As God huil. . .

Dis een van die min kere dat ons Jesus sien huil.

Terwyl die skare sing en dans, huil Jesus.

Hy huil oor Jerusalem.  Hy huil oor ons.

Maar ons besef dit nie.

Lukas 19 verse 28 tot 44

19 Maart 2017, NHKA Kampersrus

Lydenstyd

Skyfies  vir vooraf vertoning

Toetrede

Skyfie Lydenstyd

Predikant

Kom ons sing ʼn lied wat in ons Liedboek onder die rubriek “Kindwees” staan.  Ek ken dit glad nie, maar dit gaan oor wat ons vandag in die erediens gaan doen: Dit dink oor Jesus wat vir die laaste keer in Jerusalem aankom.  Die skare is in ekstase.  Hulle wuif hulle klere en palmtakke soos vlae en vaandels rond.  Van hulle klere gooi hulle die spreekwoordelike rooi tapyt voor Hom en sy eseltjie oop.

Sang (Sit)

Gesang 545 strofes 1, 2 en 3

Skyfie Lydenstyd As God die dag huil. . .

Dis een van die min kere dat ons Jesus sien huil. Terwyl die skare sing en dans, huil Jesus. Hy huil oor Jerusalem.  Hy huil oor ons.  Maar ons besef dit nie.

Sang (Sit)

Gesang 602 strofes 1, 2, 3, 4 en 5

Toetrede

Ouderling

 

Skyfie Lydenstyd As God die dag huil. . .

Kom ons roep die Here aan en vra of ons maar hier in sy glansende lig voor Hom mag buig. Kom ons sing staande saam

Toetredelied (Staan)

Gesang 158 strofe 1,2 en 3

Skyfie Lydenstyd As God die dag huil. . . Jesus in Sion, Jerusalem

Toetrede

Predikant

Votum (Staan)

Psalm 102

22      

Hulle sal die Naam van die Here in Sion besing en sy lof in Jerusalem

23      

wanneer die volke en die koninkryke bymekaarkom om die Here te dien.

Seëngroet (Staan)

Psalm 125

1        

Dié wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg wat nie wankel nie en altyd vas bly staan.

2        

Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd.

Amen.

Aanbidding en Lof

Ouderling

Kom ons loof die Here singend met ʼn lied wat Israel in die Ou Testament al oor Jerusalem gesing het.  Maar die lof van God bly nie net in Jerusalem nie.  Sy lof strek oor die hele aarde, tot hier by ons.  In ons Liedboek is dit vars vertaal deur die Afrikaanse digter TT Cloete.

Sang

Psalm 48 strofes 1 en 3

Skyfie Die Wil van God. Hoor, luister tog, Here

Die Wil van God

Riglyne vir die geloofslewe en Skuldbelydenis oor sonde

12      

Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit

14      

en sê: “Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog ‘n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe.

Skyfie Die Wil van God. Hoor, luister tog, Here.  Vergewe tog. . .

21      

Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog!

Skyfie Die Wil van God. Hoor, luister tog, Here.  As iemand sy naaste kwaad aandoen. . .

22      

“As iemand sy naaste kwaad aandoen en dié hom ‘n eedverpligting oplê om hom onder ‘n vloek te plaas, en hy kom en spreek die eed uit voor u altaar in hierdie tempel,

23      

luister tog uit die hemel en gryp in en vel die beslissing oor u dienaars sodat die skuldige die straf vir sy dade ondergaan en die onskuldige gelyk gegee word soos dit by sy onskuld pas.

Skyfie Die Wil van God. Hoor, luister tog, Here.  As ons volk gesondig het. . .

24      

“As u volk Israel deur ‘n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het en hulle kom tot inkeer en bely u Naam en bid tot U in hierdie huis en smeek U,

25      

luister tog uit die hemel en vergeef u volk Israel se sonde en laat hulle terugkom na die land wat U aan hulle en hulle voorvaders gegee het.

Skyfie Die Wil van God. Hoor, luister tog, Here.  Wanneer dit nie reën nie. . .

26      

“Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor,

27      

luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel.

