Ek sien bome loop. . . Oor gereedskap en woordeskat. En vredemaak.

Niemand moet hom wysmaak dat daar in die afgelope jaar veel gekom het van verlede Kersfees se gesmag na vrede nie.  Ons is nou nog nie met ons vyande versoen nie.  Inteendeel, ons het sommer nog ʼn paar bygekry, en ʼn hele paar mense langs die pad verloor ook.   Ons kon verdere verdeeldheid, skeiding en skeurmakery nie keer nie.  Oorloë en terreur is nie gestuit nie. Die kanse dat die nuwe jaar gaan beter lyk, is maar flou.  Advent sê tereg, as dit vrede is wat jy soek, vra God.   So nie, welkom in die toekoms: ʼn tyd vir oorlog.  Advent wag op God om in te gryp: Ons verwag God gaan kom, en dat Hy iets nuuts gaan doen met ons en met die wêreld wat Hy liefhet. Ons onthou hoe God dit in Christus gedoen het. Maar vrede en versoening is bloedbroers.  En ons is in hierdie wêreld God vredemakers.

 

Markus 8 verse 22 tot 33

3 Desember 2016, NHKA Kampersrus

Advent 2 Vrede

Belydenis van geloof

Nagmaal

TOETREDE

Predikant

Drie vieringe

Drie goed gebeur tegelyk in vandag se erediens.

  1. Ons soek vrede,
  2. ons bely geloof en
  3. ons neem deel aan die Nagmaal.

Advent 2

welkom-in-die-toekomsDie tweede Sondag van Advent soek vrede, en vind dit nie hier by ons nie.  Advent moenie te optimisties wees nie.  Ons moenie hierdie nuwe kerklike jaar met oogklappe aan aanpak nie.

Niemand moet hom wysmaak dat daar in die afgelope jaar veel gekom het van verlede Kersfees se gesmag na vrede nie.  Ons is nou nog nie met ons vyande versoen nie.  Inteendeel, ons het sommer nog ʼn paar bygekry, en ʼn hele paar mense langs die pad verloor ook.   Ons kon verdere verdeeldheid, skeiding en skeurmakery nie keer nie.  Oorloë en terreur is nie gestuit nie. Die kanse dat die nuwe jaar gaan beter lyk, is maar flou.  Advent sê tereg, as dit vrede is wat jy soek, vra God.   So nie, welkom in die toekoms: ʼn tyd vir oorlog.  Advent wag op God om in te gryp: Ons verwag God gaan kom, en dat Hy iets nuuts gaan doen met ons en met die wêreld wat Hy liefhet. Ons onthou hoe God dit in Christus gedoen het. Maar vrede en versoening is bloedbroers.  En ons is in hierdie wêreld God vredemakers.

Ons gaan voort met Luther-hulle se gebruik om vyf kerse in ʼn krans in hulle  Adventseredienste aan te steek.  Elke Sondag een meer, dus nog ʼn rooie vandag, die donker kleur tekenend van die donkerte waarin God lig bring.

Sang (Sit)

Kom ons begin vandag weer met die Onse Vader.

Gesang 266

Tydens die Onse Vader word die eerste twee rooi Adventkerse aangesteek.

Belydenis van geloof, en viering van die Nagmaal

Ons verwelkom vandag twee nuwe lidmate wat hier by ons grootgeword het: Andries en Eduard.  Hulle bely vandag hulle geloof en gebruik vir die heel eerste keer saam met ons die Here se Nagmaal.  Toe ons jonk was, was vrede nie juis ʼn prioriteit nie, behalwe miskien vir skoonheidskoninginne wat al daaroor gespot word dat hulle almal glo strewe na wêreldvrede.  Die jeug is sinoniem met roekelose genot.  Vrede kom sleg tweede. Dalk verstaan hierdie twee manne dus nie presies waaroor ons dit vandag het nie.  Maar ons was almal daar.  Kom ons sing vir die twee manne van ons eie jonkwees, en van wat ons uit die lewe saam met God geleer het.

