Die kerk het twee stories

Ons almal lewe in stories.  Dis hoe mense werk: ons maak sin van wat met ons gebeur, deur die stories te vertel van hoe ons uitgekom het waar ons nou is.

Ons lewe ook nie net een storie nie.  Daar is gedurig ander stories wat ons s’n kruis.  Ons kan ons storie verander, ons kan tussen stories kies, ons kan besluit om n nuwe storielyn swaarder te laat weeg as n oue.

Daar is n hele benadering tot terapie wat werk met ons stories.  Dit leer ons watter stories baasspeel en watter stories n beter kans moet kry om gehoor te word.

Die kerk het ook stories.  Die kerk het veral twee stories.

Eksodus 15 verse 13 tot 21

26 Junie 2016, NHKA Kampersrus

Die strydende en triomferende kerk

TOETREDE EN AANROEPING

PREDIKANT

Liedere (Sit)

Psalm 5 verse 1, 3 en 5

Psalm 27 verse 1, 3 en 6, die Lina Spies teks

TOETREDE EN AANROEPING

OUDERLING

 

Toetredelied (Staan)

Psalm 29 verse 1,2,3,4 en 5

TOETREDE EN AANROEPING

PREDIKANT

Votum en Seën (Staan)

Jesus is die Christus, die Seun van die lewende God.

Dit is nie ‘n mens wat dit aan ons geopenbaar het nie, maar die Vader wat in die hemel is.

Op hierdie rots sal Jesus Christus sy kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Na aanleiding van Matteus 16 verse 16 tot 19

LOF EN AANBIDDING

OUDERLING

Lofsang (Staan)

Kom ons sing tot lof van die Here Psalm 138 verse 1, 3

Die Wet (Sit)

Broers en susters, deur die Wet leer ʼn mens wat sonde is. Kom ons toets ons lewens aan die Wet van die Here en vergewis onsself opnuut van hoe skuldig ons almal staan teenoor GOD en teenoor mekaar. Luister na die Wet soos Jesus dit opsom in Matteus 22 verse 35 tot 40:

35

. . . ‘n Wetgeleerde, het vir Jesus met ‘n vraag probeer vastrek.

36

“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand.

38

Dit is die grootste en die eerste gebod.

39

En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

40

In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis (Staan)

Ons staan skuldig teenoor God en medemens.  Laat ons ons skuld bely.

Kom ons sing Gesang 240 verse 1 en 2

Genadeverkondiging (Staan)

Broers en susters, noudat ons ons skuld voor GOD in ons lied bely het,       Verseker GOD se Woord ons van sy genade in Efesiërs 2 vers 8:

“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof.  Hierdie redding kom nie uit julself nie; dit is ʼn gawe van GOD.”

Geloofsbelydenis (Staan)

Kom ons bely ons geloof soos volg:

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Noudat ons ons geloof bely het, laat ons die Here eer met ʼn lofsang.

Sang (Staan)

Kom ons sing Psalm 18 verse 1 en 6, tweede melodie      

VERKONDIGING

PREDIKANT

Skriflesing (Sit)

Eksodus 14

5

Toe die koning van Egipte die berig kry dat die volk vir goed weg is, het sy houding en dié van sy amptenare teenoor die Israeliete verander. Die Egiptenaars het gesê: “Wat het ons aangevang dat ons die Israeliete laat trek het? Nou is ons hulle diens kwyt!”

6

Die Farao het sy strydwa laat inspan en sy leër saam met hom gevat.

7

Hy het sy ses honderd beste strydwaens gevat, asook al die ander Egiptiese strydwaens, elkeen met ‘n bemanning van drie.

8

Die Here het die Farao, die koning van Egipte, koppig gemaak sodat hy die Israeliete agtervolg het, maar die Israeliete het onder die beskerming van God verder getrek.

9

Die Egiptenaars het hulle agtervolg, en al die strydwaens van die Farao met bemanning en leërmag het hulle ingehaal terwyl hulle besig was om by die see kamp op te slaan, naby Pi-Hagirot regoor Baäl-Sefon.

