Mag ons (weer) bid vir reën?

Ons vra God vir reën. Ons beleef die ergste droogte in meer as 100 jaar. Ons het al drie biddae vir reën uitgeroep.  Die keer is dit op versoek van die boere by die Suid-Afrikaanse Landbou Unie.  Hoewel ons gereeld hier vir reën vra, wys ons ons eenheid met alle boere in Suid-Afrika as ons God vir uitkoms kom vra. Maar ons vra eers: mag ons weer vir reën vra? Wat verwag ons moet God doen?  En is daar dalk iets wat ons moet doen?

Jesaja 58 verse 1 tot 14

2 Oktober 2016, NHKA Kampersrus

Biddag vir reën

TOETREDE

Predikant

Daar is twee goed waaroor ons vandag in ons erediens met God praat.

  • Dit het gereën! Dankie Here!
    Dit het gereën! Dankie Here!

    Ons vra God vir reën. Ons beleef die ergste droogte in meer as 100 jaar. Ons het al drie biddae vir reën uitgeroep.  Die keer is dit op versoek van die boere by die Suid-Afrikaanse Landbou Unie.  Hoewel ons gereeld hier vir reën vra, wys ons ons eenheid met alle boere in Suid-Afrika as ons God vir uitkoms kom vra. Maar ons vra eers: mag ons weer vir reën vra? Wat verwag ons moet God doen?  En is daar dalk iets wat ons moet doen?

  • Vanaand in Pretoria begin die Hervormde Kerk se 71ste Algemene Kerkvergadering. Vir die volgende week is afgevaardigdes uit die hele Hervormde Kerk byeen om te besin oor hoe God se wil in ons Kerk moet grondvat.  Ons bid vir die Hervormde Kerk.

Liedere (Sit)

Ons eerste lied is ʼn gebed vir die Kerk. Ek ken hom nie.  Ons luister dus saam en val in sodra ons die melodie kan volg.  Die lied help ons bid vir eenheid in ons Kerk.  En ons bid dat die Kerk ʼn ruimte sal wees waar God sy werk aan ons kan doen en ons ware mense kan word.

Gesang 154 strofes 1,2 en 3

Gesang 165 sê dis ʼn vreugde om in die Here se Kerk in die erediens te kan kom.  Ons staan hier in God se teenwoordigheid. Hier, en in Pretoria, sal God ons deur sy Woord en Gees die regte pad wys.

Gesang 165 strofes 1 en 2

TOETREDE

Ouderling

Toetredelied (Staan)

Ons bely in ons toetredelied dat ons weet God is nou hier. Ons nader Hom biddend, en ons buig met ontsag voor sy heiligheid.  Terselfdertyd kom ons met vrymoedigheid na Hom toe, want Hy gee ons vrede al is ons sondig.

Gesang 159 strofes 1,2 en 3

TOETREDE

Predikant

Votum en Seëngroet (Staan)

3

“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”

4        

Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het.

5        

Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.”

6        

Een van die serafs het toe ‘n gloeiende kool met ‘n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg.

7        

Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.”

Jesaja 6 verse 3b tot 7

Aanbidding en lof

Ouderling

Sang (Staan)

Kom ons voeg ons stemme by die lied van die serafs. “Heilig, heilig, heilig. . .!”

Kom ons sing dit uit volle bors, met lof in ons gemoed.

Gesang 169 verse 1,2 en 3

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Sonde is nie net goed wat ons doen nie.  Sonde sit in ons denke, in die manier waarop ons die lewe benader, in ons sienings, ons gesindheid en ons houding.  Jy kan nie sondelysies maak, daai sondes vermy en dan dink jy kry die sonde omseil nie.  Hoor wat sê God deur Jesaja.  Eers sê hy ons ken nog vir God glad nie; ons het vir God geen begrip nie. (Jesaja 1)

2        

Luister, hemele, gee aandag, aarde, want die Here het gesê: Ek het kinders grootgemaak en opgevoed, maar hulle het teen My in opstand gekom.

3        

‘n Bees ken sy eienaar en ‘n donkie die krip van sy baas, maar Israel ken My nie, my volk het geen begrip van wat Ek doen nie.

Jesaja 27 vers 11 sê:

11      

. . . Israel is ‘n volk sonder begrip van wat Ek doen. Daarom sal sy Maker hom nie langer liefhê nie en sal sy Skepper hom nie genadig wees nie.

In Jesaja 5 vers 13 staan daar:

13      

Omdat my volk My nie wil ken nie, sal hulle in ballingskap weggevoer word. Volk en leiers sal saam van honger sterf, omkom van dors.

