Dit gaan om hoe die erediens jou raak

ʼn Ryk verskeidenheid van liturgiese materiaal ontstaan wat lossies op Luther teruggaan. Maar in ander hervormings kry dit anders beslag.

Almal moet deelneem. 

 

By Lutherse hervormings is eredienste in Duits of Latyn; of die gemeente kan verstaan, gee die deurslag.   Almal moet aan alles kan deelneem. Begrip is in ander hervormings ook hoofsaak, en eredienste is nou in die gemeente se spreektaal.

 

Liedere en musiek

 

Lutherse predikante sing dreunsang, kore meerstemmige sang en lidmate eenvoudiger korale. Nuwe kerkmusiek is volop – ook sekulêre musiek kom kerk toe – en die kerkorrel is die voorkeurmusiekinstrument vir begeleiding.

 

Maar Ulrich Zwingli, predikant in Zürich, voel dat Luther se eredienste nog te veel na Roomses lyk.  Hy laat geen musiek of lied meer in die erediens toe nie.  Dis met die verstand dat ons aanbid, sê Zwingli. Musiek sleep ander sintuie by, en geloof het weinig te make met wat jou sintuie jou wysmaak.

 

Calvyn het weer net gemeentesang toegelaat. ʼn Voorsanger sou ʼn reël sing wat die gemeente dan herhaal.  Hy het die 150 psalms vir die doel in Frans laat toonset.  Sang was sonder begeleiding, want  Calvyn was oortuig dat die erediens in die Nuwe Testament dié van die Ou Testament te bowe gaan, en dat die musiekinstrumente wat in die Ou Testament nog samesang begelei, nou so uitgedien soos offers is.

 

Die kerklike jaar

 

By Luther-hulle bly die kerklike jaar en Bybelleesrooster behoue, maar van die feesdae ter ere van heiliges is net dié van ʼn handvol Bybelmense gehandhaaf. Die groot kerklike herdenkings en die seisoene wat met hulle gepaardgaan, is  voortgesit:  Advent en Kersfees, Epifanie, Lydenstyd en Pase, Hemelvaart, Pinkster en Drie-Eenheidsondag.

 

Van hierdie kerklike feeste, hou Zwingli egter net Kersfees, Paasfees en Pinkster.  Zwingli verkies reeksprediking bo die kerklike jaar.

 

Die Nagmaal

 

Luther hou by die vroeg-Christelike gebruik dat Woord- en sakramentsbediening nóóit geskei word nie, en dat Nagmaal elke Sondag deur die hele gemeente gevier word.

 

Nie Zwingli nie. Hy het Woord- en sakramentsbediening na aparte eredienste toe verskuif. Zwingli hou net vier keer ʼn jaar Nagmaal.  Op ander Sondae sou daar net gepreek word.  Maar elke Nagmaalbediening is vir almal. Die gemeente het aan tafel Nagmaal gebruik.

 

Calvyn wou, nes Luther-hulle, weekliks Nagmaal vier.  Woord en sakrament hoort saam.  Maar Genève wou net vier keer ʼn jaar Nagmaal toelaat. Calvyn het toe elke Sondag die voorbereidingsdiens se liturgie gebruik, in gespanne afwagting van wanneer die Nagmaal eindelik gevier sou word. In Genève het lidmate òf aan tafel kon aansit òf knielend aan die Nagmaal kon deelneem.

 

Martin Bucer, wat in Strassburg ʼn middeweg tussen die verskillende hervormings wou vind, het uit die teks van die eerste Duitse mis, ʼn nagmaalformulier geskryf.  “Mis” het hy met “Nagmaal” vervang, die “altaar” verander hy in “tafel,” en die “priester” word vir hom ʼn “dominee”.  Bucer laat die dominee staan waar ons nou staan as ons aan tafel Nagmaal bedien: agter die tafel en na die gemeente toe gekeer. Die gemeente kniel nie meer by ontvangs van die tekens nie, hulle staan. Net die evangelies word by die Nagmaalviering gelees en met dié sneuwel die tradisionele leesrooster en die kerklike jaar, met die uitsondering van die grootste Christenfeeste. Bucer-hulle hou elke Sondag drie eredienste, oggend, middag en aand.

 

Kerkklere

 

Seremoniële kerkdrag bly in Lutherse gemeentes in plek. Luther het dikwels in sy monnikegewaad kerk toe gekom.

 

Zwingli en Bucer se dominees het swart togas gedra.