Sang (Sit)

Psalm 102 strofes 9 en daarna 4

TOETREDE

Ouderling

Sang (Staan)

Op hierdie tweede Adventsondag kom soek ons by God vrede.  Want regte vrede kry mens nêrens anders nie.   Kom ons sê vir God: “U is ons lewe, U is ons vrede. . .” uit

Gesang 168 strofes 1 en 2

TOETREDE

Predikant

Votum en Seëngroet (Staan)

Geloof sy God die Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.

(Genesis 14 : 20)

Jesus sê. . . Jou geloof het jou gered. [Kom]. . . in vrede.

(Lukas 7 : 50, aangepas)

Aan . . . my eie kind in die geloof wat ons albei bely. Genade en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Verlosser!

(Titus 1 vers 4)

AANBIDDING EN LOF

Ouderling

Sang (Staan)

Kom ons loof die Here en vra dat Hy oor ons moet waak, ons voorspoedig moet maak, ons sy vrede moet gee, en ons moet seën, uit

Gesang 193 strofes 1,2 en 3

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Met Kersfees is die versoeking groot om sentimenteel en soetsappig te traak.  Alles is glo liefde, vrede en ek-belowe-om-van-jou-te-hou.  Sulke stroop is ver verwyderd van die rede waarom God hierheen kom.  Dis dalk goed bedoeld, maar dit vat nie die sonde ernstig op nie.  Ons sonde het Hom laat kom.  Ons sonde het Hom laat sterf.  Luister uit 2 Korintiërs 5 verse 15 tot 21 na wat God se wil met Jesus Christus is:

15      

Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

16      

Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie.

17      

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

18      

Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.

19      

Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20      

Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!

21      

Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Skuldbelydenis (Sit)

God gryp met Christus in om ons sonde te stop.  Die sonde wat ons sou doodmaak, tref Hóm met die doodstraf. So maak God met ons vrede.  Want dreigemente van dood bring nie vrede nie.  Vrede maak jy net deur iemand vry te spreek. Vrede kom na jy sonde vergewe. Die versoeking om met Kersfees net te kom bakhand staan dat God moet vrede gee, is groot.  Ons is die rede vir waarom hier nie vrede is nie.  Dis ons wat vrede moes gemaak het. Maar hier by ons is dit nog die ene oorlog. Kom ons bely ons skuld met

Sang (Staan)

Gesang 235 strofe 1

Genadeverkondiging (Bly staan)

Luister na die blye boodskap van genade in Jesaja 61.  Dit was ook die Skriflesing by Jesus se heel eerste preek.

Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is,  

om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon. . .

(Jesaja 61 : 1 en 2)

In Lukas 4 vers 21 begin Jesus sy preek oor hierdie Skriflesing met die woorde:

“Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”

Geloofsbelydenis (Bly staan)

Ons sing vandag weer ons geloofsbelydenis saam. Ons bely dat ons glo in God by wie ons vrede vind, want Hy vergewe al ons sonde. Kom ons sing

Sang (Staan)

Gesang 241 strofe 1.

AANBIDDING EN LOF

Predikant

Gebed (Mans staan)

Sang (Staan)

Hoor ons as ons bid, o Heer. . .  Ons sing

Gesang 278

VERKONDIGING

Predikant

Skriflesing (Sit)

Markus 8 verse 22 tot 33

(Bladsy 60 van die Nuwe Testament.)

22      

Hulle het in Betsaida aangekom, en toe bring die mense ‘n blinde man na Jesus toe en vra Hom om hom aan te raak.

23      

Hy het die blinde man aan die hand gevat en hom uit die dorp uit gelei. Toe het Hy op sy oë gespoeg, sy hande daarop gesit en vir hom gevra: “Sien jy al iets?”

24      

Hy het sy oë geknip en gesê: “Ek sien mense, iets soos bome. Ek sien hulle loop.”

25      

Daarna het Jesus weer sy hande op sy oë gesit. Die man het sy oë oopgemaak, en hulle was reg. Hy het alles duidelik gesien.

27      

Daarna het Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gegaan. Langs die pad het Hy vir die dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is Ek?”

28      

Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper, party sê weer Elia, en party een van die profete.”

29      

“Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?”

Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!”

30      

Toe belet Hy hulle om dit vir iemand anders te vertel.

31      

Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan.

32      

Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe.