Skyfie Die Wil van God. Hoor, luister tog, Here.  As ons honger ly. . .

28      

“Sou daar hongersnood in die land kom, sou daar pes uitbreek, brandkoring of roes, swerms sprinkane en voetgangers, sou dit gebeur dat die volk se vyande hom in sy stede hier in die land beleër, watter plaag of siekte hom ook al tref,

29      

luister tog na elke gebed, elke smeking wat van enige mens of van u hele volk Israel mag kom soos elkeen sy plaag en sy smart te kenne gee en sy hande na hierdie tempel toe uitstrek;

Skyfie Die Wil van God. Hoor, luister tog, Here.  Net U ken n mens se hart. . .

30      

luister tog uit die hemel, u woonplek, en vergeef en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken die mens se hart,

31      

sodat hulle aan U gehoorsaam sal wees en u weg sal bewandel die hele tyd dat hulle in die land leef wat U aan ons voorvaders gegee het.

Skyfie Die Wil van God. Hoor, luister tog, Here.  Doen alles wat n vreemdeling vra. . .

32      

“Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie en, omdat hy gehoor het van u groot Naam, u mag en krag, selfs uit ‘n ver land kom en na hierdie tempel toe bid.

33      

Luister tog uit die hemel, u woonplek, en doen alles wat die vreemdeling U in sy gebed vra, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken en ook aan U gehoorsaam kan wees net soos u volk Israel, en dat hulle kan weet u Naam is uitgeroep oor hierdie tempel wat ek gebou het.

Skyfie Die Wil van God. Hoor, luister tog, Here.  Daar is nie n mens wat nie sondig nie. . .

36      

“Sou hulle teen U sondig, want daar is nie ‘n mens wat nie sondig nie,

37      

en hulle tot inkeer kom en hulle weer tot U wend en U smekend aanroep: ‘Ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig’,

39      

luister tog uit die hemel, uit u woonplek, na hulle gebed en smeking en neem hulle straf weg en vergeef u volk wat teen U gesondig het.

Skyfie Genade.  Die Here vergewe. Dis hoe ons weet dat die Here God is.

Genadeverkondiging

Hoor wat sê God in 2 Kronieke 30 vers 9:

“As julle terugkom na die Here toe, sal julle broers en julle seuns medelye vind by dié wat hulle gevange weggevoer het en sal hulle na hierdie land toe terugkom. Die Here julle God is genadig en barmhartig. Hy sal nie afsydig staan as julle na Hom toe terugkom nie.”

En kyk wat doen God in 2 Kronieke 33:13 met Manasse, die koning wat gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here, toe Manasse die dag berou kry:

Die Here was hom genadig en het sy smeekbede verhoor en hom laat terugkom na Jerusalem, na sy koningskap toe. Toe het Manasse geweet dat die Here God is.

Die Here vergewe ons.  Dis uit die vergifnis wat Hy ons gee, dat ons weet ons het met die ware God te doen.  Ons God vra nie offers nie.  Jesus was genoeg.  Van ons vra God net berou en ootmoed.

Kom ons bid ons ootmoed en berou staande saam uit

Sang

Psalm 51 strofe 5

Skyfie Ons glo

Apostoliese Geloofsbelydenis

Kom ons bely ons geloof in God:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

Die wederopstanding van die vlees, en ‘n ewige lewe.

Amen.

Kom ons loof God vir sy medelye en ons roem Hom saam met alle volke en koninkryke.

Sang (Staan)

Psalm 102 strofes 6 en 8   

Skyfie Verkondiging

Verkondiging

Predikant

Skriflesing

Ons lees uit Lukas 19 van vers 28 tot 44 op bladsy 114 van die Nuwe Testament in die 1983 Afrikaanse Vertaling

Skyfies Lukas 19:28-44. . .

28      

Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop, op pad na Jerusalem toe.

29      

Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels vooruit met die opdrag:

30      

“Gaan na die dorpie toe daar reg voor julle. Net soos julle inkom, sal julle daar ‘n jong donkie kry wat vasgemaak staan. Geen mens het nog ooit op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier.

