Die koning is ʼn harde man, en hierdie is die harde werklikheid. Sien God my ly?

 

Dit gaan vandag oor hoe sterk, ryk en magtige mense, armes en weerloses uitbuit en kaal uittrek, onteien en onderdruk, net oor hulle kan en omdat hulle gierig is.  Hulle posisie gee hulle oor mense die mag.  En wat sê dit dan van God se koninkryk: is die koninkryk dood gebore?  Jesus sien ons raak.  En die koninkryk van God is bedoel vir mense soos ons.

Lukas 19 verse 1 tot 11

12 Maart 2017, NHKA Kampersrus

Koninkryk

Met dank en erkenning aan Professor Ernest van Eck, UP

Liedere

Psalm 10 strofes 1, 2, 3, 4, 5 *

Gesang 249 strofes 1 en 2 *

Gesang 244 strofes 1, 2 en 3

Gesang 522 strofes 1 en 4 *

Die liedere wat met * gemerk is, sal ons voor die erediens oefen.

 

Toetrede

Predikant

Dis een van die moeilikste Sondae in die jaar.  Ons staan op die drumpel van ʼn nuwe finansiële jaar en ons moet vergadering hou oor hoe ons die bediening van die evangelie gaan bekostig.

Om alles te kroon, het ek toe ʼn stuk Bybel gaan kies om oor te preek waaroor ek al langer as ʼn maand wakker lê.  Ek het by etlike dominees gaan kers opsteek.   Vandag waag ek dit om iets daaroor kwyt te raak.

Ek is genoop om metodes te gebruik wat ek nog nooit bewustelik in my preekmakery gebruik het nie, want dis al hoe ek uit die teks kon sin maak.  Want sin maak uit die Skrif, moet ons.  Ek reken op die Heilige Gees om ons in die waarheid te lei.

Kom ons sing uit Psalm 10.  Want dit gaan vandag oor hoe sterk, ryk en magtige mense, armes en weerloses uitbuit en kaal uittrek, onteien en onderdruk, net oor hulle kan en omdat hulle gierig is.  Hulle posisie gee hulle oor mense die mag.  En wat sê dit dan van God se koninkryk: is die koninkryk dood gebore?

Sang (Sit)

Psalm 10 strofes 1, 2, 3, 4, 5 

Kom ons stel ons in stilte in op die erediens saam met God.  Kom ons gebruik die tyd om die Here te aanbid.

 

Stilte (Sit)

 

Kom ons nader God nou in erediens.  Ons gaan vandag in die erediens Gesang 249 dwarsdeur sing, al nege verse daarvan, op verskillende plekke in die erediens.

 

Dis ʼn toonsetting van die Tien Gebooie in Eksodus 20. Ons tree toe tot God met

Toetredelied (Staan)

Gesang 249 strofes 1 en 2  

 

Votum en Seëngroet (Staan)

31      

“Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit.

34      

“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit,

35      

want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves;

36      

Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’

Matteus 25

Aanbidding en Lof

Predikant

Kom ons loof die Drie-Enige God, ons Vader, Jesus Christus God die Seun, en God die Heilige Gees.  Kom ons sing saam: “Ons sal oor u liefde juig, dankbaar van u guns betuig.”  Ons bid onmiddellik na die lied, dus kan die mans bly staan as ons klaar gesing het.

Sang (Staan)

Gesang 244 strofes 1, 2

 

Gebed (Mans staan): Skuldbelydenis en genadeverkondiging

Kom ons sing verder aan die Tien Gebooie.  Kom ons sê opnuut dat ons nie in ons gebede of ons lewe moet voorgee ons glo in God, maar dit nie bedoel nie.  Want dis wat dit beteken om sy Naam ydellik te gebruik.   En ons belowe weer ons sal vandag die rusdag gedenk, en ons sal ons steur aan die gesag van owerhede wat God oor ons aangestel het.

Sang (Staan)

Gesang 249 strofes 3, 4 en 5

 

Verkondiging

Predikant

Skriflesing (Sit)

Die Skriflesing kom uit Lukas 19 verse 11 tot 28.  Dis op bladsy 113 van die Nuwe Testament in die 1983-Afrikaanse Vertaling.

