Waarom haat jy my dan so?

Die kerk kan sonde nie vermy nie, al verstaan die wêreld nie wat sonde is nie.  Die Bybel beredeneer dit nie eers nie: alle mense sondig.  En, sê dieselfde Bybel, vir alle mense in hierdie wêreld is daar uitkoms by Jesus Christus te vind.  Dit moet die kerk wyd en syd sê.  Maar jy kry vir Jesus Christus geen begrip nie, as jy nie eers die sonde verstaan nie. Dis van Christus dat die sondige kerk geleef kry. Maar vir sondes werk lysies nie.

Johannes 15 : 18 tot 25

13 November 2016, NHKA Kampersrus

Sonde 2

TOETREDE

PREDIKANT

Die heel eerste ding wat ons vandag in hierdie erediens gaan doen, is om dankie te sê vir die heerlike reën, die eerste regte reën na die ergste droogte van ons lewens.  Kom ons loof God vir sy goedheid.  Die Here het ons gebede verhoor!

Sang (Sit)

Gesang 458 strofes 1 en 2

In vandag se erediens gaan dit weer oor wat sonde is.

Verlede Sondag het ons geleer die gevaarlikste ding wat jy met sonde kan doen, is om daarvan ʼn ding of ʼn daad te maak. Sonde lyk nie so nie. Sonde is gedagtes en gesindheid.  Sonde is ingesteldheid en geneigdheid.  Sonde sit in bedoeling. Maar kan jy lysies maak van bedoelings?

Maar meer daarvan later.

Ons het ook kennis geneem van skade en van lewensverlies wat deur die reën aangebring is.  Terwyl ons jubel, huil twee ouers in Alexandra oor ʼn kind wat in die water geval het toe ʼn tak waaraan hulle geklou het, gebreek het.  Ons bid vir hulle.  En vir ʼn ma wat in Capital Park deur die Jukskei weggevoer is.  En talle ander wat in fratsvloede omgekom het.  Ons sê dankie, vir die soet- en selfs ook vir die pynlikheid van die aardse lewe.

Gesang 459 strofes 3 en 4

TOETREDE

OUDERLING

Toetredelied (Staan)

Ons kom na God toe in erediens.  Maar dis God wat vir ons gekom soek het.  Want sonde is iets waarvan God mense moet red.  Ons kom nie vanself daaruit weg nie. Gelukkig ken God ons, en Hy kom red en herstel ons.  Kom ons sê dit in ons toetredelied,

Psalm 25 strofes 2 en 5

TOETREDE

PREDIKANT

Votum en Seën (Staan)

39      

Luister tog uit die hemel, uit u woonplek, na [ons] gebed en smeking en neem [ons] straf weg en vergeef u volk wat teen U gesondig het.

40      

“My God, hou dan nou hierdie plek onder u sorg en verhoor tog elke gebed hiervandaan.

41      

“Kom dan nou na u rusplek toe, Here God, U en u magtige ark. Laat u priesters, Here God, onder die beskerming van u hulp lewe, en laat u troue dienaars hulle verheug in die goeie dinge.

Amen

2 Kronieke 6

AANBIDDING EN LOF

OUDERLING

Lofsang (Staan)

Ons is ʼn gemeente wat met sonde en skuld hier aankom om die Here te dien. Maar ons vind vreugde in die Here. Kom ons sing dit uit

Psalm 37 verse 3, 10, 13 en 15.

DIE WIL VAN GOD

Die Wet (Sit)

Dit help nie om sonde te probeer wegsteek nie.  Wat ons moet doen, is om eerlik te wees, en met die sak patats vorendag te kom.  Luister na Psalm 32.

1        

‘n Gedig van Dawid. Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word.

2        

Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie en in wie se gees daar geen valsheid is nie.

3        

Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het.

4        

U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte. Sela

5        

Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid;” en U het my skuld vergewe. Sela

6        

Dit is waarom elke gelowige in ‘n tyd van nood tot U bid; selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie.

7        

U is vir my ‘n skuilplek, U beskerm my teen aanvalle, U laat my oorwinningsliedere sing. Sela

8        

Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.

9        

Moenie onverstandig wees nie, soos ‘n perd of ‘n muil wat met ‘n stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei.

10      

Die goddelose het baie smarte, maar wie op die Here vertrou, dié omvou Hy met sy liefde.

11      

Verbly julle in die Here en juig, regverdiges, jubel, alle opregtes.

