Dankie Here, vir saad wat oes geword het

Vandag val verskeie herdenkings in ons kerklike jaar op een dag saam.

Ons sê vir God dankie vir die oes van die laaste seisoen.  Ons vra die Here se seën op die nuwe seisoen se opbrengs. En ons herdenk ook Bartholomeusnag.

God saai in ons Homself.  Sy Woord is nie net geluide nie, maar stukke van Homself wat uit sy keel uitklim en kom doen wat Hy sê.  Sy Woord kom byons ore in en skiet wortel in ons hart.  God leef in ons.

Woord en Lieddiens.

21 Augustus 2016, NHKA Kampersrus

Biddag vir Gesaaides / Dankdag vir die Oes / Bartholomeusnag

Predikant

 

Bartholomeusnag

CATERINA MEDICI ValoisDit gebeur in 1572.  Frankryk is gewikkel in burgeroorlog na burgeroorlog tussen Die Rooms Katolieke en die Protestantse Hugenote.  Hierdie ietwat onvriendelike ou tannie was die koning, Karel (Charles IX) de Valois, se ma: Katarina di Medici. Die koning was ʼn swakkeling, sý die mag agter die troon. Sy was dalk meer politikus as groot gelowige.  Toe die Bourbons die Protestante suksesvol begin organiseer, het Katarina besef sy moet die Roomse Valois en Protestantse Bourbon families versoen, en toe op die idee gekom om haar dogter, Prinses Margaretha de Valois, te laat trou met Hendrik III van Navarre, die Bourbons se leier. Elkeen van die twee sou glo hulle eie geloof behou.  Die twee trou toe op 18 Augustus 1572, in Parys.  Die troue hou vir dae lank aan, met Parys propvol Protestante.

Op die derde dag van die troufees, in die straat in Parys, skiet ʼn skerpskutter  na die beroemde Hugenoteheld, Admiraal Coligny, in ʼn aanslag op sy lewe.  Coligny was op pad huis toe van die troue af.  Coligny is net gewond.

Maar die brose vrede tussen die Protestante- en Roomse faksies was daarmee heen.  Katarina en Koning Karel besluit aanval is die beste verdediging.  “Roei die Protestante uit! Roei die hele lot uit!” beveel die koning.  Wat volg is die  nagmerrie van Bartholomeusnag.  Met die Protestante almal gerieflik daar vir die troue in die stad, duur die massamoord ʼn hele week net in Parys.  Daarna spoel dit oor platteland toe.  Duisende Protestante is tot diep in September toe dood in ʼn seisoen van slagting. Op 29 September buig die Hugenote-bruidegom, Hendrik III van Navarre, ten aanskoue van giggelende Katarina Medici, voor ʼn Roomse altaar om te keer dat hulle hom ook vermoor.

Van toe af onthou ons Bartholomeusnag om alle martelare te gedenk. Ons moet vandag ook nie vergeet nie: in Islamlande word Christene brutaal vervolg. Die moordseisoen is nog nie verby nie.

Lied (Staande)

Kom ons sing ter herinnering aan al hierdie martelare van ons geloof.  Ons doen dit staande, en betoon so ons hoë agting vir alle geloofsgetuies.  Dis ook ons toetredelied.

Gesang 597 strofes 1, 3, 4 en 5

 

Predikant

Toetrede

Votum (Staan)

Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn. U het dié wat nie meer ‘n nasie was nie, baie gemaak, hulle blydskap groot gemaak. Hulle het hulle in u teenwoordigheid verbly soos mense bly is in die oestyd. . .

(Jesaja 9 : 1, 2)

Seëngroet (Staan)

Ek [sal] vir julle reën gee op die regte tyd, sodat die lande oeste sal lewer en die bome vrugte sal dra.

Julle sal graan dors tot dit weer tyd is om vrugte te oes, en julle sal vrugte oes tot dit weer planttyd is.

