Die skande van tekortskiet

Die ou stukkie brood en slukkie wyn wat jy vandag aan die tafel gaan kry, gaan  jou grommende maag nie stilkry nie. Maar dis dat jy hier mág kom sit, wat jou vandag moet omboul.  Dat géén sonde waaroor jy nog skaamkry, en géén skande waaroor mense nog skinder, jou van God kan weghou nie.  Want God hou dit nie meer teen jou nie.

Joël 2 : 18 tot 27

28 Augustus 2016, NHKA Kampersrus

Orde 3

Nagmaal

PREDIKANT

Votum en Seën (Staan dadelik op as die kerkraad inkom)

1

[U], Here, is my herder, ek kom niks kort nie.

2

[U] laat my rus in groen weivelde.  [U] bring my by waters waar daar vrede is.

3

[U] gee my nuwe krag.  [U] lei my op die regte paaie tot die eer van [u] Naam.

4

Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

5

U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.

6

U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

OUDERLING

 

Lofsang:

Kom ons sing tot lof van die Here dieselfde Psalm waarmee God ons vanmore geseën het:

Psalm 23, die Lina Spies teks, verse 1, 2 en 3. 

Ek kom niks kort nie, sê die Psalm. In ʼn bar en dorre streek laat God my uitrus by groen weiveld en stil water.   

Die Wet:

Broers en susters, deur die Wet leer ʼn mens wat sonde is. Wat ons daar leer, is dat ons wel tekortskiet, al het ons gesing “Die Here is ons herder” en “ek kom niks kort nie.  Ons skiet tekort, nie God nie: ons kom nie naby aan wat God van ons wil hê nie.  Dis ʼn skande.  Kom ons kyk weer hoe skuldig ons almal staan teenoor God en teenoor mekaar. Luister na die Wet soos Jesus dit opsom in Matteus 22 verse 35 tot 40:

35      

. . . ‘n Wetgeleerde, het vir Jesus met ‘n vraag probeer vastrek.

36      

“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37      

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand.

38      

Dit is die grootste en die eerste gebod.

39      

En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

40      

In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis:

Ons kry skaam oor die skande van ons sonde.  Ons staan skuldig teenoor God en mekaar.  Laat ons ons skuld bely.

Kom ons sing

Gesang 232 strofe 1.

Met die lied sê ons ons staan oor die sonde voor God in volslae onvermoë.     

Genadeverkondiging:

Broers en susters, noudat ons ons sondeskuld en –skande voor God in ons lied bely het,  verseker God se Woord ons van sy genade in Efesiërs 2 vers 8:

“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof.  Hierdie redding kom nie uit julself nie; dit is ʼn gawe van God.”

Geloofsbelydenis:

Kom ons bely ons geloof soos volg:

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Sang

Kom ons sing oor hoe God ons ten spyte van die skande tog liefhet, en oor hoe sy liefde ons van ons sonde verlos. Ons sal nie weer tot skande gemaak word nie. Kom ons sing ook oor hoe sy liefde ons besiel, en ons laat liefkry.

Kom ons sing weer

Gesang 232, nou strofe 2.      

PREDIKANT

 

Skriflesing

Joël 2 verse 18 tot 27

Bladsy 984 van die Ou Testament

18      

Die Here het vir sy land opgekom, Hy het medelye betoon met sy volk.

19      

Die Here het sy volk geantwoord: Ek stuur vir julle koring en wyn en olie. Julle sal oorgenoeg hê. Ek sal julle nie weer tot ‘n bespotting onder die nasies maak nie.

20      

Hierdie vyand uit die noorde sal Ek wegvat van julle af, Ek sal hom wegjaag na ‘n droë en verwoeste land toe, sy voorpunt sal in die Dooie See beland en sy agterhoede in die Middellandse See. Sy stank sal opstyg, sy slegte reuk sal versprei, want hy het hom groot gehou.

21      

Jy moenie bang wees nie, ploegland, jy moet bly wees en juig, want die Here het ‘n wonder gedoen.

22      

Julle moenie bang wees nie, vee in die veld, want die weiveld word groen, die bome dra vrugte, die vyebome en die wingerd staan in volle drag.

23      

Inwoners van Sion, julle moet bly wees en juig tot eer van die Here julle God, want Hy het die reëns betyds laat kom, Hy het die vroeë en die laat reën soos voorheen gegee.

24      

Die dorsvloer lê vol koring, die parskuipe loop oor van wyn en olie.

