Boere en bouers.  Plakkers en priesters.

Jesus is in die hartjie van Jerusalem, in die tempel.  Dis die laaste week van sy lewe voor die kruisiging.  Jesus vat die Joodse leiers kaalvuis aan.  Hy stook moeilikheid.  Dit raak gevaarlik. Dit gaan Hom duur te staan kom.  Dis wat Hom sy lewe gaan kos.  En Jesus weet dit.  Maar Hy skram nie weg nie.  Hy vertel die storie van die bose boere in die wingerd.

Lukas 20 verse 9 tot 19

26 Maart 2017, NHKA Kampersrus

Lydenstyd

 

Liedere in hierdie erediens

Psalm 17 strofe 2

Psalm 125 strofes 1, 2, 3 en 4

Gesang 273 strofes 1 en 3  

Psalm 80 strofes 1 en 3.

Gesang 554 strofes 1 en 2.

Gesang 575 strofes 1 en 2.

Gesang 277 strofes 1, 4 en 5.

Gesang 276 strofes 1 en 2.

Gesang 313 twee keer. 

Orde van hierdie erediens

Hierdie orde het die Wet / Wil van God en die belydenis van geloof na die prediking, aan die einde van die erediens.

 

 

Skyfies: Afkondigings en advertensies

Skyfie: Lydenstyd.  Boere en Bouers. . .

TOETREDE

Predikant

Jesus is in die hartjie van Jerusalem, in die tempel.  Dis die laaste week van sy lewe voor die kruisiging.  Jesus vat die Joodse leiers kaalvuis aan.  Hy stook moeilikheid.  Dit raak gevaarlik. Dit gaan Hom duur te staan kom.  Dis wat Hom sy lewe gaan kos.  En Jesus weet dit.  Maar Hy skram nie weg nie.  Hy vertel die storie van die bose boere in die wingerd.

Sang vooraf

Psalm 17 is ʼn gebed wat vra dat die Here  ons sy bystand moet gee, moet hoor as ons roep.  Ons vra Hy moet ons soos sy oog se appel toehou in tye van gevaar.

Sang (Sit)

Psalm 17 strofe 2

Psalm 125 sê dat nes die berge Jerusalem aan alle kante omring, so is die Here ook al om ons om te beskerm teen gevaar.  Ons wil dit weet, juis in lydenstyd, wanneer ons oor die gevolge van ons sonde en die prys van verlossing nadink.

Sang (Sit)

Psalm 125 strofes 1, 2, 3 en 4

Skyfie: Lydenstyd.  Boere en Bouers. . .

Stilte (Sit)

Amen.

Kom ons sing ʼn lied waarmee ons ons voorberei om God in die erediens te ontmoet.  Ons sing dat ons na aan God wil lewe, want dis al wanneer ons sal groei.  Dis ʼn gebed. Ons sing dit staande en bly staan vir die begin van ons erediens met die votum en die seën en die loflied.

Toetredelied (Staan)

Gesang 273 strofes 1 en 3  

Skyfie: Sing van God se wingerd.

Votum (Staan)

1        

Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet, ek wil my liefdeslied sing oor sy wingerd: Hy wat ek liefhet, besit ‘n wingerd op ‘n vrugbare heuwel.

Jesaja 5

Seëngroet (Staan)

2        

Daardie dag moet julle sing van die goeie wingerd;

3        

Ek, die Here, sorg daarvoor: Ek lei dit gereeld nat, dag en nag staan Ek wag daarby sodat niemand dit kan beskadig nie.

Jesaja 27

Aanbidding en Lof

Kom ons sing oor die Here se wingerd. Die Here se wingerd is Israel.

Sang (Staan)

Psalm 80 strofes 1 en 3.

Skyfie: Lydenstyd. Boere en Bouers. . .

Gebed (Skuldbelydenis en genadeverkondiging) (Manne staan)

Bid oor plaasmoorde.

Kom ons sing “Die Here neig sy oor tot my, Hy luister na my gebede…”

Sang (Sit)

Gesang 554 strofes 1 en 2.

