Die gemeente is waar genade gebeur

Die intreepreek is op 24 April 2016 gelewer by die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se Kampersus Gemeente.

Gemeentes sit stukkende mense weer aanmekaar.  Gemeentes verwelkom sondaars wat oor hulle sonde gebroke is en oor uitkoms alle hoop prysgegee het.  Gemeentes gee sondaars soos ons die geleentheid om te wys hoe God genade gebruik om mense heel te maak.  Gemeentes is waar genade gebeur.  God se genade en gemeentes se geloof in genade maak die verkondiging van die evangelie moontlik.  As n gemeente nie meer genade verstaan nie, as gelowiges nie meer weet hoe genade werk nie, as mense nie meer die genade wat hulle kry kan deel nie, het sulke gemeentes geen bestaansreg meer nie.  Sulke gemeentes sal tot niet gaan. 

Die gemeente is waar genade gebeur.  n Gemeente waar selfs die Paulusse en Petrusse gewaardeer en onthou kan word vir die bietjie goed wat hulle gedoen het, hulle sondes vergete, is n gemeente waar selfs, en dalk veral, n berouvolle Judas gekoester sou word.

Dan maak wie die dominee is, nie meer so erg saak nie. Want in die gemeente gee God se genade die deurslag.  

Matteus 13 vers 33

OUDERLING

Toetredelied:

Gesang 267 verse 1,2,3

Let op die woorde van vers 3, want dit vervat die tema van die erediens: dat die gemeente ʼn plek is waar God se genade met mense gebeur.

“Bewys aan ons barmhartigheid en skeld ons, Heer, ons skuld tog kwyt, soos wat U ook van ons vereis om so u liefde te bewys.”

PREDIKANT WAT DIE BEVESTIGING WAARNEEM

Votum en Seëngroet:

1 Korintiërs 1 vers 2 en 3:

“Aan die gemeente van God…, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.  Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus.”

OUDERLING

Aanbidding en lof:

Gesang 407 : 1,2

Ons loof God saam met n lied.  Ons sing Gesang 407 verse 1, 2.  Die klem lê vanmore op hierdie woorde uit vers 2:

“Wie in Hom sterf, sal met Hom leef; Wie skuld bely, die word vergeef – deur Christus vry van sonde. ”  

Die wil van God [Wet; herkenning van sonde]:

Mattheus 7 verse 1 tot 5 (1983 Vertaling)

In sy Woord praat God oor hoe ons kan wees. In Mattheus 7 verse 1 tot 5 (1983 Vertaling) staan daar:

“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.

 “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?  Of hoe kan jy vir jou broer se: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal, en intussen is daar ʼn balk in jou eie oog?  Huigelaar!  Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.‘”

Sonde verongeluk gemeenskap. Dat ons nie naastenby is soos wat God ons wil hê nie, dui aan hoe ver ons van God af wegdwaal. Dog, die Here sê ons kan seker wees van vergifnis. Petrus het vir Jesus gevra:

“Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen?  Selfs sewe keer?”  Jesus se antwoord was:  “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie, maar selfs sewentig maal sewe keer.” (Matteus 18 vers 21 en 22)

Dan leer Jesus ons hoe om te bid.

 “. . . Vergeef ons ons oortredings soos ons ook die vergewe wat teen ons oortree…” En, voeg Hy by, “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.  Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” (Matteus 6 verse 12, 14 en 15).

Kom ons vergewe mekaar, en vra God om ons te vergewe nes ons mekaar vergewe.

Skuldbelydenis en smeekroep:

Gesang 235 : 1,2

“Voor u wet, Heer, staan ons skuldig, liefde is die groot gebod!. . .” 

 Genadeverkondiging:

Romeine 3 verse 21 en 22 tot 25

Romeine 3 verse 21 tot 24 en vers 26 sê “Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree.  Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.  Almal het gesondig, en (niemand) het (vanself) deel aan die heerlikheid van God nie, maar (ons) word, sonder dat (ons) dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.  . . . Hy (God) oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.”

Dis wat ons ook sê ons glo, as ons saam met en soos die kerk bely:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

Die wederopstanding van die vlees, en ‘n ewige lewe.

Lofsang Gesang 412 : 1,2

Glo ons dit van harte, beteken dit ons sondes is weggevat en ons leef as verlostes.  Kom ons vier ons verloste lewe met Romeine 8 wat vir ons getoonset is in Gesang 412 verse 1 en 2. Vers 2 sê:

“Vrygespreek deur Christus, leef ons as verlostes. . .  God self spreek ons vry!”

