Die Owerheid

Petrus 2 verse 12 tot 14.

7 Romeine 13 : 1 – 7

1 Augustus 2016, NHKA Kampersrus

Werk van die Heilige Gees

TOETREDE

Predikant

SA VerkiesingOns het nuwe plaaslike owerhede.  Party van ons het gekry waarvoor ons gestem het, ander nie.  Dis demokrasie: “die mense het mag / die mense regeer”.  Dis tydig, dink ek, dat ons weer bely: God regeer.  God regeer ook Suid-Afrika, maak nie saak hoe moeilik dit is om te verstaan nie, dis wat die Bybel sê. Ons vier vandag dat God in beheer is, en ons dink aan wat dit beteken vir ons verhouding met owerhede.  . . . En vir ons verhouding met God.

Liedere (Sit)

Ons sing ʼn loflied oor God se heerskappy.  Psalm 98 sê wat uitstaan van God se regering is dat Hy, anders as aardse owerhede, redding en bevryding bring.

Psalm 98 strofes 2 en 3

Nog ʼn loflied, Psalm 146, sê ook dat God heers en deur Hom sal daar redding kom.  Maar die Psalm waarsku dat die mens verganklik is, selfs die magtigste word grond en al sy planne gaan tot niet.  Hoe kan ʼn mens jou redding bied?

Psalm 146 strofes 1, 2, 4 en 6

TOETREDE

Ouderling

Toetredelied (Staan)

Ons kom erediens toe met die gebed van Gesang 155:  ons vra dat God se liefde ons moet regeer.

Gesang 155 strofes 1,2 en 3

TOETREDE

Predikant

Votum (Staan)

13

By God is wysheid en krag, by Hom is raad en insig.

14

As Hy afbreek, kan niemand opbou nie, as Hy gevange neem, kan niemand vrylaat nie.

15

As Hy die water terughou, verdroog alles, as Hy dit laat losbreek, vernietig dit die aarde.

16

By Hom is daar mag en oorwinning, wie bedrieg en wie bedrieg word, is albei Syne.

17

Hy laat raadgewers van konings kaalvoet loop en maak van regeerders gekke.

18

Hy vernietig die gesag van konings en laat hulle slaweklere dra.

19

Hy laat priesters kaalvoet loop en laat dié wat die mag het, ondergaan.

Job 12

Seëngroet (Staan)

11

Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

12

Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ʼn beskutting.

Psalm 46 : 11 en 12

AANBIDDING EN LOF

Ouderling

Sang (Staan)

Kom ons sing tot lof van die God wat raadgewers van konings kaalvoet laat loop, van regeerders gekke maak en die gesag van konings vernietig, en in plek daarvan ʼn koninkryk vestig wat met genade werk.

Gesang 190 strofes 1, 2 en 3

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Ons hoor vandag hoe God wil hê ons moet lewe uit Titus 3 verse 1 tot 3

1

Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is.

2

Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal.

3

Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat.

Ons het die sonde nog nie agter ons kon sit nie.  Ons is nog steeds haatlik, en hou aan om mekaar te haat. Dis ʼn sterk woord, “haat”; dog, dis die woord wat die Bybel gebruik.  Dis ʼn woord wat jou dadelik laat voel jy wil jouself verontskuldig, want dis darem erg.  Maar dis wat Titus 3 die sonde noem: “haat”.  Kom ons bely dat ons haat. Ons sing

Sang (Staan)

Gesang 585 strofe 1

Genadeverkondiging (Bly staan)

In net die volgende vers van Titus 3 staan daar (van vers 4 af)

4

Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn.

5

Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.

6

God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser.

7

So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.

8

Dit is ‘n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense.

As ons dan nou geloof in God bely, verbind ons ons ook daartoe om vir mense goed te wees en te doen wat vir mense nuttig is.

Geloofsbelydenis (Bly staan)

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;

en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;

God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;

deur wie alle dinge ontstaan het;

wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;

en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;

wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;

wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het; wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;

en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.

Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.

Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;

ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu.

Amen.

Sang (Staan)

Die God wat ons bely, is nou hier.  So sê

Gesang 159 strofe 2  

AANBIDDING EN LOF

Predikant

Gebed (Mans staan)

VERKONDIGING

Predikant

Skriflesing (Sit)

Romeine 13 vers 1 tot 7

Bladsy 218 van die Nuwe Testament.