33      

Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe. “Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”

Spreuke 2: 1-5 sê oor wat ons in die Bybel lees:

My seun, neem aan wat ek jou sê, maak wat ek jou voorskryf jou eie, hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan. Roep insig by, vra na gesonde begrip. Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ‘n verborge skat. Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken. 

Sang (Staan)

Kom ons sing Gesang 254.  Dis ʼn gebed wat vir die Here vra om met ons te praat uit hierdie stuk van die Woord waaruit ons nou net gelees het.

Gesang 258 strofe 2 

Preek (Sit)

Ons doen dit elke Sondag.  Maar die dag as ons gemeentekinders hier kom staan om hulle geloof vir die eerste keer hardop te bely, doen ons dit met nuwe aandag saam.

Toe ek die dag voor ʼn kansel gestaan het om te sê ek glo ook, het ek maar min verstaan van wat dit beteken. Dit was vir my lekker dat ek eindelik  met die kategese klaar was.  Wat ek op Sondagskool geleer het, was nie juis so opwindend dat ek dit vir niks in die wêreld sou wou mis nie.  Buitendien was dit kennis, kopgoed, soos wis- en aardrykskunde.  Wat klaar is, is klaar, het ek gedink.  Daar is nie veel meer daarmee te doen nie, het ek gevoel.

Nou, elke keer as ek dink aan iets om te sê vir die Kerk se kinders sodat vandag vir hulle altyd spesiaal sal bly, bid ek ek kry dit reg om vir julle die hemel se deur net so op ʼn skrefie oop te stoot, dat hulle iets sal besef van wat ek nou weet.  Sodat julle sal verstaan hoe groot hierdie oomblik is.

Ek wens so julle kan vandag julle harte in julle ore hoor klop, die bloed in julle are voel bruis, en dat julle later van vandag sal onthou dit was die dag toe julle vir die eerste keer aangevoel het hier kom ʼn ding.  Hier begin vandag vir julle ʼn lewe saam met God.  Nie dat julle tot nou toe nog sonder God moes klaarkom nie.    Julle weet dalk al meer as wat ek in hierdie stadium van my lewe geweet het. Wat ek bedoel is dat julle van vandag af moet kan voel julle kan met ons en Jesus se dissipels saampraat.  Dat julle moet kan sê nou praat die Here met ons reguit.  Nou hoor ons die volle waarheid.  Nou sien ons vir die eerste keer die koninkryk van God.  Nou het ons eerstehands met God te doen, en nie net met hoorsê nie.

Gereedskap en woordeskat

My pa is knap met sy hande.  Niks staan vir sy hande verkeerd nie.  Maar met jou kaal hande kry mens nie alles gedoen nie.  Daarom gebruik ambagsmanne soos my pa, gereedskap.  Met ʼn paar stukke gereedskap, as jy eers weet hoe om hulle te gebruik, sit jy die hele wêreld aanmekaar en kry jy al wat stukkend is, weer heelgemaak.

Ek is weer beter met woorde.  Ek het geleer dat met ʼn skaflike woordeskat kry mens nogal baie gesê.  Met woorde bou jy ook ʼn hele werklikheid in jou kop.  Met gereedskap het ek nog nie juis verder gevorder as om net hulle name te leer nie.  Ek sê mos ek ken net die woorde vir goed.  Ek kry nie met hierdie 10 duime van my gereedskap goed vasgehou nie.  Maar met woorde het ek al ver gekom.  Ek het, soos my pa met sy gereedskap regkry, woorde gaan leer inspan.  Ek het agtergekom daar is niks wat mens nie kan sê nie, niks waaroor mens nie kan praat nie.  Met woorde kan jy berge versit.  Met woorde kan jy mense laat lag en laat huil, laat dink en laat opgee, laat bou en laat breek, laat leef en laat sterf. God het al’s met net woorde geskep.  Ek het tot die gevolgtrekking gekom woorde is ook ʼn soort gereedskap.

