Wat het van ons liefde geword?

Die derde Sondag van Advent, tob oor die liefde.  En die eerste ding wat in jou kop kom is: O, maar hier is baie daarvan!  Liefde is seker die een ding wat ons mekaar die meeste vra en belowe. Dis boeke vol. Daar is selfhelp-handleidings oor presies hoe, sosiale media loop daarvan oor, tydskrifte hemel dit op, praatjies en preke en prente praat dit aan.  Daar is wette wat haat moet keer en liefde kweek. Jy sal sweer hier’s oorgenoeg liefde hier by ons.

1 Korintiërs 13

10 Desember 2016, NHKA Kampersrus

Advent 3 Liefde

TOETREDE

Predikant

Derde Advent

Die derde Sondag van Advent, tob oor die liefde.  En die eerste ding wat in jou kop kom is: O, maar hier is baie daarvan!  Liefde is seker die een ding wat ons mekaar die meeste vra en belowe. Dis boeke vol. Daar is selfhelp-handleidings oor presies hoe, sosiale media loop daarvan oor, tydskrifte hemel dit op, praatjies en preke en prente praat dit aan.  Daar is wette wat haat moet keer en liefde kweek. Jy sal sweer hier’s oorgenoeg liefde hier by ons.

Maar dan spreek dit boekdele dat die derde Adventskers wat ons vandag aansteek, ook ʼn donker kers is.  As liefde die dag in ons donkerte moet kom lig aansteek, moet ons besef dat wat ons vir liefde aansien, dalk toe nie liefde is nie. Of dat wat as liefde begin is, nie kon hou nie. Ons moet vandag van voor af agterkom dis juis donker omdat wat ons liefde noem, nie die mas opkom nie.

Ek vermoed ons kry die liefde vir net sulke kort rukkies reg.

Vandag se erediens gaan oor liefde wat hou, oor dit uithou. Maar dis nie hoe ons liefhet nie.  Ons het daarvoor nie die geduld of die uithouvermoë nie.  As daar sulke liefde is wat geduldig vasbyt, liefde vir die langtermyn, gaan ons dit iewers anders as by onsself moet kry.

Sang  (Sit)

Kom ons begin vandag weer met die Onse Vader, maar ʼn ander toonsetting daarvan.

Gesang 267 strofes 1,2,3 en 4

Tydens die Onse Vader word die drie rooi Adventkerse aangesteek. Klein Christiaan Basson.

Sang  (Sit)

Ons volgende lied tref onderskeid tussen die liefde wat God vir ons het, en wat daai liefde Hom laat doen, en dan: ons liefde.  Ons liefde is ʼn liefde vir die duister.  So kom die stryd en die skeiding tussen lig en duisternis.

Gesang 324 strofes 1 en 2

Stilte  (Sit)

TOETREDE

Ouderling

Sang  (Staan)

Ons begin deur te sing dat ons vanoggend weer wag op God om ons gebede te antwoord.  Sy liefde laat ons toe om tot by Hom te kom, hier in die erediens.  Hier sing ons van God se goedheid, en wy ons ons aan sy liefde toe.

Psalm 5 strofes 1, 3 en  5

TOETREDE

Predikant

Votum en Seëngroet (Staan)

“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief.”

“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.”

(Johannes 15 vers 9, 11 en 12)

AANBIDDING EN LOF

Ouderling

Sang (Staan)

Kom ons prys die Here want Hy het mens geword en God se liefde uitgestort. Ons het baie rede om Hom dankbaar te wees.

Gesang 339 strofes 1 en 2

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Met Kersfees is die versoeking groot om sentimenteel en soetsappig te traak.  Alles is glo liefde, vrede en ek-belowe-om-van-jou-te-hou.  Sulke stroop is ver verwyderd van die rede waarom God hierheen kom.  Dis dalk goed bedoeld, maar dit vat nie die sonde ernstig op nie.  Ons sonde het Hom laat kom.  Ons sonde het Hom laat sterf.  Luister uit 2 Korintiërs 5 verse 15 tot 21 na wat God se wil met Jesus Christus is:

15      

Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

16      

Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie.