1

Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.

2

Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry.

3

‘n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie, maar wel as jy kwaad doen. Wil jy sonder vrees vir die owerheid lewe? Doen dan wat goed is, en die owerheid sal jou prys,

4

want die owerheid is ‘n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat hy die kwaaddoener moet straf.

5

Daarom moet jy jou onderwerp, nie net omdat jy vir straf bang is nie, maar ook omdat dit ‘n gewetensaak is.

6

Dit is ook waarom julle belasting betaal, want die owerhede is dienaars van God en hulle is besig om hulle opdrag uit te voer.

7

Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is.

1 Petrus 2 verse 12 tot 14.

Bladsy 321 van die Nuwe Testament

12

Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.

13

Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is

14

of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys.

 

Sang (Staan)

Gesang 470 strofes 1, 2 en 4

Preek (Sit)

In die nag van 1, of dalk 2, November 1561, gooi iemand ‘n pakkie van binne af oor die muur van die kasteel by Doornik, in die suide van Nederland.  In die pakkie was ‘n brief aan koning Filips II, die koning van Spanje.  Filips II was toe ook die heerser van die Nederlande. In dié brief het die vervolgde Calviniste in die Suidelike Nederlande ‘n beroep op die koning gedoen om die vervolging van Calviniste te staak. Om aan te toon dat die Calviniste nié ketters was of die bestaande burgerlike orde omver wou werp nie, is ‘n gedrukte eksemplaar van wat die “Nederlandse Geloofsbelydenis” sou word, by die brief ingesluit.

Die Belydenis was die handewerk van ʼn jong dominee Guido de Brès (1522-1567).  Hy was ‘n jong Calvinistiese predikant.  Omdat die Roomse owerhede Calviniste woedend en bloedig vervolg het, moes hy telkens op vlug slaan en rondswerf en kon hy baie selde in die openbaar preek.

In Artikel 36 van sy belydenis, skryf De Bres oor die vyandige owerheid.  Hy sê:

“Ons glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag, konings, vorste en owerhede aangestel het.  Dit is immers sy wil dat die wêreld deur middel van die wette en regerings geregeer moet word, sodat die losbandigheid van die mense in bedwang gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop.

Vir dié doel het Hy die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Romeine 13:4) en die deugsames te beskerm.

En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie, maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die Antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder en orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word, soos Hy in sy Woord beveel.

Verder is elkeen verplig, van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, om hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie, en vir hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur, “… sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid”(1 Tim 2:2).

Hierin verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder die mense ingestel het, versteur.”

Dis moeilik om te glo De Bres het dit geskryf.  Hy is heeltyd op vlug van ʼn owerheid wat sy dood soek. Hy lewe alles behalwe ʼn rustige lewe.  Dog, sê die man,. “ . . elkeen is verplig om

  • hom aan die owerhede te onderwerp,
  • belasting te betaal,
  • aan hulle eer en onderdanigheid te bewys,
  • hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie, en
  • vir hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur, juis

… sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid” (1 Tim 2:2).

Gaan soek jy op die internet na Afrikaanse artikels oor hoe ons oor die owerheid moet dink en of ons ons mag verset, kry jy heelparty wat sê tekste soos Romeine 13 en 1 Petrus 2 en 1 Timoteus 2 sê wel jy moet jou aan die gesag van die owerheid onderwerp, maar onder bepaalde omstandighede mag jy maar in opstand kom. Dit hang van omstandighede af.  Konteks is koning.  Al die artikels is na 1994 geskryf.

Ons het nuwe plaaslike owerhede.  Party van ons is bly en ander is teleurgesteld. Maak nie saak wat jou politieke oortuiging is nie, almal van ons sien die foute van die owerhede raak, en almal van ons voel daar is ruimte vir verbetering.  Toe ons die week stembus toe is, het ons die magtigste middel wat in demokrasieë tot ons beskikking is, gaan inspan om dit beter te maak.  Die frustrasie dat dit toe nie veel verskil gemaak het nie, is moeilik om te beteuel.   En dis normaal om te wonder: is daar nie ʼn ander manier nie?  En as selfs die Bybel klink of hy sê nee, kan jy begin dink: “dis makliker gesê as gedaan.”   Die omstandighede was dalk destyds anders, die regering minder dreigend.

