeremia 31 staan.   Dis die ene genade!

31      

Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit.

32      

Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here.

33      

Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.

34      

‘n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

35      

So sê die Here, Hy wat die son bedags laat skyn, die maan en sterre beveel om snags te skitter, Hy wat die see onstuimig laat word, wat sy golwe laat druis, wie se Naam Here die Almagtige is:

36      

Eers as hierdie dinge uit my teenwoordigheid verdwyn, sê die Here, sal die nageslag van Israel ophou om vir altyd in my teenwoordigheid ‘n nasie te wees.

Hoor jy die Paasfeesklokke?  Sing saam die lof en dank vir God se eindelose genade uit

Sang (Staan)

Loflied na die wil van God: Gesang 409 strofe 1 en 2

Geloofsbelydenis (Staan)

Kom ons bely ons geloof soos volg:

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Ons belydenis sê God het oor die sonde, en oor die dood, en daarom ook ons getriomfeer.  Hy heers nou.  Nou moet elke vyand kan raaksien hoedat sy volk Hom dankbaar dien.  Kom ons begin by lof vir sy genade.

Sang (Staan)

Geloofsbelydenis: Gesang 407 strofe 1 en 2

PREDIKANT

Gebed

Dieselfde krag waarmee God vir Jesus uit die dood opgewek het, werk nou in ons.  Dis die krag wat ons moet gebruik om die wêreld te laat leef.

Daar is niks so heerlik soos om op Paasoggend die lof van ons Here Jesus, die opgestane Seun van God, die eerste mens wat na die dood lewe, te besing nie.

Sang (Sit)

Na die gebed: Gesang 417 strofes 1 en 2

Skriflesing

Lukas 24 verse 36 tot 53

36      

Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!”

 

37      

Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ‘n gees.

 

38      

Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte?

 

39      

Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ‘n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.”

 

40      

Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.

 

41      

Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?”

 

42      

Hulle gee Hom toe ‘n stuk gebakte vis.

 

43      

Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.

 

44      

Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

 

45      

Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.

 

46      

Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,

 

47      

en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’

 

48      

Julle is getuies van hierdie dinge.

 

49      

En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

 

50      

Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën.

 

51      

Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.

 

52      

Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan.

 

53      

Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

In Esegiël 3 staan daar oor die Woord van God:

1        

“Mens, eet wat voor jou is, eet hierdie boekrol en gaan praat met die mense van Israel.”

 

2        

Ek het my mond oopgemaak, en die Here het my die boekrol laat eet.

 

3        

Hy het vir my gesê: “Mens, eet die boekrol wat Ek jou gee, eet jou vol.” Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond.

Laat daar nou by ons ook ʼn lied klink en stemme juig, van hier af orals waar ons kom, ʼn lied wat getuig dat ʼn nuwe era aangebreek het.  Die Seun van God het opgestaan.

Sang (Sit)

Na die Skriflesing: Gesang 420 strofes 1,2 en 3

Prediking (Sit)

Die lewe gaan aan.

Sonder ʼn oomblik se huiwering, sonder die geringste oponthoud, sonder dat iets dit verhinder of ontspoor. Dis nie eers ʼn “nuwe” lewe nie, dis die oue, dis een en dieselfde een as voor Vrydag. Die lewe hik nie eers liggies nie en verloor ook nie eers ʼn bietjie balans nie. Die lewe kom doodgewoon aan die gang soos maar nog altyd.

Jesus leef.

Doodluiters sê die man wat hulle netnou nog in sy graf wou gaan balsem: “Wat eet ons? Ek’s honger! Hierdie doodganery vat dit nogal uit jou uit.” En dan krap hy die visgrate tussen sy tande uit, en eet hulle middagete se gebakte vis daar voor hulle oë op asof Hy glad nie agterkom al die ander het hulle eetlus verloor nie. Asof Hy die bohaai nie kan verstaan nie. Hy het hoeka vir die ouens op pad Emmaus toe gesê hulle het ʼn klaaglike gebrek aan begrip.  Asof hulle basiese biologie nie kan kop nie. Asof Hy nie eers agterkom hulle stik aan die knoppe in hulle kele, en hulle slap kakebene kry nie gekou nie. Asof Hy nie eers weet hulle is lamgeslaan van die skok en oorweldig deur die oomblik nie.

Was dit enigiemand anders, was dit op enige ander tyd as drie dae na sy dood, was hierdie die soort fynere besonderhede van ʼn gewone dag se gebeure wat jy nie juis in boeke gaan opskryf nie. Maar hier staan dit: die dooie man eet ons kos op!

