Beste (by)bedoelings

Die moeilikheid met ons goeie bedoelings is dat ons so vas in hulle glo.  Ons glo hulle is goed.   Ons is van niks anders so oortuig nie.  Daarom aanvaar ons nie sommer skuld as ons goeie bedoelings dalk nie presies verloop soos wat ons in gedagte gehad nie, en ander mense dalk seermaak nie.

Jeremia 34 verse 8 tot 22

25 September 2016, NHKA Kampersrus

Koninkrykstyd

TOETREDE EN AANROEPING

PREDIKANT

Liedere (Sit)

Daar’s liedere in die Liedboek wat ek glad nie ken nie en oor ek nie musiek kan lees nie is ek nie seker ek het hulle al ooit gehoor nie.  Ek wonder dus hoe hulle klink.  Kom ons luister vanmore na een van hulle, en kom ons probeer inval  sodra ons die melodie snap.

Gesang 208 strofes 1, 2 en 3 “Ek wil die Here loof en prys”

Daar’s ʼn Engelse spreekwoord wat lui dat die pad hel toe geteer is met goeie bedoelings.  Ons glo so vas in ons eie goeie bedoelings dat ons selde verstaan hoedat hulle iemand kan seermaak.  Vandag se erediens handel oor hoe ons mekaar met oënskynlik die beste bedoelings bystaan, terwyl ons eintlik maar ons eie agenda dien. Met die beste bybedoelings, berokken ons mekaar onmeetbare skade.  Ons praat vandag met God oor wat ons van mense bang maak.

Psalm 56 strofes 1, 2, 3 en 4

Omdat ons nie aanderedienste hou nie, mis ons die geleentheid om van die Liedboek se mooiste liedere te sing.  Kom ons sing vanmore die Magaliesburgse Aandlied.  Ons sing die nuwer weergawe daarvan.  Ons sing dit ook omdat ons daarmee bid dat God ons beskerm en moet help teen die onheil van sonde wat ons snags bang maak.

Gesang 566 strofes 1,2 en 3

TOETREDE EN AANROEPING

OUDERLING

 

Toetredelied (Staan)

Die sonde is die oorsaak van die onheil wat ons daar buite bedreig.  Ons kom erediens toe met ʼn lied wat sê: hier by God sal ons geen onheil vrees nie, want niemand is ʼn redder soos Hy nie.

Gesang 198 strofes 1, 2 en 3

TOETREDE EN AANROEPING

PREDIKANT

Votum (Staan)

Psalm 19 vers 15:

Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.

Seën (Staan)

Handelinge 3 vers 25:

Geliefdes,

Die dinge waarvan die profete gepraat het, is vir julle bedoel, en julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het. Hy het vir Abraham gesê: ‘Jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot ‘n seën wees.’

LOF EN AANBIDDING

OUDERLING

 

Lofsang (Staan)

Kom ons sing tot lof van die Here

Gesang 507 1,2,3 en 4

Die Wet (Sit)

Broers en susters, deur die Woord van die Here leer ʼn mens wat God se wil is.   Kom ons toets ons lewens weer aan die Here se Woord.  Luister vandag na wat God van ons sê in Spreuke 26 van vers 11 tot 28.  Jy sal agterkom ons is dwaas, want ons begaan dieselfde sonde oor en oor.  Ons dink nie.  En as ons dink, dink ons net aan onsself. En dan het ons nog bybedoelings ook.

11      

Soos ‘n hond wat na sy braaksel toe terugkom, so is ‘n dwaas wat dieselfde dwaasheid weer begaan.

12      

Jy sien self: vir iemand wat dink hy het die wysheid in pag, is daar minder hoop as vir ‘n dwaas.

13      

Die luiaard se verskoning is: “Daar is ‘n leeu in die pad! Daar is ‘n leeu in die straat!” . . .

17      

Iemand wat ‘n kwaai hond sommer aan die ore pak, so is iemand wat woedend instorm in ‘n rusie wat hom nie aangaan nie.

