Die ding wat jou ‘n boom laat klim

Ek maak die bloed, sweet en trane wat ons geskille ons al gekos het, nie ligtelik af nie. Maar ek pleit wel dat ons daarvoor ʼn oog begin kry dat die wêreld waarin ons leef, en vir wie ons bestaan, vir binnegevegte oor beuselagtighede nie tyd of geduld het nie. As ons dan gevegte met mekaar gaan aanknoop, kom ons maak seker die kool is die sous werd. Dan is die vraag seker: is daar nog sulke goed wat regte gevegte regverdig?  Wel, in die hitte van die Hervorming het die Roomses die Hervormers verwyt dat ons van gelowiges onverskillige mense maak wat geen erg meer aan sonde het nie. Protestante vat die sonde nie ernstig genoeg op nie, word gesê, vandag nog.

Lukas 19 verse 1 tot 10

30 Oktober 2016, NHKA Kampersrus

Hervormingsondag

TOETREDE EN AANROEPING

PREDIKANT

Dis Hervormingsondag.  Jaarliks op die Sondag naaste aan 31 Oktober vier ons die Sondag in 1517 dat Maarten Luther 95 stellings aan die Rooms Katolieke Kerk in Wittenberg se deur gaan vasspyker het.  Hy wys die dwaalleer uit wat destyds in die Roomse Kerk verkondig is. Hier begin die Hervorming.  Hiervandaan kom ook die Nederduitsch Hervormde Kerk.

Volgende jaar is die Hervorming presies 500 jaar oud, en ons sal dwarsdeur 2017 die Hervorming vier. Maar vandag al sê ons die Here dankie vir die Kerk, en vir die triomf van sy genade.

Want een van die goed waarteen Luther dit gehad het was die mag wat die Kerk glo gehad het om sondes te vergewe.  En dat ʼn mens met boetedoening vir jou sonde kon vergoed. Die ergste vergryp was dat mens met ʼn offergawe vir jou sondes kon betaal.

Die Hervorming het nie net gegaan oor teologie nie.  Daar was sterk kulturele en sosiaal-politieke onderstrominge wat die beweging gedryf het.  Maar dat selfs die Roomses besef het daar steek waarheid in, word duidelik uit hoe hulle na die skeuring met ʼn Kontra-Hervorming begin het om die oorsake van die breuk intern aan te spreek.  Dit het die Roomses lank gevat. Maar net nou die dag het die Roomse Kerk en die Lutherane amptelik met mekaar saamgestem dat net Jesus Christus ons van sondes verlos, dat net God se genade ons vryspreek en dat net die geloof wat die Heilige Gees ons gee ons met God versoen. Die evangelie het gewen. Genade heers weer orals in God se koninkryk. Ook in die Roomse Kerk.

Liedere (Sit)

martin-luther-2Die temalied van die Kerkhervorming was Luther se strydlied wat moes troos en aanvuur in bitter moeilike tye van vervolging.

Gesang 476 strofes 1 en 3

Martin Luther het ook talle ander wysies in ons Liedboek gekomponeer.  Dis wat my lief maak vir die liedere wat ons hier sing: die geluide wat ons vandag hier maak, word die laaste 500 jaar al in erediens aan God gesing.  Dit gee betekenis aan die spreuk dat ons saam met en soos die kerk van alle eeue die Here dien.

Psalm 104 strofes 1,7,8 en 16          

TOETREDE EN AANROEPING

OUDERLING

Toetredelied (Staan)

Ons tree toe tot die erediens met ʼn lied wat sê ons verwag Jesus se terugkoms. Hierdie lied kom uit die eeu van die Hervorming.  Die kerk sing dit al in eredienste van voordat Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het.

Gesang 487 strofes 1,2,3 en 4

TOETREDE EN AANROEPING

PREDIKANT

Votum en Seën (Staan)

16      

Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”

17      

Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”

18      

Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!”

19

Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ (Jahweh) vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.

