Goeiemiddag Kampersrus

Goeiemiddag Kampersrus.

Dis toe verder hierheen as wat ek gedink het.  En dalk is ons nog nie heeltemal hier nie.   Dalk vat dit nog ‘n rukkie voordat julle aan ons en ons aan julle gewoond raak.

Pastorie KampersrusEk en Susan is wel deeglik daarvan bewus dat hier onder julle verwagtinge oor ons geskep is, positief en negatief.  Ons het dit uit die staanspoor op die hart: ons is doodgewone mense.  Ek is al 32 jaar lank ‘n dominee van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, en daarvan is San hierdie week al 15 jaar aan my sy.  In daardie tyd het nie een van ons al ‘n wonder gedoen nie.  Amper al die siek mense waarvoor ek gebid het, het ek ook begrawe. Ek werk vir my brood, dit word nie self meer nie.  Ek koop my wyn by Tops in bottels, dit kom nie uit my waterkrane uit nie. Ek sink en word sopnat in water.  Net een ding kry ek sukkel-sukkel reg, en dis ook net oor die Here my op die harde manier leer: ek kan liefhê.  Ek is dus nie die Christus nie. Daarom weet ek by voorbaat al dat ons nie aan al julle verwagtinge kan voldoen nie.

Paulus skryf aan die Korintiërs:

So moet julle ons dan sien:  ons is dienaars van Christus en bestuurders aan wie die geheimenisse van God toevertrou is. Van ‘n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees. Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word nie.  Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie.  Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie.   Dit is die Here wat my beoordeel.  Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, ‘n oordeel uitspreek nie.  Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelinge van die hart blootle. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.

Ek lees dit nie oor ek windgat is nie, al klink Paulus dalk so.

Ek sê dit sodat julle weet ek besef maar alte goed die Here self oordeel oor my werk.  En dat ek aan Hom rekenskap sal moet gee.

Ek en Susan is albei ook maar swaar op genade: ons kan nie daarsonder nie.  Ons is sondaars, en julle hoef nie langer te spekuleer oor presies hoe sondig nie. Vra, en ons sal julle self vertel.  Genade gebeur waar mens vergifnis gee.  Ons het baie ondervinding daarvan.  Ons kry oorgenoeg oefening van genade gee, en van genade nodig kry.

Ons is nie hier met sterretjies in die oë nie.  Maar ek sal dit nie ontken nie: ons hoop met ons hele hart dat dit sal goed gaan. Ons is moeg van baie swaarkry.  Ons het van ver gekom om op die Here se geroep te antwoord.  Ons reken op Hom om die paaie vir ons gelyk te maak.

Julle reputasie het julle ook vooruitgeloop.  Ons het met onrus deur die tonnel gekom.  Dis jammer dis  in die Hervormde Kerk nodig, maar ek hoop dit help as ek sommer nou al sê, by wyse van aanhaling van Maarten Luther, wat ek glo.

Ek glo dat Jesus Christus my Here is wat my verlos het, bevry het van alle sonde, [van] die dood en [van] die mag van die duiwel, sodat ek sy eiendom kan wees en [sodat ek] in sy Ryk onder Hom kan lewe en Hom kan dien in ewige geregtigheid, onskuld en saligheid, net soos Hy [Jesus Christus] wat uit die dood opgestaan het, [Hy wat] leef en regeer tot in ewigheid. Dit is gewis waar.

Aldus Maarten Luther (aangehaal uit Konteks). Ons het nie alleen oor die berg gekom nie. God laat ons nooit alleen trek nie.  Nou, hier in Kampersrus, is sy saak ook ons s’n.  Ek bid dat ons op julle kan reken, dat ons saam die lewende Here sal dien.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s