God maak kontak

Dis Drie-Eenheidsondag.  Vandag dwarsoor die wêreld, wy die kerk eredienste aan die Drie-Enige God.  Die Hervormde Kerk vra ook vandag hoe ons begin glo het dat ons een en enige God tegelyk ook drie is.  Die eerste twee artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis handel eers oor die Drie-Enige God, en dan oor hoe ons God goed genoeg leer ken het om te weet Hy is Drie-Enig.

Ons dink oor die Drie-Eenheid

1 Johannes 1 verse 1 tot 5

Hebreërs 1 verse 1 en 2

Efesiërs 3 vers 5 en 6, 9 tot 12

22 Mei 2016, NHKA Kampersrus: Drie-Eenheidsondag

____________________________________________________________________________

Die Nederlandse Geloofsbelydenis

Artikel 1 – Die enige God
Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike wese is wat ons God noem.

Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome  wys, regverdig, goed, en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Artikel 2 – Die middele waardeur ons God ken
Ons ken Hom deur twee middele:

Eerstens deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld.

Dit is immers voor ons oë soos ‘n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en Goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom 1:20).  Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.

Tweedens maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend en wel soveel as wat vir ons in hierdie lewe tot sy eer nodig is en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.

Predikant

Sang (Staan)

Ons lui ons samekoms in met ʼn lied wat aanvanklik bekend gaan klink, behalwe, dink ek, dat die laaste versreël effens vreemd is.  Ek het hom nog nooit in ʼn erediens gebruik nie. Kom ons hoor hoe klink hy. Hy is bedoel om in ʼn kanon gesing te word, maar dit gaan ons nie vandag probeer nie.  Kom ons sing hom 3 keer: Gesang 446

Toetrede:      

Stilte (Sit)

Ek het hierdie week opnuut daarvan bewus geraak van hoe groot die behoefte onder ons is om voor die erediens hier by die Here stil te word terwyl ons ons voorberei om Hom te ontmoet.  Daarom gaan ons vandag weer in stilte die erediens tegemoet. Gebruik die stilte om te bid en om rustig te word by God.

Toetredelied (Staan)

Gesang 156 verse 1 en 2

Votum en Seëngroet (Staan)

Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!

Amen. (Openbaring 1 vers 4 b tot 6)

Aanbidding en Lof

Sang (Staan)

Ons bely en loof sommer terselfdertyd die Drie-Enige God met Gesang 445  verse 1.  Maar kyk mooi: daar staan in die woorde van hierdie lied ʼn aangrypende stuk Hervormde teologie.  Die Here het in ons ʼn welbehae.  En Hy skenk aan ons sy volle vrede.

Gebed met skuldbelydenis en genadeverkondiging (Sit en staan)

Ons gaan almal saam deelneem aan die gebed.  Telkens as ek bid: “Ons dank en loof U, God ons Vader / God die Seun / God die Heilige Gees. . .” staan ons op en ons sing almal saam vers vir vers verder uit Gesang 445, eers net die 2de vers, dan sit ons weer, die volgende keer staan en sing ons die derde vers en dan eindig ons gebed met die vierde vers.

Verkondiging

Skriflesing (Sit)

1 Johannes 1 verse 1 en 5

1

Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe.

2

Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.

Hebreërs 1 verse 1 en 2

1

In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete,

2

maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.

Efesiërs 3 vers 5 en 6, 9 tot 12

5

Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie.

6

En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.

9

Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het.

10

Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim,

11

soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring.

12

In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.

Sang (Staan)

Gesang 447 verse 1,2,3.  Die Gesang help ons sing oor die dinge wat ons weet God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees onderskeidelik vir ons doen.

Preek (Sit)

Ons leef in ʼn tyd dat mense sê sien is glo.  Sien, ruik, proe, hoor, vat en voel is voorvereistes vir werklikheid. Kom iets hierdie toetse nie deur nie, bestaan dit nie, of maak dit net glad nie meer saak nie.  Beweer jy iets anders, is dit jou verbeelding wat met jou weghol.  Leef jy soos wat jy glo, is jy koekoes, belaglik en selfs gevaarlik.