17      

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

18      

Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.

19      

Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20      

Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!

21      

Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Aldus 2 Korintiërs 5.

Skuldbelydenis (Sit)

God gryp met Christus in om ons sonde te stop.  Die sonde wat ons sou doodmaak, tref Hóm met die doodstraf. So maak God se liefde. Afdreiging bring nie liefde nie. Liefde verdryf juis vrees. Die versoeking om met Kersfees net te kom bakhand staan dat God moet liefde gee, is groot.  Dis ons wat moet liefkry en liefhê.  Maar nou is ons die rede vir waarom hier nie van die liefde veel kom nie.  Kom ons bely ons skuld met

Sang (Staan)

Gesang 346 eers strofe 3 en daarna strofe 1

Genadeverkondiging (Bly staan)

Luister na die blye boodskap van genade in Jesaja 61.  Dit was ook die Skriflesing by Jesus se heel eerste preek.

Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is,  

om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon. . .

(Jesaja 61 : 1 en 2)

In Lukas 4 vers 21 begin Jesus sy preek oor hierdie Skriflesing met die woorde:

“Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”

Geloofsbelydenis (Staan, almal saam, hardop)

Kom ons bely nou as gemeente saam met die een heilige algemene Christelike kerk, ons geloof almal saam, hardop.

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Sang (Staan)

Ons sing en sê met die lied wat ons nie normaalweg glo moontlik is nie: Dat ʼn baba, ʼn weerlose kind, ʼn flikkerende klein wit vlam in die donker, die donker in ons oorweldig het. En ons is nou ʼn blink lig in mense se droefheid en teëspoed.

Gesang 373 strofes 1 en 2

AANBIDDING EN LOF

Predikant

Gebed (Mans staan)

Sang (Staan)

Gesang 347 

Verkondiging

Preek

Ons is, almal van ons, groot op bemarking. Ons is vreeslik gesteld op goed lyk, al verg dit “spin” (om ʼn storie te spin, of feite te verdraai, sodat jy meer lyk en ruik na die welriekende held, eerder as die boef of die vrot appel).  Op facebook en twitter sien jy hoe goed dit met mense gaan.  Hulle foto’s is almal van hulle beste kant (die linkerwang, as jy nie weet nie, effens van bo, en die mond op ʼn pruil), foto’s van hulle goeie tye, hulle kuiers met vriende, hulle lekker etes, hulle heerlike vakansies, hulle kinders se prestasies, hulle suksesse, hulle welvaart, pret en plesier.  Ouma het altyd gesê: Papier is geduldig.  Die internet ook.

Wanneer laas het jy op iemand se status gelees: “Alweer alleen. Ek is so verskriklik eensaam.”  Of: “Sal iemand my ooit weer liefkry?”  Doen jy dit, gaan jy min likes hê en “friends” (sogenaamde “vriende”) verloor.  Of het jy al gesien iemand sê: “Boerpot geslaan! Ek het my vrou nou net met ʼn slenter gevang: My sin gekry, en sy besef dit nie eers nie!”

Vlerksleep werk ook so. Beste voetjie voor. Ons trek ons beste (of te wel so goed moontlik toepaslik) aan.  Die dinge waaroor ons ons skaam, steek ons weg agter blink vertoon. Daar’s op aarde niks mee fout nie, gehoor.  As jy uit die staanspoor al jou ware kleure wys, gaan jy na alle waarskynlik nooit ʼn deksel vir jou pot kry nie.

Gelukkig hoef jy nie lank daarmee vol te hou nie.

Daar is goeie rede vir waarom advertensies net sekondes duur. Hoe dieper jy kyk, hoe slegter gaan dit lyk.

Kortstondig, dis hoe lank die vertoon hou.

