Onthou! (Vergeet om my te vergeet)

Ons probleem is dat ons vergeet.  Soms vergeet ons doelbewus, al klink dit onmoontlik.  Ons vergeet die slegte goed, en ons probeer die goeies onthou.  Dis ʼn oorlewingstrategie.

My oupa Hennie het dit geweet.  Hy was ʼn stoere Hervormer, en al’s behalwe romanties.  Die dag toe hy ʼn steen op ouma se graf laat sit het, het hy my onkant gevang.  Pleks van ʼn sobere Bybelteks, het hy op die steen laat skryf:  “Vergeet om my te vergeet.”  Dis woorde uit ʼn Laurika Rauch-liedjie.  En dis wat nagmaal ook beteken.

Johannes 20 verse 19 tot 25

26 Februarie 2017, NHKA Kampersrus

Nagmaal. In samewerking met Jacques Pieterse.

 

Skyfie: Onthou! (Vergeet om my te vergeet)

VOORAF

PREDIKANT

Ons probleem is dat ons vergeet.  Soms vergeet ons doelbewus, al klink dit onmoontlik.  Ons vergeet die slegte goed, en ons probeer die goeies onthou.  Dis ʼn oorlewingstrategie.

My oupa Hennie het dit geweet.  Hy was ʼn stoere Hervormer, en al’s behalwe romanties.  Die dag toe hy ʼn steen op ouma se graf laat sit het, het hy my onkant gevang.  Pleks van ʼn sobere Bybelteks, het hy op die steen laat skryf:  “Vergeet om my te vergeet.”  Dis woorde uit ʼn Laurika Rauch-liedjie.

Skyfie: Onthou! (Vergeet om my te vergeet) Nagmaal is herinneringsmaal

God weet ons vergeet ook die goeie goed.  Daarom is nagmaal bedoel om ons te herinner.  “Onthou My!” is wat God wil hê.

Kom ons herinner mekaar met ons lied dat God ons voed en uit ons nood red. “God gee uitkoms en bevryding, hongeriges gee Hy brood….”

SANG: (sit)

Psalm 146, strofes 4 en 5.

Skyfie: Onthou! (Vergeet om my te vergeet) Nagmaal is HERINNERINGSMAAL

Ons het vandag erediens toe gekom om te kom bakhand staan voor die Here.  Ons kom bedel.  Daar is niks waarmee ons kan hoop om te betaal vir wat ons hiervandaan wil huis toe vat nie.  Ons lyk vir God ʼn bietjie na mense op ʼn straathoek.

Maar God boul ons om.  God behandel ons nie soos bedelaars nie, maar soos eregaste. Sy tafel staan gedek met die duurste en die beste wat daar is.  Ons weet dit by voorbaat al, want dis nie die eerste keer nie.  Ons onthou.  Ons sal Hom loof. Want Hy het sy lewe gegee dat ons hier mag aansit om sy goedheid en gawes te geniet.

SANG: (sit)

Gesang 208 strofes 2 en 3

TOETREDE

Skyfie: Onthou! (Vergeet om my te vergeet) Toetrede

OUDERLING

Nog voordat ons in die erediens ʼn vinger verroer, is God hier. Ons gaan God hier ontmoet. Hy laat ons toe om so naby aan Hom te kom. Dis ʼn voorreg. Dis ʼn vreugde. En dis nie sommer net per ongeluk of toevallig dat ons hier met God te doen kry nie.  Dis God se opdrag. Kom ons sing:

SANG: (staan)

Gesang 165 strofes 1, 2

TOETREDE

PREDIKANT

Skyfie: Votum en Seën (Staan) Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande

Votum en Seën (staan)

4        

“Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.

5        

Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.

6        

“Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly.

7        

Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.

onthou-images8        

Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ‘n merk op jou voorkop wees.

9        

Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.”

Deuteronomium 6

LOF EN AANBIDDING

OUDERLING

God vergeet nooit van ons nie.  Ons moet leer om God te onthou.  Kom ons skryf Hom as ʼn herinneringsteken op ons erediens.  Laat Hy die merk op ons voorkop wees.