Jesus het pas deur Jerigo geloop met skares agter Hom aan.  Saggeus, die hooftollenaar, het boom geklim, onthou julle, om vir Jesus te siene te kry.  So besluit Jesus toe mos Hy gaan by Saggeus tuis.  Voor die aand uit is, belowe Saggeus hy gaan ophou om mense uit te buit met onbillike belastingheffings en hy gaan vierdubbeld terugbetaal alles wat hy wederregtelik van mense gevat het.  Jesus prys hom.  Dan kom ons Skriflesing, ʼn gelykenis met soveel slaggate dat ons moet bid ons hoor Jesus reg.

11      

Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog ‘n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom.

12      

Hy het gesê: “’n Man van adellike afkoms het na ‘n ver land toe op reis gegaan om as koning aangestel te word en dan terug te kom.

13      

Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.’

14      

“Sy landgenote het hom egter gehaat en ‘n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hierdie man as koning hê nie.’ Maar hy het tog die koningskap ontvang.

15      

“Nadat hy teruggekom het, het hy die slawe aan wie hy die geld gegee het, na hom toe laat roep, sodat hy kon verneem wat hulle met die handeldryf verdien het.

16      

Die eerste het vorentoe gekom en gesê: ‘Meneer, u muntstuk het tien muntstukke opgelewer.’

17      

Daarop antwoord hy: ‘Mooi so, jy is ‘n goeie slaaf. Omdat jy in ‘n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede.’

18      

“Toe kom die tweede slaaf en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’

19      

Aan hierdie een sê hy: ‘En jy kry die bestuur oor vyf stede.’

20      

“Nog ‘n ander het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is u muntstuk. Ek het dit in ‘n doek gebêre.

21      

Ek was bang vir u, want u is ‘n harde man. U eis op wat u nie belê het nie, en oes wat u nie gesaai het nie.’

22      

Toe sê hy vir hom: ‘Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel. Jy is ‘n slegte slaaf! As jy geweet het ek is ‘n harde man wat opeis wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie,

23      

waarom het jy dan nie my geld in die bank gesit nie? Dan sou ek dit by my terugkoms darem met rente kon getrek het.’

24      

Daarop sê hy vir dié wat daar staan: ‘Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het.’

25      

“Hulle sê vir hom: ‘Meneer, hy het dan al tien muntstukke.’ Maar hy antwoord:

26      

Ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.

27      

En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek hulle koning moet wees nie, bring hulle en maak hulle hier voor my dood!”

28      

Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop, op pad na Jerusalem toe.

Oor God se Woord staan daar in Psalm 119:

45      

My lewe sal veilig wees, want ek vra steeds wat u bevele is.

46      

Selfs voor die hoogste gesag sal ek u verordeninge met vrymoedigheid aanhaal.

47      

In u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my verlustig.

Kom ons antwoord op die Skriflesing met nog twee strofes van Gesang 249, die Tien Gebooie.

Sang (Staan)

Gesang 249 strofes 6 en 7

 

Preek (Sit)

Ons gaan ons almal nog morsdood leef.  Die lewe maak mens dood, want die harde werklikheid waarin ons leef, maal vir ons fyn, soos ʼn meulsteen met koring maak.

Weet die Here dit?  Sien die Here ons boere (met ʼn kleinletter “b”) raak? Dis nou die gewone “man in die straat”, “jan alleman” hier by ons?  Verstaan Hy hoe swaar ons kry?

Dis ʼn moeilike gelykenis die.  Dit het my lank gevat om die ding te ontrafel.  Wel, nie ek nie, Ernest van Eck, ons Kerk se professor in Nuwe Testamentiese Wetenskap aan die Universiteit van Pretoria.  Wat professor van Eck my vir die eerste keer vandag laat waag om te doen, met voorbedagte rade laat doen, is om die gelykenis uit Lukas uit te haal, en in Jesus se mond terug te sit.   Daar gaan vir my ʼn wêreld oop:  ek leer weer dat Jesus God se koninkryk vir gewone mense kom gee het.  Vir destyds se boere, vir mense soos ons.  Vir ons.

