Sing in die donker. Kersfees kom!

Ek moet eerlik erken, hier staan ʼn ding in die Bybel wat ek nie voorheen raakgesien het nie.  Dit staan so terloops hier, dat ek dit na hoevele kere se lees, elke keer gemis het.  Het jy dit al gesien? In die hartjie van die ergste ellende staan vers 26.  ʼn Sommerso terloopse mededeling van kom-en-gaan.  Maar as jy mooi gekyk het, sou vir jou ʼn liggie aangekom het.  Soos een klein flikkerende kersie wat vlamvat in stikdonkerte.  Soos met die eerste Sondag van Advent. ʼn Flou opflikkerinkie van hoop.

Woord en Lieddiens

Markus 14 verse 17 tot 21 en 26 tot 34

Johannes 1 verse 1 tot 14

27 November 2016, NHKA Kampersrus

Advent

TOETREDE

Predikant

Alle heiliges Sondag

Die kerklike jaar eindig vandag.  Hier aan die einde van November dink die kerk terug aan die jaar en die lewens wat verby is, ons eie lewens, en die lewes van die geliefdes wat ons hierdie jaar ontval het.  Ons kyk op en ons kyk vorentoe, na die opstanding toe, en na die wederkoms van Christus.  Ons bid vir troos en berusting vir almal van ons wat die gemis aan geliefdes moet verwerk.

Stilte (Staan)

Kom ons staan vir ʼn oomblik in stille herdenking van almal wat die afgelope jaar deur die dood van ons weggeruk is.

Amen.

Advent

Maar vanjaar val twee herdenkings saam.  Vandag is ook die eerste Sondag van Advent.  En met Advent, begin die nuwe kerklike jaar.  Advent strek gewoonlik oor 4 Sondae.  Die aanloop tot Kersfees is Adventstyd.  Dis dan dat ons wag op God om in ons wêreld te kom ingryp: Ons verwag God gaan kom, en dat Hy iets nuuts gaan doen met ons en met die wêreld wat Hy liefhet. Ons onthou hoe God dit in Christus gedoen het.

Die vier Adventsondae het elk ʼn eie tema.  Sedert die Kerkhervorming van Martin Luther-hulle in Duitsland, dink die Hervormde Kerk in die vier Adventseredienste aan

  • Hoop
  • Vrede
  • Liefde en
  • Vreugde

En dan kom Kersfees.

adventkerseLuther-hulle het begin met die gebruik om vyf kerse in ʼn krans in hulle  Adventseredienste aan te steek, elke Sondag een meer, drie rooies, of donkerbloues, of perses, een elk van die donker kerse vir Hoop, Vrede en Liefde.  Die donker kleur (rooi, blou of pers) simboliseer die duisternis waarin  God lig kom aansteek. Dan ʼn rooskleur kers vir Vreugde, met die kleur wat dui op die dagbreek van ʼn nuwe tyd.  Dan, op Kersfees, ʼn wit kers, die Christus-kers wat Jesus se geboorte en dié Lig vir die wêreld beteken.

In navolging van die Hervorming van 500 jaar gelede, en saam met Hervormde Kerke dwarsoor die wêreld, steek ons vandag die eerste van die vyf kerse aan.  Ons erediens gaan oor Hoop.  Ons gaan mekaar aanspoor om te sing in die donker. Daarom gaan ons erediens vandag oor hoop, oor donkerte, en oor lig.

Sang (Sit)

Kom ons sing almal saam

Gesang 353 strofes 2 en 3

Vir die volgende lied staan ons, maar ons sing nie. Riaan van Rooyen sing alleen die Onse Vader.

Sang (Staan)

Gesang 266

TOETREDE

Ouderling

Sang (Sit)

Kersfees kom!  Dis vandag Nuwejaar in die kerk.  Dis die eerste Sondag van Advent. Advent is die tyd waarin ons ingestel is op God se koms na ons toe.  Ons verwelkom Kersfees, en ons wag op God, met die sing van

Gesang 358 strofes 1,2 en 3

Ons bly sit vir die lied. Daarna staan ons op vir die votum en seën.

TOETREDE

Predikant

Votum en Seëngroet (Staan)

Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn. . . 

(Jesaja 9 : 1)

God [het] gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien die lig is goed. . .