Skuldbelydenis

Om sonde te erken en te bely is nie sommer maklik nie.  God laat geen sonde ongestraf bly nie.  Ons weet dit by voorbaat al.  Maar eerlike belydenis aan God is die enigste pad hieruit.  Kom ons bely ons sonde met

Sang (Staan)

Psalm 38 strofes 2,4 en 6 (Tweede melodie)

Genadeverkondiging (Staan)

Daar ís vir ons genade te vind!  Juig saam met Dawid uit Psalm 103:

1        

Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.

2        

Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.

3        

Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees,

4        

wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon,

5        

wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk.

8        

Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde.

9        

Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie.

10      

Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,

11      

want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.

12      

So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

13      

Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

Sang (Staan)

Die vergifnis laat mens jubel.  Kom ons doen dit met

Gesang 342  strofes 1 en 2

Geloofsbelydenis (Staan)

Kom ons bely nou dat ons van harte glo in God, al het ons nog nêrens anders sulke liefde teëgekom nie.

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Sang (Staan)

Kom ons sing weer uit

Gesang 387 strofe 4.      

VERKONDIGING

PREDIKANT

Skriflesing  (Sit)

Johannes 15 : 18 tot 25

18      

“As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat.

19      

As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle.

20      

Onthou wat Ek vir julle gesê het: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem.

21      

Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.

22      

“As Ek nie gekom en met hulle gepraat het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hulle sonde nie.

23      

Wie My haat, haat ook my Vader.

24      

As Ek nie by hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou sien hulle dit, en tog haat hulle My en my Vader.

25      

Maar die woorde wat in die Skrif geskrywe staan, moet vervul word: ‘Hulle het My sonder rede gehaat.’

Oor die Woord van God sê Hebreërs 4 vers 12:

Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

Gebed (Mans staan)

Sang (Staan)

Kom ons sing biddend dat die Here ons soos Jesus moet laat word: nuwe mense wat verdra, vergeef en versoen waar ons normaalweg sou spot en haat.

Gesang 396 strofes 1, 2, 3 en 4

Prediking (Sit)

“Dwaling en gif”

Niemand buiten die kerk praat ooit oor sonde nie.  Dis ʼn ou en uitgediende idee, sê die wêreld.  Dit belaai onskuldige mense met swaar skuldgevoelens, dit beduiwel mense se vordering en vooruitgang want dit rysmier die selfbeeld en ondermyn selfvertroue.  Sonde, nes enige ander negatiewe ingesteldheid oor onsself, pootjie mense nog voor hulle begin probeer leef het.  Om by voorbaat al te weet jy gaan met iets nie slaag nie, motiveer jou nie om daarmee vol te hou nie.  En sonde sit die wêreld alewig in die beskuldigdebank, en dis nie ʼn lekker plek om te wees nie.

Maar die kerk kan sonde nie vermy nie.  Die Bybel beredeneer dit nie eers nie: alle mense sondig.  En, sê dieselfde Bybel, vir alle mense is daar uitkoms by Jesus Christus te vind.  Vir alle mense in hierdie wereld is daar uitkoms uit die sonde uit. Dit moet die kerk wyd en syd sê.  Maar jy kry vir Jesus Christus geen begrip nie, as jy nie eers die sonde verstaan nie.

Martin Luther voel so sterk daaroor dat die kerk oor sonde moet praat dat hy sê:

“Die kenmerkende onderwerp van die teologie is die mens, wat aan die sonde skuldig en daaraan onderworpe is, en God wat die sondige mens regverdig en red. Wat buite hierdie onderwerp om in die teologie nagevors en bevorder word, is dwaling en gif.”

So onaangenaam as wat dit mag klink, wanneer ons toegee dat sonde ʼn ouderwetse begrip is wat geen indruk meer op vandag se mense kan maak nie, of dat sonde mense net terughou en hulle groei belemmer, het die kerk die evangelie verloor en het ons opgehou om ’n selfstandige instelling met ’n eie plek en ʼn unieke boodskap te wees.

Ons moet oor sonde praat.  Ons moet oor vryspraak uit die sonde praat. 

Wat ons hier in die kerk wel moet besef, is dat ons met “sonde” kies vir ʼn vreemde idee wat die wêreld laat gril.  Die kerk hou haar besig met vreemde woorde, sê hulle.  Hulle moedig ons aan om van sulke woorde af te sien.  Wel, afsien kan ons nie.  Maar ons moet seker maak ons – en uiteindelik ook die wêreld – weet wat ons met hierdie woorde bedoel.

Daar is ʼn maklike manier om dit te doen, so verlei die sonde ons om te glo.  Maak ʼn lysie.  Die wêreld verstaan lysies.  En daar’s talle voorbeelde van sulke lysies in die Bybel.