Eksodus 33

LOF EEN AANBIDDING

OUDERLING

Lofsang (Staan)

Kom ons sing tot lof van die Here wat vandag weer in sy magtige verskyning hier by ons gaan sigbaar word.

Gesang 175.  Ons sing dit twee maal.

Die Wet (Sit)

Broers en susters, deur die Wet leer ʼn mens wat sonde is. Kom ons toets ons lewens aan die Wet van die Here en vergewis onsself opnuut van hoe skuldig ons almal staan teenoor GOD en teenoor mekaar. Luister na die Wet soos Jesus dit opsom in Matteus 22 verse 35 tot 40:

35      

. . . ‘n Wetgeleerde, het vir Jesus met ‘n vraag probeer vastrek.

36      

“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37      

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand.

38      

Dit is die grootste en die eerste gebod.

39      

En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

40      

In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis (Staan)

Ons staan skuldig teenoor God en medemens.  Laat ons ons skuld bely.

Kom ons sing

Gesang 240 strofes 1 en 2   

Genadeverkondiging (Staan)

Broers en susters, noudat ons ons skuld voor GOD in ons lied bely het,       Verseker GOD se Woord ons van sy genade in Efesiërs 2 vers 8:

“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof.  Hierdie redding kom nie uit julself nie; dit is ʼn gawe van GOD.”

Geloofsbelydenis (Staan)

Kom ons bely ons geloof soos volg:

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Noudat ons ons geloof bely het, laat ons die Here eer met ʼn lofsang.

Sang (Staan)

Kom ons sing saam met Luther

Psalm 27 strofes 3 en 6      

VERKONDIGING

PREDIKANT

 

Skriflesing (Sit)

Lukas 19 verse 1 tot 10

1        

Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad.

2        

Daar was ‘n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ‘n ryk man.

3        

Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was.

4        

Hy hardloop toe vooruit en klim in ‘n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan.

5        

Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”

6        

Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang.

7        

Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by ‘n sondige man tuis!”

8        

Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”

9        

Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham.

10      

Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”

In Spreuke 7 verse 1 tot 3 staan daar oor wat ons met die Skrif moet doen:

Maak wat ek vir jou sê jou eie, my seun, hou by wat ek jou voorskryf,

maak wat ek jou voorskryf jou eie, dat jy kan lewe, maak wat ek jou leer jou eie, so eie soos die appel van jou oog.

Sorg dat jy dit altyd onthou, maak dit ‘n deel van jou lewe.    

Sang (Staan)

Dat ʼn mens so sterk kan voel soos Luther-hulle, oor God se genade, is die rede vir waarom ons hier is.  Hulle het die magtigste owerheid van hulle tyd die stryd aangesê net om te kan bely: genade is wat mens red, en die genade is vir almal, ook vir die sondaars met wie nie eers die Kerk graag wil assosieer nie.

Psalm 46 strofes 1,2 en 3.  Dis weer Luther se lied.   

Gebed (Mans staan)

Sang (Staan)

Ons loof die God wat hoër gesag het as waarmee die Kerk wil spog en regeer, en hoër as enige ander instelling waaroor mense heers.

Gesang 202 strofes 1,2 en 3

Prediking (Sit)

 

Ons dink naïewelik ons is hier in die Kerk met groot grondverskuiwende goed besig waarvan die wêreld met hoë agting kennis neem.  Dis nie waar nie, lankal nie meer nie.  Dis seker te wagte dat waar “kerk” self oorbodig of ongewild geword het, die fyn onderskeidings en diep skeurings binne-in die kerk vir die wêreld ʼn gekyf en gekibbel oor niksseggende verskilletjies geword het.  Liggewig, middelmatige sakies.