Kategese is jou gereedskap

Net so het ek ook geleer kategese gee jou gereedskap.  Ek het geleer die dag as jy met kategese klaarhet, het jy ʼn stel tange en skroewedraaiers, vyle en byle, boute en moere, messe en skawe, ʼn winkelhaak en ʼn waterpas in jou hand.  Maar jy het van daai gereedskap ook nog net maar die name geleer. Wat om met hulle te maak, is nog nie so duidelik nie. Jy weet nou iets van die taal wat mense in die kerk praat.  Jy ken darem nou al die name van die goed wat gelowiges glo.   Jy het al ʼn vae idee van waaroor dit alles gaan. Wat om daarvan te maak, dalk nog nie.

“Já!” Of dalk nog net: “ja. . .”

Elke ding wat van nou af met jou gaan gebeur, gaan jou elke dag laat vra: Wat vang God aan?  Waarmee is God besig?  Het jy woorde vir wat God doen? Kan jy al praat oor wat God doen?  Praat jy nie net die taal van die kerk en van geloof nie, maar van God? Praat jy God se taal?  Kan jy al agterkom wat God vir jou sê die dag as Hy met jou praat?   Kan jy met Hom al saamwerk?

Kategese moes jou hierop help “ja” antwoord het.  Nie ʼn te selfversekerde “ja” nie, maar darem al “ja”. Dis genoeg.  Vir nou.  As jy net van nou af jou oë sal oophou om meer te sien, en jou kop sal oophou dat jy meer kan leer.  Dan is jou “ja” regtig, vandag al, “ja” en niks om op neer te sien nie.

“Ek sien bome loop!”

Maar Petrus kry dit nie eers goed reg nie.  Ek vermoed daar is goeie rede waarom Petrus se mislukte geloofsbelydenis hier in Markus staan net na die ding met die blinde ou by Betsaida.

Die mense het die blinde man na Jesus toe gebring want hy wou hê Jesus moet tog net aan hom raak.  Jesus vat die blinde man toe aan die arm en loop met hom ʼn entjie die veld in. Jesus spoeg op die man se oë.  Hy vat aan die dooie oë, en vra: “Sien jy al iets?” Die ou antwoord: Ek sien bome wat rondloop!

Ja, die blinde man sien al iets.  Nes ek op 17.  Jy sien iets.  Jy weet daar is iets daar.  Maar jy het geen idee van wat dit is wat jy sien nie.  Bome loop nie gewoonlik nie. Jy moet dit eers van bome leer voor jy jou oë kan vertel dat daai goed wat hulle sien, onmoontlik bome kan wees.

Dat jy oë het, beteken nog nie jy kan sien nie.  Jy moet eers verstaan wat jy sien voor jy weet waarna jy kyk. Soos daai kêrel van Betsaida moet jy kan aflei: wel, as bome nie kan loop nie, is daai seker hoe mense lyk.  Maar wie weet, dalk was hy steeds verkeerd:  dalk was dit tog bome wat hy vir mense aangesien het? Hy was tog alleen saam met Jesus, in die veld, buite die dorp. Dalk ver van mense af?  Wie of wat was dit wat hy gesien rondloop het?   Hy kyk.  Hy sien.  Maar wat op aarde dit is wat hy sien, het hy eers geen benul van nie.

So begin jou eerste belydenis van geloof.  Soos n blinde man wat vir die eerste keer sien, en nie weet waarna hy kyk nie.  n Baba se eerste tree: huiwerig, onseker, onvas, en geen gevaar vir Hussain Bolt nie.

Julle moet weet dat julle “ja, ek glo” van vandag, nie nou beteken jy het gearriveer in ʼn plek waar jy alles wat vir geloof tel, klaar lekker onder die knie het nie.  Die slegte nuus is, jy het nooit vir God in jou sak nie.  Jy gaan nooit die lewe saam met God kleinkry nie. Jy gaan nooit die kerk onder jou duim hê nie. Jy gaan nooit die hele wêreld op jou skouers kan tel nie.  Jou wil geskied nie.  Dan eers is jou “ja” van vandag regtig ʼn geloofsbelydenis.

