Uitgekamp, vér gekyk, tuisgekom

saturnus
Dis wat ek gesien het!

Vyf gemeentes van die Ring van Laeveld het gaan uitkamp. Dit was Phalaborwa se blink idee!

Vier en sestig van ons het dié snikhete Vrydag in Lofdal se rondawels ingetrek, tent opgeslaan of woonwaens staangemaak.

Magies vol en gesellig om die kampvuur, het ʼn wyse sterrekyker ons uitgeboul met die storie van ons opkykery tot vér by ons sonnestelsel verby, en ons kry ons eerste blik op wat dalk die skepping se verste uithoek is: ʼn pixel in ʼn reuse spons!  Ek het vir die heel eerste keer in my lewe Saturnus in lewende lywe gesien, en dit was vir my al genoeg.  Die terugkykery na die skeppingsoomblik toe, en insien tot in kwantumfisika in, slaan my dronk. Ek het saam met Job bely:  God is groot!

Toe moes ons noodwendig gaan nadink oor hoe ons hierdie groot en vriendelike God ontmoet en groet in erediens, in die kerk én waar ons leef.  Hoe ontoereikend is ons pogings tot aanbidding nie!  Maar hierdie handvol Hervormdes was ernstig in hulle voorneme om dit net nog beter reg te kry.  Ons wil meer deelneem, die erediens beter begryp en gebruik, ons wil meer sing, ons wil ons kinders daar laat tuiskom, ons wil mekaar by die erediens vertrap.

Ons het spanne gemaak en speels meegeding, van boerepret tot liedjiesraai en  die veld in ʼn nagmars aangedurf en skandelik verdwaal.  (Maar nie die Rooikatte nie!) En ons het geëet, broers en susters, het ons nie geëet nie!

Die erediens was alles waarop ons te wagte was, net nog beter.  Die Woord het ons, soos soetigheid in die mond, laat smag na meer.

En tussendeur kon ons kuier, al nader aan mekaar kom en die gemeenskap van die gelowiges voel groei.

Die kansellap op Lofdal sê dit alles:  “Die Here is op hierdie plek.”  Ons het God daar teëgekom.  Ons sal ook weer, in erediens, in Skriflesing, in verstomming oor die skepping, in die kommer van verdwaal, en in die seën van saamwees.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s