Jesaja 1 van vers 15 af sê weer:

15      

As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek.

16      

Was julle, reinig julle. Moenie voor My verskyn as julle verkeerd doen nie. Hou op met kwaad doen.

17      

Leer om weer goed te doen, sorg dat daar reg geskied, gaan die verdrukker teë. Laat reg geskied aan die weeskinders, behartig die regsake van die weduwees.

Dit kom daarop neer dat as ons God regtig geken het en begrip gehad het vir wat God doen en gedoen wil hê, ons sou opgehou het met kwaad doen.  En  ons sou geleer goed doen het, soos om reg te laat geskied aan die kwesbares onder ons.  Doen ons dit nie, ken ons vir God nie, en help selfs ons gebede niks.

Sang (Staan)

Ons is skuldig.  Ons is sondig.  Ons ken vir God nie en ons begryp vir God ook nie.   Die reg geskied nog nie onder ons nie en die kwesbares word steeds verontreg.  Kom ons bely dit sonder huiwering.  Kom ons sing

Gesang 231 : strofe 1.

Genadeverkondiging (Bly staan)

Hoor wat sê God aan mense soos ons wat ons sonde erken en wat ernstig van voorneme is om te hervorm.  Luister na Jesaja 1 van vers 18 af:

18      

Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.

19      

As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van die land eet,

20      

maar as julle weier en opstandig bly, sal die swaard júlle eet, want dit is die Here wat dit gesê het.

Geloofsbelydenis (Bly staan)

So het ons God geleer ken: Hy is die God wat vir ons, wat eers skarlakenrooi van sonde was, wit soos wol skoongewas het.  Daar is geen ander God nie. Ons begryp Hom nou nog nie, want sulke liefde sien ons nêrens anders hier by ons nie. Ons glo in die God wat aan onbegryplike liefde uitgeken word.

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;

en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;

God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;

deur wie alle dinge ontstaan het;

wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;

en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;

wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;

wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het; wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;

en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.

Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.

Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;

ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu.

Amen

Sang

Ons sing van God wat ons, skarlakenrooi bevlek met sonde, spierwit was. Nou leef ons dankgebede.  Nou kan ons sing en dien!

Gesang 354 strofe 4.  

Predikant

Gebed (Mans staan)

Verkondiging

Predikant

Sang (Sit)

Kom ons sit net so en berei ons voor om die Here se Woord te hoor deur saam te sing uit

Gesang 254

Ons sing dit twee keer, en die tweede keer vervang ons die woord “dienaar” met “kinders”.

Skriflesing (Sit)

Jesaja 58 verse 1 tot 14

Bladsy 805 van die Ou Testament.

1        

Die Here sê: Roep uit volle bors, moet niks verswyg nie! Laat jou stem hoor, duidelik soos ‘n ramshoring! Wys my volk op hulle oortredinge, die afstammelinge van Jakob op hulle sondes.

2        

Hulle vra wel elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag. Hulle gee voor dat hulle ‘n nasie is wat doen wat reg is en hom aan die bepalings van sy God hou. Hulle vra My wel om regverdige beslissings asof hulle van my teenwoordigheid hou.

3        

Hulle vra: “Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?” Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil en die mense wat vir julle werk, nog harder laat werk.

4        

Julle vasdae loop uit op twis en rusie, julle dam mekaar met die vuis by. Julle kan nie op hierdie manier vas en dan verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie.

5        

Is dit ál wat Ek op ‘n vasdag wil hê: net dat ‘n mens homself verneder, dat hy sy nek buig soos ‘n biesie en in sak en as sit? Noem jy dít ‘n vasdag, ‘n dag waarvan die Here hou?

6        

Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek?

7        

Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ‘n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?

8        

Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom.

9        

Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie, nie meer gedreig en vals beskuldig word nie,

10      

as jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag.

11      

Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie.

12      

Jou mense sal die ou puinhope herbou, die fondamente herstel wat al geslagte lank bestaan. Jy sal bekend staan as ‘n volk wat sy afgebreekte mure herbou, wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon.

13      

As jy nie op die sabbat oortree nie, op my heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die sabbat ‘n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie,

14      

sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob. Ek, die Here, het dit gesê.

Sang (Sit)

Kom ons bly sit net so en vra die Here om nou die Woord wat ons so pas gehoor het, vir ons so uit te lê dat ons God en sy wil kan leer verstaan. Ons doen dit weer met

Gesang 254

Ons sing dit weer twee keer, en die tweede keer vervang ons weer die woord “dienaar” met “kinders”.