31      

En as iemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle antwoord: Die Here het hom nodig.”

32      

Die twee wat gestuur is, gaan toe en kry alles net soos Hy vir hulle gesê het.

33      

Terwyl hulle die donkie losmaak, vra sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkie los?”

34      

Hulle antwoord: “Die Here het hom nodig.”

35      

Toe bring hulle die donkie na Jesus toe. Daarna gooi hulle van hulle klere op sy rug en help Jesus opklim.

36      

Terwyl Hy aanry, het hulle van hulle klere op die pad oopgegooi.

37      

Toe Hy naby die stad kom, teen die afdraand van die Olyfberg, het die hele skare juigende volgelinge God uit volle bors begin prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het.

38      

Hulle het gesing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!”

39      

‘n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: “Meneer, maak stil u volgelinge!”

40      

Maar Hy antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”

41      

Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil

42      

en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.

43      

Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër.

44      

Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie.”

Sang

Gesang 176, twee keer.

Preek

Skyfie Van uitbundige geloof tot vrees en verleentheid. . .

Wat die skare doen daai dag as Jesus op ʼn donkie Jerusalem inry, kry jy nie gerym met wat hulle ʼn paar dae later met Hom maak nie.

Dis asof op daai dag met die intog die ouens se harte oopskeur nes die hemele met Jesus se geboorte. Vir die eerste keer hoor jy uit die monde van ʼn skare mense, belydenisse van geloof in Hom.

En Jesus keer hulle nie.

Mense wat dit nou uit ondervinding geleer het, wat met Jesus te doen gehad het, bevestig sy koningskap.  Dit was immers die doel van Jesus se lewe: dat mense self sou sien en glo wat die engele van voor sy geboorte af al weet.  Mense weet nou genoeg van Jesus om met die engele te kan saampraat.  Hulle sing dit, hulle wys dit.

Mense reageer nog altyd op twee maniere: Of jy het vir Jesus lief en glo Hy’s God, of jy haat Hom met de soort passie dat jy met voorbedagte rade sal moord pleeg en trots wees daarop.

Vandag is hulle vol lof. Maar die haat kry die oorhand.  Vyf dae later gaan niemand meer wil spog hy was by die optog betrokke nie.  Gretige geloofsbelydenis word in ʼn oogwink erge verleentheid.

Skyfie Waarom opgewonde raak?

Wat sit agter die opgewondenheid van die intog Jerusalem in? Dit het ons nou al ʼn idee van: hulle dink die koninkryk kom.  Saggeus se bekering en die gelykenis oor die goue munte dryf die geesdrif.

Maar dalk sit daar ook iets in Jesus se houding wat hulle laat regop sit.  Hy kies met mening koers Jerusalem toe.  Hy lei sy groepie soontoe.

Hy reël vir Homself vervoer.  Daar was orals op die klein dorpies langs die hoofpad hoofstad toe mense met ondernemingsgees en ʼn “budget-rent-’n-donkie”.  Jy los jou eie moeë eseltjie by hom, en vat ʼn varse tot op die volgende dorp.  Jesus het doodluiters gesê die manne moet vir Hom ʼn donkietjie gaan “boek” want dis Paasfees en die verkeer Jerusalem toe is byna so erg soos die N2 see toe.

En dalk het iemand die profeet Sagaria se voorspelling onthou: dat die Messias Jerusalem op ʼn donkie sou inry.  Dis wat die konings van ouds gedoen het.

Geloof werk so:  Jy reken op die Woord van God wat reeds geskrywe is, om vir jou te wys wat die belang en betekenis is van wat al’s gebeur.  Iets op die oog af so onbenullig soos ʼn gehuurde ryding dorp toe, is skielik nogal veelseggend.

En vandag kliek dit: Jesus, die messias, is hier.  God vat oor.

Die gelowiges gee vrye teuels aan hulle blydskap.  Hulle is uitbundig, onbeskaamd in hulle belydenis, oordadig in hulle openbare eerbetoon aan God en sy Gesalfde.

Skyfie Ons kry ook  sulke dae.  Hulle gaan gou verby.

