GESOEK: die siel.

Ek en my lyf is een en dieselfde ding.  Ek is nie net ʼn stinkende, sieklike, grillerige lyf nie, en ook nie net ʼn halfgebakte stukkie sonskyn soos n Griekse siel nie. Ek is soos ek hier staan een skepsel van God.  Aikona! Hiervoor gril elke goeie Griek.  Dis ʼn zombie-fliek! Nee wat, Paulus, kom liewer na ons toe met ʼn ewiglewende siel wat van sy liggaam ontslae kan raak soos ʼn akkedis van sy stert, en kan aangaan om hoër hoogtes te bereik, dan praat ons weer.

1 Korintiërs 15 vers 35 tot 44

18 September 2016, NHKA Kampersrus

Koninkrykstyd

Heidelbergse Kategismus

SONDAG 22

Vraag 57:  Watter troos gee die “opstanding van die vlees” aan jou?

Antwoord:  Dat nie alleen my siel hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).

(a) Luk 16:22; 23:43; Fil 1:21, 23. (b) Job 19:25, 26; 1 Joh 3:2; Fil 3:21.

TOETREDE

Predikant

Vandag se erediens kom na ʼn vraag van die Bybelleesgroep van Woensdagoggende.  Hulle het geluister na ʼn TV-erediens oor die mens se siel, en dit het hulle verwar.  Vandag soek ons die siel: in die Bybel, en hier iewers binne-in ons eie lywe.  Ons vra die vraag: hoe oorleef ons die dood?

Liedere (Sit)

Gesang 580 vertel van ʼn siel wat moet rustig word want God is ons koning en Hy regeer orals, al voel dit vir ons alles verander en ons kry net nie vervulling nie.

Gesang 580 strofes 1,2,3 en 4

Gaan mens in die Liedboek na “die siel” op soek, is dit nogal verrassend dat so min liedere die woord gebruik.  Daar is nie eers genoeg om ʼn erediens mee vol te maak nie!  Maar dis omdat die Bybel ook maar bitter min van ʼn siel praat. “Hart en siel” kom wel baie in die Afrikaanse vertaling voor, maar dis idiomatiese taal vir “jou hele wese, met alles in jou”, en sê niks van ʼn aparte ding wat in jou lyf leef nie.  Dus gaan ons die woord “hart” in die Liedboek soek en sing as ʼn naaste alternatief vir “siel”.

Psalm 138  strofe 1

“U loof ek met my hart wat sing”

TOETREDE

Ouderling

Toetredelied (Staan)

Kom ons tree tot die erediens toe met

Gesang 163

Ons sing daarvan dat ons siele smag na die Here soos wildsbokke in die droogte na water smag.

TOETREDE

Predikant

Votum en Seëngroet (Staan)

Die Here jou God sal jou lewe en die lewe van jou nageslag aan Hom wy, sodat jy Hom sal liefhê met hart en siel.

Dan sal jy lewe. 

(Deuteronomium 30:6)

AANBIDDING EN LOF

Ouderling

Sang (Staan)

“Loof, my siel, die Here!” Kom ons sing

Gesang 197 strofes 1 en 2

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Ons ooreenkoms met God is dat ons sy wil sou gaan doen.  Kom ons luister na wat Deuteronomium 30 verse 11 tot 20 sê oor hoe maklik dit is om dit reg te kry.

11      

Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie.

12      

Dit is nie in die hemel nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons opklim hemel toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie.

13      

Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons oorvaar na die oorkant toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie.

14      

Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.

15      

Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou.

16      

As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem.

17-18

Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie.

19      

Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.

20      

Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ‘n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee.”

(Deuteronomium 30)

Skuldbelydenis Sang (Staan)

Al sê Deuteronomium “die gebod is nie te moeilik nie” en “ook nie buite jou bereik nie” moet ons bely dat ons dit tot nog toe nie reggekry het nie, nie eers met die beste bedoelings nie.  Dis ons sondige aard wat maak dat ons tot nog toe teen wil en dank net nie daarin kon slaag nie.  Kom ons bely ons skuld met

Gesang 239 strofe 2.

