Kom ons praat weer (meer?) oor die Heilige Gees.

Ons doen met die gawes van die Gees, presies wat ons met die Gees self ook maak:  nes ons die Heilige Gees verstaan as volledig deel van die Drie-Enige God, sien ons die gawes wat die Gees gee, ingebed in hoe ons die lewe geleef kry. Want van alles is dit die grootste wonder: dat sondaars daarin slaag om om elke dag Christusgelykvormig te lewe.

Galasiërs 5 en 6

17 Junie 2016, NHKA Kampersrus

Die werk van die Heilige Gees

TOETREDE

Predikant

Sang vooraf

Ons ouderlinge het gevra dat ons weer (dalk selfs meer?) moet praat oor die Heilige Gees.  Want dit kan voel of ons die Heilige Gees miskyk, of afskeep.

Gesang 434 strofes 1, 2 en 3

Wat ons vooraf al weet is dat die Heilige Gees God is wat nes die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word.    As mens oor die Heilige Gees praat, is die Drie-Eenheid waar jy begin.  Altyd.  Die Heilige Gees is God, nie ʼn spook of ʼn sinistere energie of ʼn misterieuse mag of verborge krag nie.  Hy is iemand, ʼn persoon.

Gesang 433 strofes 1,2,3 en 4

Ons het hom al een maal gesing van ek hier is, maar sy ritme kan mens van stryk bring.  Dog, dit bly die moeite werd om hom te leer, want dis ʼn roerende gebed vir die Gees om ons te kom help oorleef in ʼn wêreld vol brand en roof.

Stilte (Sit)

Herinner aan terreurslagoffers.

Toetredelied (Staan)

Gesang 432 strofes 1 en 2

Met die lied bid ons die Here moet ons vandag hier kom help dink.  Ons vra vir God om ons wil en strewe so te rig dat ons dit regkry om waarlik vir God te leef.

Votum en Seëngroet (Staan)

Hoor hoe antwoord die Here ons gebed. Ons het gevra Hy moet ons kom help dink.  Die Here sê in 1 Korintiërs 2 vers 16:

“Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?” Maar ons, ons het die Gees van Christus.

AANBIDDING EN LOF

Sang

Psalm 33 strofes 1,2,3 en 7

Dis ʼn loflied.  “Sing juigend. . .,” is hoe die lied begin. “In ons vreugde lag ons,” is hoe dit eindig.  En tussenin staan baie goed waaroor ons kan juig en bly wees. Kom ons sing dit ook so.

Gebed (Skuldbelydenis en genadeverkondiging)

Sang

Gesang 435 strofes 1 en 2.

Die Heilige Gees bou en behou kerke wat die evangelie verkondig en lewe moontlik maak.

VERKONDIGING

Predikant

Skriflesing en Prediking

Preek

Ek praat nie graag sleg van ander kerke nie.  Dis nie nodig nie. Ons wat Hervormd glo, baat veel meer daarby om uit die Bybel te hoor waar ons óns geloof vandaan kry.

Om te wil spog dat ons, en nét ons, alle wysheid in pag het, is gevaarlik.  Ander kerke is dalk nie so behendig met die teologie of so sekuur met die leerstellige goed nie, maar hulle kry dalk die liefde reg.  Ander het weer die suiwerste teologie, maar ken geen vrede nie.    Daar is min, indien enigeen van ons, wat die hele pakket het, en om te oordeel, gee voor jy weet van God al’s. Niks is verder van die waarheid nie.  Daarom het kerke mekaar nodig: om van mekaar te leer.  Dit gebeur as kerke hulle aan mekaar steur.

Dog, ons steur ons nie graag aan mekaar nie, want kerke ontstaan deur skeuring.  Skeuring is altyd ʼn gruwel en altyd ʼn tragedie.    Skeuring kom wanneer ʼn groep in die kerk begin klem lê op iets wat hulle glo nie in die kerk genoeg aandag kry nie, of wat die kerk nie goed genoeg regkry nie.   En pleks van met mekaar versoenend en verdraagsaam te wees, veroordeel en vervloek ons mekaar dan, pleks dat ons van mekaar leer.

