Soos die môreson

Dis dagbreek. Die eerste tekens van die lig is hier.

En ons is bly.  Ons is bly dat hoop, vrede en liefde, dit waarvoor ons in Advent gebid het omdat ons besef het ons dit nie het nie, na ons toe op pad is soos ʼn helder nuwe dag se lig.

Vandag se Adventskers is die kleur van dagbreek.

Kersfees kom.  God kom na ons toe.

 

Die liedere van Lukas 1 vers 39 tot 56, 68 tot 79

18 Desember 2016, NHKA Kampersrus, NG Kerk Hoedspruit

Advent 4 Vreugde

LW: die enigste rede vir waarom ek ook die voorleserouderling se opdrag in die erediens uitgevoer het, is dat daar geen ouderlinge beskikbaar was vir voorlesing nie.  Dis vakansietyd in die Laeveld!

TOETREDE

Predikant

Vierde Advent

Sang  (Sit)

Dis tyd om bly te wees.  Kom ons sing dit, en sê ook sommer wat dit is wat ons so bly maak.

Psalm 9 strofes 1,5,6,7 en Psalm 10 strofe 8 (Dieselfde melodie)

Tydens die liedere word eers die drie rooi kerse en daarna die rooskleur Adventkers aangesteek. Rita Schoeman steek die kerse aan.

Sang  (Sit)

Kom ons juig en jubel oor die saligheid.

Gesang 344 strofes 1 en 2

Sang  (Staan)

Ons sing dat ons die lig al sien.  Dié Lig kom na die wêreld toe in Jesus Christus, die Here.   Hý is die rede waarom ons harte weer juig na ʼn lang tyd in die donker.

Gesang 353 strofe 2 en 3

Votum (Staan)

 “Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.” 

(Lukas 1 vers 78 en 79)

Seëngroet (Staan)

“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief.”

“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.”

(Johannes 15 vers 9, 11 en 12)

AANBIDDING EN LOF

Predikant

Sang (Staan)

Ons hoop is nie verydel nie, die vrede is terug en God se liefde het die laaste sê.  So begin gebeur alles waarvoor ons in Advent gewag het.  Die tyd het aangebreek.  So sê

Gesang 341 strofes 1, 2, 3 en 4

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Luister weer ʼn keer uit 2 Korintiërs 5 verse 15 tot 21 na wat God se wil met Jesus Christus is:

15      

Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

16      

Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie.

17      

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

18      

Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.

19      

Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20      

Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!

21      

Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Aldus 2 Korintiërs 5.

Skuldbelydenis (Sit)

God gryp met Christus in om ons sonde te stop.  Die sonde wat ons sou doodmaak, tref Hóm met die doodstraf. So maak God se liefde. Dis hoe ons ook kan liefkry en liefhet.  Maar ons is nog steeds die rede vir waarom hier van die liefde nie veel kom nie.  Kom ons bely ons skuld met

Sang (Sit)

Gesang 354 strofe 4

Genadeverkondiging (Sit)

Luister na die blye boodskap van genade in Jesaja 61.  Dit was ook die Skriflesing by Jesus se heel eerste preek.

Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is,  

om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon. . .

(Jesaja 61 : 1 en 2)

In Lukas 4 vers 21 begin Jesus sy preek oor hierdie Skriflesing met die woorde:

“Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”

Sang (Sit)

Kom ons sing vandag hierdie woorde van Jesus.

Gesang 327 strofe 1, 2 en 6

Geloofsbelydenis (Staan)

Kom ons staan nou op en bely as gemeente saam met die een heilige algemene Christelike kerk, ons geloof.

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Sang (Staan)

Al was ons nie daar nie, ons glo dit het gebeur.  Ons glo saam met en soos die kerk van alle eeue nes die eerste gelowiges, die herders en die wyses. Dis waaroor sing in

Gesang 355 strofes 1 en 2

AANBIDDING EN LOF

Predikant

Gebed (Mans staan)

Sang (Staan)

Gesang 357 strofes 1, 2 en 3 

VERKONDIGING

Skriflesing

Die liedere van Lukas 1

Het julle al agtergekom hoe ʼn groot hap van Lukas 1, waar Lukas  vir Teofilus die verhaal van Jesus se geboorte vertel, liedere is?  Dis seker nie vreemd nie.  Hier gebeur mos nou ʼn ding wat ʼn mens bly maak, en dan is sing die ding wat jy doen.  Jesus sing in die nag al, as dit donker is, en sy dood voor die deur lê.  Maar hier, met sy menswording, is dit vir ons makliker om ook saam te sing.