Hoekom ons daaraan steur?  Wel, die Here het die wêreld so lief Hy gee sy Seun dat die wêreld kan leef.  Die wêreld is die plek vol mense waar ons, die kerk, die boodskap oor Jesus moet gaan aflewer.  Word die kerk vir die wereld ongeloofwaardig oor wat lyk na beuselagtigheid, watter hoop het ons hulle gaan ons glo oor Christus?  Ons verbeel ons ons onderlinge twiste is so wesenlik van belang, dat ons nog daarvoor sal lewe en sal sterwe, ons vir jou godsdienstige ideologie.

Ek maak die bloed, sweet en trane wat ons geskille ons al gekos het, nie ligtelik af nie. Maar ek pleit wel dat ons daarvoor ʼn oog begin kry dat die wêreld waarin ons leef, en vir wie ons bestaan, vir binnegevegte oor beuselagtighede nie tyd of geduld het nie. As ons dan gevegte met mekaar gaan aanknoop, kom ons maak seker die kool is die sous werd. Dan is die vraag seker: is daar nog sulke goed wat regte gevegte regverdig?

In die hitte van die Hervorming het die Roomses die Hervormers verwyt dat ons van gelowiges onverskillige mense maak wat geen erg meer aan sonde het nie. Protestante vat die sonde nie ernstig genoeg op nie, word gesê. Ons maak en breek glo nes ons wil.  Interessant genoeg, het die vermoede hom nog nie uitgewoed nie.  Ek het verlede week nog die beskuldiging teen die Hervormde Kerk gehoor, en toe nie van ʼn Katoliek nie.

Die vroeë Hervorming was vir die aantyging gevoelig.  Daar ontstaan dadelik in Protestantse geledere ʼn beweging wat klem lê op rein en heilig te lewe: die Puriteine.  Maar nie net die Protestante is daarvan verdink nie, Paulus ook!

Paulus skryf aan die gemeente in Rome:

. . . en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword.  (Romeine 5 :20)

Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. (Romeine 6 : 1,2)

Maar anders as die Puriteine, het Paulus toe nie ʼn hele nuwe stel wette en reëls gaan staan en skryf vir hoe om ordentlik te lewe nie. Hy het net weer gesê gelowiges sal hulle steur aan die evangelie, en in liefde leef.

Dog, teen die draai van die laaste eeu was dit weer hoogmode om te wil wegbreek van die verstikkende voorskrifte van streng Calvinisme wat alles van naaldwerk tot naelloop op Sondae verbied het.  Ons skryf reëls vir lewe; dis glo wat godsdiens doen, wat godsdiens is.

ʼn Basiese beginsel van kerke van die Hervorming is dat hervorming nooit ophou nie. Dat in gehoorsaamheid aan God, ons voortdurend sal toets wat ons glo en doen, en nes met bekering die geval is, ons altyd op die uitkyk sal bly vir hoe ons die Here beter kan dien. Hiervoor werk reëls nie, want wette fokus op werke.

Daarom, telkens as ons met hervorming kom, is daar ouens wat van die kantlyn af ʼn krisis verklaar.  En soos elke ander keer het hulle dit altyd oor gedrag en lewenstyl.  ʼn Moraliteitskrisis word afgekondig.  Hulle glo graag hulle is slagoffers van die krisis, van gewetenlose sedeloses. Hulle hou konferensie op vergadering op bosberaad oor wat om te maak. En dikwels kom die kerk in die spervuur:  hierdie was tog die kerk se werk?

Dis waar dat die wereld sleg lyk.  Moraliteit lyk immoreel. Geweld en saakbeskadiging is erge vorme van die krisis.  Dog wraak wat nie vergewe nie ook, nes rusiemaak en kwaadpraat. Leuens en bedrog , omkopery, diefstal, luiheid en onbetroubaarheid ook.   Net so is buite-egtelikheid, kinderverwaarlosing, -mishandeling en -molestering. Roekelose omgang met jou lewe en verantwoordelikhede is ook immoreel, nes allerhande vergrype aan mensereg en menswaardigheid, verslawing en wetteloosheid. Die morele kwessies waaroor ons krisisse kan verklaar, is eindeloos.