18      

Soos ‘n mal mens wat dodelike pyle rondskiet,

19      

so is iemand wat ‘n ander bedrieg en sê: “Ek speel sommer.”

20      

Sonder hout bly ‘n vuur nie brand nie; sonder ‘n kwaadstoker hou ‘n rusie nie aan nie.

21      

Daar is houtskool nodig vir gloeiende kole, hout vir ‘n vuur, en ‘n twissiek mens vir rusie stook.

22      

‘n Geskinder is soos lekker kos, mense sluk dit so maklik.

23      

Soos om ‘n potskerf met silwer oor te trek, so is dit om slegte bedoelings agter mooi woorde weg te steek.

24      

Iemand kan sy haat verbloem met wat hy sê, maar binne hou hy by sy valsheid.

25      

As hy vriendelik praat, moet hom nie glo nie; hy is vol bose bedoelings.

26      

Hy verberg sy haat agter ‘n valse skyn, maar van die onheil wat hy gaan doen, sal almal weet.

27      

Wie ‘n gat vir ‘n ander grawe, val self daarin; die klippe wat hy gooi, sal na hom toe terugkom.

28      

‘n Leuenaar haat dié wat hy seermaak; ‘n vleier bewerk ‘n ander se ondergang.

Skuldbelydenis (Staan)

Dis die sonde waaroor ons voor God skuldig staan.  Dis presies hoe ons met mekaar maak. Kom ons bely dat ons in ons eie sonde vasgevang is, en na God verlang.

Kom ons sing

Gesang 508 strofe 2   

Genadeverkondiging (Staan)

Broers en susters, die Here waarsku dat ons nie sommer oor onsself, of oor ander mense, moet oordeel nie.  Laat die oordeel liefs aan die Here oor.  Ons kan nie soos die Here oordeel nie.  Hy oordeel met genade.  Daarom ontvang ons van God lof, al verdien ons dit nie.

Paulus skryf in 1 Korintiërs 4 vers 5:  

Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, ‘n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.  

Geloofsbelydenis (Staan)

Kom ons bely saam ons geloof in God soos alle gelowiges dit nog altyd doen.

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Sang (Staan)

Noudat ons ons geloof bely het, laat ons ons lewe in die Here se hande oorgee.  Hy is die Regter.  Hy sal afreken met goddeloses wat ons ondergang soek, en ons uit hulle mag red.  Dis vir ons goed om by God te wees.

So lui

Psalm 94 strofes 1, 3, 7 en 9        

VERKONDIGING

PREDIKANT

Skriflesing (Sit)

Jeremia 34 verse 8 tot 22

Bladsy 860 van die Ou Testament

8        

Die woord van die Here het tot Jeremia gekom nadat koning Sedekia ‘n ooreenkoms met die hele volk wat in Jerusalem was, aangegaan het om hulle slawe vry te laat.

9        

Elkeen sou sy slaaf of slavin van Hebreeuse afkoms vrylaat, geen Judeër sou ‘n volksgenoot as slaaf aanhou nie.

10      

Al die amptenare en die hele volk wat die ooreenkoms aangegaan het om hulle slawe en slavinne vry te laat sodat hulle nie meer diens moes lewer nie, het hulle vrygelaat.

11      

Maar die eienaars het agterna van gedagte verander en hulle slawe en slavinne wat vrygelaat was, gedwing om weer slawe en slavinne te wees en hulle mishandel.

12      

Toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom:

13      

So sê die Here die God van Israel: Die dag toe Ek julle voorvaders uit die plek van slawerny, uit Egipte laat wegtrek het, het Ek ‘n verbond met hulle gesluit:

14      

Aan die einde van sewe jaar moet julle elke Hebreeuse volksgenoot wat hom as slaaf aan julle verkoop het, vrylaat. Nadat hy julle ses jaar lank as slaaf gedien het, moet julle hom vrylaat en van julle af wegstuur. Maar julle voorvaders het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie.

