Wie is jy?  En ek?  En wat is ʼn mens dan?

Menslike optimisme ken geen perke nie.  Ons bly glo ons kan nuwe, beter wêrelde skep of summier optower met net ʼn gawe dosis goeie bedoelings en ʼn bietjie onderwys.  Die universiteite waar die droom sou waar word, brand.  Nie eers rubberkoeëls hou die studente wat so honger na geleerdheid van die kampusse af weg nie.  Hulle dring aan op grade.  Grade van daai soort wetenskap wat ʼn knoffeldieet en ʼn vinnige stort vir VIGS voorskryf, en wat weerligstrale uit KZN sekuur op vervloektes kan mik.

Psalm 8; Jesaja 43: 1-7; Johannes 14: 1-3; Handelinge 1: 9 – 11;  Openbaring 21: 1 -7

23 Oktober 2016, NHKA Kampersrus

Koninkrykstyd

Toetrede

Predikant

Wie is ons?  Wat is ons? Waarvan is ons aanmekaargesit, en wat het ons geword?  Waartoe is ons in staat en wat wil God van ons maak?  Ons kyk vanmôre na die mens en vra:  “Wat is die mens dan dat God hoegenaamd vir ons omgee?”  Wat is ons regtig werd?

Sang (Sit)

In Gesang 527 erken ons dat die werk waarin ons staan, die Here se werk is, maar dat dit gevaar staan om ten gronde te gaan, juis oor ons die ouens is wat dit moet doen. Ons vra die Here moet ons help met die selfverloëning wat dit van ons gaan verg om dit reg te kry.

Gesang 527 strofes 1 en 2 

Sang (Sit)

Kom ons sing ons eerste Adventslied.  Ek weet Advent begin eers aan die einde van volgende maand, maar hierdie lied sê iets van ʼn mens se aard wat uit Jesus se menswording duidelik word.  Dit sê daar is weer in ons mense ʼn bymekaarkom van vleis en bloed mens en God.  Dis waarheen ons met vandag se erediens op pad is.

Gesang 322 verse 1, 2, 3 en 4

Stilte (Sit)

 

Toetredelied (Staan)

Gesang 528 strofes 1, 2 en 3  

Dis die lied waarmee ons tot die gesprek met die Here in vandag se erediens toetree.  Dis ʼn gebed.  Ons bid met die lied God moet ons vandag sy wil kom wys, en wat sy doel met ons is.

Votum en Seëngroet (Staan)

20      

God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring.

21      

Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

(Hebreërs 13)

Aanbidding en Lof

Predikant

Sang (Staan)

Ons het baie rede om die Here te loof.  Lof aan God is die beste ding waartoe ons mense in staat is, en daarom moet ons dit meermale doen.  Onophoudelik doen.  Kom ons loof vanmore die Here uit

Psalm 150 strofes 1 en 2

Almal wat kan asemhaal, loof en prys Hom!

Gebed (Mans staan): Skuldbelydenis en genadeverkondiging

Sang (Staan)

In hierdie lied bid ons dat God die bande onder ons moet sterker maak en ons een moet laat word.  Eenheid kom as ons mekaar vergewe en mekaar leer vertrou. Maar dis Christus wat die Begin en die Beginsel van ons eenheid is.

Gesang 532 strofes 1,2 en 3

Verkondiging

Predikant

Skriflesing (Sit)

Psalm 8 : 4 tot 10

4        

As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het,

5        

wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?

6        

U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon,

7        

U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp:

8        

skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld,

9        

die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis.

10      

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!

Jesaja 43 : 1 tot 7            

1        

Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

2        

As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie,

3        

want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.

4        

Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.

5        

Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek bring jou kinders van die ooste af, Ek maak hulle bymekaar van die weste af,

6        

Ek sê vir die noorde: Gee! vir die suide: Moet hulle nie terughou nie! Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af,

7        

elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het.

Handelinge 1 : 9 tot 11

9        

Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ‘n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie.

 

10      

Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan.

11      

Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Johannes 14 : 1 tot 3 

1        

“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.

2        

In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie.

3        

En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

Openbaring 21 : 1 tot 7

1        

Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.

2        

En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.

3        

Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.

4        

Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

5        

Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”

6        

Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.