En met dié is daar ook nie juis meer vertroue in wat ander mense sê hulle beleef nie. Ons is skepties oor mekaar, en sinies oor getuienis.  Ons trek ons neuse op vir ander se belewenisse en belydenisse, en vir hoe die goed wat hulle sê hulle ervaar het, hulle nou laat praat en doen.  Seker ook maar oor mense lieg, of op sleeptou geneem word, eet ons niks meer vir soetkoek op nie; in als moet eers ʼn lepel sout.

Die kerk spring dit nie vry nie.  Ons sê al te maklik die kerk is oor iets verkeerd. Dat die kerk die Bybel gelowig én wetenskaplik verantwoordelik probeer uitpluis en toepas, kom nie naby die selfvertroue wat ons deesdae het om self te besluit wat ons dink die Bybel eintlik behoort te sê nie.  Seker ook maar oor selfs die kerk al verkeerd was.  Of oor ons nie altyd van die mense in die kerk hou nie.  Of oor ons nie gelukkig voel oor wat die kerk alles doen en sê nie.

Daarom sukkel ook gelowiges met die idee dat die Bybel ook maar mensewerk is. Wat lees jy daar?  Jy lees wat mense vertel hulle oorgekom het.  Jy lees wat mense sê hulle in God laat begin glo het. Jy lees wat mense getuig hulle geloof hulle toe laat doen het. Jy lees hulle afleidings en gevolgtrekkings van wat hulle dink God wil hê.  Jy lees hulle interpretasies van wie God is.  En glo jy saam met en soos die kerk, sê jy hulle was eerlik, opreg en praat die waarheid.  En jy glo dat die Bybel wat ons het, en die skare geloofgetuies waarvan ons en die kerk deel is, die Heilige Gees se gereedskap is waarmee God met mense werk.

Maar as ons ons sin sou kon kry, sou ons wou hê God moet ʼn slag weer self kom vertel wat’s reg en verkeerd.  As jy kon, sou jy daarop aandring God moet persoonlik kom oëwys sodat ons die geskille tussen ons kan uitklaar, dat daar weer sekerheid kan kom waar ons twyfel.

Die kerk doen haar bes.  Ek wens julle kon dit almal glo: dat die kerk nie wil mislei en bedrieg nie.  Maar die kerk is nie God nie. Die kerk is mense wat stoei met die raaisel van wie en wat God is en wat God wil hê.

En om eerlik te wees, met God het die kerk dit moeilik: ons sit met ʼn Bybel wat sê daar is net een God.  Én dieselfde Bybel sê daar’s drie van hulle. 428 jaar lank het die kerk vergadering op vergadering gehou voor hulle iets oor die Drie-Eenheid kon formuleer.  Maar die ondervinding het geleer dis moontlik om agter die kap van die byl te kom, want dis mense nes ons wat die Bybel skryf en wat kom sê dis wat hulle van God agtergekom het.  In jou kop maak dit kortsluitings, soos die krag by die pastorie, en jy sit in die stikdonker.  Soms dink jy: “Ek het dit!” dan kom sê die een of ander geleerde dominee, moedswillig en half-bitter oor jy dit sommer-so sonder ʼn dag se teologie kon snap, daar’s iets waaraan jy nog nie gedink het nie. . .  Naderhand gee jy op.  Jy oortuig jouself God is buitendien te groot vir grysselle, en jy vra nie vrae nie. Dis soos om ʼn slimfoon met jou rond te dra, maar al wat jy met hom kan doen is bel en Angry Birds speel.

Dalk gaan ons na vandag net oor een ding ooreenkom: dat ons saam sal moet aanhou soek vir antwoorde.  Dat hierdie, die kerk, die plek is vir die gesoek. Maar dis al goed genoeg:  wie soek sal vind.  En dis wat die kerk doen: ons soek saam na God, en ons kry Hom, want God laat Hom vind.  Want God, die Drie-Enige God, maak met mense kontak.

Om ʼn antwoord te soek, is anders as om te soek na iets wat jy verloor het.  ʼn Antwoord, as jy hom die dag kry, is dalk anders as wat jy wou hê. God verras ons.  Die kerk het dit darem al van God geleer:  gaan jy na God op soek, gaan doen jy dit in die Bybel. Jy blaai deur die stories wat mense oor God te vertelle het. Jy weet by voorbaat ook van ʼn geblaai deur die Bybel dat jy vandag net daai klein stukkies betekenis gaan snap wat vandag se vrae jou laat vra, wat jou behoeftes jou toelaat om te hoor, en wat jou ondervinding jou tot hiertoe geleer het om te verwag.  Maar die mense in die Bybel is nie jy nie.  En die mense in die kerk is nie soos jy nie, al sou jy hulle anders wou hê.  En met die kom ander antwoorde by jou aan as wat jy gesoek het.  Moenie skrik nie. Moenie bang wees nie.  God sit daaragter. Solank jy in die Bybel en in die kerk soek na God, gaan jy Hom teëkom.

