Waar is God as die bom bars? Waar is jy?

Met terreur, en geweldsmisdaad, reageer ons soms met:  “Waar is God?  Waar was God toe die ding gebeur het?”  Die dag na Adam die bom los, gaan trek die man vir hom mooi aan.   “Retail therapy“.  Mooi getooi in n vyeblaarskepping gaan Adam wegkruipertjie speel. Sodat God, as Hy op die ramptoneel aankom, moet vra:  “Waar’s jy, Adam?”  Waarom doen jy niks om die sonde en sy gevolge te keer nie?  Waar is jy as die bom bars, Adam, Kain, . . .

Genesis 1 en 2

24 Julie 2016, NHKA Kampersrus

Werk van die Heilige Gees

 

Predikant

Liedere (Sit)

Die Psalm dink oor hoe God met sondaars afreken. Dit vra God moet oordeel oor sondaars wat die wat God liefhet seermaak en skade berokken. Dis gemik teen mense wat oor ander smalend en neerhalend is, vermetel is en mense onderdruk. “O dwaas, word wys, word nederig.”

Psalm 94 strofes 1,3 en 4 (voorheen Psalm 7)

Psalm 18 antwoord op Psalm 94.  Dit sê God hoor my roep en keer sommer stukke aarde om om my te kom help as ek die slagoffer word van sulke mense wat hulle teen God verhef en my verniel. Die 7de strofe sê ons kan op God staatmaak.

Psalm 18 strofes 2 en 7, die tweede melodie

 

Ouderling

Toetrede:

Toetredelied (Staan)

Ons tree tot die erediens toe met ʼn lied wat bid dat die Here ons tot “dig by” Hom sal laat kom.  “Snags vind ek: U praat met my” sê strofe 2, en ons juig, sê vers 3, “want die Here is naby.”

Psalm 16 strofes 1,2 en 3, die Antjie Krog teks, die tweede melodie (dieselfde melodie as Gesang 240)

Bernard, daar is twee weergawes van dieselfde Psalm in die Liedboek.  Die eerste is van TT Cloete.  Ek ken glad nie die melodie daarvan nie.  Maak asseblief seker dat ons die tweede melodie gebruik, want ek dink dis in die Liedboek nogal verwarrend aangesien daar nie pertinent gesê word daar is twee weergawes van die lied nie.  

Predikant

Toetrede

Votum en Seëngroet (Staan)

8

Kom tog, Here, help my, my God! U het nog altyd my vyande se mag verbreek, U het die aanval van die goddeloses afgeslaan.

9

Hulp kom net van die Here af. U laat dit goed gaan met u volk.

Die votum en seën kom uit Psalm 3.

Ouderling

Aanbidding en lof

Sang (Staan)

Kom ons sing tot lof van God wat ons veilig hou.

Psalm 48 strofes 1 en 2

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

In Romeine 13 verse 8 tot 14 sê God Hy wil hê dat gelowiges só moet lewe:

8

Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.

9

Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

10

Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

11

En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het.

12

Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem.

13

Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.

14

Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.

Skuldbelydenis (Staande)

Sang

Ons bely dat ons nie net slágoffers van sonde is nie.  Óns is die mense wat sonde dóén.  Óns rig met sonde skade aan, aan onsself én aan mekaar.  Ons voer nie die wil van God uit nie.  Ons bely dit nou weer met die beryming van dieselfde gedeelte wat ons nou net ook gelees het:  Romeine 13 verse 8 tot 14.  Ons sing

Gesang 235 : 1, 2 en 3.

Genadeverkondiging (Bly staan)

Uit Spreuke 8 verse 34 tot 36 leer ons dat God mense wat by Hom genade kom soek, nie aan ʼn lyntjie hou nie.

34

Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister, die mens wat elke dag na my huis toe kom en op my drumpel staan en wag.

35

Wie my vind, vind die lewe self en geniet die guns van die Here.

36

Maar wie my nié wil vind nie, doen hómself skade aan; wie my haat, hou van die dood.”

Geloofsbelydenis (Bly staan)

Hier staan ons op God se drumpel en wag dat Hy ons genadig moet wees en kom ontmoet.  Ons vind God hier, en ons geniet sy guns.  Ons sit nou die sonde agter ons.  Ons sal onsself en mekaar nie langer sulke skade aandoen nie.  Want . . .