25      

Ek sal julle vergoed vir die tyd van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm toe my groot leër wat Ek teen julle gestuur het, julle verteer het.

26      

Julle sal oorgenoeg hê om te eet, julle sal die Naam van die Here julle God prys, Hy wat wonders vir julle gedoen het. My volk sal nooit weer in die skande kom nie.

27      

Dan sal julle besef dat Ek by Israel is, dat Ek die Here julle God is, dat daar buiten My nie ‘n ander is nie. My volk sal nooit weer in die skande kom nie.

 

Die klem is op vers 26:  “My volk sal nooit weer in die skande kom nie.”

 

In Matteus 13 vers 23 sê Jesus oor sy gelykenis van ʼn saaier

 

Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ‘n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.

Gebed (Mans staan)

Sang (Staan)

Gesang 231 strofes 2 en 3

Die lied sê, nes Joël, dat sonde seermaak en die skande oor ons bring.

Prediking (Sit)

“Wat nie deur die eerste sprinkaanswerm opgevreet word nie, word deur ‘n volgende opgevreet; wat nie deur dié opgevreet word nie, deur ‘n derde, en wat nie deur dié opgevreet word nie, deur ‘n vierde.”

So begin Joël.  Die een sprinkaanplaag na die ander het alles opgevreet.  Wat oorgebly het, is n maanlandskap: niks! Dit was dalk regtig sprinkane.  Maar dit kon ook die leërs van vreemde volke gewees het, wat kom oorlog maak en plunder het.   Sonde het dieselfde uitwerking.  Die punt is, daar was n oorweldigende oormag, of dit nou sprinkane, soldate of sonde was, en die verwoesting is totaal.

Die wingerd is weg.  Die wyn is op, genot opgeskort.

Die vyeboom is wortel en tak uitgeroei, olyfbome verwoes.

Die graan- en dankoffers is uit die tempel uit weg; die priesters ly honger, die kerk sukkel.

Die weiding is weggevreet, die veld treur. Die diere vrek.

“Staan verslae, saaiboere,” want die oes is tot niet. “Kla, vrugteboere,” want van die wingerd, die vyeboom, die granaat-, appel- en dadeloeste het daar net mooi niks gekom nie.

Die keer is die skade nie aan droogte te wyte nie.   Daar was baie kos.  Die oeste was geil op die land. Die kos is daar, voor hulle oë, opgevreet.  Deur goggas opgevreet, deur insekte, die goed wat ons seker die laagste van alle gediertes sou skat.   As leeus die konings is, is insekte die kaf.  Maar mense het met insekte moes kompeteer vir kos, en die stryd verloor. Van hulle eie kos het hulle niks van gekry nie.  Nou bedel hulle net om aan die lewe te bly.  Alle menswaardigheid is daarmee heen.  Hulle is niks meer as diere nie. Hulle krimp ineen van skaamte.  Hulle word gespot.

Skaam3Die skande!  Die vernedering is eens te erg.

“Daar het n einde gekom aan die vreugde van mense, ” skryf Joël.  “Voor ons oë is ons kos weggevat; blydskap en gejuig het uit die huis van ons God verdwyn.”

In die kerk moet die priesters gaan staan en ween. Hulle moet soebat, sê Joël,

“Betoon medelye met u volk, Here, moenie die volk wat aan U behoort, tot ‘n bespotting maak, sodat die nasies met hulle sal spot nie. Waarom moet daar onder die volke gevra word: Waar is Israel se God?”

n Bespotting, is wat die gemeente geword het.  Tot openbare skande gemaak.  As God sy volk die dag los, is dit tot hulle skande.  Dis húlle skuld. Dis God wat dit aan hulle doen, maar dis húlle sonde wat dit veroorsaak.

Die tekorte wat ons ly al is God ons herder, en al behoort ons niks kort te kom nie, is wat ons onsself aandoen, nie God nie. Het dit net van God afgehang was dit anders.

“Die Here het vir sy volk opgekom, Hy het medelye met sy volk.  Die Here het sy volk geantwoord: Ek stuur vir julle koring en wyn en olie.  Julle sal oorgenoeg hê.”  Julle sal weer eet en drink, versadig raak en fees vier.