Maar is dit regtig ʼn krisis, of is dit chronies?   In die gewaande krisis sit ons hier in die kerk daaroor en naelskou en biduur hou.  Daarbuite, waar die krisis kwansuis woed, gaan die wêreld ongestoord sy gang.  (Behalwe hierdie week, toe in ʼn rare oomblik van insig of ironie, Pravin Gordhan in sy begrotingsrede vir ons dankie gesê het dat ons die staat tot orde roep.)

Soms, as ons netnou hier klaar gebid het, en na ons eie wêreld toe moet teruggaan, gaan maak ons daar maar nes die wêreld maak.  Want, “when in Rome. . .” So nie, oordeel ons, veroordeel en verdoem ons die wereld. Sien julle die teenstrydigheid?   Ons maak nes die wereld maak, en kom vervloek dan Sondae hier die wereld oor dieselfde sonde.

Ons oordeel.

Daar sit iets voor-Hervorming Rooms in ons veroordeling van die wereld , ʼn sonde so skelm ons dink hy’s goed, hy’t nie hervorming nodig nie.  Ons dink die sonde gesond want hy’s ons respons, ons enigste, patetiese reaksie op die “moraliteitskrisis.”  Ons oordeel. Ons dreig: “Verander julle lewe!” Ons beveel: “Word soos ons!” Ons preek: “Dis oor julle die kerk uit is dat julle so lyk.  Kom hier na ons toe!  Ons weet wat reg is.  Ons is reg!” Kom na ons toe, want soontoe gaan ons nooit.  Om van ons te verwag om na die sondaars toe te gaan, of hulle net soos hulle is, hier by ons te verwelkom, gaan nie gebeur nie. Nooit nie. Glad nie, nie oor my dooie liggaam nie.  En oor Christus s’n dan?, vra die Luthers onder ons. Dog ons skree net harder en dring aan: “Verander julleself, julle morele waardes, julle leefstyl, julle hele verdorwe moraliteit voor julle hier by ons ʼn sitplek gaan kry, voor ons julle gaan toelaat om hier onder ons te kom leef!”  Die advertensie wat die kerk na die wêreld toe uitstuur is: word eers vir ons aanvaarbaar, leef eers mooier, en maak soos ons almal hier in die kerk maak, voor jy hier by ons kan inpas en ons jou kan aanvaar.

Anders gesê: koop eers vir jou ʼn aflaat.  Hierdie keer nie met geld nie, want die prys het opgegaan en jy gaan dit nie kan bekostig nie.  Dit het intussen veel meer persoonlik geraak.  Berou en bely jou afgryslike sonde, verander jouself, jou lewe, jou grillerige menswees, en wanneer jy behoorlik boete gedoen het, sal ons besluit of jy genoegsaam na ons vlak toe gestyg het, en of jy aan die eise van ons kerkwees kan voldoen dat ons jou hier as een van ons kan aanvaar.

Wat het geword van die kerk waar God sondaars bymekaarmaak net oor Hy hulle liefhet sonder om eise en voorwaardes te stel?  Dis tog wat genade beteken, dan nie?  En is ons nie juis daartoe verplig oor Jesus Christus se dooie liggaam nie? Sy offer, sy sondaars, sy kerk.  En ons kla ons opoffering is te groot, en ons gaan ons kerk nie so deur sonde laat bevlek word nie?  Ek het nuus vir jou.  Hierdie is nie ons kerk nie.  Dis Jesus s’n.

Saggeus klim ʼn boom.  Saggeus is ʼn joiner en hanskhaki (hans-Romeins, om meer korrek te wees) – hy verkoop sy volk aan die Romeine uit.  Saggeus vorder nie net die onderdrukker se belasting in nie, hy buit sy eie volk uit.  Hy is korrup.  Hy vat van die belasting ʼn groter deel as wat hom toekom.  Dis nie vroomheid, vrees vir God of skuldgevoel wat hom dit laat doen nie, maar as hy hoor Jesus kom die straat af, gaan klim hy in ʼn boom om beter te kan sien.  Want hy’s kort.  Dis al.  Hy het nie bedoel dat Jesus hom moet raaksien nie.  Hy wou vir Jesus kan sien.  Jesus is berug of beroemd, afhangende van waar jy met die gerugte oor die rabbi staan.  Jesus was iets om te sien.  Saggeus het glad nie beplan dat sy lewe sou verander nie.