Met nabye, langtermyn verhoudings is dit anders.  Hulle is moeilik om in stand te hou, want jy gaan die skyn nie kan volhou nie.  Daar wys jy jou ware kleur.  Gewoondraak maak jou onverskillig, of net onversigtig.  Jy raak te gemaklik.  Jy gee jou oor aan jou eintlike self, en jou maat kry te doen met jou normale afstootlikheid.

Dog, daar is iets te sê vir ʼn verhouding waarin jy jouself kan wees.  Sonder aansittery, en sonder voorgee.

Die enigste ware liefde in die lewe gebeur net wanneer jy jouself kan laat ken nes jy regtig is.  Sonder dat dit ʼn oorlog ontketen en in ʼn slagveld ontaard. O, ons ken mekaar goed.  Ook sonder die grimering en die duur na-skeer.  En van skuldbelydenis.  Maar om vrye teuels te gee aan hoe jy sommer vanself is, is ook die doodsklok vir die langtermyn vooruitsigte van jou verhouding.  Daai slegkant is slég.

Daarom het liefde weinig te make met maanskyn en rose.  Hoe hoog ons ookal die liefde ag, volmaak is ons probeerslae nie. Ons is nie vir volmaaktheid aanmekaargesit nie. Daar is krake en barste in die beste waartoe ons in staat is.  Selfs ons pogings tot liefde, dalk veral ons pogings om regtig lief te hê, kom krom en skeef uit.

Menswees verongeluk liefhê.  Liefde mag die een ding wees wat net mense kan regkry, die een ding wat ons onderskei van diere en barbare.  Maar dis die een ding wat ons nie behoorlik kan doen nie.   Ons liefde lyk soos ons lyk:  na skietstilstand op ʼn slagveld, net vir solank as wat dit vat om die lyke van ons slagoffers te gaan begrawe.

Ons skiet tekort.  Ons sukkel om self behoorlik lief te hê, en net so slaag ons nie goed daarin om ander se nimmereindigende geploeter met die liefde te verduur nie, met hulle gesukkel om ons lief te hê soos ons wil hê hulle moet nie.  Ons is nie soos God geduldig genoeg om ʼn ster oor ʼn stal te gaan parkeer tot die wyse manne vir Jesus vind nie.

Daarom is die jaar wat agter ons lê nie een wat ons wil terughê nie. Daarom dat ons uitsien, ewige optimiste wat ons is, na die liefde wat voorlê.  Die liefde wat vol belofte en baie begerig uit die toekoms staan en wink.

Nou is die tyd om eerlik te wees. Te oordeel aan alles wat ons die afgelope jaar verbrou het, God is al Een wat van liefde iets weet.  Hy is waar liefde vandaankom.  Net Hy kan daarop roem dat daar in sy verlede iets van liefde end-uit tereggekom het.  Tot die dood ons skei… Ons ewige liefdesverklarings was van korte duur.

Dis by God wat van die liefde alles weet, by wie ons oor liefde kom kers opsteek.

Ons leer by God liefde kom altyd met moeite, en met moeilikheid.

Ons weergawes van die liefde verskiet, en loop altyd gevaar om uit te brand.  Ons onderskat hoe moeilik die liefde is, ons het daarvan ʼn droom wat nog kant nog wal met die werklikheid raak.  Daarom is ons liefdes n vlietende opflikkerinkie in n donker nag.

Ons liefde faal.  Liefde eindig. Ons foute kalwe dit stadigaan en meedoënloos weg, vreet daaraan, hol dit uit.  En dit gebeur sonder dat ons dit regtig agterkom: voor jy weet, is dit verby.  Dis die klein jakkalsies wat die wingerd verniel.

1 Korintiërs 13 beskryf die liefde nie soos dit werklik is as ons dit uitprobeer nie.

1 Korintiërs beskryf ʼn liefde wat ons nog nie onder mekaar teëgekom het nie.

1 Korintiërs 13 vertel van ʼn liefde waarna ons smag, maar as ons al daarvan net ʼn oomblik beleef het, kan ons dit vandag nog net hartseer onthou.  Want dis weg.  Dit het nie lank gehou nie

1 Korintiërs 13 vertel van die liefde soos God dit doen. So lyk liefde wanneer God liefhet, dis wat hier staan.  Dis hoe ons liefde kán lyk, as ons God gaan probeer nadoen, en gaan liefhê nes Hy.

