Aangerand of genees?

Ek staan my en vergaap aan die uitspansel.  So groot voel dit: die makro-winkel vol blink en begeerlike koopgoed en hemelhoë pryse. Om van naar te word, sê ek jou, net so erg naar soos van die kankertjie op my krop wat daagliks masjiengeweer word.

Dan is hy daar: ’n reus van man.  Groot ronde gesig, bruin soos Afrika, en goue kettings en ’n kruis om die dubbelken-keel.  Hy’s sommer hier, vlak, naby. Baie naby.

Hy wil praat oor my hemp.  Op Engels.  Waar kry ek hom?  Duur, nè?  Nee, sê ek, present gekry van ’n goeie vriend uit n afgestorwene se boedel.

A, die dood, hy kom ons almal haal.  Jip.

Dalk sien hy die naar.  Hoe gaan dit?, wil hy weet.  Nee, wat, onder omstandighede. . .

Want die straling wat vir my góéd moes wees, maak my seer, en siek.  Ek rep niks.

Vroulief kyk my skeef.  Sy vertel. Hoekom? Dalk oor die bruin maan en wit tande belydenis uitlok?

Te veel inligting!, sug ek.  Heeltemal te veel bloed en derms, hier in die verbruikersparadys.

Maar dis geen doodstyding meer nie!, sê die tande, oogappels klein in die wit. Nee, sê ek ook.

Maar hy hoor my nie.  Hy bid al klaar.  “Jesus,” roep hy.  “JESUS!”, want die Here het glo nie die eerste keer al gehoor nie.  Hy rammel iets af wat klink of hy die kankertjie die trekpas gee. Hy moet sommer gou-gou. . . wel, gaan, soos in regtig vér weg gaan.

En dan, uit die bloute, kom ’n boomtak van ’n voorarm uit n mou, en ’n oop handpalm tref my voorkop soos ’n voorhamer, en die vingers vat my kop in ’n klemgreep vas.  Daai hand pas my soos ’n hoed, ’n baie swaar hoed.

“DJIESAS!”, bulder die beer.

En dan is die hand weg.  Ek staan nog, net-net, duiselig en meer as net uit die veld geslaan.

Toe, asof ek dit nie sou agtergekom het nie, brom die bruin bariton: “I touched you!” Um, ja, inderdaad. . .  En dan verdwyn hy tussen rye skottelgoedwasmasjiene en elektronika in.

Dis dan dat vroulief begin giggel.  Die giggel word ’n gelag.  Sy vlug naderhand tussen die onderklere in.  Sy soek skielik, onverklaarbaar n piepieplek.

Ek staan waar ek staan, soek hom, maar vind hom nie.   Ek is onseker of ek aangerand of genees is.

Tot my skande maak ek seker ek het nog my beursie en my foon.  Skreiende ongeloof!

Nou ja toe.  I’ve been touched. In ’n afdelingswinkel, nogal.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s