Om net te kan eet en drink, is al God se werk.  As jy nie kan eet nie, gaan jy nie bly ewe nie.  Daar kom omstandighede waaronder jy voel dis draagliker om liefs te sterf as om te bly bestaan: as die gemors wat jy van al’s gemaak het en die skade wat jy aan almal aangerig het, jou van binne af opvreet. n Goeie naam is soms kosbaarder as jou laaste bord kos; die gemis aan jou selfrespek en menswaardigheid maak soms seerder as hongerpyne.  Dis wat die sonde by jou kom wegvat het: jou menswaardigheid.  Jy het verdierlik.  Jy en die goggas is gelyk.  Jy en die insekte is ewe grillerig.  Al verskil is, die goggas eet nog. Jy nie.

Dis jou menswaardigheid wat God vir jou kom teruggee.  Julle sal weer julle selfrespek terugkry.  “Ek sal julle nie weer tot n bespotting onder die nasies maak nie.”  God stuur kos en wyn, vir eet en drink, én selfs vir fees en vrolik wees.  God stuur daar oorgenoeg van, genoeg vir viering.  Hy reken af met als wat in die pad van ons maaltyd staan.  Hy sit die vyand op sy plek, Hy stop die sprinkaanplae, Hy doen wonders met reën en vrugbaarheid, Hy gee nuwe oeste, en Hy herstel sy volk se aansien.

Jy ken eerstehands die skade wat sonde aan almal en alles doen.  Jy voel aan jou eie lyf die wonde van jou oorlog teen jou eie sonde. Jy’t toe nie die stryd gewen nie.  Jy is kaalgestroop. Jou skande hang aan die grootklok, jy is uitgevang as die oorsaak van die skade wat jy aangerig het. Jy het alle hoop laat vaar dat daar vir jou uitkoms sal wees.  Jy weet nie of jy ooit weer sal kan eet of drink van die vrug van die land nie.  Jy vergaan.

Dan hoor jy God sê, “Jy moenie bang wees nie. . .”

Eers vir die grond sê Hy dit:

Jy moenie bang wees nie, ploegland, jy moet bly wees en juig, want die Here het ‘n wonder gedoen.

Dan praat God met die vee:

Julle moenie bang wees nie, vee in die veld, want die weiveld word groen, die bome dra vrugte, die vyebome en die wingerd staan in volle drag.

En dan praat Hy met jou.  En vir jou sê Hy nie net jy moenie bang wees nie, Hy sê vir jou jy moet die teenoorgestelde gaan doen:  wees bly!

Inwoners van Sion, julle moet bly wees en juig tot eer van die Here julle God, want Hy het die reëns betyds laat kom, Hy het die vroeë en die laat reën soos voorheen gegee.

Jy het nie net genoeg om van te lewe nie, jy het oorgenoeg, soos in n feestyd.  Vier fees!

Die dorsvloer lê vol koring, die parskuipe loop oor van wyn en olie.

Julle sal oorgenoeg hê om te eet, julle sal die Naam van die Here julle God prys, Hy wat wonders vir julle gedoen het.

Maar dis jou menswaardigheid wat vir jou die meeste gaan beteken.  En dit gee God jou ook terug.

Kyk hoe staan dit in die teks.  (Skyfie)

My volk sal nooit weer in die skande kom nie.

Dan sal julle besef dat Ek by Israel is, dat Ek die Here julle God is, dat daar buiten My nie ‘n ander is nie.

My volk sal nooit weer in die skande kom nie.

Dis soos n prentjie in n raam. Aan weerskante soos twee arms wat ons vashou staan daar ons sal nie weer in skande kom nie, nie oor ons sonde nie.  En in die middel, in die hartjie van dit alles sit die gewaarwording dat God by ons is, dat God die enigste Here is.

Die ou stukkie brood en slukkie wyn wat jy vandag aan die tafel gaan kry, gaan  jou grommende maag nie stilkry nie. Maar dis dat jy hier mag kom sit, wat jou vandag moet omboul.  Dat geen sonde waaroor jy nog skaamkry, en geen skande waaroor mense nog skinder, jou van God kan weghou nie.  Want God hou dit nie meer teen jou nie.

Dis Jesus Christus wat dit vir ons moontlik maak, maar dis nog altyd hoe God, Jesus se Vader, in die Ou Testament al, met Israel gewerk het.  Toe Jesus sê hierdie kos en drank is vir ons, n nuwe verbond beseël met sy liggaam en bloed, en die sonde sal ons nie weer van God vervreem nie, het Hy sy arms as’t ware om ons gesit en gesê:

My volk sal nooit weer in die skande kom nie.

