Gruwelike genade

Anders as ander boeke van die Bybel, lyk Jona vir ons na ʼn lang gelykenis eerder as ʼn stuk geskiedenis.  Jona is soos ʼn vertelling aan kinders, amper iets soos ʼn kinderdiens of n animasiefliek met koddige karakters en denkende dinge: Alles is groot en oordadig, dramaties en beeldryk, met die tong stewig in die kies.  Dit het  onverwagse draaie en ʼn kinkel in die stert.  Maar jy moet nie die fout maak om vir Jona vlak te vat nie: as God grappe maak, beteken dit nie Hy is nie dodelik ernstig nie.  Die uiteinde van Jona is al’s behalwe snaaks. . . Kom ons speel saam in hierdie gemaak-speelse verkondiging van ʼn baie ernstige boodskap.

Jona 4 verse 1 tot 10

16 Oktober 2016, NHKA Kampersrus

Koninkrykstyd

Vooraf

Predikant

Liedere (Sit)

Die boek Jona het die laaste tyd baie in gesprekke opgeduik. Toe dink ek ons kan gerus ʼn slag vir Jona van naderby beskou.  Anders as ander boeke van die Bybel, lyk Jona vir ons na ʼn lang gelykenis eerder as ʼn stuk geskiedenis.  En dan het die verteller van Jona se verhaal nog die tong stewig in die kies: julle moet die humor daarin agterkom.  Jona is soos ʼn vertelling aan kinders, amper iets soos ʼn kinderdiens:  alles is groot en oordadig, dramaties en beeldryk.  Dis soos ʼn storieboek met denkende dinge, onverwagse draaie en ʼn verrassende kinkel in die stert.  Jona is ʼn soort Bybelse animasiefliek met koddige karakters.   Maar jy moet nie die fout maak om vir Jona vlak te vat nie: as God grappe maak, beteken dit nie Hy is nie dodelik ernstig nie.  Die uiteinde van Jona is nie juis snaaks nie. . .

Kom ons speel saam in hierdie gemaak-speelse verkondiging van ʼn baie ernstige boodskap.  Kom ons sing

Gesang 549

Kom ons sing oor God se majesteit wat orals in die skepping vir mense en vir diere duidelik is.

Psalm 8 strofes 1 en 2, die TT Cloete teks, die tweede melodie, dadelik gevolg deur Psalm 8 strofes 5 en 6, die Lina Spies teks, die tweede melodie, asof dit een lied is. 

Ons laaste lied voor die erediens begin, staan ook onder die rubriek “Kindwees”.  Maar nes Jona is hierdie ʼn lied met ʼn baie volwasse boodskap.

Gesang 547 strofes 1,2 en 3

Toetrede:

Ouderling

Toetredelied (Staan)

Kom ons berei ons voor vir vandag se ontmoeting met die Here hier in die erediens.  Ons sing van die seën wat ons weet ons van die Here kan verwag uit

Psalm 134 strofes 1 en 2

Toetrede

Predikant

Votum en Seëngroet (Bly staan)

29      

“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.

30      

Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.

31      

Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

(Matteus 10)

Aanbidding en lof

Ouderling

Die Here is Koning oor die hele aarde en van alle mense.  Ons is van die eerstes wat juig dat God regeer.  Kom ons sing dat die Here sy koninkryk moet laat kom, en deur ons moet laat kom, en orals moet laat kom.

Sang (Staan)

Kom ons sing

Gesang 488 strofes 1,2,3,4 en 5

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Die Tien Gebooie het van Israel ʼn volk gemaak.  Die Tien Gebooie was die terme van Israel se verbintenis met God.  Dis hoe hulle God se volk geword het.

1        

Moses het die hele volk bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Israeliete, luister na die voorskrifte en die bepalings wat ek vandag hier in julle teenwoordigheid aankondig. Julle moet dit leer, dit gehoorsaam en daarvolgens lewe.

2        

Die Here ons God het by Horeb ‘n verbond met ons gesluit.

3        

Dit is nie ons voorvaders met wie Hy hierdie verbond gesluit het nie, maar ons, ons almal wat hier is en nou lewe.

4        

Ja, met julle persoonlik het die Here op die berg uit die vuur uit gepraat.

5        

. . .  “Die Here het gesê:

 

6        

“ ‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.