PREDIKANT WAT DIE BEVESTIGING WAARNEEM

Wisselformulier vir die bevestiging van dienaars van die Woord

Gemeente van ons Here, Jesus Christus

God, die Vader, verlos die wêreld deur die dood en opstanding van sy Seun, Jesus Christus. Deur die Heilige Gees wek God geloof in mense en rus Hy hulle toe om die evangelie te verkondig en diensknegte in die wêreld te wees. Hiervoor rus die Gees alle gelowiges toe met gawes ooreenkomstig die dienswerk waarvoor hulle geroep is. Hy roep ook sekere gelowiges, soos predikante, om in besondere diens te staan.

Jesus Christus dien as voorbeeld vir die gesindheid waarmee gelowiges hulle dienswerk verrig. Predikante verrig hulle taak nederig en met liefdevolle toewyding. Predikante verkondig God se Woord in die wêreld deur die prediking, die bediening van sakramente, gebed en die pastorale versorging van mense. Hierdie verkondiging rus gelowiges toe, versterk hulle geloof en begelei hulle om tot eer van God te leef. Ten einde so diensbaar te wees, is dit noodsaaklik dat predikante in ‘n verhouding met God moet leef. Hulle moet die Bybel nougeset bestudeer en genoeg tyd inruim vir gebed en besinning. Elke gemeente het die verantwoordelikheid om toe te sien dat die predikante geleentheid het vir geestelike groei en geestelike versorging. Net so moet hulle die tyd en ruimte ontvang om aandag te gee aan persoonlike verhoudings en liggaamlike rus.

Ten slotte, predikante is deel van die kerk van die Here en moet daar-om as lig vir die wêreld hulle dienswerk verrig. In hulle lof en aanbidding, hulle danksegging en onderlinge gemeenskap, hulle barmhartigheid en verkondiging van die Woord van die Here, laat hulle hulle lig in die wêreld skyn.

Geliefde broer, Hennie la Grange, u is na hierdie gemeente beroep om die dienswerk soos die Ouderlingevergadering dit saam met u bepaal, te doen. Voordat u as dienaar van die Woord bevestig word, moet u eerlik op die volgende vrae antwoord:

  • Ten eerste: Glo u dat u wettig deur die gemeente/meerdere vergadering en daarom deur God self tot hierdie diens geroep is?
  • Ten tweede: Glo u dat die Ou en Nuwe Testament die enigste Woord van God en die volkome boodskap van verlossing is, en verwerp u alles wat daarmee in stryd is?
  • Ten derde: Beloof u om hierdie werk getrou en met oorgawe te doen en te leef soos God in sy Woord van u verwag? Sal u die Christelike vermaning en dissipline van die Kerk aanvaar indien u die werk nie doen soos u beloof het nie?

Hierop moet hy antwoord: Ja.

Al die teenwoordige dienaars van die Woord (uit al die kerke wat op dieselfde belydenisgrondslag as die NHKA staan) word nou na vore geroep om deel te neem aan die gee van die regterhand van gemeenskap. Vir hulle wat al voorheen gedien het, word die regterhand van gemeenskap gegee. Tydens die ordening of die gee van die regterhand van gemeenskap word die volgende gesê:

God, ons hemelse Vader wat u tot hierdie diens geroep het, sal u deur sy Gees toerus, u versterk en u so in u bediening lei dat u daarin verantwoordelik en vrugbaar kan werk. So sal u deur u bediening die Naam van God groot maak en sal God deur u die heerskappy van sy Seun, Jesus Christus, in die wêreld uitbrei.

Amen.

Daarna moet die bevestigende predikant van die kansel af die bevestigde dienaar en die hele gemeente soos volg toespreek

Geliefde broer en mededienaar in Christus: U moet God liefhê en op Hom vertrou. Verryk u geloofslewe voortdurend en bid God om u daarin te help. Sien om na u self, u huisgesin en almal wat die Here onder u sorg geplaas het. Doen u werk getrou en wees ‘n voorbeeld vir die hele gemeente wat Jesus Christus deur sy bloed verkry het en wat deur die Heilige Gees onder u sorg gestel is.

En u, onder wie hy sy dienswerk verrig, neem u predikant met ‘n oop hart aan. Behandel hom met liefde en respek want God gebruik hom om u na Hom toe te lei. Bid gedurig vir hom en werk saam om die evangelie in die wêreld uit te dra.