Dis jammer om te moet erken dat ons eie geliefde Hervormde Kerk ook so tot stand gekom het.  Die Hervorming het ongelukkig ook nie by ʼn eenmalige wegbreek uit die Roomse Kerk gebly nie.  Toe dit eers eenmaal geregverdigd voel om die kerk te skeur oor ʼn eie oortuiging, het almal hulle die reg toegeëien om self te mag besluit hoe die kerk moet glo en hoe die kerk moet lyk.

Dit het oor die Heilige Gees ook gebeur.

As ʼn kerk begin praat oor die “volle evangelie”,  kan jy maar weet hulle glo dat daar iets van die evangelie kortkom in die kerk waarvan hulle afgeskeur het.  Luister jy na hulle preek, weet jy dis oor die Heilige Gees wat hulle dit het. Die Heilige Gees en sy werk, so voel hulle, is afgeskeep in die kerk waar hulle oorspronklik vandaankom.  Of hulle deur te konsentreer op die een deel van die evangelie wat voorheen verwaarloos is, nou die héle evangelie beter laat hoor, is ʼn goeie vraag.

As ʼn kerk haarself ʼn “pinksterkerk” noem, weet jy dadelik dat sy klem lê op die uitstorting van die Heilige Gees en die praktiese implikasies daarvan.  Pinkster beteken vyftig.  Vyftig dae na die kruisiging en opstanding van Jesus, stort God die Heilige Gees Hom oor ons uit en die kerk kom tot stand.  Hulle het dit natuurlik ook heeltemal reg dat die Gees en die bestaan van die kerk alles met mekaar te make het.

As ʼn teologiese tradisie hulleself “charismaties” begin noem, moet jy weet hulle lê weer klem op die gawes wat die Heilige Gees aan die kerk gee.  Hulle lê klem op uitsonderlike vermoëns wat die Gees aan mense gee, en op bonatuurlike goed wat die Gees dan in hulle eredienste laat gebeur.  En hulle is natuurlik ook reg dat die kerk en haar geloof nie sommer normaal is nie, maar iets vreemds wat van God af kom.  Van God die Heilige Gees.

So het daar ʼn hele kerklike familie tot stand gekom wat op die Heilige Gees uitsonderlike klem lê, of dalk meer klem lê op die Heilige Gees as wat ons gewoond is.

Kyk jy hier van ons af na dié ouens, sien jy ʼn ander kerkkultuur, ʼn ander etos, anderse uitinge van geloof as hier by ons.  En soms lyk die ywerige aktiwiteit, die oënskynlik onuitblusbare vreugde en geesdrif, die vir-ons-vreemde maniere waarop geloof beleef word, regtig aantreklik.  Die vol eredienste en barstende bankrekenings laat mens verder wonder: is hulle reg, en ons dalk nie?  Is dit miskien hoekom ons so min is en so min het?

Hierdie skeurings het nie ongesiens by die Hervormde Kerk verbygegaan nie.   Ons vra onsself dieselfde vrae af met die wete dat as ons aan julle ʼn vreemde evangelie sou voorhou, God ons sal vervloek.   En dat as die Here nie aan hierdie huis saambou nie, swoeg ons wat dit in stand wil hou, heeltemal tevergeefs.

Ek loop nou die risiko om te oorvereenvoudig wat vir die kerk ernstige worsteling was.  Wat ek gaan doen, is om aan die hand van kort aanhalings uit die Bybel, by wyse van voorbeeld, te sê wat ons van die Heilige Gees glo.

Johannes 14

26

en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

Wat staan daar?