Eers sing Maria, die ou meisietjie wat een vreemde nag gelaat weet is sy gaan ʼn baba hê.   Toe Gabriël dit vir haar sê, en haar vertel dat haar stokou tannie Elisabet, wat al haar lewe lank onvrugbaar is, ook swanger is, het

Lukas 1 verse 39 tot 56

39      

Maria . . . haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na ‘n dorp in die bergstreek van Judea gegaan.

40      

Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet.

41      

Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul

42      

en het hard uitgeroep: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot!

43      

Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom?

44      

Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my van vreugde beweeg.

45      

Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!”

46      

En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here,

47      

ek juig oor God, my Verlosser,

48      

omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem,

49      

omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam!

50      

Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer.

51      

Kragtige dade het Hy met sy arm verrig: hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag;

52      

maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog;

53      

behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur.

54      

Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming

55      

soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.”

56      

Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

Sang (Bly sit)

Hierdie pragtige lied wat Maria sing, ken ons as die Magnificat.  Die naam verwys na die lied se eerste woorde oor die “grootheid van die Here.” Dis twee keer in ons Liedboek opgeneem en nie een van die twee is maklik om te sing nie.  Kom ons probeer dit tog saamsing uit

Gesang 333, twee maal

Die liedere van Lukas 1

Sagaria, Maria se oom en Elisabet se man, Johannes die Doper se pa, is van ná Gabriël hom kom sê het hy gaan pa word, stom.  Dalk doofstom.  Want toe hy en Elisabet die baba op agt dae bring om besny te word, wil die familie die kind na sy pa vernoem: Sagaria.  Elisabet sê toe nee, sy naam is Johannes.  Die bemoeisieke familie stribbel teë.  Daar is dan niemand anders in ons familie met dié naam nie?  Hulle moet met gebare vir Sagaria beduie hulle is nie tevrede nie en dit kos Sagaria op ʼn skryfbordjie skrywe: “Johannes is sy naam,” voor hulle besgee. Net toe, kry Sagaria sy stem terug.  Wat die familie meer verras het, die naam of dat Sagaria skielik weer kan praat, is nie so seker nie.  Maar met daai nuwe stem van hom, begin Sagaria sing.  En, staan daar, dit word vir die familie duidelik die Here is by hom.

Lukas 1 verse 68 tot 79, verskillende verse

68      

“Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk.

69      

‘n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan. . .

76      

“En jy, kindjie, (hy verwys hier na sy eie seun, Johannes) ‘n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uit gaan om sy pad gereed te maak,

77      

om kennis van verlossing aan sy volk mee te deel: verlossing deur vergifnis van hulle sondes,

78      

danksy die genadige ontferming van ons God. Soos die môreson sal Hy (God, die Verlosser) opgaan en uit die hoogte op ons afstraal,

79      

om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.”

Sang (Bly sit)

Kom ons sing oor hierdie Môrester wat Sagaria in sy geestesoog sien, die eerste lig wat deurbreek en ʼn einde maak aan ons lang, donker en moedelose nag.

Gesang 320 strofes 2 en 3

Skriflesing

Van die Bybel sê Psalm 119 vers 105:

U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.

Preek

Wees bly, vroue! En manne.

Wanneer Lukas sy boek vir Teofilus skryf, het hy min erg aan biologie.  Hier is ander kragte aan die werk. Lukas sê God gryp in.  Gewoonlik werk God op doodgewone maniere, maar nie dié keer nie. Vir ʼn wyle, werk die wêreld anders.  Dit móét: Die gewone maniere het in die hek geduik.

Gabriël – sy naam beteken “Man van God” – daag uit die bloute in die wêreld op.  Eers gaan hy kerk toe en daar praat hy met die dominee.  Dis seker waar engele hoort, en dominees behoort, van almal van ons, seker engele wat kerk toe kom, die maklikste te glo.  Maar Sagaria sluk swaar aan Gabriël se storie. Dis die probleem met ouderdom en ondervinding: ons begin dink ons weet al’s, God kan ons nie meer verras nie. Dominee Sagaria kom stom en dom sy gemeente groet want vir die volgende nege maande gaan die man nie kan werk nie.   Hy sal nie kan praat oor die ding wat hom en sy vrou oorgekom het nie. Hy dra die gevolge van sy skepsis oor wat God nou glo aanvang, soos die nasleep van ʼn beroerte met hom saam.

Toe gaan kuier “Man van God” vir Maria.  Anders as Sagaria, glo sý hom dadelik.  Maar dit help haar om te hoor Elisabet is, ewe wonderbaarlik, ook verwagtend.  Daarom gaan Maria sonder versuim vir Elisabet opsoek.  Sy sou vir drie maande daar bly.

Twee vroue kom staan op die voorgrond, die een getroud maar te oud, en die ander te jonk en ongetroud, is swanger.