7        

Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

8        

“ ‘Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie.

9        

Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek die Here jou God eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat,

10      

maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

11      

“ ‘Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal dié een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

12      

“ ‘Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou, soos die Here jou God jou beveel het.

13      

Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet,

14      

maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of jou bees of jou donkie of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie, sodat jou werksmense kan rus soos jy.

15      

Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ‘n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou.

16      

“ ‘Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy ‘n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee.

17      

“ ‘Jy mag nie moord pleeg nie.

18      

“ ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

19      

“ ‘Jy mag nie steel nie.

20      

“ ‘Jy mag nie vals teen ‘n ander getuig nie.

21      

“ ‘Jy mag nie iemand anders se vrou begeer nie. Jy mag nie sy huis begeer nie, ook nie sy grond, sy slaaf of slavin, sy bees of donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.’

Skuldbelydenis (Staande)

Jona se sonde was dat hy geglo het God behoort aan Israel, pleks van Israel aan God. Ons glo ook God behoort aan ons. Maar dis eintlik andersom. En daarmeesaam kom die sonde van te dink jy is veel meer werd as enigiemand anders.

Kom ons bely ons sonde en skuld aan God.  Kom ons doen dit deur saam te sing.  Ons sing

Sang (Staan)

Gesang 229

Genadeverkondiging (Bly staan)

Hoor wat sê God in Jesaja 43 aan mense wat Hy liefhet en wat eerlik voor Hom skuld bely.

1        

Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

3        

. . . Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.

4        

Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.

Maar God het selfs verder as dit gegaan.  Hy het uiteindelik selfs sy eie Seun gegee in ruil vir ons.  Dis hoeveel ons vir God werd is.

Geloofsbelydenis (Bly staan)

Kom ons bely ons geloof in die God wat so oor ons voel.

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Sang (Bly staan)

Kom ons bevestig weer ʼn keer dat ons in God glo en dat ons nie meer oor ons sonde geoordeel sal word nie.  Kom ons sing saam

Gesang 585 strofe 2  

Aanbidding en lof

Predikant

Sang (Sit)

Ons begin bid met ʼn lied.  Kom ons sing almal sittend saam

Gesang 179 strofes 1,2 en 3.  Dis ʼn kanon.  Die van julle wat kans sien kan probeer in kanon sing.

Gebed (Mans staan)

Sang (Staan)

Ons sluit ons gebed af met nog ʼn lied.  Kom ons sing

Gesang 278

Verkondiging

Predikant

Skriflesing (Sit)

Projekteer op die skerm net die gedeeltes wat kursief gedruk is.

Jona werk soos ʼn toneelstuk in twee helftes, en elke helfte het verskillende tonele. Dis skade om nie die hele Jona op een slag deur te lees nie, want jy mis die skreeusnaaksigheid daarvan.  Dis regtig snaaks.  In al die tonele is die mense doodernstig, maar hulle is uitgelewer aan geanimeerde goeters wat hulle pootjie en hulle red, byna soos in ʼn Disneyfliek:  daar’s ʼn denkende skip wat sommer besluit hy wil moed opgee en sink, hy’s nou moeg gesukkel in die storm; daar’s ʼn reuse vis met ʼn meneer van ʼn aptyt wat vir Jona met een hap heel insluk, en dan vir ʼn volle drie dae en drie nagte so sooibrand het oor hy Jona nie verteer kry nie dat hy vir Jona – eufemisties gestel – op ʼn strand gaan “uitspoeg”; daar’s hierdie enorme stad vol nie-Jode wat in drie dae beter luister na wat God deur ʼn fanatiese straatpredikant in ʼn 10-woord preek sê as wat Jode hulle oor eeue heen aan die hele Wet en die profete steur; dan kom daar ʼn Jan-en-die-boontjierank-styl komkommerplant op oor Jona se kop en maak lekker koelte; en dan weer ʼn bielie van ʼn wurm wat die hele boom oornag opvreet; en dan kom die son vir Jona so braai dat hy liewers wil dood.    En teen die agtergrond kruis ʼn man met God swaarde oor die lewe-en-dood-saak dat God oor die verkeerde mense besorg is.