Sang (staan)

Gesang 200 strofes 1, 2

Skyfie: Onthou! (Vergeet om my te vergeet) Die Wet. In die hart van die goddelose het die opstand teen God die laaste woord.

DIE WET (sit)

Bron waaruit ons ons sonde agterkom

Ons leer uit God se Woord wat sonde is. God se Woord leer ons ook hoe erg ons sonde is. Hoor hoe eggo ons eie sonde in Dawid se skuldbelydenis in Psalm 36 verse 1 tot 5:

2        

In die hart van die goddelose het die opstand teen God die laaste woord.  Die goddelose het geen vrees vir God nie    

3        

en praat net goed oor homself. Hy is altyd daarop uit om kwaad te doen en om te haat.        

4        

As hy praat, is dit kwaadwillig en vals; verstandig wees en goed doen bestaan nie vir hom nie.    

5        

Selfs as hy gaan lê, dink hy net kwaad uit; hy bly op ‘n pad wat nie reg is nie; wat sleg is, verwerp hy nie.

SKULDBELYDENIS:

Ons praat ook eerder goed oor onsself as om die eer aan God te bring. Al beskou ons onsself nou nie as goddeloses nie, dink ons te veel soos hulle, praat ons te maklik soos hulle, leef ons te veel soos goddeloses wat vir God nie ken nie.

Kom ons bid saam, en bely ons sonde teenoor God.

LOF EN AANBIDDING

PREDIKANT

Skyfie: Kom ons bid saam (Mans staan) Skuldbelydenis, Lofprysing, Voorbidding, Gebed om die Skrif te verstaan

GEBED:

  • Skuldbelydenis,
  • Lofprysing,
  • Voorbidding,
  • Epiklese (gebed om die Skrif te verstaan)

GENADEVERKONDIGING EN GELOOFSBELYDENIS (Sit)

Skyfie: Genade en geloof (Almal staan) In u huis geniet hulle oorvloed, U laat hulle drink uit die strome van u goedheid.

Luister hoe groot God se genade is vir mense wat hulle skuld in berou voor Hom bely. Hoor weer hoe goed Hy vir ons is as ons lees in Psalm 36 verse 8 tot 11.

8        

Hoe kosbaar is u trou, o God! U beskerm die mense wat by U skuil.

9        

In u huis geniet hulle oorvloed, U laat hulle drink uit die strome van u goedheid.

10      

U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons.

11      

Laat u liefde bly by dié wat U erken en u trou by dié wat opreg is.

Gebed

Kom ons bely ons geloof biddend.

Sang (sit)

Gesang 297 strofes 1, 2 en 3 

VERKONDIGING

PREDIKANT

SKRIFLESING

Ons lees hoe Jesus Christus Hom deur niks laat keer wanneer Hy na ons toe kom nie.  As die graf Hom nie kon inhou nie, sal ʼn deur wat gesluit is Hom ook nie uithou nie. Maar Tomas is daai aand nie daar nie, en hy glo nie wat hulle hom vertel nie.  Hy wil Jesus self sien en aan Jesus se wonde vat.  Want wat hy onthou is dat Jesus morsdood is.  Wat hy onthou, keer dat hy glo.

Skyfies: Johannes 20 verse 19 tot 29

Ons lees Johannes 20 verse 19 tot 29.

19      

Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20      

Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21      

“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22      

Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees!

23      

As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

24      

Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie.

25      

Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

26      

Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”

27      

Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

28      

En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”

29      

Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

Skyfie: Onthou! (Vergeet om my te vergeet) Nagmaal is herinneringsmaal

PREDIKING

Mooi dinge is lekker om te onthou, en dis ook goed só. Lekker herinneringe is wat die lewe mooi hou. Nes slegte herinneringe die lewe versuur en vergal. ʼn Mens verkies om hulle te vergeet, maar dikwels kan jy nie. Hulle het jou te seer gemaak, en jou lewe te veel ontspoor.

Dis jammer dat ons gou vergeet om die Here te onthou.

In die nagmaal sê God: Onthou my!