Die Here haat ses dinge, nee, sewe (Spreuke 6 verse 16 tot 19)

“Die Here haat ses dinge, nee, sewe waarvan Hy ʼn afsku het:

1.      wat straal van hoogmoed,

2.      ʼn tong wat lieg,

3.      hande wat met bloed bevlek is,

4.      gedagtes wat met komplotte besig is,

5.      voete wat net een koers ken, die van die kwaad,

6.      ʼn getuie wat lieg en

7.      iemand wat rusie stook tussen broers”.

Spreuke 6 verse 16 tot 19 is so ʼn lysie.  Spreuke sê

Help dit?  Kan ons hiermee volstaan?  Kan ons vir die wêreld sê dat as hulle by die sewe goed hou, God met hulle tevrede gaan wees?  Dis waar dat nie een van die goed mooi is nie.  Maar ons kan dadelik agterkom dat dit nie eers probeer om ʼn volledige lys van alle sondes te wees nie.  Hierdie teks wil wel sê ʼn mens kan met elke stukkie van jou lyf allerhande sonde doen: met jou oë, jou tong, jou hande en jou voete en met jou gedagtes.  Jy kan selfs ʼn hele mens oortuig om te lieg om jou bas te red.  En omdat jou menswees nie by die vel van jou eie lyf ophou nie, maar oorloop in jou familie – jy is ook jou familie – kan jy ook jou broers by jou sonde betrek.

Maar hoekom sou enigeen enige van die sewe goed wou doen?  Ek bedoel, verklaar dit al waarom die wêreld ons so haat? Of haat hulle ons oor ons vir hulle probeer voorskryf hoe om te maak en wat m nie te doen nie?

Sewe “dodelike sondes”  

Ander mense het sewe ander “dodelike sondes” gaan soek.  Hulle staan nêrens in die Bybel so mooi in ʼn ry nie.

Sewe “dodelike sondes”

1.     Hoogmoed

2.     Hebsug

3.     Wellus

4.     Woede

5.     Vraatsug

6.     Afguns

7.     Traagheid

 

Hulle wil dit hê dat alle sondes onder een van hierdies sal kan inpas.  Elkeen van daai sondes is dodelik, sê hulle.  Maar alle sonde maak tog dood.  Alle sonde word met die dood gestraf.  So sê God.  Is dit regtig alle sondes daai?

Tien Gebooie

Kyk jy na Eksodus en Deuteronomium, waar die Gebooie opgeteken staan is daar 10 van hulle.

 

Tien Gebooie

1.     Jy mag in geen ander gode glo nie.

2.     Jy mag nie beelde maak en hulle dien nie.

3.     Jy mag die Naam van God nie misbruik nie.

4.     Jy moet die sabbatdag heilig hou deur te rus en te dink wat God doen.

5.     Jy moet jou vader en jou moeder eer.

6.     Moenie moord pleeg nie.

7.     Moenie egbreuk pleeg nie.

8.     Jy mag nie steel nie.

9.     Jy moenie lieg nie.

10.   Jy mag niks begeer wat aan iemand anders behoort nie.

Hierdie 10 gebooie is nooit bedoel om ʼn sondelys te wees nie.  Dis ʼn lys van hoe jy jou gedra as jy in die verbond tussen God en Israel staan.

Trouens, die Bybel gee nooit voor dat dit ʼn volledige lys van sondes iewers openbaar maak nie.  Die probleem met al hierdie lyste is dat dit voorgee dat sonde die oortreding van ʼn wet of reël is.  Ons noem die Tien Gebooie ook “Die Wet”, maar dis die basiese ooreenkoms tussen God en Israel:  dis die terme van hulle verbondsverhouding, die grondwet van hulle verhouding met mekaar.

Begeerte

liefdehaatPaulus sien raak dat sonde baie verder en dieper gaan as om op ʼn lysie af te gaan.  Dis die Begeerte-Gebod wat hom slapelose nagte gee.  Maar hoe sit jy al die sondes van begeerte op ʼn lysie?

Dit het Luther ook laat regopsit.   Luther kom agter dat sonde met menslike hartsbegeertes te make het wat die mens verlei om te vertrou in ander dinge as in God.  Hierdie wegdraai van die God van die Bybel, is sonde. Luther sê dat sonde ‘ongeloof’ is.  Dit begin by ons halsstarrige hardhorendheid: om nie te wil hoor van die beloftes van liefde en genade wat God in Christus aan ons gee nie. Mense wat hierdie boodskap nie wil hoor nie, moet nog bly leef, en moet daarom die lewe in hulle eie hande neem.  Hoe? Ons skep met ons  hartsbegeertes afgode wat lyk of hulle ons drome gaan waar maak. Geen belediging van God kan erger wees as om te weier om God se beloftes te glo nie.