Deel een

  1. Die Here kom roep en stuur vir Jona Nineve toe
  2. Jona vererg hom, en vat die pad Tarsus toe, op ʼn skip. Hy vertel die bemanning hy vlug van God af weg.
  3. ʼn Woeste storm kom op en die skip wil moed opgee (letterlik, so asof die skip kan dink en besluit!), maar Jona lê sonder kommer en slaap.
  4. Die bemanning kry snuf in die neus dis alles Jona se skuld en gooi hom later teësinnig oorboord. Dadelik is die storm stil.
  5. ʼn Groot vis kom sluk vir Jona in. Daar, in die vis se maag, leer Jona bid en besef hulp kom net van die Here af.
  6. Die vis spoeg hom op die strand uit.

Deel twee

  1. Hier kom God weer by Jona aan. Hy moet (nog steeds) Nineve toe.  Die keer doen Jona dit.
  2. Daar aangekom, besef hy Nineve is ʼn reuse plek: dit vat jou drie dae om daardeur te loop.
  3. Daar preek Jona die kortste preek in die geskiedenis: “Julle het net veertig dae oor!”
  4. Eers begin die mense glo. Dan begin die koning glo en verootmoediging reël, en Nineve bekeer hulle.
  5. Met die besluit God hy gaan nie meer die ramp stuur nie.
  6. Nou begin Jona met God redekawel, want Jona is woedend. Ek het dit geweet voor ek gekom het, sê hy.  Van die begin af al.  Hoekom anders sou ek Tarsus toe gevlug het?
  7. Dan gaan Jona oos van die stad uit, bou vir hom ʼn skerm en gaan sit om te kyk wat met die stad gaan gebeur. Terwyl hy daar sit, laat God ʼn reuse komkommerplant oor Jona se kop rank vir koelte.
  8. Maar die volgende dag vreet ʼn wurm die plant op, en die son kom vir Jona by. Jona is so ontstig hy wil liewer dood as lewe.  Dan kom God daar aan en vertel vir Jona kaalkop die waarheid.

Op die ou end red God die hele ou spul heidene van Nineve.  Kom ons val in by Jona wat nou net besef het die Here gaan die ramp stop.

Jona 4 verse 1 tot 11.

1        

Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword.

2        

Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsus toe gevlug. Ek het geweet U is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.

3        

“Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.”

4        

Toe vra die Here vir hom: “Het jy rede om kwaad te word?”

Na die wurm die komkommerplant beetgekry het, vra God hom weer:

9        

. . . “Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant [Jona]?” en Jona antwoord: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!” [hy het duidelik vergeet hy het netnou nog gesê wat hy nou graag wil doen is doodgaan.]

10      

Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood.

11      

Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ‘n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”

Hier eindig die Skriflesing. Dis goed om, na mens Jona gelees het, net weer te hoor wat 2 Timoteus 3 vers 16 sê, voor jy begin dink dis sommer ʼn wolhaarstorie hierdie, want wat daar staan geld vir Jona ook:

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek

Sang (Staan)

Die Woord van God is iets wat mens bly maak as jy dit hoor.  En soms kan dit jou laat lag ook.  Maar dis nooit ligsinnig of oppervlakkig nie.  Dis woorde van sy openbaring. Kom ons sing so uit

Gesang 258 vers 1

Preek (Sit)

Onthou julle dat ons eenmaal tevore gesê het genade is onaangenaam?  Dis eintlik iets wat jy nie wil hê nie?  Want die oomblik as jy dit nodigkry, is dit omdat jy geen ander raad meer het nie, jy’s platgeslaan, sonder raad of hoop, en jy glad nie meer daarsonder kan regkom nie, al jou eie middele is uitgeput, al jou probeerslae het misluk. . .?

Wel, genade is nie net onaangenaam nie, dis aanstootlik.  Nie net omdat ons teen die vloer moet wees om te besef ons moet dit ten alle koste kry nie, maar ook oor God daarop aandring om dit op al die verkeerde mense te mors.