7        

Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees.

2 Korintiërs 3 sê

5        

Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God,

6        

wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van ‘n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend.

Sang (Staan)

Gesang 503 verse 1,2 en 3

. . .  sê dis Jesus wat aan ons menslike lewens sin gee.   Dis die Here wat aan ons lewe waarde gee.  Dis Hy wat ons elke dag inspireer en motiveer.

Preek (Sit)

Wat is ‘n mens?

Wie is ek en wie dink jy is jy?

Kan ons weet? Mag ons weet? Wil ons weet?

Wat het Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart te make met wie ons is? Die antwoord: alles.

Wat is ʼn mens?

Daar is baie maniere om na ʼn mens te kyk. Kom ons kyk hoe lyk ‘n paar teorieë. En kyk daarna hoe lyk God s’n.

Evolusie, aanpassing en ontwikkeling

Aanvanklik, so sê die wat evolusie volg, het ons die krom rug reguit gemaak om eers net verder vorentoe, en toe ook op te kan kyk. Toe het ons die hande waarop ons geloop het uit die stof uit opgelig om penne mee te stoot en syfers neer te skryf wat die planete se bane beskryf.

Ons streef al hoër. Van die mens weet ons dit: ons kan van die aardse loskom! Ons kan vorder en ons kan verder. Vorder tot by hoër hoogtes, tot by verder bestemmings. Selfs by die sterre verby. . .  Obama het die week voorspel dat ons teen 2030 voete op Mars gaan neersit.

Antieke godsdienste

Die mens is ‘n Icarus. Daardie Romeinse godjie wat met mensgemaakte vlerke begin vlieg het, swaartekrag gefnuik en weggekom het vanwaar gewone sterflinge met hulle voete vas op die aarde staan. Dit het Icarus suur bekom. Hy het te na aan die son wou vlieg, sy vlerke verbrand en met ʼn gevoelige hou teruggekom aarde toe.  Die Romeine was veel meer pessimisties as Amerikaners.

Die groot wetenskaplikes van ons tyd

Kan ons regtig van die aarde af wegkom? Tegnologiese ontwikkeling het van ons al amper gode gemaak. Ons kan oor amper elke grens en beperking. Maar terwyl die mens aan die een kant al amper soos ‘n god geword het, word ons deur die teorieë van Einstein , Bohr, Darwin, Nietzsche, Freud, Jung en dinge soos die atoombom en kanker, gedwing om te besef dat ons nog nooit regtig die aarde se stof van ons voete kon afskud nie.  Waar daar nie oorlog of terreur is nie, het ons  ʼn gemiddelde lewensverwagting van maar net so om en by 75 jaar.  Gaan jou liggaam, gaan jy.  Jy kan jou liggaam nie amputeer nie. Ons is van stof gemaak.

Dromers, skrywers en filosowe

“Wat is die mens dat U aan hom dink?” vra Psalm 8 vir God. “U het hom weinig minder as ‘n engel gemaak!” sê hy verwonderd.

In 1991 sê PH Roodt: “Wat is die mens, tog drek. . .”

“Nog een drankie en ek loop op die water!” laat Opperman ‘n karakter sê wanneer hy die partytjie beskryf met die lansering van Apollo 11 maan toe. Hulle moes die stomme kêrel uit die swembad uithelp voor hy versuip aan meer as alkohol.

Wat is die mens, tog sterflik!

Dog, menslike optimisme ken geen perke nie.  Ons bly glo ons kan nuwe, beter wêrelde skep of summier optower met net ʼn gawe dosis goeie bedoelings en ʼn bietjie onderwys.  ‘n Nuwe wêreld van menswaardigheid en mensereg kan glo sommerso daag danksy menslike prestasie.  Ons vier die triomf van die menslike gees op vrye teuels. Ons gaan nog leef in ‘n plek met sonderlinge vryheid en vrede, sonder menslike geweld, sonder armoede en verdrukking, sonder siekte selfs, of lyding, as jy die retoriek moet glo. ‘n Nuwe skepping wag. Onderrig is die towerwoord.