Onthou hoe lief Ek julle het! Onthou hoe ek My lewe vir julle gegee het. Dis waarvoor die sakramente daar is, en elke Sondag se erediens.  Dis medisyne teen geheueverlies.

In die nagmaal onthou ons die kruisdood van die Here.   Ons onthou dat sy liggaam soos brood gebreek is, en dat sy bloed soos wyn gevloei het.  Ons onthou dat dit vir ons was. Ons onthou weer dat ons vir die Here kosbaar is.  Dis vir God nie goed genoeg dat ons dit net hoor nie; ons moet dit kan vat en voel, en eet en drink. Daarvoor gee Hy ons vandag weer in die sakrament brood en wyn, sodat ons met ons sintuie kan ervaar hoe goed die Here vir ons is.

Moet My nie vergeet nie. Moenie vergeet dat Ek jou liefhet nie.  Dis die betekenis van nagmaal.  

Nie net die sakramente en die erediens het te doen met herinnering nie.  Die hele Bybel, die kerk en al die formele goed wat van ons godsdiens deel is, is gerat teen vergeet.  Ons en Israel ly aan dieselfde vergeetagtigheid.  Vir hulle sê God in Deuteronomium al:

“Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly.

Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.

Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ‘n merk op jou voorkop wees.

Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.”

Ons kerk begin ook so.  Die kerk van Jesus Christus begin met ʼn klompie bang manne iewers in ʼn bokamer in Jerusalem: Jesus se dissipels. Hulle het vir drie jaar sy lewe met hom gedeel en hom gevolg waar hy hulle ookal heen gevat het. En hier sit hulle nou doodbenoud toegesluit in ʼn bokamer, soos muise wat vir die kat wegkruip. Dis dieselfde dapper manne dié wat drie dae gelede nog gespog het hulle sal saam met Jesus sterf as dit moet.  Wel, hulle het toe, die hele lot van hulle, weggehol.  Hulle dapperste daad was om, toe hulle dit waag om Sondag weer bymekaar te kom, die deur te sluit.

Hoekom is hulle hier?  Hulle kom bymekaar om te onthou.

Hulle herinner mekaar aan hoe Jesus hulle kom haal het, hulle nette vol vis gemaak het; hoe Hy mense gesond gemaak, duiwels uitgedryf,  en vir duisende mense oor die koninkryk van God gepreek het, met stories en raaisels en voorspellings.  Hulle herinner mekaar aan die dag toe Hy die storm stilgemaak en hoe Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom het.   Hulle onthou die goeie ou dae.

Maar dis hulle korttermyngeheue wat hulle agter slot en grendel het:  hulle onthou hoe Jesus die Fariseërs aangevat het. Vir sy moeite is Jesus afgelope Vrydag wreed vermoor.  Dis dié dat hulle nou hier moet sit en wegkruip.  Die Jode soek nou hulle bloed ook.

Ja, hulle onthou al die beloftes van trou wat hulle aan die Here gemaak het, en toe weer so gou verbreek het.  Van al die gespog, die bravade, die verklarings van hartstogtelike toewyding het net mooi niks gekom nie.  Behalwe die verleentheid van tekortskiet.  Want toe die soldate vir Jesus kom vat het, het hulle almal gemaak dat hulle wegkom.

O, hulle onthou dit.  Hulle het op vlug geslaan, en dis  ʼn herinnering wat hulle skaam maak.  Maar dit was darem seker selfverdediging, en daarom seker ten minste darem te verstane, of hoe?

Hulle onthou vir Jesus.  Hulle is nie so seker wat om van Hom te maak nie, maar vergeet kan hulle Hom nie vergeet nie.  Daarom het hulle teruggekom en mekaar weer opgesoek:  Om notas te vergelyk.  Daai Sondag begin die kerk van die Here iewers in ʼn bokamertjie.  Hulle is ʼn handjievol mense wat met herinneringe sit wat hulle ewe veel skaam én bang maak.  En hulle kan Jesus nie vergeet nie. Nog nie.