As Jona eers besef hy kan van God nie meer wegkom nie, gaan saai hy sy verdoemenisaankondiging (want ʼn preek met die aanbod van genade is dit beslis nie) in Nineve uit.  Dan maak hy hom uit die voete. Hy kies koers die stad uit en gaan bou vir hom ʼn skerm, in die vae hoop dat hy die skouspel van Nineve se verwoesting daar uit sy skuiling net oos van die stad sal kan aanskou.   Hy hoop op ʼn spektakel wat die Sodom-en-Gomorra-verwoesting gaan laat lyk soos ʼn trilling in ʼn teekoppie.  Hy hoop op iets soos Hirosjima en Nagasaki.  Hy wil dit in sy geheue bewaar soos ʼn Youtube-video van die tsunami in Maleisië wat jy met sieklike beheptheid weer en weer kan oorkyk. Hy wil Nineve met sy eie oë sien brand.

En dan gebeur niks.  Wel, buiten dat die spul goddelose heidene man en muis oornag meer gelowig raak as ʼn Christelike gemeente en daar niks van God se dreigement kom nie, gebeur daar net mooi niks.

Daar kom wel oornag ʼn baie handige komkommerplant oor Jona op, so groot dat dit koelte maak.  Vir die eerste keer in die boek is Jona oor iets bly: oor die koelte.  Oor sy roeping deur God, oor hy van die moedelose skip ontsnap het, en hy die diep blou see kon deurvaar in ʼn mensvreter vis se derms, voel hy vere. Oor hy die kans kry om derduisende mense te red van ondergang, hou vir hom geen plesier in nie.  Dat hy in koelte soos op ʼn pawiljoen kan sit en homself verlekker in die val van ʼn goddelose stad, en kan kyk hoe sy waarskuwings uitkom in die gruwel van volksmoord, laat hom vir die eerste keer lekker goed voel.  Heel menslik, sou ek sê.  Doodnormaal.  Soos mense skiet op Playstation.

Maar dan kom daar niks van nie. En Jona is woedend.

Ek het dit geweet, sê hy vir God.  Van die begin af het ek dit al geweet.  Ek het geweet God sal van my ʼn gek maak met sy genade en barmhartigheid, met sy geduld en sy liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.  Gans te maklik na my sin.  Dis wat Jona sê.  As hy dan nie van God kan weghardloop nie, gaan hy dit vir God in sy gesig sê: ek is nie ʼn bietjie ontevrede met jou nie, Here! Hierdie genade, hierdie liefde van U, regtig, dit gaan te ver.

So kwaad is die sogenaamde “profeet”, hy wil liewers doodgaan.  As Nineve dan nie doodgaan nie, wil hy, want in so ʼn wêreld waarin God al die verkeerde mense liefhet, kan hy nie bly leef nie.

Toe die Here vir hom vra: Jona, het jy enige rede om kwaad te word?, ruk hy hom op, en loop weg sonder ʼn woord.  Slegte maniere, dis die beste wat mens daarvan kan sê, maar ai, so menslik darem.

Hier sit hy nou onder sy karige skerm en wag.  Want dalk het hy God tog laat skuldig voel en laat besluit om by sy oordeelsplan te hou.  Ek meen, wie kan nou met Jona stry oor wat ooglopend reg is, nè? Hy wag. Dis warm soos Hoedspruit in die somer. Dan groei daar hier neffens hom ʼn komkommerplant soos jy nog nooit ʼn komkommerplant gesien groei het nie.  Die ding word so groot soos ʼn kremetart in Pafoeri. Nou is Jona gemaklik.

God het Hom duidelik aan sy profeet gesteur, erken sy behoeftes en stuur vir hom lugversorging. Dis koel! God het tot bekering gekom!  God gee toe: sy profeet is reg!

Maar met Nineve gebeur daar net mooi niks.  Benewens nou die Jan-se- boontjierank-komkommerplant, is die 40ste dag dodelik vervelig, doodnormaal:  niemand gaan dood nie.  Die lewe in Nineve gaan doodluiters aan en die 40-dae-sperdatum kom en gaan.

Dis toe dat Jona die wurm agterkom:  die ding vreet verwoed aan sy koel komkommerboom, sodat die hele ding byna oombliklik verwelk en verdroog.

En toe kom die wind, ʼn sterk, skroeiende wind uit die ooste uit. En die son, ʼn witwarm son, ʼn versengende hitte.  En pleks dat Jona sit en kyk hoe Nineve en haar Assiriërs brand, is dit hy wat sit en braai.