1 Petrus 2 vers 17 sê: “Vrees God.  Eer die keiser.” As dit jou nie laat regop sit nie, besef jy duidelik nie wat dit impliseer nie.  Nie net in Petrus nie, maar ook in die res van die Bybel: hier in Petrus, regeer Rome oor Palestina.  Trouens, van die hele tydperk wat die Bybel dek, het Israel net onder die bewind van die konings hulleself geregeer.  Selfregering het nie vir lank die volk kon saamsnoer nie, en dit het ook nie met hulle waffers goed gegaan nie.  Net twee konings kon dit regkry om die hele volk onder een dak bymekaar te hou: net Dawid en Salomo het tegelykertyd oor Israel se tien stamme in die noorde en oor Juda in die suide kon heers.  Daarna is die tien noordelike stamme weer vort, en twee koninkryke kom tot stand, met net Juda alleen in die suide.  Die res van die tyd was hulle of landloos of vreemdelinge in vreemde lande: hawelose trekkers, woestynbewoners, besoekers, inkommers, indringers, alles behalwe landsburgers of grondeienaars, nog minder ʼn soewereine volk met politieke mag en ʼn eie stem.  Hulle was slawe in Egipte, bywoners selfs van die Beloofde Land Kanaän se inheemse mense, bannelinge weggevoer deur die Assiriërs en Babiloniërs, vervolg deur Filistyne, Ammoniete en Edomiete, versprei in die Joodse Diaspora,  oorheers deur Rome. Bitter selde is enigiets wat ons van Israel in die Bybel lees, geskryf toe Israel oor hulleself geregeer het en oor hulle eie lot kon besluit.  Trouens, telkens wanneer die Bybel pleit vir onderhorigheid aan ʼn owerheid, is die gesag in die hande van ʼn vreemde mag.  Toe Petrus hierdie brief skryf, het die keiser wat in Rome sit, die laaste sê oor wat in Jerusalem gebeur.

“Vrees God.  Eer die keiser,” sê Petrus. Moenie in opstand kom teen ʼn owerheid wat vir God nie ken en Hom nie dien nie, maar so in die mag van die staat glo, dat hulle aan die keiser soos aan ʼn god hulde bring.

Jesus leef ook onder ʼn Romeinse owerheid wat plaaslike regerings in die Ryk aangestel het as hulle pionne om die vrede te bewaar.  Daarom, toe die Fariseërs en Herodiane Hom vra of dit reg is om aan die keiser  belasting te betaal, wil Jesus weet wie se kop is op die munte.  “Die keiser s’n,” antwoord hulle. Toe sê Jesus vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

Die twee, God en regering, sluit mekaar nie uit nie, en staan ook nie teenoor mekaar nie.  En dis nie dat die keiser se regering in God glo, of met hedendaagse agting vir godsdiensvryheid regeer nie.   Die keiser-kêrel ag homself half-goddelik: sy beeld staan binne-in die kerk en jy moet aan hom eer betoon as jy daar kom.  Iets soos ons wat opstaan as die volkslied speel.

Ja, konteks is belangrik. Wat ingrypend en genadiglik verander het sedert daai bitter dae van die vroeë kerk, in Jerusalem en in die Romeinse Ryk, en die verskriklike lyding in die Nederlande en die res van Europa na die Hervorming, is dat die kerk en die staat van mekaar losgetorring is.  Die regering sê nie meer vir ons wat en hoe ons moet of mag glo nie.  Ons hoef nie vertoë aan Zuma te rig as ons aan die Hervormde Kerk se Kerkorde wil verander, soos De Bres by Filips II moes soebat nie.  (So terloops, die rede vir waarom die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se logo die staatswapen van die Zuid-Afrikaansche (Boere-) Republiek is, is dat ons ook staatskerk was.)  Ons hét geleer dat, hier by ons, bewaring betaling soek.  Netnou-netnou skryf die staat sommer ook vir jou voor wat jy met die evangelie mag doen.

En moenie die fout maak om te dink dis oor ons nie oor onsself regeer nie, en dat ons dit anders sou doen nie.  Dis Herodes, Jesus se eie mense, die Jode, se eie koning en hoof van die plaaslike owerheid, wat vir Jesus dood wil hê en dan kinders in Galilea laat uitmoor. Dis die Joodse Raad wat vir Petrus en die apostels wil keer om oor Jesus te preek, hulle met houe straf en tronk toe stuur.  Dis die Jode van Jerusalem wat vir gelowige volksgenoot Stefanus in die straat stenig, met ene Saulus van Tarsus se heelhartige steun.