Julle sal oorgenoeg kos hê en sonder sorge in julle land woon. Ek sal vrede gee in die land sodat julle rustig kan slaap: Ek sal die ongediertes uitroei en daar sal nie oorlog in julle land kom nie.

(Levitikus 26 : 4, 5 en 6)

Ouderling

Aanbidding en lof

Sang (Staan)

Op berge en in dale, oral is ons God.  Sy troue vaderoë sien alles van naby.  Ons lewe is veilig in ons God. Dis die woorde van ons lofsang

Gesang 509 : 1, 3 en 4

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

God vra dat die geloof wat Hy in ons ingeplant het, moet groei en vrugte dra. Luister na die Here se wil soos Jesus dit in Johannes 15 vertel:

1        

“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer.

2        

Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.

3        

Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.

4        

Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

5        

“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.

6        

As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

7        

As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.

8        

My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

9        

“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly.

10      

As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.

11      

“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.

12      

Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

Skuldbelydenis (Sit)

Die Here oes nie by ons wat Hy in ons gesaai het nie.  Ons oes ook nie wat ons gehoop het nie.  Hosea 10 verse 11, 12 en 13 sê dis omdat ons sonde inploeg dat ons vyandskap pleks van liefde oes:

Efraim was ‘n mak vers wat daarvan gehou het om graan uit te trap. Toe Ek sien dat sy reeds sterk genoeg is, wou Ek haar inspan. Juda sou ploeg en Jakob sou eg.        

Ek het gesê: “Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes. Ploeg vir julle ‘n nuwe land! Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet.”

Maar julle het sonde ingeploeg en julle het vyandskap geoes. Julle het die vrug van julle valsheid geëet.

Spreuke 1:31 sê

Julle sal die vrugte van julle optrede pluk, julle sal van julle eie planne walg.

Dis bitter om die vrugte van ons valsheid te moet eet. Hoe word ons vrugte ooit weer soet?

Skuldbelydenis (Staan)

Ons bely ons skuld en bid vir vars vrugte van die geloof deur te staan en saam te sing uit

Gesang 233

Genadeverkondiging (Bly staan)

Luister na die blye boodskap van genade in Jesaja 61:

Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is,  

om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos,

die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. Hulle sal genoem word: Bome van Redding. Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder.

Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek. Ek is soos ‘n bruidegom met ‘n priesterkroon op, soos ‘n bruid met haar juwele aan.     

Soos die grond plante laat uitspruit, soos die plante in ‘n tuin vrugte gee, so gee die Here my God die oorwinning en laat Hy al die nasies luister na die loflied tot sy eer.

(Jesaja 61 : 1,2,3 en 10 en 11)

Geloofsbelydenis (Bly staan)

Ons sing vandag ons geloofsbelydenis.

Sang

Ons sing

Gesang 484 al die strofes.

Strofe 4 sê “Wie sleg is maak God nuut – ʼn mens wat Hy met vrug gebruik.”

Predikant

Gebed (Mans staan)

Ons het karig geoes.

Ons was uitgelewer aan droogte, hitte en hael.

Ons verwag reën.

Ons sien daarna uit. Ons wag met opgewondenheid, geduldig.

Ons verstaan afhanklikheid beter. Ons is weer nederig.

Kortom: ons het geleer glo.  Ons het in hierdie droë seisoen geloof geoes. Dalk was dit die belangrikste oes van onlangse jare.

Here, laat ons weer jubel soos mense wat oor oes bly is.

Sang (Staan)

Gesang 459 verse 1, 2, 3 en 4.  

Predikant

Verkondiging

Skriflesing (Sit)

Prediker 11 : 4 tot 6

(Bladsy 708 van die Ou Testament.)

4        

Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie.

5        

Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van ‘n swanger vrou, net so min kan jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles.

6        

Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort. Jy weet nie watter van die twee sal ‘n oes lewer nie en of altwee ewe goed sal wees nie.

Matteus 13 : 24 tot 30. 

