Oorlaai van genade

Kom hierso.  Kom, kyk na My!  Voel aan My! sê Jesus.  Kyk, Ek leef.  Nie net is Ek toe nie ʼn gees nie, Ek is lewendig, dis Ek, Jesus.  Besef julle al wat dít beteken? Dat geen sonde blywende skade kan aanrig nie!  Dat julle sonde nie meer permanent kan seermaak en verniel nie! Dat selfs die sonde se ergste gevolge, selfs die dood, omgekeer kan word!  Geen sonde kan nie uitgeroei word nie, daar is niks wat God nie kan en sal vergewe nie, selfs en veral die moord op sy Seun.  Al sukkel jy nog met vergifnis – hou gerus maar daarmee aan, hoor! – maar selfs al sukkel julle met vergifnis, God se vergifnis aan jou is groter as jou gesukkel met sonde. Hy is nie gepla oor die gawe wat jy voor die altaar moes los om dalk tevergeefs te gaan vrede met jou vyand soek nie. Hy is baie meer besorg dat die gawe wat God vir jou wil gee, by jou uitkom.  Hý is die gawe wat God jou wil gee.  Vergifnis vir jou.  Vrede vir jou. En vrede vir jou vriende en jou vyande, en vir almal wat daar ver is.  Vrede sonder voorbehoud of verwyt.

Lukas 24 verse 36 tot 48

12 Junie 2016, NHKA Kampersrus

Nagmaal, n viering van genade

OUDERLING

Toetrede

Toetredelied (Staan)

Hierdie eerste nagmaal na Paasfees en Pinkster is ʼn feesmaal.  Ons kom vier ons verlossing. Kyk ons terug oor die kerklike jaar tot hiertoe, besef ons wat dit God gekos het om ons hier te kry. Vandag vier ons dat ons verlossing vas staan.  Niks kan ons meer van God weghou nie, nie eers die sonde waarteen ons tot nou toe nog die stryd verloor het nie.  Met vandag se nagmaal kom ons tuis in ons Vader se huis. Niks kan ons meer keer nie.

Ons sing Psalm 23a, die teks van TT Cloete, verse 1 en 3

Strofe 3 sê:

“Totdat dit oorloop, Heer, vul U my beker.

ʼn Feesmaal word vir my as eregas berei.

Van gasvryheid word ek deur U verseker.

U tafel is oorlaai vir my.

Ek bly by U, Heer, in u huis van voorspoed.”

PREDIKANT

Toetrede

Votum en Seën (Staan)

6

Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige ‘n feesmaal gereed maak vir al die volke, ‘n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn.

8

Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig, en die trane op almal se gesigte afvee. Oor die hele aarde sal Hy die smaad verwyder wat sy volk aangedoen is. Die Here het dit gesê.

9

Wanneer dit gebeur, sal elkeen sê: Kyk daar, dit is ons God, ons het op Hom vertrou, Hy het ons gered. Dit is die Here! Ons het op Hom vertrou. Laat ons bly wees en juig omdat Hy ons gered het.

Jesaja 25

OUDERLING

Aanbidding en lof

Lofsang (Staan)

Ons begin die Here se feesmaal hier op óns berg met lof uit

Psalm 48 strofes 1 en 3

“Hier op sy berg heers God as koning.”

Die Wet (Sit)

Die Wet laat ons gewoonlik agterkom hoe ver ons van God afdwaal. Ons sonde word uit die Wet duidelik. Maar vandag het God ons hierheen laat kom, sodat Hy vir ons genade kan gee. Hy gaan ons met genade oorlaai.  Genade dring ons om dankbaar te wees.  Die Wet wys ons hoe.  Daarom gaan ons lewens na vandag begin lyk soos wat Jesus die Wet opsom in  Matteus 22 verse 37 tot 40:

37

Jesus sê: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand.

38

Dit is die grootste en die eerste gebod.

39

En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

40

In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Natuurlik gebeur dit nie vanself nie. Ons moet die sonde uitroei. Maar self kan ons nie. Daarom bely ons nou ons sonde saam.

Skuldbelydenis / Sang: (Staan)

Kom ons sing

Psalm 51 strofes 1 en 3   

Genadeverkondiging  (Staan)

As sondaars vir God om genade vra, gee Hy dit sonder voorbehoud of verwyt.  God sê in Efesiërs 2 vers 8:

“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof.  Hierdie redding kom nie uit julself nie; dit is ʼn gawe van GOD.”

