Die dominee is (glo) daarteen

Daar’s die ou flou grappie van ʼn man wat Sondag kerk toe is, maar sy vrou is nie saam nie.  By die huis aangekom vra sy hom waaroor die dominee gepreek het.

“Oor die sonde”, antwoord hy.

“Nou wat sê hy van die sonde?” wil die vrou weet.

“Nee,” sê die man, “lyk my hy’s daarteen.”

Wat is die sonde?  Wat weet ons van sonde behalwe dat ons daarteen is? Waarom die groot bohaai oor die sonde?  Hoekom is dit dan net die kerk wat van sonde weet?

In vandag se erediens gaan dit oor wat sonde is.

1 Samuel 15

6 November 2016, NHKA Kampersrus

Sonde

TOETREDE

PREDIKANT

 

Sang (Sit)

Die heel eerste en belangrikste wat ons van sonde kan weet, is dat dit ons van God skei.  Ons eerste lied sê dit ook:

“Vrygespreek van al ons sonde, kan niks ons van U meer skei. . .”

Gesang 186 strofe 1

Gesang 193 sê wat die kern van die boodskap is wat ons van God af kry:  Hoewel God met sondaars geduld het, delg God sonde en skuld uit;  Hy haal dit heeltemal uit sy skepping uit en raak in die see daarvan ontslae.  Die sonde is iets wat moet uitgeroei word.

Gesang 193 strofes 1,2,3 en 4

TOETREDE

OUDERLING

Toetredelied (Staan)

Ons kom na God toe in erediens.  Maar dis God wat vir ons gekom soek het.  Want sonde is iets waarvan God mense moet red.  Gelukkig ken God , en Hy kom red en herstel ons.  Kom ons sê dit in ons toetredelied,

Gesang 207 strofes 2, 4

TOETREDE

PREDIKANT

Votum en Seën (Staan)

39      

Luister tog uit die hemel, uit u woonplek, na [ons] gebed en smeking en neem [ons] straf weg en vergeef u volk wat teen U gesondig het.

40      

“My God, hou dan nou hierdie plek onder u sorg en verhoor tog elke gebed hiervandaan.

41      

“Kom dan nou na u rusplek toe, Here God, U en u magtige ark. Laat u priesters, Here God, onder die beskerming van u hulp lewe, en laat u troue dienaars hulle verheug in die goeie dinge.

Amen

2 Kronieke 6

AANBIDDING EN LOF

OUDERLING

Lofsang (Staan)

Ons is ʼn gemeente wat met sonde en skuld hier aankom om die Here te dien. Ons vra dat God Hom oor ons ontferm sodat ons nie ondergaan wanneer Hy sy lig oor ons laat skyn nie.  Kom ons sing dit uit

Psalm 36 verse 1 en 2.

DIE WIL VAN GOD

Die Wet (Sit)

Dit help nie om sonde te probeer wegsteek nie.  Ons het dit nou net gesing: “Geen plek is vir [God] afgeleë” nie, dat Hy ons nie daar sal kan opspoor nie, “selfs [nie] die dieptes van die see” nie.  Wat ons moet doen, is om eerlik te wees, en met die sak patats vorendag te kom.  Luister na Psalm 32.

1        

‘n Gedig van Dawid. Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word.

hunger-for-god2        

Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie en in wie se gees daar geen valsheid is nie.

3        

Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het.

4        

U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte. Sela

5        

Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid;” en U het my skuld vergewe. Sela

6        

Dit is waarom elke gelowige in ‘n tyd van nood tot U bid; selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie.

7        

U is vir my ‘n skuilplek, U beskerm my teen aanvalle, U laat my oorwinningsliedere sing. Sela

8        

Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.

9        

Moenie onverstandig wees nie, soos ‘n perd of ‘n muil wat met ‘n stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei.

10      

Die goddelose het baie smarte, maar wie op die Here vertrou, dié omvou Hy met sy liefde.

11      

Verbly julle in die Here en juig, regverdiges, jubel, alle opregtes.

Skuldbelydenis

Om sonde te erken en te bely is nie sommer maklik nie.  God laat geen sonde ongestraf bly nie.  Ons weet dit by voorbaat al.  Maar eerlike belydenis is aan God is die enigste pad hieruit.  Kom ons bely ons sonde met

Sang (Staan)

Psalm 38 strofes 1,2 en 7 (Tweede melodie)

Genadeverkondiging (Staan)

Daar ís vir ons genade te vind!  Juig saam met Dawid uit Psalm 103:

1        

Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.

