Seker?

Ondervinding het geleer dat om te sê “dis nou genoeg” en “dit moet endkry” geen snars verander aan wat is nie.

En net so het ek ook al die dure prys betaal van te besluit dis nou tyd om aan te beweeg, net om die volgende oomblik met skade in die bek geruk te word.

Dan kla iemand ek is besluiteloos, bangbroek, word ek uitgedaag om beslis te wees.

Ek weet nie meer nie. Ek is nie meer seker nie.

Onsekerheid is vir my nie nuut nie.  Ek het nog altyd geglo dat sekerheid, oor enigiets, oordryf word.  Dat dit gewaande sekerheid is wat mense stommiteite laat aanvang met n verbetenheid wat grens aan waansin. Dat al wat van sekerheid seker is, is dat dit seermaak.  Dat die wêreld n genuanseerde verstaan verg, n fyn aanvoeling wat wortel in die besef dat ons nie naastenby alles weet nie, en dat die kanse dat ons dit mishet, bogemiddeld goed is.

Maar ek het nou agtergekom die onsekerheid het ook perke.  Ek kan nie in oneindige onsekerheid oorleef nie.  Iewers moet daar n vaste spilpunt wees, of n grens wat ek kan eien, of ten minste n baken waarna ek my kan rig.

Vir my was om vastigheid te vind nog nooit maklik nie.  Dalk oor ek niks as vanselfsprekend aanvaar nie.  Niks is gegewe of sommer voor die hand liggend nie.  En, het ek ontdek, selfs al kry mens iets wat op die oog af en vir die oomblik ononderhandelbaar lyk, kan jy maar weet dit gaan nie hou nie.   Niks bly vir ewig waar nie.  My werklikheid kom in ewe waar teenpole by my aan.  Maklik is dit nie, maar dit help met geduld en verdraagsaamheid: ek is altyd op my hoede vir die sonde van my sekerheid, en ek leer my inhou tot ek kon dink.  En ek was dikwels al dankbaar dat ek het: mense, het ek geleer, worstel met moeilikheid waarvan ek nog moet uitvind, wat wou dat ek dit kan begryp!

DraaikolkMy onsekerheid was ander genadig. Maar nou kolk hierdie onsekerheid so dat dit mý af- en insuig.

Ek is bang, bang vir God.  Ek is bang want daar is elke aanduiding dat ek vir God nie verstaan nie. Nou nie oor vryspraak, verlossing en versoening nie, maar oor voorsiening en versorging.  Ek is bang dat die God van Job, na al my goedbedoelde getuienis oor Hom, na al my stryd en worsteling, ook vir mý uit die stormwind uit sal kom sê:

“Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie?” (Job 38 vers 2)

Genoeg! Genoeg? Onsekerheid is steeds gepas, indien nie waffers goed vir my nie.  Met die versigtigheid en selfondersoek waartoe dit my dwing, is daar nie fout nie.  Maar lekker is dit nie.

Ek  bevind my in die penarie dat ek wens dit was anders.  Dat ek dalk net hierin meer seker, seker genoeg kon wees: om die regte ding te kan doen.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s