Kuiergaste vir Kersfees

Hier was vandag ʼn slang in die erf.  Verlede week ook.  Saul dink vandag s’n was ʼn spoegkobra.  Laasweek was dit ʼn meneer van ʼn mamba, dalk nog dieselfde een wat sy broek laas uitgetrek en laat rondlê het, aldus Saul. As my vrou hom beetkry, soen sy hom oopbek (met apologie aan Carol-Anne)  – die mamba, man, nie vir Saul nie.  Oor die broek. Ek sal dit nie waag nie, uittrek, ja, maar nie laat rondlê nie.  Giftig!  Die gesoenery is anders, maar ook nou weer nie die mamba nie.  (ʼn Goeie begryper, sou mens hoop . . . )

Maar, sê Saul, hierdie slange van ons is ordentlik.  Hulle staan nie op nie.  Hulle lóóp.  Nou ja, kom ons hoop hulle kry nie lus om te kom klets oor die voordele van n vrugtedieet nie.

Ek hoop nie ek het dalk eendag rede om hieraan te stik nie, maar ek hou daarvan dat daar gediertes in my tuin kom kuier.  Uitgesluit die muskiete, die sonbesies (die kat het nou die dag een, skoppend en skreeuend – die cicada, nie die kat nie – hier ingedra). . . En die piet-my-vrou. Hemel, die ding hou nooit op nie – selfs Google weet sy natuurlike habitat is die boom langs my slaapkamer (Google weet ook al alles van my) – en dit help nie eers jy sit die lig af nie; en seker ook oor hy nie sy eie kinders grootmaak nie, grom ek éérs vir hom!  Hy het duidelik gans te veel tyd op sy hande. (Is dit hoegenaamd Afrikaans? Ek dink die “sy” moet uit? Net dié een keer dan. . .)

Hier was al, benewens nou die gewone (en buitengewone) goggas, ʼn vooruitstrewende muishondfamilie, ʼn vlakvark, ʼn reuse uil én ʼn arend (ek skaam my oor ek die name wat Adam hulle gegee het, nie ken nie), en hier onder die afdak het swawels ingetrek. (Hulle seun is al groot en vlieg saam uit om rysmiere te vreet.  Hy beland toe nou die dag in die sitkamer.  Maar ons het hom die deur gewys.) As die worsboom blom, is hy vol bloedrooi suikerbekkies wat hulle ure aan hulleself in die vensterruite sit en bewonder. En hoekom nie? Hulle is mooi genoeg.

ʼn Oulike skerpioen het al vir Mariska kom dagsê, en daar is op twee plekke in die dak koninginne met korwe. By die lig, sit ʼn reënpadda.  Die visdam wat na die reën kortstondig ʼn operahuis vir paddakore was, met n voorkeur vir baritons, is na die derde nag leeggetap – ʼn mens kan ook net sóveel opera uitstaan.  RSG het n knoppie waar jy hom kan afsit.

Sam, die samango-aap en sy harem kom sit elke dag in die boom vlak langs die kombuis en krap skaamteloos aan onnoembare liggaamsdele.  Die vervette kom in troppe en draf oor die dak tot by die dakvenster, en koekeloer dan tussen bakhande deur om te kyk of hulle kan waag om die kombuis te bekruip.  Hulle kon nog net die badkamer nie vind nie. Daar was al aapdrek aan die verkeerde kant van die ruit. Vra maar vir oupa wat doen ′n lemoen.

skilpadDie berg se bobbejane was ook al hier, ʼn skurwe klomp, uithonger.

Die muskeljaat sien ek net oor die pad draf.  (Dis nou die muskeljaat wat draf, nie ek nie!)

Vandag daag hier toe ʼn skilpad op, ʼn lekker ou grote. Ons het hom gaan dagsê. Tintin, die kat, het ewe gemaklik saam met ou Skillie gestaan en vreet aan die groenigheid: Ou tjomme wat saam uiteet, min gespin.  Ek vermoed Tintin het hom al gelate oorgegee aan al hierdie biodiversiteit: niemand is meer vreemd nie, al lyk hy ook soos ʼn klip. Gasvrye gemmer kat. Geen xenofobie nie. So na pa se hart. En dan bly hulle ook nie lank nie, die gaste bedoel ek.  Teen vanaand het die skilpad alweer pad gevat.

Lekker om kuiergaste te kry. Die ander kinders kom volgende week.

N.S. Wou net sê, al hoe ek van cicada weet, is dat Roleen hom die naam gegee het! Slim kind!

Advertisements

One thought on “Kuiergaste vir Kersfees

  1. Goeie môre, Hennie.

    Baie dankie vir jou €œkuiergaste€. Ek het dit terdeë geniet!

    Mag jy en jou gesin ’n wonderlike Christusfees beleef.

    Liefdegroete in die Naam van Christus

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s