Bekwaam?

Maar Moses het tog seker darem geglo, of hoe? Hy sê: dis nou alles goed en wel, Here, maar wie is U nou eintlik?  Wie, sal ek vir die volk loop sê, het my gestuur?  Hulle ken U mos nie.  Hulle het hulle eie gode.  Hulle sal vir my lag! Maar wat Moses eintlik maar bedoel is: verskoon my, Meneer, moet ek jou ken? Het ons al iewers tevore ontmoet? Kyk `n bietjie vir wie anders het God ook al gebruik…  Aan die einde van die lys sal jy in die versoeking kom om te sê: geen wonder al’s is in so`n gemors nie!

 

Eksodus 2:11-14; 3:7-12; 4:1-17

4 September 2016, NHKA Kampersrus

Koninkrykstyd / Uitbreiding van die kerk

Toetrede

Predikant

Ons wil so graag dankie sê aan God vir wat verlede week weer in die nagmaal met ons gebeur het.  Dankbaarheid is wat ons oorkom as God se genade in ons grondvat.  Maar kan ons dankbaarheid regtig regkry?  Kan ons werklik bekwaam raak om God se wil gedoen te kry? Oor of ons bekwaam is om die Here en die kerk te dien, daarop stel ons ons in in vandag se erediens.

Sang (Sit)

In Gesang 527 erken ons dat die werk waarin ons staan, die Here se werk is, maar dat dit gevaar staan om ten gronde te gaan, juis oor ons die ouens is wat dit moet doen. Ons vra die Here moet ons help met die selfverloëning wat dit van ons gaan verg om dit reg te kry.

Gesang 527 strofes 1 en 2 

Sang (Sit)

Gesang 530 sit Attie van der Colf se beryming van die lied oor die liefde in 1 Korintiërs 13 by Beethoven se “Ode aan Vreugde”.  Dit sing lekker.  Liefde is waar ons moet begin as ons bekwaam wil word vir God se werk. Al kry jy alles anders baie mooi reg maar jy doen dit sonder liefde, is al’s wat jy so bereik waardeloos.  Dis die een kwalifikasie waarsonder geen werk in die kerk kan gebeur nie.

Gesang 530 verse 1 en 2

Stilte (Sit)

 

Toetredelied (Staan)

Gesang 528 strofes 1, 2 en 3  

Dis die lied waarmee ons tot die gesprek met die Here in vandag se erediens toetree.  Dis ʼn gebed.  Ons bid met die lied God moet ons vandag sy wil kom wys, en wat sy doel met ons is.

Votum en Seëngroet (Staan)

20

God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring.

21

Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

(Hebreërs 13)

Aanbidding en Lof

Predikant

Sang (Staan)

Ons kom nie vanmore met swaar gemoedere terug kerk toe om te hoor watter verpligtinge God op ons gaan lê, nou na nagmaal se genade, nie.  Ons kom oor ons bly en dankbaar is.  Daarom sing ons ʼn lofsang wat dit sê ook:

Psalm 100 strofes 1,2 en 3, die tweede melodie in die Liedboek

Juig almal tot God se lof en eer.  Kom ons dien God met blydskap!

Gebed (Mans staan): Skuldbelydenis en genadeverkondiging

Sang (Staan)

Gesang 176, twee keer na die gebed, en sonder enige aankondiging

Verkondiging

Predikant

Skriflesing (Sit)

 

Eksodus 2 : 11 tot 14

11

Toe Moses al ‘n volwasse man was, het hy op ‘n keer na sy eie mense toe gegaan en gesien dat hulle dwangarbeid verrig. Hy sien toe hoe een van sy eie mense, ‘n Hebreër, deur ‘n Egiptenaar geslaan word.

12

Nadat Moses rondgekyk het en niemand gewaar het nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom onder sand toegekrap.

13

Die volgende dag gaan hy weer, en tot sy verbasing was daar twee Hebreeuse manne aan die baklei. “Waarom slaan jy aan jou broer?” vra hy vir die een wat die rusie begin het.

14

“Wie het jou aangestel as baas en regter oor ons?” vra die ander. “Wil jy my miskien ook doodslaan, soos jy die Egiptenaar doodgeslaan het?” Toe skrik Moses en hy dink: die ding het bekend geword.

 

Eksodus 3: 7 tot 12

7

Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.

