God én mens: Roereier.

Daag God onder ons op, stuur ons Hom stal toe, ʼn plek wat nie geskik is vir mense om in te woon nie en nog minder gepas is vir geboorte skenk.  Seker darem net ʼn raps vuiler as ʼn kraamsaal in ʼn staatshospitaal, nè?  Dis gerusstellend.  Hy moes vooraf gegoogle en plek bespreek het.  Nou het ons regtig net nie vir Hom ander plek nie. Behalwe natuurlik as onsself verontrief en ons eie bed opgee dat Hy gemaklik kan wees?  Nee, geen bankslapery, kermisbed of opblaasmatras in die sitkamer nie.  Sit Hom by die diere. Dis tog skuiling, wat meer wil Hy hê?  Dis nou nie vyfster nie, maar dit is die beste wat ons bereid is om te aan te bied. Hy moenie kom kla nie.

Lukas 2 verse 1 tot 20

Filippense 2 verse 6 tot 11

25 Desember 2016, NHKA Kampersrus

Kersfees

TOETREDE

Predikant

Toetredelied (Staan)

God word mens.  Die Kind wat vandag in Bethlehem gebore is, is God.

Gesang 365 strofes 1, 2 en 3 

Tydens die lied steek tannie Anna die Adventskerse aan.

Stilte (Staan)

Staan in stilte, in eerbied voor God wat mens geword het.  Aanbid Hom.  Hy is jou Verlosser.

Votum (Staan)

Genesis 2 vers 23

Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek.”

Seëngroet (Staan)

Matteus 19 vers 28

Jesus antwoord hulle: “Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer.

AANBIDDING EN LOF

Predikant

Sang (Staan)

Kom kyk hoe blink die Môrester, Jesus, die Christus.  Hy is ons Here, ons Lig, en ons Lewe.

Gesang 372 strofes 1 en 2

Gebed (Mans staan): Skuldbelydenis en genadeverkondiging

Sang (Staan)

Moenie dat dit aan ons verbygaan nie, dat God in ons mense ʼn welbehae het.  Dit beteken God hou van ons, bedoel dit met ons goed.  God skryf ons hoog aan, ag ons waardevol.  God het ons lief.

Gesang 367

VERKONDIGING

Predikant

Skriflesing (Sit)

Lukas 2 verse 1 tot 20

1        

In daardie tyd het keiser Augustus ‘n bevel uitgevaardig dat ‘n volkstelling in die hele ryk gehou moet word.

2        

Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië.

3        

Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe.

4        

Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het.

5        

Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word.

6        

Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word.

7        

Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

8        

Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.

9        

Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik.

10      

Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.

11      

Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!

12      

En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.”

13      

Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:

14      

“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”

15      

Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.”

16      

Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê.

17      

Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is.

18      

Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het.

19      

Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink.

20      

Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.

Sang (Sit)

Op een stil nag, het die Lig uit Lig uit die Vader se ryk by ons aangekom.  God word aan mense gelyk. God word ʼn mens. Hy is nes ek en jy.

Gesang 348 strofes 1 en 2

Skriflesing (Sit)

Filippense 2 verse 6 tot 11

6        

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,

7        

maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het,

8        

het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

9        

Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,

10      

sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig,

11      

en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.

Sang (Sit)

Sien raak, as ons nou weer sing, hoedat Jesus Christus, God en Heer, Koningskind en self die Koning van die groot heelal en Regter van alle mense, in ʼn stal vir diere gebore word en in ʼn voerbak lê.  Teenoorgesteldes met wrang ironie kom teenoor mekaar te staan.  En dis alles verbysterend, byna ongelooflik, tegelykertyd waar.

Gesang 350 strofes 1,2 en 3

Preek (Sit)

Ons vier die onmoontlike.  Kersfees is onmoontlik. Onmoontlik om na te maak, en onmoontlik om ongedaan te maak.

God is gans anders.   

Daar is nie ʼn manier dat in ons denke of verbeelding God ʼn mens kan word nie.  Behalwe as ons geen idee het van wie God is nie.  God is anders, gans anders as ons, so anders dat ons belangrikste belydenis is dat wat ons nou nog van God weet, steeds ʼn raaisel is soos die omgekeerde beeld in ʼn spieël.