Dit het klaar gebeur. Jesus Christus het ons gered.  Die Heilige laat ons dit vas glo.

Geloofsbelydenis (Staan)

Kom ons gebruik die Apostoliese Geloofsbelydenis om te sê wat ons glo:

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Die God in wie ons glo, verdien ons lof en eer.  Ons sing ʼn lofsang saam oor die Here se liefde vir ons.

Sang (Staan)

Psalm 118 strofes 1 en 5

“Die deur staan oop vir my dat ek kan ingaan na God toe.

Ek wil Hom met ʼn loflied toesing.”     

PREDIKANT

Aanbidding en lof

Gebed (Mans staan)

Verkondiging

Skriflesing (Sit)

Lukas 24 verse 36 tot 48 (Bladsy 124)

36

Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!”

37

Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ‘n gees.

38

Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte?

39

Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ‘n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.”

40

Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.

41

Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?”

42

Hulle gee Hom toe ‘n stuk gebakte vis.

43

Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.

44

Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45

Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.

46

Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,

47

en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’

48

Julle is getuies van hierdie dinge.

Hier eindig die Skriflesing.

Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. Psalms 119:103

Sang (Staan)

Gesang 258 verse 1,2

Prediking (Sit)

Jy het dit toe nie reggekry nie, daai goeie voorneme om te vergewe, of om vir vergifnis te gaan vra nie?  Jy’s nie naastenby met al jou vyande versoen nie? Bowendien was die uitstaande vergifnis en voortslepende vyandskap maar net twee van baie sondes.  Wat nou?  Want hier staan jy nou met jou “gawe”: gaan God dit vat?  Gaan God jou vat? Durf jy dit hier na die tafel toe waag?

Daai nag, die laaste keer toe Jesus en sy dissipels saam geëet het, vat Jesus toe mos ʼn brood, breek dit en deel dit onder die dissipels uit. Brood en ʼn sluk wyn. Daai wyn word suur en die brood so dik dat hulle daaraan stik as Hy sê: Julle voel nou so ná aan my, maar dit gaan nie hou nie.  Julle gaan nie eers die nag uitsien nie. Vannag nog gaan julle my los. Vannag nog is dit elkeen vir homself. Julle gaan elkeen ʼn eie koers inslaan, bang om met My en met mekaar verbind te word. Ek weet dit al by voorbaat van elkeen van julle.  Hierdie vredige nagmaalviering gaan nie hou nie. Daar wag ʼn rumoerige nag, sonder slaap, vol geweld, bloedsweet en trane, soene en swaarde, soldate en ʼn bloeddorstige skare, bedrog, omkoopgeld, leuens en kraaiende hane, onreg wat ten hemele skreeu,  en ʼn noodsitting van die hooggeregshof wat op ʼn siek grap sal uitloop, met ʼn moordenaar wat skotvry uitgaan en onskuldige wat aan die pen ry.  ʼn Nagmerrie-nag, of jy nou slaap op waak.

Kom dan nou, kom eet iets, sê Jesus vir die dissipels, dat die pad vir julle nie te swaar word nie, dat die donker van hierdie bose nag julle nie heeltemal oorweldig nie. Kom kry ʼn stukkie brood.  En hier’s wyn ook.

Daai nag hoor jy Jesus huil en bid, tevergeefs, oor bitter bekers: dis of God Hom doof hou. Een dissipel deel eers soene uit en gaan hang homself dan op. Een man verloor ʼn oor.  Een lieg oor Jesus en huil oor ʼn hoender. Die res spat uitmekaar: jy kry hulle nêrens.  Jesus is alleen. Pilatus se vrou het daai nag nagmerries en voorbodes.  Pilatus hou hom doof vir haar protes, hy hoor niks bo die geraas van die skare uit nie. Die Jode ruik bloed. Hulle blink uit van pure genade: hulle veg voor die reg vir die vrylating van ʼn veroordeelde moordenaar. Dierbaar van hulle!  Jésus verdien nie hulle genade nie: kruisig Hóm!, dring hulle aan, gee ons Barabas!

Miskien sou Prozac beter gewerk het as brood, om hulle deur daai nag te kry? Beter as ʼn happie brood en ʼn teug alkohol?  Miskien, as ek die gasheer by daai nagmaal was, het ek hulle gif gevoer.  Want nie een van hulle het hulle veel gesteur aan wat Jesus aan tafel gesê het nie.  Hulle sit sommer dadelik hulle sonde onverstoord voort.