En ek wonder of, as ons dit nou lees, julle gaan agterkom wat anders is aan hoe God liefhet.  Kyk of julle kan.

Skriflesing

1 Korintiërs 13

Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is:

  1. Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword.
  2. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.
  3. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks / dan is ek niks.

Wat is die eerste ding wat jy agterkom uit hierdie verse?

  • Dat niks so belangrik is as om lief te hê nie, nè? Alles anders is nikswerd. Jy is niks, as jy nie liefde het nie.
  • Maar die liefde is nie vanselfsprekend nie. Dis nie outomaties alomteenwoordig nie.  Jy mis dit maklik.
  • As jy die liefde nie het nie, is dit dikwels nie omdat jy nie moeite gedoen het nie. Jy praat dan al die tale van mense en engele. Jy profeteer.  Jy lê al wat God se geheimenis is, uit.  Jy het alle wysheid in pag, besit al die kennis. Jy versit berge met jou geloof.  Jy deel alles wat jy het met ander, jy gee tot jou liggaam prys. Maar dis nog nie liefde nie.

Jy mis dus die liefde omdat jy te hard werk aan goed wat jou nie liefde gee nie. Almal van hulle mooi goed en prysenswaardig.  Maar hulle lewer nie liefde af nie.

Ons het hierdie jaar hard gewerk aan al hierdie goed.  Aan mooipraat, aan prediking – dis wat profesie is – aan God se geheimenisse te leer verstaan, om wys te word, kennis van God in te win.  Ons het gewerk aan geloof, en al staan Mariepskop nog hier neffens ons, ons het ʼn paar ander heuwels al rondgeskuif.  Ons het met ander gedeel wat ons het.  Ons het selfs ons gesondheid prysgegee in diens van mekaar.  Maar dis nie te sê ons het dit reggekry om lief te hê nie.

Daar is mense wat dit nie meer hier by ons kon uithou nie.  Hulle is weg.  Sal hulle getuig dat ons liefhet?

Ons wil weet wat anders is aan die liefde van God?  Hy gee dit gratis.  Dis nie ons harde werk wat ons liefde laat verdien nie. Hierdie eerste verse, lyk dit vir my,  sê as jy liefde wil hê, gaan dit in jou skoot moet kom val.  Want die goed wat jy sou dink om te doen om liefde te kry, of aan liefde te werk, werk nie.

Jy moet op liefde fokus, en die ander goed waaraan jy so hard werk, sien vir wat dit werd is: dis nikswerd, want dit bring jou nie liefde nie.  Fokus op liefde.  Prioritiseer liefde.  Spits jou toe op liefhê.

Maar wees gewaarsku: Om op die liefde te fokus is nie so lekker soos dit klink nie.

Skriflesing

1 Korintiërs 13

  1. Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.
  2. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.
  3. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.
  4. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

En jy het gedink dis maklik? Aikona.

Wat hier staan, vertel van ʼn liefde wat skaars oorleef.  1 Korintiërs 13 beskryf n liefde wat alles in die stryd moet werp om in ʼn oorlog staande te bly.

Wanneer is jy geduldig?  As iemand jou teister, en jy moet jou inhou.

En vriendelik?  As die ander ou afgunstig, grootpraterig en verwaand is.

Hoekom weerhou jy jou van onwelvoeglikheid?  Oor dit sies is?  Nee, oor jy iemand nie wil vervreem nie.

Om dieselfde rede soek jy ook nie jou eie belang nie, maar is jy meer bedag op wat vir ander goed sal wees.

Net so is jy meer as net effens dikvellig, en nie so vreeslik liggeraak nie.  Sodat jy nie sommer aan elke ou kleinigheidjie aanstoot neem nie, en gekrenk sal voel oor jou waardigheid nou weer aangetas is nie.