Oor God dink ons Hebreeus-Midde-Oosters, en nie Grieks-Westers nie.  Toe Moses die dag vra: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!”, sê God: “Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” Dan tref God met Moses die reëling dat Hy hom in ʼn rotsskeur sal sit en vir Moses met sy hande sal toemaak totdat God by die rotsskeur verby is.  Dan sal God sy hande wegvat dat Moses Hom van agter kan sien. “Niemand mag my gesig sien nie.” sê God.  Mens en God is soos olie en water: hulle meng nie.

En hierdie Kind dan, Hy wat in Bethlehem in ʼn stal lê?  Wie is Hy? Wat is Hy?  Mens of monster?  God? Regtig? Dieselfde God as die God van Abraham, Isak en Jakob, en die God van Moses? Die Een wat met Moses wegkruipertjie gespeel het? Kan dit?  Want kyk, as Hy is, het Hy daarin geslaag om alles hier te kom deurmekaarkrap.

Hoe dan?

Die waarheid is dat geen van ons hipoteses of teorieë oor hoe die werklikheid werk, verduidelik kry wat hier aangaan nie. Dis nie meer net ʼn biologiese knoop van ʼn maagd wat ʼn kind kry nie.  Ons het hier te make met ʼn kosmiese enigma.

God maak roereier: Hy roer die hemel en die aarde deurmekaar.

Die hemel en die aarde raak deurmekaar.  “Ope velde” kry ʼn hele nuwe betekenis.  Die hele heelal word skielik oop en bloot staangemaak op die velde rondom Bethlehem, en dit lank voor teleskope. ʼn Stal tol skielik om ʼn ster.  Engele kom kuier gesellig by herders en hulle skape, en sing kersliedjies in kore.  Al’s wat ons nog kon dink of van kon droom, vloei inmekaar, raak deurmekaar, ʼn roereier waarin jy nie meer hemel en aarde kan ontrafel nie.

Is jy skepties oor die hemel, gaan jy jou eie wêreld nie meer kan kop nie.  Hier loop gans te veel engele los rond. As jy die wêreld vervloek, gaan jy ook nie meer so baie van God hou nie.  God se vriendelike verklaring van welbehae in mense is vir jou een te veel.

Dis ʼn gemors. Jy kry die werklikheid nie meer ingepas in die netjiese, ordelike liasseerstelsels van jou brein nie. Daarom is daar baie mense wat sê hierdie is net ʼn stap te ver, en ʼn sprokie vir kinders.

Kom ons kyk of ons kop of stert hiervan kan uitmaak.

God die Seun word mens. Jesus is God.

Kom ons begin by die romantiese storie wat ons dié tyd van die jaar orals hoor.  Dis die storie van ʼn swaar swanger meisiekind en haar ordentlike verloofde wat daarmee vrede gemaak het dat hy iemand anders se kind sal grootmaak, net sodat sy die skande gespaar bly.

Maar oor sy afstamming gaan die beginselvaste jongman nie onderhandel nie: as die keiser hom wil tel, sal die staat hom as Dawid se familie moet registreer, al verg dit van sy verwagtende vroutjie om voet te slaan Bethlehem toe.  Daar is sy tuisland.  Geen wonder dan dat, skaars daar aangekom, sy dadelik geboorte skenk nie.  Sy moet noodgedwonge in ʼn stal kraam, want daar is nie plek in die herberg nie.  Want al wat ʼn familielid van Dawid is, voel ewe sterk oor hulle bloedlyn, en die plek is gepak soos Durban se Suidstrand.

Dan kom daar vreemdelinge aan die deur klop.  Skaapwagters.  Glad nie gesiene mense nie.  Ouens soos karwagte wat niks anders kan doen nie.  Engele het glo op die ope velde kom konsert hou en hulle toe hierheen gestuur.  Nog later kom drie wyses op die rug van ʼn ster daar aan, met duur geskenke geskik vir ʼn nuwe koning.  Kan jy jou hierdie besoekers se verbasing indink?  Die Verlosser waarvan engele sing, die groot koning wat die sterre sou voorspel het, is ʼn plakker in ʼn plek wat net vir diere bedoel is.