Dit was ʼn nag van sonde daai wat ons nou nog nie vergeet het nie.

Op die Sondag kom die beteuterde spulletjie asof vir oulaas bymekaar. Vir iets soos ʼn begrafnis, maar een sonder reënboog-toebroodjies of frikkadelle. Daar is tog niks om te vier nie.  Hulle is nie eers almal daar nie; Thomas het besluit: ag hoekom die moeite doen?  Beter dat ons liefs van Vrydag probeer vergeet. Wat help dit om soos Job op ʼn ashoop te gaan sit en jou sere met ʼn potskerf oop te krap?  Ontnugterd, verdwaas, verslae, verskrik, sit hulle agter geslote deure oor hulle dink hulle is seker volgende.  Bang, ook vir die sinneloosheid van dit alles: alles het tot niks gekom, doodgeloop, alles is verydel.  Die deure is gesluit om die vyand uit te hou, maar deure hou nie die selfvertwyfeling en die selfverwyt uit nie. Dalk ís die pad vir hulle nou te swaar. Die ete daai nag saam met Jesus het nie veel gehelp nie, so voel dit.

Toe gebeur die ondenkbare. Daar staan Hy skielik, Jesus, doodluiters, springlewendig.  “Hallo!” sê Hy.  Dis wat “Vrede vir julle”, of “sjalom”, beteken het.  Dis hoe alle Jode mekaar op straat groet, met “vrede!”  Doodluiters staan Jesus wat Vrydag dood en begrawe is en vra hoe gaan dit met húlle!

Op daardie Sondag dat die kerk vir die eerste keer bymekaarkom, hou Jesus sy stukkende hande na sy verloopte volgelinge toe uit, nie in gebalde vuiste wat wraak soek nie, maar oop hande soos mens ʼn vriend groet.  Was Hy, met goeie rede, wrokkig, sou Hy korte mette kon maak van hulle rus en vrede.  Maar sy woorde is nie woedend nie, maar helend.  Die roetinegroet van “vrede vir julle” kry in sy mond weer regtig betekenis, Hy skep met een woord vrede. Dieselfde hand wat die brood aan hulle uitgedeel het, nou verwond, gee vandag vrede verniet weg.

Met die oplig van sy hande sien hulle sy wonde, krimp hulle ineen van skaamte oor hulle skuld.  Vir ouens wat pak slae verdien en niks anders as woede en oordeel verwag nie, sê hierdie alledaagse groet dié keer oneindig meer.

Dis Jesus se eerste woorde aan sy kerk, sy eerste woorde ín sy kerk: “Vrede vir julle!”

God wat met elke woord wêrelde skep, sy vleesgeworde Woord sê:  Laat daar vrede vir julle kom, en dit is so. Nie eers die gemors wat julle gemaak het van alles na Donderdag se nagmaal staan in vrede se pad nie.

Vandag kom ons net brood vra om ons deur die nagmerrie te kry. Die pad is swaar.  Ons hou dit nie.  Ons maak dit nie. Ons kry nie eers vergifnis reg nie.

Destyds al, by daai eerste erediens op Sondag een, het Jesus jou in gedagte gehad, en hierdie oomblik waarop jy daar sit en huiwer of jy die nagmaal mag vat en eet. Vrede vir jou, sê Hy.  Kry gemoedsrus, skep moed.

Jy het brood kom vra sodat jy net aan die lewe kan bly, want die hemel weet die pad is lank en swaar.  Jy wat vra net vir vandag se brood, net sodat jy deur vandag kan kom, jy gaan hier baie, baie meer as net brood kry. Jesus gee jou sy liggaam,  ʼn stukkende liggaam, maar ʼn lewende een; ʼn gebroke liggaam – want jy het Hom so verniel – maar  ʼn liggaam vir jou gebreek, sodat jy kan heel word.

Jy het net vergifnis kom vra, oor jy self so met vergifnis sukkel.  Wat jy gaan kry, is alles behalwe gif.  Jy gaan jou eie opstanding proe.  Jy ontvang die ewige lewe hier.