Lukas vertel Jesus gaan by Saggeus aan.  Nie net ʼn gewone staatsamptenaar nie, Saggeus is die hoof van belastinggaarders, en skatryk.  Dit vat vir Saggeus net die een aand se kuier saam met Jesus om aan te kondig hy gaan alles wat hy van mense gevat het, vierdubbeld teruggee.  Die geldmakery uit ʼn  belastingstelsel wat jou soos ʼn luislang stadig dooddruk, staan oornag ontmasker en op sy kop omgekeerd.

En as dit so maklik was om ʼn minister van finansies in die koning se tesourie te oortuig dat hierdie belastinglas ons tot die dood toe wurg, gaan hierdie hele onderdrukkende owerheid dalk makliker tot ʼn val kom as wat ons eers gedink het.  Hier kom die koninkryk nou!  So voel die mense wat Psalmsingend saam met Jesus Jerusalem toe opruk.  Hulle skep skielik moed.  Daar’s hoop.

Wie is hierdie mense wat om Jesus saamdrom?  Hulle is boere, kleinboere met bestaansboerderye in wat sosioloë die “gevorderde landboufase” noem.  Boerdery is die hartklop van die ekonomie. Die hele samelewing is van grond afhanklik, en die gemeenskap is aristokraties georganiseer: daar is twee klasse mense:

  • die elite wat veral in die stede bly, en
  • die kleinboere wat jy op die platteland kry.

Die elite het net sowat 2% van die bevolking uitgemaak, en die gewone mense, die boere, omtrent 98%. Rykdom is nes vandag nog, in die hande van die 2%: hulle besit ongeveer 50 tot 65% van alles, al verroer hulle nie ʼn vinger om self geen hardearbeid te verrig nie. Hulle saai nie.  Hulle oes net.  Hoe? Hulle kry maniere om die kleinboere uit te buit met uitmergelende belasting, heffings en rente.  Geld en mag staan hand om die blaas.  Die elite het presies geweet hoe om geld te maak en mag in te palm.

Staatsamptenare het van belasting skatryk geword.

Die staat het destyds die invordering van belasting uitgekontrakteer. Die gevolg was veel hoër belasting as wat die keiser toekom.  Belastinggaarders het vir eie gewin die mense gemelk.  En geldskieters het oënskynlik welmenend links en regs lenings toegestaan vir as die nood druk, maar teen rentekoerse wat jy uit bestaansboerdery nie kan diens nie.  Die uiteinde is dat jy gou jou grond kwyt is, en op wat eens jou eie lappie aarde was, jy nou ʼn bywoner en arbeider word, niks meer nie as ʼn ryk man se slaaf.

Jesus vertel verskeie gelykenisse hieroor.  Hierdie een het ook daarmee te doen.

Lukas sê Jesus vertel die gelykenis toe die boere begin opgewonde raak dat Jesus die gety laat draai.  Baie mense glo Lukas dink dat Jesus bedoel:

Sorrie ouens, maar dit gaan nie nou gebeur nie.  By die wederkoms eers, na kruisiging, opstanding, hel- en hemelvaart eers, kan julle verwag dat die koninkryk van God hieraan ʼn verskil sal maak.   Daar moet nog baie water in die see loop.  Nes die koning in die storie, gaan Jesus ook moet weggaan en lank, sommer baie lank, wegbly voor jy sy koninkryk hierdie uitbuiting gaan sien stop.  Julle sal tot in die hemel moet wag!  Die armes sal ons mos maar altyd by ons hê. Want mense gaan aanhou om mekaar armer te maak.

Maar dat die skare om Jesus opgewonde pad vat Jerusalem toe om die koninkryk te gaan sien gebeur, laat my dink dis nie wat hulle gehoor het toe Jesus hierdie gelykenis vertel het nie.

Wat hoor hulle dan?  Hierdie plaasboere hoor ʼn storie wat hulle klaar ken.