Geloofsbelydenis sê van geloof: ek dink ek weet al iéts. Ek het agtergekom daar is iets anders en iets meer.  Wat ek ook weet, is dat ek nie veel weet nie.  Julle het al gehoor die mense sê as jy iemand soek wat alles van alles weet, kry vir jou ʼn tiener. Maar om eerlik te wees, nie een van ons weet regtig wat aangaan nie; tieners weet dit nog net nie.  Dis nie maklik om dit aan julle te erken nie, maar dalk is dit juis die beste teken van ʼn volwasse geloof:  dat ons oues ook nie meer kan waag om alles met groot sekerheid sê en voor te gee ons het al die antwoorde nie.

Wat help dit jou?, kan jy vra. In geen eksamen gaan jy punte kry as jy skryf: “Ek weet nie wat die antwoord op die vraag is nie, maar ek sal gaan probeer uitvind” nie, of: “Geen idee van wat die antwoord is nie, maar kom ek vertel jou iets anders wat ek weet, soos hoe werk krieket of hoe boer mens met bokke in Mosambiek” nie. Dis nie so maklik om te erken jy weet nie wat in die lewe aangaan nie; ons oues sê dit nie sommer nie, nie voor ons in groot moeilikheid is nie.  Maar dis waar.  En dis altyd waar.  Bely jy geloof, sê jy eintlik: ek is heeltemal verlore; ek’s uit my diepte, heeltemal verdwaal en ek sien nie juis ver nie.  En wat ek sien lyk soos bome maar die goed loop rond!  Dit maak nie sin nie!

Maar ek het darem al begin sien.  En ek kyk al.

Dis toe mense wat ek sien loop!

En van sien, weet ek nou al ek is nie alleen nie.  Hier’s mense by my.  Hulle is God se familie.  En myne.  En hulle sê God is ook hier.  Ek vertrou hulle.  Sê jy dit saam met ons, jubel die kerk en die engele in die hemel saam.

Maar kyk nou net hoe gou word dit tameletjietaai.  Jesus vra sy dissipels:  Julle ken My nou al ʼn ruk.  Wie dink julle is Ek?  En wat sê die mense, wie is Ek?  Hy vra dit want daar is baie ouens wat twak praat oor Hom.  Hulle is vreeslik seker van hulleself. Maar is hulle reg?  Wat sê hulle?

Jesus hoop die mense wat Hy liefhet, gaan geloof bely, nes julle netnou.

O, party sê Johannes die Doper, opgestaan uit die dood, met sy kop weer aangewerk.  Elia miskien? Want Elia het ook brood gemaak en byle op water laat dryf, nes Jesus op water loop. Of dalk Elisa?  In elk geval, seker een van die groot profete.

Wie sê die kerk is Ek?, vra die Here jou vandag. En jou ouers?  Jou familie? Wat het jou vriende oor My te sê?  Hulle het maar almal hulle eie menings, nè?  Jy hoor dit in hoe hulle praat, en jy sien dit in hoe hulle maak. Of hulle praat net, en vergeet vreeslik gou as dit kom by die-daad-by-die-woord-voeg. Jongmense is dodelik oor skynheiligheid.   Of miskien sien jy by hulle wat ons vandag hier in die kerk kom soek het.  Jy sien hoe hulle liefhet.  Jy sien hoe hulle die gereedskap van die liefde gebruik: hulle is geduldig, hulle is verdraagsaam, hulle verduur hulle omstandighede.  Hulle hou nie boek van die kwaad nie. Hulle seën waar jy sou vervloek.  Hulle vergewe.  Hulle versoen.

Hulle sit met daai gereedskap wat hulle by God gekry het, die instrumente van geloof, ʼn vreemde vrede aanmekaar. Want dis wat jy met hierdie geloofsgereedskap doen: jy maak vrede. Jy maak vrede deur te versoen.

Nou, vandag, is dit jou kans om self te besluit en te sê wat jy dink.  Vandag is dit jou beurt om te sê jy glo ook.  En vandag neem jy jou voor of en waarvoor jy jou geloofsgereedskap gaan gebruik.  Vir liefhê en vir vrede maak.

Wie sê jy is Ek, vra Jesus sy dissipels, en hulle antwoord soos een man, Petrus ook: “U is die Christus!”

Hulle is nie verkeerd nie.  Maar siestog, hulle kyk, maar hulle sien ook nog nie. Hulle sien bome wat ewe gesellig rondloop.

