Orde by en orde van die erediens

Die erediens is die hart van die gemeente se lewe.  Dis die belangrikste samekoms van ʼn gelowige gemeenskap.

Saam met en soos die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika glo ek met my hele hart dat ons God in die erediens ontmoet.  Daarom glo ek ook dat ons nie lukraak of halfhartig met die erediens moet omgaan nie.

Ons het al met mekaar gepraat oor die orde by die erediens.  Ons het gepraat oor, by gebrek aan ʼn beter woord, die atmosfeer by en rondom die erediens.

Anders as die Roomses, is vir ons Protestante daar niks heiligs aan die gebou nie.  Die Roomses heilig hulle liturgiese ruimtes en begraafplase, sodat jy die nie sommerso mag betree nie, en sodat jy dit eers weer moet “ontheilig” alvorens jy iets anders op daai selfde stuk grond kan doen.  Ons nie.  Hoekom nie?  Want God woon nie hier in ons kerkgebou nie.  Hy kom hier in, ja, maar God gaan ook saam met jou van hier af huis toe.

Pasop dus om te sê hierdie is die Here se tempel, en dat jou gedrag hier daarom vreemd anders moet wees as elders. Jou liggaam is ook ʼn tempel van God.  Die hele aarde is die voetbank vir sy voete.  As ons met agting en ontsag by die kerk byeenkom, is daardie agting nie gemik op die gebou nie, maar op die God wat ons op ʼn spesifieke manier hier ontmoet.  (Ek sal nou meer sê oor die spesifieke manier van hierdie ontmoeting.) Ons moenie besluite neem oor hoe ons by die kerkgebou moet optree omdat en asof daar iets magies vreemds aan die gebou sou kleef nie.

Ons het gepraat oor bedagsaamheid, dat ons mekaar hier in ag moet neem.  Oor respek vir mekaar se gevoelens, en mekaar se behoeftes en smagting na God.  Dit kan nie anders nie!  Ons moet ook ag slaan op mekaar se vreugde oor God se seëninge, en vir die blye weersiens van broers en susters wat deur Christus ons familie geword het.  Kerk is gewyd, maar nie net gewyd nie.  Hier behoort ruimte te wees vir almal.  Die samekomste van die gemeente moet innig, warm en verwelkomend wees.  As selfs die mossie en die swaels soms hier kan invlieg en tuis wees, moet elkeen van ons ook.

Ons moet hier fyn ingestel wees op mekaar, en vir mekaar ruimte laat om elkeen op sy of haar unieke manier die Here te dien.   Natuurlik moet ons, en dit geld vir almal van ons. En daarom is ons selfbeheersd, gee ons nie aanstoot nie, hou ons mekaar altyd in gedagte.  As ons wil praat oor hierdie samekoms en oor hoe die gemeente gestalte gee aan die gemeenskap van die gelowiges hier waar ons weekliks saam ons geloof kom gedenk, dan praat ons oor orde by of orde rondom die erediens.  Dat dit ook ordelik moet geskied, ly geen twyfel nie.  Wat vir die gemeente rondom die erediens reg en gepas voel, kan na hartelus self besluit word.  Uiteraard sal dit dan ook van gemeente tot gemeente verskil.

Maar dan praat ons nog nie oor die orde van die erediens nie.  Of van erediensordes nie.  Dis iets anders.  Hier is minder ruimte vir eie smaak of persoonlike voorkeur.  Oor erediensordes besin die hele Hervormde Kerk in haar Algemene Kerkvergaderings.  Daardie besinning geskied aan die hand van ondersoek van die Bybel, teologiese besinning oor wat God eis, grondige debat oor hoe dit binne ons Kerk se etos ten beste toegepas kan word, en eindelik besluit die vergadering van ampsdraers vir die hele Kerk hoe om te maak.   Hierdie besluite is geldig vir ons ook.

Ek hoor u sê dat daar wanorde selfs in ons erediens is.  En ek kom agter dat wat u daarmee bedoel is dat u soms op die agtervoet betrap word en nie weet wat volgende gaan gebeur of wat om volgende te doen nie. ʼn Erediens is nie ordelik oor u vooraf al weet wat nou gaan volg nie. En as u nie weet wat in hierdie erediensorde volgende gaan kom nie, impliseer dit nie outomaties daar’s wanorde nie.