Ons het brood gevra, ons gaan vrede kry. Vrede met God, ons grootste vyand.  Vrede oor ons sonde. Oor die sonde wat ons nie uit ons lewe kon uitkry nie, al wou ons ook hoe voorbereid hier opdaag, met allerhande gawes vir God. Hier staan ons met niks om te wys nie, niks om aan te bied nie, niks eers om hier te los as ons loop soek vir vrede by ons vyande nie.  Hier gee God vrede oor die sonde waarteen ons nog die stryd verloor, vrede oor die sonde waarvan ons nie eers weet nie, vrede oor die sonde waaroor ons onverskillig voel, en ons nie veel aan steur nie.  Ons het ook vrede selfs oor die vergifnis wat ons toe nie kon gee nie, en ook nie oor ons hart kon kry om te gaan vra nie.  Nie dat ons uitstaande vergiffenis sommer kan los nie.  Maar vandag staan dit nie in ons pad tafel toe nie. Vandag het ons vrede. “Vrede vir julle”, sê Jesus se gewonde hande.

Nog onseker of jy mag kom aansit? Vir God bang?  Vir Jesus versigtig, want Hy het elke reg om te straf?  Hy het mos gesê Hy gaan sy vergifnis aan ons heroorweeg as ons nie self vergewe nie.  En ons kon toe nie vergewe of vergifnis vra nie.  Gaan ons daar in ons sonde bly sit?  Gaan ons daar in die banke vergaan, van sy tafel afgesny,  vol twyfel, verskrik?

“Kyk na My!” sê Jesus. Kom, voel aan My!  ʼn Gees het tog nie vleis en bene soos Ek het nie! Wel, vir n spook het jy seker genoeg rede om bang te wees, maar as dit regtig Jesus is en Hy leef, is daar dalk nog beter rede om bang te wees vir Hom. Want as dit regtig Hy is, die Een aan wie ons soveel skade berokken het, en nie net sy spook nie, gaan Hy ons kan verwyt, ons kan  aanspreeklik hou, van ons rekenskap kan eis, ons straf, op ons wraak neem?

Jesus se tweede sin aan sy kerk is: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte?”

Kom hierso.  Kom, “kyk na My!  Voel aan My!” sê Jesus.  Kyk, Ek leef.  Nie net is Ek toe nie ʼn gees nie, Ek is lewendig, dis Ek, Jesus.  Besef julle al wat dít beteken? Dat geen sonde blywende skade kan aanrig nie!  Dat julle sonde nie meer permanent kan seermaak en verniel nie! Dat selfs die sonde se ergste gevolge, selfs die dood, omgekeer kan word!  Geen sonde kan nie uitgeroei word nie, daar is niks wat God nie kan en sal vergewe nie, selfs en veral die moord op sy Seun.  Al sukkel jy nog met vergifnis – hou gerus maar daarmee aan, hoor! – maar selfs al sukkel julle met vergifnis, God se vergifnis aan jou is groter as jou gesukkel met sonde.

As jy nou, vandag, hier van die tafel af wegbly oor jy bang is jy en jou lewe is nie vir nagmaal goed genoeg nie, as jy dink jou uitstaande vergifnis gaan God se genade vir jou keer, dan glo jy in verdienste, nie liefde nie.  Dan glo jy in sonde, nie in God nie.  Dan glo jy God is wreed. Dan het jy die verkeerde God beet. Dan moet jy dalk tog maar liefs wegbly.

Want van die ware God se liefde kan niks jou skei nie.

Jou vergifnis van ander, al het jy dit reggekry, tel nie vandag in jou guns nie.  Dit verdien vir jou niks, dit koop nie vir jou toegang tot die tafel nie.  Al het jy dit toe gaan doen en reggekry om te versoen, jy kom vandag nie hier met betaling aan nie.  Jy kom met niks.  Jy kom by God sý gawe haal, nie joune betaal nie.  En God, die Vader van ons Here Jesus Christus, is tevrede om jou net lief te hê, sonder dat jy Hom daarvoor vergoed.

Die eerste nagmaal, die een met Jesus en sy dissipels, moes daai dissipels deur die nag kry wat vir hulle voorgelê het.  Jesus het aan tafel al geweet wat hulle later daai nag sou aanvang.  Hy het toe al van hulle sonde geweet.  Hy het hulle dit dan vooruit al vertel. Hulle het Hom nie geglo nie. Maar Hy het hulle nie weggejaag nie.  Hulle was saam met Hom aan tafel.  Vandag se nagmaal is een en dieselfde: God weet ook van al jou sonde.  En God sê vir jou: Kom voel aan My.