In ʼn sin sit ons nog steeds daar.  Min het in hierdie tweeduisend jaar verander.  Ons kruip nog steeds skaam en bang in bokamers weg.  O, ons is godsdienstig genoeg om Sondag na Sondag in kerkgeboue soos dié byeen te kom en hier te kom sê ons glo.  Hierdie is dié plek waarheen mens kom om te glo.  Die vraag is of ons al die moed het om gelowig hier uit te loop.  Die kerk se deure is nie gesluit nie, maar dit kon net sowel maar gewees het.  Loop ons hier uit, laat ons geloof hier agter.

Maar daar is goeie rede voor:  ons weet geloof is gevaarlik.  Daar buite is gelowiges ʼn teiken, nie ʼn teken nie. Ons het almal al daarvan letsels.

Moenie ʼn fout maak nie, ons wil almal probeer. Ons het net die beste voornemens. Maar daar is weinig van die evangelie te sien daar waar ons woon en werk nie.  Die kerk hou geloof in, die deure bly gesluit.

Dis nie dat ons die rug op Christus nie.  Hier binne is ons dit met Hom roerend eens.  Maar dis ook nie asof ons duidelik ná Hom toe draai nie.  Ons vloek Hom nie, ons loof en prys Hom dan hier.  Dis net dat ons dit in wat die erediens van die lewe moes wees, nie regkry nie.  Ons wil iets vir die Here doen, maar ons is nie so seker wat nie.  Of, as ons wel weet, het ons dure ondervinding van hoe mens pak slae kry as jy dit waag.

Bokamer-bangheid: Dis waaraan ons ly.

Wat sal vir ons daai deur oopkry?  Wat gaan ons oortuig dat ons die kerk se deur maar kan oopsluit, en geloof kan uitlaat en die wêreld inlaat?  Wat gaan  ons laat besef die kerk en die wêreld is een en dieselfde ding – God se bokamer, die een ruimte waar God ook is?  Wat gaan dit verg voor die kerk oopbars, en ons hier sal uitgaan om met borrelende oorgawe in die wêreld – God se wêreld, mos – te gaan leef?  Wat gaan dit kos om ons met woord en daad daar te gaan lewe, saam met die lewende God wat Hom alreeds daar tuisgemaak het? Glo ons regtig dat God bestaan, dat God by sy mense is daar waar ons leef, dat God in die wêreld kan oorleef?  Leef ons asof ons glo dat God ʼn nuwe wêreld geskep het, dat God alles kan verander?

Dit het alles te doen met wat jy van God weet.  Wat jy weet van God, hang af van wat jy van Hom onthou.

Wat het gemaak dat die dissipels die deur van die bokamer oopgesluit en daar uitgestap het?  Hulle het Jesus skielik vreesloos begin verkondig.

Johannes vertel ons hoe:

Daar sit hulle, Simon Petrus die eertydse skipper, Johannes en Jakobus Sebedeus, sy bemanning, en die ander dissipels.  En hulle vestig daai Sondag die patroon van die kerk.  Ons lyk nou nog so.

  • Daar is onder hulle breë konsensus: ons is maar swaar op genade. Ons ook.
  • Gaan ons ou koeie uitgrou of begrawe, onsself en mekaar kan vergewe?
  • Is daar iewers in als wat ons van Jesus onthou, iets om op te hoop of aan vas te klou?
  • Wel, daar is die gekheid dat die put van God se vergifnis altyd nog ʼn paar druppels oorhet, genoeg om jou dors mee te les.
  • En dan is daar die desperate hoop dat God tog op een of ander manier iets sou laat blyk van wat ons nou moet doen.
  • En bars, oopbars, daai eerste bokamerkerkie? Regtig? Kan dit?  ʼn Ding bars net as hy vol word, en ons is belaglik min.  Oopbars en uitborrel is nie wat mens van die kerk sou verwag nie.  Eerder stadig doodloop, is wat met die kerk gaan gebeur.

Dis alles goed wat ons vandag nog hier doen.  En net toe een van hulle mompel ‘ag, dit help tog niks nie’, sê iemand: ‘vrede vir julle’.

En daar staan Jesus.  Jesus wat Vrydag begrawe is.

Die graf kon Hom nie inhou nie.  Die slot aan die bokamer se deur kon Hom ook nie uithou nie.