Jy tel ook nie die skade wat ander jou aandoen nie, want jy gaan nie later wraak neem en vergoeding eis nie.

Oor die onreg wat jou vyand oorkom, verlekker jy jou nie. Jy word net oor die waarheid bly, dit wil sê as wat jou vyand oorgekom het, hom tot ander insigte gebring het.  Insig in die waarheid versoen en verenig julle weer met mekaar: aartsvyande kan boesemvriende raak.

Liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

1 Korintiërs 13 is die verhaal van liefde wat wil oorleef, en wil keer dat die sonde dit stopsit. Hierdie is ʼn liefde wat wil uithou en aanhou.  So lyk liefde wat end-uit met jou die pad wil loop.

Het jy dit al?  Het iemand jou al so liefgehad?  En jy vir iemand anders?

Of is dit die storie van jou mislukte jaar?  Is dit wat jou faceboek-film oor 2016 gaan sê?  Of gaan jy ook nie waag om daar iets slegs te skryf nie?

Liefde is nie naïef nie.  Dit skram ook nie van die werklikheid weg nie.  Dit kyk die sonde vierkantig in die oë.

Die statistieke speek vanself.  Huwelike hou nie.  Want die liefde is ʼn volgehoue geveg teen eiebelang, en ander se kwaad (waarvan jy nie mag boekhou nie). Weet jy wat dit van jou verg om alles wat julle mekaar aandoen, agter julle te sit – te bedek – en oor te begin en aan te gaan asof dit nie gebeur het nie? Het jy ʼn idee van wat dit vat om alles te bly glo wat iemand jou alweer hart en mond belowe terwyl jy sukkel om saam te leef met al die vergete en mislukte goeie voornemens van die verlede?  Hoe kry mens weer hoop as alles waarvan jy gedroom het, verydel is?

Hoe hou die liefde dit?

Hoe hou jy dit met liefde?

As jy die liefde wil laat oorleef, moet jy nou besluit:  niks anders kom daarby nie.  Niks is so belangrik soos die liefde nie.  Nie jou beroep nie, nie jou geld en jou goed nie, nie jou ideale, jou vriende of familie, jou sport of jou vakansies of, wel, trouens enigiets waaraan jy kan dink, verdien soveel van jou aandag as jou liefde nie.   Fokus daarop.  Want verloor jy dit, verloor jy iedergeval al die ander goed daarmeesaam.  En verlore gaan sal dit, as jy nie keer nie, as jy die liefde nie troetel nie.

En dan kom jy agter hoekom jy voluit op die liefde moes fokus, en jy juis so aan die liefde moes gestalte gee: Ons weet nou al dat van alles wat in die lewe belangrik is, die liefde belangriker is.   Maar het jy geweet dat, van alles wat in die lewe gebeur, dit net die liefde is wat end-uit bly?

Skriflesing

1 Korintiërs 13

  1. Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak.  

Selfs die heiligste goed, die heel kosbaarste van die godsdienstige praktyke, kan verdwyn en hou op en raak uitgedien.  Maar die liefde moet hou.  Dis die bloed wat lewe gee.  Dis die gom wat klou.

Skriflesing

1 Korintiërs 13

  1. En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!

rose-roses-flowers-red-543201 Korintiërs 13 gaan oor liefde in die spervuur.  Oor liefde in die moeilikheid. Dis liefde wat hom teësit teen die magte van die duisternis, wat wal gooi, wat keer.  Dis liefde wat vas van plan is om elke beproewing te oorleef.  Dis nie sentimentele liefde hierdie nie.  Dis liefde op die oorlogspad. Dis liefde in die hitte van die stryd, wat veg om te oorleef. Dis liefde wat baklei om bo uit te kom, en niks sal ontsien om te wen nie. Dis strydende liefde hierdie.  Werkende liefde. Liefde wat teen sonde die rug krom maak. Liefde wat ly, liefde wat swaarkry.  Liefde wat weerstand bied teen ondergang en walgooi teen oorweldig te word.  Liefde wat aanhou en wil staande bly al kom die hel van alle kante op hom af.