Vrede vir jou, sê Hy. Waarom is jy so bang, en waarom kom daar twyfel in jou hart oor of jy hier aan my kan kom vat en proe? Kom kyk na my stukkende lyf: dit is tog Ek self.  Kom voel aan My.  Kom eet by My.  Regte brood, egte wyn, werklike kos,  nie net jou verbeelding nie.

Na die eerste skok van die weersiens is die dissipels bly en vol verwondering.  So bly en verwonderd, dis vir hulle te goed om waar te wees.  Hulle kon dit nog nie glo nie. Jy ook nie?

Gebakte visVir jou wat nog wonder of dit regtig kan, of jy maar mag nader kom, vra Jesus: “Het julle hier iets om te eet?”

Hulle het Hom toe ʼn stuk gebakte vis gegee. Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet. Vandag het ons vir Hom potjies hoender en skaap.  En, hier aan die tafel, brood en wyn.

Hy is hier.  Die Here is vandag self hier.  Hy het by ons kom eet.  As Hy jou roep na sy tafel toe, kom jy, jy kibbel nie.  Hy het vir jou iets om te eet.  Meer as net brood, vis of wyn.

Hy is nie gepla oor die gawe wat jy voor die altaar moes los om dalk tevergeefs te gaan vrede met jou vyand soek nie. Hy is baie meer besorg dat die gawe wat God vir jou wil gee, by jou uitkom.  Hý is die gawe wat God jou wil gee.  Vergifnis vir jou.  Vrede vir jou. En vrede vir jou vriende en jou vyande, en vir almal wat daar ver is.  Vrede sonder voorbehoud of verwyt.

Jy gaan vandag hier vrede kom haal want jy kan dit nêrens anders kry nie, nie eers by jouself nie, nie eers in vergifnis van jou vyand nie.

As dít jou nie bly maak en laat jubel nie, verstaan jy nie genade nie. Dan weet jy nou nog nie hoe lief God jou het nie.

As jy dit weet, en jou nogtans van die tafel weerhou, oor iemand anders hier is, of oor jy nie dink jy verdien om hier te wees nie, het Jesus se opstanding jou nog nie getref nie.

Glo jy Christus leef, sal jy alles in die stryd werp om Hom hier in lewende lywe te kom ontmoet, uitgebeeld in brood en wyn, ingegrif in mense se lewes, vergestalt in sy kerk, aan jou gegun en gegee sonder dat jy iets in ruil hoef te bring.

Hoor weer die Here vra: “Het julle hier iets om te eet?”  En dink daaraan of jy kan waag om te sê nee.   Ons is hier om te eet.  Hier is oorgenoeg vir almal.  Ons is oorlaai van genade.

Kom, kom laat ons feesvier.

 

Sang (Staan)

Gesang 200 verse 1 en 2

Nagmaal (Sit)

Wisselformulier vir die Nagmaal

Geliefdes in ons Here Jesus Christus!

Die Here Jesus het voor sy dood saam met sy dissipels brood en wyn geneem en gesê dat hulle dit moet gebruik tot sy gedagtenis. Daarom vier ons die nagmaal.

Die nagmaal is een van die kerk se twee sakramente wat bedoel is om ons geloof te versterk. Met die tekens van brood en wyn verseker Jesus Christus ons deur sy Gees van ons gemeenskap met God en met mekaar. By die tafel van die Here is ons ook saam om God te verheerlik.

Ons glo dat die Here deur sy Gees by hierdie feesmaal teenwoordig is. Wanneer ons die brood en wyn ontvang, herinner dit ons dat ons verlos is deur die dood en opstanding van Jesus Christus. Deur geloof in Jesus Christus het ons saam met Hom gesterf en staan ons saam met Hom op tot ‘n nuwe lewe.

Die nagmaal wil ons daarvan verseker dat ons aan Christus deel het. By hierdie maaltyd rig die Here ons hoop ook op die hemelse feesmaal saam met God en al die gelowiges. Ons behoort vir ewig aan God. Daarom hoef ons niks te vrees nie. Christus is die Een wat was, wat is en wat kom – die Here van die toekoms.

Rondom die tafel word die gemeenskap van gelowiges sigbaar. Ons het immers almal deel aan hiérdie brood en wyn. Die liefde wat God aan ons skenk bind ons aan mekaar. Voor ons by die tafel aansit moet ons onsself eers ondersoek en afvra of ons bereid is om deur ons doen en late hierdie band van liefde te versterk.