Toe sy by Sagaria en Elisabet se deur instap, skop die ongebore Johannes, en ʼn lig gaan vir Elisabet op.  ʼn Nietige dingetjie wat gebeur en ʼn eureka-oomblik wat jou gelyktydig tref, so dink Lukas oor hoe jy weet dis die Heilige Gees wat praat.  Elisabet roep hard uit – wel, wat hier staan is ʼn gedig, die lirieke van ʼn lied – Elisabet sing.  Sy sing die eerste van Lukas 1 se drie gesange.  Sy sing en die ongebore Johannes dans saam.

En so word ʼn vrou, Elisabet, en nie haar man wat die priester is nie, die eerste mens wat die evangelie op haar lippe neem.  Elisabet sing dit.  “Die moeder van my Here,” so noem sy Maria, “Kom na my toe.” En saam met sy ma, die Here Jesus self.  En, sing Elisabet, “Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het.”  Onthou nou:  haar man, die dominee, het eers nie geglo nie!  As die dominees dan stom is, sal die vroue dit skreeu, en die klippe dit uitroep:  God kom!

Sang (Bly sit)

Laat die blydskap oor die ingryp van God, al ons kommer en sorge wegvat, al ons smart te bowe gaan, selfs die skande van ons sonde oorskadu, en verligting bring.  Kom ons sing

Gesang 365 strofes 1 en 2

Preek

Hier is hoop.

Maria staan uit oor sy onmiddellik glo.  Oor sy sonder huiwering sê: “Ek is tot beskikking van die Here.  Laat met my gebeur soos wat u gesê het.”

Hier is weer hoop, hoor julle dit?  Glo is hoop.

Die eerste Adventsondag al wou ons uit die donker na God toe beur want by Hom is lig, Hy is ons hoop.

Maria het weer rede om te hoop.  Wat meer is, hierdie hoop is nie net wensdenkery nie, dis regtig hoop, verwagting.  Ons is verwagtend.  Soos die geloof waarvan Hebreërs 11 vers 1 praat:

Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

God het ons eerste gebed met Advent verhoor. Ons het weer hoop.  En wie weet dit beter as die twee vroue wat die wonder van God in hulle baarmoeder voel groei?

Die vreugde van die vroue sou nie hier eindig nie, al was net hoe naby God aan hulle gekom het al rede genoeg vir ʼn fees.  O, daar was tussenin baie smart.  Maar daai Sondag toe die graf leeg staan, raai wie is die eerste boodskappers wat kom vertel?  Nou is hulle blydskap nie meer net dat Jesus na ons toe kom nie, maar dat Hy uit die graf uit teruggekom het:  Geseënd is julle,  vroue!

Sang (Bly sit)

Dis dagbreek; die Here God se dag breek aan.  En ons skep moed en kry hoop.

Gesang 325 strofes 1 en 2

Preek

Geseënd, gelukkig.  Vrede.  Vir julle.

Elisabet sê, “Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!”  Vir hierdie laaste “gelukkig” gebruik Elisabet dieselfde woord wat Jesus in sy Bergpreek gebruik as Hy sê:

“Geseënd is julle wat arm is, honger het, wat nou huil, wanneer die mense julle haat, verstoot en uitskel . . .”  

Hoekom is hulle geseënd?

Want aan armes gee God sy koninkryk, wie honger is, sal Hy versadig, wie huil, sal lag; en wees bly op die dag dat julle gehaat en verstoot en uitgeskel word, spring rond van vreugde, want vir julle is daar groot beloning in die hemel.

Hierdie seën, hierdie blydskap, wens Elisabet vir Maria toe.  Vrede vir jou, sê sy inderwaarheid.  Want dis wat vrede is: voorspoed wat van God af kom.  Geluk is vrede is versoening, veral van God ons Vader en ons. Dit, sê Gabriël, vir Sagaria in die tempel al. Maar Sagaria is stom en ons hoor dit nie van hom nie.

Want kyk,” sê Gabriël se kollegas aan die herders, “ek bring vir julle ʼn goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. . . Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ʼn welbehae het!”

Hier is die vrede waarvoor ons gewag het, ook nou. Die vrede waarna ons gesmag het.  Die vrede wat deur ons sonde versteur is, en die vrede wat ons onder mekaar nie gemaak kan kry nie.  God die Seun, Jesus Christus, kom maak hierdie vrede.  Vrede is hier.  Vrede wat bly maak.

Sang (Bly sit)

Kom ons sing dit en sê dit: die Here se vrede kom.  Die eerste tekens daarvan is al hier.  Kom ons besing sy heerskappy van vrede.  Kom ons maak self ook soos Hy: kom ons maak vrede.

Gesang 354 strofe 3

Preek

Ontferming.  God het lief!

En dan sing Maria ook.  Die Here is groot, sing sy.  Baie groot. Hy het ingegryp en my hele lewe oorgevat.  Hy begin met my ʼn pad wat my aangryp en my laat juigend sing.