“Moenie in my pad staan nie, Satan!” 

Want toe Jesus sê: Ek gaan stellig doodgemaak word, reageer nie een van hulle met n “ja!” nie.  “Nee!” sê hulle, “Nooit! Nooit gesien nie,” sê Petrus.  Nee, Jesus, toe ek gesê het ek bely U is die Christus, is dít nie wat ek bedoel of voorsien het nie.

Jesus draai na Petrus toe: “Moenie in my pad staan nie, Satan!”  Want die stomme Petrus kon nie verder verkeerd wees nie. Ek bedoel, hoe reg kan jy wees as die Here jou ʼn Satan noem?

Ons bely nog maar ons sien bome loop. Dat daar iets daar is.  Maar wat ons al van God weet, is maar skrams. Maar ons gaan gaandeweg meer sien, namate ons oë leer kyk en ons ons gereedskap behendiger leer gebruik en vrede begin gebeur. Dis n proses.

Sekerheid is selfbedrog.

Ons bely Jesus is die Christus van God.

Wat beteken jou geloofsbelydenis?

Ek dink Christus word jou manier van dink en praat en doen. Jou taal kry woorde by soos “geloof”, “genade” en “geregtigheid”.  “Liefde”, “lyding”, “sonde” en “dood”, “opstanding” en “nuwe lewe”.  Jy het gereedskap vir nuwe lewe. Jou lyf en krag, jou hart en verstand, jou hele menswees is jou gereedskap vir hierdie lewe saam met God.

Jy is die bobbejaanspanner wat die stukkende wêreld help regmaak.  Jy is jou naaste se hoop op brood, jy is die sondaars om jou se kans op verlossing. Jy is die skuldbelaaide mens se enigste ontmoeting met selfrespek en ʼn nuwe begin.

Jy in wie God se Gees woon en werk is ons hoop op vrede. God is jou kos. God is jou asem, jou vleis en jou bloed. Jy leef van Jesus. Jy is soos Hy.  Jy maak vrede.  Salig is die vredemakers, wat nes Jesus Christus mense met God en mense met mekaar in vrede leer saamleef.

Daarom kan jy nie vandag geloof bely en sê jy’s nou daarmee klaar nie. Om geloof te bely is nog net maar die begin. Begin vandag leef. Begin vandag leer hoe.

Die hemel is net op ʼn dun skrefie oop.  Maar God is daar. God is hier.  En al sukkel ons almal nog maar om te weet wat nou, kom ons maak saam ʼn begin.

Kom, vra die kerk en hierdie gemeente van die Kerk.  Kom saam met ons op ons pad deur die wêreld met geloof se gereedskap. Kom dien saam met ons die Here hier, op hierdie plek, en waar julle ookal mag heengaan.

Mag die Here julle seën.

Mag God julle sy Gees gee.

Mag die Here julle sy Seun gee as ʼn kos en drank wat jou sterk genoeg sal maak vir wat ookal; oor jou pad kom.

Mag die Here julle seën.

Amen.

Sang (Sit)

Gesang 251 strofe 3

Openbare Belydenis van Geloof

Wisselformulier vir die aflegging van belydenis van geloof

Andries en Eduard, kom staan hier voor ons.

Geliefdes van ons Here, Jesus Christus!

God het die wêreld so lief dat Hy sy Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God se liefde dring ons om ons geloof te bely. Die verrassende is dat die Woord van God ons leer dat geloof nie uit onsself kom nie – dit is ‘n geskenk van God. Die Heilige Gees wek geloof in ons wanneer ons die Woord van God hoor. Sommige van ons kon reeds van kleins af in God glo. Ander van ons het God eers later leer ken. Geloof in Jesus Christus bring ons in ‘n lewende verhouding met God.

Hierdie verhouding word ook sigbaar waar ons meeleef met die kerk as liggaam van Christus. Dit is ‘n voorreg om God se kinders te wees en aan sy kerk te behoort. Daarom bely ons telkens opnuut en met verwondering ons geloof.