Genadeverkondiging (Bly staan)

Maar ons kan na God toe terugkom.  Altyd. Hoor wat sê Deuteronomium sal God doen as ons na Hom toe terugkeer:

Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy aanpak en Hy sal jou kinders, die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land baie maak, sodat dit met jou goed sal gaan. Wanneer jy die Here jou God gehoorsaam en sy gebooie en voorskrifte nakom wat opgeteken is in hierdie wetboek, en wanneer jy met hart en siel terugkom na die Here jou God, sal Hy Hom weer oor jou verbly soos Hy Hom oor jou voorvaders verbly het en sal dit met jou goed gaan.

(Deuteronomium 30 verse 9 en 10)

Geloofsbelydenis (Bly staan)

Ons bely met hart en siel ons geloof so, saam met alle ander gelowiges:

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees
  • en ʼn ewige lewe.

AMEN

Sang (Staan)

Mense wat so glo, soos ons nou net, loof God.   Hy vergewe al ons skuld en soos ʼn vader vir sy kinders sorg, sorg God vir wie Hom vrees.  “Loof Hom, prys Hom!” sê vers 5, “o my siel, bly Hom besing!”

Gesang 203 strofes 1, 3 en 5  

AANBIDDING EN LOF

Predikant

Gebed (Mans staan)

VERKONDIGING

Predikant

Skriflesing (Sit)

1 Korintiërs 15 verse 35 tot 44

Bladsy 239 van die Nuwe Testament.

35      

Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?

36      

Dis ‘n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie.

37      

En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie, maar as ‘n blote saadkorrel, of dit nou koring is of iets anders.

38      

Maar God gee ‘n gestalte daaraan, soos Hy bepaal het; aan elke saadsoort gee Hy ‘n eie gestalte.

39      

Die vleis van lewende wesens is nie alles eenders nie. Daar is verskil tussen die vleis van mense, van diere, van voëls en van visse.

40      

Daar is hemelliggame en daar is aardse liggame. Die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame.

41      

Die glans van die son is anders as dié van die maan of dié van die sterre. Ook verskil die een ster se glans van dié van die ander.

42      

So is dit ook met die opstanding van die dooies: wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek;

43      

wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek.

44      

‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Aangesien daar ‘n natuurlike liggaam is, is daar ook ‘n geestelike liggaam.

45      

So staan daar ook geskrywe: “Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende wese geword.” Die laaste Adam het die lewendmakende Gees geword.

46      

Die geestelike kom nie eerste nie maar die natuurlike, en daarna die geestelike.

47      

Die eerste mens is uit die aarde en is stoflik; die tweede mens is uit die hemel.

48      

Soos die stoflike mens was, so is ook die stoflike mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.

49      

Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees.

50      

Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie.

51      

Kyk, ek maak ‘n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word.

52      

By die laaste trompet sal dit in ‘n oomblik, in ‘n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word.

53      

Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike.

54      

En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

Oor die Woord en beloftes van God wat in die Bybel staan, herinner Josua ons:

Julle weet met julle hele hart en siel dat nie een van al die goeie beloftes wat die Here julle God oor julle gemaak het, onvervul gebly het nie. Almal het uitgekom. Nie een belofte het onvervul gebly nie.

(Josua 23 : 14b)

Sang (Staan)

“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”  Jesus leef en ons met Hom.  Ons gáán saam met Jesus uit die dood opstaan.  Daaraan twyfel ons nie, en dit bely ons nou weer met

Gesang 415 strofes 1,2 en 3

Vandag se erediens gaan nie oor óf dit gaan gebeur nie, maar oor hóé.  

Preek (Sit)

Paulus kom in Atene, Griekeland, aan.

Die Grieke is intellektuele reuse, dénkers.  Twee groot Grieke kom met idees vorendag wat tot hede en vandag toe nog alle Westerse denke oorheers:  jy is òf vir Plato òf vir Aristoteles, of jy is (met groot risiko) teen hulle albei.  Tot in 2016 nog moet jy, as jy gehoor en verstaan wil word, verduidelik waar jy met dié twee manne staan.