Miskien is die taal die oorsaak van die verwarring.  Kom ons praat dan van liturgie, as dit meer sin maak, maar ek hou persoonlik meer van die Afrikaanse woord “erediensorde”, hoewel ek weet dit kan ʼn verwagting skep wat nie daarmee bedoel word nie.

As u ʼn vaste patroon en onveranderlike voorspelbaarheid in die orde van die erediens verwag, gaan u dit nie in die Hervormde Kerk se erediensordes vind nie. Die Hervormde Kerk beklemtoon juis dat elke ontmoeting met God, en daarom ook elke erediens, uniek is. Dog het die Hervormde Kerk ʼn spesifieke manier waarop ons die ontmoeting met God in die erediens reël, al is geen twee eredienste presies identies nie.

As ons die erediens al soos ʼn rympie kan opsê, ontmoet ons nie meer vir God nie, maar is ons blote toeskouers soos met ʼn fliek wat ons al honderde kere gesien het en waarvan ons die dialoog uit ons kop uit ken.  Ek is so met “Love Actually”, en die kleinkinders met “The Lion King”. As jy met die erediens so kan maak, is dit uiters disrespekvol jeens God.  Dan praat ons nie meer met Hom nie, en luister ons ook nie meer na Hom nie. Dis soos om voor ete of slaaptyd ʼn formulegebed af te rammel. Dan gee ons nie net aanstoot aan ander mense nie, maar minag ons God.

Die erediensordes van die Hervormde Kerk reël die verloop, of te wel orde, van die gemeente se ontmoeting met God.  En die ontmoeting met God is in een opsig nie anders as enige ander kuier nie: ons praat met mekaar, ons en God.  God praat, ons antwoord, ons vra, God sê; ons kommunikeer.

Die Bybel vertel ons wat gebeur as mense en God mekaar ontmoet.  Daardie gebeure het ons Kerk in die Bybel gaan soek en netjies geïdentifiseer en beskryf.  Hulle is, onder andere, toetrede en wegsending, lof en aanbidding, skuldbelydenis en genadeverkondiging, skriflesing en verkondiging, geloofsbelydenis en dankbare voorneme, ens. Ons Hervormers noem daai gebeure elemente van die erediens.  Met die elemente bou ons ʼn erediens.

Foto met erkenning aan die Gereformeerde Kerk Wapadrant. http://www.wapadrant.co.za/eredienste.html
Foto met erkenning aan die Gereformeerde Kerk Wapadrant.
http://www.wapadrant.co.za/eredienste.html

Erediensordes doen dan twee goed:

  1. Erediensordes verseker dat in ons eredienste al daai elemente hulle regmatige plek kry. Hulle moet daar wees.
  2. En erediensordes verseker dat die elemente so ingeklee en ingespan word dat dit vir ʼn gemeenskap wat deelneem aan hierdie ontmoeting met God, stap vir stap sin maak. Soms het dit met die elemente se volgorde te doen, soms met die elemente se inhoud.

Die doel daarvan is dat die gemeente hopelik aan die einde van die erediens kan uitloop en sê ons het deelgeneem aan ʼn ontmoeting met God.  Die doel is nie dat ʼn gemeente moet weet wanneer om op te staan en wanneer om te sit nie. ʼn Goeie liturg sal die liturgie so toepas dat niemand hoef te wonder nie: hy sal doodgewoon aankondig wat die gemeente volgende saam kan doen.

Inhoud is veel, veel belangriker as houding.

Inhoud word bepaal enersyds deur die aard van die eredienselement en deur wat die liturg met die skriflesing en verkondiging in hierdie erediens aan die orde gaan stel.   Na ʼn seëngroet is ʼn lofsang gepas, as skuldbelydenis egter nie.  Liedere is nie net wysies wat ingeoefen moet word soos in ʼn laerskool sangklas nie.  Liedere is response wat na melodie en lirieke betekenisvol is.  Die votum kan al oor die preektema iets waardevols sê, die seëngroet aan die einde van die erediens kan ewe toepaslik wees.  Net so die gebede en die skriflesings wat vir die wil van God gebruik word.

Dit verg werk van ʼn liturg.  Myns insiens kan dit net nie nagelaat word nie. Dit moet!