Ons nie.

Daar dis is twee goed wat ons van hierdie boere moet weet voor ons gaan hoor wat hulle Jesus gehoor sê het.

  1. Hulle het geen idee van ʼn vryemark wat welvaart voortbring nie. Kapitalisme is ondenkbaar, dalk selfs boos.  Hulle dink nie ʼn mens kan met koop en verkoop jou eie welvaart styf sonder om ʼn ander ou skade te berokken nie.  Jy kán wel ryk word, maar net as jy ʼn ander ou se goed vat en hom armer maak.  Dis hierdie boere se realiteit.  Onthou hulle was altyd aan die verloorkant.  Hulle verloor hulle grond en inkomste oor die rykes dit van hulle wegvat.   Die kleinboer sterf uit, die elite gedy.  Hierdie elite is slinkse skelms met hulle versteekte rentes en heffings agter voorskotte en lenings wat soos barmhartigheid verbloem is.  Wat hierdie elite doen, is doodgewoon roof, op sy beste diefstal.  Wat deesdae erkende ekonomiese praktyk sou wees, ons harde maar algemeen aanvaarde realiteit, was destyds gelyk aan steel.  Goeie sakevernuf, maar ook dodelik.   So leer glo daai boere dat alle middele waarvan mens lewe, beperk is. Daar is net soveel van.  En wat daar is, is reeds uitgedeel. Dit kan nie meer word nie.  Soos grond. Grond word nie meer nie.  As jy meer grond wil hê, gaan ʼn ander ou minder moet hê.  Jy gaan syne moet afvat.  Om enige van jou besittings, of jou rykdom oor die algemeen, te laat groei, beteken net jy maak iemand anders in gelyke mate armer.  Daarom, om rykdom te vermeerder – iets wat ons almal ons deesdae inspan om reg te kry – was vir daai boere sonder uitsondering ʼn gruwel.  Die boer van destyds is ʼn bestaansboer, ʼn kleinboer wat altyd ʼn kleinboer moet bly, en moet dankbaar wees God gee hom genoeg om van te leef.  Sy enigste doel is om te hou wat hy het: Hy moet niks verloor nie, en hy hoef niks by te kry nie.  Trouens: hy moenie ryker word nie!  Daarom, die ryk elite kon net ten koste van ander ryk geword het.  En hulle is rowers en diewe.  Hulle was ryk omdat hulle ander uitgeroei het.  En met dié het kleinboere, gewone mense, die man op straat, ryk mense met minagting begin bejeën.  As die skatryk Saggeus dan skielik verklaar hy gaan die helfte van sy goed aan die armes gee, en waar hy afgepers het, gaan hy vierdubbeld teruggee, hoor almal Saggeus gaan ophou om hulle te besteel.  Die owerheid en die hele sosio-ekonomiese bestel waarop dit berus, wil lyk of dit verkrummel.  Wel, dan is die koninkryk van God tog regtig reeds hier.
  1. Die tweede ding wat jy van hierdie boere moet weet, benewens dat hulle gedink het daar is net genoeg grond en geld en goed om almal aan die lewe te hou, is die geskiedenis van hoe hierdie wrede stelsel hulle oorgekom het. Herodes die Grote het van 37vC tot 4vC oor Galilea en Judea “geregeer”.  Dit beteken hy was die Joodse koning wat die volk moes wysmaak hulle het selfregering, terwyl Rome die toutjies trek.  Toe hy sterf, het Archelaus sy kleim op die troon afgesteek.  Maar om te kon koning word, moes Archelaus Rome toe om te gaan vra vir – soos in aansoek doen om – die koningskap, oor Judea, Samaria en Idumea. Maar ʼn afvaardiging uit hierdie gebied is agterna om vir keiser Oktavianus te loop soebat om tog net nie vir Archelaus die kroon te gee nie.  Hoekom nie? Omdat Archelaus juis een van die elite was wat die landvolk met belasting en belaglike rentekoerse uitgebuit en uitgeroei het. As hy sou koning word, was daar geen meer hoop dat hierdie onreg tot ʼn einde sal kom nie. Archelaus was ʼn harde man wat sal oes waar hy nie gesaai het nie.