Preek (Sit)

 

Suid Afrika bid vandag dat God dit moet laat reën.

Dis droog.  Droër as in die 1930’s.  Die droogste in eenhonderd jaar.  Dit het by ons begin reën, maar elders nie.  Ons voel dit: ons moet wild begin voer. Daar is vrektes onder die wild en vee.  Die damme raak leeg en ons moet veg vir waterregte.  Besproeiing word bedreig, boorgate droog op en ons boor dieper, droër putte.  Ons huise se watertoevoer word nou wisselvallig. Ons praat weer van vars, grys en bruinwater, van besparing, hergebruik, en van vermorsing.

Dis nie dat ons droogtes nie ken nie.  Ons land is droog.  Dis van nature droog. As jy al oorsee was, sal jy besef hoe droog in vergelyking.  En droogtes is algemeen.  Net nou en dan is een erger.

Dit voel die keer anders, al sê die kenners dit nie.  Dis voel warmer, baie warmer.  Dis asof die hogere gegorrel oor klimaatsverandering en aardsverwarming hulle voelbaar maak.  Ons neem kennis van el nino’s en el nina’s, maar ek moet eerlik wees, vir my is dit soos om te spekuleer op die effektebeurs, of my te begewe in kwantumfisika.  Ek verstaan dit nie.

Wetenskaplikheid is ʼn taai toffie.  En nie net oor ek dit nie altyd kan kop nie.  Ons aanvaar geredelik dat God se skepping wetenskaplik reëlmatig werk. Dis baie gerusstellend dat dit so is: ons wil nie dat God ons te veel verras nie.  Dat daar wetenskaplike verklarings is vir vreesaanjaende verskynsels, en dat ons dit versigtig optimisties kan waag met voorspellings, laat ons veiliger voel. Ons voel altyd beter as ons self beheer het (hoekom weet ek nie, met ons geskiedenis. . .).

Maar hier sit ons almal vandag voor ʼn raaisel:  ons smag na verligting.  Nou ja, kan ons, en mag ons, en is dit inderdaad wat ons vandag hier doen, van God verwag om wetenskaplike wetmatigheid op te hef om ons te pas?  Daar sit meer as net ʼn tikkie ironie hierin dat ons wat God met wetenskap wegverklaar het, vandag kom vra God moet tog die wetenskap om ons ontwil ten minste tydelik ter syde stel.  Die tirannie van wetmatigheid maak ons wêreld nog net gedeeltelik (dog al heel gerieflik, hoor) manipuleerbaar.  Maar oor of dit reën kry ons nog nie beheer nie. En ons is meer as net effens verleë. Nou kom vra ons God moet ingryp.

Ons dink: bonatuurlik, buite die wetenskap om, ver bo ons vermoë of vuurmaakplek, bo verwagting van wat moontlik is, van buite die bekende werklikheid uit, moet God iets doen.  God moet die wette waarmee die wêreld en die wetenskap werk, buig, tydelik ophef of gebruik om reën op ons land te laat val.  Reën is immers nog sy terrein. Want ons kan dit nog nie maak reën nie, nie met ʼn getoor, reëndanse of dolosse nie, ook nie met instrumente, gereedskap of tegnologie nie, ook nog nie met willekeurige manipulasie van die weer nie (hoewel ek glo dis hoog op die agenda!).  En ons het dit ook nog nie met vasdae of gebede reggekry nie. Dis vandag al die derde biddag vir reën sedert hierdie droogte begin het. Hier’s iets wat ons nog nie self kan regkry nie.  Daarom is dit God se departement, minstens tot ons dit eendag self kan regkry.

Ons werk dwarsdeur ons verstaan van die Bybel en van God in die Bybel met die idee dat God ons aanstel om sy skepping te bestuur.  Dat God ons opdrag gee, dat ons daarom nie net sy toestemming het nie, maar ook sy gesag, om sy skepping te beheer.  En ons kry dit reg, dink ons deesdae, met verstommende vernuf.  Ons span die wetenskap met al groter behendigheid in.  Hier’s byna nie meer ʼn roos of ʼn mieliestronk, ʼn beesras of ʼn slagskaap wat nog lyk soos toe God hulle geskep het nie.  As ons hulle nie kon teel nie, het ons hulle geneties aangepas. Ons beweer ons glo g’n in ewolusie nie, maar ons stimuleer ewolusie met vernuftige tegnieke wat aanpassing verhaas.  Ons is vaardig hiermee.  Ja, daar is van ons wat onverskillig met die skepping omgaan en ons sien dit in renostergetalle, te veel olifante en kwynende biodiversiteit.  Maar ons is ook goed met bewaring, en ons doen ons bes om ʼn volhoubare balans te vind tussen menslike voortuitgang en instandhouding van die natuur.  Dit voel of ons die stryd verloor, maar ons het hierdie prosesse aan die gang gesit, ons sal dit dus ook kan stop.