As ʼn vergadering van ampsdraers begin twyfel oor of die Wet nog in die erediens gepas is, want dis agtergehaal, besef ek dat ons ons eie liturgie nie meer verstaan nie, en nie weet hoe om erediens te gebruik nie. As dieselfde vergadering benadruk dat erediensordes afgewissel moet word, is die implikasie dat ons weer moet leer om die eredienselemente te herken en te herwaardeer as onlosmaaklik deel van ontmoeting met God.

Erediensordes is onmisbaar, en selfs kosbaarder as orde rondom die erediens.  Dit sal hartseer wees as ʼn gemeente besluit op een erediensorde net sodat hulle gemaklik voel oor sit en opstaan.  Hoeveel inhoud gee ons nie daarmee prys nie!  Hoe hol ons nie daarmee die erediens uit nie!

Advertisements

5 thoughts on “Orde by en orde van die erediens

  1. Hennie, ek het geantwoord, maar daar was ‘n “error” boodskap. So ek probeer weer. Ek dink nie jy sal pastorale sake met ander bespreek nie. Maar ‘n algemene aanmerking van meningsverskille is die agtergrond wat ek van praat. Wat met ouderlinge gepraat word is ek ook nie bewus van nie. Een van jou ouderlinge het my wel aangespreek en gevra om terug te staan. Waarmee ek nie ‘n probleem het nie. Jou verduideliking is ook vir my genoeg, alhoewel ek verskil van sekere stellings. Ek is ook nie besig met “verdagmaking” nie. As herder wat na Kampersrus gemeente gestuur is, glo ek dat jou kudde sal groei en dat nie een skaap verlore sal gaan nie. Ek volstaan dus met my publieke bespreking oor die aangeleentheid. Ek glo enige verdere gesprekke met betrokkenes kan op ‘n meer persoonlike basis gedoen word.

  2. Die inhoud van hierdie gesprek vra na verduideliking.

    Eerstens: “Jy het verseker die saak met Hennie bespreek so ek vermoed jy het teen die tyd meer agtergrond?” Die insinuasie dat ek sou uitgepraat het oor wat in pastorale gesprekke gebeur het – sogenaamde “agtergrond” sou verskaf het – gee aanstoot. Ek het beslis nie.

    Tweedens: die artikel handel nie oor gebedshouding nie. Van al die gebede wat ek in hierdie gemeente gelei het, was die gemeente in nog net een sittend. Dis gedoen sodat hulle tydens die gebed almal, mans en vroue, saam kon opstaan om met sang self aan die gebed deel te neem. Wanneer gebid word, staan daar duidelik op die skerm die instruksie: “Mans staan.” Dis die normale gebedshouding vir Hervormde eredienste. Dis ek wat dit daar laat skryf. Ek handhaaf die gebruik. Daarom is ek verdwaas oor die verdagmakery.

    Die “agtergrond” vir wat ek geskryf het, is soos volg: ek het Orde 3 gebruik vir n erediens, n ou orde wat in gebruik was tot en met my verhuising na Engeland in 2007. Orde 3 het geen “Toetrede”-element nie. Ordes met toetrederites is tydens my afwesigheid die laaste nege jaar, ingevoer. Ek het grootgeword met die teologie dat God die samekoms van gelowiges tot ontmoeting met Hom konstitueer. Daarom is die eerste woorde wat in die erediens gesê word, altyd God s’n. Daarom is die votum en seengroet altyd n direkte aanhaling uit die Bybel. Daarmee sê ek nie dat toetrederites nie gepas is nie, bloot dat dit vir my nuut is. Dog, so gewoond is die Kerk al aan die nuwigheid van die toetredeprosedure dat, toe met Orde 3 geen toetredelied afgekondig word nie, die gemeente nie geweet het om op te staan vir die votum en seen nie. Dit het, na n week van gesprek oor erediens, n groepie ouderlinge tydens n gewag op die begin van n kerkraadsvergadering, gesellig laat redeneer oor of hulle nie vir die gemeente moet leer om maar altyd op te staan as die ampsdraers in die kerk inloop nie. Dit sou weer die toetrederite onmoontlik maak. Ek het tydens die gesprek te skerp gereageer op die welmenende bedoelings van ampsdraers wat in hulle gesprek juis sensitief wou wees vir lidmate wat in die erediens ongemaklik kan voel oor wat hulle wanneer moet doen. Vandaar toe hierdie respons: om te verduidelik en vergifnis te vra. Ek het die teks daarvan aan die betrokke ouderlinge aangestuur met n versoek dat hulle my vergewe vir my oorgevoeligheid tydens die gesprek. Dit was beslis nie bedoel om nog klappe uit te deel of weer skoor te soek nie. En dit was beslis ook nie in reaksie op pastorale gesprekke wat in die gemeente gevoer is nie.