10

Toe die Farao nader kom, sien die Israeliete skielik die Egiptenaars sit hulle agterna. Hulle het baie bang geword en benoud na die Here geroep.

11

Hulle het vir Moses gesê: “Is daar nie begraafplek in Egipte nie dat jy ons saamsleep om in die woestyn te sterwe? Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het?

12

Ons het jou mos in Egipte gesê om ons te laat staan dat ons vir die Egiptenaars werk. Dit is vir ons beter om vir hulle te werk as om hier in die woestyn om te kom.”

13

Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie.

14

Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”

 

Eksodus 15 verse 13 tot 21

13

Deur u trou het U die volk gelei wat deur U verlos is, hulle deur u krag gebring na u gewyde land toe.

14

Die volke het dit gehoor en hulle het gesidder, angs het die bewoners van Filistea beetgepak,

15

die stamhoofde van Edom was verskrik, die magtiges van Moab vreesbevange, al die bewoners van Kanaän was lam geskrik.

16

Vrees en angs het hulle oorval, u magtige dade het hulle laat versteen toe u volk deurtrek, Here, toe die volk wat U u eie gemaak het, deurtrek.

17

U het hulle ingebring, U het hulle geplant op die berg wat aan U behoort. Here, U het ‘n plek vir u troon voorberei, u hande, Here, het ‘n gewyde plek gereed gemaak.

18

Die Here regeer tot in ewigheid!”

19

Waarlik, toe die perde van die Farao met strydwaens en bemanning die see ingegaan het, het die Here die water van die see oor hulle laat terugvloei, maar die Israeliete het op droë grond daardeur gegaan.

20

Mirjam die profetes, suster van Aäron, het ‘n tamboeryn gevat en al die vroue het met tamboeryne agternageloop en gedans.

21

Mirjam het vir hulle voorgesing: “Sing tot eer van die Here omdat Hy hoog verhewe is. Perd en ruiter het Hy in die see geslinger.”

Gebed (Mans staan)

Sang (Staan)

Gesang 494 verse 1,2 en 3

Prediking (Sit)

 

Ons almal lewe in stories.  Dis hoe mense werk: ons maak sin van wat met ons gebeur, deur die stories te vertel van hoe ons uitgekom het waar ons nou is.

Ons lewe ook nie net een storie nie.  Daar is gedurig ander stories wat ons s’n kruis.  Ons kan ons storie verander, ons kan tussen stories kies, ons kan besluit om n nuwe storielyn swaarder te laat weeg as n oue.

Daar is n hele benadering tot terapie wat werk met ons stories.  Dit leer ons watter stories baasspeel en watter stories n beter kans moet kry om gehoor te word.

Die kerk het ook stories.  Die kerk het veral twee stories.

Nou praat ek nie van al die stories oor die kerk wat baie mense al laat besluit het kerk is nie vir hulle nie. Daar is mense wat glo die kerk versondig net hulle siele, pleks van andersom.   Baie sulke stories het mense al laat besluit om ons stof van hulle voete af te skud en elders hulle heil te loop soek.  Maar dis stories vir ʼn ander dag.

Die kerk het twee stories, beide van hulle gaan oor God, en oor hoe ons Hom in die kerk kom kry.

  • Die een storie is bly.
  • Die ander storie in bang en benoud.

Een van daai twee stories het jou vanmore uit die bed laat opstaan en laat besluit om hierheen te kom.

Het jy gedink jy gaan God hier kry?  As jy vandag hiervandaan huis toe gaan, gaan jy tuis vertel jy het God toe hier  teëgekom?  Is hierdie gemeente die regte plek om God te vind?  Of is die storie van hierdie gemeente ʼn tragedie van verydelde verwagtinge en menslike mislukking en teleurstelling?

Wat ookal die storie van ʼn kerk of gemeente is, dit het altyd te make met hoe ons God hier ontmoet.  Die een is lekker en goed, die ander is bitter en seer.