Met die lyk dit vir my ons is nie naastenby so hulpeloos as wat ons soms voel of voorgee nie. Ons verander wild en wakker aan die skepping.   Hierin is ons nie uit pas met God nie.  Ons voer sy opdragte uit. Ons het uitgevind wetenskap werk.  Dit werk vir ons. Trouens, dit werk so goed die tyd is naby dat ons glad nie meer vir God sal hoef te vra vir reën nie: ons voer dit nou al te ver met die wetenskap.  Om met gemaak-dinosourushandjies te gaan sit en sê dis buite ons beheer, is ʼn leuen. Nee, ons ruk hand uit.

Ons het soveel mag en oor soveel beheer, dat droogtes en dergelike natuurrampe van die min oorblywende verskynsels is wat ons nog oor magteloosheid verleë het.

Israel, as hulle in die moeilikheid is, soos ons, sê met verwyt:

“Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?”

En God?  Wat sê God? God sê:

Wys my volk op hulle oortredinge, die afstammelinge van Jakob op hulle sondes.

Is daar dan ʼn sonde wat ons moet loop soek?  Sit daar agter hierdie droogte ʼn spesifieke sonde wat vir God gruwel en ons nog nie bely het nie, iets wat ons doen wat ons eers moet ophou doen? Of iets wat ons nalaat wat ons dadelik aan aandag moet gee?  Droogte is stomp straf: hoe kom ons daaruit agter wie en wat bekeerd moet raak?

Nee, hier in Jesaja lyk dit nie so nie.  God vra nie altyd net skuldbelydenis nie.

Is dit ál wat Ek op ‘n vasdag wil hê: net dat ‘n mens homself verneder, dat hy sy nek buig soos ‘n biesie en in sak en as sit? Noem jy dít ‘n vasdag, ‘n dag waarvan die Here hou?

Die Here wil ons nie so in sak en as sien nie. God vra nie dat ons oor sonde in rou bly sit nie. God vra wel verootmoediging, maar wat is verootmoediging nou eintlik?  Verootmoediging is nie skuldbelydenis nie. Dis nie ʼn geween en ʼn gekners van tande, ʼn ewige getreur daaroor dat ons drooggemaak het en God moet die tuin weer kom natlei nie,  God moet maar self kom regmaak wat ons verbrou het, want ons kan nie meer nie, ons weet nie hoe nie.

Glad nie!  Verootmoedig jy jou, onderwerp jy jou aan God.  Jy huil nie soveel oor jou sonde nie as wat jy bely

  • God is groot,
  • Sy wil geskied, moet geskied, en
  • Jy is die een wat dit gaan laat gebeur.

Die eerste twee is nie vir ons ʼn probleem nie.  By implikasie: ja, God kan inmeng in die fisika van sy skepping.  Hy het al eenmaal die son gestop.  Hy wys met wolke die pad Kanaän toe.  Hy word selfs ʼn mens.  Daar is niks wat God nie kan doen nie.  Dog, die gewone manier waarop God werk is deur nie sy skepping te versteur nie.  As Hy die dag self hier aankom is dit met ʼn man se lyf.  Normaalweg hou Hy Hom by wat Hy geskep het.

Om jou te verootmoedig, is om te verklaar God is die Here. Hy is van alles, ook van hierdie droogte, in beheer. Natuurlik mos!

Dis wat in droogtetye met ons gebeur:  ons besef dat met al ons gevorderde vernuf en oënskynlik onbeperkte mag, ons mense nog nie God is nie.  Ons is klein, kleiner as wat ons gehoop het, kwesbaarder as wat ons wil wees, swakker as wat ons sommerso erken.  Ons is afhanklik.  En besef jy dit, word jy nederig.

Bely jy God is groot en het al die mag om te doen wat dit ookal verg om sy wil te laat geskied, moet daarop uitloop dat ons ons aan God onderwerp.  Ons moet op God ingestel wees.  Ons moet God probeer verstaan, uit ons geskiedenis met Hom, en die van Israel.  Ons moet op God leer wag.  Geduldig wag.  Maar nie met handjies gevou nie.  Ons moet aan God gehoorsaam wees.