Ons glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Ons glo in die Heilige Gees.

Ons glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

Die wederopstanding van die vlees, en ‘n ewige lewe.

Sang

Om ons geloof in God saam te bely, sing ons sy lof.

Gesang 207 strofes 1, 4

Predikant

Gebed (Mans staan)

Sang (Staan)

Ons berei ons voor om na die Woord van God te luister.  Ons doen dit met

Gesang 255 strofes 1, 2 en 3.

Ons begin deur te sing die Woord van God is betroubaar, vas en waar, en niks sal ons van stryk bring nie.  Praat die Here met ons, word die tyd oomblikke van ewigheid.

Predikant

Verkondiging

Skriflesing (Sit)

Genesis 3 verse 1 tot 12

1

Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”

2

Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin.

3

God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.”

4

Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie,

5

maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”

6

Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.

7

Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere.

8

Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin.

9

Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”

10

En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”

11

Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?”

12

Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.”

Genesis 4 verse 2b tot 10

2

. . . Abel was ‘n veeboer en Kain ‘n saaiboer.

3

Na verloop van tyd het Kain van die opbrengs van die land ‘n offer aan die Here gebring.

4

Abel het dit ook gedoen, van die eerstelinge uit sy kudde, van hulle vet. Die Here het vir Abel en sy offer aangeneem,

5

maar nie vir Kain en sy offer nie. Kain het baie kwaad geword en hy was bedruk.

6

Toe sê die Here vir Kain: “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk?

7

Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.”

8

Kain het met sy broer Abel gepraat, en toe hulle in die veld was, het Kain vir Abel oorweldig en hom doodgemaak.

9

Toe vra die Here vir Kain: “Waar is jou broer Abel?” en Kain antwoord: “Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?”

10

Maar die Here sê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My.

In Spreuke 2 verse 1-5 staan daar die erediens is eintlik harde werk.  Dit sê:

“My seun, neem aan wat ek jou sê, maak wat ek jou voorskryf jou eie, hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan. Roep insig by, vra na gesonde begrip. Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ‘n verborge skat. Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken.”

Sang (Staan)

Kom ons juig saam oor hoe groot God is, dat Hy die wêreld wat ons gebreek het, weer kom heelmaak het en dat Hy ons vertrou om deel te wees van sy grootse werke.

Gesang 464 strofes 1,3 en 4

terrorism globePreek (Sit)

Parys, Nice, Orlando, Istanbul en Bagdad.  Vakansiebestemmings, so klink dit, dié voetspoor van gruwels en dade van terreur deur die sogenaamde Islamstaat. Hulle is orals, en jy is nêrens veilig nie, so voel dit.  Maar dis die hele idee nè?  Dat ons almal vir hulle moet bang wees, dié terroriste van die dag.

Dog, daar is ʼn gevaarliker terroris los daarbuite.  Jy kan jou eie adres by daai terroristeaanvalle byskryf.  Maar nie oor ISIL met jou persoonlik ʼn appeltjie te skil het nie – dis buitendien mos “nie persoonlik nie” nè? – maar oor dit is waar jy bly.  As dit gaan oor of ons vir iets of iemand bang moet wees, staan jou naam ook op die lys.

Daar waar jy is, waar jy leef en werk, is jy en jou sonde die terreur waarvoor mense skrik. Almal daar waar jy is, loop gevaar om slagoffers te word van jou sonde. Dis net ʼn kwessie van tyd: ons sál met jou sonde te doen kry. Ons weet, want ons loop al klaar deur. Ons is vir jou bang.  Ons loop draaie om jou, op eiers, trap suutjies, uiters versigtig.

Jy hoef nie vreeslik ver te loop soek vir die bewyse hiervan nie. As jy die verwoesting van die sonde aan jou lyf wil voel, hoef jy maar net te vra of die lewe vir jou soms te erg raak, en jy sien nie kans vir aangaan nie. Al’s is woes.  En jy vind jou alleen.  Hier’s niemand naby waarop jy kan leun nie.  En die lewe het sy sin verloor en wat oorbly, is ʼn hol dop.   Jou wêreld het in ʼn onherbergsame plek ontaard: jy oorleef nie meer nie.