Jesus stop onder Saggeus se boom. “Saggeus, kom gou af want Ek moet vandag in jou huis tuisgaan.”  Ongenooid, maak Jesus Homself tuis in die huis van ʼn gehate klein mannetjie wie se sonde vir die wêreld oop en bloot lê.   “Hy gaan by ʼn sondige man tuis!” En hulle is reg.

Nes die Jode en die Roomses het ons steeds die idee dat ʼn verandering aan hoe jy lewe eerste moet kom.  Dat jy jou eers vir die mense, vir die gemeente, vir die kerk aanvaarbaar moet maak, voor God genade gee.  Ons verkoop aflate.  Ons hou sondaars op ʼn afstand, ons eis tol van die tollenaars tot hulle word soos ons voor ons hulle onder ons toelaat.

Waaroor het dit in die Hervorming gegaan? En waaroor gaan dit vir ons hier?  So lief as wat ons is vir die Hervormde Kerk soos ons dink hy eens was en altyd moes bly, is ons, die kerke van die Hervorming, oor ʼn leefstyl “in die mark”? Verkoop ons ʼn eie Protestantse handleiding oor hoe om ryk en invloedryk te word? Het ons ʼn grondwet geskryf vir ʼn Protestantisme en waak ons koorsagtig oor wie aan die eise vir ons vriendskap voldoen? Het ons ʼn Protestantse gedragskode geskryf, en ʼn Handves vir Protestantse Menseregte en veral Protestantse Pligte? Wil ons ʼn Protestantse Politiek pleeg?  Of wil ons ʼn soort Protestantse Intelligensiediens word wat waghou teen afwykende idees, of ʼn Protestantse Sedepolisie wat mense moet uitsnuffel wat nie bykom by die hoë ideale van ons kliek nie?

As dit is wat ons gedoen het, het dit gewerk? Nou 500 jaar na die Hervorming, is die wêreld meer Protestants? Is die sedelike verval en gewaande moraliteitskrisis dalk juis doodnormaal Protestants, ʼn logiese gevolg daarvan dat elkeen maar sy eie koers kan inslaan?  Het ons nie dalk onverskillige en aan God ongehoorsame gelowiges gaan kweek nie? Spyker ons die siek moraliteit van ons tyd aan die Hervormde Kerk se deur? Wel, om die waarheid te sê, die Luthers van ons tyd doen juis dit.

Maar die goed wat van ons gesê word, is mos nie waar nie, is dit?  Dit was tog nie die doel met die Hervorming nie?  Dit was beslis ook nie doel met die oorspronklike kerk nie. Nou waarom dan word die kerk juis gemeet aan hoe ons die sedes nie kan bewaar nie en die immoraliteit nie kan hokslaan nie? Geweeg en te lig gevind, die kerk, ʼn klaaglike mislukking.

Want dis hoe die kerk haar dikwels aan die wêreld wys.  So is die wêreld ons al gewoond. Hulle verwag van ons niks anders meer nie as mense wat uit een mond vervloekend, veroordelend, beterweterig en neerhalend in die wêreld opdaag.  En ons het dit alewig oor leefstyl-kwessies.  Oor gedrag. Oor soms werklike, dog soms ook vermeende sondes. Ons kondig die toorn van God daaroor aan. By sondaars tuiskom? Nooit!  “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Dis ons oplossing vir sonde en sondaars.  En ons bedoel nie om Jesus weer dood te maak nie, maar die mense wat in die modderige slyk van die sonde spartel, te laat versuip. Ons glo ons is kruisvaarders wat die bose moet uitroei.  Mense wat sondig is boos.  Ons is mense se grootste bedreiging.  Die kerk is die vyand.