2        

Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.

3        

Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees,

4        

wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon,

5        

wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk.

8        

Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde.

9        

Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie.

10      

Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,

11      

want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.

12      

So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

13      

Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

Sang (Staan)

Die vergifnis laat mens jubel.  Kom ons doen dit met

Gesang 245  strofes 1 en 2

Geloofsbelydenis (Staan)

Kom ons bely nou dat ons van harte glo in God, al het ons nog nêrens anders sulke liefde teëgekom nie.

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Sang (Staan)

Kom ons sing weer uit

Gesang 245.  Strofe 3.      

VERKONDIGING

PREDIKANT

Skriflesing  (Sit)

1 Samuel 15. Dis ʼn lang verhaal.  Dis die vertelling van hoe Koning Saul vir God en Samuel teleurstel met die sonde wat Saul aanvang.

1        

Samuel het vir Saul gesê: “Dit is vir my wat die Here gestuur het om jou tot koning oor sy volk Israel te salf. Luister nou na die woorde van die Here.

2        

So het die Here die Almagtige gesê: Ek het nie vergeet wat Amalek Israel aangedoen het nie, hoe hy Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het.

3        

Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigling, bees en skaap, kameel en donkie.”

4        

Saul het die manskappe opgeroep. Hy het hulle by Telaim getel: twee honderd afdelings voetsoldate en tien afdelings uit Juda.

5        

Saul het by die woonplek van die Amalekiete aangekom en sy manskappe laat stelling inneem by ‘n spruit.

6        

Toe het Saul die Keniete laat weet: “Gee gou pad tussen die Amalekiete uit sodat ek julle nie saam met hulle uit die weg ruim nie, want julle het die Israeliete goed behandel toe hulle uit Egipte getrek het.” Die Keniete het toe tussen die Amalekiete uit padgegee.

7        

Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot waar ‘n mens kom by Sur teenoor Egipte.

8        

Hy het koning Agag van Amalek lewend gevang, maar die hele volk om die lewe gebring.

9        

Saul en die manskappe het Agag gespaar en ook die mooiste kleinvee en beeste, die vetstes, en die lammers en alles wat mooi was. Saul-hulle wou dit alles nie om die lewe bring nie. Al die vee wat swak en waardeloos was, het hulle wel van kant gemaak.

10      

Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom:

11      

“Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie.” Samuel was ontsteld en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek.

12      

Die oggend het Samuel hom vroeg klaargemaak om Saul te ontmoet. Iemand het vir Samuel vertel: “Saul het by Karmel gekom en nogal vir homself ‘n gedenkteken opgerig. Daarna het hy omgedraai en is hy verby na Gilgal toe.”

13      

Samuel het toe by Saul gekom, en Saul het vir hom gesê: “Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer.”

14      

Samuel vra toe: “Wat vir ‘n geblêr van kleinvee is daar dan in my ore? En wat van die gebulk van beeste wat ek hoor?”

15      

“Hulle het dit van die Amalekiete af gebring,” antwoord Saul. “Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. Die res het ons van kant gemaak.”

16      

En Samuel sê vir Saul: “Bly stil! Laat ek jou vertel wat die Here vannag vir my gesê het.” Saul sê toe vir hom: “Praat maar.”

17      

Toe sê Samuel: “Al is jy klein in jou eie oë, is jy tog die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf tot koning oor Israel.

18      

Die Here het jou met ‘n doel uitgestuur en Hy het jou beveel: ‘Trek op, bring die sondaars, die Amalekiete, om die lewe. Jy moet teen hulle veg totdat jy hulle uitgeroei het.’

19      

Waarom het jy nie na die bevel van die Here geluister nie? En waarom het jy jou aan die buit vergryp en hierdie ding gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here?”

20      

Saul antwoord toe vir Samuel: “Maar ek hét na die bevel van die Here geluister! Ek het gegaan om te doen waarvoor die Here my gestuur het, ek het vir koning Agag van Amalek hierheen gebring, maar die Amalekiete het ek om die lewe gebring.

21      

Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste gevat, die beste van dié wat van kant gemaak moes word, om aan die Here u God in Gilgal te offer.”

22      

Maar Samuel antwoord: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme.

23      

Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”

24      

Saul sê toe vir Samuel: “Ek het gesondig, want ek het die bevel van die Here en u opdrag oortree omdat ek vir die manskappe bang was en na hulle versoek geluister het.