Woes en leeg – of heeltemal onbewoonbaar, soos wat die 1983-Afrikaanse vertaling dit noem – dis die woorde waarmee die Bybel ʼn deurmekaarspul beskryf. Deurmekaar, soos voor die skepping. ʼn Plek waar net God kan bestaan.  Geen wonder jy kry nie geleef nie.  Dis hoe dit was vóór God hier aangekom en besluit het om orde te skep, júis sodat mense ʼn kans op lewe kon kry.

Geen mens kan in chaos leef nie.   Maar sowaar as padda manel dra, net waar jy ʼn mens neersit, in ideale omstandighede, neig daai mens na die chaos toe terug.  Skaars geskep, hoor jy God al vra: Wat gaan nou hier aan?  Hoekom is hier chaos in die orde wat Ek geskep het? Waar kom dit vandaan?

En raai waar gaan soek God die oorsaak van die gemors:  Waar’s jy, Adam?, roep God.  Ek bedoel, waarom roep God nie die slang nie?  Hoekom nie sommer vir Satan self nie, eerder as een van die duiwel se agente?  Was dit nie húlle skuld nie, of ten minste dan hulle skuld óók nie? Trouens, was dit nie méér húlle skuld as Adam s’n nie?

Hoekom roep God heel eerste vir Adam?  Is dit oor jy van ʼn man niks anders en  niks beters kan verwag as net sonde nie?  Is ʼn man dan gevaarliker as ʼn giftige reptiel en ʼn los duiwel? Is sonde en skade maar wat ons doen, ons bloedspoor op die aarde, ons kenmerkende vingerafdrukke op die wêreld, bewysstuk van ons skuld? Sodat, as jy vir moeilikheid soek, soek net ʼn mens en jy gaan dit kry?  En is God ʼn forensiese polisieman wat kom krap in die altaar-as om mense uit te vang en op te hang?

Vir die skade wat sonde aanrig, hoef jy nie ver te soek nie.  Soek jouself, en jy kry die sonde daar.  Die sonde het jou naam, en jou adres. Die sonde weet waar jy bly, en is saam met jou daar tuis. Dis net God wat jou moet soek en roep, want jy dink mos jy kan wegkruip en sonde wegsteek.  God speel met jou wegkruipertjie soos met ʼn kind onder ʼn kombers: Waar’s hy, waar’s hy? Daar’s hy!

Nie net lê jou sonde die wêreld vol nie, jou sonde merk jou, trek jou af, hou jou terug, breek jou moed.  Jy dink jy kan oorbegin.  Jy is hoopvol jy kan dit opnuut weer met die lewe waag.  Wie weet, dalk gaan jy dié keer die sonde se slaggate vryspring?  Jy het mos net die beste bedoelings? Mens is optimisties.

Die moeilikheid is, daar is net een eerste keer se probeer.  En nie een van ons is meer daar nie. Ons sit al by die hoeveelste poging, en ons kon die sonde toe nie vermy nie. Ons besef nou dis naïef om te gedink het ons sou kon, dat dit net ʼn kwessie van tyd was en die bomme sou bars en ons wêreld verwoes word. Ons het al ʼn veelbewoë geskiedenis, die hele lot van ons.  Elke keer as die verwildering ons ons lewes erg begin wys, laat dit ons met ʼn bietjie minder onskuld as die vorige keer, ʼn bietjie minder moed, minder hoop.

Later loop jou reputasie jou al vooruit.  Jy’t nog self skaars agterkom iets loop skeef of iemand sê hier langs jou sonder skroom: “Waar’s Adam?”  Waar’s Adam, want dis sý werk dié: jy sien sy vingerafdrukke op die slagoffers se wonde.  Dis sy styl, kenmerkend van die mens.  Jou sonde word jou handelsmerk.  Aan jou sonde ken mense jou later uit, God ook.