Omdat ons nie self hiertoe in staat is nie, laat ons tot God bid:

Barmhartige God en Vader, ons dank U dat U self U kerk in stand hou. Dankie dat U vir hierdie gemeente ‘n predikant gegee het. Gee aan hom die genade, die krag en die insig om sy werk in die gemeente en die wêreld met oorgawe en na die beste van sy vermoë te doen. Voorsien ook genadiglik elke dag in sy en sy gesin se behoeftes sodat hulle hulle werk sonder belemmering kan doen. Gee vir U gemeente die genade om hom te erken as U gestuurde en om met hom saam te werk tot U eer.

Ons vra dit in die naam van Jesus Christus, ons Here, wat ons geleer het om só te bid:

Vader, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom.

Gee ons elke dag ons daaglikse brood;

en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat

teen ons oortree;

en laat ons nie in versoeking kom nie.”

Amen. (Lukas 11:2-4)

Seënbede

Gesang 268

“Laat Heer u seën op hom daal”

PREDIKANT

Gebed

Verkondiging:  Skriflesing

  • Matteus 26 vers 31 tot 35
  • Matteus 27 vers 3 tot 8
  • Johannes 21 vers 15 19
  • Handelinge 9 verse 1 tot 18

 Gemeentesang:  Gesang 258 : 1,2,3

Daar is net hierdie een Woord van God, geen ander nie.  Hiervan leef verlostes.  Vers 2 sê ons kan, want ons is vergewe:

“Van ons skuld vergewe, kan ons voluit lewe. . .”

Verkondiging: Preek

Jesus werk drie jaar daaraan om ʼn gemeente van net 12 gelowiges aan die gang te kry.  Hy hoop hulle gaan dominees word.  Hy vertrou die Koninkryk van God aan hulle toe.

Die dag toe Hy dood is, was daar nie een van hulle oor nie.  Jesus kon op nie eers een van hulle reken nie.  Die hele lot van hulle slaan soos vrot velle op vlug.

Dog, daar is drie wat uitskiet.  Drie tree in daai laaste week van Jesus se lewe en kort na sy opstanding baie prominent na vore, maar helaas, om al die verkeerde redes.  Hulle staan uit oor hulle sonde. Hulle kompeteer met mekaar om die slegste te lyk.  As ʼn gemeente van enige van die drie van hulle ʼn onderhoud sou voer, of hulle leer en lewe onder ʼn vergrootglas sou sit,  sou nie een van hulle die kortlys vir beroeping gehaal het nie.

Judas verraai vir Jesus.  Hy vat geld om op die een of ander manier vir Jesus te laat skuldig lyk. Hy doen dit met ʼn soen.

Petrus belowe hart en mond hy sal niks tussen hom en Jesus laat kom nie.  Dieselfde aand nog kry hy drie keer die kans om vir Jesus op te kom.  Aldrie kere lieg hy, sê hy hy het niks met Jesus uit te waai nie.  Dis nie dat hy onverhoeds betrap is nie.  Jesus het hom gesê dis wat hy gaan aanvang.  Nooit gesien nie!, protesteer Petrus baie verontwaardig. Ek sal dit nooit doen nie.  Ek sal rotsvas by U staan.  Dis immers wat sy naam beteken: Petrus, Rots.

Al die ander dominees is dit ook met Petrus roerend eens.  Dit gebeur by hulle almal se laaste ete saam.  Voor die aand om is, is die hele lot van hulle se goeie bedoelings vergete.  Daai selfde nag nog oortuig n sak vol geld vir Judas hy moet Jesus aan die Romeinse polisie oorgee.  En Petrus, al is hy die enigste een wat nog tussen die skares rondhang om darem van ver af dop te hou wat van Jesus gaan word, ontken drie maal na mekaar heftig enige verbintenis met die aangeklaagde.

