Wolke met tydsberekening

Ons ontmoet God in die erediens.  Ek glo dit vas.

Die erediens is ontmoeting, en die orde moet dit sê.  Die orde organiseer wat gebeur as ons van naderby met God te doen kry.

Ontmoeting is wedersyds.  God praat, ons reageer.  Ons vra, God antwoord.  God skep met sy Woord, ons word wat God sê.

Erediens is ons dans met God.

Elke spel volg ʼn patroon, loop in gebaande weë, volg selfs reëls en ken strafskoppe en geelkaarte toe vir oortredings.  Maar niemand gaan dié week nie kyk nie oor hulle die wedstryd verlede week al gesien het toe twee ander spanne dit gespeel het.  Elke erediens is anders: die voorafgaande week het al’s verander, die komende week stel nuwe eise.

Hoe kunssinnig mooi n Gregoriaanse chant ookal op die oor val, en hoe lekker ʼn worship song ookal sing, volgende week se erediens vra ander inhoud.  Hoe mooi ookal die kerklike jaar ingekleur word, en ongeag hoe nommerpas vandag se liturgie was, vir volgende Sondag moet jy voor begin.

Hans het my destyds opgekommandeer om iets te skryf oor ontmoetingsgebeure.  Daar is in die Bybel baie voorbeelde van, en daar is vele fassette van ontmoetings wat skreeu daarna om afgestof te word.  Die erediens soos ons dit het en soos dit eens was, bly my betower.

Ek is destyds daarvan beskuldig dat ek dalk moontlik na die een of ander onnoembare dwaling mag klink (met die klem op die “dalk” en die “moontlik” en die “mag”) – dog, niemand wou met stelligheid sê nie.  Maar “onhervormd” (sonder enige verwysing na wat dan “hervormd” sou wees) was die breë konsensus. My fut was uit: ek het doelbewus ophou dink aan ontmoetingsgebeure en gehou by die Diensboek se voorskrifte, en daarvan ook net die geyktes.

Bron: http://img05.deviantart.net/df38/i/2006/225/7/7/clouds_014_by_rushpoint_stock.jpg
Bron: http://img05.deviantart.net/df38/i/2006/225/7/7/clouds_014_by_rushpoint_stock.jpg

Intussen was ek toeskouer van en deelnemer aan (met wisselende geesdrif) liturgieë en erediensinkleding wat gewissel het van formele optogte in kleurvolle togas tot T-hemp en tekkie paarties, stil koorsang, sagte chants en stemmige requiems in Latyn, tot brabbeltaal, glockenspiels, tromme en kitare, n gedans en n geween, ʼn geskree en ʼn geprewel, van skoolsale tot katedrale, met dreunende pyporrels en lang doodse stiltes.   Elkeen het sy plek, het ek besluit.  Maar nooit ten koste van ontmoeting nie.

ʼn Gemeente se ontmoeting met God in die erediens is die hartklop van die geloofsgemeenskap. Dit verdien die volle aandag van beide liturg en lidmaat.  Dit verg werk.

Ek weet dis ʼn wollerige woord, “ontmoeting”, wat verduideliking vra.  Dis makliker om gou te sê wat ek dink dit nie is nie: dis nie die een of ander gevoel wat jy kry dat God skielik by die erediens opgedaag het nie.  Maar jy mag maar hoendervel kry oor jy besef jy is by God toegelaat.

Van my gelees oor ontmoetings met God – die Bybel bly maar die mees betroubare plek om die Here teë te kom – het ek simbole oorgehou, een van hulle wolke met tydsberekening.  Daarom, vanmôre, toe Mariepskop met ligdag agter ʼn wolk weg is, het ek gedink aan God by Sinaï.  “Ek trek nie sonder U nie!” – parmantig van Moses, sou ek sê, dog ek verstaan die sentiment:   dis goed om aan te kom waar God reeds is.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s