Dis die storie.

 

Armoede laat jou gril.

Wat ons tref, is die armoede.  Die jong gesinnetjie is plakkers.  Nie dat dit ontstel nie.  Ons interpreteer dit dadelik as nederigheid.  Dis vreemd mooi.  Iemand het hoeka al gesê in swart-en-wit-fotografie is armoede ʼn kunswerk.

Daar is ook iets opwindends aan die storie.  Die tweetjies is soos hedendaagse rugsakreisers, jong avontuursoekers wat deur die wêreld toer en tevrede voel met sommer enige skuiling langs die pad.

Deur die bril van feestelike viering bekyk, word die toneeltjie in ons verbeelding Kerskaartjie-mooi.

Ons is mislei.  Dié dat die storie nie skok nie.  Wat fraai en vriendelik klink, is ʼn verleentheid, is vernederend eerder as nederig, afgryslik, ʼn gruwel.  Soos die eerste besoek van die familie aan die kraamsaal wanneer almal oe-en-a en om die aankomeling koer en die dalk halfdood ma se worsteling nie eers in die gedagte opkom nie.  So kleur ons die waarheid mooi tussen die lyne in.

Maar dis om van te gril.

Ons praat van hoe God in die wêreld opdaag.  God wat mens word. En dit lyk nie goed nie.

Tannie Kagie het verlede week iets gesê wat my aan die dink gesit het: een ma, het sy gesê, kan nege kinders grootmaak; nege kinders kan nie een ma in haar ouderdom versorg nie.  Wel, dis wat hier ook gebeur:  as God mense skep, maak Hy eers vir ons ʼn skepping gereed, ʼn skuilplek, ʼn tuiste.  Nie ʼn wildernis nie, ʼn tuin.  Nes ons gastekamers gereedgemaak het voor ons kuiermense gekom het.  Met sjokolades op die kussings.

Daag God onder ons op, stuur ons Hom stal toe, ʼn plek wat nie geskik is vir mense om in te woon nie en nog minder gepas is vir geboorte skenk.  Seker darem net ʼn raps vuiler as ʼn kraamsaal in ʼn staatshospitaal, nè?  Dis gerusstellend.  Hy moes vooraf gegoogle en plek bespreek het.  Nou het ons regtig net nie vir Hom ander plek nie. Behalwe natuurlik as onsself verontrief en ons eie bed opgee dat Hy gemaklik kan wees?  Nee, geen bankslapery, kermisbed of opblaasmatras in die sitkamer nie.  Sit Hom by die diere. Dis tog skuiling, wat meer wil Hy hê?  Dis nou nie vyfster nie, maar dit is die beste wat ons bereid is om te aan te bied. Hy moenie kom kla nie.

Jy sal sien, tannie Kagie, ʼn hele mensdom saam kan Hom nie versorg nie.

Die skande van al hierdie vernedering, gaan net te maklik aan ons verby.

Hier hou dit ook nie op nie.   Dit sou nooit beter word nie.  Hy sou altyd met agterdog bejeën word, beskinder en verdink word van duiwelswerk.  Nie vir ʼn enkele oomblik kry jy die idee Jesus is hier tuis nie.  Nooit voel jy Hy is veilig tussen mense wat dit met Hom net goed bedoel nie. Selfs sy dissipels gebruik Hom, sê Hom voor, raps Hom oor die kneukels, jaag die knaende gekerm wat soos sonbesies bedags en muskiete snags hulle tot raserny dryf, maar wat Hy skynbaar so na Hom toe aantrek, weg soos daai “dominee” met sy Doom. Hulle dring hulle aan Hom op oor wie van hulle die belangrikste is en die beste beloning verdien.  Slaap as Hy vra staan My by.

Maar al hierdie goed gaan oor hoe Jesus met ander mense, vriend en vyand, in verhouding staan.  Wat hier met Kersfees gebeur, gaan bietjie verder as dit.