15      

Julle het onlangs egter tot bekering gekom en gedoen wat reg is in my oë deur julle volksgenote wat slawe was, vry te laat. Julle het selfs ‘n ooreenkoms voor My aangegaan in die huis waaroor my Naam uitgeroep is.

16      

Maar nou het julle weer van gedagte verander en my Naam onteer toe elkeen sy slaaf en slavin wat hy vrygelaat het om sy eie gang te gaan, gedwing het om weer julle slawe en slavinne te wees. En julle mishandel hulle.

17      

Daarom, so sê die Here: Julle het nie na My geluister nie. Julle het nie julle volksgenote vrygelaat nie. Daarom laat Ek julle nou vry, sê die Here, vry vir oorlog, vir pes en vir hongersnood, en Ek maak julle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik.

18      

Elkeen wat hom nie gesteur het aan die verbond met My en die voorwaardes van die ooreenkoms wat hulle in my teenwoordigheid aangegaan het, nie nagekom het nie, sal Ek maak soos die kalf wat julle met die verbondsluiting in twee stukke gesny en toe daartussendeur geloop het.

19      

Ek sal die leiers van Juda, die leiers van Jerusalem, die paleisamptenare, die priesters en al die landsburgers wat tussen die twee stukke van die kalf deur geloop het,

20      

in die mag van hulle vyande oorgee, in die mag van dié wat hulle lewe soek. Hulle lyke sal gevreet word deur voëls en roofdiere.

21      

Ek sal koning Sedekia van Juda en sy amptenare in die mag van hulle vyande oorgee, in die mag van dié wat hulle lewe soek, in die mag van die leër van die koning van Babel al het dit nou van jou af weggetrek.

22      

Ek sal hom ‘n nuwe opdrag gee, sê die Here, Ek sal hom terugbring na hierdie stad toe. Hy sal teen die stad veg en dit inneem en verbrand. Ek sal al die stede van Juda verlate maak, sonder inwoners.

Hier eindig vandag se Skriflesing.  Hebreërs 4 vers 12 sê oor die Bybel:

Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

Sang as Gebed (Staan)

Ons bid vandag almal saam uit ʼn Psalm.  Ons sing almal staande

Psalm 10 strofes 1 tot 9

Ons gaan saam bid en vra dat God ons uit die mag van goddelose mense moet red.  Hulle is mense wat sluwe planne teen ons maak, bedrog pleeg, en sommer vreesloos onder ons moor, want hulle dink die Here gee nie om nie, hulle sal daarmee wegkom.  Maar ons weet die reg sal eindelik geskied. God is oor ons leed begaan en Hy sal daaraan ʼn einde maak.  

Prediking (Sit)

Die moeilikheid met ons goeie bedoelings is dat ons so vas in hulle glo.  Ons glo hulle is goed.   Ons is van niks anders so oortuig nie.  Daarom aanvaar ons nie sommer skuld as ons goeie bedoelings dalk nie presies verloop soos wat ons in gedagte gehad nie, en ander mense dalk seermaak nie.  Hulle moet maar net aanvaar ons het dit nie so bedoel nie. Ons was edel in ons voornemens. Dat alles nou nie uitgewerk het soos ons beplan het nie, dit kan ons nie verhelp nie.  Met die beste wil in die wêreld kon ons dit nie voorsien het nie.  Dis onbillik om ons daarvoor te wil aanspreeklik hou, asof ons met voorbedagte rade mense skade wou berokken.

Wel, hier’s ʼn bietjie slegte nuus. Die ergste sonde skuil soms in die beste bedoelings. Ons het almal bybedoelings.  Ons het almal ʼn verskuilde agenda. Ons almal dien die belange van die eie ek.