As die Heilige Gees begin vuurmaak onder mense en ons in gemeentes begin saamkoek, begin die storie van die kerk.  By al die goed wat die Heilige Gees met jou maak, moet jy dit weet:  op die een of ander manier kom daar ʼn kerk van. Maak nie saak watter gawe die Gees jou gee nie, begin jy hom gebruik, word jy gom: jy sit vas aan ander mense, en mense aan jou.  En saam word julle kerk.  En net na kerk en gemeente hulle beslag kry, begin die twee stories van hoe God in sy kerk is, aan kerke hulle eie identiteit gee.

Ons eie storie van hoe gemaklik of ongemaklik ons met God in ons gemeente sit, vorm wie ons is en hoe ons gemeente lyk.

Hier’s hulle, die twee stories van die kerk:

Die eerste storie van kerkwees is: die kerk is op ʼn kruispad, ʼn swaar pad, waar jy net met groot inspanning vorder. Trouens net om al staande te bly is al byna bo-menslik, en moet al God die Heilige Gees se eie werk wees.  Dit gaan bars, dis n stryd om oorlewing, dis n pad vol beproewing, maar deur die genade gaan dit darem nog aan.

En die tweede storie is: dit gaan goed!  Ons moet net keer of dit gaan beter. Die kerk is by die kruis verby, die hel in en uit, deur die opstanding al die nuwe lewe in.  Die lewe saam met God is eindeloos lekker, daar’s ʼn wip in jou stap en elke dag is beter en blinker as die vorige een.  Elke dag is  ʼn geleentheid vir groei en bloei en nog net die hemel self kan beter as die lewe wees.

Die eerste storie is van ʼn kerk vol foute, vrae, geskille, vol moeilikheid en verdeeldheid en swaarkry. Dis die storie van n kerk waar sonde vol in die blom staan.  Dis n kerk wat sukkel om aan die lewe te bly en worstel om iets van die liefde van God te laat werk en te wys, n kerk vol letsels van al die geval en opstanery.  Hierdie is ʼn kerk wat met trane saai, en soms glad nie oes nie.  Hierdie is ʼn yler kerk, n armer kerk, n skraler kerk, voller van sonde as van mense.  Hierdie is ʼn kerk op die rantjie van die hel.  Hierdie is die kerk wat in die wêreld leef, een voet in die graf. Hierdie is die kerk swaar op genade.

Die tweede is ʼn kerk wat die vryspraak gesnap het.  Hulle vertel die storie van hoe jy loskom uit die boeie van die sonde en die skuld en die straf uit.   Hierdie kerk is oorstelp oor wat God met hulle reggekry het en oor wat God nou nog met hulle doen.  Vir hulle is die lewe ʼn wonder.  En daar is geen dood wat jy nie met opstanding kan koudsit nie. Niks is te erg nie.  Niks is onmoontlik nie. Dis die kerk wat van vreugde feesvier, vol jubelende mense.

Watter een van die twee stories speel hier by ons af?   Watter een van die twee stories vertel ons?  Ons besef dit nie, maar ons vertel kliphard saam aan die storie van hierdie gemeente. Alles wat jy ookal sê en doen, hier binne en daar buite, help skryf aan hierdie gemeente se storie.

En hierdie gemeente se storie sal ook een van daai twee stories oor kerkwees wees: n storie van n ewige gesukkel, of n storie van oorstelpte blydskap.

Ons moet weet: is net een van die twee stories reg en die ander een dan verkeerd?  En kan jy maar kies watter een jy wil vat?  Ja ek dink jy kan kies.  Want nie een van die twee is meer reg as die ander nie. Albei is ewe waar. En albei is stories wat vertel moet word.   En beide is stories wat geleef moet word. Die Hervormde Kerk mag dalk een van hierdie twee stories vertel en leef, maar iemand anders sal die ander een ook moet vertel.

Jy sien dit in die Bybel al.  Dat een en dieselfde geloof van een volk van God hulle hierdie twee paaie laat loop, die een vol wonders en verwondering, die ander een vol wroeging en worsteling. Met die kerk kom ons dit minder agter, oor kerke verskeurd is, of onderling verdeeld is in verskillende denominasies.  As jy in een kerk is, kom jy nie so gou agter dat die kerk langsaan n ander storie het nie.  Dis duideliker uit die Ou Testament te sien, waar daar net die een volk van God is, en hulle moet met beide die stories in een gemeenskap saamleef.