Die universiteite waar die droom sou waar word, brand.  Nie eers rubberkoeëls hou die studente wat so honger na geleerdheid van die kampusse af weg nie.  Hulle dring aan op grade.  Grade van daai soort wetenskap wat ʼn knoffeldieet en ʼn vinnige stort vir VIGS voorskryf, en wat weerligstrale uit KZN sekuur op vervloektes kan mik.

Wat sê jy?

Watter van die twee sienings oor wat mense is, is reg? Is ons drek, of amper-engel?

Durf ons dit waag om te probeer uitvind? Wil ons rêrig hieroor dink en dalk die waarheid weet? Want onthou, ek en jy kan nie teorieë oor die mens in die algemeen maak sonder om van onsself ook te praat nie. Wil ons agterkom wie ons is, ek en jy? Wat durf ek weet van myself? Sal ons kan saamleef met die gedagte as ons eers weet? Sal ons onsself in die gesig kan kyk en selfrespek behou? As ons oor onsself gaan begin praat, waar hou ‘n mens met veiligheid op voor wat jy sê verklap wie en wat jy regtig is, en nie is nie?


Die fisika

Die fisika sê ‘n mens is niks minder of meer nie as:

* genoeg vet vir 7 koekies seep.

* genoeg yster om een gemiddelde grootte spyker van te maak

* genoeg suiker vir sewe koppies tee.

* genoeg kalk om ‘n klein hoenderhokkie af te wit

* fosfor vir omtrent 2200 vuurhoutjies

* een stywe dosis magnesium

* genoeg potas om ‘n speelgoed hyskraantjie mee op te blaas

* en swael waarmee jy een hond van sy vlooiplaag mee kan verlos.

elements-human-body-periodic-table-periodic-table-of-elements_0
Elemente waaruit n mens se liggaam bestaan

Maar, is jou naam nie Hitler nie, en bad of stort jy nie so graag soos ons President nie, en hou jy nie juis van houtwerk nie, vermy jy liefs suiker en soek soetigheid in namaaksels, hou jy nie honde aan nie en boer jy nie met hoenders nie, as jy aanstekers gebruik as jy rook of die braai aan die brand wil kry, en in die lig van vrede en versoening liefs ook nie jou kind op sy speelgoed laat oefen om bomme te maak nie, is ‘n mens vir jou dalk nog minder werd.

Mediese wetenskap

Om te beweer ʼn mens is net ʼn optelsom van elemente op die periodieke tabel, is nie juis inspirerend nie.

Miskien verkies jy om te sê ek is hartspier, harsings, lewer en long, pankreas, oë en toonnaels, niere en blaas, senings en senuwees, vel en been, al’s aan die gang gehou met suurstof en bloedbrandstof? Dis soos om te sê jy is spaar parte vir oorplantings wat geoes word as jy op die ashoop beland. ʼn Eendjiebyter, n broeikas,  ʼn toetsterrein vir genetiese ingenieurswese, n item op die vars produktemark met die vervaldatum gestel vir die dag dat kanker en cholesterol aan jou kom vreet.

Die oudword stop?

Is dit al? Is dit alles?  Is dit ek en jy?

Wat dan daarvan dat ek anders dink as jy?  Waarmee voel ek?  Hoe glo ek?  Hoe kry ek gelag en gehuil?  Vanwaar daai begeertes, en hoekom so begeesterd?  Hoe werk pyn en hartseer? Hoe kry ek lief?  Wat is lewe en wat is dood?

Jy kan voor die spieël gaan staan en soek na die plooitjies om jou oë en hulle toesmeer met room of slanggif laat inspuit.  Jy kan gaan haarkleur koop teen die grys.  Jy kan vloek oor jou broek span, en gaan bars in die gim. Jy hoor die Prediker koggel oor die vergeefsheid daarvan. Jy hou jou horende doof vir sy moedswillige voëlsang oor die amandelboom wat in jou haarkleur blom, en jou sprinkaanbene wat jy met al meer moeite voortsleep. Jy kan jou verset teen die meedoënlose verloop van tyd, teen oudword en teen stadigaan vergaan met mindere of meerdere mate van sukses.  Maar dit sal nie die oudword stop nie.

