Skokkend vinnig of langsaam lydsaam?

Ernst is skielik dood.  Sommer nog jonk en (op die oog af) gesond.  Toe ek met Henriette praat, sê sy dis ʼn skok, maar ook ʼn seën, as dit so vinnig gebeur:  Daar’s nie lyding nie.

 

Dis natuurlik waar.  Ons is dalk nie vir dood bang nie, meer vir doodgaan. Die vooruitsig van lyding is vir nie een van ons aangenaam nie.

 

power-button2My kanker is nie naastenby terminaal nie.  Maar as mens eenmaal met die “Groot K” kennisgemaak het, is om daaraan te beswyk, ʼn wesenlike moontlikheid en is lyding waarskynlik.

 

Oom Anton het kanker gekry.  Omtrent ses weke later het ek hom begrawe.  Hy het nie lank gely nie.  Dog, dit troos my nie juis nie.  Seer is seer, en swaar vat jy nooit ligtelik op nie.  Ses weke is oorgenoeg tyd om regtig swaar te kry, en hy het.  Maar wat in daardie ses weke met my gebeur het, het my nuwe perspektiewe gegee wat toe al, maar nou eers, noudat ek my eie sterflikheid moet erken, my uitkyk op lewe en doodgaan rig.

 

Oom Anton was gelowig. Onwrikbaar gelowig.  Maar op ʼn stil en rustige manier.  Hy was nie opdringerig nie, net vreedsaam oortuigd en gemaklik versekerd.  Dit het bepaal wie hy was.  Hy was ʼn gentleman soos ek nog nooit weer teëgekom het nie.   (Met die uitsondering, dalk, van oupa Willie, noudat ek daaraan dink.) Hy het gegrens aan oordrewe-nederig, maar dit was doodgewoon wie hy was, nie ʼn aansittery nie.  Altyd respekvol.  Oom Anton was galant, ʼn heer.  Hy het met ʼn eerbiedige buiginkie gegroet, jou in die oë gekyk – deur dik visooglense – en altyd vriendelik geglimlag.

 

Jy kon hom deur ʼn ring trek: netjies, versorgd, glad geskeer; deftig, byna nooit sonder onderbaadjie by sy kerkpak nie, sy swart skoene altyd blink (ek let op na skoene).  Sondae het hy sy Hervormde Kerk-das gedra, en kiertsregop in die ouderlingsbanke gesit. Dit was sy trots en sy erns.

 

Oom Anton was sag.  Sag maar solied. Hy het sag gepraat, sagkens met mense gewerk en saggies in die agtergrond sy plek volgestaan.  Hy kon sy plek volstaan want hy was ʼn rots; jy kon op hom reken.  Daar was innerlike krag, en buitengewone selfdissipline.  Hy kon homself handhaaf sonder groot vertoon.  Oom Anton het geskyn.  So geskyn dat jy hom nie kon miskyk of vergeet nie. Hy was halfblind, maar versiende, en wakker.  (Selde was die woord “wakker” so gepas om iemand te beskryf!) Hy het nie nodig gehad om geraas te maak nie.  Hy was buitendien doof, sodat ʼn lawaai hom ook nie sou beïndruk het nie.  Hy was ʼn steunpilaar, hy het die praktyk van geloof verstaan.

 

Hy was eerlik, taktvol en altyd tot hulp gereed.  Dis hoe sagte mense is.

 

Hy was ʼn bondgenoot, rugsteun, klankbord.   Dis wat gelowiges doen.

 

Hy was georganiseerd, sy lewe en sy werk haarfyn beplan. Dis hoe sterk mense maak.

 

Hy was Hy was skriba vir registrasie, ʼn baie puntenerige skriba vir registrasie.  Sy inskrywings was akkuraat en duidelik, sy liassering foutloos.  Maar ek vermoed alles waaraan hy sy hand sou slaan, sou hy so aanpak en afhandel.

 

Want dis hoe hy gesterf het.

 

Hy is bly oor die ses of so weke (die dokters het hom gewaarsku – hulle doen dit nou nie meer nie).  Hy kan alles in plek sit.  En hy het.  Hy het seker gemaak daar is niks uitstaande of onklaar nie.  Hy het my die registers laat vat en uitstaande inskrywings aan my verduidelik. Hy het sy boedel agtermekaarkry en seker gemaak tannie Elise is voor gesorg.  Die kinders kon kom groet. Hy is geseënd, het hy gesê.

 

Ek het hom nie een keer gehoor kla nie, want hy het nie. Hy was dapper.

 

Ek het my by die begrafnis verwonder aan tannie Elise se berusting.  Sy was taai, maar sy het ook kon getuig daarvan dat oom Anton haar hierop voorberei het.

 

Vinnig en sonder lyding, of lydsaam en met tyd: Dis ʼn vraag watter een van die twee verkieslik is.  Ek sou nie vooraf wou besluit nie.  Maar ek dink dat wat ek hieruit leer, is dat hoe jou lewe lyk, die deurslag gee by hoe jy jou eie einde nader.

 

Maandag, 1 Januarie, as die blink nuwe jaar vir almal anders daag, neem ons hier van Ernst afskeid.  My eerste begrafnis in Kampersrus.  Vir Carol en die kinders begin die jaar leër as laas.

 

Ek moet nog ʼn rekening vereffen voor ek my die luukse kan gun van weer vir ʼn rukkie my eie einde te vergeet.  Maar ek het mos by die bestes geleer.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s