Om jou kind te vergeet, en jou Pa te leer ken. . .

Jesus word groot.  Maar van sy kinderdae weet ons bitter min. Nuuskierigheid het gelei tot allerhande stories oor hoe sy kindertyd kon gewees het, maar daai goed sit als in die apokriewe.  Nie een van hulle het dit gemaak tot in die Bybel nie.  Ons leer dat die evangelies ʼn unieke literatuursoort (of genre) is.  Die idee is nooit om ʼn biografie oor die lewe van ʼn interessante persoon te gaan skryf nie.  Daarom is hier geen beheptheid met sy kleuter- of tienerjare nie.  Ons ontmoet Hom eers weer op ongeveer 30.  Die evangelies gaan oor God.  Jesus is God.  Die fokus is op wat Jesus doen wanneer Hy as God optree.  Die evangelies is bedoel om ons in God en in Jesus Christus te laat glo.

Lukas 2 verse 21 tot 24; 36 tot 52

8 Januarie 2017, NHKA Kampersrus

Epifanie

Skyfie: Om jou kind te  vergeet en Epifanie.

TOETREDE

Predikant

Jesus word groot.  Maar van sy kinderdae weet ons bitter min. Nuuskierigheid het gelei tot allerhande stories oor hoe sy kindertyd kon gewees het, maar daai goed sit als in die apokriewe.  Nie een van hulle het dit gemaak tot in die Bybel nie.  Ons leer dat die evangelies ʼn unieke literatuursoort (of genre) is.  Die idee is nooit om ʼn biografie oor die lewe van ʼn interessante persoon te gaan skryf nie.  Daarom is hier geen beheptheid met sy kleuter- of tienerjare nie.  Ons ontmoet Hom eers weer op ongeveer 30.  Die evangelies gaan oor God.  Jesus is God.  Die fokus is op wat Jesus doen wanneer Hy as God optree.  Die evangelies is bedoel om ons in God en in Jesus Christus te laat glo.

Hierdie geloof in Jesus wat tegelyk ook God is, gebeur nie sommer eensklaps nie.  Moontlik nie eers met Jesus self nie, maar daaroor gaan ons nie spekskiet nie.  Ons praat daarom vandag weer oor ons eie groeiende gewaarwording dat God met sy volle wese in Jesus lewe.  Dis Epifanie in ons kerklike jaar.

Sang (Sit)

Ons sing om te begin ʼn Psalm wat eintlik vir Dawid en sy koningskap geskryf is.  Maar strofe 2 kon net sowel op Jesus betrekking gehad het: Die hemelinge loof God met ʼn heilige ontsag.  Dan, in strofe 8, kom God aan die woord en Hy sê:  Dawid roep My as sy God en as sy Vader aan.  Ons gaan vandag lees hoe Jesus vir die heel eerste keer van God sy Vader noem.

Skyfie: Pasga

Psalm 89 strofes 2 en 8

passover-1Israel het hulle eie “Geloftefees”.  Hulle noem dit Pasga.  Ons ken dit as Paasfees.  Hulle vier daai nag in Egipte dat hulle die Paaslam moes slag en die lam bloed aan hulle deure moes smeer.  God het daardie nag al Egipte se eersgebore seuns laat sterf.  In huise waar die lam se bloedstreep aan die deure was, het Israel se kinders die nag oorleef.  Teen ligdag sou die Farao hulle jaag.  Dit was die een fees waarvoor al wat leef en beef Jerusalem toe gekom het.  Josef en Maria en die dertienjarige Jesus sou ook. Psalm 80 is moontlik by sulke geleenthede gesing.  “U het vir ons ʼn land berei, ons uit Egipte uitgelei. . .”  Ek vermoed dat die laaste woorde van die Psalm, dat die Here dit weer met hulle moet laat goed gaan, en weer as hulle redder moes verskyn, vir die volk onder die juk van Romeinse oorheersing, nogal na aan die hart kon gelê het.

Sang (Sit)

Psalm 80 strofes 3 en 6

TOETREDE

Ouderling

Toetredelied (Staan)

Kom ons hou vol met die engelekoor se Kersfeesliedere. Ons toetredelied loof die God van die hemel wat op aarde as die Verlosser sy verskyning kom maak het.

Gesang 359 strofes 1, 2, 3 en 4

TOETREDE

Predikant

Votum

14      

Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.

Romeine 8 vers 14

Seëngroet (Staan)

15      

Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.