Vir Petrus het ons meer simpatie as vir Judas – asof geld óns nie kan versoek nie – want dalk was Petrus regtig bang hulle kruisig hom ook. Maar dis nie asof hierdie die eerste keer is dat ons met dié rotsvaste kêrel se kleivoete te doen kry nie.  Net nou die dag nog het Jesus hom ʼn “satan” genoem, oor Petrus Jesus se roeping in die wiele wou ry met misplaaste sentimentaliteit:  Petrus wou hê die die evangelie moes mooi klink. En dood is nie aantreklik nie. Petrus wou die evangelie anders laat verloop as wat Jesus dit beplan het.  Nie oor Petrus vir God wou voorsê nie.  Petrus het net vir Jesus liefgehad.  Hy wou net nie hê Jesus moes iets slegs oorkom nie.  Hy sou baklei, neem Petrus hom voor, om vir Jesus in die bres te tree en Hom te beskerm.  En daar’s niks mee fout nie.  En hy veg aanvanklik ook dapper om sy woord gestand te doen:  hy ruk ʼn swaard uit en kap ʼn polisieman se oor af!  Maar toe dit te warm begin word vir sy eie veiligheid, moes hy homself beskerm.  Netnou gryp hulle hom ook en kruisig hom.   Hy lieg oor Jesus, uit selfverdediging.  Is dit so erg?

Dog, Judas het ook maar dieselfde probleem gehad: hy wou ook maar net die evangelie anders laat uitkom.  Jesus is koning, en Judas hoop nog altyd Jesus is die ou wat die Romeine se mag gaan breek.  Die laaste ding wat Judas wil wees, is ʼn joiner.  Wat hy soek is selfbeskikking.  Hy is daarvan hartlik sat en moeg dat sy volk so vertrap word.  En nou, voel dit vir hom, het Jesus hulle ook in die steek gelaat:  Hy is nie wat Judas gehoop het nie.  Judas is teleurgesteld in Jesus, en wie kan hom daaroor verkwalik?

Daar is ook n derde ou wat aandag trek, of n dertiende, as jy wil, want hy was nie een van die oorspronklike 12 nie.  Saulus, ʼn Fariseër uit Tarsus, ʼn laatkommer.  Hy is van die ander kant. Hy is ʼn eerbare man, Saulus van Tarsus,   ʼn gesiene ou.  Hy doen ook net goed.  In vergelyking met hoe godsdienstig gewone mense is, hy is beter.  Onder die Fariseërs selfs, blink hy uit:  hulle het ekstra reëls, en Saulus is aan meer van daai wette gehoorsaam selfs as ander Fariseërs.  Hier is nou vir jou ʼn godsdienstige man wat respek sou kon afdwing selfs in die kerk: eindelik n oulike dominee. Net jammer hy is heilig oortuig die kerk dwaal en Jesus is ʼn ketter.

Saulus vervolg sy volksgenote wat by die kerk betrokke geraak het.  Hy ruik die Jesusdissipels uit en met die gesag van die godsdienstige owerheid roei hy vir hulle uit en keer hy dat die kerk bymekaarkom. So seker is hy van sy saak, so goed is hy daarin, dat Saulus in die kerk berug raak.  Dat die gelowiges vir hom bang is.

Na Jesus opgestaan het uit die dood, daag Hy by Saulus op. En vir Saulus wat nou Paulus heet, was niks ooit weer dieselfde nie.

Wat die drie manne, Judas Iskariot, Simon Petrus en Saulus van Tarsus, met mekaar gemeen het, is sonde.  Hulle is, aldrie van hulle, behep met hulleself:   Judas met die koninkryk wat nie sal kom as hy die Romeine nie kan laat padvat nie, en met sat en moeg is vir Jesus se paaibeleid.  Petrus wat nie kan lojaal kan bly nie, want hy vrees vir sy eie veiligheid.  Paulus wat die kerk nie kan veel nie, want die dogma wyk dan af van die goeie, gesonde Joodse leer.

Gaan dit help om redeneer oor wie van hulle die slegste was?  Om te spekuleer oor groot en klein sondes?  Is wat Judas gedoen het, erger as wat Petrus en Paulus aangevang het? Daar is tog nie grade van heiligheid is nie, is daar?  Ook nie vlakke van slegtigheid nie. Al noem jy jou broer net ʼn swaap het jy al moord gepleeg.  Dis een en dieselfde.  Dis Jesus wat so sê.  Sonde is sonde. Hierin is die drie manne gelyk.

Dog, as ons moes kies, sou ons seker wou beweer dat Judas Iskariot die vrotter appel onder hulle is, nè? Hy is van die drie die laaste een wat ons sou oorweeg om te beroep.

Ons beweer al te maklik: berou is die manier om van jou sonde los te kom.  Maar nou’t ons ʼn probleem.  Jy sal nêrens te lese kry van ʼn gewroeg oor sonde of ʼn gepleit om vergiffenis by òf Petrus òf Paulus nie.  Paulus beweer wel daar’s n doring wat hom steek, maar of dit hiéroor was dat hy skuldig gevoel het, sê hy nie.  Die naaste wat Paulus dalk daaraan kom om berou te hê, is om later te sê dat sy verlede nou nie meer vir hom veel waarde het nie, al sou hy, voeg hy ewe grootmeneer by, eintlik daarop trots kon wees.