(Genesis 1 verse 3,4 en 5)

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

(Johannes 1 verse 1 – 5)

[Ons verbly ons] in u teenwoordigheid. . . soos mense bly is in die oestyd.

(Jesaja 9 : 2)

AANBIDDING EN LOF

Ouderling

Sang (Staan)

Lofsing die Heer in die donkerste nag.  Sing saam uit

Gesang 201 strofes 1,2 en 3

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Met Kersfees is die versoeking groot om sentimenteel en soetsappig te traak.  Alles is glo liefde, vrede en ek-belowe-om-van-jou-te-hou.  Sulke stroop is ver verwyderd van die rede waarom God hierheen kom.  Dis dalk goed bedoeld, maar dit vat nie die sonde ernstig op nie.  Ons sonde het Hom laat kom.  Ons sonde het Hom laat sterf.  Luister uit 2 Korintiërs 5 verse 15 tot 21 na wat God se wil met Jesus Christus is:

15      

Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

16      

Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie.

17      

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

18      

Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.

19      

Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20      

Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!

21      

Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Skuldbelydenis (Sit)

God gryp met Christus in om ons sonde te stop.  Die sonde wat ons sou doodmaak, tref Hóm met die doodstraf. Dié donker skaduwee van sonde hang oor Kersfees.  Die versoeking om hiervan iets oppervlakkigs te maak, is groot.  Nogtans sê juis Kersfees dat God niks in sy pad laat staan om die genade by ons uit te kry nie.

Sang (Staan)

Kom ons sing ʼn loflied.

Gesang 319 strofes 1

Genadeverkondiging (Bly staan)

Luister na die blye boodskap van genade in Jesaja 61.  Dit was ook die Skriflesing by Jesus se heel eerste preek.

Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is,  

om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon. . .

(Jesaja 61 : 1 en 2)

In Lukas 4 vers 21 begin Jesus sy preek oor hierdie Skriflesing met die woorde:

“Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”

Geloofsbelydenis (Bly staan)

Ons sing vandag ons geloofsbelydenis saam. Ons bely dat ons glo, nie omdat ons daar was toe God hierdie goed in Christus gedoen het nie; ons glo want die Woord van God sê dit is so.

Sang

Ons sing

Gesang 262 strofes 1 en 2.

AANBIDDING EN LOF

Predikant

Gebed

Die hele Adventstyd is as’t ware een lang gebed.  Dis nou dat gelowiges bid dat God moet kom ingryp in die duisternis van die sonde wat elke dag dreig om ons te oorweldig.  Vandag, by wyse van uitsondering, en omdat dit ʼn lang gebed is, kan ons almal onder die gebed bly sit.  Maar ons gaan aan die gebed deelneem deur vier liedere te sing, en met elke lied staan ons almal op.  Ek gaan nie die liedere aankondig nie.  Elke lied sal voorafgegaan word met “Hoor ons as ons bid. . .”

Kom laat ons bid.

Gebed (Sit)

Here, ons verlang na U.  Here, hoor ons bid. . .

Sang (Staan)

Gesang 343 verse 1 en 2

Gebed (Sit)

Vader in die hemel, ons weet daar is geen ander god nie.  Net U. U het die heelal geskep, van die uitspansel se eindeloosheid, tot die kleinste atoom in fynste besonderheid. Dit is U wat alles nog in u hande hou.

Was dit nie waar nie, was ons wêreld in ʼn nog groter gemors.  Dog, Vader, die nag is reeds vreesaanjaend genoeg.

Wat ons in Adventstyd agterkom, is dat U ons nie in hierdie donkerte gaan los nie.  U wil, onverklaarbaar, met ons ʼn afspraak maak en ons ontmoet. Hoe U, die Ewige, so in die tyd kan inklim, verstaan ons niks van nie. Van hoekom U dit vir ons doen, begryp ons nog minder.

En dit weet ons wel: ons kan nie sonder U lewe nie. Sonder U is ons niks, en is hier niks oor wat regtig waarde het nie. Maar ons kan die eerste flikkerende lig in die donkerte agterkom. U het al gekom.  U is reeds hier.  U kom weer.  U lig breek deur.

En met U, is alles moontlik, is ons meer as oorwinnaars.  Ons uitweg uit hierdie deurmekaarspul uit is al sigbaar, en ons het al hoe meer krag om die pad te loop.  U voed ons met die brood wat lewe gee, met lewende water en wonderwerk-wyn.