Ons is bewus van ons eie sonde en het daaroor berou. Omdat Jesus Christus ons vergewe mag ons by sy tafel aansit. Die deelname aan die nagmaal wil ons opnuut van sy genade verseker. As ons aan tafel die tekens van ons eie vergifnis vir mekaar aangee, gun ons wat ons ontvang het, ook aan mekaar.

Wanneer ons van die tafel af opstaan, stuur God ons om wêreldwyd te getuig van sy versoening, sorg en liefde. God versorg ons met hemelse en aardse brood. Kom ons versorg uit dankbaarheid ander ook só.

Voordat ons aan die tafel van die Here aansit, laat ons bid.

Sang (Staan)

Gesang 568 strofes 1,2 en 3

Uitnodiging om te kom aansit

Broers en susters in die Here, u word hartlik uitgenooi om te kom aansit aan die tafel van die Here!  Hier in die Hervormde Kerk, bedien ons die nagmaal aan tafel.  Maar ons sal die brood en die wyn daar na u toe bring as u nie kan opstaan en kom aansit nie.  Wys asseblief tydens die laaste tafel vir die diakens as hulle u moet bedien.  Moeders sal tydens die tweede tafel in die moederskamer bedien word.

Uitnodiging aan persone buite die gemeente:

Belydende lidmate van gemeentes van ons Kerk en van ander kerke met dieselfde belydenis is welkom, mits u in u eie gemeente ook die voorreg geniet.

Oproep tot gelowige deelname (tafelformule):

Broers en susters, laat ons nie ons gedagtes rig op die uiterlike tekens van brood en wyn nie, maar op die betekenis daarvan, naamlik die versoening in Jesus Christus, ons Here.

Sang terwyl die tafel voorberei word (Sit)

Gesang 399 strofe 1

Uitnodiging na die nagmaal:

Tafel 1:

Kom, laat ons feesvier. Hierdie kind van my was dood, en hy lewe weer; was verlore en Ek het hom teruggekry (Luk 15:32).

Tafel 2:

Gemeente, alles is gereed; kom na die tafel van die Here. Kom, en word versterk in die geloof (Matt 22:4).

Tafel 3:

Gemeente, kom; die maaltyd staan klaar (Luk 14:17).

Tafel 4:

Kom, gemeente, ons is almal van die Here afhanklik. Hy voed ons op sy tyd (Ps. 104:27)!

Tafel 5:

Gemeente, kom dan; want die Here maak sy hand oop en ons kry meer as genoeg (Ps. 104:28)!

Tafel 6:

Kom, gemeente, laat ons ons oë op die Here rig; want Hy voed ons op sy tyd (Ps. 145:15)!

Tafel 7:

Kom, gemeente, eet! Anders sal die pad vir u te lank word (1 Kon 19:7).

Wanneer die brood gebreek en uitgedeel word, sê:

Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van Christus.

En wanneer die beker aangegee word:

Die beker wat ons drink, is die gemeenskap met die bloed van Christus.

Eet en drink, doen dit tot sy gedagtenis. Jesus Christus is die Een wat was, wat is en wat kom.

Sang (Sit)

Liedere na elke tafel

Gesang 171, een vers na elke tafel.  Na die tweede tafel word die lied weer een vers op ʼn slag herhaal.

Slotwoord (Sit)

1

Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.

2

Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.

3

Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees,

4

wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon,

5

wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk.

8

Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde.

9

Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie.

10

Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,

11

want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.

12

So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

13

Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

14

Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.

15

Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ‘n veldblom wat oopgaan:

16

as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg.

17

Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte,

18

vir dié wat getrou bly aan sy verbond en sy voorskrifte nakom.

19

Die Here het sy troon in die hemel gevestig, sy heerskappy strek oor alles en almal.

20

Loof die Here, magtige engele wat sy opdragte uitvoer, sy bevele gehoorsaam.

21

Loof die Here, alle hemelwesens wat Hom dien en sy wil doen!

22

Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here op al die plekke waar Hy heers! Ek wil die Here loof!

Psalm 103

Wegsending

Slotsang (Staan)

Gesang 284 strofes 1,2 en 3

Seëngroet (Staan)

4

Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!

5

Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.

6

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

7

En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Filippense

Respons (Staan)

Halleluja!

Gesang 176

OUDERLING

Afkondigings

DIAKENS

Dankoffers

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s