Word net honger genoeg. . .

Jy weet daar is iets ernstigs met die wêreld fout die dag as daar ʼn week vir kinderbeskerming afgesonder word.   Vra jy dan waarteen ons kinders kwansuis beskerm moet word, is dit die soort goed waarvan die TV-nuusleser jou waarsku dat wat nou kom, nie vir sensitiewe kykers goed gaan wees nie.  Dink jy daaraan dat kinders die sensitiefste onder sensitiewes is, en dat hulle nie net toekykers is nie – hulle is die slagoffers – is die afgryse waarmee leë woorde vir my en jou al kan vervul, nog nie naastenby wat daai kind self moet deurmaak nie.

Deuteronomium 28 verse 46 tot 56

29 Mei 2016, NHKA Kampersrus

Orde 3

PREDIKANT

Votum (Staan)

Soos ‘n swanger vrou wat inmekaar krimp en skreeu oor haar geboortepyne wanneer sy ‘n kind in die wêreld wil bring, so, Here, is ons in u teenwoordigheid. (Jesaja 26 vers 17)

Seën (Staan)

Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. (Jesaja 49 vers 15)

Skriflesing (Sit)

Jy weet daar is iets ernstigs met die wêreld fout die dag as daar ʼn week vir kinderbeskerming afgesonder word.   Vra jy dan waarteen ons kinders kwansuis beskerm moet word, is dit die soort goed waarvan die TV-nuusleser jou waarsku dat wat nou kom, nie vir sensitiewe kykers goed gaan wees nie.  Dink jy daaraan dat kinders die sensitiefste onder sensitiewes is, en dat hulle nie net toekykers is nie – hulle is die slagoffers – is die afgryse waarmee leë woorde vir my en jou al kan vervul, nog nie naastenby wat daai kind self moet deurmaak nie. Is om daarvoor te gril en te sê die onderwerp hoort nie in goeie geselskap nie, net nie goed genoeg nie.  Is om ʼn vernielde kind met ʼn ou kombersie toe te gooi, nog nie sorg nie, nog nie gesondmaking en nog nie naastenby liefde nie.   Iewers moet iemand sê: basta met die oordrewe gevoeligheid; hier moet iets aan gedoen word!

Ons gaan ʼn verskriklike stuk Skrif lees. Ek waarsku nou, sodat jy jou ore kan toedruk as jy wil.  Maar jou kriewelrigheid met die Woord, gaan vir God nie stilmaak nie.  Jou ineenkrimping voor die waarheid, maak dit nie minder waar nie.  En God draai nie doekies om nie. God behandel ons wat op vaste kos is, nie meer soos babas nie.  God vlek ons oop tot op die stinkende werklikheid van ons sonde, en eis van ons verantwoording.

O, ons sal vir seker die verweer gebruik: “Maar dis tog nie óns wat dit doen nie!  Gaan praat met dié wat dit moet hoor.”  Wel, dit ís ons wat dit moet hoor.  Want om ewe vroom handjies gevou te sit terwyl sonde sienderoë tier, is om self aanspreeklik te word.  Om nie te keer nie, is om net so skuldig soos die doener te word.

Ek vra by voorbaat verskoning, want wat God van die kansel af laat sê, is nie altyd strelend nie, stel nie altyd gerus nie.  Ons is nie altyd met God gemaklik nie, al wil ons hoe graag.  Die erediens is nie altyd viering nie, bring nie altyd blydskap nie.  God kan ook ontstel, God kan jou ook aan die strot gryp en jou wakker skud.

Die Skriflesing kom uit Deuteronomium 28.  Ons lees 10 verse, van 47 af tot 57. Bladsy 220.

47

“As jy die Here jou God nie met vreugde en blydskap dien nie omdat jy baie besit,

48

sal jy jou vyande wat deur die Here teen jou gestuur sal word, moet dien. Jy sal dit doen terwyl jy honger en dors en sonder klere is en gebrek ly, en jou vyand sal ‘n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou uitgeroei het.

49

Die Here sal van ver af ‘n nasie teen jou laat opruk. Hy sal van die uithoeke van die aarde af kom, vinnig soos ‘n arend wat vlieg. Dit sal ‘n nasie wees wie se taal jy nie verstaan nie,

50

‘n wrede nasie deur wie niemand, oud of jonk, ontsien word nie, ‘n nasie sonder genade.

51

Hy sal die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land opeet totdat hy jou uitgeroei het. Hy sal nie vir jou koring of wyn of olie laat oorbly nie, ook nie van die aanteel van jou grootvee en jou kleinvee nie. Jou vyand sal dit doen totdat hy jou ondergang bewerk het.

52

“Hy sal jou in al jou stede beleër totdat jou hoë stadsmure en jou vestings waarop jy staatmaak, dwarsdeur jou land afgebreek is. Hy sal jou beleër in al die stede van jou hele land wat deur die Here jou God aan jou gegee is.