In ons brand meer as net ʼn vlammetjie kerslig, maar ʼn onuitblusbare doringbos-vuur en u stem wat sê: Ek is. En Ek is by jou.  Ek is jou Vader, jou Broer, jou Vriend, jou Verlosser.  Hiervandaan kom ons hoop en ons geesdrif.

Drie-Enige God, laat voel ons weer die tinteling in ons are wanneer lewe terugkom.  Laat ons in die week wat kom aan u tafel sit, eet en drink en vol word.  Laat ons in Advent lig sien, asem skep, rus vind Here.  Hoor ons as ons bid: Verdryf met u lig ons sondenag.

Sang (Staan)

Gesang 336 strofes 3,4 en 5

Gebed (Sit)

Dis alles ons skuld, Here, ons bely dit.  Dis niks anders as ons eie sonde wat U hier laat ly nie, Here Jesus.  Vergewe ons. Spreek ons vry.

Ons liefdeloosheid is ons skande. Ons kry daarvan skaam. Ons berou dit.  Help ons daaruit.  Bely ons skuld, bely ons meer as net onvermoë, Here. U het ons sulke belangrike werk gegee. Ons faal daarmee omdat ons sonde dit besmet.

Ons stel U elke dag teleur. U het al spyt gekry dat U ons hoegenaamd uitgedink het. Ons het baie moed en selfvertroue, Here, daarvan het ons oorgenoeg.  Maar ons geloof is klein, Here. Dis bitter swaar om nie op onsself te kan staatmaak nie, Here. Ons kry al amper alles anders so goed reg, maar met die liefde bly dit ʼn gesukkel.  As dit by liefde kom, is ons in die verleentheid.  Ons kon U nie eers liefkry toe U in lewe lywe by ons was nie.  Nou nog neem ons U nie ernstig genoeg op nie, gehoorsaam ons U nie, kom ons die liefde kort.  Die mense hier by ons bloei en kry seer, vlug van ons af weg oor hoe hard ons geword het.  Dis erg om te weet dat ons die een ding wat U van ons vra, onderskat, minag en selfs haat.  Help ons wees soos U is, Here Jesus Christus.  Maak ons minder, word U meer.  Leer ons op U reken vir alles. Laat u koninkryk kom, laat wat U wil hê gebeur. Veral die liefde.  Hoor ons as ons bid: Help ons liefkry en liefhê.

Sang (Staan)

Gesang 332 strofes 1,2,3 en 4

Gebed (Sit)

Here, al wag ons weer dat U moet ingryp, besef ons ook ons is in hierdie lewe in u skepping vir geen enkele oomblik alleen en aan ons lot oorgelaat nie. U, Heilige Gees, is by ons.  So naby dat U in ons woon en in ons gedagtes en denke met ons praat, ons harte U laat voel, ons spiere, vingers en voete U laat wys.

Maar ons besef ook, Here, Gees van God, dat ons koppe raas.  Dog, ons hoor dit nie eers meer nie. Soos sonbesies in die somer is die geskreeu in ons ore al so algemeen ons vergeet dis daar.  Dit maak ons doof. Ons hoor U nie meer nie.  Ons hoor nie u Woord soos wat U dit bedoel het nie.  Voor ons dus vandag weer u Woord oopmaak, voor u Woord weer hier by ons hande en voete kry, vra ons dat U ons gewillig maak om te luister, gretig om te verstaan.  Hoor ons as ons bid: Kom Heilige Gees, kom leer ons wat ons lees.

Sang (Staan en bly staan na die lied)

Gesang 334 strofes 1,2,3 en 4

Sang (Staan)

Hoor ons as ons bid, o Heer. . .

Gesang 278

VERKONDIGING

Predikant

Skriflesing (Sit)

Johannes 1 verse 1 tot 14

(Bladsy 126 van die Nuwe Testament.)

1        

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.

2        

Hy was reeds in die begin by God.

3        

Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.

4        

In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.

5        

Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

9        

Die ware lig wat elke mens verlig, was [is] aan kom na die wêreld toe.

10      

Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie.

14      

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

Sang (Sit)

Kom ons sing oor die Lig wat God in ons donkerte kom aansteek het.