Met die dat dieselfde volk albei oorkom en hulle en hulle die twee stories van blydskap en benoudheid saam vertel, laat my dink dit gebeur met ons dalk ook so.  By tye kry ons op water en wolke geloop, en ander kere weer sink ons soos klippe en dreig om te versuip.   Soms spartel ek, soms swem ek, soms stap ek bo-op die water of loop ek sommer droogvoets dwarsdeur die see en soms, weer, vlieg ek.

Maar mense en gemeentes en sommer hele kerke ook het ʼn dominante storie.  Een storie wat bo die ander uitstaan.  En daai storie bepaal of jy en wat jy van die ander storie raaksien. Jy kan so aangegryp word en meegesleur word deur die storie wat in jou gemoed baasspeel dat jy later nie eers meer weet van die bestaan van enige ander storie nie. Tot jy ʼn iemand anders se storie luister of na die storie gaan kyk wat die kerk langsaan leef.  Die dat ek dink dis nie so sleg dat daar rye kerke naas mekaar staan nie. Hulle is almal daar om jou en my en hierdie kerk aan ander stories van God met mense te herinner.  Hou jy daai stories ook in gedagte kan die stories ook ons eie kerk s’n verander.  Ons kan hier besluit om anders te dink en te doen.  Hulle stories kan ons van koers laat verander.  En ons hulle s’n.  God het dalk in gedagte gehad, met die klompies kerke, dat ons albei stories moet hoor.  Hy vleg die twee stories aanmekaar.

Dit gaan so goed met Israel.  Na jare se onderdrukking en slawerny, breek hulle vry.  Voor in die wapad staan ʼn wolk vol weerligstrale wat in die nag gloei soos daglig. Hulle drinkwater kom uit klippe uit.  Die woestyn is vol God. Dis een van daai blydskap stories: wie kan nog teen ons wees?

Maar daar is ook die ander kant van die saak, die ander weergawe van die storie wat minder lekker lyk.  Hier’s nie vleis nie; in Egipte was die vleispotte vol.  Vleispotte wat swaarder weeg as slawerny en kindermoord. Ja, die Here het ons hierheen gebring, maar met die doel om ons om die lewe te bring, sonder kos, brood of vleis.  Dis die benoudheid-storie. As die een die oorhand het, verloor ons perspektief en kry ons moeilikheid met God. As die slegte storie die oorhand kry, is ons met God omgesukkel en staan die hele wêreld vir ons verkeerd, en sommer die kerk ook.

God sit hierdie stories aanmekaar, en nie sonder ʼn klein bietjie se spot nie.  God het ʼn heerlike sin vir humor. Nie dat ʼn honger Israel die grap maklik gaan snap nie, want dis ten koste van hulle, en kry jy honger, lag jy nie so maklik vir jouself of vir jou spyskaart nie.  Maar ons wat van ver af staan en kyk, kan nie anders as om God se tong in die kies te waardeer nie. Daai dag na die klag van honger, sit ʼn swerm vleis die hele kamp vol.  Hulle sit net daar, en wag om gevang en geëet te word. Die volk eet daai aand die einde van die maand se Kentucky Fried Kwartel dat dit by die ore uitkom.  Daar is vir daai een maaltyd oorgenoeg, heeltemal te veel, genoeg om nog te bere ook.  En gesien in die lig van hoe lank hulle sonder vleis was , en hierdie duidelik ʼn eenmalige frats moet wees, hou hulle vir more nog oor.  Maar teen die volgende oggend is die vleis vrot. Maar teen skemer kom daar ʼn nuwe voorraad kwartels van God af i die kamp sit.

En met die sneeubrood wat hulle “manna” noem (letterlik: “wat’s dit?”) werk dit net so.  Die kospotte is elke dag oorlopens toe vol,  teen more is dit oneetbaar.