Die basiese beginsels wat ons landbou-ekonomie dryf, dryf Juda s’n ook.  Reën dit op jou grond, oes jy uit jou landerye en het jou diere weiding.  Val die reën jou lappie aarde mis, of eet die peste jou grondjie raak, is jy bankrot.   Raak jy bankrot, is jy jou erfgrond kwyt.

Onthou nou, die Jode bly nie alleen in die land nie.  Hulle is nooit ʼn homogene volk met ʼn eie volkstaat nie.  Israel en Juda deel die land met die Kanaäniete wat na die intog agtergebly het.  Hulle is ʼn geïntegreerde gemeenskap. Israel en Juda lyk soos die tuislande in die Apartheidstyd: laslappies grond sommerso tussen-in die Kanaäniete s’n.  Maar daai laslappies aarde is dié Beloofde Land.  Word ʼn plaas oor bankrotskap onder jou uitverkoop aan ʼn volksvreemde besigheidsman, is jy jou stukkie van die Godsgrond kwyt.  Daarom moet die staat Apartheidsgewys ingryp om te keer dat Jode en Israeliete die land verloor: daar’s ʼn wet wat sê jy mag nie grond aan ʼn vreemdeling verkoop nie.  En sê nou daar is in die hele Juda geen Jood wat die koopprys kan bekostig nie?  Dan laat jy die grond kosteloos gebruik deur ʼn volksgenoot.  Jy, die grond se eintlike eienaar, en jou gesin, word dan bywoners op julle familiegrond, en julle word almal die baas se slawe.

Slawerny is ʼn onding. Dat Jode van hulle volksgenote slawe maak, is ʼn grillerige idee. Maar die bedoeling is goed, nè?  Die Kaap bly as’t ware Hollands, en Juda Joods. Hier is nou een geval waar die doel die middel heilig.  Soort van. . .  En daar’s nóg ʼn mooi voordeel in, benewens nou dat die grond in stambesit bly: Ons sorg vir die gesin wat in nood is.  Hulle het werk, skuiling en daar’s kos op die tafel.  Uit die hoek van die gesin wat swaarkry: werkloosheidsversekering.  Soos die rykes dit sien: barmhartigheid.

Maar slawerny bly sleg.  Daarom het die Jode ʼn sperdatum daarvoor.  Die Joodse familie wat in die moeilikheid was en nou jou slawe is, mag dit vir net ses jaar wees. Die grond waarvan jy vruggebruik het, kan jy net vir ses jaar soos jou eie bewerk. Die sewende jaar is die sabbatsjaar van die Here jou God.  Dan moet jy alle Joodse slawe vrymaak. Jy moet vir hulle ʼn bonus betaal – dis ʼn soort aanvangskapitaal wat hulle sal help om weer op die voete te kom – en jy moet die grond teruggee. Die skuld moet jy nou as afgewerk beskou. Hier eindig dan die goed bedoelde slawerny van Israel aan die hand van hulle eie volk.

Klink goed nè?  Ja! Daar was ʼn tyd dat ons almal hier roerend sou saamstem.  Die grond bly behoue, en ons sorg vir mekaar.  Sê nou dit gaan die dag met ons sleg.  Wie gaan vir ons sorg?  Gaan die bank jou huis vir jou hou en dit oor ses jaar vir jou verniet gee?  Gaan iemand jou en jou gesin onderdak gee?  Jou bloedfamilie miskien, maar ʼn vreemdeling? Kan jy daarop reken dat iemand vir jou werk gaan gee net oor jy Wit, Afrikaans of Hervormd is?

Op die oog af, is die Joodse reëling regtig ʼn goeie een. Dalk kan ons ook doen met ʼn sorgsame ekonomie?

Dog, selfs so ʼn stelsel, met die beste bedoelings bedink, kan ook misbruik word en mense uitbuit. Dis die probleem met sonde: dit maak van iets goeds iets boos.