Daai eerste aand dat God in die tuin kom loop en vir die eerste keer die sonde se swaelstank ruik, weet Hy dadelik waar om die oorsaak te gaan soek.  Hy roep Adam.  Nie oor God Adam met ʼn fabrieksfout gemaak het nie.  Ook nie omdat God woedend is en wraak in gedagte het nie.   Hy het natuurlik goeie rede om ons te wil straf.  Sonde is ons eie skuld, ons eie besluit, maak nie saak hoe graag ons ander mense en omstandighede wil blameer of om versagting pleit weens versoeking en verleiding nie.

God duld nie chaos nie.  As die sonde chaos veroorsaak waar God orde geskep het, kom herstel God die skade.  Die Bybel is daarvan vol: dit het die handelsmerk geword waaraan jy God uitken. Met die skepping, met Adam se etery, met Abel se moord. . . Die sonde hou vir God goed besig.  Hy begin hoevele kere van voor af oor: met Noag en kie wat Hy op ʼn skip laat klim en ʼn nuwe wêreld toe laat vaar.  Met Abram wat Hy laat trek die onbekende in. Met Moses as Hy die volk uit Egipte gaan haal, Josua en die rigters, die konings, die terugkeer uit ballingskap. Jesus.  As God dit een keer gedoen het, het Hy dit seker honderde male in die Bybel gedoen – meer! Trouens, dis wat God doen.  As jy ons Adams by die naam kan uitken aan die sonde wat ons doen en die verwoesting wat ons met sonde saai, kan jy God agterkom aan hoe Hy orde kom skep.  Aan hoe Hy die orde kom herstel.

God duld nie chaos nie.  En elke keer as chaos sy opwagting maak, sit ʼn mens daaragter. As sonde dan al is waarvoor ons goed is, hoekom duld God ons nog? Hoekom besluit God Hy word een van ons?  Wat laat God dink, die dag as Hy die sonde finaal wil stuit, dit gaan help om ʼn mens te word?

God soek ons in sonde op, nie net vir pak slae nie. God is nie wreed nie.  Ek het die indruk dat as chaos dreig, God na mense op soek gaan wat die chaos kan omkeer, mense wat weer orde sal help skep. Vreemd genoeg is dit een en dieselfde mense wat vir die sonde aanspreeklik is vir wie God kom soek sodat ons kan regmaak wat verbrou is.

Adam se sonde stop nie by eet aan die vrugteboom onder in die tuin nie. Waar is Adam as God hom kom soek: hy skitter in sy afwesigheid. Adam maak nes ons op Sondagmiddae:  trommeldik geëet, gaan lê en slaap.  Hy doen aan die sonde en die skade wat dit aanrig, net mooi niks. Is dit die goeie bestuur van God se skepping waarvoor hy aangestel is?

God roep nie vir Adam oor Adam die enigste ou is wat die gemors kon gemaak het nie.  God wil weet wat Adam gedoen het om reg te maak.

Ons doen sonde totdat die wêreld in so ʼn gemors is dat ons hom nie meer self kan regmaak nie. Dan, nes kinders wat ʼn plek omkrap maar kwansuis nie weer kan opruim nie, gaan staan ons met kromgetrekte handjies onsself en jammer kry. En so staan ons tot ons doodgaan, vas oortuig daar is niks wat ons meer daaraan kan doen nie, en eintlik kan ons dit ook nie verhelp nie.  Ons sonde mag dalk klein begin het, maar ons kan nie pa staan vir die moeder van alle rampe wat sedertdien daaruit gespruit het nie.

Dis bog! Maar ons glo so.  Ons dink as ons die sonde ignoreer sal dit weggaan, as ons dit ontken sal dit nie bly spook nie.  Ons oortuig onsself met Billabong en Burberry ons lyk nie so sleg nie, en daar’s geen buskruit wat ʼn druppel Gucci Guilty nie kan verdoesel en jou na pure onskuld kan laat ruik nie. Dis wat Adam doen: hy gaan sny vir hom ʼn pak klere.

God duld nie wanorde nie, want niks kan in chaos oorleef nie. Ook nie mense nie.  Orde is vir die lewe voorwaarde. Hy weet ons gaan dit nie kan uithou nie. Elke keer as die chaos dreig en wil verstik en versmoor in die rook, daag God met mag op.  Daar stroom van Hom af kragte die skepping in wat berge laat skuif. God stuit die kankerende krisis.  God laat nie die verwildering ongesteurd tier nie.