Wat hulle sien gebeur, kan nie waar wees nie. Dis ongehoord, en dis onmoontlik. Dis dalk selfs onbehoorlik soos ʼn grap wat jy nie in goeie geselskap oorvertel nie. Dis in elke geval die soort van goed waarmee jy nie te koop loop as jy nie daarvan hou om uitgelag te word nie. Die wêreld kan hom nou nog verkneukel oor die kerk in sprokies glo wat uitloop op verklarings van nimmereindigende geluk.  Dit lê vir hulle op die vlak van die Tandemuis en Kersvader, Vaaljas of Antjie Somers, Brolloks en Bittergal.  In storieboeke of net vir die grap is ʼn bietjie fantasie skadelose pret.  Om van te leef, is sulke dromery gevaarlik.

Daar is aan vis eet net mooi niks snaaks nie. Niks. Net dat hierdie lyf wat dit eet, dood is.

Die vraag is dan: Is dit Hy? Is hierdie regtig Jesus? Is dit nie dalk ʼn  dubbelganger, ʼn plaasvervanger, ʼn stukkie slinkse toneel deur ʼn indringer nie? Of is dit dalk  ʼn spook?  ʼn Bo-natuurlike wese?  Wel, kom kyk self, sê Hy. Kyk my hande en my voete. Dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ʼn Gees het tog nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie!

En ek verbeel my hulle kom met hulle hande soos blindes voor hulle uitgestrek om skrikkerig en selfbewus te kom vat en voel aan Hom, amper seker dat hulle hulle arms dwarsdeur Hom gaan steek soos deur ʼn spook in ʼn Pixarfiek. Wat hulle voel, is die vars rowe aan sy hande en sy voete waar die spykers deur is, die nog gapende wond van die spies aan sy sy.

Snaaks hoe mens oor goeie nuus altyd agterdogtig is, jy nie sommer kan glo dis waar nie, dis heeltemal te goed om waar te wees, nè? Eintlik tragies. Daai ouens is vol verwondering. Hulle blydskap het nie brieke nie. Maar hulle glo nie hulle eie sintuie nie, wat hulle eie oë sien en hulle vingers aan vat nie. Dis dan dat Hy sê: Toe-toe, ruk julle reg! Kom ons eet!

En die lewe gaan aan.

Die lewe gaan aan asof dit nooit gestop het nie. Soos so baie kere in die verlede, sit Hy saam met hulle aan tafel en die gesprek kom aan die gang. Julle onthou mos?, vra Hy. Julle onthou mos al die goed wat Ek julle vertel het van wat in die wet van Moses, die profete en Psalms staan? Julle onthou mos hoe Ek gesê het dié goed gaan oor My. Wel, dis nou in vervulling gegaan.

Dis ʼn gesprek wat veertig dae sou duur.  Een wat nou nog nie endkry nie.

Dis asof Hy ʼn liggie in hulle koppe aansit. Die aha-moment laat hulle skielik ʼn klomp goed snap wat hulle met al die gevat en gevoel en gekykery van vroeër gemis het. Sonde en gesondword, ou woorde en nuwe wonders, al die ou profete en Jesus se preke, Moses se wet en God se koninkryk wat met genade werk, die hele lot kom so skielik in hulle koppe bymekaar dat hulle jare sou vat om alles wat hulle nou weet net ʼn slag behoorlik gesê te kry. Trouens dis nou al tweeduisend jaar later en hier praat ons nou nog, en nou nog kry ons soms nie die woorde wat alles gesê kry nie, want elke keer kom ou en nuwe skatte te voorskyn wat ons stomslaan en stilmaak.

Wat Lukas hier van daai gesprek neerskryf, is maar ʼn paar verse, so skraal.  Maar ek vermoed dis waar Lukas se hele evangelie begin. Dis uit hierdie hoek dat Lukas terugkyk oor die afgelope drie jaar.  Jesus herinner hulle daar om die tafel dat die Skrif mos sê die Messias moet ly, doodgaan, en uit die graf sal opstaan. Dis maar al wat met Hom gebeur het. Dit beteken dat alles wat hulle tot hiertoe gesien en gehoor het wat Jesus doen, presies so in die Skrif staan.  Dit kliek. Die man-mens Jesus, is dan die Messias. Die dooie man wat voor hulle staan en eet en asemhaal, is die Redder wat van God af kom, die een waarvan die Skrif praat, en waarvoor Israel eeue al wag!