Ons kry ook sulke dae.  Hulle gaan gou verby.

Net ʼn week later het hulle die les oor hoe geloof werk, vergeet.  Hulle vat verslae en platgeslaan dieselfde pad huis toe.  Alles was toe verniet en tevergeefs.  Hulle het gekke van hulleself gemaak.  En van God, so glo hulle nou.  Hulle gaan soek nie weer in die Bybel vir verklarings nie.  Hulle lei dit uit hulle omstandighede af.  Hulle drome is dood gebore.  Jesus se dood het al’s verydel.  Hulle vermoed nie sonde by hulleself nie.

Slagoffers van omstandighede sukkel met skuldbelydenis: dis altyd iets of iemand anders se skuld.

Maar vandag is die pad Jerusalem toe nog ʼn karnaval.  Hulle glo hulle sien Juda se nuwe staatshoof die pad afkom Jerusalem toe, vir sy kroning.

Skyfie Maar die Bybel sê mos so. . .

Die Romeine se dae is getel.

Jesus kom nie met ʼn weermag by sy staatsgreep aan nie – toe Jesus later daai week rondvra of iemand ʼn wapen het, is daar onder hulle net een swaard.  Die dag as daai ou sy swaard gebruik, maak Jesus die skade ongedaan.  Nee, met geweld gaan Hy die keiser nie in pad kan steek nie.

Die Romeine se broeke bewe ook nie.  Dis nie soveel mense wat die straat af toyi-toyi dat mens ʼn rewolusie sien dreig nie.

Nee, nie met geweld of groot getalle nie, maar met n rustige gesprek oor God gaan Hy die keiser in die pad steek. Van voor af Moses en die farao, sonder die plae. Die keiser gaan rede verstaan en vrywilliglik oppak en huis toe gaan.

Waar kom hulle daaraan?  Uit die Bybel, waar anders?  Hulle sing: Hier kom ʼn seun van ou koning Dawid.  God het so belowe, en hier is Hy nou.  Die Woord van God en vandag se werklikheid, pas netjies inmekaar.    En siedaar, jy het ʼn skare singendes om Jesus.

Skyfie Jou klere is die vlae en vaandels van God se koninkryk

Hulle trek hulle klere uit.  Nes Dawid toe hy die verbondsark destyds Jerusalem toe laat haal het, halfkaal voor die ark gedans het, so dans hulle om Jesus.  Hulle waai daai klere soos vlae rond.

Die nuwe koninkryk het nie heraldiese simbole nie, vaandels en vlae met ʼn politieke strekking nie.  Daar is nie ʼn nasionale simbool van enige staats- of volksidentiteit in sig nie. Net die goed wat die Skeppergod van die hemel en die aarde aan mense gee om in hulle basiese aardse behoeftes te voorsien, wapper langs die pad.  Die goed wat God ons gee, wat skaamte bedek en waardigheid in stand hou, is die vlae van die koninkryk van God.

Waai dit rond, wys dit, en jy gee daarmee erkenning dat alles van Hom af kom.  Hulle doen dit.

Hulle maak van hulle klere ʼn saal op die eseltjie se rug vir Jesus om op te sit.  Hulle maak Hom gemaklik.

Hulle gooi hulle klere soos ʼn rooi tapyt voor die koning se ampsmotor neer.

As hulle nie meer klere oorhet nie, nie verder durf uittrek nie, pluk hulle takke van die palmbome af, so sê Matteus, al praat Lukas nie oor bome wat alles weet nie, ook dat dit God hierdie nie.

Skyfie Jerusalem!

Op die kruin van die Olyfberg, kry hulle die eerste blik op Jerusalem.

Dis soos die laaste toneel in ʼn musiekblyspel: al die karakters is op die verhoog, die musiek bou op na ʼn stygende crescendo, en met die dekor het die stelinkleder oorboord gegaan vir die finalè.