  • Die Vader stuur die Heilige Gees na ons toe.
  • Onthou dis Jesus wat hier praat. Hy sê die Vader stuur die Heilige Gees “in my Naam”.  God die Vader stuur dus die Heilige Gees met die volle medewete en samewerking van Jesus. Hierdie is ʼn Drie-Eenheidsuitspraak.   Hierdie koppeling van die Heilige Gees aan God die Vader en aan God die Seun getuig van hoe die Drie-Eenheid dit eens is oor wat die Heilige Gees by ons kom doen.
  • En dan staan daar: die Heilige Gees sal ons herinner aan alles wat Jesus vir ons gesê het.  Dis asof Jesus die skroewe nog stywer vasdraai:  hierdie hegte band tussen Hom en die Heilige Gees is belangrik as ons wil weet wat om van die Heilige Gees te verwag.

Hier in Johannes 15 kry hierdie noue verbintenis tussen Jesus en die Heilige Gees nog meer klem:

Johannes 15

26

“Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig.

Sien julle,

  • nou’s dit Jesus wat die Heilige Gees stuur, van die Vader af (netnou was dit die Vader wat die Gees stuur. . .) Dis nie ʼn weerspreking nie; dit wys net weer hoe die Vader en die Seun, Jesus Christus, dit volkome met mekaar eens is.
  • Die Heilige Gees gaan van die Vader af uit, maar dis Jesus Christus wat Hom vir ons van die Vader af stuur. Dis weer ʼn Drie-Eenheidsuitspraak: God die Vader en die Seun en die Heilige Gees is een God.
  • En weer ʼn keer staan daar: die Heilige Gees getuig oor Jesus.

 

Ons lei hiervan af dat die Heilige Gees deel is van alles wat die Drie-Enige God doen.  Die Heilige Gees het die Vader en die Seun agter Hom.

En in beide die tekste staan daar die Heilige Gees kom hier oor Jesus getuig: Hy kom ons herinner aan al’s wat Jesus gedoen en gesê het, en oortuig ons dat Jesus die Christus van God is.

Die Heilige Gees doen en sê niks anders oor God of oor Christus, of oor mense en ons versoening met God, as wat die Vader en die Seun ook doen en sê nie.

Dis hoe dit werk, skryf Paulus in Romeine 9:

Romeine 9

1

In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my

Paulus sê hy is aan Jesus Christus verbind.  Die Heilige Gees beheer daarom sy gewete en getuig saam met Hom oor Christus.  En blaai jy dan terug na die begin van sy brief aan die gemeente in Rome, kry jy in Romeine 1 al hierdie verklaring:

Romeine 1

2

Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig,

3

en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore;

4

op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.

5

Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring.

Daar is geen ander evangelie nie. Die evangelie handel oor God se Seun.  Jy kan nie beweer dat jy die Heilige Gees ontvang het, en dat Hy jou iets anders oor Jesus Christus en God die Vader geleer het as wat God klaar hier sê nie.  Jy kan ook nie wil glo dat hierdie Gees aweregs gaan optree nie, dat Hy heeltemal anders as die Vader en die Seun te werk sal gaan nie. Telkens hou die Drie-Eenheid die Heilige Gees vas.

Kortom:

God die Vader gee aan ons sy Seun, Jesus, die Christus as ʼn volkome versoening vir al ons sonde.

God die Seun, Jesus Christus, gee aan ons Homself, sy lewe as ʼn offer wat al ons sonde wegvat en ons weer met God verenig.

Daarom: God die Heilige Gees, nes die Vader en die Seun, gee ook aan ons God die Seun.  Die Gees oortuig ons van wie Jesus is, laat ons in Hom glo, bring ons deur Jesus Christus na die Vader toe terug.

Die Heilige Gees is ingebed in die res van die evangelie.  Die Heilige Gees is die evangelie van die Drie-Enige God, Vader, Seun én Heilige Gees wat met mense wil kontak en vrede maak.  Die Heilige Gees is nie ʼn staan-alleen kortpad godsdiens nie.

Daarom is alles wat ons oor die evangelie kan sê, in ʼn sin gesprek oor en met die Heilige Gees.   En alles wat ons dink oor die Heilige Gees moet met die evangelie klop.  Ons het vandag die evangelie van Christus net danksy die Heilige Gees.  Dat ons die evangelie glo, is te danke aan die Heilige Gees. Niks wat ons van God weet of glo, is sonder die Heilige Gees moontlik nie. Alle geloof, alle gehoorsaamheid, ons hele manier van dink en doen, ons kerkwees en ons lewe, alles is die Heilige Gees se werk.