Het ons al aan sulke liefde gestalte kon gee?  Was dit al ooit ons voorneme? Wat dan, het van die liefde geword?  Waar’s dit heen?

Ons het op die harde manier geleer nie alles hang af van goeie voornemens nie.  Dis God wat in liefde die deurslag gee.  Dis die liefde wat jy kry as God se genade in berekening gebring word, wat jy hier in 1 Korintiërs 13 kry.  Om sulke liefde te kon beleef, is te danke aan die genade van God.  Dit moet dadelik duidelik wees dat ons in hierdie wêreld nog net een keer sulke liefde van naderby beleef het:  in die lewe en dood en lewe van Jesus Christus.

Dis asof ons ander al daarvan gehoor praat het, maar eerstehandse ondervinding het ons nie. Dit kom ons in Advent agter.  Ons sal moet wag dat God hierdie liefde kom skep.

God het al met julle sukses gehad.  Sy liefde het al n slag met julle die deurslag gegee, anders was julle nie nou hier nie.  Sy genade het goed genoeg in julle gewerk om die afgelope jaar se bietjies liefde moontlik te maak.  God is in julle aan die werk.  Julle beleef sy liefde nou, en sy liefde sal nie afkoel of ophou nie. Julle kan op sy liefde wat nooit te min is nie reken, liefde wat geen vervaldatum het nie, maar met Kersfees weer afskop om ons lewe hier saam moontlik te maak.

God mors nie tyd met bemarking nie.  God spin nie stories nie.  Hy meng nie baie in nie.  Hy gaan dalk nie hierdie jaar weer self hier opdaag nie.  Maar Hy is reeds vir jou hier. Hy is beskikbaar. Jy gaan Hom nie agter elke hoek en draai teëkom nie.  Jy mag dalk al wonder of Hy hoegenaamd bestaan.  Maar Hy is hier.  Hier tree Hy vir jou in die bres, Hy staan vir jou op.  Hy sien deur al jou voorgee op facebook.  Hy sien wat jy wegsteek en die lyke wat ons in 2016 agterlaat.  En Hy hou nogtans aan om jou lief te hê. Ongeag.

Advent herinner aan wat God ons alles belowe het:  dat ons God s’n is, dat geen sonde, geen donkerte, geen hel ons so van God kan skei dat Hy ons nie kan kom haal en met liefde weer lewend sal kan maak nie.  Maar vandag moet ons agterkom ons liefde het nie gehou nie.  Dis donker hier, want ons liefde het opgeraak.  God het vandag kom liefde soek, en dit nie by ons gekry nie.

God sal met ons en met die liefde weer van voor af moet begin.

Dis wat Advent beteken: ons wag dat God ons met die liefde moet kom help.

En Hy sal.

Luister weer na die seëngroet waarmee God en ons hierdie erediens begin het:

Skriflesing

Johannes 15 vers 9, 11 en 12

“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief.”

“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.”

Ek hoor Hom sê: Hoe ver ons liefde ookal tekortskiet, God se liefde vir ons gaan end-uit uithou.  Totdat ons bly kan wees oor liefde.  Voluit en volkome bly kan wees.  Mag julle bly word as julle God se liefde voel kom.   Mag die Here julle bly maak.

Slotsang

Kyk mooi wat sing ons:  God is Koning.  Hy verander nie.  Sy liefde hou ook nie op nie. En dit bly dieselfde al verander ons. As niks wat ons doen ons dan vervulling gee nie, kom ons wag op Christus om te kom.  Weet dit: niks verbreek ooit sy liefdesband met ons nie.

Gesang 580 strofes 1,2,3 en 4.

Seëngroet:

22      

Hou u liefde oor ons, Here, want ons stel ons vertroue in U.

(Psalm 33)

6        

Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.

(Psalm 13)

Respons

Gesang 341 strofes 1 en 4

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s