(Bladsy 22 van die Nuwe Testament.)

24      

Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land gesaai het.

25      

Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn.

26      

Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword.

27      

Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’

28      

Hy antwoord hulle: ‘Dit is ‘n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’

29      

‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek.

30      

Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ”

Preek (Sit)

BaleDie lewe, sê jy, werk met wette en reëls?  Soos in “Wat jy saai, sal jy oes”, en “Wie nie werk nie, moenie eet nie”?  Maar dis nie wat die Prediker sê nie.  Die gesukkel met die soort saai- en oeswerk wat ons elke dag doen, is dat God wat laat reën en natlei, Hom nie laat voorspel nie. Sodat saad nie noodwendig opkom en oestyd vrug dra nie.

God laat Hom nie voorspel nie, want God boer met genade. Soms saai God waar daar geen oes van kan kom nie, en dan dra die plek dat jy stom staan.  En dan oes God nog waar Hy glad nie gesaai het ie.  En soms oes Hy koring waar ander onkruid gesaai het!

Sodat, om die wind en die wolke dop te hou, en die seisoene van die jaar, om die regte tyd vir saai en plant agter te kom, is eintlik nutteloos.  “Tevergeefs!” sê die Prediker.  Saai jy in die more of saai jy in die middag, maak nie saak nie, jy weet nie watter een van die twee die beste oes sal oplewer nie.  God weet, en Hy sê nie.

Dis vreesaanjaend dat die lewe saam met God so onpeilbaar is dat jy nooit weet wat wag vir jou nie.  Ek het die week vir iemand gesê ek weet nie of ek n boer sou kon wees nie.  Dog, in n sekere sin boer ek ook, ons almal dalk.  Ek voel daaroor nes ek voel oor Bartholomeusnag: ek weet nie of ek sal kan staande bly onder marteling nie, en of ek ook maar soos my naamgenoot, Hendrik van Navarre, te midde van menseslagting en dreigement van dood, my geloof sal versaak om my bas te red nie.

Maar die Here weet dit.  Hy gee geloof wat met die onsekerheid van die lewe help. Die geloof in God leer jou dit:  dat met God alle dinge moontlik is.

Sang (Sit)

Daarom, wees sterk, wys en dapper in jou geloof terwyl jy met die grond stoei. Ja, God se wil geskied. God se wil het meer met jou te make as met grond en goed. Of dit in jou werkplek goed gaan of sleg, of die oes slaag of misluk, God verlaat jou nooit nie.  Kom ons moedig mekaar aan om te glo met

Gesang 489 strofe 1

Skriflesing (Sit)

Habakuk 3 : 17 tot 19

(Bladsy 975 van die Ou Testament)

17      

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees,

18      

nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.

19      

Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Vir die koorleier. Met snarespel.

Deuteronomium 6 : 10 tot 13

(Bladsy 196 van die Ou Testament)

10      

“Die Here jou God sal jou bring in die land waarvan Hy met ‘n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om vir jou groot en mooi stede te gee wat jy nie gebou het nie,

11      

huise vol voorrade waarvoor jy nie gewerk het nie, putte wat jy nie uitgekap het nie, wingerde en olyfboorde wat jy nie geplant het nie, en jy sal kos in oorvloed hê.

12      

Maar sorg dat jy nie dan die Here vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het nie.

13      

Jy moet die Here jou God eer en dien en net in sy Naam ‘n eed aflê.

Preek (Sit)

Die gevolg van hierdie genade-boerdery van God, is dat daar soms misoeste van al jou harde werk kom, soos die een in Habakuk. En op ander kere weer, loop oes jy in n land waarin jy geen vinger gelig het nie.  Dis al’s joune om van te eet en te drink en vrolik te wees.  Gratis, vry en verniet.