Dit gryp jou aan die hart.  Vir elke Jood is hierdie stowwerige grond met sy rommelhoop van bruin geboutjies van klip en klei, die wêreld se hart.  Dis hier waar God woon: oor die dorpie troon die tempel uit soos die kerk op enige klein plekkie in die Karoo.  Dis hulle s’n, Juda s’n.  En God s’n.  Dit behoort nie aan Rome nie.

By die sien van hierdie panorama, bars daai skare in lofgesange uit.  Hulle loof God vir sy wonderdade.  Oor dinge wat Hy klaar gedoen het, en dinge wat so goed as gedoen is.  Hierdie man op die donkie laat dowes hoor, blindes sien, lammes loop.  Lasarus leef.  Jaïrus se dogtertjie ook.  Hy beheer die weer en loop op die see.  Hy gaan die Romeine verdryf nes Hy met die duiwels gemaak het.

Hulle sing Psalm 118.  “Loof die Koning wat in die Naam van die Here kom.”  Dis Hy dié.

Skyfie Engele en mense sing!

God speel saam.  God sit die woorde van sy engele by Jesus se geboorte, nou ook in die monde van mense.  Net omgekeerd.

Die engele het gesing:

“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!” (Lukas 2 : 14)

Die mense sing nou:  

Vrede (nie op aarde, soos die engele sê nie, maar. . .)  in die hemel, en eer aan God in die hoogste hemel!”

Hulle het dit reg:  die hemel ís nou hier.  Die koninkryk van die hemel is nou op aarde ook.   Die hemel se vrede is nou hiér. Die band tussen Jesus en God word erken.  God werk deur Hom. Mense weet wat Jesus kom doen het.  Jesus kry die eer wat Hóm toekom, en God kry die eer wat Gód toekom.

Daarom is dit nou tyd vir Jesus se dood.

En dit verstaan daai skare nie. Glad nie.

Die fariseërs, weer, neem erg aanstoot.  “Sê vir hierdie mense hulle moet stilbly!” eis hulle van Jesus.  Wat hierdie mense sê, verstoor die vrede tussen ons en die owerheid.  En dis buitendien godslasterlik. Fariseërs het ook die Bybel. Maar hulle verstaan die Bybel anders en vir Jesus ook glad nie.

Die singende skare en die brommende fariseërs verstaan ewe min van wat aangaan.

Die een sê “hou op” en die ander “hou aan.”

Skyfie Die klippe skreeu!. . .

Jesus verwerp die aandrang dat Hy die skare moet keer. Hierdie mense sing soos en saam met die engele.

Keer jy hulle, keer jy vir God.  Hou hulle op, sal die klippe dit skreeu.  Selfs die dooie dinge van die skepping sal van Jesus getuig.

Nee, Jesus gaan vir God nie keer nie.  Hy sê laat God se wil geskied.

Skyfie God laat jou glo.  En God laat jou sing.

Wat sou jou laat glo?  Genoeg laat glo om te wil saamsing? Jou hoop. Jou hoop dat, saam met God, dit met jou goed sal gaan. Ek weet dit klink of jy jou eie belang soek.  En dis dalk nie so sleg nie.

Want God het ook jou belange op die hart.  Dis oor wat in ons beste belang is dat ons van God verskil.

ʼn Beter vraag is: Wie laat jou glo?  Wie laat jou sing?

Die antwoord is: God.

Skyfie Mense, sonde en omstandighede steel jou geloof

En wie steel jou geloof?  Mense en sonde. Jou sonde en ander mense s’n.

Met hulle teregwysingbevestig die fariseërs wat Jesus in die stad te wagte kan wees.  In hierdie, die geliefde stad, gaan hulle, sy hartsmense, Hom veroordeel en teregstel.

Daarvan is hierdie skare nog salig onbewus.  Jesus sê:  “As julle maar net weet wat vir julle redding nodig is!”  En dan huil God.

Skyfie As God huil, huil God oor jou

Ons het geen idee van wat vir ons redding nodig is nie.  As ons geweet het, was ons anders. As ons geweet het wat dit beteken dat God die Seun vervloek vermoor moes word en sy bloed aan ons hande sit, sou ons minder voortvarend wees, minder van onsself dink, en ons nie so hoogheilig hou nie.  En miskien sou ons sang en dans meer bedeesd wees.

