Onaangename genade

’n Preek oor Jesus se storie van twee mans wat kerk toe kom om te bid: die een ’n Fariseer en die ander ’n tollenaar. Genade, blyk dit, is nie n gemaksone nie. Om genade te vra, nie ’n maklike uitweg nie. Daar is niks waarvoor ons so baie bid nie.  In elke gebed vra ons daarvoor.  Maar om eerlik te wees, ons wil dit eintlik, asseblief tog, net nie hê nie.  Daar is niks waaroor ek en die kerk meer praat en preek nie, waaraan ons meer tyd spandeer nie, en daar is heeltemal niks waarvoor ek en die kerk so bang is ons kry dit dalk nodig nie.  Genade.  Ons wil tog net nie in die situasie beland dat ons dit ten alle koste moet kry nie.

Lukas 18 verse 9 tot 14

1 Mei 2016, NHKA Kampersrus

 

Ouderling

Toetrede:

Toetredelied (Staan)

Vandag bekyk ons genade: wat dit is, en veral hoekom genade ons ongemaklik maak.  Om te begin, sing ons oor genade.  Alles, alles is genade, sê Gesang 244 vers 1.  “Alles is genade” en “die verlossing uit die kwade kan net God verleen”.  Met die Gesang vertel ons mekaar van die genade wat ons uit die penarie van die sonde kom uithaal die dag as alle moed ons al begewe het.

Predikant

Toetrede

Votum en Seëngroet (Staan)

“Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”   . . . die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.” Eksodus 33 verse 17 en 19.

Ouderling

Aanbidding en lof

Sang (Staan)

As God nie gesê het Hy is ons goedgesind nie, as God nie gesê het Hy wil aan ons genade gee nie, het ons nie die moed kon bymekaarskraap om te sê wat ons nou gaan sing nie.  “O Here, U ken my volkome, U sien . . .” dwarsdeur my. “U toets my hart, lees my gedagte.” Dis Psalm 139 soos wat Lina Spies dit berym het.  Ons sing verse 1, 3 en 5.  

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

In 2 Korintiërs 13 van vers 5 af skryf Paulus vir die gemeente oor die wil van God, en oor hoe ons onsself moet toets:

“Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe,” skryf hy. “Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie. Ek hoop dan julle weet dat ons wel die toets deurstaan het. Ons bid God dat julle niks verkeerds doen nie. Dit bid ons, nie dat dit as bewys moet dien dat óns die toets deurstaan het nie. Ons wil hê dat júlle die goeie doen, selfs al sou dit lyk asof óns die toets nié deurstaan het nie. Ons vermag niks teen die waarheid van God nie, maar wel alles vír die waarheid. Ons is dus bly as óns swak is, as júlle maar sterk is. Ons bid ook vir julle geestelike volwassenheid. Daarom skryf ek hierdie dinge terwyl ek nog van julle af weg is, want wanneer ek kom, wil ek nie met die gesag wat die Here aan my gegee het, streng teen julle optree nie. Met dié gesag moet ek opbou, nie afbreek nie. Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede.”

Skuldbelydenis (Staande)

Ons bely ons skuld en pleit by God om genade as ons sing uit Gesang 510 verse 1 en 2.  Ek wou self my sake reël, sê vers 2, en in die proses het ek my lewe, my kanse, my tyd en my geld verspeel.

Genadeverkondiging (Bly staan)

Dis omdat ons in God se genade glo, dat ons kon durf waag om ons skuld hier voor ander en aan Hom te bely.  Sy genade vergewe ons.  Sy genade verlos ons.

Paulus gaan van 2 Korintiërs vers 11 aan om te sê: “En die God van liefde en vrede sál by julle wees! Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap. Almal wat aan die Here behoort, stuur vir julle groete. Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.”

Geloofsbelydenis (Bly staan)

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;

en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;

God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;

deur wie alle dinge ontstaan het;

wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;

en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;

wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;

wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het; wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;

en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.

Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.

Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;

ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu.