Jy is wat jy eet

Of jy kan sê die mens is wat hy eet. Want bedelaars is dit beslis omdat hulle nie eet nie. Dan kan jy by die mark gaan kyk hoe tonne aartappels en kool en pampoen en rys gehyskraan word vir menslike gebruik. En by die slagpale gaan gly in die bloed van bees en skaap en vark, bedien vir die etenstafels en gesellige braaivleisvure van vrolike gesinne.

Jy is waar jy eet

Wat jou weer aan die dink sit: dalk is die mens nie wat hy eet nie, maar waar hy eet. Families om tafels met  pa aan die kop, vriende om vure, geliefdes by kersvlamme in skemer kafeetjies. Straatkinders bakhand by parkeermeters en vroue met trollies by jou swart sak op die sypaadjie. Oumense op die dorp se vullishoop…

Of jy kan menswees gaan meet aan wat jy het en nie het nie. Gaan krap in gevierde beroemdes se afval om te sien wat hulle al weggooi maar jy nog nooit gehad het nie. Jy kan jou meet aan hoe hoog teen die bult op jou huis staan, of hoe na aan die strand. Of jy kan gaan leer en presteer en die grade teen jou muur gaan raam, gaan werk en gaan geldmaak, en jy kan koop en koop en koop. En eet en drink en vrolik wees.

Jy word wat jy speel, hoe jy rus

En van vrolik wees gepraat. Jy kan dalk gaan kyk hoe die mens verklap wie hy is deur hoe hy speel, met wat hy geniet. Hoe werk sport? Waarom pawiljoene vol Mexican-wave oor ‘n eiervormige bal? Hoe werk kroeë en klubs, en flieks en vermaak?

Dalk leer jy van die mens uit hoe hy rus. Waar is rus? Wat is vakansie en toerisme? Jy kan gaan vlae ontleed en strukture ondersoek. Kopbene opgrou en meet en weeg. Samelewings en strukture en uitgestorwe beskawings ontleed.

Engel of drek?

Ek kan baie lank so aanhou, net om maar op die ou end te sê: Ek weet nie! Ek weet nie wat die mens is nie. Ek weet nie eers wie ek is nie. Weet jy?

Skaars minder as ‘n engel? Waarvandaan dan al ons pyn? Of is ons dalk drek? Maar waar dan kom die stukkie hemel hier tussen ons vandaan? Die vraag is steeds: wie is reg? Is ons amper-engel of is ons drek?  Of is ons dalk iets van albei?

 

 

Wat sê die Skepper?

Jy wil weet wat en wie ‘n mens is? Kom ons vra ʼn slag die Een vir wie ons gewoonlik heel laaste nader – eers as niks anders werk nie.  Kom ons vra die Skepper.  Hy wat ook die handboek oor mense geskryf het.

Die mens, sê God se Woord, is eers koning en toe ‘n klad op sy skepping.  So ver val die mens dat God al ʼn slag bitter spyt was dat Hy ons gemaak het. Ons het stinkende riool geword, waar God lewende water wou hê. Hy wou ons al ‘n keer uitroei.

Waarom het Hy nie?

Ons weet nie, omdat ons die verkeerde vraag vra. Ons vra wat en wie is die mens? Die Bybel leer ons om te vra: wie s’n is die mens?

Wie s’n is die mens?!

God verklaar ons tot sy eiendom. Ons is Syne.

Dis dié dat ons deur diep waters kom en nie wegspoel nie. Toe ons deur vuur is, nie geskroei het nie, en toe ons in die dood se skadu was, nie alleen was nie. Dis waarom die dood ons toe nie vir altyd gevange kon hou nie. Want ons is God s’n, en nie net vir nou nie, maar vir altyd en vir ewig.  Hoe die “vir ewig” moontlik is, kan jy nie uit die biologie van ʼn lyf aflei nie.  Dit wys nêrens nie.

Ons is toe vleis en bloed, en vel en been. Maar ons het toe ook ‘n hart by God gekry. Een waarmee ons vir Hom kan lief wees, en selfs vir mekaar, soos hy gesê het. God het Homself in ons ingeplant, meer as net sy asem, sy Gees!  Hy het ons sy blyplek gemaak – sy heilige tempel in die wêreld. Ons is God se heilige grondgebied.