Met die eerste teken van sonde en agteruitgang, roep God: Adam, waar’s jy?  By implikasie: wat het jy aangevang?  Maar ook: wat het jy al, of wat gaan jy nog daaraan doen? Vir geval jy dit nog nie weet nie: dis jou werk.  Dis wat dit beteken as God jou sy verteenwoordiger maak, sy beeld, en jou vra om die aarde vir Hom te bewerk en op te pas. Jy is God se vennoot om die sonde te stop en die skade om te keer.

Dis tog vreemd, is dit nie, dat as die bom bars, ons vra: Waar was God?  Dis soos om te sê: waar is God nou terwyl ek my so na hartelus met sonde besighou? Hoekom keer God my nie? Kom sê my bietjie, waar is God as die wêreld vergaan?  Waar is God as ek op my vernielsugtige beste is?

Pleks te vra, soos God maak, “Waar’s jy Adam?”  Is jy nie my vennoot in die skepping nie?  Is dit nie jou werk om die sonde in toom te hou en verwoesting te keer nie? En kry jy dit nie gekeer nie, wat doen jy daaraan om die wêreld weer aanmekaar te sit?  En wat maak jy?  Jy gaan trek vir jou net beter aan.  Kain gooi vergeefs net nog meer vet in sy offervuur.  Het Ek jou nie aangestel om te keer dat die wiele afkom nie?, wil God by hom weet.   Jy weet mos dat as jy goed doen gaan jy sommer gelukkig ook wees.   As jy nie goed doen nie, die sonde wag vir jou daarbuite en hy wil jou in sy mag kry.  Maar jy moet oor hom heers. En as God vra, “Waar’s jou broer Abel?” wil Kain weet, “Moes ek hom oppas?”  Ja, Kain, dis presies wat jy moes doen. Dis wat goed doen beteken.

God mik teen stilstand in sonde. Moenie in die sonde bly lê nie.  Staan op, maak reg, gaan aan.

Sien jy die chaos nog raak?  Nie net die terreur wat elders gebeur nie, maar ook jou eie skrikbewind? En as jou eie sonde, en ander s’n, jou so in ʼn hoek dryf dat jy soos Kain bedruk raak en op moord uit is, of soos Adam en Eva gaan klere koop, hoor ʼn slag dat God daai dag na die sonde kom vra: “Waar is jy Adam?”  Nie net dat jy moet rekenskap gee nie, maar dat jy moet kom inklok  vir die regmaak.

Waar is God as die bomme knal en ons wêreld lyk soos voor die skepping, woes en leeg en onbewoonbaar, en jy sukkel om te oorleef?

Waar is jy?  Dis wat God hier rond kom vra het. Waar’s die een wat die sonde gedoen het, en die wat die sonde kan stop, en die wat die sonde kan regmaak? Waar is die mense wat dit doen en blydskap het?

Mense kan meer doen as net sonde.  Ons kan sonde regmaak.  Jesus Christus is die een mens wat dit regkry.  Maar ook ons moet ophou om met kromgetrekte handjies in die slagveld van ons sonde te gaan staan en wag dat God jou brouwerk moet kom regmaak.  Doen dit self, Adam, Kain. . . Daarvoor stuur God sy Gees. Trouens, daarvoor het God jou geskep.

Dankgebed, Voorbedes (Staan)

Wegsending:

Slotsang (Staan)

Gesang 507 strofes 1,2,3 en 4

Seën (Staan)

27

Die ewige God is ‘n skuilplek, sy arms is altyd onder jou. Hy verdryf die vyand voor jou uit, Hy beveel: ‘Roei uit!’

28

Daarom woon Israel rustig, woon die nasate van Jakob eenkant in ‘n land van koring en wyn en drup die hemel dou.

29

Dit gaan goed met jou, Israel! Wie is soos jy? Jy is ‘n volk wat deur die Here verlos is! Hy beskerm en help jou. Hy gee mag aan jou, jou vyande kruip voor jou, en jy sal oor hulle offerplekke stap.”

Deuteronomium 33 verse 27 tot 29.

Respons (Staan)

Gesang 519 vers 4

Afkondigings

 

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s