Sang

Saam met God sien ons verder, kyk ons dieper, kom ons iewers.  Ons kom ons sonde te bowe en ons kom tuis in ons Vader se huis.  So sê Gesang 510 verse 3 en 4

Predikant

Verkondiging

Gebed

Skriflesing

Lukas 18 vers 9 tot 14. Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar by die kerk.

“Daar is geen ander evangelie nie!” Galasiërs 1 vers 7.

Sang

Ons sing Gesang 230 net sodat ons ʼn slag kan saam sê wat die sonde is. En wat ons weet dit aan ons doen:  sonde maak ons blind vir wat verkeerd is, sê vers 1.  Dan vertel vers 2 hoe ons self ons lewe wil reël, op ons eie wil staan en op onsself wil staatmaak.  Dit klink meer na menseregte as sonde, ek weet. Dog, so edel as wat dit ookal mag klink, dis die wortel van sonde. In die derde vers smeek ons God om ons van onsself te verlos.  Ons sing aldrie die verse.

Preek

Ons is weer by een van Jesus se stories.  Ek is gek oor Jesus se stories.  Hierdie een, beweer Lukas, vertel Jesus met mense in die oog wat seker voel dat hulle eie saak met God reg is.  En Jesus vertel die storie aan sy eie dissipels. As Jesus gedink het selfs sy eie dissipels loop die gevaar om hulle hieroor te vergis, is die kanse goed ons ook: ons gaan dieselfde fout as die dissipels maak. Ons dink gans te maklik ons is presies soos God ons wil hê.

In sy storie bring Jesus twee mense kerk toe.  Die twee manne kom kerk toe om te aanbid.

Van Jesus se stories weet ons nou ook al teen dié tyd dat hulle nie uitloop soos wat ons verwag gaan gebeur nie – sy stories gooi omver wat ons dink.

Die een ou verwag jy daar; oor die ander is jy effens vieserig.  Die een ou is ʼn Fariseër; die ander een is ʼn tollenaar.  Moet nou nie in die gat trap om by voorbaat al te veronderstel Fariseërs is almal skynheilig, en korrupte tollenaars is eintlik almal goed, nie.  Dis baie maklik om so te dink, want teen hoofstuk 18 het Jesus in Lukas nou al sovele kere die Fariseërs bygekom en hand om die blaas gestaan met die tollenaars, dat mens verwag Hy gaan hier weer dieselfde doen.  Maar nes mens mos dink jy weet wat Jesus bedoel, slaan Hy jou voete onder jou uit.

Fariseërs was die goeie godsdienstige mense van Jesus se tyd.  Hulle het werklik goed gedoen. Trouens, so goed dat min mense hulle dit kon nadoen. Ons sou nie kon nie. En die kerk was hulle natuurlike habitat.

Tollenaars, weer, was korrupte regeringsamptenaars. En gegewe dat die staat ʼn vreemde onderdrukker was, was hulle joinery met die staat soveel te meer aanstootlik. Nie een van ons voel ons is só sleg soos ʼn tollenaar nie.

Was ons Jesus se dissipels, sou ons verontwaardig kon voel oor die storie, oor daar ʼn tollenaar in die kerk aan die bid is.  Die Fariseër is waar hy hoort.  Maar die tollenaar is onverwags, en beslis minder welkom.

Jesus vertel ons wát die twee manne bid.  Die Fariseër sê dankie dat God hom teen sonde gehelp het.  En dankie ook dat die Here hom met sy godsdienspligte help. Hy kry meer goeie goed gedoen as die meeste ander mense, en hy is regtig dankbaar dat die Here hom help dat hy nie, soos ander mense, hierdie tollenaar byvoorbeeld, goddeloos lewe nie. Hy klink dalk effens hovaardig, maar hy is eerlik. Ons bid wel dikwels dié dankies, en al vergelyk ons gewoonlik nie onsself in gebede met ander mense nie, is ons tog bly ons kry die lewe reg.