As jy eers die voorspoed van rykdom geproe het, en gevoel het hoe onaantasbaar die mag wat daarmee saamkom jou maak, sien jy nie graag daarvan af nie.   En daar’s baie skuiwergate in dié wetgewing.  Jy leer byvoorbeeld jy kan mense willens en wetens uitroei en nes hulle op hulle knieë is, hulle grond afvat en nóg soos hulle weldoener lyk.  Jy leer jy kan die owerheid help om van die jubeljaar te vergeet. Die grondonteiening word permanent, die verslawing blywend, goedgepraat met barmhartigheid.  Dat óns ryk bly, is in beláng van hierdie arm familie – ons sorg mos vir hulle, oor hulle nie self hulle eie huishoudings winsgewend kan bestuur nie.  Dit maak net sosio-ekonomies soveel meer sin, en dis goeie landspolitiek.

Dan kom kamp die Assiriërs rondom Jerusalem uit en ryk en arm Jode gaan soek skuiling agter die stad se mure. Nou is die hele lot van hulle hulle grond kwyt, slawe en grondbaronne.  Die Assiriërs hou daar piekniek.

slaveryJeremia lewer ʼn lys van God se besware by Juda se koning Sedekia af.  Onder andere die kwessie van Joodse slawedrywery.  Onder dreigement van ʼn vreeslik ontydige dood, knoop Sedekia onderhandelinge met die grondbaronne aan:  weet julle, ek dink nou daaraan, ons het darem lank laas ʼn jubeljaar gehad?  Nie dat ons tans juis iets het om oor te jubel nie, maar . . .  Maar dalk kan ons die Joodse slawe ontset?  Ons sit nou almal hier in Jerusalem gevange, nie ons of ons slawe het toegang tot ons grond nie, maar ons bly aanspreeklik om vir ons slawe te sorg.  Dis duur.  En die kos in die dorp raak op.  Maak die slawe vry, en dan kom ons vry van die plig om vir hulle ook te moet sorg.  Vrygemaak, moet hulle self sien kom klaar.  Buitendien, die Assiriërs sit op hulle grond.  Dis nie asof die vrygemaakte slawe nou hulle grond kan gaan terugvat nie.  Maar dit gee hulle dalk iets om voor te veg, gemotiveerde kanonvoer, jy weet?

Die koning en die grondbaronne gaan kerk toe en verklaar voor God die slawe is vry en hulle kan dadelik hulle grond terugkry, afgesien nou van die ou klein komplikasietjie dat die hele Babelse weermag daar tent opgeslaan het.  Maar daarvoor kan ons nou nie help nie.

Toe gebeur ʼn onverwagse ding: die Assiriese leër pak hulle ketties op en loop stel hulle visiere op Egipte in.  Juda is skielik vry!

Lekker! Daar’s net die een ou probleempie vir Jerusalem se rykes: hulle is hulle slawe en dié se grond kwyt.  Maar ag, besluit hulle, ons vat doodluiters die slawe en hulle grond terug.  Dit maak polities en ekonomies net baie meer sin. Gee die grond vir mense wat weet hoe om produksie op te stoot en dit winsgewend en volhoubaar kan bewerk.   En wat van hulle goeie bedoelings dan?  Al daai barmhartigheid jeens die eintlike grondeienaars wat vasgebrand het?  Wel, ʼn mens bedryf mos nie ʼn ekonomie met goeie bedoelings nie.  Buitendien, omstandighede het verander en dit verg nou ander maatreëls.  Vat terug, met geweld as dit moet. En dit moes: daar vloei bloed in die oorloggie van Jood teen Jood. Maar die rykes het die mag en die hef in die hand, en hulle kry die opstande gou-gou onder beheer.

Niemand het hulle tyd gemors om gedagte te gee aan waar God in die ding staan nie.  Aan wat God se bedoeling was nie. Nou die dag se plegtige ooreenkoms voor God in ʼn erediens is vergete.