Verkondiging

Predikant

Skriflesing (Sit)

Skyfies: Lukas 20:9-19

Ons Skriflesing kom uit Lukas 20 verse 9 tot 19.

9        

Verder het Jesus aan die volk hierdie gelykenis vertel: “Daar was ‘n man wat ‘n wingerd aangeplant en dit aan boere verhuur het. Daarna was hy ‘n hele ruk weg van die huis af.

10      

Toe dit tyd was daarvoor, stuur hy ‘n slaaf na die boere toe om sy deel van die wingerd se opbrengs te gaan haal. Maar die boere het die slaaf geslaan en met leë hande weggejaag.

11      

Die eienaar het weer geprobeer en ‘n ander slaaf gestuur. Maar hulle het hierdie een ook geslaan en uitgeskel en met leë hande weggejaag.

12      

Die eienaar het nog ‘n keer geprobeer en ‘n derde slaaf gestuur. Hulle het hom geslaan dat die bloed loop, en hom uit die wingerd uitgegooi.

13      

“Toe sê die eienaar van die wingerd: ‘Wat moet ek nou doen? Ek sal my geliefde seun stuur. Miskien sal hulle hom ontsien.’

14      

Maar toe die boere hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons slaan hom dood, dan is die erfenis ons s’n.’

15      

Toe gooi hulle hom uit die wingerd uit en slaan hom dood. Wat sal die eienaar van die wingerd dan met hulle doen?

16      

Hy sal kom en daardie boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee.” Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Nee, dit moenie gebeur nie!”

17      

Maar Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Wat beteken hierdie Skrifwoord dan: “ ‘Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword’ ?

20:17: Ps. 118:22.

18      

Elkeen wat op hierdie klip val, sal verpletter word; elkeen op wie hy val, sal hy vermorsel.”

19      

Die skrifgeleerdes en die priesterhoofde het besef dat Jesus met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Daarom wou hulle Hom sommer daar en dan gevange neem, maar hulle was bang vir die volk.

Jesus sê in Matteus 7 oor wat ons in die Bybel lees:

26      

En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het.

Neem in gevaar toevlug tot God.  Soek biddend na sy sin en wil.  Dan bou jy nie op sand nie.

Sang (Sit)

Gesang 575 strofes 1 en 2.

Preek (Sit)

Skyfie: Boere en Bouers. . .

In Jerusalem aangekom, kies Jesus koers tempel toe.  Daar is handelaars in en om die tempel wat, nes die fotograwe om die Binnelandse Sake kantoor paspoort- en ID foto’s van jou neem,  diere en duiwe aan jou kan verkoop vir die offers wat jy wil bring.   Nogal gerieflik.

Jesus jaag hulle weg.

Hy sê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed wees,’ maar julle het dit ‘n rowersnes gemaak.”     Dis in Jesaja 56 vers 7 dat dit so geskrywe staan.

En as die markgeraas bedaar het, preek Jesus.

Die kerkraad is kwaad, maar hulle doen n eierdans.  Hulle kan dit nie waag om Jesus te stop nie, want die mense luister oopmond na Hom.  Die kerkraad, die uitvoerende gesag van die tempel, die prokureurs wat die Wet ken en die tradisionele leiers wat hulle stamme en families verteenwoordig, hulle besluit hulle gaan nie dat Hy sommerso daarmee wegkom nie.  Hulle kom vra:

Skyfie: Wie gee jou die reg, Jesus?

“Sê vir ons, Jesus, waar dink jy kry jy die reg om hierdie goed te kom doen? Wie het jou die gesag gegee om die tempel se godsdiensgebruike so te kom ontwrig? Wie het jou oor ons aangestel?”

Jesus kom met ʼn draai.  “Wie, sê julle, het vir Johannes die Doper sy gesag gegee?”  Nou, dis ʼn vraag wat die establishment moeilik gaan antwoord.  Húlle wil graag glo hy was ʼn vals profeet, maar die volk voel anders.  En hulle wil nie in die volk se slegte boekies kom nie.  Dis nie n demokrasie dié nie, maar openbare opinie maak tóg saak.  Nee, sê die hooggeplaastes, ons weet nie.   Sê maar.  Hulle hoop Hy gaan sê van God af, want dan gaan hulle Hom ontmasker as ʼn fopprofeet.

