Genade het gevolge

Om mense lief te hê, is om aan God dankie te sê dat Hy ons eerste liefgehad het en nou nog nie met ons opgee nie.  Daar is geen beter manier om vir die nagmaal dankie te sê nie, as om mense te leef liefkry nie.  Dis wat ons nou gaan doen: ons gaan liefhê.  Het jy ʼn mens lief, sê jy vir God dankie dat Hy jou liefhet.

Vra dit: hoe naby is God nou aan jou, nou, na nagmaal? Of, anders gevra: “Petrus, het jy my lief?  Het jy My lief genoeg dat jy al die sondaars hier ook kan liefkry?  Want, Petrus, die nagmaal, Ek, Jesus Christus, beweeg jou tot ʼn vurige liefde vir God en vir alle mense.

Genade het gevolge

Johannes 21 verse 1 tot 19

19 Junie 2016, NHKA Kampersrus

Dankbaarheid


VOOR DIE EREDIENS

PREDIKANT

Genade het altyd gevolge.  Geen mens bly onaangeraak deur God se genade nie.  Die Heidelbergse Kategismus, sal julle uit die “Geloofsleer” en die “Kortbegrip” onthou, sê daar is drie dinge wat ons van geloof weet:

  1. dat ons sondig is,
  2. dat God ons uit die sonde red, en
  3. dat ons hele lewe daarna wys hoe dankbaar ons is.

“Dankbaarheid” is nie ʼn woord wat vreeslik baie in die Bybel voorkom nie, net sewe keer, om die waarheid te sê.  Die idee daarvan is dat ons nou lewe ná die verlossing uit die sonde, en in reaksie op die verlossing uit die sonde.  Ons werk nie vir verlossing nie, ons leef van verlossing.

Vandag se erediens gaan daarom oor hoe ons lewe lyk in reaksie op die verlossing wat ons by God gekry het.

Sang (Sit)

Ons eerste lied vat dit alles saam:

“Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het, sing dankbaar my verlossingslied. . .”

Gesang 245 vers 1

Die lewe ná verlossing lyk anders as die lewe daarvóór.  Ná verlossing probeer  mens gestalte gee aan die wil van God wat jy vóór verlossing nog nie kon regkry nie.  En dalk gaan jy ook ná verlossing nie so goed daarin slaag nie, maar jy gaan jou daarop instel.  Liedere soos die toonsetting van Psalm 9 laat jou besef hoe ernstig jy dit moet opvat om te probeer. God is ons regter.  Dis God wat oor ons lot besluit. Hy spreek sy oordeel oor ons uit. Maar wie na God soek, ons wat probeer, word nie verlaat of in die steek gelaat nie.

Sang (Sit)

Psalm 9 verse 1,3,4,5,7,9


TOETREDE

OUDERLING

Toetredelied (Staan)

Ons tree nader aan God in die erediens.  Ons erediens het vandag hierdie refrein wat sê die Here is heilig, ons aanbid Hom, en ons is van harte bly dat ons hier voor Hom mag kom staan.  Ons sing

Gesang 170

PREDIKANT

Votum en Seën (Staan)

14

Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.

15

Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.

16

Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ‘n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry.

17

Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

1 Timoteus 1


AANBIDDING EN LOF

OUDERLING

Lofsang (Staan)

Kom dank nou almal God met hart en mond en hande uit

Gesang 188 verse 1 en 2

DIE WIL VAN GOD

Die Wet (Sit)

 

In Kolossense 3 leer ons hoe om op God se genade te reageer. Daar is goed wat ons moet óphou doen, en daar is dinge wat ons met méning moet aanpak.

8

. . . Nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie,

9

en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek

10

en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.

11

Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

12

Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.

13

Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

14

Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.

15

En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.

16

Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.

17

En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Dankbaarheid (Staan)

Dalk is van alles wat Kolossense 3 sê ons móét doen, hiérdie die maklikste om reg te kry:  “Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.” Kom ons doen dit dadelik.  Kom ons bely: nét die Here is heilig, en sélf kom ons nie by nie. Maar ons harte is nogtans bly, want ons mag met vrymoedigheid voor hierdie heilige God kom staan.