Hier staan Hy.

Die bokamer bars oop.  Dis die oomblik dat die plek kerk van Christus word.  En geen deure of grense geld meer nie. Die kerk en die wêreld is een en dieselfde plek:  God woon hier.

Dis skrikwekkend dat ons skielik so ontbloot is, so kaal voor die wêreld staan.

Jesus se eerste woorde aan die kerk, skep wat ons die nodigste het om kerk te word en te bly: vrede, sê Hy.  Vrede vir julle van God af, ʼn geskenk sonder verwyte.  Verstommend.  So verstommend dat Petrus ʼn paar weke later in dieselfde Jerusalem waar Jesus gekruisig is, in die openbaar gaan verkondig het: God het hierdie Jesus wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!  En drie duisend het tot geloof gekom!

Hoe kry daai spulletjie beteuterde mense dit reg om uit die bokamer uit te klim en die strate aan te vat?  Wel, hulle het met Jesus te doen gekry. Hulle het daardie aand die opgestane Christus ontmoet.  O, hulle sondes het met die Verlosser gebots, maar die Verlosser het gewen.  Die Een wat verraai is het teruggekom om sy verraaiers te vind, maar nie om hulle te oordeel nie, maar om vir hulle te wys slotte werk nie vir God nie, geloof in klein kompartemente ook nie, die hele kerk is te klein om vir God in te hou.  Julle moet ook hieruit!  Moet julleself nie hier toesluit nie.

Die kerk onthou hoe ons weggehardloop het.  In Getsemané en sommer baie kere daarna.  Jesus sê ook: moet dit nie vergeet nie.  Maar pasop hoe jy onthou.  Onthou ook dat God jou ingehaal het.  Dat jy nie kon wegkom nie.  Dat nie jou sonde of jou skande, geslote deure of die graf Hom van jou kon weghou nie.

onthouOnthou My!

Onthou jy reg, skep jou herinneringe nuwe belewenisse. Die herinnering aan daardie weersiens van Hom wat dood was en dood moes gebly het, maar toe weer lewe is die een herinnering waarvan ons en die kerk en die wêreld nou bly lewe.

In wat miskien die laaste brief is wat Paulus geskryf het (2 Timoteus), pleit Paulus by Timoteus om nie te vergeet nie.  Daar waar Paulus sit en skryf, miskien binne hoorafstand van die skerpmaak van die lem waarmee hy onthoof sou word, pleit hy by Timoteus: Onthou Jesus Christus.  Onthou Hom altyd.  Onthou dat jy Hom al op so baie maniere in jou lewe gesien lewe het.  As mense nie luister nie, onthou vir Jesus.  As die trane loop, onthou vir Jesus.  As teleurstelling gedurig by jou is, onthou vir Jesus.  As vrees tent in jou voortuin en in jou maag opslaan, onthou vir Jesus.  As die dood opdoem, as woede skroei, as skande swaar word, as jy die ken nie meer opkry nie, onthou vir Jesus.

Onthou dat Hy die kerk geskep het, daar waar sonde was, nie met woorde wat aankla of oordeel nie, maar met: ‘vrede vir julle!’

Ons vergeet so vinnig. Soveel gebeur met ons deur die jare.  Soveel dinge verander in en om ons.  En êrens langs die pad vergeet en verlaat ons Hom.  So subtiel, dat ons dit dikwels nie eers agterkom nie.  Ons draai nie weg van Hom af nie, maar ons neem Hom ook nie saam met ons nie.  Ons sluit net die deur tussen ons en die plek waar God werk.

Dit was dalk Tomas se moeilikheid.  Hy was daai eerste aand nie by nie.  Hulle moes hom loop soek en oortuig hy moet die volgende Sondag self kom kyk.  Tomas was pynlik eerlik.  Wat ek gesien het, met my eie oë – en dié herinnering bepaal hoe ek nou oor Jesus dink – is dat Hy aan die kruis gesterf het en ʼn graf begrawe is.  Ek kon dit beswaarlik al vergeet het, dit was nie net soos gister nie, dit wás eergister.