16      

Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.

Romeine 8 vers 15 en 16

AANBIDDING EN LOF

Ouderling

Sang (Staan)

Kom ons sing saam oor Jesus wat self ʼn kind was, en Hom deur kinders laat vind.

Gesang 538 strofes 1,2 en 3

Skyfie: Die wil van God

Die wil van God (Sit)

Toe God aan Israel belowe het Hy sal vir ewig hulle God wees, het Hy gesê hoe Hy wil hê hulle nou uit dank moet lewe. Dit geld nou nog vir ons ook.  Dis tragies dat ons juis hier leer hoe sondig ons is.  Luister hoe ver skiet ons tekort.

Eksodus 20, die Wet van God:

1        

Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:

2        

“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.

3        

Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4        

“Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie.

5        

Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat,

6        

maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7        

“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8        

“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.

9        

Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet,

10      

maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie.

11      

Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12      

“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

13      

“Jy mag nie moord pleeg nie.

14      

“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

15      

“Jy mag nie steel nie.

16      

“Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie.

17      

“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Skyfie: Genadeverkondiging

Genadeverkondiging (Sit)

Dis met skaamte, dan, dat ons voor God verskyn.  Maar luister nou mooi wat Jesus in Matteus 25 sê vir mense soos ons, mense wat opgehou hoop het dat daar vir ons iets goeds in die wêreld oorgebly het.

Matteus 25

34      

Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, . . .          

Sang (Staan)

Ons is skuldig.  Ons is sondig.  Maar God gee ons ʼn erfenis wat ons ons nie kon indink of verbeel nie.  Die koninkryk van die hemel wat van die skepping van die wêreld af al vir ons bedoel is. Kom ons sing

Gesang 540 strofes 1.

Geloofsbelydenis (Bly staan)

Kom ons bely ons geloof in God wat alles, die jaar en ook vir ons, nuut maak.

Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,

dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

die opstanding van die vlees en

ʼn ewige lewe.

AMEN

Sang

Kom ons bely dat ons by God vas staan en veilig voel.  Ons toekomsdrome, strewe, wense, alles is by Hom seker. Kom ons sing

Gesang 502 strofes 1, 2 en 3

AANBIDDING EN LOF

Predikant

Ons sing vandag in ons gebed.  Vroue kan saam met die manne opstaan vir die hele gebed, of opstaan net vir die liedere, of tydens die liedere ook bly sit.

Gebed (Staan)

Sang (Staan)

Gesang 502 strofe 4

Sang (Staan)

Gesang 502 strofe 5

Sang (Staan)

Gesang 503 strofe 1

VERKONDIGING

Predikant

Skriflesing (Sit)

Skyfies Lukas 2

Lukas 2 verse 21 tot 24  (Bladsy 83 van die Nuwe Testament)

Ons lees vandeesweek weer ʼn stukkie van verlede week se Skriflesing.  Ons begin weer by toe Josef en Maria hulle Seun na die tempel in Jerusalem toe gevat het.  Dan beweeg ons aan na Anna, en na daai vreemde Pasga op 13.

22      

Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel.

23      

In die wet van die Here staan immers geskrywe: “Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.”

24      

Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik “’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.” vir die gebruiklike besnydenis. Jesus was toe agt dae oud.

36      

Daar was ook ‘n profetes, Anna, ‘n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood

37      

het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid.

38      

Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het.

39      

Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret.

40      

Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

41      

Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan.

42      

Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees.

43      

En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het.

44      

Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle ‘n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het.

45      

Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom.

46      

Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra.

47      

Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde.

48      

Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”

49      

Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”

50      

Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie.

51      

Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig. Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.

52      

En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.

Oor die Woord van God wat ons nou weer gelees het, skryf 1 Johannes 1

Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe.

Sang (Sit)

Jesus Christus is my hoop, my koers.  Hy gee aan my lewe sin en waarde.  Ons kan met Jesus nuut begin. Kom ons sing dit uit

Gesang 503 strofe 2

Preek (Sit)

 

Skyfie: Al ooit jou kind vergeet?

Hoe dit gebeur dat mense hulle kinders op die strand vergeet, weet ek nie, maar dit gebeur.  Die Eersteminister van Brittanje het eendag hulle baba in ʼn kroeg vergeet.  Ek het al.  Ek het vergeet om hulle by die skool te gaan haal.