Maar Jesus weet hulle is oneerlik en hulle het ʼn eie agenda.

“Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

Skyfie: ʼn Storie oor ʼn man met ʼn wingerd.

Dis dán dat Jesus hulle die storie vertel wat ons gelees het.  ʼn Ryk man besit grond.  Hy is dalk ʼn uitlander, want hy moet die grond in plaasbestuurders se hande los om vir hom te boer.  Daar is wingerde op die land geplant.  Teen oestyd stuur hy iemand om die huur in te samel.

Skyfie: Oor boere wat skuldvorderaars wegjaag en plakkers word. . .

Die boere gee die skuldvorderaar ʼn goeie pak slae en jaag hom dan met leë hande daar weg. Die grondeienaar is duidelik ʼn geduldige kêrel, want hy stuur weer iemand, en weer maak hulle so.  Weer slaan hulle die vorderaar, en skel hom nou sommer ook goed uit, en jaag hom dan weg.  ʼn Derde keer stuur die eienaar ʼn balju.  Hulle slaan vir hom dat die bloed loop, vloek hom en gooi hom van die plaas af. Elke keer is die respons ʼn bietjie erger, nè.  Hoe nou gemaak?, wonder die grondeienaar.  Dis tog sý grond en sý wingerd; hy het rég op inkomste.

Skyfie: Wat sal gebeur as ek my seun stuur?

Die eienaar redeneer: Sê nou ek stuur my geliefde seun; hulle sal tog seker vir hóm respek toon?  Maar vir die seun vermoor die boere as hy daar aankom, want, redeneer hulle, as hulle die wettige erfgenaam van die grond uitskakel, gaan hulle die grond vir hulleself  kan vat.

Wat moet die grondeienaar nóú doen, wil Jesus van sy gehoor weet?  Maar Hy antwoord sommer self sy eie vraag.  Die grondeienaar, wat tot nou toe regtig buitengewoon geduldig was, sal nou self opdaag om reg te laat geskied.  Hy sal die boere teregstel vir die moord op sy seun, en dan sal Hy die sorg vir sy plase aan iemand anders toevertrou.

Skyfie: Nee, net nie dit nie!

Die ouens wat na Jesus sit en luister, is erg ontsteld.  “Nee, net nie dit nie!” is hulle dit eens.

Vir my lyk die grondeienaar se reaksie redelik.  Hoekom krap dit die Jode om?  Wat in die storie ontstig hulle so?  Hulle hoor daarin goed waarvan ons duidelik geen benul het nie.  Ons moet vandag weer hard werk om agter te kom wat hulle dadelik weet.

Is dit weer ʼn geval van ryk mense wat arm boere uitroei?  Nee, want hierdie grondeienaar is uitermate geduldig met die grondgryperboere wat nou effektief op sy eiendom plak.

Verwys die storie na Romeinse owerhede wat Israel se land afgevat het en nou daar van ver af belasting eis?  Praat Jesus kolonialisme goed?  Dan sou die grondeienaar só ʼn goeie kolonialis wees dat hy eers duur belê in effektiewe infrastruktuur voor hy ooreenkomste aangaan waarin hy en die boere die winste kan deel. Matteus se weergawe van die storie sê die kêrel plant op die grond ʼn wingerd aan, bou heinings en ʼn uitkyktoring en ʼn parskuip.   Dis nie net ʼn kaal stuk braakland wat die man vir die boere los nie.  Maar dan is die boere dalk nasionaliste wat hulle met geregverdigde geweld teen koloniale magte verset.

Ons weet dit is nie so nie.  Maar dis byna waarskynlik dat hierdie idees in die gemeente se agterkop sit.  En ek vermoed dat Jesus hulle doelbewus so láát dink.  Die storie sleep die gemeente saam om hulle aan die boere se kant te skaar.

Maar dat die grondeienaar so geduldig bly, met vier keer agtermekaar se probeer, pas nie by koloniale magte wat net op selfverryking uit is, nie.  Sulke ordentlikheid assosieer jy nie met kolonialisme nie.  Dit het die gemeente al onrustig laat rondskuif.