Die tollenaar bid met ewe veel eerbied. “O God, wees my, sondaar, genadig.”    Net dit.  Wat kortkom is die dankies.  Wel, hy het nog niks in die geloof vermag waaroor hy dankbaar kan voel nie. Hy het niks waarop hy trots voel voel of miskien sou kon reken nie.  Hy is nie eers seker van sy plek in die kerk nie. Maar hy lys ook nie sy sondes nie. So, sy gebed is maar redelik yl in vergelyking.   Hoe ons en die Fariseër oor die man voel, hang af van wat ons van tollenaars oor die algemeen weet, en net dit is al genoeg om ons te laat voel hy hoort nie hier nie.  Dan vra die tollenaar God om genade.  Net genade.

Daar is niks waarvoor ons so baie bid nie.  In elke gebed vra ons daarvoor.  Maar om eerlik te wees, ons wil dit eintlik, asseblief tog, net nie hê nie.  Daar is niks waaroor ek en die kerk meer praat en preek nie, waaraan ons meer tyd spandeer nie, en daar is heeltemal niks waarvoor ek en die kerk so bang is ons kry dit dalk nodig nie.  Genade.  Ons wil tog net nie in die situasie beland dat ons dit ten alle koste moet kry nie.

Want dit maak nie juis saak hoe mooi jy dit inkleur of vertaal nie, genade is nie lekker nie.  Die dag as jy genade nodig het, is dit oor jy niks anders het om op terug te val nie.  Vra jy genade, is dit oor jy nog niks vermag het nie.  Kom soek jy genade, kan jy maar weet: jy het misluk.  Jy kon toe nie op jou eie regkom nie.  Jy het geprobeer, maar ʼn gemors daarvan gemaak.  Kom staan jy bakhand vir genade, is dit oor jy alles anders al op die proef gestel het, maar dit nie kon maak werk nie. Jy het niks om vir jou geloof te wys nie.

Staan jy die dag aan die ontvangkant van genade, is dit met die wrang smaak van galsterige wyn wat Jesus aan die kruis gevoer is om sy pyn te verdoof.  Maar genade verdoof niks: dit vlek oop, dit ontmasker, dit lê bloot al wat ʼn skande en ʼn skaamte is wat jy om die dood nie aan die grootklok wou hang nie.  Genade proe die ene kruis, lyk na bloed,  en ruik na dood.  Dit sit die ligte af op jou prestasie en jou trots.  Dit zoem in op jou verleentheid.

O, ek onthou ek het verlede week gesê gemeentes is die plek waar genade gebeur.  Dat genade stukkende mense aanmekaarsit.  Maar daar sit die knoop: jy moet eers stukkend wees voor genade soos medisyne voel.  Tot dan is om te beweer ek het ook genade nodig, eintlik aanstootlik.  Ek kan my vererg daaroor!  Want ek is tog nie gebreek nie; om die waarheid te sê, ek kom heel goed op my eie reg, baie dankie. En ek kan beslis klaarkom sonder die ewige verwyt dat ek stukkend is en deur iemand anders aanmekaargesit hoef te word oor ek te sleg is om dit self te doen.  En daarom, as ons sonder genade kan regkom, verkies ons dit so.

Die oomblik dat jy desperaat genoeg is om regtig vir genade te begin bid, is dit omdat niks anders meer help nie.  So diep is jy in die moeilikheid dat jou eie rekord nie meer punte tel nie, en niemand wil jou meer bystaan of probeer help nie. Want teen dié tyd vervies die mense hulle al vir jou en jou sonde, gril hulle vir jou, is hulle vir jou so kwaad hulle wil jou òf regtimmer òf jou wegsmyt.

Genade maak seer.  Genade byt.  Genade steek dwars in die krop en is ʼn pyn in die sy.  Dit dring deur tot by die skeiding van gewrigte en murg.  Genade is nie die gemaklike default opsie nie, dis nie die maklike uitweg nie, dis nie geloof se gemaksone nie.  Genade sê jy is nie goed genoeg nie, jy het so drooggemaak dat jy nie meer self daar kan uitkom nie.  En van genade is dit die ergste gewaarwording: genade laat jou besef jy sal elders ʼn regmaker moet loop soek. Jy het iemand anders naas jouself nodig.  Jy gaan moet, net om weer met jouself te kan saamleef, eers op iemand anders moet reken. Jy leer jy is afhanklik.  Van ander se goedheid, hulle aalmoese, hulle welwillendheid, hulle verdraagsaamheid, hulle geduld.   Hulle vergifnis.  Genade is ʼn bitter pil. Ek was al daar, en glo my dis nie ʼn plek waar jy wil vertoef nie.