Jesus is ook so gelos.  Hy was 13. Sy ouers het gedink Hy is seker maar iewers tussen die mense in die reisgeselskap.  Hulle was ʼn groot groep familie en vriende wat saam Jerusalem toe is vir die Paasfees, en hulle het die pad terug Nasaret toe kuier-kuier aangepak.  Eers aan die einde van die dag se trek, toe Hy nog nie by hulle uitgekom het nie, besef Josef en Maria Hy is weg.

(Durf ons hiervan aflei die jong Jesus was ʼn seun wat graag en gemaklik geselsies aangeknoop het?  Lekker kuier?  Kon Hy toe al kopstukke praat en by diep gesprekke betrokke raak? En dat sy ouers Hom geken het as ʼn onafhanklike knapie wat nie veel oppas nodig gehad het nie?  Wel, hier is nie sprake van verwyt oor sy ouers se onverskilligheid nie. Dis asof die seun se sosiale vaardighede veronderstel word.)

Hulle is terug Jerusalem toe.  Dis voor selfone, en dit vat die stomme twee mense drie dae se angstige gesoek voor hulle Hom opspoor.  Hulle vind Hom in die tempel aan’t gesels met geleerdes wat verdwaas staan oor sy leergierigheid, want Hy vra hulle uit en luister aandagtig, en verbaas hulle met sy eie insig en antwoorde.

As jou man laat by die huis kom, en hy het nie laat weet nie, of as jou kleuter soek raak in ʼn winkel, is jy meer vies as vriendelik as jy hom kry.  Dis sy ma, nie Josef nie, wat Hom roskam.  “Waarom het jy so met ons gemaak? Ons het angstig na jou gesoek.”

Was Jesus roekeloos?  Was Jesus ongevoelig?  Was Hy onbedagsaam?  Of het Hy bloot besluit, toe Hy agterkom sy mense is skoonveld, wel, die logiese plek om My te kom kry, is in die tempel.  Dis waar ons fees gevier het, dis waar hulle My eerste sal kom soek.  En terwyl Hy wag dat hulle Hom daar moet kom haal, woon Hy sommer die kategese by.  Dis dalk wat Hy bedoel as Hy sê: Hoekom die paniek, hoekom die gesoek?  U weet mos Ek sou hier by my Vader se huis kom skuiling soek, en veilig wees.   Verstandig van Hom, sou ek sê.

Skyfie: Wat weet Jesus op 13?

Maar in die konteks van die Lukasevangelie, kry Jesus se woorde ook ʼn dieper betekenis.  En jy wonder onwillekeurig: Wat het Hy toe al, skaars 13, geweet van wie Hy eintlik is?  God is sy Vader, sê die dertienjarige dit vir die heel eerste keer. En Ek moet in sy huis wees, want dis mos waar Ek hoort, dan nie?

Waar kom Hy daaraan?

God kon Hom dit laat besef het.  Hy is immers self God die Seun.  Daar is ʼn eindelose debat oor hoeveel Jesus self geweet het van wie Hy werklik was.  Tot watter mate was sy verstandsontwikkeling die van ʼn vleis-en-bloed-mens en wat het Hy verstaan van Homself as God die Seun?  Daar is telkens sulke flitse van insig, aha-momente, epifanieë (openbarings), en de ja vu (herkenning) wat jou yskoud laat word.  Jy vermoed deurentyd Hy weet meer as enigiemand anders.  Maar dis ook duidelik Hy is volkome mens en nie ʼn “Superhero” (ʼn Spiderman, Batman of Captain America) nie.  Ook Jesus se eie gewaarwording van Homself en van sy unieke band met die Vader, groei – so lyk dit – geleidelik.  God werk met Hom nes met ons.

Maar Jesus sou ook baie hiervan by sy ouers, en uit die Bybel geleer het.

Skyfie: Die Wet en die Profete

Jesus staan gewortel in die Ou Testament, of die “Wet en die Profete”, soos wat Jesus-hulle dit in sy tyd genoem het.