Sang (Staan)

Kom ons sing

Gesang 170   

Genadeverkondiging (Staan)

Daar kom vir ons genade uit Kolossense 2:

6

Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe,

7

in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.

9

In Hom is die volle wese van God beliggaam,

10

en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag.

11

Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens.

12

Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het.

13

Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.

14

Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.

15

Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.

Sang (Staan)

Sulke genade maak mens bly.  Ons sing

Gesang 170

Geloofsbelydenis (Staan)

Kom ons bely ons geloof uit die Apostoliese Geloofsbelydenis:

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Sang (Staan)

Ons geloof laat ons uitroep: “U is heilig Heer.” Kom ons sing

Gesang 170      


VERKONDIGING

PREDIKANT

Skriflesing  (Sit)

Johannes 21 verse 1 tot 19 (bladsy 153, Nuwe Testament, 1983)

1

Daarna het Jesus weer aan sy dissipels verskyn, by die See van Tiberias. Dit het só gebeur:

2

Simon Petrus en Tomas, wat ook Didimus genoem is, Natanael van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus en nog twee ander dissipels was daar saam.

3

Simon Petrus sê toe vir hulle: “Ek gaan visvang.” “Ons gaan ook saam met jou,” sê hulle vir hom. Hulle het gegaan en in die skuit geklim, maar daardie nag het hulle niks gevang nie.

4

Toe dit al lig was, het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dat dit Hy is nie.

5

Jesus vra toe vir hulle: “Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?” “Nee,” antwoord hulle Hom.

6

Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” Hulle het die net toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie.

7

Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy hemp aangetrek – want sy bolyf was kaal – en in die water gespring.

8

Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep.

9

Toe hulle aan land kom, sien hulle ‘n vuur brand en ‘n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook.

10

Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.”

11

Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.

12

Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.” Nie een van die dissipels het sover gekom om vir Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het geweet dat dit die Here is.

13

Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis.

14

Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.

15

Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.”

16

Jesus vra hom weer ‘n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op.”

17

Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?”, en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei.

18

Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.”

19

Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!”

Hier eindig die Skriflesing

In 1 Tessalonisense 2 vers 13 staan daar hoedat die uitwerking van hierdie boodskap op mense wat glo, bewys dat hierdie werklik die woord van God is:

Ons dank God gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys.

Gebed (Mans staan)

Sang (Staan)

“God is liefde, juig ons harte”.  Hy kry ons eerste lief, en dan volg ons met wederliefde.  So sê

Gesang 334 verse 1, 2 en 3

Prediking (Sit)

Die woord “dankbaarheid” staan net ʼn skrale sewe keer in die hele 1983- Afrikaanse Bybelvertaling.  Dog, met “dankbaarheid” beskryf ons Hervormde belydenis die hele lewe van ons geloof.

Dankbaarheid is ʼn goeie woord vir hoe geloof en lewe bymekaarkom.  Want dankbaarheid kom altyd eers ná iets goeds met jou gebeur het.  Dankbaarheid betaal nie vir iets nie.  Dankbaarheid is ʼn reaksie, nie ʼn inisiatief nie.

Omgekeerd: die goeie wat God vir ons gee, is nie beloning vir iets wat ons gedoen het om dit te verdien nie.  Genade is God wat ingryp sonder dat Hy dit hoef te doen. Dankbaarheid is wat ons oorkom as God se genade ons oorweldig.

Ons het lief oor ons van dankbaarheid oorloop.  Ons het van Christus vol geword, ons is vol van Christus, en Hy kom by ons uit met elke beweging wat ons maak, as ons roer, het ons mense in beroering, oor liefde wat uit ons uitkom. Oor God duidelik word.

Met die is die probleem met Christus en die Gees nou, dat God naby gekom het.  God is nou baie naby.  Vreesaanjaend naby.  Té naby.