Hierdie verwondering dring ons om gereeld tot God te bid, die Bybel as Woord van God getrou te bestudeer en ons lewe daarvolgens in te rig. Wanneer ons bewus word van ons onvermoë om volgens sy wil te lewe, moet ons ons skuld bely en ons telkens weer tot God bekeer. As lidmate van sy kerk wil ons diensbaar wees in sy gemeente en ons hou aan die kerklike dissipline.

God gebruik die opvoeding vanuit die ouerhuis, die kerk se kategese en die prediking om ons oor al hierdie sake te onderrig. Die ouderlinge is tevrede dat julle voldoende onderrig is, dat julle besef wat die geloof in God beteken, en hoe julle as Christene moet leef. Daarom kry julle nou geleentheid om julle geloof voor God en sy gemeente te bely.

Die katkisante moet nou op die volgende vraag antwoord:

Noudat julle gehoor het wat dit beteken om te glo, wil julle ook saam met die kerk van alle eeue julle geloof bely?

Katkisante:

Ja

Andries Preis / Eduard O’Reilly, Bely jy voor God en sy gemeente, soos wat ons in die Woord van God leer en dit in ons belydenisskrifte belig word, dat jy glo in die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees? Wat is hierop jou antwoord?

Katkisante:

Ja, ek glo.

 

Kom ons bely nou as gemeente saam met die een heilige algemene Christelike kerk, ons geloof almal saam, staande en hardop.

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Op grond van julle doop en die belydenis van julle geloof verklaar die ouderlinge julle tot belydende lidmate van die NHKA.

God die Vader het julle op grond van sy genade geroep om deur Jesus Christus ewig aan Hom en sy kerk te behoort. Mag God julle deur sy Woord en Gees lei, in die geloof versterk en julle krag gee om by hierdie belydenis te bly.

Amen

In die Naam van Jesus Christus, die Hoof van die kerk, roep ons julle op om gereeld saam met die gemeente die Nagmaal te vier en met toewyding deel te neem aan die gemeentelewe tot uitbreiding van die koninkryk van God.

As medegelowiges onderneem ons om julle as broers en susters van Christus lief te hê, met ons gawes te dien; vir julle te bid; vir julle ‘n voorbeeld te wees in die geloof en julle met deernis te ondersteun in die geloof wat julle vandag bely het.

Gelukwensing namens die Kerkraad

Hendrik van der Berg

Sang as seënbede:

Kom ons bid die nuwe belydende lidmate die seën van die Here toe deur te sing uit

Gesang 269 strofes 1,2,3 en 4. Verander die “u” na “jou”.

Nagmaal

Wisselformulier vir die bediening van die Nagmaal

Geliefdes in ons Here Jesus Christus!

By die laaste ete voor sy dood, het Jesus brood en wyn gevat en gesê sy dissipels moet dit voortaan eet en drink en aan Hom dink. Daarom vier ons die Nagmaal.

Die Nagmaal is een van die Kerk se twee sakramente wat ons geloof versterk.  Met die tekens van brood en wyn verseker Jesus Christus ons deur sy Gees van ons gemeenskap met God en met mekaar. En by die tafel van die Here verheerlik ons God.

Ons glo dat die Here deur sy Gees by hierdie feesmaal teenwoordig is.

Wanneer ons die brood en wyn ontvang, herinner dit ons dat ons verlos is deur die dood en opstanding van Jesus Christus.  Deur geloof in Jesus Christus het ons saam met Hom gesterf en staan ons saam met Hom op tot ’n nuwe lewe.

Die Nagmaal verseker ons dat ons aan Christus deel het. By hierdie maaltyd laat die Here ons hoop op die hemelse feesmaal wat ons saam met God en al die gelowiges sal eet en drink. Ons behoort vir ewig aan God. Daarom hoef ons niks te vrees nie. Christus is die Een wat was, wat is en wat kom – die Here van die toekoms, ʼn toekoms vol vrede, en nie haat en oorlog nie.

Rondom die tafel word die gemeenskap van gelowiges sigbaar. Ons het immers almal deel aan hiérdie brood en wyn. Die liefde wat God aan ons skenk, bind ons aan mekaar. Voor ons by die tafel aansit, moet ons onsself eers ondersoek: Ons moet ons afvra of ons bereid is om deur wat ons doen en nie doen nie hierdie liefdesband onder ons te laat sterker word.