Sy naam kom uit die Ou Testament uit:  Jasua, dalk Jesua (of Josua, soos ons dit in Afrikaans ken, of Jesus, na aanleiding van die vergrieksing daarvan – ons hou by “Jesus” juis om Hom van Josua die rigter te onderskei.  In Israel is daar baie Jesuas. As julle ooit in die Filippyne kom, of die Latyns-Amerikas, gaan julle miljoene Jesusse met die hand kan groet. In Afrikaans is hulle skaars, maar daar is geen wet daarteen dat jy jou kind so kan doop nie.) God red, dis wat sy Naam beteken.  Wát ons Hom noem, is nie so belangrik soos wat Hy dóén nie.  En dat ons weet met wié ons te doen het, is baie belangriker as om Hebreeus te begin brabbel.  Gabriël maak seker ons weet van beide:  Jesus is God (Ja-) wat red (-sua). (Voeg dan daarby, net omdat ek hieraan ʼn broertjie dood het, dat Paulus sê hy wat Paulus is, vir Jode Joods en vir Grieke Grieks word, vir mense onder die Wet, soos een onder die Wet, en vir mense sonder die Wet, soos een sonder die Wet, en God word God mens met ʼn lyf, nés mense en vír mense. . . Hoeveel nader moet God nóg kom?  Hy verstaan nie net Arabies soos Allah en sy Mohammed nie.)

Jesus was Joods.  Is God Joods?  Nee, sy volk is Joods.  Sy Seun word ʼn Jood.  Jode kom die Wet na.  Sy ouers is stoere Jode.  Hier word oor en oor na die Wet verwys.  Kom dit by waar hulle as burgers geregistreer en getel wil word, gaan hulle met moeite Bethlehem toe.  Hulle hou by reinigingsgebruike sonder om te besef hoe ironies dit is.   Vroue word onrein, nie na gemeenskap of met bevrugting nie, maar met geboorte.  Daar is reëls vir ma’s se terugkeer kerk toe.  Jesus se ma, ʼn maagd tot en met sy geboorte, is na sy God die Seun, die Allerheilige, in die wêreld gebring het, in terme van die Wet, sogenaamd “onrein”, nie meer heilig nie.

Jy sien, ons reëls werk sommer uit die staanspoor nie vir Jesus nie.  Sy ouers, Josef en Maria, weet dit nog net nie.  Hulle kom dit nog nie eers agter nie dat hulle Seun, Hy wat Jesus is, God die Seun, laag buig van die nederigheid.  God weet.  God verneder Hom.

Hy word besny.  Hy ontvang, asof uit genade en in ooreenstemming met die Wet, die teken van die verbond met God.  Hy is self God en die Een wat nie net die verbond maak nie, maar dit in stand hou en juis nou weer kom om dit van totale ondergang te red.  Oftewel, die mense te red wat die verbond minag.  Hy word besny asof Hy dit nodig het, maar eintlik om te wys dat Hy die verbond hoog ag.  Die besnydenis lyf Hom in die verbond wat God met Abraham het.  God is ook sy Vader, maar op ʼn geheelenal ander manier as Abraham. . .  Wat presies bedoel Jesus as Hy op 13 vir sy ma vra of sy dan nie weet Hy moet in sy Vader se huis wees nie?

In die tempel word Hy aan die Here gewy. Dat Hy self God is, gaan aan almal verby.  Die Wet van God maak nie voorsiening vir God wat mens word nie.  Dis hoe die Wet sê ʼn mens maak met eerstelingseuns: eersgebore seuns moes vir tempeldiens afgesonder word.  (My oupa wou ook van sy seun ʼn predikant maak, en het in die proses sy eerste en enigste seun verniel.)   Gelukkig, noudat die hele Levistam aan die tempeldiens gewy is, kon ouers hulle eerste seun van tempelwerk kom loskoop.  Josef en Maria doen dit nie: hulle het nie geld nie.  Jesus bly aan God se werk gewy.  Maar met twee voëltjies kom koop hulle vir die vrou wat vir nege maande God se Seun in haar baarmoeder gehuisves het, die reg om weer haar voete in God se tempel te mag sit.  Die Wet vereis dit.

Maar Jesus bly aan God gewy.  Is dit hoekom Hy effens verbaas is as sy ouers Hom vir drie dae die hele Jerusalem vol soek sonder om by die logiese plek ʼn draai te maak: in die tempel.  Hy is tog steeds aan God se diens gewy, dan nie?

Jesus breek nie ʼn enkele een van die Ou Testament se wette nie.

Toe Jesus eers kon praat en vrae vra, selfs op 13 al, trek wat Hy sê aandag onder die skrifgeleerdes, die Joodse kenners van die Wet.  Maar Hy verstom op ses weke al vir Simeon en Anna.  Met Simeon en Anna het die Gees gepraat, al kon Jesus nie.  Twee mense wat van iets getuig, so bepaal die Wet, bevestig die waarheid.  Beide getuig Jesus is Israel se Verlosser.  Die een ʼn man, die ander ʼn vrou.