Hierdie twee goed, die idee dat jy net kan ryk word as jy iemand anders arm maak, en die geskiedenis van hoe Archelaus die mag gekry het om dit staatsbeleid te maak, sit agter Jesus se storie oor ʼn magsbehepte man wat ten alle koste gaan geld maak.  As Jesus sê dis hoe gewone mense se harde realiteit lyk, gaan hulle met Hom saamstem.

Hy vertel:

  • ʼn Edelman wil koning word.
  • Hy moet na ʼn ver land toe weg om te gaan toestemming kry.
  • ʼn Groepie wat hom ken, is agterna om te gaan pleit hy moet tog asseblief net nie volmag kry om vrye teuels te gee aan sy wurggreep op die landvolk nie.
  • Voor hy vertrek, gee die gewetenlose troongryper geld aan tien mense in sy diens.
  • Hulle moet daarmee gaan woeker, beveel hy.
  • Dit beteken na alle waarskynlikheid: Gaan bied dit as lenings aan vir die boere wat dit nie meer self kan maak nie weens al die belasting, rente en tol wat hulle moes betaal.

Vir die boere wat kopknikkend sit en luister, beteken Jesus se gelykenis net een ding: iemand gaan hier iets verloor, en hierdie iemand is niemand anders as hulle self nie.

Dis presies hoe ʼn boer se wêreld werk.

As hierdie skarminkel nou triomfantelik terugkom en die eerste twee dienaars wat kom rapporteer, aanprys oor die reuse wins wat hulle gemaak het, gaan daai boere in die gehoor nie met hierdie koning in die storie saamstem oor hoe knap die twee is nie.  Hulle is misdadigers, man, niks minder as diewe nie.  Net in regering kan sulke skelms oor sukses met pure gierigheid en winsbejag, so aangeprys en dan oor so baie mense aangestel word. Dis tipies van die elite.  Dis presies hoe hulle met ons boere maak. Hulle is almal van hulle verrot, van bo tot onder uit.  Goedpraat gaan ons dit nie, al is die storiekoning vol lof.

Die derde dienaar het die geld wat hy gekry het in ʼn doek toegedraai en gebêre.            

Ek was bang vir u, want u is ‘n harde man. U eis op wat u nie belê het nie, en oes wat u nie gesaai het nie.

Van die drie speel net hierdie derde ou nie saam in die spel van die elite nie: Hy weier om die elite te verryk ten koste van ander. Hy bewaar net wat hy het.  Dis die regte ding om te doen.  Dis hoe die boere ook dink.  Dis wat boere die doen.  Vir die boere is hierdie een die held.

Maar die koning vloek hom en vat sy geld terug.

Jy is sleg! As jy geweet het ek is ‘n harde man wat opeis wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie, waarom het jy dan nie my geld in die bank gesit nie? Dan sou ek dit by my terugkoms darem met rente kon getrek het.

En vandaar draai die koning na sy onderdane toe en beveel hulle om die afvaardiging wat geprobeer keer het dat hy koning word, hier voor hom te kom uitmoor.

ʼn Harde man, die koning.  Hy is die harde realiteit.

Wat word van die koninkryk van God, God se sogenaamde nuwe wêreld,  in so ʼn ongenaakbare harde werklikheid?  Word dit slagoffer van sulke gierigheid en magsug?  Is dit dood gebore op hierdie harde grond? Oorleef dit die onreg wat wrede mense mekaar aandoen?  Waar is God in die verhaal?

Wel, God vertel hom, die verhaal, bedoel ek. Jesus vertel die storie.  Wat Hy sê, beteken God sien ons.  God sien ons gewone mense raak.  God sien ons ly.  Jesus is nie hierdie storie se koning nie.  En God kyk anders na ons as wat hierdie koning na sy amptenare en sy onderdane kyk.  En God verskil van die houding wat die magtiges jeens ons het en wat agter ons swaarkry sit.