Die geplak in ʼn stal, is die leidraad. En dis nie soos suur wyn op ʼn spons vir sukkelende armes nie, sodat mense met min moet beter voel oor hulleself nie.

Filippense gee die verklaring.

God én mens.  Maria se kind, én een in wese met die Vader

Vir God om met sy volle wese in die lyf van ʼn mens te wees, is die grootste van alle denkbare vernederings.  Daai liggaampie waarmee Hy in die wêreld inkom, is die ergste wat met God kan gebeur.

God wat ewig is, word tydelik, sterflik, broos, bang en kwesbaar.

God wat alomteenwoordig is, word beperk tot ʼn plek, ʼn tyd.  God is in boeie van vleis en bloed.

God wat heilig is en in heerlikheid lewe, lê in ʼn voerbak tussen iemand se rydiere en melkkoeie.

God wat almagtig is, is afhanklik, moet gevoer word, moet op mense reken om na veiligheid te vlug, ʼn ambag leer om te kan eet.

God wat geëer moet word, se geboorte word in gerugte toegeskryf aan skaamtelose wangedrag.  Sy ma was ongetroud, sy pa is nie een van ons nie. Sies, man!

Die stal.  ʼn Kersversiering?

Hoekom die stal? Wat maak die stal daar? Hoekom is die stal in die storie nodig?

Want ons het al vrede gemaak met ons lywe, sien. Ons skaam ons nie meer oor lyflikheid, oor seks nie.  Ons voel deesdae goed oor liggame en liggaamlikheid.  Ons het nou meer vrede oor wat eens seksuele sondes was. Ons voel tuis in ons vel.

Maar al neem jy dit in swart-en-wit af, oor armoede voel ons nie gerus nie. Armoede is ons nagmerrie.  Die plakkerskamp is ons metafoor vir sleg.  Vir kwaad.  Vir boos. Vir die ergste wat met ons kan gebeur.

Nie my lyf nie, my lyf se haweloosheid is my grootste skande. Ek skaam my dat ek niks is nie oor ek niks het nie.

Dis wat ons moet raaksien van die stal.  Want dis wat God oorkom as Hy in Jesus in ʼn stal gebore word.  Sodat ons in 2016, ons wat oor ons lywe nou gemaklik voel, en oor gebrek aan geld slapelose nagte het, iets kan agterkom van hoe verskriklik die menswording van God is.

Jy kry nie jou Kersfees met ʼn stal versier nie.  Swart-en-wit gefotografeer of nie, armoede is erg. Ons Hervormers het ons voete daarvoor te plat op die grond. Ons raak nie daaroor dromerig romanties nie. Ons Hervormers is agterdogtig oor alle versierings, allerhande verfraaiings, oor foefies, oor simboliek.  Ons het ʼn voorliefde vir gestrooptheid, vir kaalte, vir onopgesmuktheid.  Ons kyk gewoonlik dwarsdeur die soort oëverblindery. Ons weet allerhande aanhangsels verdoesel die waarheid.

Kersfees is die beste voorbeeld vir hoekom ons so voel.  Die hele wêreld vier vandag Kersfees.  Nie net gelowiges nie.  Nie net die kerk nie.  Almal vier Kersfees feestelik, met mening, want die hele ekonomie hang daarvan af. En verbete, selfs met familie en skoonfamilie, want dis wat ordentlike mense doen.  Hulle vier sierlik, sonder brieke, peperduur. Maar min wat Kersfees vier, vier Christus. Die meeste mense vier die viering. Hulle is meegesleur deur die prag en die praal, die sprokiesagtige romantiek daarvan, die mooi woorde, die gawe idees van vrede en vriendelikheid. Dit word half desperaat gevier, want dis die tyd van die jaar dat jy die beste kans staan om daarmee te slaag.  Want hierdie is die een keer van die jaar dat jy dit alles met geld kan koop. En dis gou verby.

Maar ʼn stal is nie versiering nie.  Die beste boere treur oor hulle vee by ʼn veiling.  Maar nie een van hulle vat sy vrou stal toe vir die geboorte van hulle seun nie.