Petrus is ook nie vreeslik jammer nie.  Hy kom altyd sommer gou oor sy skuldgevoel.  Hy is nie skaam of bang om Jesus te ontmoet nie.  As hy Jesus op die strand sien vis bak, spring hy die see in om te gaan groet, só gretig is hy om Jesus weer te sien.  Só seker is hy dat daar niks in die pad staan tussen hom en die Jesus wat hy drie keer verloën het nie.  Jesus moet hom herinner, met ʼn ompad terugvat na daai aand toe, deur drie keer te vra “Petrus, het jy my regtig lief?” voor dit by hom kliek.  Dan eers krimp Petrus ineen.

Om die waarheid te sê, is van die drie van hulle, Judas die een wat die ergste berou kry. Die stomme man kan met homself nie saamleef nie.  Hy probeer sy bes om reg te maak wat hy verbrou het.  Hy is, van al die dissipels, die enigste een wat vir Jesus gaan pleit.  Hy pleit asof sy lewe daarvan afhang.  Tevergeefs.  Hy gee die geld terug waarmee hulle hom afgekoop het in die hoop dit sal help.  Die ouens wat hom omgekoop het wil nou aan daai selfde geld nie raak nie. Dis vervloekte geld, bloedgeld, en hulle weet dit. Judas verloor alle hoop dat hy Jesus kan red uit die strik wat hy vir Hom gestel het.  Judas verloor alle hoop ook vir homself. Judas gaan hang homself.  Hy maak ʼn einde aan sy lewe.  Judas Iskariot kom tragies aan die einde van sy lewe, sonder dat hy vergifnis proe.

Ek kom tot die gevolgtrekking daar is nie onder ons dominees selfs eers een wat beter is as die ander nie.  Nie een van ons het minder sonde as ʼn ander nie.  Dit kan julle maar weet: ons is sleg. In murg en been sondig.  Ons het almal van ons die een of ander skande waaroor ons skaamkry en wat ons liefs nie aan die grootklok sou wou hang nie.  Jy sal by die hele lot van ons, onder n dun lagie vernis, sommer gou-gou sonde oopkrap. Dis soms makliker om sonde te vind as iets goeds. Julle gaan gou agterkom – trouens, julle het dalk al – daar het ʼn klomp sonde met my ook saamgekom.

Judas Iskariot maak dit nie deur die Paasnaweek nie.  Die ander twee manne staan uit die as uit op, en word die beroemdste dominees in die kerk.  Dis nie oor hulle sonde minder erg was dat hulle met roeping slaag nie.  Ook nie oor hulle waffers meer berou getoon het as Judas nie, want hulle het nie.  Dog, hulle styg uit waar Judas faal.

Hoekom? Wat het die verskil gemaak?  Wat was vir hierdie Petrus en Paulus  anders as vir Judas?  Wat het hulle gehad wat Judas nie kon kry nie?  Wat is daar wat Judas mis?

Verbeel jou die kerk se eerste erediens na Jesus dood is. Elkeen van daai 12 dissipels kon Donderdagaand nie gou genoeg van Jesus af wegkom nie. Teen Sondag, met Jesus al twee dae dood, is die lamsak dissipels bymekaar vir ʼn wondlek-sessie. Die eerste erediens bestaan uit sondes vergelyk.  Gedeelde skandes is altyd minder erg. Hulle verstaan mekaar, want nie een van hulle het die naweek beter oorleef as die ander nie.

Hulle is wragtig, almal van hulle, ewe sleg.

Hulle weet dit maar alte goed.  Hulle durf nie vingerwys nie.  Hier is in hierdie eerste byeenkoms van die Christelike gemeente geen plek vir beskuldiging, veroordeling of verwyt nie.  Hierdie is nie ʼn gemeenskap van die heiliges nie, maar ʼn samekoms van sondaars.

Hulle vergewe mekaar.  Hulle moet, anders kan hulle dit met mekaar nie uithou nie. 