Sonde het dus te make met die weerstand teen en onwilligheid om God se beloftes te glo; en wanneer ’n mens God se beloftes nie wil glo nie, verlaat jy jou op iets anders, naamlik die afgode waarmee jou hart vorendag kom. Die kern van sonde is dat jy daarmee sê dat jy God nie op sy woord kan neem nie.  God lieg. Sonde is dus, om dit kort te stel, ondankbaarheid en oneerbiedigheid teenoor God. Dis erge vergryp.

En wanneer iemand God nie kan eerbiedig nie, en vir God nie kan liefhê nie, moet hy homself liefhê.  Selfliefde is jou begeerte om jouself te geniet en te aanbid.  Dis wat sonde is, glo Luther. Wat tragies is, is dat iemand wat net vir homself lief kan wees, in ’n wese verander wat ‘in-homself-gekeerd-raak’. Hy leef net in homself en vir homself, en op hierdie wyse trek hy hom terug in ’n klein wêreldjie wat aanhoudend bedreig word deur die mooiheid van die groot wêreld van God.

Waarom dan, haat hierdie groot en mooi wêreld van God, vir my? Dalk oor die wêreld jou nie aanbid soos jy verwag hulle moet nie?  Oor die wêreld jou eerbetoon skuld?

Nog ʼn lys 

Die Nagmaalsformulier maak toe nog ʼn lys.  Dis nie meer ʼn lysie nie, die ding word al hoe langer!   Omdat die oordeel van God sulke mense sal tref “wil ons . . . almal wat die volgende sondes doen, waarsku om nie aan die nagmaal van die Here deel te neem nie, en aan hulle verkondig dat hulle buite die ryk van Christus verkeer.”  So sê die Nagmaalsformulier.

Nagmaalsformulier

1.     Ons praat van mense wat aan ander gode as die een ware God glo,

2.     mense wat afgestorwenes, engele of ander geskape wesens en dinge om hulp aanroep,

3.     asook mense wat aan afbeeldings eer betoon.

4.     Verder, almal wat hulle met toordery en waarsêery ophou,

5.     wat diere, mense of dinge sogenaamd besweer en almal wat daaraan glo;

6.     almal wat God, sy Woord en die heilige sakramente verag,

7.     asook almal wat teen God laster.

8.     Voorts, almal wat skeuring in die kerk

9.     en rewolusie teen die staat wil veroorsaak,

10.   almal wat meineed pleeg

11.    en almal wat die gesag van hulle ouers, meerderes en owerhede misken.

12.    Hierby ook alle moordenaars,

13.     bakleiers,

14.     rusiemakers en

15.      dié wat in haat en nyd teenoor hulle naaste lewe.

16.      Laastens ook hulle wat egbreuk pleeg, die huwelik misken en onsedelik lewe;

17.       ook dronkaards,

18.       diewe,

19.       uitbuiters,

20.      rowers,

21.        dobbelaars,

22.        hebsugtiges en

23.        almal wat ‘n dergelike afstootlike lewe lei.

 

Want, sê die Formulier, “Christus het immers sy nagmaal ingestel vir dié wat in Hom glo.”  By implikasie, al hierdie goed is ongeloof.  Die teendeel hiervan is volgens die Formulier nie dat jy tot nou toe onskuldig was aan enige van hierdie sonde nie.  Die nagmaaltafel is nie vir sondeloses nie.  Die vereiste vir aansit aan die tafel is “of ons van nou af [vir die genade dat God ons van alle sonde vryspreek] aan God dankbaarheid gaan bewys en dit in ons hele lewe sal openbaar deur opreg voor Hom te lewe. Verder, of ons eerlik alle vyandskap, haat en nyd uit die weg sal ruim en ‘n ernstige voorneme het om voortaan in ware liefde en eensgesindheid met ons naaste te lewe. God wil almal met so ‘n gesindheid en houding in genade aanneem en as waardige tafelgenote van sy Seun Jesus Christus aanvaar.”

Langer en langer word die lys.

En daar kom dit nou uit: haat en nyd. ʼn Gebed dat God die haat uit ons moet uithaal.

Hoe lyk haat?

Maar sondelysies werk ook nie vir haat nie.  Hoe lyk haat? Hoeveel vorme kan haat aanneem?