Ons het Genesis 1 verlede week gelees, daarom herhaal ek dit nie vandag nie. Die Bybel begin met ʼn oor-en-oor herhaling van een en dieselfde woorde: VAYOMER ELOHIM.  God het gesê. God praat.

Die eerste geluid in die skepping is God se stem. God begin met ons hier in die skepping ʼn gesprek. God maak kontak. En wat Hy se, laat goed gebeur.  Hy sê dit net, en dit is so. Sterre, aarde, son en maan, grond en see, vuur en wind, plante, diere voëls en vis, alles, so blyk dit, ter voorbereiding vir die kroon van die skepping: die mens, sy beeld, sy verteenwoordiger.  As op berge en dale sy vingerafdrukke sit, is in die mens sy asem, sy lewe, sy Heilige Gees.

Hebreërs se: In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete. . .  God het dus nog nie weer opgehou praat nie.  En die manier waarop Hy gepraat het, was deur sy profete.  Soms ook deur engele, soms deur natuurrampe, soms met oorlog, segetogte en nederlae, droogtes en oorstromings, . . . O, jy kan maar daarvan seker wees: God praat!   God skreeu selfs, as jy nie wil hoor nie.  Maar meestal praat Hy deur sy profete, deur die kerk. Deur die ouens wat preek en Bybel skryf.

God bly nooit stil nie.

zebraEers, voel dit, roep God daar van ver af, van agter die sterre af.  En dan, as Hy die slag nader kom, is Hy skrikwekkend. Groot, heilig, almagtig, skepper. . .  Hy kom brand in doringbosse, as Hy praat bewe Sinai so dat die mense pleit Hy moet liefs tog ophou, Hy loop soos ʼn rokende oond tussen die verbondsoffers deur, Hy trek soos ʼn mis in die tempel in. . . Jy sien sy vingerafdrukke op berge en dale, op jou duime en jou DNS, ʼn sebra se strepe, die vlekke op ʼn kameelperd, ʼn vuurvliegie se liggie en die kolletjies op ʼn lieweheersbesie. Jy voel Hom teen jou wang in die wind, in die opwelling van jou liefde, in die  vrede van jou gemoedsrus, en selfs, as jy mooi daaroor dink, ook in jou pyn.  Jy hoor Hom in die gebrul van ʼn leeu en die gekekkel van hiënas, die geklop van jou hart, die ritme van musiek en die gedreun van donderweer. Jy proe Hom in blomkool en nartjies, in brood en stroop en pap en vleis. Jy ruik hom in die reuk van rose, van reën in stof en die geur van jou ma en van jou geliefde.

God raas en God raak.  God maak kontak.  Ek is van alles hier die begin, laat Hy jou verstaan.  Die Skepper. En Ek is die een wat alles hier aan die gang hou.  Ek is van alles Pa. Joune ook. Kyk om jou as jy dit nog nie weet nie.

Maar Sinai het ʼn patroon gevestig.  As daai berg van God se gepraat aan’t bewe raak, en die mense pleit Hy moet liefs tog ophou, vra hulle: praat net met Moses! Ons sal na Moses luister, maar asseblief, praat met Moses iewers alleen.  En sedertdien, boweal praat God deur mense.  Deur Dominee Domkop en Daantjie Alleman, deur Jan Rap en die se maat.  Deur die kerk.  Met die skrywers en die predikers van sy Bybel. Hebreërs se: In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete. . .

Maar een ding is seker, ons Pa het nog nooit opgehou praat nie. Die wat wil luister, sal dit weet.  En algaande het Hy ons al hoe meer van Homself vertel.

1 Johannes se: “Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.

Skielik, sê Johannes hier, praat God van so skrikwekkend naby af dat jy Hom met jou eie oë kan sien en met jou hande aan Hom kan raak.  Hy is getuie daarvan, as jy net sal glo hy is betroubaar genoeg om jou nie om die bos te lei nie.