Nou is Jona skaamkwaad.  Toe God hom vra: “Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?” sê hy parmantig: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!”  En dis tog so verkeerd, mos:  dat die profeet wat die goddeloses kon red, vir hulle wat die dood dubbel en dwars verdien het, nou self aan’t sterwe is.  En hulle kom skotvry daarvan af!

Die lewe saam met God maak nie meer sin nie.  Daarom skeel dit hom nou nie meer nie, sê Jona.  Maak my dood, beveel hy vir God.  Want ek gaan liewer dood as om hier te sit en kyk hoe van hoe God sy genade uitdeel aan elke Jan rap en sy maat.  As daar nou mense was wat die dood verdien het, was dit hierdie klomp van Nineve. En kyk, hulle kuier en koop en vier fees. Ek sterf liewer, besluit Jona.  Dit is vir my beter om te sterf as om te bly lewe waar God sy genade kwistig vermors en net mooi geen sin meer maak nie.

God se genade laat die verkeerde mense oorleef. Hoe kan Hy so ʼn oordeelsfout maak? God se genade strook net nie met die harde werklikheid nie. Wat, na alles, is hierdie spul goddeloses vir God werd in vergelyking met sy eie profeet uit sy eie uitverkore volk?  Toegegee, nou nie juis die gehoorsaamste van profete nie, maar, so glo Jona, met baie goeie rede darem: iemand moet tog vir God daarop wys as sy genade die verkeerde teikens tref en sulke wanorde in die logiese verloop van lewe veroorsaak! Hulle oorleef en hy wat Jona is kry pak slae.

Hier’s ʼn profeet wat om al die verkeerde redes sy eie boek in die Bybel kry.  Van Jona leer ons hoe om nie te wees nie: nie uit wat hy preek nie, maar uit wat hy doen en hoe hy is.  Ons moet ons bekeer, nie om te word soos Jona sê ons moet nie, maar bekeer van soos Jona te wees. Van Jona leer ons hoe dikbek ons raak as God doodluiters en sonder om ons eers te ken of te vra, ons wêreld omkeer deur aan mense genade te gee wat dit glad nie werd is nie.

Daar sit Jona nou broeiend en sweet.  Sy koeltekol kwyt, is Nineve vergete.  Dis toe nie in vuur en swael warmplek toe nie. Dit staan daar nog net soos toe hy hier aangekom het.  Maar vergeet nou maar van hulle.  Hoe durf God my so behandel?  Die man is kwaad oor daai komkommerplant, jong. Kyk hoe swaar kry ek, kla hy vir God aan.

Jona, sê God, Ek het deernis vir die mense in hierdie stad. Ek is oor hulle besorg.  Jy is besorg oor ʼn komkommerplant wat oornag gekom en gegaan het.  Jy het aan daai koel komkommertjie geen aandeel gehad nie. Jy het nie vir daai lafenissie gewerk of dit versorg nie.   Ek het.  Maar Ek mag nie ook besorg wees oor die groot stad  Nineve nie, ʼn stad waarin daar meer as 120 duisend mense is wat nie weet wat reg en verkeerd is nie, en ook nog baie diere?

Vir die mense en diere van Nineve, het God ʼn deernis, ʼn teerderheid van hart. Daar hoef geen goeie rede voor te wees nie.  Ek bedoel, dis nie asof hulle waffers goed was nie. Hulle ken nie die verskil nie. God besluit, en dit is so.  Ook oor wie Hy liefhet.

Liefde is God se soewereine besluit. Hy het nie goeie redes nodig nie.  Hy is aan ons geen verduidelikings verskuldig nie.

Ons vergeet te maklik, nee, ons ignoreer die feit dat ons self net danksy God se liefde oorleef. Ons doen dit maklik wanneer ons ons vergelyk met die ander ouens wat laer as jy op jou ranglys staan van wie nou regtig waardevol is en wie nie.  Jesus se eie dissipels is so gesteld op hulle eie posisie op daai ranglys dat hulle die kinders keer om te kom. Jesus laat daai kinders in die middel kom staan. En mense met gebreke en afstootlike siektes soos melaatsheid, wat oor hulle toestand onrein was en nie naby aan ʼn ontmoeting met God in erediens mog kom nie, vir sulke mense maak Jesus gesond.  Miskien is die eintlike boodskap agter die genesingswonders nie dat God alle siekte gesondmaak nie, maar dat God alles wat maak dat mense jou van Hom af wil weghou, wegvat.  Die goed wat keer dat jy tot by God kan kom, jou siekte, jou sonde, jou gebrek en jou gestremdheid, alles wat mense laat dink jy is God nie werd nie, en wat maak dat hulle jou behandel soos die waardelose ding wat hulle glo jy is, dis dit wat Jesus kom wegvat.  Dis dit wat God uit Jona probeer wegvat het, en vermoed ek, mee misluk het.