Hulle vergelyk nie, hulle meet nie skuld af nie.  Hulle deel nie straf uit nie.  Vir die eerste keer sedert Adam en Eva gesondig het, skuif hierdie gelowiges nie die verantwoordelikheid van hulle sonde op iemand anders af nie. Ons is saam in hierdie ding, sê hulle.  Ons is saam sondig.  Dis daar waar hulle in sonde saam is, dat Jesus hulle later daai dag kom dagsê en demonstreer: julle is OK, Ek vergewe julle ook.

As Petrus van die skuit afduik, ontvang Jesus hom met gebakte vis, herinner hom drie maal aan sy sonde, en gee hom drie maal n hele nuwe roeping: om sy skape op te pas, te laat wei, lief te hê.  Jesus is vir hom daar.

As Paulus vir Jesus op die Damaskuspad teëkom, is sy lewe eensklaps ʼn train smash. “Wie is U, Here?” vra hy, en sy ergste nagmerrie word waar.  Paulus besef hy het hom teen God verset.  “Ek is Jesus.  Dit is vir My wat jy vervolg.”  Kan daar ʼn erger aanklag teen jou kom? Was dit ek, het ek net daar gebly lê.  Platgeslaan.  Oorwonne. In sonde verlore.  Jesus weet dit ook.

Kampersrus van Mariepskop afOnmiddellik sê Jesus: “Maar, staan op en gaan na die stad toe.  Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.”  Daar, in die stad, Paulus, wag vir jou ʼn gemeenskap, gelowiges met raad, gelowiges wat sonde verstaan, gelowiges wat vergifnis uit ondervinding ken.  Hulle sal jou ontvang.  Hulle sal jou aanvaar.  Hulle sal jou die koers aandui.  Hulle sal jou ondersteun, jou dra, jou vergewe en vernuwe.  Jesus verskyn daai selfde dag nog aan Ananias en stuur hom reguit Reguitstraat toe om vir Paulus te gaan bystaan.  Ananias wou nog keer: “Here,” sê Anannias, “ek het al by baie mense van hierdie man gehoor en van al die kwaad wat hy die mense wat in u glo in Jerusalem aangedoen het.  En nou is hy hier met volmag van die priesterhoofde om almal gevange te neem wat u Naam aanroep.”  By implikasie: Here, dis tog malligheid.  Hierdie ou is die kerk se vyand.  Hoe kan U verwag ek moet hom gaan versorg? Maar die Here hou voet by stuk: gaan na hom toe, want hy het nou ʼn geloofsgenoot nodig. Hy het hulp nodig.  Hy het mense nodig.  Hy het ʼn gemeente nodig.

Net een ding werk met Judas anders.  Al verskil tussen Petrus en Paulus aan die een kant en Judas aan die ander, is dat Judas te gou tou opgegee het met die gemeenskap van die gelowiges.  Hy kon nie by die gemeente uitkom nie. Hy het hom nie eers tot die gemeente gewend nie, oor hy geglo het sy sonde was te erg.  Met dié kon Judas nie voel hoe vergifnis mense kan hervorm nie.  Hy het net te gou met geloof opgegee, en die gemeente vergeet.

Want dis wat gemeentes doen.

Gemeentes sit stukkende mense weer aanmekaar.  Gemeentes verwelkom sondaars wat oor hulle sonde gebroke is en oor uitkoms alle hoop prysgegee het.

Gemeentes gee sondaars soos ons die geleentheid om te wys hoe God genade gebruik om mense heel te maak.

Gemeentes is waar genade gebeur.  God se genade en gemeentes se geloof in genade maak die verkondiging van die evangelie moontlik.  As n gemeente nie meer genade verstaan nie, as gelowiges nie meer weet hoe genade werk nie, as mense nie meer die genade wat hulle kry kan deel nie, het sulke gemeentes geen bestaansreg meer nie.  Sulke gemeentes sal tot niet gaan.

Die gemeente is waar genade gebeur.  n Gemeente waar selfs die Paulusse en Petrusse gewaardeer en onthou kan word vir die bietjie goed wat hulle gedoen het, hulle sondes vergete, is n gemeente waar selfs, en dalk veral, n berouvolle Judas gekoester sou word.

Dan maak wie die dominee is, nie meer so erg saak nie. Want in die gemeente gee God se genade die deurslag.

Amen.

Dankgebed:

Slotsang [Gemeente]

Gesang 532 : 1,2,3

Seëngroet:

“. . . Ek kniel in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het.  Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.  Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat die verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Efesiers 3 verse 14 tot 19.

Respons

Gesang 314

“Amen …”

Insameling van die dankoffers, orrelspel

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s