Daar is ʼn paar klein ou dingetjies wat ʼn oog-tot-oog ontmoeting met God moeilik maak: die sonde en so. . .  Sommer baie moeilik, om die waarheid te sê, as God soos deesdae nou daarop aandring om al nader te kom.  Oor sonde kry mens by God moeilikheid; sommer gróót moeilikheid. En moenie hieraan twyfel nie: ons is inderdaad by God.  Baie, baie naby aan God.

Die ding is, sonde is alles jou eie skuld.  Jý sal dus ʼn manier moet vind om van die sonde werk te maak, want doen jy dit nie, kan jy maar vergeet.

Daar’s net die een ou klein komplikasietjie:  jou sonde kan jy alles van weet, maar heeltemal niks aan doen nie! En hoe meer jy van jou sonde weet, hoe groter word die drang om die hasepad te kies, om so ver van God af weg te kom as jy kan, want Hy laat geen sonde ongesiens of ongestraf verbygaan nie.

Ons het dit trouens netnou in ons lied gevra ook: “Laat, Heer, geen misdaad ongestraf nie.  Sien van u tugtiging nie af nie.” (Psalm 9)

Was jy destyds Joods, is jy skielik nogal bly dat die tempel lyk soos hy lyk.  Daar is mos net die een klein kamertjie waar God eenmaal ʼn jaar sy verskyning maak, en jy hoef nie daar ín te gaan nie. Jy is maar te dankbaar bly daai kamertjie is agter ʼn dik gordyn toe en net een ou ken die pad soontoe in: die dienende hoëpriester, iets soos Rome se pous. Jy’s verlig dis nie jou werk om daar binne by God vir sonde ʼn oplossing te gaan soek nie.

En dan skeur skielik op ʼn donker Vrydagmiddag die gordyn na daai kamertjie van God toe middeldeur oop.  En net die Sondag daarna klop ʼn dooie man aan sy eie graf se deur en kom blakend gesond daar uit en eet jou vis op.

Erger nog:  “Kom kry my by Galilea!”, laat Hy hulle weet.  Hierdie ge-ver-weg-stanery van julle is nou op ʼn end. Ek wil julle van aangesig tot aangesig sien.  Sorg dat julle daar is.

God kom nader, en nader.  God is hier!

Daai eerste gemeentetjie is boeglam-bang.  Jesus en die Gees is hier om ʼn lewe sonder sonde te kom wys.  Maar dis tog wat ons van nature doen: sonde.  Dit kom sommer vanself.  God draai teen wat vir ons normaal voel.  En nou staan die sonde éérs uit, want God sê dit kán stop, dit móét stop.

Nie een van die goed wat in die ou dae nog gewerk het om die sonde soos ʼn weerligafleier iewers anders te laat straf, help nou meer nie. Geen verbondsark, altaar of offer nie, geen tabernakel of tempel nie, nie eers ʼn allerheiligste hoekie dig toe agter ʼn swaar gordyn, ʼn Groot Versoendag, nagmaal, dominees en Leviete, priesters of hoëpriester help meer nie, geen skrifgeleerdheid of die politiek van die fariseërs kan die sonde keer of toesmeer nie.  Geen verskoning help meer nie. Daar’s nie versagting nie.  Goeie bedoelings is nie meer goed genoeg nie.  Jy kan ook nie onkunde pleit nie. Jy kan nie eers onvermoë of minderjarigheid pleit nie.

BadkamerNiks help dat die manne die pad Galilea toe met ʼn lekker hart aanpak nie.  Soos as jou pa jou badkamer toe stuur, weet hulle wat kom.

Nader, al nader kom God. Hulle kry Hom daar, op die strand.  Hy stuur hulle om te gaan visvang.  So asof dit die normaalste ding in die wêreld is dat ʼn dooie man jou eers laat kos kry voor Hy vir jou vertel wat lê in die lewe vir jou voor. Hulle vang meer as wat hulle kan hanteer, wat nog opeet.  Hy maak vir hulle vis op ʼn vuurtjie gaar.  Hy bid, breek en stuur om.  Eet weer saam met My!  Eet My.