Deuteronomium vertel wat dit is wat groei en oeste moontlik maak, en nie net moontlik maak nie, maar selfs waarborg.  Dis nie goeie grond, sonlig en gereelde reën nie.  Ook nie reguit ploegvore vir goeie dreinering en gif teen goggas en siektes nie. Ook nie eers dat die ryp en die hael lank genoeg moet wegbly nie.

Die Here jou God sit daaragter.  “Sorg dat jy nie . . . die Here vergeet . . . nie. . . Jy moet die Here jou God eer en dien.”  Hy is van oeste die Oorsaak en die Gewer.  Sonder om afbreuk te maak aan n kundige en vlytige boer, verdien God lof en dank by elke oestyd.

Sang (Sit)

Maar misluk die oes, al jou insette ten spyt, en alles hier vergaan, is die lewe moeilik, maar nog nie sonder God nie.

Gesang 516

Skriflesing (Sit)

Johannes 6 : 26 tot 29

(Bladsy 130 van die Nuwe Testament)

Oes26      

Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.

27      

Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

28      

Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”

29      

En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

Preek (Sit)

Ons ploeg en plant om alles van koring tot kontant te oes. Die God wat met genade boer, het n ander oes in gedagte. Op sy lande moet mense groei.  Dis by genade dat mense se lewe begin en dis by God dat ons lewe geen einde kry nie.

Met die oes in gedagte is God self die Saaier, en self die Saad. Hy saai Homself oor die wereld uit. Sy woorde is meer as geluide in n bietjie asem.  God se woorde is stukke van Homself wat uit sy keel uitklim en gaan doen wat Hy sê. Sy Woord is saad wat vanself groei. Sy woord skep wêrelde, sy woord skep die hele werklikheid. Alles, van groenplante vir die mens se kos, tot ligte vir n mens se donkerste nag. Dat die mens kan oes en eet en drink en vrolik wees.

God is van almal van ons die grootste boer.  Of Hy kan spog met die grootste oes, daarvan is ek nie altyd so seker nie.  Jy kry die sonde nie so maklik dood soos n tsetsevlieg of n malariamuskiet nie.

Hy saai sy Woord om mens te word.  Hy saai Homself in die vrugbare vlees en bloed van jongvrou in, en laat groei in haar buik – Homself!  God die Seun. In die dorre, liefdelose droogte waar mense woon, begin God van voor af skep.  Die keer skep Hy liefde.

God die Seun se lyf, sy lewe, sy vlees en bloed, sy liefde, word volgende week hier weer saad wat God saai in ons.   Tussen dorings en onkruid, op klippe en harde paaie, uit harde harte Gaan God wonderbaarlik nuwe vleis-en-bloed-mense te laat opkom vir die oes vir sy graanskuur in die hemel.

Sang (Sit)

Uit die droë hout van sondige mense, spruit ʼn loot, kom daar groei.  God plant Homself in ons. So sê

Gesang 323 strofes 1 en 2

Skriflesing

1 Petrus 1 : 23

(Bladsy 308 van die Nuwe Testament)

23      

Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.

Romeine 10 : 17

(Bladsy 209 van die Nuwe Testament)

17      

Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.

Preek (Sit)

In ons saai God Homself, sy Seun en sy Heilige Gees: sy onverganklike saad. Waar kom Hy dan in?, wil jy weet. By jou ore mos.  En hoe?  Met sy stem, sy Woord.  Dis sy Woord wat deur jou ore by jou inklim en in jou hart kom wortelskiet, wat daarvandaan groei en grootword tot dit in jou hele lyf leef: in jou hande en gedagte, in jou voete en alles wat jy doen. Alles, hoe jy na die lewe en die wereld kyk, hoe jy werk en hoe jy speel, hoe jy praat en sing en vurig liefhet en weerstand bied teen kwaad en haat, alles, is Hy en jy, saam. Julle is God se onverganklike saad aan’t groei in die wereld. Hou daarmee vol.  Groei en word groot, dra vrugte in God se land, boord en wingerd, sodat jy soos voedsel afgeoes kan word, en lewe kan gee.