Dis hiervandaan dat die evangelie nou nie meer vreeslike goeie nuus is nie.  Vandag eindig die sprokie.  Van hier af staan ons nie meer agter Jesus en hits Hom aan met ʼn “Sê hom, vat hom aan en vat hulle vas!” nie.  Want dis van ons dat Hy praat as Hy sê “Julle het geen benul nie. . .”  Die gewaarwording groei stadig: dis vir ons dat Hy sal moet aanvat, feesganger of fariseër.  Dis oor ons dat Hy huil.

In die week wat wag, sou almal se geloof in Hom ʼn dip vat.  Almal van hulle in daai singende skare gaan huil, of vloek en skel, of omdraai en wegloop.  Judas Iskariot, die jong kerkie se tesourier sal verraad pleeg; Petrus, hulle leier en spreekbuis, sal alle bande verbreek.

Die harde werklikheid was daai week net te hard.

Die werklikheid het net te swaar geweeg om wat hulle geglo het die week te laat oorleef.  As wat jy glo en die werklikheid haaks is, is geloof mos gewoonlik verkeerd. Geloof kry die trekpas, want die harde werklikheid gaan nie weg nie, en geloof help nie.

Die dag as daar chaos heers in jou gewone manier van glo, moenie ongelowig raak nie.  Vra liewer: wat sê die harde werklikheid van die geloof wat jy bely?  Hoekom hou dit nie?  As geloof nie hou nie, begin oor, probeer weer.  Maar glo dan anders.

Weet jy wat tel in jou guns?  Dis die onwaarskynlikste ding, maar dis wat die genade van God so aangrypend maak:  dat God oor jou huil.  Hy huil nie oor Homself nie.  Hy verval nie in selfbejammering nie.  Hy huil oor jou, maar nie oor jy Hom teleurstel nie.  Nie oor jou gebrek aan begrip en tekort aan geloof nie.  As Hy jou wou laat begaan en tot niet gaan, was trane van simpatie onvanpas.  Hy huil ook nie oor wat jy Hom gaan kos nie.

Hy huil oor Hy jou liefhet, jou jammer kry.  God gee om vir jou.

Die dag met die intog in Jerusalem, die eerste dag van sy laaste week duskant die graf, kyk Hy na jou, jou ongeloof, jou verkeerde geloof, jou brose geloof, jou beheptheid met die wêreld en jou argeloosheid oor God, na hoe jy jouself oorskat en vir God onderskat, en Hy word nie kwaad nie.  Hy maak nie aan die skepping daar en dan ʼn einde nie.  Hy het die volste reg gehad om dit te doen, as Hy sou wou.  Nee, Hy huil oor jou.  Sy genade kry die oorhand.  Sy liefde gee die deurslag.

In die week wat volg kom die ergste krisis ooit in die geloof van Jesus se volgelinge verwoesting saai.  Teen die einde van die week glo niemand meer nie.  Lofsangers word spotters, papbroeke, word vloekerig en wreed.

Van hoop tot haat vat hulle 5 dae.

Skyfie As God huil. . .

Nie Jesus nie.  Hy huil oor jou, en dan red Hy jou.

As God die dag oor jou huil, is dit oor Hy jou liefhet.  En Hy doen daar iets aan. Jou Jerusalem gaan dalk nie staande bly nie.  Maar jy sal nie verlore gaan nie.

Amen.

Slotsang

Gesang 479 strofes 1, 2.

Wegsending

Predikant

Seën

Ontvang die seën van die Here uit Psalm 122

6        

Bid dat Jerusalem vrede mag hê, dat hulle wat hom liefhet, rustig mag woon.

7        

Mag daar vrede wees binne jou mure, rus in jou wonings.

8        

Ter wille van my broers en my vriende wens ek jou vrede toe.

9        

Ter wille van die huis van die Here ons God bid ek dat dit met jou goed sal gaan.

Amen

Respons

Gesang 479 strofes 3, 4.

Afkondigings (Sit)

 

Insameling van die dankoffers

 

 

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s