Van wie die harde werklikheid sê jy’s sleg en ontoereikend, oor hy selfs onder druk nie wil deelneem aan ander se onderdrukking nie, kan reken op God se beskerming.  Ons weet dit want, snaaks genoeg, die derde dienaar word sleggesê, maar nie saam met die afvaardiging doodgemaak nie.

God sien jou. Al voel jou omstandighede hoe neerdrukkend ookal, oor jy jou wil verset teen die harde werklikheid wat by jou aandring, wat dit van jou verwag om vir eie gewin ander uit te roei, staan vas.  God sien jou en gee om wat van jou word.

En is jy die boer wat uitgeroei word, God sien jou ook raak.

Dis God se koninkryk: dat ek en jy leef waar God ons kan sien.

En juis oor jy van uitbuiting ondervinding het, moet jy op jou hoede bly.  Moenie die mense om jou miskyk nie. Hulle is nie daar om jou te verryk of te laat goed lyk nie.  Om jouself te wil aanstel oor en te verryk ten koste van ander, om op jou eie voordeel te fokus en die mense om jou te vergeet of te gebruik, is nie in lyn met God en sy mense nie. So lyk die koninkryk nie.

Ons moet katvoet loop.  Dis in ons dat die koninkryk sigbaar moet word.  Dis wanneer ons kyk en mense raaksien, dat die koninkryk grondvat, want dis dan dat ons daar iets aan moet doen.  Daar mag in ons wêreld van grond dalk nie genoeg wees dat die koninkryk hier volledig sal kom nie.  Ons sien uit na God se toekoms.

Maar die koninkryk is ook al klaar hier.  God woon reeds hier. Al is die aarde net groot genoeg as ʼn rusbank vir sy voete.

As grond te min is, sy liefde is volop.  Van God se liefde is hier oorgenoeg vir jou en vir ons almal hier, en vir almal wat daar ver is.  Ons hoef nie daarvoor te kompeteer nie. God sien jou en my.  God ken ons omstandighede.  God gee om.

God leef hier by ons.  Wat pas by iemand wat saam met God hier lewe?  Vra dit.

  • Is dit om die leer te klim ten koste van ander?
  • Of is dit om aan ʼn wêreld te help werk waarin ons hierdie te harde werklikheid omploeg om in sagte aarde liefde te saai en te oes?

Kyk net weer ʼn slag, en kyk mooi.  Kyk soos God kyk, en sien die mense raak.  As jy mense nie sien nie, gaan jy blind bly vir die koninkryk van God ook. Dan gaan jy ook glo die koninkryk is dood gebore.  Maar sowaar as die Here leef, sy koninkryk is hier.

God sien jou.

Amen.

Ouderling

Geloofsbelydenis (Sit)

Kom ons bly sit en bely dat ons vas glo in die Een en Enigste God wat ook ons belange op sy hart dra en ons bewaar teen uitbuiting en onderdrukking.

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Die Wet / Wil van God (Sit)

Ons is nie net slagoffers van uitbuiting en onderdrukking nie.  Ons is self ook boelies.  As ons bedoel het wat ons bely het, dat ons God en sy Woord glo en sal gehoorsaam, sal dit wees hoe ons lewe voortaan gaan lyk:

Jesus sê:

29      

“Die eerste [gebod] is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here.

30      

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’

31      

Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

Dit staan so geskryf in Markus 12. Kom ons staan op en sing ons reaksie hierop uit nog twee strofes van

Slotsang  (Staan)

Gesang 249 strofes 8 en 9

Wegsending

Predikant

Seën (Staan)

Ontvang die seën van die Here uit Psalm 12

6        

. . . Die Here sê: “Die swakkes word mishandel en die armes kla. Daarom gryp Ek nou in en gee uitkoms aan dié wat daarna smag.”

8        

U, Here, hou oor ons wag. U sal ons vir altyd teen sulke mense beskerm.

Amen.

Respons (Staan)

Gesang 522 strofes 1 en 4.

Insameling van die dankoffers/orrelspel

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s