Julle hoef julle nooit weer te skaam nie, nie voor ander nie, en ook nie voor God nie. Julle sal hier by My aan tafel agterkom julle is myne.  Ek, Jesus, is julle Here. Ek is julle pad na die Vader toe. Daar is buiten My nie n ander nie.

Julle sal nooit weer oor sonde in die skande kom nie. 

Amen.  

Sang (Staan)

Ons sing daarvan dat ons vry word van sondebande, van verslawing en van  skuld,  en ook van die skande wat die sonde oor ons bring.

Gesang 505 strofes 1, 2, 3 en 4

Formulier vir die Nagmaal (Sit)

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Luister hoe ons Here Jesus Christus die heilige nagmaal ingestel het soos die apostel Paulus dit in sy eerste Brief aan die Korintiërs weergegee het:

‘Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

Elkeen wat op ‘n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself.’

Ons glo en bely dat ons Verlosser, Jesus Christus, die sakrament van die heilige nagmaal ingestel het om dié te voed en te onderhou wat Hy opnuut gebore laat word het en in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het.

Dié wat opnuut gebore is, besit naas hulle liggaamlike en tydelike lewe ook ‘n geestelike en hemelse lewe. Die eerste besit hulle van hulle geboorte af soos alle ander mense. Die tweede is aan hulle gegee deur die nuwe geboorte wat plaasvind deur die Woord van die evangelie, in die gemeenskap van die liggaam van Christus. Nie alle mense besit hierdie lewe nie, maar slegs die uitverkorenes van God.

Vir die liggaamlike en aardse lewensonderhoud voorsien God aan ons gewone aardse brood. Die gewone brood word, net soos die aardse lewe, aan alle mense gegee.

Maar om die geestelike en hemelse lewe wat die gelowiges besit, te onderhou, het Hy vir hulle die lewende brood uit die hemel gestuur, naamlik Jesus Christus. Hy voed en onderhou die geestelike lewe van die gelowiges as Hy geëet word, dit wil sê deur die geloof geestelik toegeëien en aangeneem word.

Om hierdie geestelike en hemelse brood vir ons uit te beeld, het Christus bepaal dat aardse en sigbare brood die sakrament van sy liggaam en wyn die sakrament van sy bloed sal wees.

Hiermee gee Hy aan ons te kenne: So seker as wat ons die sakrament ontvang en in ons hande hou, dit met ons mond eet en drink en hierdie brood en wyn ons aardse lewe onderhou, net so seker ontvang ons deur die geloof (die hand en mond van ons lewe) vir ons geestelike lewe die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Verlosser.

Dit staan dus bo alle twyfel vas dat Jesus Christus nie tevergeefs hierdie sakramente ingestel het nie. Hy doen immers in ons alles wat Hy vir ons met hierdie heilige tekens uitbeeld. Hoe dit gebeur, gaan ons verstand te bowe en is vir ons onbegryplik, omdat die werking van die Heilige Gees verborge en onbegryplik is.

As ons derhalwe sê dat wat deur ons geëet en gedrink word, die eie en natuurlike liggaam en die eie bloed van Christus is, is ons nie verkeerd nie. Die manier waarop ons dit nuttig, is egter nie met die mond nie, maar met die gees deur die geloof.

Al bly Christus dus altyd sit aan die regterhand van sy Vader in die hemel, hou Hy tog nie op om ons deur die geloof aan Hom deel te laat hê nie.

Die nagmaal is ‘n geestelike maaltyd waarin Christus Homself en al sy gawes aan ons gee, en ons laat deel kry aan Homself en die verdienste van sy lyding en sterwe.

Hy voed en versterk ons geestelike lewe en vertroos ons in ons troosteloosheid as ons sy liggaam eet. Net so verkwik en verfris Hy ons geestelike lewe as ons sy bloed drink.

Verder vorm hierdie sakramente en wat deur hulle uitgebeeld word, ‘n eenheid, maar nie alle mense wat die sakramente gebruik, ontvang wat daardeur uitgebeeld word nie.

‘n Goddelose en ongelowige mens ontvang wel die tekens, maar nie wat daardeur uitgebeeld word nie, en so bring hy of sy ‘n oordeel oor hom- of haarself.

Judas en Simon die Towenaar het byvoorbeeld albei wel die sakramentstekens ontvang, maar nie vir Christus wat daardeur aangedui word nie. Hý word alleen aan dié gegee wat glo.