Gesang 330 strofe 1

Skriflesing (Sit)

Markus 14 verse 17 tot 21 en 26 tot 34  

(Bladsy 73 van die Nuwe Testament.)

17      

Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan.

18      

Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.”

19      

Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: “Dis tog nie ek nie?”

20      

Hy sê toe vir hulle: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek.

21      

Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

26      

Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

27      

Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe: “Ek sal die herder doodmaak, en die skape sal uitmekaar gejaag word.

32      

Toe kom hulle by ‘n plek met die naam Getsemané, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.”

33      

. . .  Hy het ontsteld en beangs geword

34      

en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”

In Jeremia 23 vers 29 sê God oor wat ons in die Bybel lees:

My woord is soos vuur . . . soos ‘n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.

Sang (Staan)

Kom ons sing Gesang 254.  Dis ʼn gebed wat vir die Here vra om met ons te praat uit hierdie stuk van die Woord waaruit ons nou net gelees het.

Gesang 254 

Preek (Sit)

Ek moet eerlik erken, hier staan ʼn ding in die Bybel wat ek nie voorheen raakgesien het nie.  Dit staan so terloops hier, dat ek dit na hoevele kere se lees, elke keer gemis het. Dis seker ook oor die plek waar dit staan.  Daar word so baie ander belangrike goed gesê, my aandag was elke keer op ʼn ander plek.

Wat kan belangriker wees as die moordkomplot wat op dreef kom en nou meedoënloos op ʼn ramp afstuur?

Markus 14 begin met hoe die ouens Jesus se dood begin beplan.

Dan kom breek ʼn vrou ʼn fles peperduur nardusolie oor Jesus se voete en salf hom.  Jesus sê sy berei Hom vir sy begrafnis voor.

Judas Iskariot ruk vir hom op.  Wat te erg is, is te erg.  Hy gaan gee vir die komplotters die deurbraak waarop hulle gewag het.  Hulle belowe hom ʼn beloning.

Jesus beplan self die paasfeesviering, nes ons nou vir Kersfees regmaak.  Hy stuur van die manne vooruit, vertel vir hulle hulle sal ʼn kêrel wat met waterkruik loop, teëkom, en by die ou sal hulle ʼn bovertrek kry wat vir die Paasmaaltyd regstaan.  Jode vier met Paasfees dat God hulle uit Egipte gered het.  Jesus en sy manne ook.

Die aand kom Hy daar aan.  Hulle eet saam.  Dit sou die laaste keer wees. Jesus doen wat ons nou nog met Nagmaalviering doen: breek brood en stuur ʼn beker wyn om.

Dan onthul Jesus een van hulle gaan Hom verraai.  Wie’s die derduiwel?, wil hulle almal weet.  Julle gaan nie een van julle ongeskonde hieruit kom nie, sê Hy.

Hulle eetlus is bederf, hulle feesvreugde daarmee heen. Die donker wolk van die dood sak op hulle neer.

Jesus gaan soek vars lug.  Hy wil uitkom.  Hy voel benoud.  In Getsemané kom daar doodsangs oor die man. Hy bid dringend, swetend.  Hy vra bystand, maar niemand kan dit byhou nie.

Dan kom Judas daar aan. . .

Dis Markus 14, tot hier waar ons gelees het.  Die ene onreg, misdaad, leuens en bedrog, rugstekery en verraad.  Boos!  En ons almal ken die storie baie goed.  Maar julle kom nie agter ek het iets uitgelaat nie, nè?

Sang (Staan)

Kom ons sing ʼn loflied. Kom ons sing

Gesang 365 strofes 1 en 2 

Preek (Sit)

Kan jy nou onthou wat ek gemis het?

In die hartjie van al hierdie ellende staan vers 26.  ʼn Sommerso terloopse mededeling van kom-en-gaan.  Soos: “Toe ons hiermee klaar is, is ons weg soontoe. . .” Maar as jy mooi gekyk het, sou vir jou ʼn liggie aangekom het.  Soos een klein flikkerende kersie wat vlamvat in stikdonkerte.  Soos met die eerste Sondag van Advent. ʼn Flou opflikkerinkie van hoop.