25      

“Vergewe tog nou my sonde en kom saam met my sodat ek tot die Here kan bid.”

26      

Maar Samuel sê vir Saul: “Ek sal nie saam met jou gaan nie, want jy het die woord van die Here verwerp en die Here het jou verwerp as koning oor Israel.”

27      

Samuel het weggedraai om te loop, maar Saul het die punt van sy mantel gegryp, en dit het geskeur.

28      

Toe sê Samuel vir hom: “Die Here het die koningskap van Israel nou van jou afgeskeur en dit gegee aan jou naaste wat beter is as jy.

29      

Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.”

30      

“Ek het gesondig,” sê Saul toe. “Eer my tog net voor die leiers van die volk en voor Israel deur saam met my te kom sodat ek die Here u God kan aanbid.”

31      

Samuel het met Saul saamgegaan, en Saul het die Here aanbid.

32      

Toe beveel Samuel: “Bring vir koning Agag van Amalek na my toe.” Agag het opgeruimd na hom toe geloop en gesê: “Nou is ek nie meer bang dat hulle my sal doodmaak nie.”

33      

Samuel het vir hom gesê: “Soos jou swaard vrouens kinderloos gemaak het, so sal jou ma onder die vrouens kinderloos wees.” En Samuel het vir Agag in stukke gekap voor die Here in Gilgal.

34      

Samuel het na Rama toe gegaan, terwyl Saul na sy huis toe in Gibea gegaan het.

35      

Tot die dag van sy dood het Samuel nie weer vir Saul gesien nie. Samuel het oor Saul getreur, en die Here was bedroef daaroor dat Hy vir Saul koning oor Israel gemaak het.

Oor die Woord van God sê Hebreërs 4 vers 12:

Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

Gebed (Mans staan)

Sang (Staan)

Kom ons sing biddend dat die Here ons ontvanklik moet maak vir sy Woord, al maak dit soms seer om die waarheid te hoor.  Want God se Woord maak altyd ook weer gesond waar dit wond.

Gesang 257 strofes 1, 2 en 3

Prediking (Sit)

Die gevaarlikste ding wat jy met sonde kan doen is om daarvan ʼn ding of ʼn daad te maak. Sonde lyk nie so nie.  Die wrang vrugte van sonde wel.  Die sonde self is veel meer fundamenteel as ʼn paar vrot appels.  Maar sonde is slinks.  Sonde is gekamoefleer.  Sonde skuil op plekke en in dinge wat so goed en mooi lyk dat jy nooit sou vermoed het dis so verrot nie.  Juis daarom verlei dit: dit lyk begeerlik. Trouens, dit lyk meer as net begeerlik: dit lyk goed!  Die dat dit jou sommer met ʼn slap riem vang: jy kom vanself want jy wil.   Sonde is nooit ʼn ding of ʼn daad nie.

Sonde is gedagtes en gesindheid.  Sonde is ingesteldheid en geneigdheid.  Sonde sit in bedoeling.

Op die oog af, is daar bitter weinig fout met die optrede van Saul, of te wel, dis alles geheel en al afstootlik.  Jy walg daaraan.  Saul doen wat God gedoen wil hê.  Amper. . . Verbysterend aaklig, maar waar.

Saul is koning, deur God aangewys en deur Samuel gesalf.  Samuel is hoëpriester, die man met die direkte lyn na God toe: Koning Saul doen wat Samuel sê, want Samuel weet wat God wil hê.

Saul moet gaan oorlog maak teen Amalek.  “Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring.  Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigeling, bees en skaap, kameel en donkie.”  So het die Here die Almagtige gesê.

Jy sal nie vandag meer hiermee by die Geneefse Konvensie oor oorlogvoering verbykom nie.  Jy sal summier in Den Haag van oorlogsmisdaad aangekla word. Jy maak oorlog teen militêre teikens, nie teen vroue en kinders en vee en troeteldiere nie.  Dis deesdae grusame sonde sommer ook, benewens erge humanitêre vergryp.

Saul is so ordentlik.  Onthou Kanaän is ʼn deurmekaar, geïntegreerde plek wat nooit net aan Israel behoort het nie.    Dis God se hele idee met juis hierdie uitverkore volk:  hoe God met hulle werk, moet toeskouers hê.  So gebeur dit dat daar Keniete tussen die Amalekiete leef, en die Keniete was vir Israel baie goed toe Israel sonder heenkome uit Egipte uit getrek het.  Saul laat weet hulle moet spore maak sodat hulle nie in die kruisvuur seerkry nie.

