n Leenpreek is geen verleentheid nie

Ek het gedink ek is geseën met kollegas wat saamwerk aan preke en erediensinkleding.

In my bediening was ons uit die staanspoor ʼn span.  Ons het gereeld byeengekom om oor Sondag se erediens te praat, saam te dink oor eksegese en hermeneuse en idees uit te ruil.  Ons het saam preekbundels geskryf vir leesdienste.  En soms, as ons vasbrand, want dis basaar en begrafnisse of Hemelvaart op ʼn Donderdag, het ons by mekaar gaan hulp soek en ʼn preek per e-pos gekry of aangestuur.  Selde kon mens ʼn kollega se skryfwerk net so gebruik, maar soms, net soms, was die kalf in die put.

En ek het gelees.  Soveel as wat ek kon, te midde van ʼn besige program.  Van Barth en Browning en Bonnhoeffer, die HTS, tot by populêre skrywers soos Lewis en Yancey.  En die Bybel natuurlik ook, in Grieks, en af en toe (maar al minder, moet ek bely) ook in Hebreeus.

Preekmaak en erediens aanmekaarsit was (en is steeds) ʼn tweedaglange gedoente. Moet jy ʼn aanddiens ook bou, is die week te kort: ek het dikwels op Sondagmiddae vanaand se preek geskryf, en die liturgie was noodgedwonge ʼn sjabloon uit die Diensboek, klakkeloos oorgeneem en meganies afgelewer.

Die hulp van ʼn vriend was onskatbaar.

ʼn Paar kollegas het preekbundels die lig laat sien, verkoop, selfs.  Dit was goeie waarde vir geld, veral vir Sondae se tweede, maar ook die eerste, uitdraf kansel toe.

Toe kom die internet.  Daar groei ʼn byna onbeperkte biblioteek van preke en preekhulp.  Jy moet katvoet loop, want die Jehova Getuies se artikels sit alewig bo-aan die resultate van ʼn Google. . .

Maar goeie oordeel was nog altyd nodig, ongeag van die bron en oorsprong.  Onderskeidingsvermoë wat die koring van die kaf skei, en ʼn fyn aanvoeling vir die eie gemeente wat hierdie preek hier moet hoor en met dié erediens God moet aanbid, was nog altyd integrale deel van die proses.  Dís immers ononderhandelbaar deel van die dominee se  weeklikse werk.

Want die dominee wat onvoorbereid op die kansel opdaag, is nie die naam werd nie.  Selfs al was die leeueaandeel van die voorbereiding ʼn kollega s’n, is wat die dominee van die kansel af sê, nou eie verantwoordelikheid.

Net met vrees en bewing kry jy opreg gesê: So sê die Here HERE.

Dit sê jy net as jy “saam met en soos die kerk” kan praat.  Daarvoor luister jy fyn na die skare geloofsgetuies wat jou vooruitgaan, en jy fynkam tegelykertyd die bron waaruit jy jou eie preek baar.

Al is jou teks ʼn ander dominee s’n, jý bely hom nou.  Jy staan pa.

Die Woord is jou hoeksteen, die belydenis jou toetssteen.

Daar is in elke preek en erediens twee millennia se prediking ingebed.  Die mate waartoe tweeduisend jaar se dominees vandag se erediens beïnvloed, is die een wat vandag die kansel met hierdie preek bestyg, se besluit.    Dalk is die buurgemeente se predikant vandag besonder betrokke.  Maar dis vir God wat hierdie gemeente moet hoor praat.

Kortom: daar bestaan nie kopiereg op die evangelie nie.  ʼn Leenpreek is geen sonde nie.  Ook geen verleentheid nie.

ʼn Gemeente wil weet wat hulle dominee op die kansel kwytraak, kom uit die hart uit.   En glo my, hulle weet.

Hulle onthou net nie so goed nie.  Die beste preke kan maar oor en oor gehoor word.  Ons werk is om mense te help onthou, van God en van geloof.

Die Bybel is vol sulke preke.  Predikante herhaal maar net wat ons daar kry.

En ons herhaal ook maar net wat ons in die tweeduisendjaar-oue kerk se prediking gehoor het.  Laat ons mekaar nie verdink van plagiaat nie.  En waar ookal ons dominee se preek gaan draai het, die oorsprong daarvan is God.

Dankie aan al die kollegas predikante, skrywers van boeke en bydraers tot die evangelie se teenwoordigheid op die internet, vir hoe julle my preke vorm, hervorm en verkondig.

Ek dink steeds julle is n seën.  Kom ons los die agterdog.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s