Hokaai! Stadig nou…

Dit is maklik om verontreg te voel; verontwaardig, gekrenk, gewond, vervolg.  Arme ek!  Hoekom ek? Wat op aarde het ek ooit gedoen om so verguis te word? Dis tog valse getuienis, kwaadpraat!

Woede en wraak sou werk.  Heilige woede, minstens smoorkwaad wees, is meer as net geregverdig.

Dog, sou ʼn herrie heilsaam wees?  Wie sou daarby baatvind?  Wat sou dit getuig van die genade waarvan ek en die kerk leef?  Dat ek dit kan preek maar nie gebruik nie? Dit gaan tog nie die integriteit wat ek soek, vestig nie?

Wat sal gebeur as ek dit net los?  Sal dit lyk na instemming, skulderkenning?  Asof ek bang is om te reageer vir geval ek uitgevang raak?

Beide laat my sleg lyk.  Nie dat ek omgee hoe ek lyk nie; ek is daarvoor nou al te oud en gesout.   Buitendien leef ek van genade. Ek is veel meer besorg oor wat dit van geloof sê, van God, Christus, die Gees, van die kerk en die gemeente, en van liefde. Van ons almal saam se sukses teen sonde.

Nòg woede, nòg swig, nòg swyg dien die evangelie.

Soek vrede en jaag dit na, sê God.  Hê lief, selfs vir jou vyande, en vergewe sewentig maal sewe kere. Gee hoop. Werk sagkens. Sorg. Troos. Spoor aan.  Gee lewe.

Dis wat ek sal doen.

Ek soek nog: watter gewroeg, wonder ek, noop sulke ysingwekkende haat?  Watter pyn dring tot sulke drif? Watter dieper worsteling met onreg lei tot hierdie wrewel? Waarvandaan die verwyt? En hoe kies haat ʼn teiken?

Ek sal groet.  Ek sal praat.  Ek sal aanhou, sonder om self te haat.  Ek sal ruimte laat vir eendag se gesondmaak. Ek sal ander se paaie gelykmaak, want dis wat ek vir myself vra.Stadig maar seker

Dis presies wat my al oor gelowiges so gefrustreer het, ek besef dit: dat hulle hulle gans te ordentlik hou om met gesag ʼn streep te trek en ʼn einde te maak aan volhardende sonde en voortslepende moeilikheid.  Daar sit dus risiko in.  Maar ek weet ook dat ons elkeen ʼn kans of sewe en sewentig kry om op te staan. Ek gun dit. Dié uitkoms is die gevaar werd.

God wag. God vat dit kalm. God haas Hom langsaam.

God wag, het ek eenmaal gepreek: God wag geduldig vir die agteros om in die kraal te kom, vir die verlore skaap om weer op te daag,  vir die swakkes om in te haal en die sondaars om by te kom.  En Hy doen dit al hou Hy daarmee die hele geloofsgemeenskap terug. Hy maak seker hulle is eers almal daar voor Hy laat tentpenne uittrek en saam met die volk pad vat.  Hy trek teen die tempo wat die stadigste ou kan byhou.  Ek glo dit steeds.

Stadig, stadig dus.  En ek sal wag. God het my geleer hoe.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s