Maar dis die uiteinde van die storie wat hulle ontstel.

Die uiteinde is:  Die boere is die grond kwyt waarop hulle so graag wou beslag lê. Nie nét die grond nie, hulle lewe ook. Die wettige eienaar gaan vir hulle nekomdraai.

Nee, tog net nie dít nie!, sê Jesus se gemeente, geskok. Hoekom krap dit hulle om? Wel, jy hoef nie ʼn Jood te wees om dit te verstaan nie, jy moet net jou Bybel ken. Die oomblik toe Jesus van grond waarop ʼn wingerd groei praat, skop hulle Bybelkennis in.

Skyfies: Jesaja 5:1-7

Jesaja 5 sê mos:

1        

Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet, ek wil my liefdeslied sing oor sy wingerd: Hy wat ek liefhet, besit ‘n wingerd op ‘n vrugbare heuwel.

2        

Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder, dit beplant met veredelde wingerdstokke. Hy het ‘n wagtoring daarin gebou en ‘n parskuip uitgekap. Hy het verwag dat dit goeie druiwe sou dra, maar toe bring dit druiwe voort wat suur bly.

3        

En nou, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, beslis tog tussen My en my wingerd.

4        

Wat kan Ek nog vir my wingerd doen wat Ek nie reeds gedoen het nie? Wat is dan die rede dat dit suur druiwe voortgebring het terwyl Ek verwag het dat dit goeie druiwe sou dra?

5        

Ek maak julle nou bekend wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek gaan die doringheining verwyder en verbrand, sy muur afbreek, sodat die wingerd vertrap kan word.

6        

Ek gaan hom tot niet maak. Hy sal nie meer gesnoei of geskoffel word nie, maar ingeneem word deur doringbosse en onkruid. Ek sal die wolke verbied om daarop te reën.

7        

Die wingerd van die Here die Almagtige, die wingerd wat Hy geplant het en waarin Hy Hom wou verlustig, is die Israeliete, die volk van Juda. Die Here het verwag dat daar reg sou wees, maar daar was net onreg, dat daar geregtigheid sou wees, maar daar was net die hulpgeroep van veronregtes.

God besit ʼn wingerd.  Die plaas se naam is Israel.

Maar in Jesaja is die wingerd vol suur druiwe, en God veroordeel Israel.

Skyfies: Die druiwe is soet.  Die boere is die probleem

Nie in Jesus se storie nie.  Hierdie wingerd is vrugbaar.  Dis die boere wat die wingerd bewerk wat inhalig raak, of in opstand is, afhangend van waar jy met hulle staan.

Maar die implikasie is dieselfde:  God gaan die grond wegvat en die wingerd vir iemand anders gee.  God gaan Israel los.

Nee!  Nee, asseblief, net nie dít nie.

Maar hoe dan anders?, vra die storie.  Hoeveel keer het God geduldig profete gestuur, die een na die ander?  En wat maak julle met hulle?  Nou die dag nog Johannes die Doper. Sý kop is vir partytjiepret op ʼn skinkbord rondgestuur as ʼn grilgrap.  Profeet na profeet is so mishandel.  En die laaste gesant van God wat julle só sal behandel, is belangriker as al die ander.

Maar hulle kliek nie.  Hulle verstaan nog nie hoekom die boere hulle grond gaan verloor nie.  Ja, goed, die boere was lelik met die grondeienaar se gesante.  En dat hulle sy seun vermoor het, was onverskoonbaar.

Israel was al baie stout, maar dat God Hom van Israel sal onttrek, is eens te erg. Hieroor is Jesus se gemeente dit eens.

Hulle mis nog iets.  Kyk fyn.

Skyfies: Lukas 20:16

16      

“Hy sal kom en daardie boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee.”

Die eienaar gaan nie sy wingerd los nie.  Hy gaan dit aan ander mense toevertrou.