Ons is bewus van ons eie sonde en het daaroor berou. Omdat Jesus Christus ons vergewe, mag ons by sy tafel aansit. Die deelname aan die Nagmaal wil ons van voor af laat seker wees van sy genade.

Wanneer ons van die tafel af opstaan, stuur God ons om wêreldwyd te gaan getuig van sy versoening, sorg en liefde. God versorg ons met hemelse en aardse brood. Kom ons versorg uit dankbaarheid ander ook só.

Voordat ons aan die tafel van die Here aansit, laat ons bid. Ons sing staande saam uit

Gebed met sang (Staan)

Gesang 568 strofes 1,2 en 3

Broers en susters in die Here, u word hartlik uitgenooi om te kom aansit aan die tafel van die Here! Belydende lidmate van gemeentes van ons Kerk en van ander kerke met dieselfde belydenis is welkom, mits u in u eie gemeente ook die voorreg geniet.

Broers en susters, laat ons nie ons gedagtes rig op die uiterlike tekens van brood en wyn nie, maar op die betekenis daarvan, naamlik die versoening in Jesus Christus, ons Here.

Uitnodiging na die Nagmaal

Die eerste tafel:      Andries Preis en sy familie

Die tweede tafel:   Eduard O’Reilly en sy familie

By die tweede en daaropvolgende tafels kan een van die volgende of soortgelyke Skrifgedeeltes gebruik word:

Gemeente, alles is gereed; kom na die tafel van die Here. Kom, en word versterk in die geloof. (Matt 22: 4)

Gemeente, kom; die maaltyd staan klaar. (Luk 14: 17)

Kom, gemeente, ons is almal van die Here afhanklik. Hy voed ons op sy tyd! (Ps. 104: 27)

Gemeente, kom dan; want die Here maak sy hand oop en ons kry meer as genoeg! (Ps. 104: 28)

Kom, gemeente, laat ons ons oë op die Here rig; want Hy voed ons op ons tyd! (Ps. 145: 15)

Kom, gemeente, eet! Anders sal die pad vir u te lank word. (1 Kon 19: 7)

Kom, laat ons feesvier. Hierdie kind van My was dood, en hy lewe weer; was verlore en Ek het hom teruggekry. (Luk 15: 32)

Wanneer die brood gebreek en uitgedeel word, sê die bedienaar:

Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van Christus.

En wanneer die beker aangegee word:

Die beker wat ons drink, is die gemeenskap met die bloed van Christus.

Eet en drink, doen dit tot sy gedagtenis. Jesus Christus is die Een wat was, wat is en wat kom.

Sang tydens die tafelbediening

Na elke tafel sing ons een strofe op ʼn slag van

Gesang 531: 1,2

Gesang 528: 1,2 en 3

Dankgebed deur sang (Sit)

Gesang 532 strofes 1,2 en 3

Wegsending:

Slotsang (Staan)

Gesang 365 strofes 1 en 3

Dis ons slotlied.  Ons sing oor vrede op aarde, vrede wat vandag aan ons ook gegee is.  Ons sing tot lof van die Vredevors, Jesus, die Here, God die Seun.

Seën (Staan)

Ontvang die Here se seën uit Lukas 1:

78      

Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal,

79      

om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.”

 (Lukas 1 : 78 en 79)

 

Amen.

 

Respons (Staan)

Gesang 523 strofe 4

Afkondigings

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

 

Gesang 266

Psalm 102 strofes 9 en daarna 4

Gesang 168 strofes 1 en 2

Gesang 193 strofes 1,2 en 3

Gesang 235 strofe 1

Gesang 241 strofe 1.

Gesang 278

Gesang 254.

Gesang 258 strofe 2

Gesang 251 strofe 3

Gesang 269 strofes 1,2,3 en 4. Verander die “u” na “jou”.

Gesang 568 strofes 1,2 en 3

Gesang 531: 1,2

Gesang 528: 1,2 en 3

Gesang 532 strofes 1,2 en 3

Gesang 365 strofes 1 en 3

Gesang 523 strofe 4

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s