Die wêreld tuimel om Hom in. Van alle kante af word dit nag. Mense verraai Hom, vriende vergeet Hom, soldate bestorm Hom met soene wat lieg, met stokke en swaarde wat ore afkap. Die wêreld is doof van meer as net verlore ore; die wêreld verloor daai nag kop. Die beste regstelsel ooit verval in ʼn boendoehof en regering swig voor ʼn opruiende skare, Koning Herodes en sy broederbond van ʼn Joodse Raad is te lig in die broek om selfs net aan eie kultuur te klou, en alle vertoon van godsdiens misluk klaaglik.  Godsdiens word die kneg van sosio-politieke agenda, sodat priesters en profete God in lewende lywe miskyk.

Dit lyk en voel nes nou, hier by ons.

En wat maak Jesus?  Buiten om saam met sy bende dissipels te eet en te drink en hulle moed in te praat?  Wat doen Jesus: Wel, Jesus sing. Jesus sing ʼn loflied.

Nou kyk, ʼn mens kan verstaan dat die engele by Jesus se geboorte aan’t lofsang was. By die begin van ʼn lewe, aan die begin van ʼn nuwe jaar wanneer jy nog nie van beter weet nie, en die jaar vir jou net vol belofte lyk, doen mens dit graag. Of as die dreigende gevaar eers verby is, dan sing jy mos. Openbaring sê alle verlostes sal eendag in die hemel ook voor God se troon lofgesange sing. (Openbaring 5 : 11 – 12)

Maar ʼn lofsang nou, hier?  Onder omstandighede wat soos jou ergste nagmerrie lyk? Hier waar die donker skaduwee van die kruis so stikswart oor jou kom? Noudat, na ʼn bitter stryd teen droogte en hael, misoes en moord, dood, politieke anargie, siekte, broedertwis, vervreemding en verwaarlosing en  wat nog alles, noudat dit voel of niks positiefs meer oorbly nie?  Kán dit?  Is óns daartoe in staat?  Hier staan die Een wat die kruis in die gesig staar, en doen juis dít.  Met die volle wete van wat is en wat wag, sing Jesus in die nag ʼn lofsang. Hy, die Een wat gekruisig gaan word, is die Een wat die lied insit.

ʼn Treurlied, dalk?  Gegewe die omstandighede, is ʼn treurmare goed gepas: ʼn Klaaglied, soos uit Jeremia se liedboek. Of een van daai moeilike psalms wat die Israeliete het vir hartseer tye, soos toe hulle in Babel aankom en die Assiriërs van hulle eis dat hulle lofliedere moet sing. (Onthou julle Boney-M se weergawe daarvan? Wag maar, dis iewers op Pick ʼn Pay of Spar se Kersfees klankbaan.) Daai einste Psalm, self ʼn lied, sê doodgewoon net: Nee, dit kan nie, dis te veel gevra dat jy nou moet sing.

Maar Jesus sing.  Jesus sing ʼn lied.  Nie net enige lied nie, Hy sing die “Hallel”, die Hebreeuse naam vir Psalms 113 tot 118.  Kom ons sing self ʼn stukkie daarvan.  Kom ons sing saam met Jesus die Hallel. Julle sal sien daar is nie eers ʼn beduidenis van ʼn traan in nie.

Sang (Sit)

Riaan van Rooyen sing twee strofes.  Dan staan ons op en val in met nog twee.

Psalm 118 strofes 1 en 4

Sang (Staan)

Psalm 118 strofes 7 en 8

Preek (Sit)

Wat sê die Hallel alles?  Die Hallel sing oor hoe God sorg. Oor hoe God al’s geskep het, en al’s beheer.  En, sê die Hallel, God doen dit oor Hy so liefhet. Dis wat Jesus bedoel as Hy dit hier sing is: Wat julle nou gaan sien gebeur, gebeur oor God lief is vir julle en vir alles hier.

Die liedere sing oor hoe heilig God is.  Oor hoe sy almag alles en almal laat bewe as Hy verskyn. Al lyk dit of niemand vannag vir Hom skrik nie. Dit sing van die eer wat God moet kry, al gaan jy dit nie vannag sien nie. Die Hallel jubel oor God al ons gebede hoor, al steur geen méns hom meer aan Gód nie. Dit juig oor God bly liefhê, en nie ophou nie, selfs wanneer jy oordeel van Hom sou kon verwag. Dit sing van verwondering oor God vir Hom die onwaarskynlikste van kinders kies, en dat al stel sy kinders Hom oor en oor teleur, Hy nooit met hulle tou opgooi nie.  God gee nooit op met ons nie. Hy verlaat of laat vaar ons nie. Sy liefde ken geen omdraaiplek nie, gaan nooit te ver nie, kry nooit end nie.