Onthou julle die storie van Dawid en Natan? (2 Samuel 12)  Dawid raak toe mos verlief op Batseba, Urija se vrou.  Batseba verwag Dawid se kind.  Dawid wil keer dat Urija uitvind Batseba verwag Dawid se kind.  Dawid reël toe Urija se dood.  Dawid dink hy het met moord weggekom.  Natan kom toe vir Dawid kuier.  Oor ʼn koppie koffie spin Natan vir Dawid ʼn tranetrekker van ʼn storie:  ʼn Ryk man het ʼn arm man se enigste skaap, ʼn skapie wat die arm man hands grootgemaak en soos sy kind liefgehad het, doodluiters gevat en geslag en vir gaste gaargemaak.  Dawid is woedend.  Hy beveel dadelik dat die ryk man voor stok gebring moet word.  “Jý is die man, Dawid,” sê Natan dan.  En dit het Dawid nie gesien kom nie.

Hierdie storie wat Jesus in die tempel staan en vertel, werk ook so.  Die mense word meegesleur om te sê God kan nie, onder geen omstandighede nie, sy volk so straf en los nie.

Dan kyk Jesus die priesterhoofde, die skrifgeleerdes en die familiehoofde stip in die oë.  Dis húlle wat nie wil toegee Hy is ʼn profeet nie.  Dis húlle wat beweer Hy het geen gesag om in die tempel te kom maak en breek nes Hy lekkerkry nie.  Dis hulle wat beplan om Hom dood te kry, maar net die gepeupel se steun keer dat hulle Hom sommer nou al gevange neem. Maar hulle het planne in plek.  Niemand weet nog van hulle komplot nie.  Net hulle.

En Jesus. Jesus laat hulle goed verstaan Hy weet van al’s.  Hy weet wat hulle dink en beplan om te doen.

Hy kyk hulle reg in die oë en vra:

Skyfies: Psalm 118 : 22

Wat beteken Psalm 118 vers 22 dan?

17

“ ‘Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword’ ?”

En Jesaja 8 verse 14 tot 15?

18      

Elkeen wat op hierdie klip val, sal verpletter word; elkeen op wie hy val, sal hy vermorsel.”

Dan tref dit daai priesterhoofde, skrifgeleerdes en familiehoofde tussen die oë.

Dis die klip wat hulle lot beklink.  Dis die klip wat soos die spreekwoordelike pennie drop.

Skyfies: Hy sê dis alles ons skuld!

Dit is van hulle wat Hy praat.  Dis vir hulle wat Hy beskuldig. Dat God vir Israel kwaad is, is hulle toedoen.  Hulle, die leiers van die volk van God, die bouers van die tempel, hulle wat die godsdiens in stand hou, hulle is die boere in die storie wat die seun doodmaak, en hulle is die boere in die storie wat op hulle herrie gaan kry.  Dis daai woordjie “bouers” wat alles in plek laat val.  Want “bouers” is die woord wat die Jode gebruik om hulle leiers te beskryf.  Hy wys openlik, hier midde-in hulle magsgebied, na hulle die vinger.  Hulle is die moeilikheid met Israel.  En Hy, hierdie Jesus wat hier so doodgewoon tussen hulle rondbeweeg, beweer Hy is die grondeienaar in die storie se eie seun, en die erfgenaam en volgende eienaar van die wingerd.

Dis wat julle met My gaan doen, al weet julle nou wie Ek is.

Nog nie seker hoe hulle daarby uitkom nie?

Onthou nou, Jesus praat Aramees.

Kyk hoe lyk die woorde in Aramees / Hebreeus

Skyfies: Hebreeuse woorde.  3 skyfies

benbeteken “seun”  (ben)

 

ebenbeteken “klip” (eben)

 

“Seun” en “klip” lyk eenders, sien julle dit?

Die volksleiers weet hulle is die “bouers”.  En wat hulle nou doen met die belangrikste klip in die gebou, is presies wat die boere met die plaaseienaar se seun maak.  Hulle verwerp hom met minagting.  Nes daai boere in die storie, konkel hulle al klaar onder mekaar om hom te vang en te vermoor.  Dis wat Jesus hier in die tempel onthul.

Skyfies: Jesus, die seun, die hoeksteen

Jesus gee voor Hy is kwansuis die seun in die storie, die klip wat die tempelbouers glo wil weggooi. Bog!