Professor Natie van Wyk kom met ʼn lys na vore wat seker die naaste kom aan ʼn volledige omskrywing van wat sonde is.  Maar dis nie ʼn lys van dade of van dinge, misdade of oortredings of reëls vir goeie sedes nie.  Dis ʼn lys gesindhede, ingesteldhede, koerse wat mense inslaan, bedoelings agter dade, motiverings en dryfvere.  Hy kry een en almal van hulle uit die Bybel.

So lyk sonde, sê die Bybel

1.     Sonde is opstand teen God

2.     Sonde is ’n lewe sonder God

3.     Sonde is ’n gerigtheid op die aardse werklikheid sonder God

4.     Sonde is die weiering om God God te laat wees

5.     Sonde is ongeloof

6.     Sonde is opstand teen die genade

7.     Sonde is verwerping van God se liefde

8.     Sonde is die weiering van genade en barmhartigheid

9.     Sonde is afgodsdiens

10.   Sonde is hoogmoed

11.    Sonde is radikale selfgesentreerdheid

12.    Sonde is selfliefde

13.    Sonde is die minagting van jou eie menslikheid

14.    Sonde is die onwilligheid om te besluit en te handel

15.    Sonde is die ontduiking van verantwoordelikheid

16.    Sonde is die totale gebrek aan selfvertroue

17.     Sonde is selfhaat

18.     Sonde is traagheid en luiheid

19.     Sonde is die vermorsing van jou potensiaal

20.     Sonde is ’n gebrek aan entoesiasme vir die lewe

21.      Sonde is die oortreding van die wet

22.      Sonde is liefdeloosheid

23.      Sonde is die verlies aan glans in die wêreld

24.      Sonde is die gebrek aan die goeie

25.       Sonde is dwaasheid en domheid

26.       Sonde is die weersin in die andersheid van ander

Prof Natie van Wyk

Maar dalk verklaar nog nie een van hierdie goed die vraag waarom haat die wêreld my nie.

O ja, die wêreld haat my.  En die wêreld haat vir jou ook.  Sonder enige goeie rede.  Die wêreld het geen goeie rede nodig om te maak wat hy wil nie.  Dis wat die wêreld doen: hy maak nes hy wil.

Dis wat Jesus self gesê het: ‘Hulle het My sonder rede gehaat.’

Maar vir ons haat hulle oor ons nie meer saam met hulle hoort nie.  Ons het verander.  Ons is anders.  Ons was sondig, maar ons is nou vrygespreek.  Ons behoort nou aan God.  Sonde is immers die weersin in die andersheid van ander.  Veral as jou andersheid kom daarvan dat jy nes God is, of oor dit duidelik word God het jou lief.  Ons het geleer ons en ons begeertes is nie gode nie.  Hulle maak jou nie gelukkig nie.  Hulle is nie wat hulle adverteer nie.  Jy koop ʼn kat in die sak.  Jy loop jou liederlik vas.  Maar ons het geleer die sonde is nie die einde van die pad nie.  Loop jy jou vas in die doodloopstraat, help God met Jesus Christus jou daaruit:  Hy vat al jou sonde weg.  Hy haal jou uit jou sonde uit.  Die sonde bepaal nie meer wie en wat jy is nie.  En vir die wêreld wat in begeertes glo, is dat jou lewe nou werk, die ergste aanstoot.  Jy wys hulle mislukking uit. Hulle haat dit.  Hulle haat jou en hulle haat my.

Nie lysies nie, begeertes is die gif.  Jy kan lyste omseil.  Begeertes grawe hulle in, groei, en fop jou elke seisoen met vreemde, nuwe vrugte.

En Jesus, wat sê Hy?  Jesus sê daar is net twee reels, nee, net een.

Jesus sê doodeenvoudig en tegelyk veel, veel meer ingewikkeld: kry lief!  

  1. Wees lief vir mense.  
  2. Wees lief vir God.  

Dog, die laaste woord hieroor is net dit:  liefde!

Amen.

Verwys THT Jaargang 1 Nommer 2 ‘Sonde’ en ‘erfsonde’ is vreemde begrippe (Prof Natie van Wyk)

GEBEDE

PREDIKANT

Dankgebed (Mans staan)

Slotsang (Staan)

Gesang  585 strofes 1 en 3

WEGSENDING

PREDIKANT

Seëngroet (Staan)

In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

Romeine 1 : 17

God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.

Romeine 5 : 1

Respons Sang (Staan)

Gesang 566 strofes 1, 2 en3

Afkondigings (Sit)

 

DIAKENS

 

Dankoffers

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s