Hoe help dit vir Saggeus in sy boom?  Watter hoop hou die kerk in vir enige nuuskierige toeskouer wat nog die moeite doen om die boom te klim en te kom kyk?  Wat is hier vir hom?  Watter alternatiewe bied ons hom?  Het ons vir hom ʼn alternatiewe manier van menswees, behalwe dat hy hom aan ons kant kom skaar in ons verwyt teen die wêreld?  Moet hy sy rug keer op die mense waar hy vandaankom, hom voorneem sy vriende verdien nekomdraai?  Gaan hy by ons inkoop?

Ons bedoel dit al’s so goed.  Dis in hulle, hierdie sondige mense se belang, glo ons.  En ons doen dit al’s nie oor dit vir ons so vreeslik lekker is nie, maar omdat God sê ons moet.  Ons doen dit met selfopofferende gehoorsaamheid!

Is dit waarvoor ons hier is?  Regtig? Is dit gelowig wees?  Is dit Protestants?

Of het ons dalk ʼn ander taak?  Moet ons nie dalk minder die wêreld wil maak en breek en regtimmer nie, en dit net ʼn keer gaan vashou nie?  Sou dit nie help as ons net vir een oomblik kon stilstaan by wat mense snags in hulle kussings laat snik nie?  O, ons weet by voorbaat dat al wat ʼn moeilikheid is, die sonde se skuld is.  En sonde is mense se eie skuld.  Ons sonde bring al die ellende oor onsself.  Dis al’s ons eie skuld.  Met sonde is ons regtig goed.  Veral met wie s’n die skuld is.  Weet jy wat?  God weet dit selfs beter as ons.  En Hy het hierdie selfde sondige wêreld so lief dat Hy sy Seun stuur.  Net om ons almal ʼn slag te kom vashou.  As dit daarop aankom, gee Hy Hom in ruil vir ons almal.  Hy oordeel die wêreld is dit werd.

Ek glo daar is nog mense wat boomklim.  Hulle moet: hulle soek.

Soek hulle verlossing?  Is dit die een ding wat jy ten alle koste moet kry en die Kaap is weer Hollands?  Snaaks genoeg, Rooms of Protestants, daaroor het ons nooit verskil nie. Ons is dit inteendeel roerend eens. Daarvoor was geen hervorming nodig nie.  Daarvoor was die kerk klaar daar.  Die Roomses het net gesukkel om te verstaan dat die kerk geen verlossing kan gee nie. Geen pous of priester of ondertekende papier gaan jou verlossing gee nie.  Die kerk het dit nie om dit te kan uitdeel nie.

Wie siek is, het ʼn dokter nodig, nie ʼn bed nie.  Dit was die saak van die Hervorming: dat ons mense moet voorstel aan die Een wat verlossing kan gee, aan Hom wat siekte kan genees en nie net die wonde verbind en ʼn pynpil voorskryf nie. Dis Hy van wie die wêreld se sondaars al verlangs gehoor het.

Wys vir hulle die Verlosser.  Wys vir hulle God.  En pleks van oor God te skinder dat Hy by sondaars tuisgaan, gun hulle Hom.  Gee hulle Hom.

Hulle sit die bome vol wanneer Jesus Christus met die kerk verbykom.  Maar maak nou maar daarmee vrede dis nie vir ons, die kerk, wat hulle wil sien nie.  Dis vir Jesus Christus, God se Seun. Die vraag is: kry mens Hom nog hier in die kerk te sien?

Maar kom ons wees nugter:  die kerk is ʼn bed om op te lê as jy siek is.  Die bed self maak jou nie beter nie, maar die bed is ʼn plek om tot rus te kom. Maar as die hospitaal eis jy moet eers gesond wees voor jy in hulle beddens mag kom rus, bly daar enige hoop oor om iewers hulp te kry met gesondword? En as dit is wat die kerk doen, verkoop ons nie weer aflate nie?  Al verskil is dat jy nie geld vra om hier te kom rus nie, maar jy dryf handel in gewoontes en gedrag.