53

Wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry, sal jy die vleis van jou eie kinders eet, jou seuns en dogters wat deur die Here jou God aan jou gegee is.

54

Selfs die sagste en mees verfynde man by jou sal niks omgee vir sy broer of sy lieflingvrou of sy kind wat nog lewe nie.

55

Hy sal vir nie een van hulle die vleis van sy eie kinders gee wat hy eet nie, want dan hou hy niks vir homself oor nie. Dit is wat sal gebeur wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry in al jou stede.

56

Die sagste en mees verfynde vrou by jou wat nie eers sal probeer om ‘n voet op die grond te sit nie, so verfyn en sag is sy, sal vir haar man vir wie sy lief is, of vir haar seun of haar dogter niks omgee nie. Sy sal hulle nie laat eet

57

van die nageboorte of van die vleis van haar kinders wat sy in die wêreld gebring het nie. Sy sal alles in die geheim opeet, so honger sal sy wees. Dit sal gebeur wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry in al jou stede.

Hier eindig die Skriflesing. Hebreërs 4 vers 12 sê:

Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

Gebed (Mans staan)

Sang (Staan)

Gesang 544 verse 1,2 en 3

Prediking (Sit)

Ons eet nie gewoonlik kinders nie.  Ons sê soms ons kan hulle opvreet, maar dis nie wat ons bedoel nie. Maar dalk was ons nog net nie honger genoeg nie.

Beleëring was oorlogstrategie.  Mense het mure om hulle nedersettings gebou om ander mense uit te hou.  As daai ander mense die dag kom oorlog maak,  het dieselfde mure handig te pas gekom om die dorp se mense in die dorp te hou soos gevangenes in ʼn tronk. As jou vyand nie kan inkom nie, maak hy seker jy kan nie uitkom nie.  En raak jou kos en  water op, is dit skaakmat.

Dis goeie taktiek. Dit word nou nog gebruik. Die Boere het die Engelse by Congella in ʼn hoek gedryf, dat die Britte hulle perde moes eet. Sanksies sny slagare af.

Bron: http://www.businessinsider.com/
Bron: http://www.businessinsider.com/

Oorlog is nie ordentlik nie. Die Geneefse Konvensie keer kwansuis deesdae dat jy kinders seermaak en vroue verkrag, en bepaal selfs dat jy humanitêre hulp aan jou slagoffers moet toelaat.  “Deesdae”, want die Konvensie is nou die dag eers ingestel. Buitendien is daar ʼn Engelse spreekwoord wat nogal raaksê dat daar meer as net die een manier is om ʼn kat dood te kry.  En met doodmaak, is mense innoverend en gesofistikeerd.  Wapentuig is aan die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling. Dog, in liefde en oorlog is alles geoorloof, sê nog ʼn Engelse spreuk, sodat ons ons nie te veel hoef te steur aan beskaafde maniere van moord pleeg nie.

Mense gaan dood. Mense maak dood. Dis die werklikheid. In oorlog, is dit onvermydelik, selfs gewens, as jy wil wen. Oorlog is nie juis vir sagte en verfynde mense bedoel nie, want dit help nie jy vermurwe as jou beleërde vyand vir kos kom pleit nie. “Gholf is lekker,” het my bevelvoerder op Nepara altyd gesê. Vir oorlog het hy ander byvoeglike naamwoorde gehad. Die man het selfmoord gepleeg oor wat hy gesien, en dalk ook gedoen het.

Met beleëring is Israel uitgehonger.  En wat tussen daai stadsmure gebeur het, is te erg om voor die kinders te sê. Dog, dit het met die kinders gebeur. En nie die vyand het dit aan hulle gedoen nie. . .

Is jy honger genoeg, doen ons dit sommer aan mekaar.  En aan ons eie kinders.

Hier kom ons vandag raad soek vir wat agter die mure van Afrikanergesinne se huise met ons volk se kinders gebeur, en dis nie eers oorlog nie. Om weer daai Engelse spreekwoord aan te haal, in liefde en in oorlog is alles geoorloof.  En blykbaar het ons ons kinders vreeslik lief.

Ek het hier kom leer dat kinders vir roofdiere na kos lyk.  Ek het dit met my eie oë hier by Moholoholo gesien toe ʼn pa met kinders by ʼn groep grootmense aansluit. En hier in die Bybel leer ek ons en roofdiere verskil nie veel nie.

Beskawing is ʼn dun vernis, ʼn lagie verf, effense grimering, ʼn bietjie lugversorging.  Menslikheid is ʼn rofie op wreedheid. Die sonde sit vlak en skaars gekamoefleer.  Vra maar jou kinders.

Kinders is die eerstes wat ly as ons ons sin wil kry.

Kinders is die laastes vir wie ons toelaat om in ons pad te staan.

Kinders word gesien en nie gehoor nie. Kinders word gebruik en nie gedien nie.