God wat deernis het met Nineve se baie diere, is vir mense net nog liewer.   God het vir jou baie liewer as vir baie diere, al is jou wêreld ʼn eie private Nineve.  Jy is veel meer werd as die twee mossies wat vir ʼn stuiwer verkoop.  Hy reken jou waarde hier in die omgewing van sy eie Seun se lewe rond.  Want God het ʼn heeltemal ander manier van mense na waarde te skat.  Hy dink anders as ons oor die mense vir wie ons al te maklik geringskat, al is dit om die beste van redes, vir ons gevoel.

walvisstertOns besluit iemand is genade nie werd nie.  Nie net dring ons daarop aan dat God hulle moet straf en vervloek nie, ons doen alles in ons vermoë dat hulle net nie van genade te hore moet kom nie.  Selfs ons gepreek aan hulle, as dit dan nou moet dat ons preek, is nie boodskappe van genade nie; dis ʼn gedreig met oordeel en dood. Ons gaan beslis nie vir hulle genade op ʼn skinkbord gee nie.  Daarvoor het hulle ons gans te seer gemaak, is die skade wat hulle aangerig het gans te groot. Ons loop draaie om hulle.  Ons hou nie saam met hulle kerk nie.  Ons troef en trotseer storms en see en mensvreter visse en ons stuit nie eers om met God te redekawel om te keer hulle raak vergewe en oorleef dalk die gevolge van hulle sonde nie.  Ons sal ewe rammetjie uitnek met God oorlog maak as Hy genade vir hulle aanbied.  Ons vat Hom vreesloos aan.

Dog, God laat Hom nie keer nie.  Genade is gruwelik, afstootlik: dit red mense wat dit nie werd is nie. Hulle skuld ons dan nog.  Hulle is nog net nie waar ons is op die ranglys van belangrikheid nie.  Ons neem aanstoot aan genade want ons kan daarvan gee eienaarskap vat nie.  Ons kan nie ons greep daarop kry nie.  Ons kan dit nie beheer nie.  Ons kan nie beheer wat God in ons wêreld daarmee kom aanvang nie.  Ons kan nie ʼn eis teen God instel en die genade wat ons s’n en net ons s’n moes gewees het, van God afdwing nie, en ook nie keer dit kom by ons vyande uit nie. Ons verafsku genade.  Genade laat ʼn bitter smaak in die mond as al wat leef so maklik loskom. Genade is gans te kosbaar om dit te mors op iemand wat genade nie werd is nie.

Genade, ten spyte van al die mooi vroom goed wat ons daaroor te sê het en die dankbaarheid wat ons ewe plegtig daaroor verklaar, is die oorsaak van ons grimmigheid jeens God.  En die oorsaak van ons weerwil en afsku aan mense wat genade gee en genade vra.

Ons sit in die koelte van ʼn reuse komkommer en wag om te sien hoe sondaars braai, en kom soos paddas in n pot nog nie agter hoe ons al begin bak nie.

Wees genadig.  Gun mekaar genade.  Gee dit net so vryelik weg as wat julle dit gekry het.  En hou op met skepe klim Spanje toe; ʼn vis sal jou vang. En die Here se genade sal aanhou mense red.

Dankgebed, Voorbedes (Mans staan)

Wegsending:

Slotsang (Staan)

Gesang 332 verse 1,2,3 en 4

Seën (Staan)

2        

Mag God ons genadig wees en ons seën, mag Hy tot ons redding verskyn,

3        

sodat sy dade oor die wêreld heen bekend mag word, sy reddende krag onder alle nasies.

4        

Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof!

5        

Mag die nasies bly wees en jubel omdat U hulle regverdig regeer en hulle op die aarde lei.

6        

Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof!

(Psalm 67)

Respons (Staan)

Gesang 526

Afkondigings

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s