Ten slotte ontvang ons hierdie heilige sakrament (in die erediens) in nederigheid en met eerbied. So gedenk ons met diepe dankbaarheid die dood van Jesus Christus, ons Verlosser, en bely ons ons Christelike geloof.

Daarom behoort niemand by die tafel aan te sit as hulle hulself nie eers aan ‘n grondige selfondersoek onderwerp het nie, sodat iemand nie tot sy of haar oordeel van hierdie brood eet en uit die beker drink nie.

Kortom, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons beweeg tot ‘n vurige liefde vir God en ons naaste.

Ons verwerp alles wat met die sakrament vermeng word, asook alle verwerplike menslike uitvindings wat daarby gevoeg word, omdat dit die sakrament ontheilig.

Ons is tevrede om die nagmaal te vier soos Christus en sy apostels ons geleer het. Wat ons daarvan sê, is wat hulle daarvan gesê het.

Amen

Laat ons ons nou voor God verootmoedig en met ware geloof bid dat Hy ons in sy genade aan dit alles deel sal laat kry.

Barmhartige God en Vader, ons bid dat U in hierdie nagmaal waarin ons die verlossende betekenis van die bittere dood van u geliefde Seun, Jesus Christus in herinnering roep, deur u Heilige Gees so in ons harte sal werk dat ons ons al meer en meer aan u Seun, Jesus Christus, sal oorgee en ons vertroue op Hom sal stel. Laat ons vermoeide en verslae harte deur bemiddeling van die Heilige Gees gevoed en verkwik word met die liggaam en bloed van Jesus Christus, ja met Hom, ware God en mens, die enigste hemelse brood.

Gee dat ons nie verder in ons sondes leef nie, maar dat Christus in ons leef en ons in Hom. So het ons dan waarlik deel aan die nuwe en ewige testament en verbond van die genade. Versterk ook so die ontwyfelbare wete dat U ewig ons genadige Vader is, wat ons ons sondes nooit meer sal toereken nie en dat U ons as u geliefde kinders en erfgename liggaamlik en geestelik met alles wat nodig is, sal versorg.

Skenk aan ons u genade om sonder huiwering ons kruis op te neem, onsself te verloën, ons Verlosser te bely en hoe neerdrukkend die omstandighede ook al is, met volharding te bly hoop op die koms van ons Here Jesus Christus uit die hemel, wanneer Hy ons sterflike liggame soos sy verheerlikte liggaam sal maak en ons tot in ewigheid by Hom sal neem.

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Amen

Sang (Bly sit)

Ons sing terwyl die nagmaaltafel gereedgemaak word, en ons net so bly sit

Gesang 295 strofes 1, 2 en 3

Ons herhaal dat die Here ons herder is en ons sy eie klein kuddetjie. Ons is nie meer bang nie, en ook nie eers meer skaam nie: aan die kruis het Jesus ons skande weggedra.  Ons toekoms is nou in God se hande.

Formulier vir die Nagmaal (Vervolg) (Sit)

Uitnodiging na die nagmaal voor die eerste tafel:

Broers en susters in die Here, u word hartlik uitgenooi om te kom aansit aan die nagmaal van die Here! Namens die kerkraad van die gemeente word belydende lidmate van ander gemeentes van ons kerk en belydende lidmate van kerke met dieselfde belydenis as ons kerk, van harte uitgenooi om saam met ons nagmaal te gebruik; mits u nie onder kerklike tug staan nie en die vrymoedigheid het om in u eie gemeente aan die tafel van die Here aan te sit.

Tafelformule

Om dan nou met die ware hemelse brood, Christus, gevoed te word, moet ons geen verwagtinge van die brood en die wyn as sodanig koester nie, maar ons in die geloof op Christus Jesus rig wat in die hemel is, waar Hy as ons Voorspraak aan die regterhand van sy hemelse Vader optree en waarheen die betrokke geloofsartikel ons ook wys. Laat ons ook nie daaraan twyfel nie dat ons lewe net so werklik deur bemiddeling van die Heilige Gees met Christus se liggaam gevoed en verkwik word as wat ons by hierdie gedenkmaaltyd die brood en die wyn eet en drink.

Uitnodiging na die nagmaal met daaropvolgende tafels

Gemeente, alles is gereed; kom na die tafel van die Here. Kom, en word versterk in die geloof (Matt 22:4).

Gemeente, kom; die maaltyd staan klaar (Luk 14:17).

Kom, gemeente, ons is almal van die Here afhanklik. Hy voed ons op sy tyd (Psalm 104:27)!