Dis die fout wat Paulus in Atene maak. Hy het die Grieke nog nie uitgeluister nie.  Maar hoekom sou hy?  Hy is ʼn Jood, nes al die ander skrywers van die Nuwe Testament.  Hulle skryf wel die Nuwe Testament in Grieks, want nes mens hier by ons in Engels moet praat as jy wil beïnvloed, is Grieks daai tyd se heersende taal.   Nie net is Paulus lekker vlot met die Griekse omgangstaal nie, hy is ook behoorlik ingegrawe in gevorderde Joodse denke oor God.  En siende dat hy met die Grieke oor die God van die Jode wil kom gesels, is daar min ander wat by hom kan bykom.  God het goed gekies.

Maar Paulus misgis hom toe met hoe Grieke dink.

Eers gaan dit goed.  Griekeland is een groot universiteit (sonder die opstande!): hulle verwonder hulle aan enigiets nuuts.  Totdat Paulus weet te vertel die liggaam kan, sal, uit die dood uit opstaan en hemel toe gaan.

akkedis-sonder-stertAikona! Hiervoor gril elke goeie Griek.  Die heersende filosofie is Plato s’n.  Plato beweer die hele kosmos bestaan uit net twee goed: idees en gees aan die een kant, grond en goed aan die anderkant (materie, as jy meer korrek wil wees). Gees is goed, grond is gagga. Die grond hou die gees gevange.  Die gees moet uit die grond se greep uit loskom.  Om nou te wil sê die gees gaan nooit loskom van sy verrottende lyf nie, en gaan teen wil en dank sy liggaam met hom moet saamsleep die ewigheid in, is walglik.  Dis ʼn zombie-fliek! Nee wat, Paulus, kom liewer na ons toe met ʼn ewiglewende siel wat van sy liggaam ontslae kan raak soos ʼn akkedis van sy stert, en kan aangaan om hoër hoogtes te bereik, dan praat ons weer.

Nee, sê Paulus.  Mense het nie sulke siele nie. En hier eindig plotseling Paulus se evangelisasie van Atene.

In 1 Korintiërs 15 kry ons vir Paulus by sy skryftafel, weer in gesprek met die Grieke, dié keer die gemeente in Korinte. Hy het geleer uit sy ondervinding in Atene.  Hy beredeneer die ding nou van ʼn kant af. Opstanding uit die dood is n voldonge feit, en Paulus verduidelik hoekom:  want Christus het mos opgestaan!

Die vraag is hóé: net jou “siel”, of die hele jy, liggaam en siel?

Paulus en die apostels is nie die enigste wat glo daar is lewe na die dood nie.  In Egipte glo hulle as jy net die liggaam aanmekaar kan hou, ʼn mummie van hom maak, gaan die lewe weer inskop.  In Persië gooi hulle lyke in die natuur weg dat die elemente hulle kan opeis, want die einste elemente sal hulle weer eendag aanmekaarsit en teruggee. Vir beide Perse en Egiptenaars is dit n natuurlike proses. Die Jode was verdeeld. Net die Sadduseërs begin vermoed dis moontlik dat mense liggaam en al die hemel kan in, want die Ou Testament het hulle al meer laat besef dit sal moet kan.  Die Fariseërs – en Paulus was ʼn Fariseër – het die Sadduseërs daaroor uitgelag.  Maar dis die Grieke wat die hef in die hand het.  Die lewe gaan wel aan, sê hulle, maar net die siel gaan dit maak.  Die Grieke dink iewers hierbinne sit ʼn siel en wag om uit die liggaam te ontsnap. Gees en grond. Die “siel” is gees, jou lyf is grond.  Die siel gaan vrykom, want gelukkig sterf liggame.

Die toekoms is Grieks. Almal praat klaar die taal; net nog ʼn rukkie, dan glo almal ook Grieks: dat net die siel sal aanhou, die liggaam nie. So invloedryk is Griekse denke in die Weste, ek vermoed julle glo ook so.

Maar nie Paulus nie.

Moet nou nie skrik nie.  Ek gaan dit weer sê en dan gaan julle besef wat is op die spel hier:  nee, ons het nie so ʼn siel nie.

Daar sit nie iewers hier binne ʼn ding apart van my en iets wat jy kan losdink van my lyf wat, as my hart die dag gaan staan, gaan uitklim en hemel toe opklim nie.  Hoe weet ons dit?  Dit staan nêrens in die Bybel nie. Een of twee keer, maar net een of twee keer, lyk dit, val Bybelskrywers ook in die Griekse gat: Wees bang, nie vir iemand wat jou liggaam kan doodmaak nie, maar jou ewige lewe van jou kan wegvat – by implikasie: jou siel kan doodkry.  Dis te verstane, want die Griekse idees begin posvat.  Maar dis Plato, nie Paulus nie.