Kinders is gebruiksgoed. “Eet” is maar ʼn ander manier van dieselfde ding te sê. Dis al erg genoeg.  Maar dat vandag se erediens en die week se bewusmaking van kinderbeskerming hoegenaamd nodig is, met nog geen oorlog in sig nie, is om van yskoud te word.

Maar dit hoef nie te skok nie.  Ons behoort dit te wagte te wees.  Dis wat sonde is:  om jou die reg toe te eien om jou eie belange te dien; die gesindheid dat alles anders vir jou gebruik daar is; die idee dat alles en almal in jou diens staan en tot jou voordeel ingespan kan word.  Kinders ook.  Die Here sê dit verg nie oorlog om dit aan te bring nie.  Dis sommer al wie jy is, en hoe jy is.

Jou houding dat dit jou reg is om te besit, maak dat jy al hoe meer wil hê.  En nes jy baie besit, vind jy jou vreugde en blydskap nie meer in om die Here te dien nie, maar in jou geld en jou goed en die mag en koopkrag wat dit jou gee.

“As jy die Here jou God nie met vreugde en blydskap dien nie omdat jy baie besit, sal jy jou vyande  wat deur die Here teen jou gestuur sal word, moet dien,” sê vers 47.

Jy moet net genoeg besit.  Want besit jy baie, hou jy jou nie meer met God op nie.  Diens en gedienstigheid is nie meer na jou smaak nie.  Ironies dat Israel na hulle kinders toe draai as hulle niks anders het nie, as hulle desperaat is, as hulle van oorlog vergaan, as hulle die dood in die gesig staar.  Ons doen dit sommer al oor ons baie het. En juis oor ons so baie het, matig ons ons aan, sodat kinders ook ons “besit” word, goed wat jy na wellus kan gebruik.  Dis ligte vermaak. Genot. Ontspanning. Gemak. n Reg. n Proklamasie van mag.  Ons het n onversadigbare aptyt vir seks en geweld. En ons ontsien niks en niemand om ons honger te stil nie.

Maar die Here sal jou op die harde manier weer leer wat dit is om te dien. Jy sal honger en dors word, sonder klere en met gebrek, jou vyand se ysterjuk om jou nek, tot jy heeltemal uitgeroei is. Want wat jy aan die geringste van God se kinders doen, doen jy aan Hom.

Moenie die fout maak om te dink ons is daarby verby nie.  Moenie dink dit gaan vandag oor goed wat jy nie doen nie, dat jy nie so laag sal daal nie.

“Selfs die sagste en mees verfynde man by jou sal niks omgee vir sy broer of sy lieflingvrou of sy kind wat nog lewe nie. Hy sal vir nie een van hulle die vleis van sy eie kinders gee wat hy eet nie, want dan hou hy niks vir homself oor nie.”

Dis nou nog elke man vir homself.  Hier’s nie oorlogstoestande nie, dis sommer  daaglikse leefstyl.  Ons eet ons eie kinders.  Ons doen hulle allerhande geweld aan, en wonder waarom die wêreld uitmekaarval.

“Die sagste en mees verfynde vrou by jou wat nie eers sal probeer om ʼn voet op die grond te sit nie, so verfyn en sag is sy, sal vir haar man vir wie sy lief is, of vir haar seun of haar dogter, niks omgee nie.  Sy sal hulle nie laat eet van die nageboorte of van die vleis van haar kinders wat sy in die wêreld gebring het nie. Sy sal alles in die geheim opeet, so honger sal sy wees.”

Dis nie onmoontlik nie.  Dis nie so vergesog nie.  Dis ook nie eers so grillerig nie.  Want op die een of ander manier, het ons dit almal al gedoen. Ons eet ons kinders.  Ons verniel hulle.  Selfs nie beskawing, of “verfyndheid” soos Deuteronomium dit noem, keer meer nie.

Wat ruk, is dat ons dit deesdae uit wellus doen, nie uit nood nie. Nie uit hongersnood nie, maar uit vetsug.  Ons het geen oorlog nie teen n vyand nie, ons wil die oorlog teen ons kinders wen: hulle moet wees soos ons is, hulle moet maak soos ons sê. Hulle is, na alles, ons s’n.  Ons doen dit uit beheptheid met mag, en nie uit verslaenheid nie.  Uit gierigheid vir meer, en nie omdat ons niks het nie.  Nie oor ons nie anders kan nie, of tussen lewe en dood moet kies nie, maar oor ons vermaak en opwinding wil hê, want ons het klaar alles anders.

“As jy die Here jou God nie met vreugde en blydskap dien nie omdat jy baie besit…” Dis waar dit begin. Dis waar jy dit moet gaan stop.

Dankgebed (Staan)

Slotsang (Staan)

Gesang 546 verse 1,2,3,4,5 en 6

Seëngroet (Staan)

Here, ek het gehoor wat van U vertel is en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het. Doen dit tog ook in ons tyd, laat u dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in u toorn. (Habakuk 3 vers 2)

Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. (Lukas 9 vers 16)

“Elkeen wat hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My, en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.” (Lukas 18 vers 48)

Amen.

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s