“Nou,” sê Hebreërs ook, “in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.” God word vleis en bloed in ʼn klein plattelandse gehuggie tussen plaasdiere en doodgewone mense. ʼn Baba kom trek op die gewone manier, deur ʼn vrou se baarmoeder, by ons in. God breek deur die grense wat ons gedink het ons van Hom weghou.  Die skeiding tussen hemel en aarde, tussen ons en God, tussen sonde en heiligheid, tussen geestelike lewe en harde realiteit verkrummel en smelt.  Weg is wat ons gedink het daai onoorbrugbare kloof tussen mense en God is. God maak kontak. God maak alweer kontak, maar die keer op ʼn nuwe manier.  Hy kom klop letterlik aan my deur. Jesus Christus, die Here, is hier, God die Seun.

Nie net ʼn stukkie van God kom kuier vir ons nie, Hy klim boots ʼn all hier by ons in die wêreld in. Die keer nie om ons oor te maak nie, maar om ons te leer leef.  Om ons te wys hoe mense kan wees, want ons slaag nie op ons eie daarin nie.  Hy eet en drink saam, Hy kuier om tafels met geleerdes en gemors, Hy kuier langs die pad met vroue en verstotelinge, Hy gaan sit by gebreklikes en tel kinders op sy skoot, Hy laat blindes sien en lammes loop, vir sondaars spreek Hy vry, duiwels jaag Hy weg, vir die wind en die weer maak Hy met ʼn woord stil en op water loop Hy soos op klip.  Tot mense Hom doodmaak oor Hy Hom verbeel Hy weet beter as ons oor wat God wil hê en hoe ons kan leef. Kyk ons die dag vir God in die oë, sal ons nie weet dis Hy nie, so min weet ons nog van Hom af.  Dog, God maak kontak. Ons luister nie, of ons hoor nie, want ons leer nie. Maar God hou aan praat. Doodkry is min.

Ons vermoor Hom, Hy staan op. Ons begrawe Hom, Hy kom terug.

God maak kontak. Hy laat nie mense sy telefoondrade steel nie.

Dan, op ʼn dag, skryf Paulus aan die Efesiërs: “Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie.”  God het weer gepraat. En elke keer as God sy mond oopmaak is Hy vriendeliker as die vorige keer, meer toeganklik, het Hy vir ons meer deernis, is Hy meer sorgsaam.  Wel, nie regtig nie, want Hy’s nog altyd een en dieselfde, maar dit voel so. Dit voel of sy liefde net nie einde het nie. Hoe meer ons hoor, hoe meer ons van God leer weet, hoe meer verstommend is die liefde wat Hy vir mense het.  . . .  Nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim.   “Wysheid” noem Paulus dit: dit wat God doen om hardhorende mense weer te laat dans,  om die wat siende blind is weer die moreson te laat sien opkom, om gevoelloses weer te laat warm word, om mense wat in sonde gevange was weer die gawe geur van vars vryheid in hulle neusgate te laat ruik, om bitterbekke soos ons weer die soet van die nagmaalwyn te laat proe. God sit aan die anderkant van elke sintuig. Hy maak kontak.

Die hele geskiedenis van God by ons, is ʼn geskiedenis van kontak maak, van woorde, van praat en terugpraat, van gesels, Hy en ons. Ons weet nou nog nie juis veel beter nie, ons verstaan nog so min.  Hy noem ons met goeie rede sy kinders: ons is soos babatjies wat eerste woordjies begin se. Ons sukkel om ons lippe om die tongknopers te kry.  Die Drie-Eenheid is een van daai!  Ons leer nog maar ons Pa se taal. ʼn Baba sê nie die eerste woord nie.  Eers hier by die miljoenste val ons in, en dan nog net foneties want al kry ons dit geklank vat dit jare voor ons agterkom wat dit beteken om vir God “Pappa” te kan se. Ons leer nog oor God praat. Ons taal kry dit nog nie baie goed reg nie.

Wat ons al reggekry het om te se, staan in die Bybel, in die kerk, of bly in die binnekamer.  Op hulle beste is ons getuienisse oor God nog ʼn lomp gekruip. Ons eerste pogings om die God wat nooit ophou praat nie te antwoord is op hulle beste nog maar ʼn gestamel.  Daarom is die geneigdheid wat ons het om so beïndruk te wees met ons eie woorde van geloof en belydenis,  en so seker te wees van wat ons dink ons beter weet as ander, so onvanpas. Ons moet liewer meer luister. Ons moet meer ag slaan op God se woorde as te spog met ons eie.