Of die goeie gebeur, gaan nie oor of ons of hulle regeer nie. Dit gaan oor of ons besef God is in beheer.

Meer as ʼn duisend jaar na Paulus se brief aan die Romeine wat sê gelowiges moet hulle aan die owerheid onderwerp, heg Guido de Bres ʼn smeekbrief aan Koning Filips II aan die Nederlandse Geloofsbelydenis waarin hy pleit die koning moet asseblief tog met die vervolging van Calvyn-gelowiges ophou. En in ons tyd, nog ʼn duisend jaar later, is die evangelie tog seker nog een en dieselfde, dan nie?

Aan die onoorwinlike koning Filips, opperheer,” skryf De Bres.  (“Onoorwinlik”, in dié geval, op die slagveld, nie by die stembus nie.) “Genadige heer,” noem hy die in-oorlog-onoorwinlike koning. “Daarom versoek ons dat u, genadige heer, ons in die Naam van God sal toestaan wat ‘n mens selfs aan diere nie kan weier nie, naamlik om ons noodkreet van ver af aan te hoor. Indien u majesteit ons saak aangehoor het en ons skuldig bevind, kan die brandstapels maar vermeerder en die pynigings en folteringe maar toeneem in u koninkryk. Daarenteen versoek ons dat, indien ons onskuldig blyk, u van u kant aan ons steun en beskerming sal verleen teen die geweld van ons vyande. . . Daar word gesê dat ons ongehoorsame rebelle is wat slegs ten doel het om die staatkundige orde omver te werp en verwarring en chaos in die wêreld aan te rig. Verder, dat ons nie alleen onder u heerskappy en gesag probeer uitkom nie, maar dat ons u ook van u troon wil stoot. Ons word dus aangekla van misdade wat nie strook met ons belydenis nie, nie met die lewe van ‘n Christen nie en selfs nie met mens wees in die algemeen nie. Indien dit waar sou wees, sou die ou woord van die tiranne tereg weer kon geld: Na die wilde diere met die Christene.

Dat die owerheid nie glo soos ons nie, en nie maak soos ons sê nie, of regeer sonder dat ons hulle gekies het, is geen rede om aan die owerheid ongehoorsaam te wees nie.

Want alle gesag, selfs ons owerhede s’n, kom van God af. Of ons daar iets mee te make het, is irrelevant.  Dis God wat beheer het. “Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God,” laat Paulus ons goed verstaan.  Hy voeg by: “Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry.”  Dit kon vir Paulus persoonlik suur bekom het as hy hom teen die keiser verset het:  hy kon hom nog in sy eie regsaak teen die Jode op die keiser in Rome beroep.

Maar kort hierna sou Nero in Rome oorvat en Christenvervolging deur die staat begin.  Sou Paulus hom dan nog kon veilig voel onder die Romeinse keiser?  Is hy nie effens naïef nie, as hy sê:  “’n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie, maar wel as jy kwaad doen. Wil jy sonder vrees vir die owerheid lewe? Doen dan wat goed is, en die owerheid sal jou prys, want die owerheid is ‘n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat hy die kwaaddoener moet straf. … Want die owerhede is dienaars van God en hulle is besig om hulle opdrag uit te voer. Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is.”

Is die owerheid altyd goed vir ons?  Nee.

Die instruksie klink na malligheid.  En hoe strook dit met die Here wat in die Ou Testament profete stuur met ʼn duidelike sosiaal-politieke agenda: dat die owerheid die weduwees en die wese – die armes oor die algemeen – moes  versorg of hulle gaan op hulle herrie kry?

Ons mag praat.  Ons moet onreg ontmasker.  Ons moet vergrype aan mag en uitbuiting van swakkes en onderdrukking van magteloses blootlê.  Ons moet aandring op sorg, opheffing, billike behandeling, regverdige oordeel, en al die ander goed op God se agenda.  Maar 1 Petrus 2 sê dit weer en baie duidelik, dus is daar duidelike eengesindheid hieroor onder die apostels wat self onder heidenregerings ly; hulle sê almal: “Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is, of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys.”