Gelukkig is hulle wat met Kersfees arm is, en nie geld het om met glans te vier nie.

geboortetoneelWat jy hier sien, is al vernedering genoeg!

Jesus Christus is God alreeds so vernederd dat ʼn stal nie juis méér skade kan aanrig of die skande daarvan kan vererger nie. Net sy mens se lyf is al erg genoeg.  Daai dierbare baba is van alle tye die afstootlikste openbaring van God.

Mag ons dan nie Kersfees vier nie, feestelik vier nie?

Onthou maar daar is ʼn baba in die badwater. Moenie vir Hom ook uitgooi nie.  Hierdie is nie ʼn tyd vir te strak wees nie. Daar is baie goeie rede vir ʼn fees. Dit is ʼn viering. Daar is nie fout met eet en drink en vrolik wees nie, met familie en vriende opsoek, met versoening en vredemaak nie, met geskenke of met kuier nie.

Want ons ontdek met Kersfees dat God Hom so verneder het om ons te verhoog.  Dit klink skrikwekkend na staatsbeleid om gelykheid te kry deur almal arm te maak.  Pasop vir daai strik.  Wat ons met Kersfees vier, is dat God se menswording my menslike liggaam, net hierdie vel en bene al, hierdie vleis en bloed en al die sonde waarmee dit besmet is, vandag goddelike waarde gee. In so ʼn lyf in, klim God, die ekwivalent van ʼn stal vergelyk met ʼn katedraal.  God leef in die pondok, dis sy paleis.  My verdierlikte liggaam, my stal, word God se woning, sy tempel, sy katedraal.

God trek in die wêreld in, in my in.  Hy kom om te bly.  God kom hier woon.  En die stal word die spil waarom die hemel en die aarde begin draai.

In my menslike lyf, in ons menslike armoede en nikswerd nietigheid, daar leef God.  Sy naam is Jesus Christus, die Here.  Daar in die stal, heeltemal sonder prag en praal en ooglopend goeie rede, buig herders en wyses voor ʼn baba.

Jy sien, God neem mense nie ligtelik op nie.  Hy weet dat ons stof is, maar ons is nie  nietig en afskryfbaar soos ons met arm mense maak nie. Omdat Hy ons hoog ag.  Omdat Hy in ons ʼn welbehae het. Omdat Hy nou ook een van ons is. En Hy is onder ons armstes.  Vir ons steek Hy hand op en sê stop, sodat Hy sy môrester vir ʼn wyle bokant ons koppe kan staanmaak sodat rykdom ons kan vind.

Dit is wat van Christus en die Christusfees nuut en anders is.  Dis wat dit die viering werd maak. Nie die versiering is waardevol nie. Nie waar en saam met wie ons kan bekostig om die fees deur te bring nie, nie wat ons met geld kan koop om op te dis, te eet en te drink nie, nie wat ons aantrek en kan bekostig om te gee, maak ons durend gelukkig nie.  Nie die familie- en vriendekringe wat dit saam met ons deurbring nie.  Ook nie eers die godsdiensgroep waar ons vandag aanbid nie. Dis alles versiering, aanhangsel, byvoegings.

God hou van jou

Wat waarde het, is wat Jesus se geboorte aan jou doen, die geskenk wat God jou in Jesus gee.  Jy is mens.  In die mens het Ek ʼn welbehae.  Ek hou van jou.  Ek het jou lief, sê God.  En dat dit waar kan wees, sonder dat die skande of die skaamte oor jou sonde dit verongeluk, is die Godswonder van daai stal in Bethlehem.

Die grootste wonder is dat “Ek is wat Ek is” (Moses se God, onthou jy?) nes jy wil wees.  Omdat jy, nes jy daar is, vir Hom kosbaar is. Ek is nou mens, sê God, nes jy.  Nes Paulus geprobeer het om te wees maar toe nie so goed kon regkry nie: Joods vir Jode en Grieks vir Grieke.  Ek is Immanuel, God hier by jou, mens hier saam met jou.  Ek is jou hele bestaan.  Jy ís ook.  Jy mag maar wees, want jy is Myne. Ek is jou Here. Jy is my kind, my beeld wat Ek geskep het en nou weer nuut maak.