En meer nog as die dooie lyf wat vis eet, boul dit hulle om dat hulle tot nou toe nog nie die kloutjie by die oortjie kon kry nie.  Drie jaar al leef die Messias onder hulle, en hulle het dit nie besef nie. Of dit was dalk net te goed om waar te wees. Dog, nou is selfs die mooiste waarheid moontlik. Juis oor hierdie dooie man hulle vis sit en opeet, is enigiets skielik moontlik. En skielik maak die Skrif sin. En niks van wat ons hier sien gebeur, noudat ons sien wat die Skrif sê, is meer belaglik of vergesog nie. Vreemd, dit gee ek jou gelyk.  Raar, maar waar.

Hierdie ontmoeting met Jesus hou ʼn dubbele skok in vir die ouens wat met Hom te doen kry. Net dat Hy leef, was al erg genoeg. Wat onmoontlik gevoel het, is die werklikheid. Voel daai gate aan sy lyf: hulle is nie net my gevoelens nie, hulle is nie net my verbeelding nie, hulle is regtig daar. Hy is regtig hier. Jesus wat van Nasaret af kom was dood en Hy lewe weer.  Dis al skokkend.

Maar wat nou bykom, is dat Hy toe nie net Jesus van Nasaret is nie.  Hy is ook die Christus wat van God af kom. Hy is ook die Een wat uit die Skrif uit kom. Die hemel weet wie en wat anders Hy nog kan uitdraai.  God die Seun, sou ons later leer, maar vir hulle wat saam met Hom sit en eet is die gewaarwording  nog ʼn stap te ver. God gee ons die evangelie met ʼn lepel in: een happie vis op ʼn slag.

Die een ding wat hulle nou vir seker weet, is Hy is die einste Hy wat van die kruis af kom, wat uit die graf uitkom.

En dit maak nou ook sin om te sê Hy is ook die Een wat die Skrif sê van God af kom, met die volmag van God om ons almal te red.

Dis wie die man is wat ons Sondagmiddagete sit en opeet.

Hulle leer stadigaan dat met Hom gebeur nou die ingryp deur God waarvan die Skrif praat, die saligheid wat Israel voorsien het en na uitgesien het.  Dis Hy. Hy is die ingryp van God.

As hulle verbysterd was oor die dooie mens saam met hulle eet, dat Hy die Messias is, die Een wat van God af kom, dan is ons nou nog verdwaas oor die lewende God tussen hulle kon gaan staan en sê kom vat aan My.  Hoe smag ons nie daarna nie!

Maar by verbystering en met die lamheid geslaan, kan dit nie bly nie.

Asof dit die doodnormaalste ding in die wêreld is, so alledaags soos vis eet, staan God daar en sê sommerso terloops “Haai julle, Ek wou nog sê, Ek is toe mos die heeltyd God ook! Wel, bly te kenne!  Nee, dit gaan goed dankie.  Ek sien julle het darem ook heelhuids deur die naweek gekom. Wel, meestal. Nou toe-toe-toe! Dis tyd julle kom aan die gang. Nes die Skrif oor my praat as dit sê die Christus moes ly en doodgaan en op die derde dag opstaan, sê dieselfde Skrif oor julle ook iets. Dis nou die tyd.  Julle beurt.  Vervul dit. Die Skrif sê julle moet nou aan die praat kom. Julle moet vir die wêreld gaan vertel van God, van My, die Christus van God, van bekering en van vergewing van sondes. ʼn Vol maag is ʼn goeie afskop. Kom ons eet.”

Julle moet weet dit hang nou van julle af.  Julle is hiervan die wêreld se getuies, want julle is nog die enigstes in die wêreld wat dit weet: Dat God mense vergewe, mense wat, as jy hulle met ʼn wet gaan meet, dit nie gaan maak nie. God vergewe mense se sondes. God laat sondaars so na aan Hom toe, dat julle aan My kan vat, want die sonde wat ons geskei het, is uit die pad uit. Ek het die sonde soos ʼn klip uit jou pad weggerol, Ek kom deur jou mure en geslote deure en jou harde plafon by jou aan. Sê dit vir almal in Jerusalem, sê dit tot vir die nasies! Sê vir hulle almal: Die sonde is vergewe, God  het tot by ons gekom.  En gaan sê ook vir hulle, hulle is welkom, Ek wag.  Sê vir hulle: Kyk, God is hier by jou.