Paulus skryf: “Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het.”  Ek het, sê Paulus, sy plan agtergekom. Hy’t my dit laat insien.  “In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.”

Hoor jy dan die dag vir God praat uit hierdie Woord is dit oor God die Heilige Gees in jou ingeklim het. Die God wat kontak maak, het dit eindelik reggekry met jou ook: dat jy Hom hoor. Hier binne-in jou, praat Hy met jou hart, redeneer Hy met jou verstand, werk Hy met jou gal, en oefen Hy jou spiere en maak Hy jou hande vuil en jou vingers gevoelvol.  Jy werk wonders.

Die vraag , sien jy, is nie “Hoe lyk die Drie-Eenheid?” nie.  Die vraag is eerder: “Wat maak ek nou, noudat ek God van alle kante af sien aankom? Noudat ek my nie meer kan blind hou nie.  Hoe gemaak met die God wat praat en kontak maak, noudat ek nie meer doof is vir Hom nie?”

Wat is dit dan wat hierdie Drie-Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees vir my wil se?  Wat sê sy heel duidelikste van al sy woorde vir my, sy Woord, Jesus?

God se: Hier is ek.  Ek maak kontak met jou, my kind. Ek praat met jou. Ek steek grense tussen my en jou oor om by jou uit te kom. Ek span my hele wese vir jou in. Ek skep vir jou ruimte, ek skenk jou die lewe, ek pas jou op.  Ek is jou Pa.

Ek leer jou My verstaan.  Ek praat met jou in taal wat jy verstaan.  Ek leer jou myne. Ek gee jou my Woord. Ek kom loop in die mynveld van jou sonde rond, en Ek loop vir jou die risiko van ondergang. Maar ek laat My nie afskrik nie, want jy is dit werd. Ek weet jy verstaan nie altyd wat jy doen nie.  Ek vergewe jou.  Ek vat jou sonde weg.

Jy sukkel om te leer.  Jy leer nog hoe om jou sintuie te gebruik.  Ek leer jou  luister, proe, kyk, ruik, te voel en raak te vat.  Ek leer jou om te herken wat dit is wat jy van My ervaar.  Ek leer jou dit van binne af.  Ek vernuwe jou denke en versag jou hart dat jy liefde kan voel.

Kortom: Ek maak met jou kontak, op elke moontlike manier.

Probeer jy my nou antwoord.  Of reageer net. Al kry jy net “Pappa” (dit wat “Abba” beteken) gesê. Praat met My. Antwoord My! sê dan net “Amen!”.  Of wie weet, dalk ʼn paar “Hallelujas”.  Moet net nie weer ophou nie.

Amen.

Gert Coetzee gaan ons voor in ons belydenis van geloof in God wat met ons kontak maak, Vader, Seun en Heilige Gees.

Ouderling

Geloofsbelydenis (Staan)

Ons bely vandag ons geloof in die Drie-Enige God saam met en soos die kerk van alle eeue en van oor die hele wêreld.  Ons gebruik daarvoor die Apostoliese Geloofsbelydenis.  Kom ons staan en bely ons geloof so:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

Die wederopstanding van die vlees, en ‘n ewige lewe.

Die Wet / Wil van God (Sit)

As ons bely dat ons glo in die Drie-Enige God, dink ons so oor onsself en oor ons lewe, sê Paulus in Romeine 8 verse 12 tot 17:

“Daarom dan, broers, staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie.

As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.

Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.

Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.

Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.

En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.” (Romeine 8 verse 12 tot 17)

Slotsang (Staan)

Of ons nou na God die Vader kyk, of na God die Seun, of na God die Heilige Gees, ons het telkens net meer rede tot lof en dankbaarheid.  Die Drie-Enige God het in ons ʼn welbehae.  God het ons met sy hele wese lief. Kom ons reageer met Hallelujas uit Gesang 449 vers 1,2,3,4.

Wegsending

Seën (Staan)

Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het.

Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.

Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.

Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. (Efesiërs 3 : 14 tot 21)

Respons (Staan)

Amen.

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s