  3. Goeie genade – skrik ek my wind weg vir die “kommentaar” op ‘n lieflike gebalanseerde stuk oor orde en vrede (Tina van Wyk 31 Mei 2016) Ek ken my vriend en geloofsgenoot al baie baie jare, deur dik en dun – en hy het in sy lewe nog nooit “aangesit” nie. In elk geval nog nooit op ‘n preekstoel nie. Dat hy ‘n prediker van formaat is en een van die bestes wat ek nog ooit gehoor het – beide in aanbieding en inhoud is nie te betwyfel nie, is nie net my enige singuliere opinie nie, en kan en is en sal bevestig word in die mond van twee of drie, wel baie meer!

    As respek en eerbied dit is waaroor dit vir u gaan Sr. van Wyk, wat van respek en eerbied vir die predikant, sy roeping in die kerk en sy persoon. Hy is tog geroep en bevestig en daarmee saam bely die NHK dat hy ‘n geroepe dienaar deur die wil van God in Kampersrus is. U dan nie? Of onderskryf u nie die stigtelike formuliere van die NHK nie?

    En kan ek u sê ek meen as respek en eerbied sonder liefde bedryf word is dit tirannie. Is dit ‘n bloot ‘n geraas. Ek kan verhandeling lengte reaksie op u “kommentaar” skryf maar sekere klemme wat u maak (BOER, Dawidskind Voortrekkerwysies ens.) laat my besluit (dak ten onregte) u is dalk nie oortuigbaar nie. Dus volstaan ek met ‘n enkele gedagte in ‘n paar sinne op uitgebrei. En ek neem die toonaard van u skrywe as die maat waarmee u gemeet wil word.

    Ek vermoed (en nie sonder rede, as ek u skrywe lees nie) u hou persoonlik nie van die skrywer nie en ek vermoed ook niks sal u ooit van standpunt laat verander nie. U liefdeloosheid (ek noem dit so) (o.a. “U sit aan terwyl u preek”) verstom my van iemand wat ‘n Dawidskind sou wees – en laat my dink aan die bekende 1 Korintiers 13 se vemaning (ek parafraseer om ‘n punt te maak): al is ek ‘n BOER en al sing ek vootrekkerwysies en al is ek ‘n Dawidskind en al het al die EERBIED dat ek stok-stigtelik is in die kerk ….maar ek het nie die liefde nie ….dan is ek niks. NIKS.

    Want die liefde is geduldig, is vriendelik! is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig! nie is nie verwaand! nie, handel nie onwelvoeglik! nie soek nie sy eiebelang! nie is nie liggeraak! nie….dit bedek alles, glo alles hoop alles verdra! alles…..

    Ek sou wou hoop dat die Kerkraad daar by u met u in gesprek sal tree, u vennyn lyk nie vir my gesonde navolging van Christus nie.

    Sterkte my Broer – miskien is 2 Konings 6:16 (tong in die kies) ter sake “Moenie bang wees nie!” sê Elisa vir hom. “Daar is meer aan ons kant as aan hulle kant!”

    Jy! het niks om te bewys nie. Sela.