Die lang messe is uit.

Jesus is gevaarlik.  Hy bedreig die godsdiensleiers se aansien.  Hy kom te na aan die waarheid.  Hy moet stilgemaak word.  En gou ook.

Want Hy skroom nie om sommer hier voor die volk wat soos ʼn stertjie agter Hom aantou,  die leiers te beskuldig dat húlle die vlieg in die salf is, dat dit Hy is  wat met die gesag van God praat, dat hulle húlle teen God verset, en dit nog hotagter gaan kry.

As hulle voorheen gedink het aan moord pleeg, is die volksvaders nou vas van plan.  Daar is net die een ou klein probleempie.  Die kerk kan tog nie met ʼn sluipmoord verbind word nie. Maar hulle gaan dit nie langer duld dat Hy so lasterlik oor hulle praat nie, en van alle plekke nie hier op hoofkantoor, binne-in die Here se tempel en in die middel van Jerusalem nie.

Maar Jesus het die laaste woord: “Elkeen wat op hierdie klip val, sal verpletter word; elkeen op wie hy val, sal hy vermorsel.”

Dog, hulle gaan hulle nie aan Hom steur nie.  Dis tog belaglik dat Hy kan voorgee Hy weet meer van God af as ons?

Op die duur sal Jesus reg bewys word.  Dan sal Hy sy koninkryk gee aan mense wat Hom ontvang as die koninkryk van God se regte koning. Die nuwe wêreld wat God skep, behoort aan Hom.  Hy is daarvan die kern en die wesenlik belangrike, die begin en die beginsel, die spil, die vervulling en voleinding, die hoeksteen waarsonder die gebou nie kan staangemaak word nie, die een Persoon waarsonder daar geen sprake van God se nuwe werklikheid kan wees nie.

Nou is die vraag seker: waar staan ons met Hom?  Houtgerus dat ons Hom in sy koninkryk dien, of het ons die koning se nuwe wêreld vir onsself gevat?  Plak ons dalk net hier om wins te neem?  Is ons regtig die boere, die bouers en die priesters van God, sy volk en volgelinge, wat ons voorgee om te wees?

Wat vang ons aan met God se nuwe wêreld?  Wat doen ons hier in God se wingerd? Die wêreld is ons woning nie.  Dis God s’n. Hoe lyk God se wêreld hier by ons?

Miskien kan jy ook vra: hoe kwaad maak Jesus jou?  Veral as Hy jou uitwys as die rede vir sy dood.

Amen.

Ons sing biddend dat ons op God bou.  Kom ons neem ons voor om saam met God sy gemeente te bou. Mag God ons skuilplek wees as die stormwind woed.  Lesbes: mag God se Seun by ons veilig voel. Bly daarna staan vir die belydenis van geloof.

Sang (Staan)

Gesang 277 strofes 1, 4 en 5.

Ouderling

Geloofsbelydenis (Staan)

In gevaarlike omstandighede moet ons weet wat ons glo en met wie ons in geloof te doen het.  Daarom bely ons ons geloof so, saam met die kerk, uit die Belydenis van Nicea:

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;

en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;

God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;

deur wie alle dinge ontstaan het;

wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;

en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;

wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;

wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het; wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;

en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.

Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.

Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;

ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu.

Die Wet / Wil van God (Staan)

Luister na die wil van die Here uit Galasiërs 5 en leef so.

4        

Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur.

5        

Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word.

6        

In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

So glo ons.  So sal ons lewe.

Slotsang (Staan)

Gesang 276 strofes 1 en 2.

Wegsending

Predikant

Seën (Staan)

Ontvang die seën van die Here uit 1 Konings 5.

3        

. . . Die Here het [ons] die oorwinning oor al [ons] vyande gegee

4        

en nou het die Here ook vir [ons] aan alle kante rus gegee. Daar is nêrens enige teëstander of gevaar wat [ons] bedreig nie.

Respons (Staan)

Gesang 313 twee keer.  Amen.

Afkondigings (Sit)

Diakens

Insameling van die dankoffers/orrelspel

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s