Hier waar Jesus net die duisternis op sy donkerste kan sien, en die magte van die Bose oorhand kry en al oorwinning proe, help die Hallel Jesus deur die nag.  Halfpad tussen engele op die ope velde by Bethlehem en die verlostes in die Nuwe Jerusalem, sing Jesus die kerk se volkslied.  Jesus sing saam met engele en mense die Hallel.

Sy loflied sê: God laat Hom nie afdreig nie.  God laat Hom nie met die dood bangpraat nie. God bang geen hel of Satan nie.  Die swartste nag wat die hel kan opdis, vir God kry jy nie onder nie.

Daarom sing Jesus ʼn loflied, juis hier, juis nou.  Dis wat ons vandag ook doen.

Sonder hierdie terloopse versie, sonder hierdie een flikkerende kersie se geveg met die donker, was dit regtig nag, hopeloos nag.

Maar hier sing Jesus nou.  En sy dissipels saam met Hom. En met die lied herinner Hy hulle dat daar aan God se liefde geen einde is nie. By moedverloor, in swartste nag, sing hulle, en sing ons saam: God het ons lief! God het sy hart aan ons ontbloot, en wat ons sien, is liefde.

Sang (Sit)

Gesang 337 strofes 1, 2 en 3

Preek (Sit)

Was dit net ʼn vlietende oomblik, ʼn verganklike ontvlugting, ʼn vinnige kalmeerpil, opium vir die massas, hierdie gesingery?  Was dit net oëverblindery, of histeriese waansin? ʼn Grap miskien, ʼn uitkoggel van God, ʼn stukkie wrang ironie? Of sommer net ʼn erediens-proseduretjie?

Nee.  Hier kom ʼn lied uit die duisternis, gesing deur knersende tande, ʼn lied gesing met ʼn kruis op die rug.  Jesus se hele wese was daarin.  Die dissipels se  harte was daarin.

ʼn Kersie kom aan in die wêreld se donkerste donkerte, en skielik is die wêreld nie meer heeltemal so ʼn donker plek nie.  Ons donker wêreld word die plek waar God se lig aankom, ons wêreld met al sy sonde en seer word ʼn gepaste plek vir lofliedere aan God.

Hierdie gesing in die nag onthul Jesus van Nasaret as die Lewende God wat Lig terugbring. Vir ons, die volk wat in die donker was, vir ons wat in die dal van doodskaduwee spartel, vir ons skyn daar weer ʼn lig.

Gaan luister van vandag af tot Kersfees toe na die geluid van liedere.  Dis die wêreld vol. Jy hoor mense sing op die vreemdste plekke. In die nag, selfs. Nes Jesus, sing hulle die Hallel , liedere wat getuig dat God se liefde hou en uithou juis wanneer ons dink ons het dit verloor. Niks kan ons van die liefde van God skei nie, nie eerste die donkerste tye van jou lewe nie.

Daar is ander liedere wat julle sal hoor.  Van ʼn slee met klokke, van ʼn rendier met ʼn rooi neus, van Kersvader wat dorp toe kom, van mamma wat vir Sinterklaas soen.  Maar dis op sy beste maar net blink tinsel.  Net een lied steek lig aan, Lig wat nie uitgedoof kan word nie: dis die lied van Jesus, die Christus van God, Hy wat al ons sonde wegvat en ons met liefde en ontferming kroon.  Sing hom!  Sing in die donker.

Amen.

Sang (Sit)

Gesang 219 strofes 1,2 en 3

Wegsending:

Dankgebed, Voorbedes (Staan)

Slotsang (Staan)

Gesang 348 strofes 1 en 2

Seën (Staan)

Ontvang die Here se seën uit Lukas 1:

78      

Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal,

 

79      

om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.”

 

(Lukas 1 : 78 en 79)

 

Amen.

 

Respons (Staan)

Gesang 177 (Net een keer)

Afkondigings

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s