Stilte? n Gebid en gebit.

Die stilte van die volgende twee Sondae – ek sal nie nuwe preke maak en pos nie – is te wyte daaraan dat my pa ernstig siek geword het.  Hy het Dinsdag tuis inmekaargesak.

Ek is inderhaas hierheen.

Pa is voor ek hier aangekom het, dood.  En hy lewe weer.  Lasarus.

Ma was by hom.  Hy was gekoppel aan n respirator en n spinnerak van buise en drade en n muur vol monitors.  Om drie-uur Woensdagmiddag het al wat n alarm is, aangekondig dat die lewe in sy gebroke lyf tot stilstand gekom het.

Minute later het die dokter vir Ma gekom sê hulle kon met geen geweld of adenalien vir Pa oortuig om terug te kom nie.   Hy is weg.

Ma wou weet wat nou.  Lykshuis, ondernemers en papierwerk is al wat oorbly.

Sy kon my nie kry nie.  Ek was iewers in n vliegtuig.  En San se nommer in Pa se foon is verkeerd.

Ma is terug om Pa te gaan groet.  En sy sak klere en badgoed huis toe te vat.  Hulle het haar gevra om te wag terwyl hulle hom ontkoppel. Die spinnekop het hom klaar gevang. En met die lewe weg, is die ontrafeling hardhandig haastig.

Nog n paar minute en hulle kom sê sy kan ingaan.  Met die lugpyp se uithaal en al die masjiene af, het hy self begin asemhaal.  Die hart klop weer, die bloeddruk klim.  By my aankoms later die aand, maak hy doodluiters oë oop, vir die eerste keer in 24 uur en, wil hy weet, wat maak ek hier, en kla hy sy lyf is seer.

Jacques het sy vakansie onderbreek om vir ons te kom bid.  n Dominee duisend.  Die lof oor die wonder van lewe en herlewing, die dank vir opstaan en aangaan, kom God toe.

Die susters het intussen aangekom.  Daar is die gewone gekyf en gekibbel, verwondering en ontsag, en n geskinder en n luide gekuier wat jou sal laat dink daar’s op aarde geen krisis wat vir hulle sal onderkry nie.  En eintlik is daar ook nie.

Ma is flenters.  Maar Pa het al vanmore gebel om te hoor waar’s sy tande en sy beursie. Hy het sy prioriteite reg: die lewe verg vasbyt. En n vet beursie.  En nie een van die twee is meer eg of eie nie.  Die een behoort aan die bank, die ander is die handewerk van n tandemaker.

Sela.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s