Hy maak kos, Hy word kos.

Hy klim weer in hulle in, soos by die nagmaal nou die dag. Hy verteer in hulle.  Hy word voedingstof en opkikker. Met die bloedstroom saam vat Hy pad na elke verste uithoek van die mens se lyf en lewe.  Elke sonde wat Hy daarbinne teëkom, roei Hy uit, soos jou immuunstelsel met siekte maak. Hy herbedraad elke neurotransmitter, en in elke senuweepunt skep Hy die nuwe verwagting van “maak klaar, hier kom ʼn ding!”. Dit roer in daai dissipels se lywe.  Op julle merke, gereed, . . .

God het naby gekom.  So naby dat jy nie meer kan sê watter stukkie van jou lyf is jy, en watter is eintlik Hy nie.  (Terloops, iemand vra my nou die dag, watter deel van jou is siel, daai ding wat aanhou as die res besgee?  Wel soek die stukkie van jou waarin God nie sit nie, en weet dis die deel van jou waar die siel nie is nie. Dis die stukkie van jou wat nie die dood gaan oorleef nie.  Kan jy nou sien hoekom liggame opstaan?) Die God van rookwolke en reënbuie, van oorlog, ark en engele, die God van oes en misoes, reënboog en ʼn N1 deur die Rooi See, het die pad na jou hart toe gekry.  Dis ʼn kruispad vol slaggate want jy onderhou hom nie.  Jesus loop daai pad te voet, al met die hel langs. Daar aangekom, vind Hy jou hart is ʼn onherbergsame plek.  Maar God trek daar in woes en leë hartkamers in en sê: “Laat daar liefde wees.”  En dit ís so.  En dis góéd so.

Waar is God wat eers ver was, waar is Hy nou?  Hier binne-in ons. Ons dink saam met Hom, voel saam met Hom, ons doen nes Hy maak.

Die maaltyd klaar geëet, vat Jesus Petrus eenkant toe. Is jy versadig, Petrus?  Het jy My geëet en gedrink en genoeg gekry?  Is nie net jou magie vol nie, Petrus, maar ook die res van jou?  Is al daai sintuie van jou nou op My ingestel?  Jou grysselle, jou vingerpunte en jou toonnaels, die haarfollikels die tong, die niere, die spiere, die longe en die hart?  Is jy regtig vol van My, Petrus?

Hoe sal ek tog weet, Here?, sê ek wat my in Petrus se skoene indink.  U weet tog beter as ek, Here, of ek van U vol is. Waaraan gaan ék dit agterkom?

Aan jou liefde, Petrus, aan jou liefde.  Nie aan jou offergawes nie, nie aan jou kerkvastheid nie, nie eers aan jou diens aan die kerk nie, nie aan jou godsdienstigheid of jou geestelike gawes nie, of aan hoeveel mense by die kerk jou ken nie.   Nie aan jou harde werk en roemryke prestasies nie, ou Petrus – daarvan kan jy ʼn slag bietjie rus.  Maar aan jou liefde sal jy weet, en almal wat na jou kyk, moet My kan sien. Jou liefde sal My uitwys.  Aan jou liefde sal mense My agterkom.  Dat Ek na aan jou is.  Die liefde doen dit.  Vra dit, Petrus: loop jou liefde oor?

Het jy My lief, Petrus?  Regtig, baie lief?  Want sien, as jy My liefhet, Petrus, is jou liefde ʼn kragtiger teken selfs as die nagmaal se brood en wyn van die plek waar Ek besluit het om My tuis te maak.  As jy in my liefde bly, bly Ek mos ook in jou. Ek werk in jou soos vitamines en steroïdes.  Jy kry lief en jy het lief.  En nie net lief nie, Petrus, maar vurig lief. Lief vir My, lief vir almal, lief vir alles hier?