En nie net is jy so useless dat jy van ander weer jou selfrespek moet afpleit nie, jy weet dit gaan hulle kos.  En jy weet presies hoeveel dit hulle gaan kos: die koste van genade laat jou oë traan.  Dit kos die gemeente haar Christus, vir God sy Seun.

Vir gemeentes is om genade uit te deel, nie maklik nie.  Dit kos hulle ten duurste.  Alle sonde skend en skaad, en dis gelowiges wat van beter weet wat die ergste ly daaronder. Maar dis dieselfde genade wat gemeentes met genade laat aanhou. Niemand verstaan so goed soos ons hoe en hoekom sonde gebeur nie, hoe vatbaar ons vir sonde is nie, dat sonde ons ook oorkom, en dat ons genade nodig het nie. En gelowige gemeentes het raad.  Hulle weet hulle is die enigstes met raad.  Hulle weet hoe om sonde te stop.  Hulle verstaan vir Jesus. Hulle weet Hy het vir sonde betaal. En hulle weet ook: dis nie hulle s’n om aan vas te hou nie.  Ons kan genade nie vir onsself hou nie.  As ons daaraan vaskleef, gaan ons dit kwyt wees. En gelowige gemeentes het ook al geleer, want hulle was al self daar: onder die skreiende sonde krepeer daar ʼn desperate, ongelukkige, stukkende en wanhopige mens. Gelowiges weet dit, want dis ons daai.  Gelowige gemeente leer jou teen wil en dank liefkry, en hulle vat jou terug, weer en weer, en dan nog ʼn keer.

Daarom is die kerk so toe onder die sonde. Daarom is die kerk die plek in die wêreld waar sonde helder en duidelik sigbaar is.  Die kerk is oor sonde in so ʼn gemors oor sondaars knaend aanhou om hierheen te kom.  Daarom is die kerk nie altyd so ʼn lekker plek nie: dis nou nie juis die soort plek waar jy jou Saterdagaand wil gaan deurbring nie.  Ek bedoel: wanneer laas was hier ʼn heilige onder ons?  Ons sou hom wou ten toon stel, in ʼn glaskas sit en van alle kante af bekyk, selfs daai Saterdag opoffer…

Maar die kerk lyk nou eenmaal nie so nie.  Dog, jy kan sonder kerk nie klaarkom nie. Want die kerk het wat jy so nodig het jy kan nie daarsonder lewe nie, al wil jy dit nie eers present hê nie: genade.

Eintlik wil ek bid: Here, help dat ek nooit genade nodigkry nie. Dis wat “laat my nie in die versoeking kom nie”, eintlik impliseer.  Gee dat ek so lewe dat ek nooit iemand seermaak nie.  Dat niemand my ooit hoef te vergewe nie. Gee dat ek die lewe so regkry dat ek daarop trots kan voel.  Gee dat ek altyd reg is.

Edele gedagtes.  Maar ons weet almal dit werk nie so nie. As dit so was, was ons nie in die kerk nie, het ons Jesus Christus, die kerk en al sy komplikasies nie nodig gehad nie. Dus: dis nie hoe die evangelie klink nie.  Die goeie nuus van die evangelie is dat as die hele gemors inmekaarstort, en dis alles net jou skuld, sit mense en gemeentes, sonder enige verpligting of beweegrede anders as net dat hulle jou liefhet, met genade jou lewe weer vir jou aanmekaar.  Dis die gemeente waar genade gebeur, het ons ooreengekom.  Dis wat in alle gemeentes moet gebeur, dit weet ons nou.