God het nie aan sy goddelike bestaan vasgeklou en jou aan jou lot oorgelaat nie. Hy het sy goddelike bestaan prysgegee vir jou.  Hy het Homself verneder.  In die gestalte van ʼn slaaf, ʼn arm mens, ʼn skandbevlekte verstoteling, ʼn plakker in ʼn pondok, was Hy hier.  Aan mense gelyk.  Selfs verder het Hy Hom verneder: ʼn vervloekte aan ʼn kruis, en ʼn mens wat sterf. Daarom het God Hom nou tot die hoogste eer verhef. Elkeen wat in die hemel, op die aarde en onder die aarde is buig voor Hom die knie. Elke tong bely Jesus is die Here.

God daag in ons wêreld op as ʼn mens.  Een soos ek, sê ons Adam agterna. Jesus Christus, God-mens.  Daai mens is nou in die hemel, aan die regterhand van God, self God. God én mens. En wat God saamgevoeg het, sal niemand skei nie.  Roereier.

Roereier is op min van ons se spyskaart vandag.  Maar dis dalk die een gereg wat ons moet opdis.  ʼn Mengsel van hemel en aarde, van God en mens.  Deur God geroer, deur God bymekaargevoeg en geen mens weer uitmekaar kan haal nie.  Jy het ʼn hele nuwe wese, ʼn hele nuwe goddelike bestaan.  Jou stal is God se koninkryk.  Jou lyf, sy katedraal.  Moenie op jouself neersien nie. Moet Christus nie minag nie.  God het besluit om met sy volle wese in ʼn mens te woon.  En met sy Gees ook in jou.

Kersfees is onmoontlik.  Die onmoontlike het die werklikheid geword.   God is nou mens. Halleluja en Amen.

Sang (Staan)

Gesang 351 strofes 1 en 2

VERKONDIGING

Ouderling

Geloofsbelydenis (Bly staan)

Kom ons bely ons geloof staande in die Een en Enigste God wat ook mens geword het en steeds mens is, wat heers van die Vader se regterhand af en wat in ons mense ʼn welbehae het en ons die goeie in oorvloed gun.

  • Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;
  • en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;
  • God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;
  • deur wie alle dinge ontstaan het;
  • wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;
  • en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;
  • wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;
  • wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het; wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;
  • en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.
  • Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.
  • Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;
  • ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu.

AMEN

Sang (Staan)

Kom ons bevestig ons belydenis van geloof met ʼn lied wat hosanna sing oor die geboorte van Jesus, maar Hom ook in verband bring met sy kruisiging, sy oorwinning oor die dood, en sy ewige koningskap. Kom ons sing

Gesang 370 strofes 1,2 en 5

WEGSENDING

Ouderling

Die Wet / Wil van God (Sit)

Hoor wat God in Jesus Christus doen.  Gaan gee vandag gestalte aan die wil van God soos dit in Filippense 2 geskryf staan.  As ons glo wat God in Christus met ons vermag het, as ons werklik dankbaar is vir hierdie Kind, is dit wat ons sal doen.

5        

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:

6        

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,

7

maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het,

8        

het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

9        

Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,

10      

sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig,

11      

en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.

12      

. . Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe,

13      

want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.

14      

Doen alles sonder kla of teëpraat.

15      

Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld

16      

deur die woord van die lewe uit te dra. Dan sal ek op die dag van Christus se koms rede hê om trots te wees, omdat dit sal blyk dat ek my nie verniet ingespan het nie en nie verniet geswoeg het nie.

17      

Julle geloof is ‘n offer in diens van God. Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly.

Sang (Staan)

Kom loof die Here, die Jesuskind.  Liefde, vrede, welbehae daal in Jesus tot ons neer.

Gesang 364 strofes 1,2 en 3

WEGSENDING

Predikant

Seën (Staan)

Ontvang die seën van die Here uit 1 Petrus 1

19      

. . . Julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.

20      

Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom.

21      

Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.

22      

Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.

23      

Julle is . . .  weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

Musiek van Gesang 367.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s