Dink mooi voor jy dit sê, Petrus, want jy het jou nou die dag nog drie maal na mekaar met My vergis: het jy My baie lief?  Liewer as wat mense gewoonlik liefhet?  Want mense is sondig en dit sê maar net hulle liefde skiet tekort.  Het jy My so lief dat jou liefde uitstaan bo die liefde van ander wat ook voorgee, en selfs glo, dat hulle liefhet?  Is jou liefde eg?

Moet dit nie verkeerd verstaan nie:  moenie jou liefde met ander s’n vergelyk en probeer voorgee jou liefde is beter as ander ouens s’n nie.  Liefde is nie ʼn kompetisie nie. Wen jou liefde oor jou sonde?, dis wat jy jouself moet afvra.  Jy moet teen jou eie sonde stry.

Moet jouself nie probeer oortuig dat die gunsies en die gawes wat jy My gee, en die bietjie moeite wat jy met My doen, en die moeilikheid wat jy langtand ter wille van My verduur, regtig liefde is nie.  Dit is nie.

As jy My regtig liefhet, sal jy My agenda joune maak. Jy sal die sonde in jou, kaalvuis aanvat.  Nie met geweld nie.  Jy gaan verbete begin liefkry, jy gaan mense vurig liefhê.

Hier’s die vangplek, sien:  Ek, die Here, het ʼn ongehoorde liefde vir sondaars.  Met My in jou gaan jy sondaars liefkry soos Ek hulle liefhet. En jy gaan aan hulle liefde betoon.   Jy gaan lief genoeg wees vir sondaars dat jy jou lewe met hulle sal deel, dat jy jou aan hulle lotsgebonde gaan voel.  Lief genoeg dat jy nie meer van hulle geskei of onderskei wil word nie, maar saam met hulle dankbare ontvanger van my liefde wil wees. En die meeste van hulle gaan dalk nog jou eie vyande wees, dis amper gewaarborg jy gaan nie juis vreeslik baie van hulle hou nie.

Hier is die skape, ʼn hele trop van hulle.  My skape.  Hulle’s nou joune ook.  Hulle is nou jou verantwoordelikheid.  Ek het besluit om hulle lief te hê.  Ek het besluit hulle is jou liefde ook werd.  Hulle is jou liefde werd, want hulle is my geliefdes: hulle is die liefde van my lewe.  Hulle is die rede vir my dood.  Niemand het groter liefde as iemand wat sy lewe vir sy vriende aflê nie.  Jy gaan hulle ook so liefhê, almal van hulle, want Ek het hulle, elke een van hulle, lief.  Gaan wees jy vir hulle soos Ek sou wees. Laat my lammers wei, pas my skape op.

Om mense lief te hê, is om aan God dankie te sê dat Hy ons eerste liefgehad het en nou nog nie met ons opgee nie.  Daar is geen beter manier om vir die nagmaal dankie te sê nie, as om mense te leef liefkry nie.  Dis wat ons nou gaan doen: ons gaan liefhê.  Het jy ʼn mens lief, sê jy vir God dankie dat Hy jou liefhet.

Vra dit: hoe naby is God nou aan jou, nou, na nagmaal? Of, anders gevra: “Petrus, het jy my lief?  Het jy My lief genoeg dat jy al die sondaars hier ook kan liefkry?  Want, Petrus, die nagmaal, Ek, Jesus Christus, beweeg jou tot ʼn vurige liefde vir God en vir alle mense.

Sang (Staan)

Gesang 170   


    

GEBEDE

Dankgebed (Mans staan)


Slotsang (Staan)

Gesang  220 verse 1, 2 en 3


WEGSENDING

Seëngroet (Staan)

Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken,

10

sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.

11

Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.

12

Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.

13

Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.

14

Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.

Kolossense 1

Sang (Staan)

Gesang 170


PREDIKANT

 

Onthou om ʼn oomblik van stilte te vra uit eerbied vir die rousmart van Philippe Otto na die dood van haar dogter.

Onthou Vadersdag Psalm 128 verse 2 en 3

OUDERLING

 

Afkondigings

DIAKENS

 

Dankoffers


 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s