Dan doen God die ondenkbare.  Hy volg vir eens mense se voorbeeld.  Hy doen wat die rykes ook gedoen het, maar toe nie by gebly het nie:  God verklaar die hele Juda, armes en rykes, vry.  Skotvry.  Voëlvry.

God hef die verbond op: Juda het nou geen verdere godsdienstige verpligting meer jeens God of die verbond nie.  Die bietjie godsdiens wat hulle onder dreigement van dood ʼn haastige onsinnige besluit laat neem het, is nie die asem waarmee die voornemens geuit is, werd nie.  Dit maak vir God ook nou nie meer saak nie, nes vir die rykes.  Jerusalem maak nie meer vir God saak nie.  Juda ook nie.  Juda is van God verlos! Hier eindig Juda se pad met God.  Hier eindig Juda se pad.  Hier eindig Juda.

Wat ʼn jubeljaar moes wees, word ʼn nagmerrie.  Daai Assiriërs draai toe mos om en kom terug.  Al wat leef in Juda verander van plan, waarom nie hulle ook nie?  Van Jerusalem bly nie twee klippe opmekaar oor nie.  Van die Jode bly daar nie een agter nie.  Op die grond, is daar nie eers een wettige Joodse grondeis nie. Die Beloofde Land is ʼn verlore land.

Bedoelings, goeie bedoelings, bybedoelings, blywende bedoelings, verskuilde agendas, botsende belange, onreg en uitbuiting, verslawing en verwoesting, alles getuig van sonde.  Van sonde weet God al’s, selfs van die sonde wat ons nog graag goedpraat.  Wat jy glo goed is, is nie vir God goed nie.   Jou beste voornemens is van sonde besaai.  Dis met jou beste bedoelings dat jy die meeste skade aanrig, want oor jy glo dis goed, gee jy daaraan vrye teuels.  Die uitwerking wat jou beste bedoelings op ander het, is dalk ʼn goeie rigtingwyser na waar jou sonde sit.

Net nog een keer in ons hele heilsgeskiedenis verklaar God iemand voëlvry – God los ons nooit meer nie: net vir Jesus Christus.  Van niemand anders ooit onttrek God Hom soos van Jesus nie.  Jesus word uitgelewer aan die mag van mense, en Hy ly en sterf verskriklik. Goedbedoelde sonde, nie syne nie, maar Juda s’n, steek Hom in die rug.  Hulle wil net hulle godsdiens mooi suiwer, daarom maak hulle die een wat beweer hy’s ʼn nuwe openbaring van God, selfs ʼn verskyning van God!, dood.

Dog, daar begin ons jubeljaar.  Ons sien nou sonde raak.  Ons herken dit aan onsself, in ons eie gewaande goedheid.  Ons besef goeie bedoelings is ʼn versinsel.  As jy van jou sonde weet, kan jy teen hulle stry.  Ons kom van ons verslawing aan sonde vry. Ons kan weer die wêreld, God se grond, in besit gaan neem. Ons kan weer gaan boer, gaan dien, gaan sorg, gaan leef.

Maar pasop: ons is nie almal armes nie.  Nog nie. Mag die Here gee dat dit ook nie nodig word nie.

Amen

GEBEDE

Dankgebed (Mans staan)

Slotsang (Staan)

Wie arm is oor hulle uitgebuit word, wie treur oor hulle onderdruk word, wie lyding geduldig verdra, is vreemd genoeg gelukkig.  Ons is honger na wat reg is, maar ons sal vol word.  Ons ly vir reg en waarheid, en ons bly rein van hart. So sluit ons vandag se erediens af met

Gesang 251 strofes 1, 2 en 3  

WEGSENDING

Seëngroet (Staan)

Ontvang die Here se seën:

Jakobus 3 : 17 en 18

. . . Die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.

Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.

Hebreërs 13:21

Mag God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen.

Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is.

Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

Respons (Staan)

Gesang 313

PREDIKANT

 

Afkondigings

DIAKENS

 

Dankoffers

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s