Lukas noem die vrou, Anna, uitdruklik ʼn profetes.  Lukas impliseer die hele Wet en die Profete (met hoofletters Wet en Profete), die Ou Testament dus, die Bybel,  getuig Jesus is die Here.

Nie net die nakoming van die wette en die geesdriftige getuienis van twee profete nie, alles tot hiertoe dui daarop.  Jesus is Israel se Messias, mense se Verlosser.   In Jesus het ons met God te doen. Hy kom ons verlos.  Die Wet en die Profete getuig van Hom, maar die Wet en die Profete is ook oorweldig.  Hy is bo selfs hulle vuurmaakplek.  Met geen harsinggimnastiek kry jy vir Jesus in die wette van die Wet en die verwagtinge van die Profete lekker ingepas asof die Wet en die Profete reeds alles weet en sê wat oor Hom gesê en geweet kan word nie.

Hoe moes sy ma dit weet toe sy paniekbevange Jerusalem vir Hom deursoek het?   As nie eers die Wet en die Profete Hom kleinkry nie, hoe moet sy?  Sy wat haar seun in Jerusalem vergeet het?

“Waarom het u na My gesoek?”, vra Hy.  Asof om te sê, Toemaar, ma, dis darem ook nou nie ʼn treinsmesj nie. Of selfs dalk:  Julle moes geweet het Ek sou hier wees.  “Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”

Skyfie: My Pa

Van die vergeet, van agtergelaat te word deur sy ouers, ontmoet Jesus sy Pa.

Sy “Vader wat in die hemel is.”

“Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het,” jubel Hy.

“My Vader het alles aan My toevertrou. Niemand weet wie die Seun is nie behalwe die Vader, en wie die Vader is nie behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil bekend maak.” So na is hulle aan mekaar, Vader en Seun.

Jesus leer Hy het ʼn Vader wat beter is as net ʼn pa: “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”

Bekommer nie meer nie, “julle (en Ek) het ‘n Vader wat weet dat julle dit nodig het.”

“Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.”

Ons weet nie wat Jesus alles geweet het nie.  Maar alles dui daarop Hy het genoeg geweet om te verstaan wie God is, dat God sy Vader is.  Hy sy Seun.

En dat aan Hom, die Seun die mag gegee is om oor die eiendomsvolk van God se lot te beskik.  “Net soos my Vader ‘n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek ‘n koninkryk aan julle. . .”

“En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur.”

Hy het dit dalk nog nie alles op 13 al mooi agtermekaar gehad nie.  Dalk voel Hy hierdie Pasga in Jerusalem tuis want Hy weet nog nie dat Hy die Paaslam gaan word nie?  Dat sy bloed aan die kruis gesmeer gaan word om die dood van Israel te keer nie? Dat Hy nog die Paaslam gaan word, nie? En miskien besef Hy ook nog nie dat dit sy Pa is wat Hom gaan offer nie? Maar op 13 pas  Hy gemaklik in.

Skyfie: Ons Vader vat oor waar pa’s en ma’s faal

Sy pa en ma het Hom so bietjie vergeet.  Hulle was nie slegte ouers nie.  Sy ander Pa het net vir ʼn wyle sy opvoeding oorgevat.  Jesus het in God se huis tuisgekom.  Hy het sy Pa gevind.

Ons gaan ook. God het baie ander maniere om dit met ons reg te kry.  En Hy gaan.  Hy gaan nog met ons almal bladskud, hierdie Jesus, Christus, God die Seun.  En ons voorstel aan sy Pa, ons Vader. Intussen is ons hier in sy huis sodat niemand ons hoef te soek nie. Hier is waar ons nou moet wees.

Amen.

WEGSENDING

Dankgebed, Voorbedes (Staan)

Slotsang (Staan)

Jesus, ons hoop, ons hede, ons toekoms. Ons aanbid Hom.

Gesang 503 strofe 3

Seën (Staan)

Ontvang die seën van die Here uit Psalm 100.

3        

Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde.

Respons (Staan)

Psalm 100 strofe 2 (tweede melodie)

Insameling van die dankoffers/orrelspel

Advertisements

2 thoughts on “Om jou kind te vergeet, en jou Pa te leer ken. . .

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s