Hoe en hoekom? Petrus gee ʼn rede daarvoor: “Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.”

By implikasie: dat die regering, of enigiemand anders, hulle sleg gedra, kwaad doen as hulle reg moet laat geskied, en hulle teen God opruk en die orde omverwerp as hulle juis die goeie orde moet hou, is mos nog nie toestemming dat ons ook maar so kan maak nie!

Want God heers nie net oor regerings nie.  God heers oor ons. As ons dit nie wys nie, hoe kan ons daarop aandring die owerheid moet?  Dit moet uit ons doen en late blyk dat God regeer. Selfs die heidene, selfs hulle regerings, en ons s’n, moet dit aan ons kan raaksien.  Dan sal dit blyk dat húlle die misdadigers is wat God se gesag ontken en dat hulle hulle mag misbruik.

Gedra jy jou goed onder ʼn vyandige regering, sal hulle jou (hopelik) in vrede uitlos.  Dan kan jy ongehinderd aanhou om die Here te dien. Dis ons hoogste prioriteit.  Want of jý die Here dien, is waaroor jy jou die meeste moet bekommer. God sal self die owerheid regsien. God beskik. Die Here, die Almagtige, heers en regeer.  Niemand sal met sonde wegkom nie. Sê dit aan die staat en die stadsraad. Sê dit in die straat.  Praat politiek, nie die politiek van partye nie, maar van die koninkryk van God. Doen dit sonder om die vrede te versteur en die orde omver te wil werp.  Speel binne die reëls van die spel.

Calvyn doen dit: hy besef hy moet die konings in toom hou.  Daarvoor stel hy magistrate aan – ons praat van ʼn ombudsman, of ʼn grondwetlike hof – by wie jy kan appelleer teen die owerheid.  Hy skep daarvoor struktuur, en dring daarop aan dat ons dit gebruik.

Want onthou dat met die skepping God ons aanstel om te heers, om te regeer.  Destyds was toe nog nie state en regerings nie, net jy en sy skepping. Heers daaroor, sê God, vat beheer oor alles hier.  Daar waar jy leef, daar waar jy reeds is en orals waar jy kom, is jy my verteenwoordiger, my goewerneur, my plaaslike owerheid.  Dis dalk ʼn ou klein mishopie waaroor jy baas is, ʼn gesin, ʼn vriendekring, ʼn familie of ʼn kerkie, ʼn skool of ʼn belangegroep of ʼn gemeenskap miskien?  Waar twee of drie mense bymekaarkom, daar is God al, en jy saam met Hom.  Jý is daar om aan sy regering gestalte te gee.  Hy het jou daar gesit om sy wil te doen, en sy wil te laat geskied.  Vraag is: is waar jy regeer, daar reg en geregtigheid, vrede, vreugde en voorspoed?  En word God daar gedien?  Sou jy weer ingestem word? Is jy regering, of terroris? Is waar jy heers daar vrede of ʼn skrikbewind?

As jy sukkel met Paulus en om die dood nie kan verstaan hoe hy dit regkry om positief te bly ten spyte van die mislukkings van menslike regering nie, is die boodskap duidelik: wees jy gehoorsaam aan God.  Regeer jy saam met Hom oor die klein dingetjies wat aan jou sorg toevertrou is.  Doen jy wat Hy wil hê.  Dis genoeg, oorgenoeg om die reg te laat geskied en die orde te handhaaf.  Doen dit vir God, nie vir mense nie.

Regering is nie toevallig nie.  Die regering is nie goed nie.  Gesag is God s’n, en Hy gee dit aan wie Hy wil.  Hy is soewerein.  Hy het die reg om heers aan hierdie owerhede gegee.  Respekteer God. Eer die keiser.  En dien jy die Here.

Dis vandag die vraag: regeer God ook deur jou?

Amen.

DANKGEBED, VOORBEDES

Predikant

 

Gebed (Mans Staan)

WEGSENDING

Slotsang (Staan)

Ons sluit af met ʼn lied wat die Here loof, uit die hemel, in die skepping en onder alles wat mense doen.

Gesang 199 verse 1, 2 en 3

Seën (Staan)

Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ʼn mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen.

Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.

Psalm 146 : 3,4,5,10

Respons (Staan)

Gesang 204

Afkondigings

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s