Ons is toe nie wat óns het nie. Ons is wat Gód het. Hy het ons gekoop en ons is sy eiendom. Ons was onbetaalbaar duur.  Ons kos Hom sy Seun.  Maar Hy het eenmaal klaar betaal:  God glo nie in huurkoop nie.  God maak nie skuld nie.  So anders as ons wat op krediet koop en koop en nooit genoeg kry nie. Ons is God se eiendom en ons kom niks kort nie, al is ons arm en werkloos en waardeloos vir die samelewing. Al krap ons in asblikke en eet ons brood en water. Ons kos God sy Kind. En saam met Hom gee hy ons al die ander dinge ook.

Ons is nie waarvoor ons gewerk het nie. Ons is waarvoor God gewerk het. Anders as Jakob wat ‘n skamele 14 jaar vir Ragel moes werk, werk God deur die skepping se ganse geskiedenis om ons sy eiendom te maak. Ons is vir Hom baie werd, meer as mosies en van ons is selfs die hare op ons koppe getel.

God het ons gemaak om gehoorsaam in sy diens te staan. Net ‘n bietjie minder as ‘n engel het hy ons gemaak. Trouens, meer as amper-engel, amper-God!  En op die ou end het God ons geword. In die Here Jesus Christus word God mens, die Kind van God word mens sodat mense kinders van God kon word. Hy het kom leef waar ons leef, kom voel wat ons voel, ons omstandighede van binne-uit kom leef. Hy ken ons sonde, dit waaroor ons skaam is en selfs dit waarvoor ons ons opruk as God met ons raas.

Toe ons Hom die graf indra en hy met die lyf van ‘n man drie dae later opstaan,  moes ons al besef het waarheen God met ons op pad is.

Hemel toe! Die ewige lewe in. Tot by God waar ons vir ewig sal leef. Waar ons saam met God aan sy tafel sal fees hou. En waar daar vir almal plek is en niemand hoef agter te bly nie. Daarheen na waar die Here Jesus aan die regterhand van God sit. Vanwaar hy al die mag in die hemel en op aarde uitoefen omdat dit aan Hom behoort.

Die mens is kind van God. Nie engele nie. Drek is wat ons was voor die kruis. Maar die Here Jesus het opgestaan en hemel toe gegaan om vir ons as God se kinders plek te berei. Sodat ons in die nuwe hemel en aarde kan deel o.g.v. Jesus se verdienste. Nie engele nie. Nie drek nie. Kinders van God!  Dis ek en jy.

Amen.

 

Sang (Staan)

Kom ons sê vir die Here dankie dat Hy ons raakgesien het, dat Hy Hom oor ons ontferm het.  Kom ons loof Hom oor sy liefde wat geen einde het nie.

Gesang 529 strofes 1,2,3, en 4

Ouderling

Geloofsbelydenis (Sit)

Kom ons bely ons geloof in die Een en Enigste God.  Hy het geoordeel dat ons die moeite werd is, sy offer werd is.  Ons is waardevol want God dink so.  Ons glo onwrikbaar in die God wat vir ons liefhet met ʼn liefde waarvan ons nie die gelyke ken nie.

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Die Wet / Wil van God

Ons het die Woord van die Here gehoor.  Dit is by God dat ons lewe begin.  By God kry ons lewe sin en betekenis.  Net Hy maak ons lewe sinvol. As ons nou nog sonde doen, is dit opsetlik.  Kom ons maak ons lewes vir die Here aanneemlik. Dis wat ons ons in Psalm 19 voorneem om te gaan doen:

8        

Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.

9        

Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig.

10      

Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas. Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig.

11      

Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ‘n heuningkoek.

12      

U dienaar laat hom daardeur leer. Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.

13      

Wie sien sy eie dwalinge raak? Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie.

14      

Weerhou my van opsetlike sondes, laat hulle nie oor my heers nie. Dan sal ek onberispelik wees en vry van hierdie groot sonde.

15      

Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.

Slotsang  (Staan)

Kom ons wy ons hele lewe aan die Here.  Kom ons sing

Gesang 464 strofe 2,3 en 4

Wegsending

Predikant

Seën (Staan)

14      

“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.

15      

Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.

16      

‘n Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly.”

Psalm 91

Respons (Staan)

Gesang 313 twee keer.

Afkondigings

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s