Hy gee my wat ek liefhet

Nou kyk, ek is lief vir my kat.  Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek is liéf vir my kat.  Lief soos in belaglik en tot skaamkry toe, en dit vir n gemmer gedierte met n brein so groot soos n ertjiepit.

Tintin deel sy naam met die Belgiese knapie met die blonde kuifie.  Maar sy naam kom nie vandaar nie.

Skoonsus Tinka was die familie se gom.  Gegewe ons gerou oor Nartjie, Tintin se oranje voorganger wat in Engeland moes agterbly, het Tinka belowe sy hou vir ons die gemmer katjie uit haar dragtige plaaskat se werpsel.  Ons het met Tinka se begrafnis vir Tintin gaan haal.  Ons wou haar vernoem, en Christine het met die doopnaam vorendag gekom.

Hier is hy nou, die katkind, ses maande later diep in my hart en styf teen my rug ingekrul. My skaduwee.  Hy slaap waar ek werk, loop agterna as ek versit, en kyk my agterna as ek ry.  Hy kom groet my by die deur as ek tuiskom, om my te laat verstaan hy’t vir my gewag. Hy loop saam as ek die deure sluit en loer vir my of daar grillerige goed daar buite dreig.  Hy kom saam bed toe.

Tot klokslag drie-uur smôrens.  Dan byt hy my neus.  (Ek het nog altyd gedink die deel van my anatomie gaan my ver genoeg vooruit om die soort aandag te verdien. Ek kry die ding nie weggesteek nie.  Ek vermoed Tintin verstaan my estetiese versugtinge en hoop om die snoet, merkteken van die stam, vir my stadigaan korter te maak.) Dan staan ons twee op.  Hy kry pitte en melk, en ek drink tee.  Dan gaan maak ons twee preek.  Hy strek hom in die ligkol van die lessenaarlamp op die studeertafel uit met n welbehae wat my gaap-gaap boos maak. Soms lees ek vir hom n formulering voor (ek vertrou hom nog nie met die teologie nie) en dan kyk hy my verveeld aan om my goed te laat verstaan ek is gans te langdradig. Minder is meer, sien.  Maar hoe dan anders: Hoe lank kan n ertjiepit konsentreer? En n gemeente?

Ondertussen trek hier toe n jongman van ses ook in.  Na n stormagtige aanvang, is ons nou maats: ek speel oupa.  En o wee, hy het nou wel nie die neus nie, maar hy praat agter my aan, hy loop agter my aan, hy dink en doen en bid agter my aan en saans is daar nou n wedywering vir die holte van my rug.  Ons fliek en tv saam, speel en irriteer die vroue saam, braai en bespreek die wêreld en die sterre se superheroes saam (dis belangrik om te weet wie het watter superpower want hulle meet gedurig kragte in daai ruimte tussen sy twee ore. Net my lyf hou nie by nie.  Ek kry nie so aanhoudend beweeg soos hy nie.  Ek doen die tweede beste:  ek is n gewillige toeskouer van sy gimnastiek op ons bed as ouma nie naby is nie, en ek kreun en val gewillig om as ek bekruip en doodgeskiet word.  (Ons jag eintlik net skelms. Dit regverdig die gewere in die huis.)  En ek word algaande ook nou middelaar en skerm in die ewige oorlog met die twee tantes wat met vurk en tandeborsel wil septer swaai in ons wêreld.

Toe ons tweeling op pad was – ons het geen benul gehad daar’s twee voor presies twee dae voor hulle kop uitgesteek het nie! – het ek gewonder (lees: “bekommer” tot kort duskant rasende paniek): Hoe kry mens n tweede kind so lief soos die eerste?  Ek was n enigste, en het daar dus geen ondervinding van nie.  Ek het op 3 Augustus 1989 ontdek ek het meer as genoeg liefde vir drie.  En nou het ek Tintin en Danté ook nog bygekry.

Nou gebeur daar n snaakse ding: Danté dra vir my Tintin aan, die dag as laasgenoemde op n stiller plek gaan insluimer het.  Want ons twee raas!

Hy bring vir my wat hy weet ek liefhet.

Hulle twee wedywer vir die lêplek, maar nie vir die liefde nie.  Hy is nou saam met my lief vir die gemmer streepkat van my hart.  En die liefde is duidelik wederkerig.

Wat is lekkerder as dit: om saam lief te hê?

Dit: dat jy jou liefde vir iemand anders gegun word.

Daai groeiende jongman het al n ruimer hart in sy borskas en vinnig vermenigvuldigende grysselle in sy sesjaarverstand.

Hy gee my wat ek liefhet.  Nie net homself nie.  Ook my kat. Sonder n sweempie afguns.

O Here, dat hy sal liefhê sonder seerkry.

Want seerkry is wat ons van gedeelde liefde afskrik. Dan leer ons aan om jaloers te waak oor wat ons wil besit. Die liefde is gemmer met strepe, nie groen nie.

 

Advertisements

2 thoughts on “Hy gee my wat ek liefhet

  1. Ai my Broeder van n ander moeder! Jy KAN! Skryf bedoel ek. In Afrikaans. So,dat ek heerlik hier waar ek myself sit en jammer kry, sit en tjank vir gemmerkat en liefdeskleur. Skryf maar nog, en gou want ek verlang

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s