8

Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.

9

Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk.

10

Daarom stuur Ek jou na die Farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”

11      

Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die Farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”

12

God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”

 

Eksodus 4 : 1 tot 17

1

Maar toe sê Moses: “Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie?”

2

Toe vra die Here vir hom: “Wat het jy in jou hand?” “’n Kierie,” antwoord Moses.

3

“Gooi die kierie op die grond!” sê die Here vir hom. Toe hy dit op die grond gooi, word dit ‘n slang, en Moses het daarvoor padgegee.

4

Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand uit en gryp hom aan sy stert.” Moses steek sy hand uit en gryp hom, en skielik word dit weer ‘n kierie in sy hand.

5

Toe sê die Here: “Op grond hiervan sal hulle glo dat die Here die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het.

Leprosy-1 (2)6

“Steek nou jou hand in die vou van jou klere!” Hy steek toe sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit melaats, so wit soos sneeu.

7

Hierna sê die Here: “Steek nou weer jou hand in jou klere.” Hy steek toe weer sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit gesond.

8

Toe sê die Here: “As hulle jou na die eerste wonderwerk nie geglo het nie en hulle nie daaraan gesteur het nie, behoort hulle jou na hierdie een wel te glo.

9

“As hulle jou ʼn hierdie twee wonderwerke nog nie glo nie en nie na jou luister nie, moet jy van die Nyl se water vat en op die grond uitgooi. Die water wat jy uit die Nyl gevat het, sal dan op die grond bloed word.”

10

Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.”

11      

Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens ‘n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie?

12

Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.”

13

Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.”

14

Toe word die Here kwaad vir Moses en sê: “Aäron die Leviet is mos jou broer, en Ek weet hy kan sy woord goed doen. Hy is al op pad om jou te ontmoet en hy sal bly wees om jou weer te sien.

15

Praat met hom en sê vir hom wat om te sê. Ek sal by jou wees as jy praat en by hom as hy praat en Ek sal julle leer wat om te doen.

16

Wanneer hy namens jou met die volk praat, is hy jou segsman en jy die een wat hom sy opdragte gee.

17

Hou nou die kierie waarmee jy die tekens moet gaan doen, by jou.”

2 Korintiërs 3 sê

5        

Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God,

6        

wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van ‘n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend.

Sang (Staan)

Ons bekwaamheid kom inderdaad van God af en ons sing dit nou ook.

Gesang 522 verse 2 en 3

. . .  sê dis God wat aan ons vermoëns gee.  Ons bid God moet ons insig gee in wat saak maak sodat ons ons dagtaak behoorlik kan vervul en ons roeping waardig kan bly, of ons nou met ander mense werk of oor ons eie huise waak.

Preek (Sit)

 

Orals in die Hervormde Kerk, en Kampersrus is ook nie anders nie, is dit soms moeilik om iemand te kry wat sommer vanself kom help met enigiets wat die gemeente doen.

Mense wil gevra word, vertel baie dominees vir my.  En vra ek hulle dan, sê hulle soms: “Alles, alles sal ek doen, net nie dit nie! Dit kan ek nie doen nie!” En hulle kom met `n hele rits redes vir waarom hulle nie kan nie.

Vandag dink ek moet ons almal hoor, dis nie die dominee wat jou vra: “Doen dit!” of “Doen dat!”, nie. Dis God wat vir jou sê: daar’s werk, en Ek het vir jou nodig, want jy gaan dit doen. Ja, jy wat wonder van wie ek nou praat: jy wat omkyk en rondkyk en afkyk. Vir jou gaan God gebruik. Hoekom jy? Wel, hoekom nie?

Wel, ek kan dadelik dink aan n hele klomp redes vir waarom God nie die fout moet maak om vir my te vat nie. As Hy hiervan n gemors wil maak, moet Hy nou op my kom leun. Ek’s te veel van n sondaar.  En is sonde nie juis dat mens niks gedoen kry wat God wil hê nie? Hoe kan God dan dink om iemand soos ek te wil gebruik? Daar’s tog seker ander, beter, kandidate vir hierdie taak?