Die Heidelbergse Kategismus wy Sondae 20 tot en met 24 en vrae 53 tot 64 aan die Heilige Gees.  Die Heilige Gees

  • Is waar alles wat ek glo en al my geloof vandaan kom
  • Laat my deel aan al Christus se weldade
  • Is God by my
  • Bring die kerk van Jesus Christus byeen, hou die kerk in stand en lyf my in as ʼn lidmaat
  • Laat groei en bloei die gemeenskap van die heiliges met God en met mekaar onderling
  • Rus gelowiges toe met gawes en vermoëns wat ons moet gebruik tot voordeel van al die ander mense in die kerk
  • Maak my van my sonde bewus, en help my daarteen weerstand bied, al is dit ʼn nimmereindigende stryd
  • Verseker my dat God my sonde heeltemal vergewe en nooit weer aan my sonde wil dink nie, nie aan my sondige gedrag nie, en ook nie aan my geneigdheid om te wil sondig nie
  • Laat my besef ek gaan liggaam en siel uit die dood uit opstaan, nes Christus
  • Stel my gerus dat die begin van die ewige vreugde wat ek nou al ervaar, vir ewig sal aanhou

As alles wat ons tot nou toe gesê het oor God die Heilige Gees, jou rustig stem, is dit omdat jy Hervormd is.  Maar vir baie was dit te min. En soms, vir ons ook.

Dis nie dat ons wonder oor wat ons glo nie, ons is om n ander rede onrustig: ons onderskat die goed wat die kerk glo die Heilige Gees alles doen.  Is dit al?, wil ons weet.

Ons wil meer weet van bonatuurlike verskynsels, die buitengewone goed waarvan die Bybel hier en daar in die konteks van die Heilige Gees praat, en wat ons in ander kerke sien gebeur. Tekste soos Hebreërs 2 laat ons op soek gaan na die “allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees”.

Hebreërs 2 verse 3 en 4

3

Hierdie saligheid is immers deur die Here [Jesus Christus] verkondig, deur wie dit sy oorsprong het, en is aan ons bevestig deur dié wat dit gehoor het.

4

Daarby het God ook saam getuig deur tekens en wonders en ook deur allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees, soos Hy dit toebedeel het volgens sy wil.

Ons weet mense kon in tale praat.  Eers in verstaanbare tale wat hulle self nog nooit kon baasraak nie, sodat vreemdelinge in Jerusalem die evangelie in húlle tale kon hoor. Later het die “tale” meer begin klink na ʼn gebrabbel wat nie eers  die spreker self kon verstaan nie.  Dit het soms chaos in die eredienste veroorsaak sodat die apostels moes reëls maak om dit te bestuur.  Mense kon ook bid en dit gebeur.  Hulle kon siekes gesondmaak.  Hulle kon wonders doen. En al die verstommende goed het nuuskieriges van oraloor gelok.  Wat het daarvan geword?  Ander kerke moedig dit steeds aan, kry maniere om dit ordelik te bestuur, beweer dat dit by hulle gebeur.  En ons ontken dit ook nie, al sien jy dit nie sommer hier nie. Hoekom nie?

Ons doen met die gawes van die Gees, presies wat ons met die Gees self ook maak:  nes ons die Heilige Gees verstaan as volledig deel van die Drie-Enige God, sien ons die gawes wat die Gees gee, ingebed in hoe ons die lewe geleef kry.

Want daar is ʼn wonder wat groter is as in tale praat en mense gesond bid.  Maar dis ou nuus, afgewater, flou en flikkerend na die kolligte en fotoflitse van supergeloof.  Dit trek nie aandag nie, want dit gebeur nie eenmalig of net nou en dan nie; dis nie nuus nie, dis gans te alledaags.  Dit trek nie skares nie, want daar sit geen skouspel in nie, dit het nie helde nie, dit stel nie mag ten toon nie.  Trouens, dit gaan meestal ongesiens en ondergewaardeerd verby.