Hier’s dwaalleer op sy beste: ons is Christene, maar oor die kern van ons geloof, oor opstanding uit die dood, leen ons ons ore aan die Grieke uit.

Kom ek herinner julle aan die Apostoliese Geloofsbelydenis wat ons vanoggend weer gesê het saamvat wat ons glo:

  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees
  • en ʼn ewige lewe.

 

Die opstanding van die vlees.  Die liggaam.

Dis waarvan Paulus praat. Hy wat Paulus is, en twaalf ander ouens, en ʼn handvol vroue, mense wat saam en herhaaldelik vir Jesus gesien leef het toe Hy dood moes wees, glo onwrikbaar dat God mense na die dood liggaam en siel opwek. Hy besef hulle is ver in die minderheid,  én onder verdenking. Daar word bespiegel: het hulle n opgestane Christus  gedroom?;  ʼn spook gesien?; of gesigte miskien?; was dit visioene of hallusinasies?; histerie? wensdenkery? het hulle hulle misgis, of was dit ʼn bedrogspul met voorbedagte rade uitgedink?; het hulle nie dalk saamgesweer om te lieg nie?   Maar waarom dan is hulle bereid om martelaars te sterf eerder as om met die hele ou sak patats vorendag te kom? Paulus praat eerlik oor al hierdie aantygings. En hy hou voet by stuk, dit maak nou nie saak hoe aanstootlik die gedagte vir Grieke is nie, die liggaam gaan opstaan.  Wat laat Paulus so dink?  Jesus.  Hy het vir Jesus Christus in lewende lywe teëgekom. In lewende lywe.

Ons glo in opstanding na die dood.  Ons glo ons sal soos Jesus Christus opstaan.  Ons glo dus ons liggame sal opstaan.  Ons glo ons is een lewende wese, nie twee stukke van ʼn ding wat jy uitmekaar kan haal, liggaam hier en siel daar nie. Jy is nie iets anders as jou lyf nie. Jy is nie net ʼn stuk van hierdie lewende organisme wat jou naam dra nie.  Is jou liggaam net ʼn dop, ʼn hol houer waarin God jou siel in- en uittap? As jy dit van Jesus sê, word sy hele sogenaamde menswording tog ʼn klug, sy lyding toneelspel, voorgee en ver-beeld-ing, sy kruisiging n vertoning, sy dood ʼn Griekse tragedie, net ʼn storie, sonder werklikheid.   Maar Jesus Christus sterf.  Hulle begrawe Hom.

“Hoe word die dooies opgewek?  Watter soort liggaam sal hulle hê?”  Dom vraag!, sê Paulus.  Ja, maar dit is ʼn Griekse een.  En daarom dalk ook ʼn Afrikaanse vraag.  Maar dit bly dom, sê Paulus.  Watter liggaam gaan jy dan hê? Hierdie een, hierdie liggaam mos! Hierdie einste liggaam staan op. Staan jy op, staan jy op, liggaam en siel, hart en siel, heeltemal, met jou hele wese, hoe jy dit ookal in Afrikaans wil sê, jý staan op, die hele jy, en nie net ʼn stukkie of selfs ʼn helfte van jou nie.  Nes Christus opstaan, jy ook. Onthou jy dan nie: die graf was leeg!

Maar die liggaam ontbind dan?  Ja, maar God skep ʼn nuwe een uit die oue. En dis die skerppunt van ons opstandingsgeloof, die een ding van lewe na die dood wat net Christene glo en Grieke nie, trouens nie eers die Jode glo dit nie, dus is ons hierin heeltemal uniek, dis hierdie ding wat van ons Christene maak: as daar lewe na die dood is, skep God dit deur Christus.  Die siel is nie onsterflik nie, opstanding is geen natuurlike proses nie, soos dat die elemente na ʼn ruk weer lewe teruggee nie, en dis ook nie iets wat jy met gebalsemde lyke kan regkry nie.   Lewe na die dood is wat God deur Christus doen. Dis God se hele idee, die skepping se doel.