Dan begin die oorlog.  En Saul roei die Amalekiete man en muis uit.  Volksmoord.  Glo goeie praktyk in daai dae.  Jy sal nooit weer van hulle moeilikheid kry nie, want daar’s nie een van hulle meer oor nie.

Behalwe vir Agag, Amalek se koning.  Saul hou hom aan die lewe. Hy “spaar” vir Agag – dit was die gebruik destyds: die verslane koning was ʼn lekker trofee om huis toe te vat en uit te stal. En, dink hy wat Saul is vooruit: ons gaan vir God offers bring met die mooiste en vetstes van die lammers, kleinvee en beeste.  Hulle hou hy aan die lewe.  Edel gedagte, mos? Die vee wat swak en waardeloos was, het hulle wel van kant  gemaak.

Saul gee nie eers vir ʼn oomblik daaraan gedagte dat hy nie die opdrag van God tot die letter uitgevoer het nie.  Toe Saul en Samuel mekaar by Gilgal raakloop, sê Saul nogal: “Mag die Here u [Samuel] seën!  Ek het die opdrag van die Here uitgevoer.” En as Samuel van hom wil verskil sê Saul dit weer: “Maar ek hét na die bevel van die Here geluister!”  En hy beskryf hoedat hy oorlog gemaak het in ooreenstemming met die gebruike wat vir oorlog bestaan.  Die verslane koning is saamgebring en vir die tradisionele dankoffer aan God vir die oorwinning is met versiendheid reeds voorsiening gemaak.  En nes die Here beveel het, en anders as met die heersende praktyk, het niemand hulleself met buit uit die oorlog verryk nie.

Maar God is smoorkwaad, so kwaad dat Hy Saul nie eers meer as koning erken nie.

Nou kyk, met offers is daar tog seker nie fout nie?  Dit was juis goeie godsdiens.

Maar Samuel sê: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme.

Godsdiens is goed.  Maar daar is ook iets beters as goeie godsdienstige gewoontes.

Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. . .”

Sogenaamde waarsêery, wat jou laat reken op mense en op geeste, is presies die teenoorgestelde as om jou aan God te steur.  Weerspannigheid en waarsêery is een en dieselfde.

Eiesinnigheid is eintlik maar afgodery: jy aanbid net jouself, jy maak of jy God is.

Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”

Hierdie is nie sommer ʼn ligte mistykie nie, Saul.  Hier het ons nou met sonde te doen, of jy dit nou met die beste bedoelings in die wêreld gedoen het, maak nie saak nie.

Kom ons probeer hieruit ʼn antwoord kry op die vraag waarvoor ons gekom het: Wat is die sonde? Wat weet ons van sonde behalwe dat ons daarteen is?

Wel, Saul is by God in die moeilikheid.  Met sonde is God altyd in die gedrang.

Sonde skaad verhoudings. Sonde is nooit onskuldig nie.

  • Sonde gebeur in verhoudings, verhoudings tussen persone. Jy doen met sonde skade aan God of aan ʼn ander mens. En skade aan ʼn ander mens is een en dieselfde as om dit aan God self te gedoen het.  Die verhouding met die mens en met God breek af.
  • Amper elke keer as die Ou Testament oor sonde praat, staan daar: “Ek/ons/hulle het teen u gesondig.” Daar is altyd iemand wat seerkry, altyd iemand wat skade berokken word. Dis altyd persoonlik.
  • Die sonde versteur die vrede, beduiwel die orde. Sonde is nie ’n blote teorie of ʼn idee, ʼn hipotese of vergissing nie.  Die mense om jou weet dit, voel dit, selfs al is jy self nie eers daarvan bewus as jy met sonde besig is nie. Sonde kom teen God in opstand. Die sonde setel in selfsug: dit dien net die eie ek.

Sonde is dus nooit ‘onskuldig’ nie – dit versteur die orde, dit doen iemand skade, en dit skaad ’n verhouding. Saul se band met God is daarmee heen oor Saul die beste beeste en kleinvee aan die lewe hou, kwansuis om mee te offer.  Maar die Here wil die offer nie hê nie.  Juis die diere moes in die oorlog van kant gemaak word, nie op God se altare in die erediens nie.