Maar dit bly ʼn wonder of jy dit wil weet of nie: om in hierdie lewe al so gelowig te leef, dat ons Christusgelykvormig word.  Dis so raar as wat dit alledaags is.  Ek bedoel: dit gebeur, maar jy sien dit min.  En sien jy dit, weet jy nie waarna jy kyk nie.  Om hier en nou al so lief te hê, soos wat God liefhet, sonder voorwaardes of eise, met vrygewigheid en grenslose genade, so lief dat jy jou lewe vir jou vriende sal gee, so lief dat jy jou lewe vir jou vyande sal gee, so lief dat jy geen vyande meer het nie. . . dis om soos God lief te wees.

Om net die lewe geleef te kry, en dit dan met liefde wat aan God herinner te versier, dis die grootste prestasie van ʼn gelowige lewe.

Dis ongelukkig ʼn kerk wat ons selde sien.  Want dis nie sonder die Heilige Gees moontlik nie.

Daarom dat die Bybel ons aanspoor om die Heilige Gees te loop soek vir veral die klein en alledaagse dingetjies soos net te leef en lief te hê.  Ek gaan net een van baie Skrifgedeeltes aanhaal wat doodluiters vertel hoe die gelowige lewe moet lyk, asof dit die natuurlikste ding in die wêreld kan wees.  Dit is nie. Gebeur dit by jou, hier by ons of elders, dis die Heilige Gees wat jy daar aan die werk sien.

Galasiërs 5 verse 13 tot 25

13

Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.

14

Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

15

Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

16

Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.

17

Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.

18

Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

19

Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid,

20

afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring,

21

afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

22

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,

23

nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

24

Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.

25

Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

Teen sulke dinge het die wet niks nie.  Maar tot sulke dinge is ons ook nie in staat of selfs eers geneig nie.  Juis daarom staan hulle in die wet!  Ons sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes staan in die pad.

Maar ons behoort aan Christus Jesus, en ons lewe deur die Gees.  En met dié kán ons: die Gees kan nou ons gedrag bepaal.  Tale en siektes kom en gaan.  Die Christusgelykvormige lewe moet kan hou.  Daarvoor het ons die Heilige Gees ontvang, en woon God permanent by ons in.  Gebeur dit nie hier by ons nie, is dit nie die Heilige Gees se skuld nie.

Anders gesê: die Hervormde kerk verskil van die “volle evangelies”, die “pinksterkerke” en die “charismate”  daarin dat ons die klem elders sit: eerstens op leef. Om die lewe saam met God reg te kry, die Maandae tot Saterdae, en nie net die Sondae nie, dis ons fokus.  Om te begin lewe sonder sonde, of ten minste dan die sonde die stryd aan te sê.  Dit gaan nie oor skouspelagtige eredienste nie, met kortstondige belewenisse wat ons volgende Sondag sal moet herhaal of te bowe gaan nie.  Ons ís oor om die lewe geleef te kry nogal erg serebraal – meer koudbloedig koppig as warm barmhartig.  Dít kan ons gerus maar weer by ander gaan leer. Want as jy alles het maar jy het nie die liefde nie. . .

Teologies kies ons nie vir die Heilige Gees ten koste van Jesus Christus of God die Vader nie.  Trouens, ons durf nie die klem sit op enigeen van die drie ten koste van een van die ander nie.  Of, anders gestel, dat ons die klem nêrens moet sit nie, net op God en die lewe saam met die Drie-Enige God,  lyk vir my wat die Bybel sê.

Met een klein stukkie detail wat alles bepaal.  Daar is een deurslaggewende feit wat die grondslag is van ons hele Christelike geloof, en die leidraad sit al in die naam.  Jesus Christus, die eenmalige en beslissende ingryp van God sedert die ontstaan van die skepping.  Die hoeksteen.  Die fondament.  Die Alfa en die Omega, die Begin en die Eindbestemming van alles en van ons almal, Hy wat alles in almal vervul.