Dis nie asof ons nie na die Here luister nie.  Om Hom eers te hoor is waar gehoorsaamheid begin.  Dis ook nie asof ons nie bid en vra vir lig en leiding nie. Die Here sê dit ook self:

Hulle vra wel elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag. Hulle gee voor dat hulle ‘n nasie is wat doen wat reg is en hom aan die bepalings van sy God hou. Hulle vra My wel om regverdige beslissings asof hulle van my teenwoordigheid hou.

Maar daai woordjie “asof” maak mens ongemaklik.  Bedoel ons dit dan nie?

Wel, God se teenwoordigheid, God se wil, as jy daarna gevra het en jy weet wat dit is, vra reaksies van ons.  En wat ons nou weet is dat God nie van ons verwag om ons so te verneder dat ons nek buig soos ʼn biesie en in sak en as sit nie.  Dis nie vir Hom lekker nie.

Om jou te verootmoedig, is om te verklaar God is die Here. Hy is jou Here, van jou, nes van alles anders, soos van hierdie droogte, in beheer. Alles hier in die skepping doen sy wil.  Die weer ook.  Net mense skynbaar nie.  God se wil moet geskied en ek is die een wat dit moet doen.  Om jou te verootmoedig, beteken jy gaan God se wil laat geskied, jy gaan dit self doen.

Wil ons dit laat reën, besef ons ons vernuftige tegnologie kom nie by nie.  Maar dis nie asof dit heeltemal buite ons vermoë lê nie.

Dis die verrassing van die gedeelte, die goeie nuus en evangelie: daar is iets wat ons kan doen benewens bid en vra God moet alles vir ons op ʼn skinkbord aandra.  Doen ons dit, voer ons die wil van God uit, kan ons selfs aan die droogte ʼn verskil maak.  Berge versit. Ver, baie ver bo ons menslike mag en vermoë, kan ons dinge laat gebeur waarvan ons nie kon droom nie. Wat moet ons dan doen?

Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek?

Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ‘n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?

Die vas wat God wil hê is dit:  Maak mense vry. Spreek mense vry.  Versoen met hulle.  Gaan maak vrede. Leer saamleef.  Gaan hê hulle lief. Dis die vas en verootmoediging wat God wil sien: dat ons so vas glo Hy is God, dat ons mense onverskrokke gaan liefhê, selfs en veral mense wat in sonde vasgeval het, en van geen liefde meer weet nie.

Maak mense vry. Gee brood aan hongeres, skuiling aan haweloses, klere aan mense wat hulle waardigheid kwyt is.  Moenie jou medemens aan sy lot oorlaat nie.

Moenie iemand aan sy lot oorlaat nie.  Maak mense vry.  Dis die verootmoediging wat God wil hê.

Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom.

Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie, nie meer gedreig en vals beskuldig word nie,

as jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag.

Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie.

Jou mense sal die ou puinhope herbou, die fondamente herstel wat al geslagte lank bestaan. Jy sal bekend staan as ‘n volk wat sy afgebreekte mure herbou, wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon.

As jy nie op die sabbat oortree nie, op my heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die sabbat ‘n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie,

sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob. Ek, die Here, het dit gesê.

Amen.

Dankgebed, Voorbedes (Staan)

Ons gaan nou in stilte bid.  Ons gaan vir 3 minute stil wees.  Kies hoe jy wil bid, sit of staan.

Bid vir reën, en bid dat die Here jou moet help verstaan hoe jy jou in jou lewe moet gaan verootmoedig:

  • Hoe moet jy mense daar by jou gaan vrymaak?
  • Hoe gaan jy sorg dat jy niemand aan sy eie lot oorlaat nie?

Na drie minute sal ek ons in gebed voorgaan.  Dan staan die mans.

Kom ons bid.

Wegsending:

Predikant

Slotsang (Staan)

Die Here weet wat ons deurmaak.  Hy het dit self aan eie lyf gevoel.  Ons kom tot die slotsom ook in droogte:  God is ondeurgrondelik.  Ons gaan Hom nooit heeltemal verstaan nie.  Vandag wys Hy aan ons sy voorsienigheid, en ons staan verslae oor sy ondeurgrondelikheid.

Gesang 572 verse 1, 2 en 3

Seën (Staan)

3

Met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding.

4

Op die dag sal julle uitroep: “Loof die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend en verkondig dat sy Naam groot is.

5

Sing tot die eer van die Here, want Hy het groot dinge gedoen, maak dit aan die hele wêreld bekend.

6

Jubel en juig, inwoners van Sion, want groot is die Heilige van Israel en Hy is by julle!

(Jesaja 12 : 3,4,5 en 6)

Respons (Staan)

Gesang 519 strofes 1,2,3 en 4

Afkondigings

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s