Self en alleen gaan die kerk dit nie regkry nie. Vergewe tog maar, Here, maar selfs met die beste voornemens en al ons grootste verwondering, om hieroor te gaan praat en te sê God was hier, God is hier, Hy’t geleef, Hy’t gesterf, Hy’t opgestaan, en ons het niks om te wys nie. . . ons gaan daarmee op ons eie net nie aan die gang kom nie.

O, Ek weet dit!, sê God. Ek gaan julle ook nie aan julle eie lot oorlaat nie.  Julle het mos nou gesien hoeveel Ek vir julle omgee, mos?  Ek sal die gawe wat my Vader belowe het, ook nog vir julle stuur. Dat julle alles van God gesien het wat daar te sien is, weet Ek, is vir mense nie genoeg nie. Ek ken mense. Wel, my Gees sal oor julle kom. Wag hier, Ek gaan Hom haal. Ek sal Hom vir julle bring. Bly hier in die stad totdat Hy kom, want dan sal julle die krag kry wat dit verg. Dit verg meer as net ʼn maaltyd van vis. Julle gaan meer as net liggaamskragte nodig hê.  Ek sal die Heilige Gees laat kom.

En toe?  Gaan die lewe toe weer maar net doodluiters aan? Die dag as selfs iemand wat vis eet, jou gooi, moet jy weet niks is meer soos dit was nie. Kan enigiets ooit weer dieselfde wees? Ek twyfel.

Jy sien, Jesus was dood, en Hy eet vis. Jy sien Hom dit doen. Jy sukkel om te glo wat jy sien, maar dis Hy en dis waar, kom jy agter want jy kan aan Hom vat ook.   En jy moet toegee: Die Skrif is al lankal daar en sê nog altyd wat dit sê, maar nou kom jy agter dit sê duidelik iets oor hierdie Jesus wat jy so sukkel om te verstaan.  Die Bybel sê die goed wat met Hom gebeur het. Jy durf nie, wel, jy kan dit ook nie wegpraat nie: die Skrif sê oor Jesus van Nasaret, Hy van Golgota, dat Hy die Messias van God is.

Ek en jy het nie die voorreg om aan Hom te kon raak nie.  Behalwe toe ons Vrydag sy liggaam en sy bloed in brood en wyn gekry het.  Hy wat God is, het tog tot vatbaar naby aan ons ook gekom.

Dis nou hoe dit ons raak, wat die verskil maak:  ons kom agter ons sonde is weggevat.  Hy’t vergifnis gegee. Ek weet jy sluk dit moeiliker as visgrate, dat iets soos jou vergiffenis op God se agenda staan. Wel, nie net jou sonde nie, maar ons almal s’n,  krap Hy uit en haal Hy tussen ons uit. Ons kom agter ons het hierdie nuwe onbelemmerde verbintenis met God.

Ek praat daaroor, want die Skrif voorspel ek kan nie stilbly nie. Die Skrif is natuurlik reg. Oor die sonde, en oor my.

En jy?  Het die verskil wat vergiffenis maak jou al getref?  Het die krag van bo wat die Vader jou gegee, jou al aan die praat?

Ja, die lewe gaan aan. Amper asof niks verander het nie.

Maar as Jesus die dag gebakte vis eet, is niks meer soos dit Vrydag was nie.  Wat, dan, het intussen gebeur?  Die vergiffenis van ons sondes het met ons gebeur. Jesus leef en ons, sondaars wat ons was, vat-vat aan God.

Hoe jy ookal daarna kyk, as jy dit glo, gaan jy nie stilbly nie. Niks is meer dieselfde nie, en jy weet dit. Sê dit!

Amen.

Ons sing saam dat die Heer werklik opgestaan het.  Ons sal saam met Hom opstaan en lewe  Ons sal self ook oorwinnaars wees.

Sang (Staan)

Slotlied: Gesang 422 strofes 1 en 3

Seën (Bly staan)

Lukas 24 sê:

50      

Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën.

51      

Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.

Ons weet nie watter woorde Jesus gebruik het om hulle te seën nie. Maar dit kon so geklink het:

Romeine 4

7        

“Geseënd is die mense wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word.

8        

Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie.”

Vrede vir julle! Amen.

Sang as respons (Bly staan)

Respons: Gesang 422 strofe 2

 

Afkondigings

DIAKENS

Dankoffers

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.