Gemeente, kom dan; want die Here maak sy hand oop en ons kry meer as genoeg (Psalm 104:28)!

Kom, gemeente, laat ons ons oë op die Here rig; want Hy voed ons op ons tyd (Psalm 145:15)!

Kom, gemeente, eet! Anders sal die pad vir u te lank word (1 Kon 19:7).

Brood

Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van Christus (1 Kor 10:16).

Beker

Die beker van danksegging waarvoor ons God dank, is die gemeenskap met die bloed van Christus.

Sang na tafel 1 (Bly sit)

Ons sing by elke nagmaaltafel net een vers, terwyl almal bly sit, van

Gesang 493 vers 1

Sang na tafel 2 (Bly sit)

Gesang 493 vers 2

Sang na tafel 3 (Bly sit)

Gesang 493 vers 3

Sang na tafel 4 (Bly sit)

Gesang 493 vers 4

Sang na tafel 5 (Bly sit)

Gesang 493 vers 5

 

Na die laaste tafel

Geliefdes in die Here, aangesien die Here ons nou aan sy tafel gevoed en verryk het, laat ons almal saam in dankbaarheid sy Naam prys deur elkeen soos volg in sy en haar hart te spreek:

‘Ek wil die Here loof,

met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.

Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.

Dit is Hy wat al my sonde vergewe,

wat al my siekte genees,

wat my red van die graf

en my met liefde en ontferming kroon.

Barmhartig en genadig is die Here,

lankmoedig en vol liefde.

Hy sal ons ons sonde nie bly toereken

en nie vir ewig toornig bly nie.

Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie,

vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,

want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is,

so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.

So ver as die ooste van die weste af is,

so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders,

so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien’ (Psalm 103:1-4, 8-13).

‘Hy het sy eie Seun nie gespaar nie,

maar Hom oorgelewer om ons almal te red.

Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom skenk nie’ (Romeine 8:32)?

‘Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin

dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood,

staan dit soveel vaster dat

ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word.

Aangesien ons, toe ons nog vyande was,

deur die dood van sy Seun met God versoen is,

staan dit soveel vaster dat

ons, noudat ons versoen is,

deur die lewe van sy Seun gered sal word’ (Romeine 5:8-10).

Daarom sal ek met mond en hart die Here loof, van nou af tot in ewigheid.

Amen

Slotsang (Staan)

Ons slotsang is dalk ʼn nuwe lied vir Kampersrus.  Dis ʼn pragtige loflied.  Daarom, al gaan ons miskien dié keer effens sukkel om hom te sing, sê die gesang presies wat hierdie hele erediens wou bereik:  Die Here breek die bande van skuld en van skande.  God wat vergewe laat ons nou lewe.  En maak ons bly.  Ons is vir niks meer bang nie.

Gesang 492 verse 1 en 2  

Seëngroet (Bly staan)

Die Here seën sy vrou – dis hoe God sy volk sien – in Jesaja 54 so:

1        

Jubel, onvrugbare vrou, jy wat geen kinders in die wêreld gebring het nie, jubel en juig, jy wat geen geboortepyne geken het nie, want jy, verstote vrou, gaan nou meer kinders hê as een wat getroud is, sê die Here.

2        

Maak groter die plek vir jou tent, maak breër jou tentdoeke, moenie suinig daarmee werk nie. Maak langer die tentlyne en slaan die tentpenne dieper in,

3        

want jy sal na alle kante toe uitbrei; jou nageslag sal nasies verdryf en in die stede wat nou verwoes is, gaan woon.

4        

Moenie bang wees nie, jy sal nie weer in die skande kom nie, moenie so verleë daar staan nie, jy sal nie weer verneder word nie. Jy sal die skande uit jou jong dae vergeet en nie meer dink hoe jy verneder is toe jy ‘n weduwee was nie.

5        

Hy wat jou gemaak het, is jou man, sy Naam is die Here die Almagtige. Die Heilige van Israel is jou Verlosser; Hy word die God van die hele wêreld genoem.

Amen.

Sang as respons (Bly staan)

Gesang 228

Afkondigings

DIAKENS

Dankoffers

 

 

My volk sal nooit weer in die skande kom nie.

 

Dan sal julle besef dat Ek by Israel is, dat Ek die Here julle God is,

dat daar buiten My nie ‘n ander is nie.

 

My volk sal nooit weer in die skande kom nie.

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s