    Liefde vir al die gelowiges daar

    peet

    1. Peet, duidelik ken jy nie die agtergrond nie. Met jou aanval op my lei jy die aandag af van die punt wat ek maak. Ek was verbaas oor die stuk, want dit is juis waaroor alles gaan. Orde in die Kerk. Sit of staan as ons bid in die Kerk, Dalk moet jy eers seker maak wat die agtergrond is? Die vennyn wat jy openbaar is self baie liefdeloos? Jou sinspeling dat ek nie ‘n Christen is net omdat ek Hennie aanvat is darem regtig verregaande? Jou tong in die kies aanmerking is uiters swak smaak. Die oordeel waarmee jy my vandag meet, hoop ek nie word aan jou toegedeel nie. Ek hoop daar is iemand naby jou wat met jou ook ‘n gesprek kan hê oor jou houding, Jou kerkraad dalk? Mag predikante uitdeel maar nie ontvang nie? Ek sou sê as Hennie stellings in openbare media maak moet hy verwag iemand gaan reageer daarop. En vir jou kennisname, ek ken Hennie nie goed nie, so ek gaan regtig nie maak asof ek van hom hou of nie. Die diepte in sy gebed het my hoendervleis gelaat. ‘n Man wat so met God praat, mag maar. Ek het dit dalk kras gestel met die aansit, dit moet dalk meer as voordra? (act?) aanbied? wees? Jammer Hennie as ek jou daar seer gemaak het. Feit bly, jou manier van preek het my nie so getref soos jou manier van bid nie. Ek bly egter by wat ek gesê het. Uit respek vat ‘n man ‘n skinkbord by ‘n vrou, laar hy haar eerste by ‘n deur in/uit gaan (as dit veilig is!). Staan jy op as ‘n ouer man of vrou by ‘n vertrek instap, kyk jy iemand in die oë as jy met hom/haar praat. Waarom dan nie die selfde respek aan die Here betoon nie. As jy met Hom praat verdien Hy seker die respek wat Hom toekom. Ek woon in Hennie se omgewing, maar nee ek is nie in sy gemeente nie. Ek sou verseker die hele aangeleentheid met my vorige predikant wou bespreek, maar ek glo nie dit sal vanpas wees nie. Jy het verseker die saak met Hennie bespreek so ek vermoed jy het teen die tyd meer agtergrond? Ten laaste, net soos jy vir Hennie opkom, kom ek op vir iemand baie na aan my wat voel asof haar hele bestaan uitmekaar geruk word. Ek voel asof ek vir haar jou 1 Kor 13 kan voorhou, want glo my op die stadium het sy dit meer nodig as Hennie.

  4. Hennie, net hierdie sinnetjies van jou bewys dat jy die hart van ‘n NHK tradisionele lid se siening heeltemal mis. “Erediensordes is onmisbaar, en selfs kosbaarder as orde rondom die erediens. Dit sal hartseer wees as ʼn gemeente besluit op een erediensorde net sodat hulle gemaklik voel oor sit en opstaan. Hoeveel inhoud gee ons nie daarmee prys nie! Hoe hol ons nie daarmee die erediens uit nie!” My mans STAAN as daar gebid word. Hulle is nie slap in die rug nie. Ons is BOERE. Jy is afhanklik van God se genade. Hy is nie boots en all in jou hart nie. Hy vul jou met sy vreugde en liefde. Jy sê tereg dat mens nie aanstoot in die erediens moet gee nie. Ook sê jy heeltemal reg dat die GEMEENTE, nee eintlik die ouderlinge namens die gemeente (want hulle KEN hulle lede), besluit hoe die erediens verrig moet word. Dit gaan beslis nie net oor sit of staan as daar gebid word nie. DIT GAAN OOR RESPEK VIR DIE HERE. ‘n Boer dien die Here met vrees. Ja en ek weet hoe snak almal nou na hulle asems. God is jou HEMELSE Vader nie jou pel op aarde. As ons almal meer respek vir Hom het, meer respek vir ons ouers veral die vaders het, sou ons nie nou in die gemors gesit het waar ons land vandag is nie. Alles word los en gemaklik gemaak vir die mens. Menseregte, diereregte ens ens ens. As Hervomdelid verkies ek om God met voortrekkerslied en wysie “Prys die Heer” in die Kerk te dien. Maar ek dien hom met oorgawe buite die Kerk ook. Ek word deur vriende gesien as ‘n Bybelse Dawidskind. Ek lag en sing en dans in sy teenwoordigheid deur die week, maar Sondag wil ek in EERBIED gaan sit en gevoed word. Ek wil nie sit en lag oor die manier wat ‘n boodskap oorgedra word nie. As ek hom so wil dien, gaan ek na een van ons verligte Afrikaanse Kerke toe. Ek moet sê U manier van preek was nie vir my treffend nie, maar die manier wat U BID het my geraak! Hoekom? U sit aan terwyl U preek, U bid met respek en eerbied. So lang storie kort. Die sit en staan en rondloop en grappies maak is nie die essens van die saak nie. Die RESPEK en eerbied is waaroor dit vir ons klomp gaan.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s