Wat Tomas nou beleef is iets waarop sy geheue hom nie kon voorberei nie.  En vandat dit gebeur het, kan geen ander herinnering hom meer anders oortuig nie:  Jesus wat gekruisig is en gesterf het, leef.  Die res van Tomas se lewe word oorheers deur ʼn herinnering aan die onbeskryflike goddelikheid van ʼn man wat hy skandelik onderskat het.

Onthou nou.  Onthou Hom. Kom kyk en sien weer sy stukkende lyf en sy bloed wat nie meer in are vloei nie.  En laat toe dat hierdie herinnering aan Hom wat lewe, jou lewe se dryfveer word.

Wat jy onthou sal jy sien ook.  Om in jou wanhoop genade te onthou, is om Jesus vandag aan jou te voel vat.  Dit is om te glo, te lewe, met oortuiging, dat alles reg is, al is alles nie reg nie.  Dit is om te glo, te weet, te ervaar: ek het gister, vandag gaan ek, en môre sal ek die Here sien.  Hy leef hier waar ek is, orals waar ek is.

Oefen jou geheue. Vergeet om te vergeet. Hy is nie verniet hier nie.  Hy maak die kerk se deure oop, en die wye wêreld is sy woning en sy magsgebied, sy nuwe koninkryk.  Onthou dit en jy sal altyd lewe, tot selfs daar buite in die wêreld!

Ons onthou vir Jesus vandag.

Die nagmaal is vir ons gegee as ‘n herinneringsmaal. Onthou Hom wat was, want Hy is en Hy kom.

Amen.

Kom ons sing dat ons God en sy goedheid selfs in moeilike tye sal onthou, en dat ons weet God sal ons nooit vergeet nie.  Ons staan en sing

Sang (staan)

Psalm 42 strofes 2 en 3 (Die Lina Spies teks)

Skyfie: Onthou! (Vergeet om my te vergeet) Nagmaal is HERINNERINGSMAAL

SAKRAMENT

NAGMAAL

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus!

Die Here Jesus het voor sy dood saam met sy dissipels brood en wyn geneem en gesê dat hulle dit moet gebruik tot sy gedagtenis. Daarom vier ons die nagmaal.

Die nagmaal is een van die kerk se twee sakramente tot versterking van ons geloof. Met die tekens van brood en wyn verseker Jesus Christus ons deur sy Gees van ons gemeenskap met God en met mekaar. By die tafel van die Here is ons ook saam om God te verheerlik.

Ons glo dat die Here deur sy Gees by hierdie feesmaal teenwoordig is. Wanneer ons die brood en wyn ontvang herinner dit ons dat ons verlos is deur die dood en opstanding van Jesus Christus. Deur geloof in Jesus Christus het ons saam met Hom gesterf en staan ons saam met Hom op tot ‘n nuwe lewe.

Die nagmaal wil ons daarvan verseker dat ons aan Christus deel het. By hierdie maaltyd rig die Here ons hoop ook op die hemelse feesmaal saam met God en al die gelowiges. Ons behoort vir ewig aan God. Daarom hoef ons niks te vrees nie. Christus is die Een wat was, wat is en wat kom – die Here van die toekoms.

Rondom die tafel word die gemeenskap van gelowiges sigbaar. Ons het immers almal deel aan hiérdie brood en wyn. Die liefde wat God aan ons skenk bind ons aan mekaar. Voor ons by die tafel aansit moet ons onsself eers ondersoek en afvra of ons bereid is om deur ons doen en late hierdie band van liefde te versterk.

Ons is bewus van ons eie sonde en het daaroor berou. Omdat Jesus Christus ons vergewe mag ons by sy tafel aansit. Die deelname aan die nagmaal wil ons opnuut van sy genade verseker.

Wanneer ons van die tafel af opstaan, stuur God ons om wêreldwyd te getuig van sy versoening, sorg en liefde. God versorg ons met hemelse en aardse brood. Kom ons versorg uit dankbaarheid ander ook só.

Voordat ons aan die tafel van die Here aansit, laat ons bid.

Gebed: (‘n Vry gebed of ‘n gesang soos Gesang 568 kan ook gebruik word.)