Ek is oorweldig.

Want ek besef weer ek is bitter klein.  Verskriklik klein.  Nie net klein nie, gering, onbelangrik, onmerkwaardig. Selfs verag.

Maar aan my het hierdie magtige God groot dinge gedoen wat my klein lyfie nie kan hou nie, en my verstand nie kan kleinkry nie. My kind “. . . sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word.” Dis wat Gabriël (“Man van God”) oor die baba wat in my baarmoeder groei, gesê het.

Hy is maar ʼn klein beginsel van ʼn wordende mensie, hier in Maria se buik, maar Hy wat sy daagliks voel uitstu en gedy, gaan die aarde in sy fondamente skud.   Hy sal sit op Dawid se troon, koning van Israel word, en dan aan die regterhand van God.  Heerser vir ewig.

Bid jou dit aan:  Dat twee waardelose vroue, albei met geskiedenis van skande – een ʼn kinderlose ou vrou en een ʼn ongetroude jongmeisie  – iewers op ʼn uithoek van die veraf platteland, sonder enige kontak selfs, wat nog invloed in, die raadsale van maghebbers, of die paleise van konings en keisers, kan begin glo hulle ongebore kinders gaan die wêreld op sy kop omdraai?

Wel, hulle het met God te doen, dis al wat hulle weet.  En enigiets is skielik moontlik.

Maar hoe, en hoekom?  Wat gebeur regtig hier?  Wat leer wat hier gebeur ons van God?  Iewers in die middel van “Hy is groot, ek is klein, Hy doen groot dinge aan my wat klein is” sê Maria dit: God is my Verlosser.

Verlosser, die Een wat teen die grein in optree en ryklik seën. Wat seën waar seën nie gepas is nie. My Verlosser wat uitkomste moontlik maak waar geen uitkomkans was nie. Met my gebeur die onmoontlike: dit gaan met my so goed ek jubel en juig.

Heilig is sy Naam!, sing Maria.

Hier is ommekeer.  Hier begin die wêreld draai, so draai dat die son kop uitsteek en die eerste lig ons oë tref en ons laat keel skoonmaak soos voëltjies net voor dagbreek.

Kyk hoe onderstebo is alles, sing sy.  Ek en Elisabet, vroue, vroue met skande, word die mense waarmee God die wêreld omtoor, met ons doen Hy sy kragtigste dade.  Mense wat oor hulle mag en geld hoogmoedig is en in van alles in beheer voel, maghebbers op hulle trone en selfvoldane rykes – in hulle plek verhoog Hy geringes, armes oorlaai Hy met goeie gawes wat jy nie met geld kan koop nie.

Maria noem wat God gaan doen, hierdie grootskeepse ommekeer van al wat n ding is, “ontferming.”  “Hy bewys ontferming”, sê sy.  Ons het hier te doen met  ʼn God wat omgee.  Ons leer ken ʼn God wat liefhet.

Die liefde wat ons nie onder mekaar kon vind nie, kom nou van Bo.  En hier is dit nou ʼn werklikheid.  In ons wêreld, onder ons, onder ons vel, in ons eie tyd, in ons lewe en omstandigheid, hier kom ʼn God wat liefde is, liefde doen. Dis ʼn ongekende mag, hierdie liefde.  Waar liefde is, werk niks meer dieselfde nie. Die bestaande orde hou dit nie. Versteende harte word vleis en bloed.  Menslikheid, gevul met God, menslikheid gedryf deur God se goedheid: So lyk die nuwe wêreld nou.  Dis die wêreld waarvan jy die eerste dag sien daag.  Herken jy dit?  Weet jy wat dit is?  Dis die koninkryk van God.  Waar die liefde wat God vir mense het heers.

Liefde. Vrede. Hoop.  Dis wat ons gemis het.  Dis waarvoor ons gebid het.  Dis waarvoor ons gewag het.  Dit was Advent. Dit alles kom nou.  Kersfees kom.

As die dag breek, is dit wat ons gaan hê.  Soos die môreson sal Jesus Christus opgaan en uit die hoogte op ons afstraal.

Amen.

Slotsang (Staan)

Kom ons roep die kerk en die hele wêreld op om bly te wees en Jesus te kom aanbid.  Hy is ons Verlosser, nes Maria ook gesing het.

Gesang 345 strofes 1,2 en 4.

Seëngroet (Bly staan)

“Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam!

(Lukas 1 vers 46 tot 49)

“Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.” 

(Lukas 1 vers 78 en 79)

Respons (Bly staan)

Gesang 227 twee keer (Kan ook maar gelaat word, aangesien die vorige lied n gepaste afsluiting van die erediens is)

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s