 

In Genève het Calvyn-hulle ook swart akademiese togas aangetrek. Marie Dentière, ʼn Franse vrou wat kampvegter vir die Hervorming was, het Calvyn oor sy akademiese drag uitgekryt.  As Calvyn erns wou maak met die priesterskap van alle gelowiges, het sy betoog, sou hy hom nes sy gemeentelede aantrek as hy kom preek.

 

Kerkgeboue verander

 

By Luther oorleef die kerkkuns.

 

Zwingli en Calvyn se kerke is strak en kaalgestroop.  Hulle kerke sou ʼn leë kruis kon vertoon wat die opstanding uitbeeld, en nie ʼn beeld van die gekruisigde liggaam van Jesus nie.  Die mure van hulle kerkgeboue is gewoonlik wit en sonder versiering. Kunswerke is saam met kerkorrels uit die kerkgeboue uitgehaal.

 

Die kerkgebou is nou nie meer “die huis van God” nie, maar die “tuiste van die gemeente”.  Maar die Hervormers erf kerkgeboue wat nie klop met hulle teologie nie.  Hervormdes dring aan op ʼn enkelvertrek vir samekomste waarin almal alles wat gebeur, kon sien en hoor.  In voeling met die spreuk sola scriptura, was die prediking sentraal, en nie die offerhandeling nie, en daarom sou eindelik die kansel, pleks van die altaar, in die middel voor kom staan.  Die altaar sou in die nagmaaltafel verander maar iewers voor in die kerk bly.

 

Die doop kom kerk toe.  Voor die Hervorming is babas in privaat rites gedoop. Martin Bucer begin kinders nou in die erediens doop om lidmate te herinner dat hulle self ook gedoop is.  Dit lei daartoe dat in Calvynse gemeentes die doopvont sy verskyning maak, of vorentoe skuif en soms aan die preekstoel vas is.

 

Foto: https://www.pexels.com/
Foto: https://www.pexels.com/

Vrae oor vandag se eredienste

 

  • Ons almal neem steeds aan die erediens deel. Maar dalk kan lidmate nog meer in die erediens doen?
  • Maak ons genoeg van die sakramentsbediening? As die Nagmaal meer dikwels kon deel uitmaak van ons erediens, sal ons moontlik baatvind by ander maniere om die sakrament te vier. Maar pasop, herhaling kan ook die Nagmaal afstomp. Frekwensie waarborg nog niks.
  • Die kerklied se waarde kan nie oorskat word nie. Aan die ander kant kan ons gerus maar kennis neem van sommige Hervormers se agterdog oor musiek: mooi melodieë kan draers word van dodelike dwaling. Kerkmusiek en die kerklied is ewe min versiering, of vermaaklik, of ʼn goedkoop truuk om gehoordeelname aan te hits.  As ʼn lied in die erediens nie as respons verduidelik kan word nie, hoort hy nie in hierdie erediens nie.  Daarom dat selfs die beste musiek en liriek steurend word as dit net op die klank af gesing word. Die erediens is gesprek.  So nie, het God lankal vertrek.
  • Gemeentesang is toenemend onder druk weens die koste om kerkorrels in stand te hou, die weerstand teen ander instrumente en die tekort aan begeleiers. Elektroniese begeleiding verg ʼn bekwame hand en gehalte apparaat. Weinig word deur die Kerk gedoen aan die ontwikkeling van goeie, deurdagte sagteware en steun. Dat VONKK liedere gesing kan word, beteken vir baie gemeentes niks, aangesien daar nie uit die staanspoor aan elektroniese begeleidings daarvan aandag gegee is nie.
  • Net so raak kleure en simboliek in die erediens oordaad as daar nie duidelike begrip is vir wat dit beteken nie.

 

Betekenis en respons: dis die toets vir geslaagde liturgie. 

 

Werklike respons kan net met afwisseling slaag. Afwisseling vereis nie altyd nuwe liturgieë nie, maar dat bestaande elemente inhoudelik opgevars word.

 

Liturgie is die ruggraat van die erediens, maar as die samehang van die liturgiese boustene kortkom, begin en eindig die erediens met die preek.  As die preek in die erediens alleen staan, gaan dit as òf “mooi” òf “vrot” geoordeel word, en wee die predikant wat min by “mooi” uitkom.  Aanbidding in die erediens is daarmee vergete.  ʼn Erediens waarvan die liturgie nie in ʼn sinvolle geheel saamsê wat vandag gepreek word nie, is nie erediens nie.

Dit gaan in erediens om hoe wat daar gebeur, by jou uitkom.  Oor hoe dit jou raak.  Oor wat die erediens jou van God vertel.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s