Maar hulle doen dit nie vir jou oor jy of hulle so oulik is nie.  Hulle doen dit nie oor jy kan kom met lysies van hoe goed jy die lewe regkry nie, of met bewyse van hoeveel beter jy as ander is nie, en ʼn goeie rekord van wat jy al vir die gemeente beteken het nie.  Hulle doen dit net omdat daar nie ʼn ander manier van leef is wat werk nie, want dis hoe God die lewe leefbaar gemaak het, met Jesus, die Christus.

En met dié, kan jy maar weet, is genade nou ook nie meer fair nie, sodat net die goeie ouens dit kry nie.  Of net die mense waarvan jy hou nie.  Of net jy nie. Jy kan God se genade nie inperk nie. Jy kry vir God nie sover om suiniger met genade te werk te gaan nie. Ons sukkel maar met die vrygewige God, om die waarheid te sê. Gans te veel ouens kom skotvry daarvan af… Ons sit al klaar met die kerk vol sondaars…  Maar dis ons sin vir wat reg is, wat verkeerd is. Ons sin vir wat geregtigheid is, kry jy nie by God nie.  Ons sê altyd ons glo nie in verdienste nie – daar kom nie ʼn gebed uit ons uit wat dit nie herhaal nie – maar hoe ons leef en oor mekaar oordeel, sê dalk iets anders.

Selfs Lukas sukkel met die ding.  Hy wil dit hê dat Jesus die gelykenis afsluit met verwerping van die Fariseër.  Maar nie almal stem saam dis reg vertaal nie.  Dit beteken beslis nie jy moet maar daarvan wegbly om enigiets goeds te probeer doen nie, want dit gee jou net moed.  Ons weet dis ook nie waar nie.  Dit sou nie met die res van die Bybel rym nie. Natuurlik moet jy jou inspan om gelowig te leef. Dat die Fariseër daarin slaag en selfs die ekstra myl loop, is prysenswaardig. Hy moet daarin volhard.  Maar hy moenie bevooroordeeld wees nie.  Hy mag nie veronderstel dat hy beter is nie, nie eers beter as die tollenaar nie. Inteendeel, as hy iets vir die kerk wil beteken, sal hy daai tollenaar help om sy lewe weer terug te kry.

Genade maak die lewe nie makliker nie.  Genade maak die lewe moontlik.

Genade maak die lewe nie makliker nie.  Genade maak die lewe moontlik.  Die lewe wat daarna volg, is ʼn taai stryd.  Om genade te gebruik en te gee soos wat God ons in Jesus Christus genade laat verstaan, is ʼn taak wat jy nie sonder die Heilige Gees aanpak nie.  Dis ʼn taak wat jy eintlik sou verkies het om te vermy.  Genade kan ondraaglik wees. Genade is soms onaangenaam, want ja, ek móét “gaan met leë hande” en hier staan ek “leeg net met my sondelas.” En die sondaars wat by die kerk opdaag lyk nog slegter as ek, maar lief moet ek hulle hê.

Ons saak met God is tóg reg, maar nie om die redes waaraan ons waarde heg nie.  Dis genade dat ons hier is.  Dis jammer ons het weinig om te wys van wat ons geloof al reggekry het.  Maar dis wat genade is.  En ons het genade nodig soos ons suurstof moet hê. En hier om ons hyg nog mense na asem.  Gun hulle dit. Wees julle ook genadig.

Dankgebed, Voorbedes

Wegsending:

Slotsang

Ons laaste lied vanoggend sit ons gebed voort.  Ons praat steeds met God. En ons praat met God oor die weerstand teen sy genade wat daar maar altyd in ons oorbly, sodat ons net teësinnig besgee dat God reg is oor ons, want gewoonlik dink ons ons weet van beter.  Ons bied soveel kere teenstand, sê ons in vers 2, en weier om ons te laat leer. En dan: “Skep in ons ʼn nuwe gees; laat ons U gehoorsaam wees. Dis Gesang 276 verse 1 en 2.

Seën

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. Efesiërs 2 verse 8 tot 10.

Amen

Respons

Amen.

Afkondigings/insameling van die dankoffers/orrelspel

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s