 

Mens, het ek nuus vir jou, sê God! Kyk `n bietjie vir wie het God al almal gebruik… En aan die einde van die lys sal jy in die versoeking kom om te sê: geen wonder al’s is so `n gemors nie! Dog…

  • Noag was `n dronklap.
  • Abraham was stok-horingoud
  • Isak was ‘n dromer
  • Jakob was ‘n skelm
  • Lea was lelik
  • Josef was grootkop, vreeslik lief vir homself
  • Moses was ‘n moordenaar
  • Gideon was bang
  • Simson se hare was te lank, en sy meisies te los
  • Ragab was ‘n rooilig-meisie
  • Jeremia was te jonk, Timoteus ook!
  • Jesaja het hierdie snaakse ding gedoen om hom kaal uit te trek as hy preek…
  • Esegiël het vlieënde pierings gesien
  • Jona het hom vir God gewip en pad gevat
  • Naomi was ‘n weduwee: “Noem my bitter!” sê sy
  • Job het met God baklei, al’s verloor, en vol sere van die ashoop af gepreek hy’s reg en die wêreld is verkeerd. Wie sou hom glo?
  • Saul het hom mal gehou.
  • Dawid het rondgeslaap en `n man vermoor om sy vrou te vat, en moes toe vlug vir sy eie kind oor hy sy huisgesin nie kon beheer nie.
  • Elia het depressie gehad en selfmoord wou pleeg
  • Petrus was bevooroordeeld, heethoofdig en impulsief, nie die soort ou aan wie jy jou besigheid toevertrou nie…
  • Saggeus het daai kort-mannetjie-sindroom gehad.
  • Markus het halfpad tou opgegooi
  • O ja, Timoteus het ‘n maagseer ook gehad – wat anders?
  • Jy sou kon gril net vir Johannes die Doper se sprinkaan-dieet…
  • Die ander Johannes was kort van draad: seuns van die donder, hy en sy broer…
  • Die twaalf dissipels het knaend aan die slaap geraak toe hulle moes bid, en as hulle wakker was, gedurig gebaklei oor wie sit waar in die hemel
  • Martha het haar oor alles bekommer
  • Maria was weer te lui
  • Maria Magdalena was van duiwels besete
  • Die seuntjie met die brode en vissies het nou nog nie `n naam nie!
  • Die Samaritaanse vrou het weer te veel name, oor al die mans wat sy al gehad het.
  • En Lasarus..? Wel, Lasarus was dood!

Wat `n indrukwekkend spul kerkmense het God gehad om sy werk mee gedoen te kry, dwarsdeur die Bybeltyd tot nou toe, nè?

En God het hulle gebruik!

Onthou, ek het gesê jy gaan in die versoeking kom om te sê: “Geen wonder nie!” en jou neus optrek vir God en vir die kerk?

Maar dis dalk ook vir jou en my goeie nuus. Want vir elke verskoning wat ek al gehoor het, was daar iewers in daai lysie mense, iemand wat daai verskoning al n slag gebruik het. God het daai een van jou dus ook al gehoor!

Toe die Here die dag vir Moses roep, het ou Moses eers gedink God het hom seker vir iemand anders aangesien. Hy’t ook rondgekyk om te sien met wie praat die Here nou. Maar dit was hý, Moses, wat op die verhoog in die kollig staan. Dit is hy met wie die Here praat.

Hy protesteer, en toe God die eerste van sy verskonings koudsit, toe kom hy met nog. Moses se hele gesprek met God, gaan net daaroor: oor Moses se verskonings. Moses glo hy’s nie goed genoeg nie. Moses se hele geskiedenis is verkeerd om `n redder en `n volksheld te wil wees.

  • Moses het heidens grootgeword, in die farao se huis
  • Moses het met voorbedagte rade `n Egiptenaar doodgeslaan – dit was nie sommer `n ligte mistykie nie!
  • Moses was dan vir sy eie mense nie eers aanvaarbaar nie, dié dat hy padgevat het Midian toe.

Die stomme man is later in sak en as.  En raai hoekom?  Oor God hom net nie wil uitlos nie. Wat Moses eintlik maar sê is: Here, ek het `n verlede, `n sondige verlede, en ek dink nie ek gaan met hierdie toekoms wat U beplan, regkom nie. Hou liewer verby!  Nou’t ons nog niks eers gesê oor Moses se spraakgebrek nie. Hy’t so gehakkel, hy kon nie `n woord uitkry nie. En sy ongeloof – sê nou die volk het nie `n idee meer wie God is nie?  En: “Wie is ék, Here, dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?” Asof dit hy is wat dit op sy eie moet gaan regkry.