Ons moet versigtiger wees as gewoonlik.  Ons moet ophou voorgee ons is God.  Dat net bekeerdes, goeies en gehoorsames by ons ʼn stukkie Here kan kom haal.  Asof net voorbeeldige lewes wat klop met die voorgeskrewe gedragspatroon van ons Hervormdes hier by ons in die kerk toegelaat kan word.  Juis asof ons die pous se sleutels wat die poorte oopsluit nou in ons hande het.  Want dan het ons opgehou Hervormd wees.  Dan is ons weer voor-Hervorming Rooms.  Dan is God ook nie meer hier om te wys of uit te deel nie.

Jesus klim al die bome na daai mense toe, en ons staan en toegangskaartjies smous om te keer hulle kry Hom verniet te sien.  Jy maak nie van Jesus Christus ʼn uitstalling in ʼn museum nie.

Die Hervorming was nie ʼn uitsuiwering van die kerk sodat ons daarna sondeloos, heilig en rein geword het nie.  Die Hervormers het God ontdek.   Die wêreld soek Hom steeds.

Waar die kerk leef, gaan daar sonde in die omtrek wees. Waar die kerk werk, word met sondaars gewerk.  Daar is nêrens ʼn plek waar die sonde nie kan kom nie.  Nie eers die kerk nie.  Juis nie die kerk nie.

Die kerk is geen kliniese eksperiment in ʼn proefbuis in die steriele omgewing van ʼn laboratorium nie.  Die kerk is geen foutlose prestasie nie.  Die kerk is drek, modder, grond.  En dis waar jy God kry aan’t mense maak. Dis juis daar waar Hy mense heelmaak.

As die kerk vir jou begin mooi silwerskoon lyk, is dit geen kerk meer nie, maar die hel.  Dan het die kerk ʼn satan geword wat aankla sonder die aanbod van uitkoms.

Ek moet vandag in jou huis tuis gaan, Saggeus.  Klim gou af. Voordat Saggeus nog enigiets anders gedoen as net boom geklim het, voordat Saggeus enigiets anders in gedagte gehad het as om net sy nuuskierigheid oor die revolusionêre rabbi te bevredig.  Want Jesus het besluit Hy gaan Saggeus ʼn slag vashou, terwyl die res van ons hom wil weggooi.  Voor die dag om is, sê Jesus oor Saggeus “ook hierdie man is ‘n kind van Abraham.”  Want Saggeus het soos Abraham begin glo.  Dis die geveg werd: nie ʼn gewoonte nie, nie gedrag nie, nie ʼn leefstyl wat jy ten alle koste moet verander nie.  Om die Here God te ontmoet, dat sondaars Hom hier by ons moet kan vind, dis die Hervormde Kerk.  Daarvoor kan ons lewe, en het Hy gesterwe, Hy vir ons, die Vader, Seun en die Heilige Gees.

Kom ons hou die wêreld weer net ʼn slag vas.

Amen.

GEBEDE

Dankgebed (Mans staan)

Slotsang (Staan)

Kom ons bely weer dat God se liefde, sy genade, die nood van sondaars raaksien.  Hy maak ons harde menseharte vol geloof in Hom, en vol deernis vir mense vir wie ons andersins sou verwerp en van die Kerk af sou wou weggehou het.

Gesang 332 strofes 1,2,3 en 4

WEGSENDING

Seëngroet (Staan)

14      

Ons weet . . . dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam . . . voor sy troon sal stel.

15      

[Dis] alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer.

2 Korintiërs

Sang / Respons (Staan)

Gesang 189 twee keer

PREDIKANT

Afkondigings

DIAKENS

 

Dankoffers

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s