As daar hier by ons van een Persoon in die Drie-Eenheid gewag gemaak word, is dit van die Seun.  As om menslike lewe saam met God reg te kry, die grootste moontlike wonder is, is Jesus Christus daarvan die verstommendste openbaring. Hy ruk ons tot stilstand.  Hy is die weergalose kontak tussen God en ons.  Aan Hom vergaap ons ons.   In Hom kom staan die Vader en die Gees tussen ons.

Applous

Hebreërs 1

1

In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete,

2

maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.

3

Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.

4

Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.

5

Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader,” en ook: “Ek sal sy Vader wees, en Hy sal my Seun wees” ?

6

En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: “Al die engele van God moet Hom aanbid.”

7

Van die engele sê Hy: “Hy maak sy engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme.”

8

Maar van die Seun sê Hy: “U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied.

9

U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.”

10

En verder: “U, Here, het in die begin die aarde gevestig, en ook die hemel is die werk van u hande.

 

11

Dié dinge sal vergaan, maar U bly bestaan; soos ‘n kledingstuk sal alles verslyt;

12

soos klere sal U dit oprol; ja, soos ‘n kledingstuk sal dit vervang word. Maar U, U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.”

Dis oor Jesus Christus wat hier gepraat word.  Nie van die Heilige Gees nie.  Hoef ek meer te sê?

Vir my voel dit fundamenteel. Vir ander laat dit onvergenoegd. Dog, dis dalk oor ons nog nie die lewe regkry nie. Oor die lewe te moeilik raak.  Want dis eers in hoe ons met die lewe saam met God regkom, nou na Jesus Christus, dat die Heilige Gees ter sprake kom.

Ons moenie in die versoeking kom om bitter of suur te raak oor dit by ander kerke beter lyk as hier by ons nie.  Ons moet ons ook nie verhard nie, of gretig wees met oordeel nie.

Galasiërs 6 vers 3 en 4,  7 tot 9

3

As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself.

4

Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van ‘n ander te vergelyk.

7

Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes.

8

Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.

9

Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.

10

Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.

Kortom:  kom ons dien God soos die Bybel sê ons moet; kom ons gee aan Christus die eer wat God Hom duidelik gun. En: kom ons leer leef, met mekaar saamleef, en met die Drie-Enige God.  Die lewe van Christene is ons respons op Christus, ons wat deur die Heilige Gees van God die Seun te wete gekom het.  Kom ons doen aan almal goed.  Laat ons nie moeg word om goed te doen nie.  Want wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.

En: Maranata!  Kom gou Jesus Christus, ons Here.

Ouderling

Geloofsbelydenis

Kom ons bely staande ons geloof.  Ons doen dit met die Apostoliese Geloofsbelydenis.

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

 

Die Wet / Wil van God

Die oomblik as mens vir God vra: “Ek glo. Wat moet ek nou doen?” laat die Heilige Gees jou baie gou weet dis tevergeefs: daar is niks wat jy sonder die Heilige Gees gedoen gaan kry nie.  Om net al lief te hê, is onmoontlik.  Om met liefde te leef, is net nie wat ons doen nie.  Dog, dis presies wat God eis, sê Jesus in Matteus 22 verse 35 tot 40:

35

. . . ‘n Wetgeleerde, het vir Jesus met ‘n vraag probeer vastrek.

36

“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand.

38

Dit is die grootste en die eerste gebod.

39

En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

40

In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Slotsang

Kom ons sing

Gesang 440, strofes 1, 2, 3 en 4.

Wie hul laat lei deur die Heilige Gees, leer hoe om ʼn Christen te wees, en leer liefkry sonder om bang te wees.

WEGSENDING

Predikant

Seën

Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk! Laat alles by julle in liefde geskied.

Die genade van die Here Jesus sal by julle wees!

1 Korintiërs 16 verse 13, 14 en 23

Respons

Gesang 313

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s