Christus het mens geword en nie net ons vel aangetrek nie, Hom nie net met ʼn masker vermom en met ʼn lyf gekamoefleer nie en voorgegee Hy’s een van ons nie. Net so is ek ook nie ʼn spook wat dit skaars kan uithou die rukkie wat ek in hierdie stuk sterwende vleis vasgevang is nie.  Ek is mens.  My lyf is nie ʼn swaar oorlas wat ek soos ʼn pakdonkie moet rondkarwei of soos ʼn ingespande os agter my aan moet sleep nie.

Ek en my lyf is een en dieselfde ding.  Ek leef, gewortel in, met, soos en deur hierdie liggaam.  Ek is besiel, begeesterd, bewus en ek lewe gedrewe deur ʼn innerlike krag wat ook in my brein en nie net in my spiere sit nie.  Ek is een ding, ʼn hele mens. Ek is nie net ʼn stinkende, sieklike, grillerige lyf nie, en ook nie net ʼn halfgebakte stukkie sonskyn soos n Griekse siel nie.

Ek is soos ek hier staan een skepsel van God.  Die naaste wat ek aan n aparte siel kom is dat saam met my, in my, leef God se Heilige Gees.  En dis nou al, voor ek nog doodgaan al, die werklikheid.

God gaan my nuut maak.  Maar as God nou vir my ʼn nuwe lyf maak om na die dood mee op te staan, is dit nog ek?  Dink aan ʼn saadkorrel, sê Paulus.   Jy kry hom van ʼn ou plant af.  In hom sit al klaar die begin en die beginsel van ʼn nuwe een.  Jy saai of plant hom. Wat opkom en groei, is steeds dieselfde soort plant, want dit kom van die oue af.  Maar dis ook ʼn nuwe weergawe van dieselfde ou plant, want dis nog altyd sy saad dié.  Net so is jou opstandingslyf steeds jy, jy bly jy, uniek jy, soos God jou geskep het, anders as almal anders.

Onthou nou hoe was Jesus na die opstanding, sê Paulus:  eers het ons Hom nie herken nie.  Was dit net oor ons Hom nie terugverwag het nie?  Dalk nie.  Hy was verheerlik, onherkenbaar verheerlik.  Maar sy wonde was daar, duidelik te sien en ons kon daaraan vat.  Eers het ons gedink Hy’s ʼn spook, want Hy kom en gaan sommerso; toe eet Hy saam vis.

Iets van jou gaan tog ook anders wees as hoe jy voor die dood was.  Voorheen was jy verganklik, dan nie meer nie. Voorheen was jy gering, dan word jy verheerlik.  Vroeër was jy swak, nou in krag opgewek.  Jy was eers ʼn natuurlike liggaam, jy word nou ʼn geestelike liggaam. Gewone natuurlike vlees en bloed kan aan die koninkryk van God nie deelkry nie want natuurlike vlees en bloed is verganklik.  Jou geestelike liggaam kan. Jy kry ʼn hemelse, geestelike liggaam om in die hemel mee te leef.

Daar is die woord wat jy moet gebruik as iemand met jou oor jou siel stry: ek kry, trouens in Christus is ek reeds, ʼn geestelike liggaam. Ek is ʼn verwikkelde, eenmalige, lewende wese in wie Christus deur sy Heilige Gees woon en werk daaraan om my nuut te maak.

Nie my siel gaan die lewe oorleef nie, ek gaan.  Ek gaan vir ewig leef. Die hele ek. As die Grieke reg was dat ek n siel het, dan my siel ook. Maar ek gaan nie my liggaam los nie.

Ek en jy, ons almal wat in Christus glo en in wie sy Gees reeds woon, is geestelike liggame.  Ons glo in die opstanding van die vlees. Hieraan hang ons hele geloof.

Amen.

Sang (Staan)

Ons sing wat ons van ons eie opstanding uit die dood glo: dat hierdie liggaam weer, en verheerlik, sal opstaan en lewe.

Gesang 260 strofe 9  

DANKGEBED, VOORBEDES

Predikant

Gebed (Mans Staan)

WEGSENDING

Slotsang (Staan)

Gesang 583 strofe 2

Seën (Staan)

Respons (Staan)

Gesang 189

Afkondigings

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s