En wat sê God?  Dis jy wat Ek gaan gebruik, Moses. Gaan sal jy gaan. En as dit jou sal troos: Ek is die volk se Redder, nie jy nie. Jy gaan saam met My. En Ek gaan by jou wees.

God haal die fokus van jou en my af, van ons verledes en vermoëns af, en sit dit op Homself. Maar dis net daar dat jy jou grootste tekortkoming besef: jou geloof laat veel te wense oor. Want alles kan verkeerd wees, as jy nie weet wat jy glo nie, is dit nag. 

Maar Moses het tog seker darem geglo, of hoe? Hy sê: dis nou alles goed en wel, Here, maar wie is U nou eintlik?  Wie, sal ek vir die volk loop sê, het my gestuur?  Hulle ken U mos nie.  Hulle het mos hulle eie gode.  Hulle sal vir my lag!

Maar wat Moses eintlik maar bedoel is: verskoon my, Meneer, moet ek jou ken? Het ons al iewers tevore ontmoet?

Ek dink ons vra dit almal.  Maar ons vra dit net as ons die vraag nie meer kan omseil nie. Daarom verkies ons om nie gevra te word om iets te doen nie. Want dan moet ons erken ons is nie so seker of ons geloof dit met God gaan uithou nie. En vir Moses en vir die volk, sê die Here. Ek gaan Myself nie aan jou verduidelik nie, Moses. Ek is, doodgewoon wie en wat Ek is. Ek is al God wat daar is. Ek is die Almagtige. En dis Ek wat is, die Almagtige, wat jou stuur.

Nou ja, dis vir almal van ons `n onbevredigende antwoord want daar sit geen waarborge in nie, en dan sê ons gewoonlik: Nou maak goed, Almagtige, bewys dit! Gee `n teken, of twee, of drie . . . !

 

Dis nie ons verledes wat ons terughou nie, ouens. Dis wat ons ongeloof nou nog van ons maak, wat ons toekoms keer. En dié één keer, met Moses, verneder God Homself tot towenaar. Ek bedoel, dis al taal wat ons verstaan.  Gooi neer jou kierie, en dit word `n slang.  Gryp sy stert, en dit word weer kierie.  Steek jou hand in jou klere in, en dit sal melaats word, steek dit weer in, en dit sal gesond word.  Is dit nog nie goed genoeg nie, vat van die Nylwater en gooi dit op die grond uit, en dit sal bloed word.  As jy al hierdie dinge doen, sal hulle jou glo.  Ek, wat die Almagtige is, sal daarvoor sorg.

Soos met alles en almal: dis God wat sorg dat mense glo, en dat dinge gedoen kom.

Maar van alles wat God sommerso kan verander, verander ons mense die moeilikste. Jy maak makliker van kieries slange, en van water bloed, as wat dit is om mense te laat glo. Maar Here, al dié goed help niks nie! U weet mos ek kan nie praat nie!, protesteer Moses weer.

Dat God geduldig bly, sê baie. Nou goed, gaan kry vir Aäron, en vat hom saam. Snaaks né, dat God nie sommer net Moses se gehakkel wegvat nie…? Hy kán! Dalk moet sy gesukkel om te praat hom daaraan herinner dat hy eintlik nie wil praat nie, nie eers al sê God hy moet, nie. Sy gehakkel is sy doring in die vlees. Dit gaan vir Moses moet herinner dat God hom genadig is.

En dan, eindelik omgepraat (wel, die waarheid is die arme man het geen verskonings meer oor nie!) sê God: …O ja, en, hm, Moses… Hou jou maar reg, want jy’s in vir ding. Ek gaan daai farao `n taai neut maak om te kraak. Hy gaan nie vir jou luister nie!

Ek dink Moses kon homself skop. Dis die een verskoning wat hy toe nie aan gedink het nie: hy’t hom bekommer oor of hy in die land sal kan in sonder vervolging, oor of die Israeliete hom sou glo… en nooit gedagte gegee aan wat die farao gaan sê nie. (So, onthou volgende keer as God jou aankeer, dat jy al die verskonings reghet en nie een miskyk nie.)