Skriflesing (Sit)

1 Petrus 1 : 22 tot 25

(Bladsy 308 van die Nuwe Testament)

22      

Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.

23      

Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.

24      

Die Skrif sê: “Die mens is soos gras, en al sy prag soos ‘n veldblom; die gras verdor en die blom val af,

25      

maar die woord van die Here, dít bly vir ewig.” En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.

Romeine 10 : 8b tot 10

(Bladsy 208 van die Nuwe Testament)

8

En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig:

9        

As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

10      

Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.

Sang (Sit)

Gesang 501 strofe 1

Skriflesing

Johannes 4 : 34 tot 38

(Bladsy 127 van die Nuwe Testament)

34      

Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.

35      

Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes.

36      

Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly.

37      

Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’

38      

Ek het julle gestuur om ‘n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.”

Preek (Sit)

Julle is sy oes, julle wat vol is van die vrug van geloof wat God in julle ingeplant het. Julle was van die begin af vir hierdie oesdag bedoel. Al langs julle groeipad was dit Hy wat julle groeikrag was.

Wat sal Hy ons in hierdie oesseisoen gee om van leef?  Benewens Christus? Ons kos is om die wil te doen van Hom wat lewe. Daarom kan ons dit regkry en daarmee uithou en aanhou, tot sy oesdag kom.

Intussen bly ons eie oeste ook nie uit nie.  Ons oes ook. Ons saai steeds in die hoop dat daar iets van sal kom, al is die kanse goed dat iets dit sal verwoes. Ons oes selfs mense. Die mense vir wie jy die liefste het, is die oes wat Hy in jou land kom saai het.   Die mense van wie jy die minste hou, kom van dieselfde land af, is deel van een en dieselfde oes.  God s’n.

Sang (Sit)

God het ons almal hier geplant

Gesang 522 strofe 1

Skriflesing

Deuteronomium 26 : 1 tot 4

(Bladsy 215 van die Ou Testament)

1        

“Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God aan jou gee as jou eiendom en jy dit besit en jy daarin woon,

2        

moet jy van elke eerste oes wat jy insamel in die land wat die Here jou God aan jou gee, ‘n deel vat en dit in ‘n mandjie sit en daarmee na die plek toe gaan wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te laat woon.

3        

Jy moet na die priester toe gaan wat in daardie tyd daar sal wees, en vir hom sê: ‘Ek verklaar vandag voor die Here u God dat ek gekom het in die land wat die Here met ‘n eed aan ons voorvaders beloof het om aan ons te gee.’

4        

Dan moet die priester die mandjie by jou vat en dit neersit voor die altaar van die Here jou God.

Romeine 12 : 1 tot 3; 9 tot 12

(Bladsy 211 van die Nuwe Testament)

1        

En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

2        

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

3        

Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.

9        

Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is.

10      

Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.

11      

Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.

12      

Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.

Preek

Maak daarvan gewoonte om jou oeste en jou oesdae te vier.  Sommer ook jou misoeste en jou mislukkings.  Want daaruit oes mens wysheid.  Bring aan God lof en dank.  Hy is alles in almal.  Alles is danksy Hom.

Sang

Gesang 457 strofes 2, en 3

Dankgebed, Voorbedes (Staan)

Wegsending:

Slotsang (Staan)

Gesang 184 strofes 1,2,3 en 4

Seën (Staan)

Ontvang die Here se seën uit Maleagi 3:

 

10

Toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.

 

11      

Ek sal die sprinkane keer dat hulle nie die oes op julle land vernietig nie, en dat julle wingerde nie sonder vrugte is nie, sê die Here die Almagtige.

 

12      

Dan sal al die nasies julle as gelukkige mense beskou; julle sal in ‘n begeerlike land woon, sê die Here die Almagtige.

 

(Maleagi 3 : 10, 11 en 12)

 

Amen.

 

Respons (Staan)

Gesang 170

Afkondigings

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s