Die benoudheid-storie word ʼn blydskap storie.  God sorg regtig.  Maar God sorg elke dag, een dag op ʼn slag.  Elke maaltyd, een dis op ʼn keer.  Met elke dag se kos wat letterlik uit die hemel uit in jou skoot val,  wat meer kan jy vra van God se voorsiening.

Dat daar more weer kwartels en manna sal kom, weet die volk eers nie.  En voor hulle dit nog self kon agterkom, maak God ʼn reël:  hulle mag niks van die vorige dag se kos vir die volgende dag oorhou nie. Dink jou in hoe moeilik dit moes gewees het om, as jy nou net nog erge honger gely het, en jy is steeds in dieselfde woestyn – niks het regtig verander nie – en jy nou baie manna kan optel en kwartels kan vang, maar jy mag nie.  Oor hierdie blydskap-storie dat God wonderbaarlik sorg, laat God self ʼn wolk kom hang dat dit dalk nie genoeg sal wees nie, dat dit nie lank genoeg sal hou nie.  Dat God se voorsiening nie genoeg gaan exodus_gods_and_kings_movie-wallpaper-1920x1080wees nie. Dat, teen die more, ons dalk tog van die honger kan omkom.

Ons weet nou hoe elke dag van die week werk met die kwartels en die manna. Dan kom die sabbat.  Teen die ondervinding van die afgelope week in, sê God nou: vandag moet julle genoeg bymekaarmaak vir twee dae, vir vandag en vir die sabbat se eet.  Want op die sabbat sal daar niks nuuts kom nie.  Jy weet mos dit help nie om gister se kos vir vandag te bere nie. Dog, op die sabbat werk dit. Net op die sabbat werk dit.  Die kwartels en die manna bly dwarsdeur die sabbat vars asof dit vandag gevang is.

So temper ʼn bang-en-benoud-storie weer die storie van probleemlose blydskap.  Albei die stories tegelyk vertel die verhaal van God by ons.

Die volk leer in die proses om nie net van manna en kwartels te lewe nie, maar van God. Hulle leer die storie vertel dat mens elke dag in afhanklikheid van God begin, en dat jy elke dag op God kan reken.  Hulle leer honger word vir God en hulle leer met leë hande en vol genade voor God te leef.  Hulle leer alles van Hom verwag.

Ons leef vanuit dieselfde twee stories oor God.  Ons gemeente maak ook so.  Die fout wat ons maak, is om aan een van die twee voorkeur te gee. Of op net een van die twee te konsentreer. Vra dan: watter een van die twee leef jy, en watter een mis jy? Watter een het die oorhand, watter een van die twee raas so hard in jou kop dat jy die ander een nie eers hoor nie?  As jy die dag vir God toelaat om jou sy stories te vertel,  gaan Hy jou altwee die stories laat hoor.  Want nie een van die twee stories is jou baas nie, Hy is, en beide die verhale verheerlik Hom.

Daar is plek in ons storie vir kruisdra en swaarkry.  Te veel blydskap laat jou of die wêreld se lyding vergeet, of jy vat dit nie ernstig genoeg op nie, en te veel swaarkry maak jou bitter en hard, en jy raak te bang om met die lewe te waag en saam met God te lag.

Die een God van ons Here, Jesus Christus wat jou van kruisdra alles kan leer, leer jou ook van opstaan uit die dood uit.  Dis die volle verhaal van kerke en gemeentes.  Dis die hoofstroomstories wat ons eie stories sin gee en laat werk.

Watter storie hoor jy?  Na watter storie luister jy?  Watter storie hoor jy by ons?  En watter storie vertel jy aan ons?

 

 

 

GEBEDE

Dankgebed (Mans staan)

Slotsang (Staan)

Gesang 478 verse 1,2,3

WEGSENDING

Seëngroet (Staan)

24

“Die Here sal julle seën en julle beskerm;

25

die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees;

26

die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!

Numeri 6

Respons (Staan)

Gesang 218

OUDERLING

 

Afkondigings

DIAKENS

 

Dankoffers

 

Advertisements

One thought on “Die kerk het twee stories

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s