Nou dink Moses seker: maar as God by voorbaat weet die farao is nie oop vir oortuiging nie, hoekom dan nog hoegenaamd gaan na die farao toe? Hoekom sny God nie sommer die middelman uit en stuur die plae en kry klaar nie?

 

Moses weet nie. Ek ook nie. Maar hier staan Moses in die kollig. Jy sit op die warm stoel. Jy wat rondgekyk het, toe God jou geroep het. Jy met jou verlede en verskonings.

Vra jy hoekom, kry ek net die een antwoord: want God wil.  Die Here wil jou gebruik. Hoekom? Dalk oor God wil hê jy moet weet hoe Hy oor jou dink en voel. Dalk oor God wil hê jy moet weet Hy dink jy’s belangrik. Hy dink jy kan, en duidelik weet jy dit nie. Jy wil nog nie weet jy kan meer wees as wat jy is nie. Dalk oor God wil hê jy moet weet jy’s nie so gemaak en gelaat staan nie. God is dol oor jou. God het jou lief soos jy is, maar God is nie vir een oomblik van plan om jou nou sommer maar te los soos wat jy is nie.

God het jou nie nodig om Israel te red van die farao en sy Egiptenaars nie. God kan dit eiehandig doen. Dis nie asof net jy dit kan doen nie.  En buitendien sit die hele volk nie in aller yl en wag dat net jy jou verskyning moet maak nie. Dis jy wat nodig het om te besef jy’s waardevol. Dis jy wat nodig het om te weet jy kan meer wees as net die sondaar wat jy nog altyd is.

Dat Moses sy volk se leier gaan word, is nog nie die belangrikste ding wat God vir Moses kom sê het nie.  Daar kom nog iets wat Moses se voete heeltemal onder hom sal uitslaan.  Moses het buitendien die leier-ding verpes. Die volk was hom nie ewig dankbaar oor hulle slawerny verby is nie. En die volk het nie oormekaar geval om aan hom eer te betoon, `n miljoen SMS’e gestuur met sy verjaarsdag en `n staatsbegrafnis gereël met sy dood nie. Eers in Eksodus 33 vers 11 staan die laaste woord oor wie Moses regtig was. Daar staan dat die Here met Moses gepraat het soos ‘n man met sy vriend.

Moses, en ek en jy . . . ons verskil nie regtig veel van mekaar nie. Ons is almal nes daai ander lang lys ouens vir wie God gebruik het, vol gebreke. Tussen mense soos ons kom soek God vriende. Dié dat God soek na jou.

Volgende keer as God jou vra: doen iets! – dink voor jy nee sê, dink voor jy verskonings soek. Wonder `n slag hoekom Hy nou juis vir jou laat vra het. Dink daaroor na of jy sy vriendskap nodig het. Want ek dink God soek jou vir sy vriend.

Amen

Sang (Staan)

Kom ons sê vir die Here ons wil ons lewe aan Hom en aan sy werk wy.

Gesang 308 strofes 1,2,3,4 en 5

Ouderling

Geloofsbelydenis (Sit)

Kom ons bely ons geloof in die Een en Enigste God wat waardig dat ons ons dank, ons lof en ons diens aan Hom alleen wy:

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Die Wet / Wil van God

Ons het die Woord van die Here gehoor.  Ons het bely dat ons sy Woord glo.  God sal ons nou bekwaam maak om sy wil te doen en Hom te dien.  Ons is gretig om te doen wat Psalm 19 sê:

8

Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.

9

Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig.

10

Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas. Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig.

11

Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ‘n heuningkoek.

12

U dienaar laat hom daardeur leer. Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.

13

Wie sien sy eie dwalinge raak? Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie.

14

Weerhou my van opsetlike sondes, laat hulle nie oor my heers nie. Dan sal ek onberispelik wees en vry van hierdie groot sonde.

15

Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.

Slotsang  (Staan)

Kom ons wy ons hele lewe aan die Here.  Kom ons sing

Gesang 504 strofe 5

Wegsending

Predikant

Seën

Hoor nou, uit Efesiërs 6 hoe God julle bekwaam maak vir julle taak in sy kerk en koninkryk. Hy sê:

10

. . . Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.

11

Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.

14

Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas,

15

en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.

16

Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer.

17

Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.

18

Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

(Efesiërs 6)

Respons

Gesang 311 strofe 1.

Afkondigings

Diakens

Dankoffers

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s