Here, dankie dat ons vandag aan u tafel mag aansit. Ons glo dat U by ons is en ons versorg. Versterk ons geloof. Voed ons met die ware hemelse brood en wyn, Christus Jesus, ons hoop en lewe. Verseker ons deur u Gees dat ons deel het aan sy lewe, sterwe en opstanding. Was ons sonde af deur sy bloed. Raak ons só aan, dat ons dankbaar as u kinders sal leef. Stuur ons en maak ons oë en harte oop vir almal in nood en laat ons na hulle uitreik. Gee ons die geloofsoortuiging om Christus met woord en daad te verkondig.

Amen

Skyfie: Onthou! (Vergeet om my te vergeet) Eet en drink, doen dit tot sy gedagtenis.

Uitnodiging aan persone buite die gemeente:

Broers en susters in die Here, u word hartlik uitgenooi om te kom aansit aan die tafel van die Here! Belydende lidmate van gemeentes van ons Kerk en van ander kerke is welkom, mits u in u eie gemeente ook die voorreg geniet.

Oproep tot gelowige deelname (tafelformule):

Broers en susters, laat ons nie ons gedagtes rig op die uiterlike tekens van brood en wyn nie, maar op die betekenis daarvan, naamlik die versoening in Jesus Christus, ons Here.

Uitnodiging na die nagmaal:

TAFEL 1:

Gemeente, alles is gereed; kom na die tafel van die Here. Kom, en word versterk in die geloof (Matt 22:4).

Wanneer die brood gebreek en uitgedeel word, sê die bedienaar:

Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van Christus.

En wanneer die beker aangegee word:

Die beker wat ons drink, is die gemeenskap met die bloed van Christus.

Eet en drink, doen dit tot sy gedagtenis. Jesus Christus is die Een wat was, wat is en wat kom.

Gesang 301 : 1

Skyfie: Onthou! (Vergeet om my te vergeet) Eet en drink, doen dit tot sy gedagtenis.

TAFEL 2:

Gemeente, kom; die maaltyd staan klaar (Luk 14:17).

BEDIENING VAN DIE NAGMAAL

Gesang 301 : 2

Skyfie: Onthou! (Vergeet om my te vergeet) Eet en drink, doen dit tot sy gedagtenis.

 

TAFEL 3

Kom, gemeente, ons is almal van die Here afhanklik. Hy voed ons op sy tyd (Ps 104:27)!

BEDIENING VAN DIE NAGMAAL

Gesang 301: 3

Skyfie: Onthou! (Vergeet om my te vergeet) Eet en drink, doen dit tot sy gedagtenis.

TAFEL 4

Gemeente, kom dan; want die Here maak sy hand oop en ons kry meer as genoeg (Ps 104:28)!

BEDIENING VAN DIE NAGMAAL

Gesang 301 : 4

Skyfie: Onthou! (Vergeet om my te vergeet) Eet en drink, doen dit tot sy gedagtenis.

TAFEL 5

Kom, gemeente, laat ons ons oë op die Here rig; want Hy voed ons op sy tyd (Ps 145:15)!

BEDIENING VAN DIE NAGMAAL

Gesang 389 : 3

Skyfie: Onthou! (Vergeet om my te vergeet) Eet en drink, doen dit tot sy gedagtenis.

 

AS DAAR MEER AS 5 TAFELS IS, WORD NIE WEER NA DIE TAFELS GESING NIE.

Kom, gemeente, eet! Anders sal die pad vir u te lank word (1 Kon 19:7).

Kom, laat ons feesvier. Hierdie kind van my was dood, en hy lewe weer; was verlore en Ek het hom teruggekry (Luk 15:32).

DANKGEBED

WEGSENDING

 

SLOTSANG (staan):

Gesang 501 strofes 1, 2

 

SLOTSEEN (staan)

1

Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.

2        

Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.

3        

Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees,

4        

wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon,

5        

wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk.

Psalm 103

RESPONS (staan)

Gesang 332 strofes 3 en 4

 

Advertisements

One thought on “Onthou! (Vergeet om my te vergeet)

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s