Almal is sondig

Die Ou Testament aanvaar eenvoudig dat alle mense sondig is, en dit hoef nie eers beredeneer te word nie. Saul natuurlik ook.  In Salomo se gebed met die inwyding van die tempel in Jerusalem, bid hy vir sy volk:

Sou hulle teen U sondig, want daar is nie ’n mens wat nie sondig nie … (1 Kon 8:46). . . luister tog. . . na hulle gebed en smeking en neem hulle straf weg, en vergeef u volk wat teen U gesondig het. . .(1 Kon 8:49,50)

Maar vandag is dat almal sondaars is, vir Saul geen verskoning nie.  “Al is jy klein in jou eie oë,” sê Samuel vir hom. “is jy tog die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf tot koning oor Israel.”  Dat Saul aan die volk die voorbeeld moes stel as die gesalfde van God, weeg verswarend in sy veroordeling.

En wat is sonde dan?

Dis veel meer as net die oortreding van ʼn reël of ʼn wet of ʼn taboe. Dis meestal, ten diepste, afgodsdiens. Of te wel, gehoorsaamheid aan iets of iemand anders as God.

Daar is baie verwysings na sonde in die Ou Testament, en as jy wil sou jy sondelysies kon maak. Maar so ’n lys sou nooit volledig wees nie. Maak jy vir jou so ʼn lys, en fokus jy op daarop om elke wet en voorskrif en kultiese plig stiptelik na te kom, gaan jy die idee begin kry dat jou manier van leef sondeloos is, dat jy genoeg doen om vanself voor God sonder vlek of rimpel te kan staan, die probleem waaroor God oortuig was net sy Seun aan die kruis sal help.

In die Ou Testament is sonde vir die Ou Testament ’n persoonlike geestelike gesindheid waaruit verkeerde gedrag begin groei. Daai gesindheid is die mens se inherente drang om van God vervreem te raak en die band tussen God en ons  te verbreek. Aanvanklik nie met kwade bedoelings nie, maar in die oortuiging dat ons kan beter doen as om God te volg.  Dat ons belange beter gedien word as ons daaroor beheer het as wanneer God besluit.  Dít is wat mense dring om God se gebooie te oortree.

Is net die dominee daarteen?

Die kerk getuig uit die Bybel oor sonde. Die Bybel sê sonde is ʼn werklikheid. Ons ly almal aan sonde. Ons herken sonde in alle mense: in onsself, ons medemens, en almal om ons in die 21ste eeuse wêrelddorp. Die gebroke verhoudings tussen mense onderling en die gebrek aan respek vir wet, orde en etiek bied daarvoor oorvloedige getuienis.

Op die spoor van die Ou Testament probeer die kerk nie tevergeefs om sonde ondubbelsinnig en tydloos te definieer, en met lang lyste uit te wys nie. Sonde en ellende is die noodwendige resultaat waar mense hulle van God af wegkeer, en dit blyk telkens ook in ons onderlinge verhoudings. Die kerk moet ons voortdurend veranderende wêreld aan die hand van die Bybelse getuienis meet en uitwys waar mense se gebroke verhouding met God skade doen aan ander mense en aan die skepping van ons Hemelse Vader. Dit is nie ’n eenvoudige meganiese proses van logiese afleiding nie; dit vra van ons om die Bybel te bestudeer en met fyn onderskeiding ons wêreld telkens nuut te interpreteer.

Nee, nie net die dominee is daarteen nie.  Maar die dominee en die kerk staan saam in die lewe van gelowiges om die sonde te help raaksien en die pad daaruit te wys.  Dit vra fyn aanvoeling, onderskeidingsvermoë, ʼn oog en ʼn oor vir God, en ʼn hart vir mense.

Mag God ons die sonde help sien, en ons uit die sonde se wip red. Mag God ons bystaan in die keuses wat ons teen sonde moet maak, ons besluite makliker maak.

Amen.

(Verwys THT Jaargang 1 Nommer 2 Sonde in die Ou Testament en in die kerk se belydenis deur Dr Wouter van Wyk}

GEBEDE

PREDIKANT

Dankgebed (Mans staan)

Slotsang (Staan)

Gesang  563 strofes 2 en 3

WEGSENDING

PREDIKANT

Seëngroet (Staan)

In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

Romeine 1 : 17

God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.

Romeine 5 : 1

Respons Sang (Staan)

Gesang 566 strofes 1,2 en3

Afkondigings (Sit)

 

DIAKENS

 

Dankoffers

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s